BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 13 Julie 2017

GELEEF, GESTERF VIR MY!

Jesus se passiewe én aktiewe gehoorsaamheid gee vir ons volkome sekerheid.


Gaan ek die hemelse wenstreep haal? Dis so ‘n belangrike vraag. Dink maar aan ‘n Comrades marathon – as daardie laaste skoot klap om die afsnypunt aan te kondig. Die teleurstelling en smart as iemand dit gemis het... Hoeveel erger sal die gevolge wees as ek die hemelse afsnypunt mis? Hoe kan ek seker wees dat ek dit nie sal misloop nie? Ja, ek het Jesus aanvaar maar kyk net ek is en voel so onvolmaak... Sal ek kan ingaan in die Koninkryk? Kan ek seker wees? Ons gaan die antwoord uit die Woord kry, maar ek wil dit ook koppel aan die woorde van die bekende Liedboek 396 se eerste vers en spesifiek die woorde “Hy leef, Hy sterf in my belang”

[Terloops. Wat ons sing is baie belangrik. Nie net om tyd om te kry of afwisseling te bewerk nie. Dit is eintlik ’n weerspieëling van wat ons glo. Dis aanbidding tot God, maar dis ook moontlik ’n manier waardeur ons mekaar bemoedig en onderrig. Dis m.a.w. nie net die dominee wat lering aanbied nie, ons leer mekaar deur die liedere wat ons sing.(Kol 3:16;17)] 

Wat beteken dit as ons sing dat Jesus in my belang geleef en gesterf het? Jesus het vir ons gestérf (dit weet almal ). Ons weet ook wat dit beteken. Hy het al ons sonde op Hom geneem en is daarvoor in ons plek gestraf. (Jesaja 5:5,6) Daarom is ons wat in Hom glo vry van straf...MAAR Hy het ook vir ons gelééf. Beide Jesus se lewe en sterwe is vir ons van die allernoodsaaklike belang. Wat beteken dit dat Jesus vir ons geleef het? Ons sing dit mos. En ons moet tog bedoel wat ons sing!

VOLBRING!

Een van die sleutel begrippe in die Johannes evangelie is die woord “volbring”*. Dis die woord wat Jesus aan die kruis uitroep (Johannes 19:30), maar dis ook ‘n deurlopende tema in die hele Johannes evangelie.  Dit is ’n uiters belangrike leidraad om Jesus se lewe en werk te verstaan. Blaai bietjie saam met my deur die vierde evangelie:

Johannes 4:34 “Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” Jesus se groot ingesteldheid was om God se wil te doen, om die werk wat God Hom gegee het te voltooi. 

Ook so Johannes 5:36 “Maar Ek het 'n groter getuienis as dié van Johannes, want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het.”

Johannes 17:4 “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Net Jesus kan dit sê in ‘n absolute sin! Sy hele lewe lank was Hy perfek gehoorsaam aan God se wil. Nooit iets teen God se wil en wet gedoen nie. Dis ’n ander manier om te sê Jesus was sondeloos. 

Jesus het niks verkeerd gedoen het nie, maar meer as dit, Hy het ook positief alles gedoen wat God wou gehad het Hy moes doen. 

Hy en Hy alleen het al God se opdragte in die kleinste detail en met volmaaktheid uitgevoer. Jesus en net Jesus was die volmaak regverdige Israeliet. (Dis die duidelike boodskap van Matteus 4 – die verhaal van die versoeking in die woestyn; elke keer het Jesus opgetree soos ’n volmaak regverdige) As volmaak gehoorsame het Jesus geslaag waar alle ander mense misluk het - Adam, Moses, Dawid, al die groot helde van die Ou Testament het gefaal, Jesus nie. Die volk Israel as geheel het gefaal, maar Jesus het die toets geslaag. Jesus en Jesus alleen het sy Vader se werke volbring en sy wil perfek uitgevoer!

