BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Onvrugbare lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Onvrugbare lewe. Wys alle plasings

Sondag 10 Maart 2019

GEWAARBORGDE GEBED!

Kom luister na Jesus se duidelike lering oor gebedsverhoring. 

Gebedsverhoring. Of dan nou die gebrek aan gebedsverhoring. Daar is seker min praktiese sake in die Christen se lewe wat soveel vrae laat ontstaan as gebedsverhoring. Ons bid dan vir reën, genesing, gesondheid, beter wiskunde punte... Daar is min onderwerpe wat tot soveel menings en opvattings en wanopvattings aanleiding gee. Hier in Johannes, praat Jesus self oor gebedsverhoring. Ons kan dus nie anders as om ons ore te spits nie. Luister net wat sê Jesus self oor gebedsverhoring : 

"En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen." (Joh 14:13,14) 

"As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry." (Joh 15:7) 

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” (15:16) 

Bedoel Jesus dit wat Hy hier sê? Werk dit so in die praktyk? Is hierdie beloftes waar vir ons nou en hier? Weet ons nie almal van baie mislukkings in hierdie verband nie? 

Wel, Jesus bedoel seker definitief wat Hy sê. As ons nie hierdie uitsprake glo nie, wat kan ons dan glo? Kan ons dan hoegenaamd ons ewigheidstoekoms in Sy hande laat? Jesus bedoel dus verseker wat Hy sê. Die vraag is net wat presies sê Hy? Ek dink dis so moeilik nie, ons moet net erns maak met die konteks waarin Hy dit sê. 

GROTER WERKE AS JESUS 

Kom ons kyk eers na Sy voorafgaande uitspraak in vers 12. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo--die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” Dis natuurlik opsigself omstrede en word baie uit verband geruk, maar ek wil nie te veel aandag hieraan bestee nie. 

Net die volgende : Jesus het so pas ‘n oproep tot geloof gedoen. “Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.” (11) Hierdie appèl word nou voortgesit in vers 12-14 deur te fokus op die vrug wat elkeen wat in Hom glo sal voortbring en geniet. Dan koppel Jesus ‘n ongelooflike, ‘n verbysterende belofte (wat mens se asem wil wegslaan) aan geloof. Die wat in Hom glo sal nog groter werke doen as Hy. Nie omdat so ‘n persoon groter as Jesus sal wees nie, maar omdat Jesus na Sy Vader gaan. 

Wat presies beteken groter werke? Dit kan nie beteken dat die kerk (in aantal) meer werke as Jesus sou doen nie. As dit die bedoeling was sou Jesus dit gesê het. Daar is Griekse woorde om dit te sê. Groter werke kan tog ook nie beteken meer spektakulêr of meer bonatuurlik nie. Watter Christen deur die eeue het al iets meer opspraakwekkend en bonatuurlik gedoen as die opwekking van Lasarus (vier dae dood), die vermeerdering van brood of het op die water geloop? 

Die sleutel* tot verstaan is die frase “omdat ek na my Vader gaan” Jesus se dissipels gaan groter werk as Hy doen omdat Hy na Sy Vader gaan - dit beteken nie dat hulle nou groter ruimte vir aktiwiteit sal hê omdat Hy nou weg is en as‘t ware die turf aan hulle oorgegee het nie. Nee, dit beteken die basis vir hulle groter werke is Jesus se weggaan na die Vader. Hulle werke sal juis groter wees as gevolg van die nuwe bedeling wat Sy weggaan na die Vader tot gevolg sal hê. Die dade en woorde van die dissipels na Jesus se weggaan behoort tot die nuwe bedeling. 

Voor Jesus se verheerliking (kruis, opstanding en hemelvaart) was alles nog versluier en vaag. Die dissipels self het ten spyte van die wonderwerke nie alles duidelik verstaan nie. Hulle sou byv. nooit kon droom dat alle nasies moet deel kry aan die kerk en koninkryk nie! (Dink aan die keer toe hulle vuur uit die hemel wou afbid om die Samaritane te verteer; eers na Jesus se verheerliking en die uitstorting van die Heilige Gees verstaan hulle dat Samaritane hulle kan bekeer en deel word van die kerk as nuwe Messiaanse gemeenskap)** Selfs direk voor Jesus se hemelvaart, was hulle visie beperk en het hulle nog ‘n aardse koninkryk verwag met Jerusalem as sentrum. (Handelinge 1:6) 

