BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Skulpvis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Skulpvis. Wys alle plasings

Donderdag 02 Julie 2015

NEE DR. NELUS!

Kerklik geseënde gay huwelike? Kan dit wees? Sê u dit as 'n bedienaar van die Woord of dalk as woordvoerder van SCOTUS?

Die moderator van die NG Kerk (Algemene Sinode) is volgens persberigte ten gunste daarvan dat die NG KERK die huwelik herdefinieer. Miskien is hy daartoe aangemoedig deur die onlangse beslissing van SCOTUS (Supreme Court of the United Sates) ten gunste van sogenaamde selfde geslag huwelike, want in die Bybel sal jy dit nie kry nie!

“Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die kerk voltrek word.
Dit is die pleidooi van prof. Nelus Niemandt, algemene moderator van die NG Kerk.
Hy hoop die besluit oor gay predikante sal in Oktober op die algemene sinode opgehef word en dat hulle ook sal kan trou.”*


Nee, niemand(t) durf homself bo die Woord ag nie!

Hoe kan dr. Niemandt sulke uitlatings maak wat indruis teen vorige sinode besluite, maar veel erger wat direk teen God se Woord ingaan? In Romeine 1* leer die Woord ons dat God juis mense oorgegee het aan die skandelike drifte van homoseksualiteit omdat die mens die waarheid verruil het vir die leuen en skepsele gedien het bo die Skepper. Nou word skepsele se sienings weer bo die waarheid van die Skepper in sy Woord gestel!

Hierdie wendig moet seker nie as 'n verrassing beskou word nie, want nie te lank gelede nie het DIE KERKBODE die lof van 'n lesbiese huwelik besing. Tog het sy blatante afwykende uitspraak skokgolwe deur die kerklike publiek gestuur en voorsien ek dat daar 'n groot rimpeleffek gaan wees. Daar word nou reeds van alle kante af wal gegooi om die skade te besweer, maar dis ongelukkig reeds gedoen. Die feit dat dit nie die amptelike besluit van 'n sinode (en dus die kerk) is nie, bring maar weining troos. Net die feit dat 'n moderator so 'n skrikwekkende Skrifafwykende uitspraak kon maak, laat mens sidder. En tog...miskien word evangeliese gelowiges in die NG Kerk nou wakker geskud om vas te skop en verdere verdraaiing van die Skrif halt te roep! Of is die padda dalk al te lank in die al warmer wordende pot water?

Lees ook : As mens jou op die Skrif beroep in 'n debat oor homoseksualiteit, dan word jy mos bykans sonder uitsondering met die skulpvis argument gegooi. "Eet jy dan nie skulpvis nie? Die Bybel verbied dit ook mos. So ons kan nie sê gay huwelike is verkeerd omdat die Bybel daarteen gekant is nie!" Kliek op SKULPVIS.


*Dit lyk nie of Niemandt voel dat hy verkeerd in die pers aangehaal is nie, want hy het die skakel na hierdie berig ge -retweet.


**Romeine 1:22 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 
Rom 1:23  en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 
Rom 1:24  Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer 
Rom 1:25  hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 
Rom 1:26  Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; 
Rom 1:27  en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. 

Lees ook : Wat maak homoseksuele sonde anders? Kliek op DIFFERENT  (artikel deur John Piper)

"At this moment in history, contrary to the other sins listed..., homosexuality is celebrated by our larger society with pioneering excitement. It’s seen as a good thing, as the new hallmark of progress."

Saterdag 01 Junie 2013

AANKLAG VAN DIE MOEDSWILLIGES :

“Julle, Christene is nie konsekwent nie.”

So dikwels verskyn daar siniese opmerkings in die media wat neerkom op : “Julle Christene is inkonsekwent, julle veroordeel homoseksualiteit omdat dit in die Bybel verbied word, maar hoekom stenig julle nie ongehoorsame kinders nie? Dis mos ‘n bevel wat mens ook  in die Bybel kry.” (Snaaks dat mense so lief is vir hierdie “steniging van kinders” argument – nou die dag sien ek ‘n ou gebruik dit om nie meer in die bestaan van ‘n hel te glo nie.) Of – “Hoekom eet julle skulpvis, daar is dan ‘n duidelike verbod daarop in dieselfde Bybel?  Hoekom eerbiedig julle nie al die bevele in Levitikus nie? Julle pick en choose net wat julle pas.”

Sulke uitlatings klink natuurlik vir oningeligte ateïste,  skeptici,  Skrifskenders en  Kletskerk aanhangers  baie oortuigend, maar enigiemand wat met nugterheid na die totale konteks van die Bybel kyk behoort geen probleem te ondervind om die kwaadwillige dwaasheid van hierdie tipe stellings raak te sien nie.