Wat baat dit ons ? Hoe raak dit ons? Geweldig baie. U sien ons staan skuldig voor God oor die verkeerde dinge wat ons gedoen het. Maar meer nog, ons staan ook skuldig oor die regte dinge wat ons nie gedoen het nie. Niemand van ons het God genoeg lief nie, niemand eer God genoeg nie, niemand dank God genoeg nie.... Ons staan dus dubbeld skuldig voor God! Maar nou het Jesus as ons plaasvervanger ’n volmaakte lewe voor God geleef hier op aarde. Alles wat Hy gedoen het was presies soos God dit wou gehad het. Hy het God se werke volbring in die volle sin van die woord!

Hoe raak dit my? As ek in Christus is, word sy volmaaktheid, sy geregtigheid as myne beskou en staan ek volmaak voor God. Ons sing ook mos : “Hy is my geregtigheid , ek staan volmaak in Hom.” HY IS MY GEREGTIGHEID! “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (1 Kor. 1:30) Alles wat Christus was en is, is Hy VIR ons TER WILLE VAN ons. Hy is die sondelose mens vir ons (ons moes dit gewees het....). Hy is die ware verbondgenoot vir ons (ons was veronderstel...). Hy is die regverdige, die heilige, die Geesvervulde, die volmaakte aanbidder van God, wat ons moes gewees het... - Alles VIR ons!

Anders gestel : 

Jesus het die toets wat ons moes skryf namens ons geskryf! Hy het die reisies wat ek moes hardloop, namens my gehardloop! 

AKTIEWE GEHOORSAAMHEID VAN CHRISTUS

Jesus het vir ons gesterf. Dit word sy passiewe gehoorsaamheid genoem. Jesus het ook vir ons geleef. Dit word sy aktiewe gehoorsaamheid genoem. Sy aktiewe gehoorsaamheid het Hy ook namens ons uitgeleef. Sy volmaakte gehoorsaamheid word vir ons wat glo toegereken. Sy gehoorsaamheid word nou beskou as ons gehoorsaamheid en daarom kan ons sonder vrees voor God staan, as ons met Jesus verenig is. Aan die einde van sy lewe het die groot teoloog en stryder vir die waarheid, Gresham Machen ’n telegram aan John Murray gestuur met die woorde “I am so thankfull for the active obedience of Christ. No hope without it”**

WAT VAN MY?

Jesus het God se wil volmaak uitgevoer en uitgeleef. Wat Hy geleef en gedoen en gesterf het was vir ons, ter wille van ons, tot ons voordeel. Sodat ons gered kan word! Een belangrike vraag bly oor. Hoe kry ék deel daaraan. Hoe weet ek dat wat Hy gedoen het, ook my persoonlik raak. Dat dit persoonlik verlossing vir my bring?

Die Johannes evangelie gee ’n baie duidelike antwoord. Weer is die sleutelwoord “volbring.” “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.” (Johannes 6:28,29) God vra van ons net een ding - Glo in Jesus , die Een wat deur God gestuur is. Jy sien daar is net een wat God se werke volbring het, net een wat volmaak gehoorsaam voor God se aangesig geleef het. Jesus. As ons God se werke wil doen, doen wat God verlang en verwag, dan moet ons in Jesus glo. Ons eie pogings nie genoeg nie. Dis waarom baie mense se godsdiens so ’n tragiese frustrasie is. Hulle wil self God tevrede probeer stel. Ons kan nie. Net Jesus het God tevrede gestel, net Jesus kon aan die einde van sy lewe sê : “Dis volbring. Al die werk wat die Vader my gegee het , het Ek afgehandel.” Ons kry deel aan Jesus se volmaaktheid namens ons deur die geloof. 

Nou wat is geloof? Een of ander ingewikkelde gedagtehandeling? Nee, gelukkig nie!

Geloof is om tevrede te wees met dit wat God vir ons gedoen het in Jesus. Geloof is nie opsigself ’n perfekte daad wat vir ons verlossing verwerf nie. Geloof sê maar net : “Ek weet ek is nie goed genoeg nie, maar ek vertrou wat Jesus gedoen het met sy lewe en sterwe was goed genoeg, ook vir my!”

Die grond van my sekerheid is nie die kwaliteit van my geloof nie, maar die genoegsaamheid en volkomenheid van Jesus se lewe en sterwe namens my!