Eers as gevolg van Jesus verheerliking en na Sy verheerliking sal Sy volgelinge Hom in alles wat Hy is en doen werklik ken en dit aan ander bekend maak. Hulle werke is groter want dis werke wat voortvloei vanuit die afhandeling van Jesus se werk aan die kruis en die opstanding. Dan eers sal hulle die volle heerlikheid van Jesus besef en dan sal hulle Hom so kan verkondig. (Deur hulle lewenswyse, wonders en veral prediking!) Die gevolg van hierdie groter werke na Jesus se verheerliking sal wees dat baie meer mense in die Messiaanse gemeenskap, die kerk ingebring sal word. Jesus self het maar net ‘n bediening van drie jaar beperk tot Palestina gehad met ‘n klein klompie ware volgelinge. Dit gaan natuurlik nie net oor getalle as sodanig nie, dit gaan oor die krag en die helderheid van die evangelie boodskap en sy konsekwensies wat sal opbloei in die nuwe fase wat sou volg na Jesus se weggaan. 

Groter werke gaan dus oor die totale vrug van die dissipels binne die konteks van die nuwe bedeling wat sou aanbreek met Jesus se verheerliking. (Sy weggaan na die Vader en die koms van die Gees) 

Weereens, onthou die tyd voor Jesus se kruis en opstanding was nog ‘n tydelike fase, die prys was nog nie betaal nie, die Gees het nog nie gekom nie, die kerk het nog nie begin vorm aanneem nie, die evangelie is maar nog net so stuk-stuk verstaan. Dit alles sou verander met sy weggaan! Dit het. Ons leef voorwaar nou in ‘n bedeling van groter werke! 

GEBED EN VRUG 

Nou kom ons by die eintlike saak van die gebed Die rede waarom groter dinge na die weggaan van Jesus gedoen sal word nou gegee in 13 en 14. Die dissipels se groter werke, naamlik vrugdra is die produk van hulle gebede. Gebede in Jesus se Naam. Dit bewys verder dat die kontras nie lê in die finale sin tussen Jesus se werke en sy dissipels se werke nie, maar tussen Jesus se werke wat Hy self op aarde gedoen het en dit wat Hy nou deur Sy dissipels gaan doen na Sy dood en verheerliking. Jesus gaan voort met Sy werk met groter werke deur Sy dissipels - die hele boek Handelinge is ‘n bevestiging daarvan.*** 

Die uitsprake van Jesus oor gebed moet verstaan word in die konteks van hierdie groter werke van die huidige bedeling - of anders gesê die vrugdra van ons as dissipels. Dis ook baie duidelik uit die ander twee gedeeltes. Vrugdra en gebed word telkens aan mekaar gekoppel. (15:8,16) 

Vrugdra vloei voort uit gebed in Jesus se Naam. 

IN DIE NAAM VAN JESUS TOT VERHEERLIKING VAN DIE VADER 

Twee ander temas wat konstant genoem word, en ons verder insig gee in die aard van die gebed wat Jesus bedoel,  is : Gebed in die Naam van Jesus en tot die verheerliking van die Vader. 

Gebed in Jesus se Naam behels nie bloot dat ons ons gebede in Sy Naam afsluit nie. Jesus se Naam is nie ‘n magiese woord wat dinge laat gebeur nie. Gebede in SY naam is gebede wat in ooreenstemming is met alles waarvoor Hy staan. In lyn met sy bedoeling en karakter. Waarvoor staan Jesus? Vir die wil van SY Vader. Daarom is een van die vereistes vir ware gebed - “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.” (1 Joh 5:14) Pas dit waarvoor ek nou bid by Jesus se wese en karakter? 

Bring hierdie dinge eer aan God of wil ek God misbruik vir my mensgerigte skemas en ambisies? 

Verder gaan dit daaroor dat ons in ons gebede erken dat Jesus die enigste weg na die Vader is. Hy self is ons toegang tot die Vader. Sy teenwoordigheid aan die regterhand van God maak die troon van God ’n genadetroon. (Hebr 4:14-16)

Die doel van die gebed, die gerigtheid van die gebed is die verheerliking van die Vader. Gedurende Sy aardse lewe was dit die konstante doel van Jesus om Sy Vader te verheerlik, eer aan hom te bring.**** Met die oog hierop gaan Hy na die kruis. Jesus weier selfs om vir Homself brood uit klippe te maak, want dit sou beteken dat Hy nie meer gerig sou wees op die wil van die Vader nie. God se wil vir Sy Seun was volmaakte gehoorsaamheid en lyding! Na Jesus se verheerliking gaan Jesus se doel nie verander nie. Deur gebed in Sy Naam gaan Hy nou Sy dissipels in staat stel om groter werke te doen, om vrug te dra sodat Sy Vader daardeur verheerlik kan word. 

