BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kinders. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kinders. Wys alle plasings

Maandag 04 Julie 2022

LEWE OP DIE BERGTOP!


- wat is die lewe wat jy vir jouself en ook vir jou kinders begeer?




Elke ouer wil graag die beste vir sy kind in die lewe hê. My kinders moet tog eendag ‘n goeie lewe lei en ‘n suksesvolle bestaan kan maak. Maar wat presies is ‘n goeie lewe en wat behels ‘n suksesvolle bestaan? Daaroor kan baie opinies wees… Miskien moet ons dalk vir Jesus vra?

Maar wees gewaarsku Sy antwoord is baie radikaal. Dis ontstellend en meer nog dit gaan die totale bankrotskap en dwaasheid van ons westerse samelewing en spesifiek ook ons leefstyl en denke hier op Tsumeb ontbloot! 

Kom ons luister na ‘n paar van Jesus se uitsprake in Matteus 16.


Jesus het so pas aan sy dissipels bekend gemaak dat sy loopbaan en doel deur lyding moet gaan. (21) Laat ons dit maar onthou ons aanbid nie ‘n populere en gemaksugtige Christus nie, maar ‘n lydende en stewende Christus. 













Petrus het nie hiervan gehou nie. Hy het ‘n ander tipe verlosser en Messias verwag. (22) Jesus bestraf Hom sterk. (23) Jesus maak dit duidelik dat Petrus volgens menslike waardes en standaarde dink. 







Maar direk hierna rig Jesus nou ‘n radikale uitdaging om Hom te volg aan sy dissipels... (24) Ons moet onthou hierdie uitspraak is gemaak lank voor die kruis, die simbool geword het van die Christendom. Daar was niks mooi aan ‘n kruis nie, mense het nie kruise om hulle nekke gedra nie. Inteendeel almal het geweet as jy iemand met ‘n kruis sien is daardie ou op pad om die wreedste en skandelikste dood te sterf. ‘n Verworpene! 




Dit kan vergelyk word met die emosie rondom ‘n galgtou toe ons land nog doodstraf gehad het. Jesus se woorde sou daarop kon neerkom – AS jy regtig my wil volg hang ‘n galgtou om jou nek…wys vir almal jy het die dood gekies ter wille van My. Skokkend. Afgryslik. Heeltemal ongewoon. Kies teen jouself, kies vir die dood as jy my volgeling wil wees. Jesus se implikasie is duidelik – sy eie pad is die pad van selfverloening, lyding en dood en as ek Hom wil volg moet ek ook bereid wees om daardie pad te loop! ‘n Keuse vir Jesus is ‘n keuse teen my eie sondige begeertes, selfs my eie gerief, eie planne en eie aspirasies… dis ‘n keuse om Hom eerste te stel! 




Dan verduidelik Hy verder. (25) Ter wille van Jesus moet ons bereid wees om alles prys te gee. En net deur Hom kan die ware lewe gevind word. Loop die sterwenspad van verwerping en lyding saam met Jesus en jy sal die ware lewe vind! LEWE in die volle sin van die woord. (en net die Heilige Gees kan dit vir jou laat sin maak).







Jesus beklemtoon NET in Hom is die ware lewe te vind! (26) Als sou ek die hele wêreld besit, dan gaan dit my als niks help as ek Hom nie waarlik ken en volg nie! Die menslike soeke na sukses, geld en belangrikheid en besit is ‘n doodloopstraat! Jy moet die lewe soek buite jouself en jou eie prestasies en dit in Jesus vind. Die lewe in verbintenis met Hom wat nooit sal verbygaan en nooit sal teleurstel nie. Die ewige lewe wat nou reeds begin en vir altyd sal voortduur. Die lewe wat beteken dat ek God en sy Seun Jesus sal ken. Jy kan sien. Jesus se idee van lewe en die algemene siening in die wereld van lewe staan reëlreguit teenoor mekaar. 

LEWE is ‘n lewe van navolging van Jesus al kos dit lyding en verwerping. Lewe op die bergtop is lewe saam met Jesus!