Horatius Bonar sê dit so mooi :
“What God demands from us is not satisfaction with our faith, but satisfaction with Christ and His work" - en juis dit is ware geloof!

*In die Grieks is dit deurgaans die stamwoord τελειόω. Die OAV vertaal dit dan ook konsekwent met “volbring”

**Murray, Ian, The Life Of John Murray; p64.

Vrydag 07 Julie 2017

SMAG JY NA KRAG?

- Die gebed van die apostel Paulus gee perspektief en hoop!



Paulus bid vir sy lesers onder andere vir krag in die gebed wat opgeteken is in Kolossense 1:9-14. Nou as Paulus van krag praat roer hy onmiddellik ‘n snaar in ons almal aan. Hoe so? As Christene die woord “krag” hoor dan word die ore gespits. “Krag, wel dis wat ek nodig het, dis wat ek kort in my geestelike lewe”, sal baie kinders van God erken. Inderdaad is krag ‘n onmisbare faset van Christenskap. Die koninkryk bestaan tog nie uit praatjies nie, maar krag. ‘n Geloof wat nie werk, nie ‘n verskil maak nie is seker nie veel werd nie. 


Ons wil almal meer krag hê, maar wat het ons werklik in gedagte? Om die waarheid te sê alle mense smag na krag en sukses. Dis die rede waarom muti winkels, toordokters en “lifecoaches” altyd florerende besigheid maak. Almal soek krag... Dink aan Simon die towenaar (Hand 8) wat sy natuurlike begeerte na krag onder ‘n geestelike dekmantel versteek het. Dis die rede waarom mense deur die eeue godsdienstig was en is. Om krag by die een of ander godheid te kry om die aardse lewe makliker te maak en meer suksesvol te wees. Dis die groot aanspraak van alle dwalinge en kultusse – “by ons is daar regte krag te vind.” Dis vir baie mense deurslaggewend in die keuse van ‘n kerk – “hier is dit nie dood nie, hier is krag.”

Maar presies wat verstaan ons onder krag? En is dit ook wat Paulus met krag bedoel? Weet julle, onwillekeurig, die oomblik as ons die begrip krag hoor maak ons gedagtes ‘n vinnige draai by Tarzan, Superman of enige ander gespierde figuur uit die hede of verlede afhangende van jou ouderdom en blootstelling.* Onbewustelik projekteer ons dan hierdie konsep in die Bybelse begrip “krag”. Bonatuurlike krag wat die poppe laat dans en die koppe laat draai. Krag wat my bemagtig om dinge te laat gebeur, my gaan help om bonatuurlike dinge reg te kry. Krag wat siektes, probleme en teenstanders hetsy (fisies of geestelik) in die stof sal laat byt. Krag wat soos ‘n laserpistool werk en my geestelike opponente (hetsy bose magte of menslike teenstanders) sal laat vernietig tot daar net so ‘n rokie van hulle oorbly. Meer krag beteken in ons denke minder probleme en moeilikheid, meer sukses en gerief. Hoe meer krag hoe minder vyande en ongerief. Juis daarom soek almal krag. 

Wat bedoel Paulus hier met krag? Kyk na die teks self en die onmiddellike konteks.

“...en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig...” (Kolossense 111,12 OAV)

“Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.” (Kolossense 111,12 NAB)

Drie sake kom na vore:

~Die aard van die krag - “mag van Sy heerlikheid” (OAV) “wonderbare krag” (NAB) Die krag waarvoor Paulus bid is die krag van God self. Dis nie positiewe denke nie, dis nie ‘n menslike foefie nie. As ons glo in die werklikheid van ‘n lewende God moet ons ook glo in die werklikheid van Sy krag in ons wat glo. In Efesiërs 1:18-20 verduidelik hy meer uitvoerig wat hierdie krag behels:

“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het...”

Ja, die krag wat in jou as kind van God werksaam is, is dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgewek is. Hierdie selfde krag is (reeds) werksaam in die lewe van God se kinders. (besef dit!) Dis ‘n ontsaglike ongelooflike heerlike waarheid! GLO DIT!