Ons sit Jesus se werk voort, of liewer Jesus sit Sy werk op nog ‘n heerliker skaal voort deur ons. Deur gebed in Sy naam word ons in staat gestel om vrug te dra en so Sy doel naamlik die verheerliking van die Vader te verwesentlik. Deur gebed word ons ingeskakel by Jesus se werk om die Vader te verheerlik! Onbegryplik diep en heerlik! 

Hier kom dus ‘n paar belangrike stukke lering oor gebed na vore: 

‘n Ware dissipel bid vir vrug. Vrug is dit wat eer bring aan God se naam. Wat bring eer aan God se Naam? Deur Jesus te leef en te verkondig... Ook ten spyte van en binne-in my moeilike omstandighede! Hierdie soort van gebed se sukses word deur Jesus gewaarborg. Gebed in Jesus se Naam is die sleutel tot vrug. Vrugdra is nie moontlik sonder voortdurende gebedsafhanklikheid nie. Te min vrug in jou lewe wys daar is te min gebed, gebed in ooreenstemming met dit waarvoor Jesus staan. Te min gebed dui daarop dat daar te min afhanklikheid van Jesus is in my lewe. 

Hier word ‘n hele paar valse idees oor gebed ontbloot: 

Gebed is nie ‘n koue tegniek (wat volgens sekere vaardighede uitgevoer word) nie, maar funksioneer net in ‘n verhouding met God deur Jesus. Ons bid immers tot ons VADER! 

Gebed gaan nie oor persoonlike belange nie, maar het as einddoel die verheerliking van die Vader in die oog. 

Gebed is geen resep wat ons persoonlike gerief waarborg of van vervolging vrywaar nie. (Inteendeel, diegene wat baie bid gaan baie vrugdra en juis swaarkry en vervolg word soos Jesus. Johannes 15:20,21) 

As ons die lering van hierdie gedeelte in ag neem kan mens verstaan waarom baie skyn dissipels teleurgestel word en verklaar dat gebed nie werk nie: 

‘n Skyn dissipel bid nie vir vrug nie maar vir sy eie voordeel en dikwels sondige eie belange. 

‘n Skyn dissipel kan nie werklik in Jesus se Naam bid nie, want Sy motiewe en doel staan teenoor dit waarvoor Jesus staan.

‘n Skyn dissipel bewaar nie Jesus se gebooie nie, daarom sal Sy gebede misluk. Sulke mense verklaar maklik dat Christenskap nie werk nie. (Die ware probleem is egter opstand teen God se gebooie) 

HEERLIKE POSITIEWE MOONTLIKHEID 

Ons is almal in staat om vrug te dra, almal wat waarlik in Jesus glo. Laat ons daarvoor bid. 

Gewaarborgde gebed volgens Jesus se belofte is nie towerstaffie gebed om my op ‘n selfsugtige mensgesentreerde koers aan te help nie, maar is gebed met die hoofdoel om vrug te dra en dit is om ‘n Godverheerlikende lewe te lei! 

Ons gaan gebedsverhoring begin beleef wanneer ons vergeet van onsself en opreg begin bid : “Here, laat my vrugdra!” 

* Daar is 'n soortgelyke uitspraak in Johannes 5:20,21. "Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees. Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil."  Die konteks van 5:20 wys dat die groter werke wat die Vader die Seun sal wys en wat die Seun sal toon aan Sy volgelinge, het te make met Sy opstanding. Dit gaan oor die lewendgewende mag van Jesus. Die lewegewende mag van Jesus is afhanklik van Sy dood, opstanding en verheerliking. Hierdie groter ding sluit ook die mag in van Jesus as die Een aan wie die oordeel toevertrou word. Die dade en woorde van die dissipels na Jesus se weggaan behoort tot die nuwe bedeling van lewendgewende evangelieverkondiging. 

** Lukas 9:51ev 

*** “Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het;” (Hand 1:1,2) Die implikasie is dat die evangelie gaan oor die werke wat Jesus BEGIN doen het. Die boek Handelinge gaan oor die werke waarmee Jesus nou AANGAAN deur Sy Gees met die apostels as instrumente.