Nou is die groot vraag : Is die goeie lewe wat jy vir jou kinders wil hê, is die goeie lewe waarop jy jou kinders wil voorberei in lyn met Jesus se siening van lewe? Leer ons ons kinders deur woorde en deur voorbeeld dat die heel belangrikste ding op aarde is om Hom te ken? Leer ons ons kinders dat alle dinge uiteindelik tot niet sal gaan, maar dat om Hom te ken alles in waarde oortref? Leer ons ons kinders dat al ons dade eendag deur Jesus beoordeel gaan word? Sy lof, sy goedkeuring is al wat tel? (27)




Dit wat ek oor die algemeen rondom my sien, laat my dink dat ons nie die waardes en waardevolheid van Jesus aan ons kinders oordra nie. Voorbeelde: Is huisgodsdiens die eerste prioriteit – in ons huise? Of is sepies en ander programme belangriker? (Ek ken die antwoord, want die oorgrote meerderheid van kinders met wie ek in aanraking kom, ken glad nie die Bybel nie. Maar hulle kom uit "Christelike huise" en gaan skool in 'n "Christelike privaatskool') Leer ons vir ons kinders dat om Jesus te ken die belangrikste is, as ons bereid is om naweek na naweek honderde kilometers agter sportbyeenkomste aan te ry, maar min moeite doen om by die kerk te kom. 

Leer ons ons kinders dat hulle verlore sondaars is sonder Jesus, as hulle altyd net vertel word hulle is ysters? Ons kweek ‘n generasie van ysters met so ‘n oordrewe selfbeeld dat hulle nooit hulle aaklige sonde sal besef en God om genade sal smeek nie…

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek sê nie ons met heeldag net Bybel lees vir ons kinders nie… Ja, natuurlik moet ons gebalanseerde kinders grootmaak- ons moet tyd en geld bestee aan hulle akademiese en fisiese ontwikkeling, maar ons eerste groot passie moet wees om hulle te begelei om volgelinge van Jesus te word. Dit help als niks hulle word akademiese reuse en sportsterre, maar hulle sal vir ewige verlore gaan in die hel sonder God nie! (26)

God gee aan ons verbondskinders om vir Hom groot te maak. Hy beskou hulle as baie belangrik, as syne. Luister na God se snydende verwyt in Esegiël 16:20-21. 



Israel het hulle kinders soms letterlik aan afgode geoffer. Doen ons dit nie ook as ons deur ons voorbeeld en praatjies kinders laat verstaan dat geld en prestasies die belangrikste in die lewe is nie? Vertel jy jou kinders dat om Christus Jesus te ken alles in waarde oortref? Sien jou kinders jou gereeld in die kerk, sien hulle jou besig wees met die Bybel, hoor hulle jou bid? Die waarde van Jesus en die allerbelangrikheid om Hom te volg, dis die lewe. Dis die lewe op die bergtop in God se teenwoordigheid saam met Jesus!



Donderdag 22 November 2018

DIT RAAK JOU KINDERS!

- HIERDIE IS ’N KEUSE WAT JOU NAGESLAG BESLISSEND BEÏNVLOED.



Baie van die keuses wat ons maak gaan vir altyd ook ‘n invloed hê op ons kinders se welsyn en toekoms... Dink nou maar aan die netelige kwessie van emigrasie. Moet ek bly of moet ek ry ter wille van ‘n beter (?) toekoms vir my kinders? 

Hier in Deuteronomium 30:15-20 word ’n uitdaging aan die volk Israel gerig om ’n keuse te maak. Opmerklik en veelseggend is dat die keuse nie net hulleself sal raak nie, maar ook hulle nageslag sal beïnvloed. “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” (19b!) 

Die belangrikheid om ‘n keuse te maak. 