~Doel van die krag.  Dit word duidelik aangetoon - “om geduldig te volhard.” LW -nie krag vir sukses nie. Wat kan ons hieruit aflei ten opsigte van die krag? Een saak is baie duidelik dié krag is nie ’n towerstaffie om ons probleme uit die weg te ruim nie. Volharding en geduld veronderstel juis stryd, ‘n langdurige stryd! Dit gaan oor krag wat ons moet dra en laat vasbyt op die styl bergpad van die geloof! In alle omstandighede! Juis omstandighede wat nie lekker en aangenaam is nie... toetsing, verdrukking. Prakties beteken hierdie krag dus nie dat ek lyding in my huis, werkplek of skool sal vryspring nie. Hierdie krag beteken nie noodwendig dat my hele familie/werksmense onmiddellik sal bekeer en ek dit makliker sal hê nie. Hierdie krag beteken nie dat ek superfiks of stinkryk word nie! Hierdie krag gaan daaroor dat ek alles wat oor my pelgrimspad kom sal kan hanteer. Dis ook presies soos Paulus die bekende Filippense 4:13 gebruik!

~Nog ‘n derde saak wat hierdie krag besonders, eiesoortig maak is die blydskap aspek.** Dit bring ons by ‘n uniek Christelike aanslag. Daar’s immers baie nie-Christene wat ook ‘n hoë premie plaas op volharding, uithouvermoë en geduld soos byv. die Stoïsynse filosowe van Paulus se tyd. Hulle het groot klem gelê op selfgenoegsaamheid – “ek kan alles verduur en vat, want ek glo in myself.” Die element van blydskap impliseer dat die krag wat God ons gee nie maar net beteken om morrend of knorrend vas te byt nie of op ‘n fatalistiese wyse maar net gedwee alles te verduur nie.  Ons volharding is positief 'n saak van vreugde al is dit nie maklik nie. Dit gaan ook nie bloot oor aanplakglimlaggies ter wille van die media nie. Ons het as God se verlostes regtig rede om bly te wees. Wat is die grond van ons blydskap en dankbaarheid? “en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig, Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes." (Kolossense 1:12-14.) Die verbysterende heerlikheid van ons genadige verlossing moet voorop staan in ons gedagtes, dan kan ons nie anders as om bly te wees nie!

Is hierdie blydskap te midde van alle omstandighede realisties? Ja, dink maar aan dit waarvan ons lees in Handelinge 16. Paulus en Silas in die tronk het nie net op hulle tande gebyt en gesê ons sal nie huil nie – nee, hulle gaan verder en sing! Dis in lyn met die opdrag wat Paulus (vanuit die tronk) gee in Filippense 4:4 “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Wees bly! ALTYD! Trouens net ‘n entjie verder sien ons dit waarvoor Paulus gebid het vir die Kolossense was inderdaad ‘n praktiese belewenis in sy eie lewe! “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie.” En dis juis die krag wat God hom gee wat hom hiertoe in staat stel! “Hóm (Jesus) verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.” (Kol 1:24, 28-29)

Terloops, dis duidelik die ontvangs van Goddelike krag maak ons nie passief nie, maar wek in ons ‘n ywer en inspanning!

Jesus self is natuurlik die groot absolute voorbeeld van die soort krag wat Paulus hier in gedagte het! Maar merkwaardig, Hy het dit nie gebruik vir gerief, eie belang, eie veiligheid en gemak nie! Hy het nie eers brood vir Homself gemaak nie. Wat doen Hy met sy krag? Hy onderwerp Homself volkome aan die wil van sy Vader. Jesus se krag het Hom in Getsemane laat bid ”nogtans nie my wil nie...” Jesus se krag was so groot dat Hy Homself swak gemaak het om aan die kruis te hang en te sterf. Maar dit het Hom ook weer uit die dood laat opstaan volgens God se wil!

Die krag van God in ons maak ‘n praktiese verskil, nie in die aantal moeilikhede wat ons verduur nie, maar in die manier hoe ons dit verduur.