Martin Rautanen, die pionier sendeling in Owamboland se gebede het nie tot gerief en gemak gelei nie (ses van sy nege kinders is vroeg dood), maar wel tot blywende vrug!

Donderdag 10 Maart 2016

HET JY REGTIG TE MIN TYD VIR...

VRA, SOEK EN KLOP?



IEWERS IS IETS FOUT!

Waarom is daar so ‘n groot verskil tussen wat God vir sy kinders beloof en dit wat ons regtig in ons lewens sien en beleef? God beloof dat sy kinders krag sal ondervind, getuies sal wees, oorvloedige lewe sal ervaar en vrug sal dra, vol blydskap en vrede sal wees, dat ons die duiwel sal oorwin... Maar hoeveel van hierdie dinge is ‘n werklikheid in ons lewens? Miskien sê jy : “Ek luister na die Woord, ek ken die Bybel, ek verstaan dit, maar my lewe bly dor en droog... Daardie stroom van water waarvan ons verlede Sondag gepraat het, het my nog nie aangeraak nie...” (Kliek op LEWEGEWENDE STROOM) Ek is nog soos die Dooie See...soos die woestyn! 

Die rede vir hierdie onvrugbare en onverkwiklike toestand is dikwels biddeloosheid! Ons vra nie... (Jakobus sê mos duidelik : “Julle het nie omdat julle nie bid nie.”) Kom ons kyk bietjie na die feite : die magtige en vrugbare dienaars van God van die verlede was in baie opsigte baie verskillend van mekaar, maar hulle het een ding in gemeen gehad, dis manne wat gebid het. Dink aan Abraham, Moses, Samuel, Dawid, Daniël, Nehemia, Paulus... Volgende jaar herdenk ons die vyfhonderdjarige viering van die Protestantse Reformasie wat amptelik begin het met Luther se 95 stellings wat hy op 31 Oktober 1517 aan die Witteberge kerkdeur vasgekap het. Luther is ons held, maar besef ons Luther was ‘n man van gebed? Hy het in die tyd voordat hy voor die Ryksdag van Worms moes verskyn drie van die beste ure per dag opsy gesit om hardop tot God te roep in die gebed. (Sy vriend Veit Dietrich het hom afgeluister en daarom weet ons dit vandag) Die grootste bidder was natuurlik Jesus self. Ons lees hoe Hy vroeg in die môre, nog diep in die nag gaan bid het. (Markus 1:35) Ons verneem hoe Hy met harde geroep en trane gebid het. (Hebreërs 5:7)

VRA KLOP SOEK

In die Bergrede (Jesus se grootste en bekendste preek) beklemtoon Jesus weereens die prioriteit van gebed. 

"Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

"Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra?

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

"Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete."   (Matteus 7:7-12)

Jesus druk die belangrikheid van gebed op ons harte met ‘n drievoudige herhaling : Vra, soek , klop – dis alle sinonieme vir gebed. Deur die uitbreiding van die woord “vra” (bid) met die woorde “soek” en “klop stel Jesus sommer duidelik wat die fokus is van gebed. “Soek” het die konnotasie van soek die koninkryk (Matteus 6:33OAV)* klop het die konnotasie van oopmaak sodat ek kan ingaan in die koninkryk. Die drievoudige opdrag word gevolg met die drievoudige versekering, belofte, waarborg : sal gegee word, sal kry, sal voor oopgemaak word! Let wel – hierdie belofte is vir ELKEEN! Ja, vir jou ook! Maar het jy al regtig gevra, gesoek, geklop...?

‘N VADER WAT GRAAG GOEIE DINGE VIR SY KINDERS GEE

Die waarborg van gebedsverhoring lê in die aard en karakter van God as Vader. Gebed veronderstel ‘n verhouding. God is mos waarlik my Vader deur my geloof ‘n Jesus. God is beslis ‘n goeie Vader, wat tog baie meer volmaak is as aardse vaders wat foute maak. Die argument van Jesus is dat as aardse vaders wat onvolmaak is tog baie graag vir hulle kinders goeie dinge gee, hoeveel te meer sal die hemelse volmaakte Vader vir ons goeie gawes gee!

