BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Valse Lering. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Valse Lering. Wys alle plasings

Sondag 25 Augustus 2019

PANIEKERIG!

Soveel dinge dreig om ons paniekerig te maak... Nou praat ek nie vandag van die droogte hier by ons, die Amasone wat afbrand (foto Global News) of Trump se handelsoorlog nie. Dit gaan oor al die chaos, goddeloosheid en verwarring op die kerklike toneel... (kliek) Soveel stemme en sienings... Wie moet ek glo? Wat gaan van my word? Hoe weet ek wat is reg? Hoe gaan ek veilig by die hemelse wenstreep kom?

Valse lering saai verwoesting. Juis ook binne die kerk. Valse leringe wat die waarhede van die Bybel bevraagteken, valse leringe wat Bybelse norme ongeldig verklaar (Dit lei tot etiese onsekerheid. Wat is nou reg/verkeerd?)..), valse lering wat die opstanding van Jesus betwyfel, valse leringe wat ontken dat daar ’n oordeel en hel is, valse lering wat al die fokus op predikers, profete en wonderwerkers plaas... en so kan mens aangaan... 

Niks onder die son is egter nuut nie! Ook reeds in Paulus se tyd het hierdie valse leringe voorgekom. Hy waarsku Timoteus in 2 Timoteus 2 teen die gevaar hiervan. Hy noem twee valse leraars by die naam: Himeneus en Filetus. Dis ’n baie ernstige saak, want deur hulle valse praatjies rig hulle groot skade aan! “Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.” (16-18) 

Die vraag is nou gaan die kerk van Jesus, gaan ons die skuddende aanslag van valse leringe oorleef? Meer persoonlik, gaan ek en jy wat weet dat ons aan Jesus behoort veilig by die hemelse wenstreep kom? Die Goeie Nuus is : Ja, want God het aan ons ’n vaste fondament gegee! Vastigheid te midde van aardskuddende valse lering en verwarring! 

GODDELIKE FONDASIE

Dis die vertroosting wat Paulus aan Timoteus gee in 2 Timoteus 2:19 – “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." Ja, ten spyte van die groot bedreiging, is daar ’n hegte vaste Goddelike fondament, onwankelbaar! God se fondament staan vas : die duiwel brul, valse leraars spoeg vuur, omstandighede is donker, vyande kan spot, DIE KERKBODE kan propaganda maak... nogtans God se fondament staan vas! 

Op hierdie vaste fondament moet ons BOU en VERTROU! 

Laat ons prakties raak! Wat is hierdie vaste fondament? LW - dis ’n fondament wat God gelê het! Dit gaan oor ’n vaste waarheid en waarborg wat van God af kom! Hierdie fondament is onvernietigbaar! Dit gee Goddelike troos en versekering! Die fondament bestaan uit twee grondwaarhede. Twee belangrike fasette! (En die volgorde is nogal baie belangrik!) 

OU TESTAMENTIESE AGTERGROND 

Die stelling van Paulus oor die Goddelike fondament het ‘n duidelike Ou Testamentiese agtergrond. Dis die opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses se gesag waarvan ons lees in Numeri hoofstuk 16. Dit het oor meer as ‘n persoonlike saak gegaan, dit was ‘n verwerping van God se openbaring en ‘n poging om God se volk te mislei. (Net soos wat Himeneus en Filetus wou maak!) Wat was Moses se reaksie? “Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid. Daarna het hy vir Korag en sy hele bende gesê: "Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat aan Hom behoort en wat gewy is en sal Hy hom toelaat om by die altaar te kom. Die persoon wat Hy verkies, sal Hy na die altaar toe laat kom.” (Numeri 16:4,5) Moses laat als rustig in God se hande. God het mos geweet wie Hy verkies het en wie aan Hom behoort! (Die eerste deel van die fondasie waarvan Paulus praat). Korag, Datan en Abiram het toe te doen gekry met die oordeel van God self! Die res van die volk het duidelik die opdrag gekry om weg te kom van hulle en hulle nie deur hulle sonde te laat besoedel of beïnvloed nie! “Hy sê toe vir die gemeente: "Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie." (Numeri 16:2) 