Dis ‘n krag wat ons laat volhard juis op ‘n manier dat ons eer aan God bring. Dis ‘n krag wat ons laat sing terwyl ons huil. Dis die krag wat ons oorwinnaars oor sonde maak. Dis die krag wat my terwyl ek seergemaak en verontreg word, my in staat stel soos Stefanus om toe hy met klippe doodgegooi is te bid : “Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Die krag wat ons in staat stel tot volharding om die hemelse wenpaal triomfantlik te haal. 

Vertrou op God om hierdie gebed van Paulus in jou lewe waar te maak! Bid dit vir jouself en jou medegelowiges! Kies om in die stryd en beproewinge van die week wat kom geduldig te volhard met blydskap!

*Erkenning aan my broer dr. Jacobus de Koning van die Antipas Gemeente in Pretoria by wie ek hierdie preek die eerste keer "gehoor" het.
**Die verskille hier tussen die OAV en die NAB het te make met die keuse van punktuasie binne die Griekse teks. Gaan die woord blydskap saam met volhard of gaan dit saam met dank? Op die ou end is die betekenisverskil nie groot nie. Of ek dit sien as volharding met blydskap of dankbaarheid met blydskap, dis duidelik dat die werking van God se krag in my lewe tot blydskap sal lei.




Saterdag 01 Julie 2017

BILLIK EN TOT JOU BESWIL!

- God se gebooie is nie bedoel om ons te benadeel en ons vreugde te beperk nie. 



Wonder jy dalk : “Gaan ek die lekkerte van die lewe misloop as ek God se opdragte gehoorsaam? Ek is jonk, miskien moet ek eers uitstel om die Here te begin dien. Sy bevele maak my benoud en hou my vas. Is die lewe wat God vir my wil hê, ‘n vervelige, “boring” lewe?”


Dis ‘n feit, daar is opstand in baie mense se harte teen God se opdragte of ten minste dan ‘n wantroue teenoor God se wette. Daar’s ook al hoe meer ‘n openlike weerstand teen God se wette... dit wat God beveel ten opsigte van seksualiteit, eerlikheid, die noodsaak van vergifnis vir ander, onderwerping aan gesag... noem maar op! Die wêreld rebelleer al meer teen God se gebooie. Ons hoor : “Ag, God se wette is outyds, dit steel ons pret en plesier!” Ja, een rede vir hierdie minagting van God se opdragte is dat die duiwel ons wysmaak God ‘n tiran is wat ons nie lewensvreugde gun nie! Dis trouens die sluwe slenter waarmee hy Adam en Eva in ‘n wip gevang het! Satan wil ons laat glo dat God se gebooie en bepalings onbillik, onregverdig en nadelig is.

Dis natuurlik alles ‘n groot leuen! Moses gee vir ons in DEUTERONOMIUM 4 :1-10 ‘n baie belangrike perspektief op God se opdragte. (Hy berei die volk Israel voor vir hulle besitname van die beloofde land.) Dis duidelik : God se opdragte, voorskrifte, gebooie en bepalings vir sy mense is billik en juis tot hulle beswil! “Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?" (7,8) Jy kan dit maar toets. Noem een gebod van God wat onbillik of skadelik is. Noem een opdrag van God wat nadelig is vir die mens. Noem een voorskrif van God wat ten doel het om die mens ongelukkig maak. Daar is nie so iets nie! Die teendeel is waar- dis juis die ongehoorsaamheid aan God se opdragte wat lei tot oneindige hartseer en stukkende lewens! Hoeveel mense wens nou op hierdie oomblik : “Het ek maar na die Here se Woord geluister, dan het my lewe so anders verloop...” 

DIE LIEFDEVOLLE VERLOSSER!

Hoe moet ons God se gebooie verstaan? In watter lig moet ons dit beskou? Die groot probleem is dat mense God se wette en opdragte as ’n klomp koue losstaande reëls sien. Asof God sommer net skielik op ’n dag besluit het: “Ouens, ek wil die lewe vir julle moeilik maak, hier is ’n klomp moeilike reëls en ek kan nie wag dat een van julle oortree nie, dan kan ek julle straf.” Nee, duisend maal nee! Nou maar waar kom God se gebooie dan vandaan?