Dis baie duidelik dat die volk Israel hier voor ‘n beslissing gestel word. Julle moet nou kies! Dikwels skram mense weg van hierdie verantwoordelikheid. Ander is baie gou by met die beskuldiging en skeldnaam METODISME as daar van ‘n keuse of eis tot bekering gepraat word! Daar is dikwels die verskoning, “Ag wat die Here het my paadjie uitgelê, wat sal gebeur sal gebeur.” Dis ’n verdraaiing van Bybelse waarhede om so te redeneer. Ja, natuurlik het God die inisiatief geneem. Hy het die verbond met Abram gesluit en beloftes gemaak. Dis alles sy genade! Ons kry hier weereens ’n duidelike verwysing daarna. “Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee." (20) Dis inderdaad God wat toe Hy aan sy verbond gedink het, besluit het om hulle uit Egipte te verlos en na die beloofde land te lei. Maar nou moet hulle kies. Hulle is verbondsmense aan wie die heerlike beloftes behoort, maar hulle moet nou self KIES! Dis noodsaaklik, want alle verbondsmense (of as jy wil, kerkmense!) het nie noodwendig die lewe nie! JY moet kies, JY moet besluit! Hierdie uitdaging kom weer en weer ook tot ons. Jesus self het aan die verbondsvolk hierdie uitdaging gerig, reg aan die begin van sy bediening- “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15!) Het jy al duidelik gereageer? 

Die inhoud van die keuse. 

Waaroor het die keuse gegaan. Kies die LEWE! Wat is hierdie lewe? Hierdie keuse is ’n keuse om God lief te hê en sy gebooie te gehoorsaam. Dies lewe in God se teenwoordigheid. “As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.” (16) Om God lief te hê is om sy gebooie, sy voorskrifte, sy bepalings te gehoorsaam! Dis ’n keuse vir gehoorsaamheid aan die wet van Moses as geheel. Die tora. 

Die tora het die pad aangedui. Die koers waarvolgens die mens moes loop. 
Die tora was die waarheid. Die duidelike suiwer waarheid te midde van al die valsheid en afgodery. 
Die tora was lewe teenoor dood. Godellike lewe in sy teenwoordigheid en onder sy seën!

Wat is die keuse waarvoor ons staan? Ons moet Jesus kies! Om Hom te glo en te gehoorsaam. 
Jesus self is nou die weg, die waarheid en die lewe! (Johannes 14:6) 

Dit wat die tora was in die konteks van die Ou Verbond, is Jesus self nou in die Nuwe Verbond. 

Jesus in Homself is die vervulling van die hele tora, die hele wet van Moses. Ons word uitgedaag nie net om ’n boek se voorskrifte na te volg nie, maar om ’n Lewende Persoon te volg! Om persoonlik my hele vertroue op Hom te plaas. 

Die langtermyngevolge van die keuse. 

Die gevolg van die regte keuse vir God en sy wet, sou ’n lang lewe wees in die beloofde land Kanaän. ’n Letterlik voorspoedige lewe in die land Kanaän. In die Nuwe Verbond gaan dit nou nie meer oor ’n letterlike Kanaän en aardse voorspoed nie. (Terloops, dis hier waar baie misverstande kom wat tot die Prosperity Gospel dwaling aanleiding gee. Mense maak so maklike die aardse beloftes van die Ou Verbond naatloos van toepassing op die Nuwe Verbond. Dit kan nie. Jesus die Middelaar van die Nuwe Verbond het nooit materiële voorspoed beloof aan sy volgelinge nie, maar wel ‘n ewige beloning hierna!) Ons wat die keuse doen om in Jesus te glo en Hom te gehoorsaam kry iets beter as Kanaän – die ewige lewe nou reeds en finaal in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die ewige stad waarvan God self die Bouer is! EWIGE LEWE is om God en Jesus te ken en by Hom te wees! (Johannes 17:3) 

Die opvallende gedeelte van hierdie belofte in vers 19 is – “Jy en jou NAGESLAG” Die keuse raak nie net jouself nie, maar ook jou kinders! Nou is die groot vraag : Geld dit ook vir die Nuwe Verbond? Raak dit my kinders as ek tot bekering en geloof in Jesus kom? En die antwoord is ’n heerlike en besliste JA! Ons kry ’n treffende voorbeeld daarvan in Handelinge 16. Die bekering van die tronkbewaarder van Filippi. Lees gerus weer Handelinge 16:29-34. Let op na die antwoord wat die tronkbewaarder ontvang as hy vra wat hy moet doen om gered te word! "Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." (31) Hierdie is ‘n belofte wat ons nie ligtelik moet opneem nie! 

Die punt is dit : 

Ouers se keuse speel ’n geweldige groot rol in die lotsgevalle en eindbestemming van hulle kinders. 