Kom ons probeer verduidelik. Die antwoord lê in kort in die heerlike, maar eenvoudige feit dat Jesus gekom het en die hoogtepunt van God se openbaring is.  “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1)

Jesus het as Middelaar van ‘n beter Nuwe Verbond, die Ou Verbond met sy instellings en wette vervang. Waarom offer ons nie meer bulle, skape en bokke nie? Daar is mos duidelike voorskrifte hieroor? Vir elke evangeliese gelowige is die antwoord baie eenvoudig.  (sien die hele Hebreërs 8-10) Jesus se offer van Homself aan die kruis was  as finale offer algenoegsaam vir die kwytskelding van al ons sondeskuld en dit maak verdere bloedoffers totaal onnodig. “Maar Jesus  Christus het één offer vir die sondes gebring... Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.”  (Hebreërs 10:12-14) Trouens, enige bloedoffer sou vandag neerkom op ‘n miskenning van sy kruisdood.

Ja, maar wat van al die etiese opdragte soos die verbod op die veelbesproke skulpvis?  Hoekom hou Christene deur al die eeue hierdie wette nie meer nie? 

VERANDER, VERDIEP, VERSKERP, VERVUL

Jesus self het hierdie dinge duidelik kom verander. Hy het byvoorbeeld alle kos rein verklaar (Markus 7:19) en op 'n ander keer direk teen die Ou Verbond se bepalings aan ‘n melaatse geraak (Markus 1:41) en hom genees. As Seun van God, wat groter as Moses is het Hy die gesag om dit te doen. In sommige gevalle het Hy die bepalings van die Ou Verbond verdiep en verskerp soos wat Hy gedoen het met die gebod dat jy nie mag egbreuk pleeg nie! (Matteus 5:27-30) In hoofsaak het Jesus nie die wet (tora) sommer net summier afgeskaf nie, maar Hy het dit vervul. Hy het dit nie weggegooi nie, maar aan die anderkant het Hy dit ook nie maar net onveranderd gehandhaaf nie. Jesus het alles tot hulle diepste en finale bedoeling gebring. Daarom kon Paulus sê dat iets soos die sabbat ‘n skaduwee (teken/heenwysing) na Christus was. (Kolossense 2:16,17) Die sabbat was ‘n tydelike wegwyser na Christus, maar noudat Hy gekom het, mag ons nie meer daarby vashaak nie. Die werklike saak waaroor dit gaan is Jesus Christus self en ons moet aan Hom alleen vashou!

Beteken dit dat Ou Testamentiese wette en veral ‘n boek soos Levitikus niks meer vir ons te sê het nie? Inderdaad bly dit deel van God se Woord en is daar steeds baie nut daarin om dit te bestudeer. Ons kyk egter daarna deur die bril van Christus se afgehandelde werk. Die groot grondbeginsels  wat  hierdie wette onderlê soos die heiligheid van God (vgl  1 Petr 1:16 met Lev 11:44,45 ens.), die opdrag tot liefde vir God en die naaste, die oproep tot God se mense om anders te wees te midde van ‘n korrupte heidendom ens. spreek nog steeds kragtig tot ons. Soms word opdragte van die Ou Verbond wel direk en onveranderd in die konteks van die Nuwe Verbond herhaal, soos : “Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:2)  In so ‘n geval weet ons dat dit presies net so op ons van toepassing bly. Die verbod op homoseksuele gedrag wat ons in Levitikus vind, val ook in hierdie kategorie, want die Nuwe Testament verklaar ook duidelik dat dit sonde is.* (Romeine 1:18-32; 1 Korintiërs 6:9-11)

DAAR BESTAAN DUS BAIE GOEIE REDES WAAROM DIE KERK STEEDS GLO DAT HOMOSEKSUALITEIT TEEN GOD SE BEDOELING MET DIE MENS INDRUIS, MAAR DAT DIE EET VAN KREEF NIE 'N SONDE IS NIE.

En wat dan nou van die “steniging” van ongehoorsame kinders? God se volk, die kerk van Jesus, anders as onder die bedeling van die Ou Verbond vorm nie ‘n staatkundige en etniese eenheid wat burgerlike wette moet daarstel nie. God se volk  is nou versprei in baie state en onder baie volke. Die beginsel van straf vir ongehoorsaamheid geld steeds, maar die Nuwe Testament  bemoei hom nie met die voorskryf van burgerlike strawwe nie. Die Nuwe Testament lê die klem op die verkondiging van die evangelie, die eis tot bekering en die najaging van heiligmaking. Dis nou genadetyd, maar daar wag ‘n finale oordeel...

Alle oordele en strawwe in die Ou Testament is maar eintlik voorfilms van die finale afrekening wat by die wederkoms sal plaasvind!

O, en as jy gewonder het oor ‘n hel, ja daar is so iets, want Jesus het nogals baie en baie duidelik daaroor gepraat!

Vir meer oor die geheelkonteks en groot prentjie van die Skrif, kliek op LUGFOTO VAN DIE BYBEL


*Oor die hele kwessie van die kerk se houding teenoor  die vraagstuk omtrent homoseksualiteit  beoog ek om vorentoe in diepte op in te gaan.