Moses verduidelik die konteks van God se gebooie hier in Deuteronomium 4 aan die volk Israel. Hy herinner hulle aan die verlossing uit Egipte. “Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit ...” (37) In effek : “Julle is mense wat God se liefde en verlossing en nabyheid ervaar het. Ons God wat ons verlos het is uniek, onvergelykbaar met enige ander afgod.” Die punt is - God se gebooie staan in die konteks van ’n verhouding, ’n liefdes verhouding! God het Israel verlos en bring hulle nou in ‘n nuwe land in en gee daarom opdragte en reëls oor hoe om gelukkig in die nuwe land te leef p ‘n manier wat aan Hom eer sal bring. Uit liefde verlos Hy mense en vir daardie mense gee Hy uit liefde sy opdragte wat billik is en tot hulle voordeel is. God maak reëls vir die mense wat Hy gered het. Die reëls is daarop gemik om sy eer te bevorder en om elke faset van ons lewe te beskerm. God se reëls en ordes is bedoel om ons lewens, ons huwelike, ons eiendom, ons naam, onsself en ons medemens te beskerm. Breek hierdie reëls dan sien en ervaar ons hoe word lewens, huwelike, eiendom, ja ‘n hele samelewing verniel en uiteindelik vernietig! Maak jou oë oop en jy sal dit sien...

Jesus gee ook aan die Nuwe Testamentiese kerk opdragte. Jesus gee sy bevele aan mense wat Hy uit die slawerny van sonde verlos het en weer heel gemaak het. En nou sê Hy vir ons : “As julle heel en gelukkig in my teenwoordigheid wil lewe en my wil eer moet julle my opdragte gehoorsaam.” 

Anders gestel,God sê : “Nou is julle my kinders, julle was slawe van Sonde en Satan, maar nou is julle my kinders, deel van my gelukkige gesin. Hier is die reëls vir ons huis.” God se reëls is nie die reëls van ‘n tiran of despoot nie, maar van ‘n liefdevolle Vader! 

Ons wys ons liefde vir Hom as Vader juis deur sy opdragte uit te voer!

Dit alles is billik en dis nie swaar nie! “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.” (1 Johannes 5:3,4)

[Voel jy eerlik nog steeds dat God se wette en bepalings onbillik en benouend is? Kom ek wees reguit met jou. Die fout is nie by God se wette nie, maar by jou hart. As Hy jou hart verander, sal jy insien dat sy gebooie ‘n vreugde is!]

Ek hoop ons gaan met nuwe oë na God se opdragte kyk! Na elkeen van sy opdragte, want elkeen is belangrik as ons Hom wil eer en gehoorsame vreugdevolle kinders van Hom wil wees! En baie belangrik! Dis ons heerlike voorreg en plig om hierdie opdragte van God by ons kinders en kleinkinders in te skerp!

"Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.
Julle moet hulle van dié dag laat leer toe julle by Horebberg gestaan het in die teenwoordigheid van die Here julle God, van dié dag toe Hy vir my gesê het: ‘Maak die volk vir My bymekaar dat Ek hulle my gebooie wat hulle moet ken, kan meedeel sodat hulle My kan dien so lank hulle in hierdie land lewe en sodat hulle my gebooie vir hulle kinders kan leer.’" (Deuteronomium 4:9,10)

Kom ons luister na ‘n paar van sy opdragte aan sy verloste Nuwe Testamentiese volk, die kerk soos uitgespel in Romeine 13:8-14.

“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.

Al die gebooie: "Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie," of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."

Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.

Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem.

Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.

Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie”.


En terloops : BAIE DANKIE AAN ALMAL WAT MEEGEWERK HET OM ONS DANKFEES VAN VERLEDE NAWEEK SO 'N SUKSES TE MAAK!

Ons eie "boemelaars" - Hannie van Wyk en Ria Struwig

Hierdie skoolhoof kan ook pannekoek bak! Petri van Wyk wys sy slag met die pan. Saam met hom is Charlotte du Preez, Jolindie Grobbelaar en Beaty Breytenbach.





Vleiswerk is spanwerk!


Martiens Boshoff bring sy kant.