TROOS EN OPDRAG

Kom ons kyk nou verder na die detail van die fondasie waarvan Paulus praat: 

Eerstens : “Die Here ken die wat aan Hom behoort” God weet wie sy uitverkore kinders is! (Al is dit nie altyd vir ons duidelik nie) Psalm 1 sê ook : “Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.” (OAV) Uiteraard,“ken” beteken hier baie meer as net “weet van” Dit beteken dat God die inisiatief in ons verlossing geneem het en dat Hy ook ons verlossing in stand hou en ons bewaar! Dieselfde waarheid as wat hy in Filippense 1:6 op ’n ander manier sê! "Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom." Geliefdes, dis die vertroosting binne in die chaos, teleurstellings en aanvegtinge wat ons beleef. As God my gered het, gaan hy my nie halfpad los nie! Hierdie eerste deel van die fondasie roep ons om weg te kyk van ons swak self en van ons moeilike omstandighede en bedreigings en God in al sy grootheid raak te sien. Die Skepper van die heelal is heeltemal in staat om jou te midde van bedreigings en valse lerings te bewaar en veilig in sy Koninkryk te bring! Dit word so treffend gestel in Judas 24,25! “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen. 

Wees verseker van God se fondasie. Vind rus, vertroosting en veiligheid daarin! Bedink God se beloftes! 

Tweedens : “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort moet wegbreek van die ongeregtigheid” Ons moet die tweede deel van God se fondasie ook ernstig opneem! Die eerste deel van God se fondasie is ’n versekering, die tweede is ’n opdrag! God betrek onsself ook in hierdie fondasie. Ons het ’n verantwoordelikheid. Maar belangrik, ons kan en moet hierdie verantwoordelikheid nakom juis omdat God sy deel nakom. Omdat God ons gered het en omdat Hy ons redding in stand hou KAN ons erns maak met die opdrag om te breek met alles sonde in ons lewens! Kind van God - die almagtige God het jou uitgekies, Hy het jou sonde op Jesus gelê en dis klaar gestraf en klaar vergewe, Hy het jou deur Jesus verlos van sonde, dood en hel, Hy waarborg jou ewige veiligheid, DAAROM: Raak ontslae van als wat vuil en sleg is! Ons moet sonde aflê nie om onsself te red nie, maar om bruikbaar te wees vir God en sy werk. “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.” (21) 
Hoe bemoedig God ons deur die tweede deel van die fondasie? As jy erns maak met die uitroei van sonde, is dit net ’n verdere bewys dat die eerste deel van die fondasie waar is van jou. As jy daagliks baklei teen sonde en dit uitroei is dit mos ’n duidelike bewys dat reeds God reddend in jou lewe ingegryp het en jou dus ook verder sal bewaar! 

Hoe moet ’n kind van God wegbreek van ongeregtigheid? “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (22) Die OAV gebruik die direkte woord “vlug.” Gebruik jou voete as dit nodig is! Tree drasties op... 

Geliefdes, die aardbewings van valse leringe en verleidinge is baie hewig. Maar ons hoef nie verskrik of moedeloos te raak nie! Daar is ‘n VASTE GODDELIKE FONDAMENT!

 Hou twee sake voor oë! 

1) Fokus op God se genade en almag soos geopenbaar in Jesus wat jou gered het en jou veilig sal bewaar! 

2) Fokus op die uitroei van alle sonde in jou lewe! Haat dit en vlug daarvoor! Ook die klein jakkalsies... 

God se vaste fondament gee ons vertroue en sekerheid. Dis hoe Paulus dit self in baie moeilike omstandighede aan die einde van sy lewe ervaar het. Wat hy hier skryf is dus baie meer as mooi teorie... Hoor sy vertroue in die aangesig van die dood in dieselfde brief: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Timoteus 4:18 )

Hiervan kan elke kind van God ook seker wees te midde van die storms!