Beteken dit dat kinders van gelowige ouers outomaties gered word? Outomaties wedergebore is? Nee! Hulle moet self ook kies wanneer hulle die ouderdom van bevatlikheid en verantwoordelikheid bereik. En inderdaad gebeur die onbegryplik tragiese – sommige maak nooit die regte keuse nie en gaan vir ewig verlore! Die onbegryplike negatiewe wat kan gebeur mag egter nie veroorsaak dat ons die heerlike positiewe belofte hier verswak of ignoreer nie! 

Nou wat is die voordele dan vir kinders wie se ouers die Here Jesus ken en dien? 

-Hulle leef in die dampkring en die invloedsfeer van God se genadeverbond. God is hulle beskermer van kleins af. “U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur.” (Psalm 73:6!) 

-God gebruik die Christen ouerhuis as die kanaal waardeur sy genade en beloftes ook na hulle kom. Hulle het ouers wat vir hulle bid en intree by God se genadetroon. Ons kan die Here herinner aan sy beloftes! Hierdie kinders hoor die Woord van kindsbeen af. Wat ‘n voorreg! “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:14,15) Ons kan positief vertrou dat die saad van die Woord wat natgemaak word deur die gebede van gelowige ouers uiteindelik sal vrugdra! 

-Kinders van gelowige ouers kry van kleins af die voorbeeld van geloof en van liefde vir die Here en liefde vir sy kerk! Ja, baie van hulle rebelleer, maar daar is baie getuienisse van verlore seuns en dogters wat na ‘n tydperk tussen die varke weer terugkeer... Ons as gelowige ouers kan die pad maar gelowig en hoopvol dophou... 

Oor wat jy as ouer oor emigrasie besluit, wil ek nie veel kommentaar lewer nie. Wat ek wel wil onderstreep is die Bybelse opdrag : Kies die lewe en jy en jou kinders sal lewe. Kies Jesus en jy en jou kinders lewe!

Naskrif : As jy dalk vanuit Bybelse vertrekpunte wil saamdink oor emigrasie, kliek op BLY OF GLY?



Saterdag 01 Julie 2017

BILLIK EN TOT JOU BESWIL!

- God se gebooie is nie bedoel om ons te benadeel en ons vreugde te beperk nie. 



Wonder jy dalk : “Gaan ek die lekkerte van die lewe misloop as ek God se opdragte gehoorsaam? Ek is jonk, miskien moet ek eers uitstel om die Here te begin dien. Sy bevele maak my benoud en hou my vas. Is die lewe wat God vir my wil hê, ‘n vervelige, “boring” lewe?”


Dis ‘n feit, daar is opstand in baie mense se harte teen God se opdragte of ten minste dan ‘n wantroue teenoor God se wette. Daar’s ook al hoe meer ‘n openlike weerstand teen God se wette... dit wat God beveel ten opsigte van seksualiteit, eerlikheid, die noodsaak van vergifnis vir ander, onderwerping aan gesag... noem maar op! Die wêreld rebelleer al meer teen God se gebooie. Ons hoor : “Ag, God se wette is outyds, dit steel ons pret en plesier!” Ja, een rede vir hierdie minagting van God se opdragte is dat die duiwel ons wysmaak God ‘n tiran is wat ons nie lewensvreugde gun nie! Dis trouens die sluwe slenter waarmee hy Adam en Eva in ‘n wip gevang het! Satan wil ons laat glo dat God se gebooie en bepalings onbillik, onregverdig en nadelig is.

Dis natuurlik alles ‘n groot leuen! Moses gee vir ons in DEUTERONOMIUM 4 :1-10 ‘n baie belangrike perspektief op God se opdragte. (Hy berei die volk Israel voor vir hulle besitname van die beloofde land.) Dis duidelik : God se opdragte, voorskrifte, gebooie en bepalings vir sy mense is billik en juis tot hulle beswil! “Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?" (7,8) Jy kan dit maar toets. Noem een gebod van God wat onbillik of skadelik is. Noem een opdrag van God wat nadelig is vir die mens. Noem een voorskrif van God wat ten doel het om die mens ongelukkig maak. Daar is nie so iets nie! Die teendeel is waar- dis juis die ongehoorsaamheid aan God se opdragte wat lei tot oneindige hartseer en stukkende lewens! Hoeveel mense wens nou op hierdie oomblik : “Het ek maar na die Here se Woord geluister, dan het my lewe so anders verloop...” 