Goeie gawes! Wat is dit? Weereens kan ons kyk na Matteus 6:33. Ons gebede moet daaroor gaan om reg te lewe volgens God se wil as onderdane van sy Koninkryk. Gebed se fokus is om te leef soos Koning Jesus wil hê ons moet leef. Dis duidelik dat hierdie gebed waarvan Jesus hier praat nie ‘n resep is om te kry wat ek as selfsugtige mens wil hê nie. Wel belowe Hy dat as ek sy wil en sy koninkryk eerste stel, sal Hy al die dinge wat ek nodig het soos kos en klere voorsien! Hier kry ons al een van die grootste redes hoekom so baie gebede misluk en mense dan moedeloos raak en ophou bid. Gebed in die Bybel het nêrens te maak met my eie selfsugtige begeertes en selfgesentreerde ideale nie. Punt.

Gebed is die kragtige middel waardeur ons ‘n nuwe koninkrykslewe kan leef!

Gebed gaan daaroor dat my eie leefstyl en houding sal verander om by die koninkryk van God in te pas en dit sluit in dat my houding teen ander mense sal verander! Vers 12. "Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete."

Ware gebed sal nooit dus oor gierigheid en selfbelang gaan nie, want ek sou nie wou dat ander mense volgens die beginsels van gierigheid en eiebelang teenoor my optree nie. Ons kan nie Jesus se opdrag in vers 12 losmaak van gebed nie. Hier kry ons nog ‘n indirekte rede hoekom so baie gebede misluk. Selfsug en gebroke menseverhoudings! Jesus bespreek die belangrikheid van gebed, direk nadat ons ernstig gewaarsku het om nie te oordeel nie. Moenie oordeel nie, maar bid.

GEEN KRAG SONDER DIE REGTE VERBINDING NIE...





Gebed is die kragprop wat ons inskakel by God se Koninkryk, God se planne, beloftes en seëninge! Hoeveel mis ons nie as ons nie bid nie! Al ons godsdienstige aktiwiteite is kragteloos en nutteloos as ons nie by God se krag ingeskakel is nie. Ons weet tog almal hierdie dinge... Nou waarom bid ons dan nie? Of heeltemal te min? Eintlik is daar twee redes waarom ons nie bid nie. Ons is te... 

Besig. (of dis wat ons sê) “Ek het nie tyd nie, jong ek is nou baie besig,” is die algemene verskoning wat so vinnig opgedis word wanner gebed, bidure en selfs kerkbywoning ter sprake kom. Dis eintlik ‘n groot leuen! Elke persoon wat jy ontmoet laat dit klink asof hy die besigste is en die minste tyd het. (Was iemand ooit meer besig as Jesus of dan nou Martin Luther wat ons as voorbeeld gebruik het?) Die feite is, almal het presies ewe veel tyd (24 uur per dag) solank God besluit dat jy op hierdie aarde is. Baie belangrik, en dit vergeet ons moedswillig, God het ons elkeen ‘n bestuurder van daardie tyd gemaak.  "...en koop die tyd uit, omdat die dae boos is." (Efesiërs 5:16) God sal tog nie van ons rentmeesterskap eis oor iets waaroor ons geen beheer het nie! Soos alle fasette van ons lewens moet ons besef ons tyd is ‘n gawe van God, dit behoort nie aan onsself nie, ons moet dit in gehoorsaamheid aan God benut en bestuur! Om nie tyd te hê kom dus maar eintlik ook neer op die boosheid van ons eie hart...


Boos. Dis die eintlike rede hoekom ons nie bid nie of as ons wel bid gou moed opgee. Daar staan sonde tussen my en die Here. Ek is dalk nog nooit sy kind nie. Of ek is wel sy kind, maar het iewers toegelaat dat daar iets tussen ons kom – onvergewensgesindheid, gierigheid, vashou aan ‘n verkeerde gewoonte... Bely hierdie dinge en raak ontslae daarvan. “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie." (Jesaja 59:1,2)

FIETSRY

Waar begin ek as ek my biddeloosheid wil regstel? Vat hierdie belofte van Jesus ernstig op, voeg die daad by die woord en begin bid. As jy voel jy kan nie bid nie, bid dan dat Hy vir jou sal wys wat hinder... Maar begin net! Begin alleen bid. Begin saam met ander bid en raak ingeskakel by die hemelse kragbron om sodoende ‘n koninkrykslewe te kan leef!

Niemand het nog ooit leer fietsry deur net daaroor te lees of te wonder nie, nee mens moet maar opklim en begin ry al gaan dit ook sukkel-sukkel of val-val... AMEN

* “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matteus 6:33 OAV)