Donderdag 21 Augustus 2014

GOD VOORSIEN ‘N VASTE FONDAMENT

- wat ewige sekuriteit bied in ‘n tyd van misleiding en bedrog.

Aardbewings kan verwoestend wees! In so ’n situasie is dit baie belangrik dat ’n gebou ’n stewige fondasie moet hê! Op geestelike gebied beleef ons ’n tyd van veranderings en omwentelings! Valse leringe, versinsels en verleidings! Aardbewings! Ons geestelike huise word geruk en geskud! Die Goeie Nuus in sulke tye is : GOD SE VASTE FONDAMENT BIED EWIGE SEKURITEIT!







[Brandgeskilderde vensters, Felsenkirche (rotskerk) - Lüderitz. Luther in die middelste venster.]


Geliefdes soos in min tye in die geskiedenis word ons geestelike huise bedreig deur geweldige skokke en skuddings. Spesifiek die aardbewings van verwarring en valse leringe! Valse leringe wat die waarhede van die Bybel bevraagteken, valse lering wat die opstanding van Jesus betwyfel, valse leringe wat ontken dat daar ’n oordeel en hel is, maar ook valse leringe wat verkondig dat jy maar rustig en lustig kan aangaan met sonde, want die Here sal jou mos genadig wees!

Ook reeds in Paulus se tyd het hierdie valse leringe voorgekom. Hy waarsku Timoteus teen die gevaar van hierdie valse leringe. Hy noem twee valse leraars by die naam: Himeneus en Filetus. Dis ’n baie ernstige saak, want deur hulle valse praatjies vernietig hulle die geloof van sommige Christene! “Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval,en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus,wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.” ( 2 Timoteus 2:16-18)

Die vraag is nou gaan die kerk van Jesus, gaan ek en jy die skuddende aanslag van valse leringe oorleef?

Die Bybelse vertroosting is : Ja, want God het aan ons ’n vaste fondament gegee!

DIE VASTE FONDAMENT

Dis die bemoedigende versekering wat Paulus aan Timoteus gee in sy tweede brief aan hom. “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas ...” (2 Timoteus 2:19) Ja, ten spyte van die groot bedreiging, is daar ’n hegte vaste Goddelike fondament! God se fondament staan vas : die duiwel brul, valse leraars spoeg vuur, omstandighede is donker, vyande kan spot... nogtans God se fondament staan vas!

Op hierdie vaste fondament moet ons BOU en VERTROU!

Laat ons prakties raak! Wat is hierdie vaste fondament? LW - dis ’n fondament wat God gelê het! Dit gaan oor ’n vaste waarheid en waarborg wat van God af kom! Hierdie fondament is onvernietigbaar! Dit gee Goddelike troos en versekering! Die fondament bestaan uit twee grondwaarhede. Twee belangrike fasette! Kyk weer na vers 19 – “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." Die volgorde is baie belangrik!
Eerstens : “Die Here ken die wat aan Hom behoort” God weet wie sy uitverkore kinders is! Psalm 1 sê ook : “die Here ken die weg van die regverdiges...” (OAV) Onthou, “ken” beteken hier baie meer as net “weet van” Dit beteken dat God die inisiatief in ons verlossing geneem het en dat Hy ook ons verlossing in stand hou! Dink byv. aan Abram. God neem die inisiatief ... God roep Abram, God maak beloftes aan hom. Ja, Abram antwoord in geloof en gehoorsaamheid, maar al die inisiatief kom van God. Maar dis ook God wat Abram vashou as hy begin wankel en telkens sy beloftes aan hom herbevestig! Ons weet mos Abram se geloof was nie altyd so sterk nie. Hy was ook partykeer ongehoorsaam en wou sy eie planne maak! Maar God bewaar Abram en bereik sy doel met hom ten spyte van sy swakheid! God ken sy kinders : God het sy kinders gered en God sal hulle bewaar deur alle omstandighede en bedreigings! Wat Paulus hier vir Timoteus sê is maar dieselfde waarheid as wat hy in Fil. 1:6 op ’n ander manier sê! “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” Geliefde medegelowige, dis die vertroosting binne in die chaos, teleurstellings en aanvegtinge wat ons beleef. As God my gered het, gaan hy my nie halfpad los nie! Hierdie eerste deel van die fondasie roep ons om weg te kyk van ons swak self en van ons moeilike omstandighede en bedreigings en God in al sy grootheid raak te sien. Die Skepper van die heelal is heeltemal in staat om jou te midde van bedreigings en valse lerings te bewaar en veilig in sy Koninkryk te bring! Dit word so treffend (en triomfantelik) gestel in Judas 24,25! "Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen."