DIE LIEFDEVOLLE VERLOSSER!

Hoe moet ons God se gebooie verstaan? In watter lig moet ons dit beskou? Die groot probleem is dat mense God se wette en opdragte as ’n klomp koue losstaande reëls sien. Asof God sommer net skielik op ’n dag besluit het: “Ouens, ek wil die lewe vir julle moeilik maak, hier is ’n klomp moeilike reëls en ek kan nie wag dat een van julle oortree nie, dan kan ek julle straf.” Nee, duisend maal nee! Nou maar waar kom God se gebooie dan vandaan?

Moses verduidelik die konteks van God se gebooie hier in Deuteronomium 4 aan die volk Israel. Hy herinner hulle aan die verlossing uit Egipte. “Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit ...” (37) In effek : “Julle is mense wat God se liefde en verlossing en nabyheid ervaar het. Ons God wat ons verlos het is uniek, onvergelykbaar met enige ander afgod.” Die punt is - God se gebooie staan in die konteks van ’n verhouding, ’n liefdes verhouding! God het Israel verlos en bring hulle nou in ‘n nuwe land in en gee daarom opdragte en reëls oor hoe om gelukkig in die nuwe land te leef p ‘n manier wat aan Hom eer sal bring. Uit liefde verlos Hy mense en vir daardie mense gee Hy uit liefde sy opdragte wat billik is en tot hulle voordeel is. God maak reëls vir die mense wat Hy gered het. Die reëls is daarop gemik om sy eer te bevorder en om elke faset van ons lewe te beskerm. God se reëls en ordes is bedoel om ons lewens, ons huwelike, ons eiendom, ons naam, onsself en ons medemens te beskerm. Breek hierdie reëls dan sien en ervaar ons hoe word lewens, huwelike, eiendom, ja ‘n hele samelewing verniel en uiteindelik vernietig! Maak jou oë oop en jy sal dit sien...

Jesus gee ook aan die Nuwe Testamentiese kerk opdragte. Jesus gee sy bevele aan mense wat Hy uit die slawerny van sonde verlos het en weer heel gemaak het. En nou sê Hy vir ons : “As julle heel en gelukkig in my teenwoordigheid wil lewe en my wil eer moet julle my opdragte gehoorsaam.” 

Anders gestel,God sê : “Nou is julle my kinders, julle was slawe van Sonde en Satan, maar nou is julle my kinders, deel van my gelukkige gesin. Hier is die reëls vir ons huis.” God se reëls is nie die reëls van ‘n tiran of despoot nie, maar van ‘n liefdevolle Vader! 

Ons wys ons liefde vir Hom as Vader juis deur sy opdragte uit te voer!

Dit alles is billik en dis nie swaar nie! “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.” (1 Johannes 5:3,4)

[Voel jy eerlik nog steeds dat God se wette en bepalings onbillik en benouend is? Kom ek wees reguit met jou. Die fout is nie by God se wette nie, maar by jou hart. As Hy jou hart verander, sal jy insien dat sy gebooie ‘n vreugde is!]

Ek hoop ons gaan met nuwe oë na God se opdragte kyk! Na elkeen van sy opdragte, want elkeen is belangrik as ons Hom wil eer en gehoorsame vreugdevolle kinders van Hom wil wees! En baie belangrik! Dis ons heerlike voorreg en plig om hierdie opdragte van God by ons kinders en kleinkinders in te skerp!

"Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.
Julle moet hulle van dié dag laat leer toe julle by Horebberg gestaan het in die teenwoordigheid van die Here julle God, van dié dag toe Hy vir my gesê het: ‘Maak die volk vir My bymekaar dat Ek hulle my gebooie wat hulle moet ken, kan meedeel sodat hulle My kan dien so lank hulle in hierdie land lewe en sodat hulle my gebooie vir hulle kinders kan leer.’" (Deuteronomium 4:9,10)

Kom ons luister na ‘n paar van sy opdragte aan sy verloste Nuwe Testamentiese volk, die kerk soos uitgespel in Romeine 13:8-14.

“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.

Al die gebooie: "Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie," of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."

Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.

Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem.

Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.

Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie”.


En terloops : BAIE DANKIE AAN ALMAL WAT MEEGEWERK HET OM ONS DANKFEES VAN VERLEDE NAWEEK SO 'N SUKSES TE MAAK!

Ons eie "boemelaars" - Hannie van Wyk en Ria Struwig

Hierdie skoolhoof kan ook pannekoek bak! Petri van Wyk wys sy slag met die pan. Saam met hom is Charlotte du Preez, Jolindie Grobbelaar en Beaty Breytenbach.





Vleiswerk is spanwerk!


Martiens Boshoff bring sy kant.

Donderdag 21 November 2013

WAT GAAN VAN MY KINDERS WORD?

- Ja, tye is rof, versoekings is baie, goddeloosheid floreer, maar hoor bietjie wat sê God se Woord oor die kinders van gelowiges! 

Wat gaan van my kinders word? Sal hulle gered word en eendag saam met my in die hemelse koninkryk God loof en prys? Of gaan die Satan en die wêreld hulle meesleur in die ewige afgrond in? Sal my kinders God eer deur ‘n heilige diensbare lewe of gaan hulle verval in ‘n wêreldgelykvormige lewe van kompromie, onsedelike bandeloosheid en godverlate ellende? Elke ouer dink seker oor hierdie dinge en soek biddend antwoorde. Wat sê die Bybel?

Vrydag 23 Maart 2012

KINDEROFFERS

- pasop wat jy met God se eiendom doen!

Die Here beskuldig sy volk Israel in Esegiël 16 (maak gerus jou Bybel hier oop) van ontrou en afvalligheid. Om dit te verduidelik gebruik God ’n besonder treffende beeld. Israel was soos ’n klein babadogtertjie wat weggegooi is by geboorte. (Vers 4&5) God het haar opgetel en haar onder sy sorg geneem. Toe hierdie meisie groot word, het sy God se eiendom (bruid) geword. (Vers 8) Sy was nou ’n pragtige vrou, geskik om ’n koningin te wees! (Vers 13) Maar Israel het afvallig geword. Met ander woorde, hierdie mooi meisie het ’n slet geword! Ontrou! (Vers 15)

Van weggooikind tot koningin tot slegte vrou!  Wat het sy gedoen? AFGODERY! Israel het in afgodery verval. (Vers 16) Maar dit was nie die ergste van Israel se sonde nie. Dit wat die Here die meeste ontstel was dat hulle nie net self afgode gedien het nie, maar ook hulle kinders aan die afgode geoffer het. (Vers 20-21) Dit was ’n letterlike gebruik onder die heidense nasies en Israel het so ver weg van God afgedwaal dat hulle ook ook aan hierdie gruwel meegedoen het. Selfs die koning van Juda, Manasse was hieraan skuldig. (2 Kronieke 33:6) Dis hoe laag die sondaarmens kan daal : Verbrand my kind vir ’n afgod!

Dis niks anders as Satanisme nie!

In Esegiël 16:20-21 vind ons ten minste twee belangrike uitsprake van God rakende ons kinders :

1. God is begaan oor die kinders van sy verbondsvolk. Hy is besorg oor hulle. Hulle is baie belangrik vir Hom. Hy noem kinders hier “jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het” (20) en “my kinders”(21) Verbondskinders is God se eiendom. God maak aanspraak op hulle. God is inderdaad ook die God van kinders, selfs die ongebore kinders van sy mense. Psalm 71:6 bevat ’n uiters belangrike waarheid :

“Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder”

Natuurlik bedoel dit nie dat kinders wat in verbondshuise grootword outomaties gered is nie. Geloof en bekering is vir alle mense nodig volgens hulle bevatlikheid. Geloof en bekering is juis ’n vereiste binne die verbond. Dis die noodsaaklike reaksie op God se beloftes. Die punt is net : God is betrokke ook by die kinders van sy mense. Hulle is deel van God se sigbare kudde op aarde. Is dit ook so in die Nuwe Testament, wonder jy dalk? Ja, beslis! Jesus ruim alle twyfel daaroor uit die weg as Hy klein kindertjies seën. Jesus se seën van die kindertjies was tog nie maar net 'n leë gebaar nie, of hoe? Seën is 'n verbondsterm! God se reddingsplan sluit ook kinders in, ook kinders wat nog nie kan verstaan nie.

 Die kinders van God se mense is kosbaar vir Hom!

2. Dis ’n gruwelike sonde om verbondskinders aan die afgode te offer. Nou het dit vandag nog iets vir ons te sê? Daar is darem seker nie meer in ons dag mense wat sulke bloeddorstige barbaarshede aanvang nie. Ja, ongelukkig! Dis ’n feit dat mense vandag nog steeds God se verbondskinders vir die afgode voer. Dit gebeur daagliks, sommer hier tussen ons. Mens sien elke dag die tragiese gevolge daarvan. Laat ek twee praktiese voorbeelde noem van afgode wat ons kinders verteer:

Materialisme. Om sigbare materiële dinge eerste te stel en na te jaag. Gierigheid word pertinent afgodsdiens genoem. (Kol 3:6) Hoe raak dit ons kinders? Ons jaag so rond om geld te maak, ons skeep ons kinders af. “Ja, maar ek werk ekstra hard juis omdat ek vir my kinders lief is en vir hulle ’n toekoms wil skep!” Dis ’n ou leuen wat Satan in ons koppe inprent. Weet jy hoe spel ’n kind die woord liefde? “T-Y-D” Ja, natuurlik het ’n kind kos en klere nodig. Maar hulle het veral tyd en aandag nodig! Jy kan nie ’n kind se hart met geld en duur goed koop nie! Jou kind het saamwees nodig! Onthou : Jy het net 18 jaar om ’n kind positief te beïnvloed en waardes en waarheid te leer!

As ek my kinders liefhet, sal ek tyd maak om die belangrikste aan hulle oor te dra : DIE WAARHEID VAN DIE WOORD!

Deur materialisties ingestel te wees leer ouers van kleinsaf  boonop nog vir hul kinders ook verkeerde waardes. Ons leer hulle om belangrikheid en sukses te meet in terme van welvaart.  Wat 'n leuen! Vra jouself eerlik : "Is sukses baie geld of is dit ’n gesin wat gelukkig saam die Here dien?"

Sekularisme. Om te leef asof God nie bestaan nie of dat Hy glad nie belangrik is nie. ’n Sekulêre mens of samelewing steur hulle nie aan God se reëls en ordes nie. Ons offer ons kinders aan die god van sekularisme as ons woorde en dade die indruk by hulle skep dat God nie belangrik is nie. Ons steur ons nie byv. aan God se reëls vir huwelik en gesin nie. Ouers wat Sondae oggende lê en slaap en net die kinders Sondagskool toe stuur, verkondig luidkeels : "God is nie die moeite werd nie!" In effek verbrand hulle hulle kinders in ’n afgod se arms!

Hoe kan ons die gruwelike sonde van kinderoffers regstel? Deur ons voor God te verootmoedig, berou te toon en te bekeer (ons gedrag te verander). Waar daar berou en bekering is skenk God genade. Die einste slegte koning Manasse het hom voor God verootmoedig en het genade ontvang. 2 Kron 6:12 (Lees) 

God se genade is ook genoeg vir 'n kindermoordenaar! Genade, onbeskryflik groot!

Net as ek my tot Jesus bekeer het en dankbaar ’n nuwe lewe leef, kan ek die regte pad vir my kinders wys. Nie een van ons kan van ons kinders, Christene maak nie. Dis net die Heilige Gees wat hulle van sonde kan oortuig en na Jesus toe kan trek. Maar God gebruik Christen ouers se woorde, voorbeeld en gebede. Christen ouers wat getrou is aan hulle verbondsbeloftes. Christen ouers wat standput ingeneem het teen die afgode van materialisme en sekularisme. Mag God ons die genade skenk om ons kinders aan Hom toe te wy en nie aan die afgode te offer nie. Want onthou hierdie kinders is eintlik God se eiendom! Wee, die een wat God se eiendom vir die afgode voer!