Wees verseker van God se fondasie. Vind rus, vertroosting en veiligheid daarin!

Tweedens : “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort moet wegbreek van die ongeregtigheid” Ons moet die tweede deel van God se fondasie ook ernstig opneem! Die eerste deel van God se fondasie is ’n versekering, die tweede is ’n opdrag! God betrek onsself ook in hierdie fondasie. Ons het ’n verantwoordelikheid. Maar belangrik, ons kan en moet hierdie verantwoordelikheid nakom juis omdat God sy deel nakom. Omdat God ons gered het en omdat Hy ons redding in stand hou KAN ons erns maak met die opdrag om te breek met alles sonde in ons lewens! Kind van God - die almagtige God het jou uitgekies, Hy het jou sonde op Jesus gelê en dis klaar gestraf en klaar vergewe, Hy het jou deur Jesus verlos van sonde, dood en hel. Hy waarborg jou ewige veiligheid, DAAROM: Raak ontslae van als wat vuil en sleg is! Ons moet sonde aflê nie om onsself te red nie, maar om bruikbaar te wees vir God en sy werk ( dis wat Paulus verder aan sê - vers 22) Hoe bemoedig God ons deur die tweede deel van die fondasie? As jy erns maak met die uitroei van sonde, is dit net ’n verdere bewys dat die eerste deel van die fondasie waar is van jou. As jy daagliks baklei teen sonde en dit uitroei (vgl. Romeine 8:13) is dit mos ’n duidelike bewys dat reeds God reddend in jou lewe ingegryp het en jou dus ook verder sal bewaar! Hierdie ernstige opdragte is juis ook een van die maniere hoe God ons bewaar! 

Hoe moet ’n kind van God wegbreek van ongeregtigheid? Kyk na 2 Timoteus 2:22. “Vermy die begeertes wat ‘n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.” (OAV stel dit sterker - “vlug”) Ja, gebruik jou voete as dit nodig is! Bly ten alle koste weg van sekere mense en sekere plekke – soos die dansbaan en die drinkpartytjie, ja!

Geliefdes, die aardbewings van valse leringe en verleidinge is baie hewig. Maar ons hoef nie verskrik of moedeloos te raak nie! Hou twee sake voor oë! Fokus op twee dinge: 
1) Fokus op God se genade en almag wat jou gered het en jou veilig sal bewaar! Dank Hom daarvoor!
2) Fokus op die uitroei van alle sonde in jou lewe! Haat dit en vlug daarvoor! Ook die klein jakkalsies...daardie ekstra aandag aan die mooi sekretaresse in jou kantoor...daardie sepie in die aande na werk wat jou gedagtes in ‘n verkeerde rigting stuur... God se vaste fondament gee ons vertroue en sekerheid. Dis hoe Paulus dit self in baie moeilike omstandighede aan die einde van sy lewe ervaar het. Luister hoe hy sy vertroue uitspreek in 2 Timoteus 4:18. "Mag ons dieselfde vertoue hê :” Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.”

OP GOD SE FONDASIE IS JY VEILIG!

Maandag 04 November 2013

KRY WEER WOEMA!

DIE LIED VAN DIE LAM - kom ons sing oor Jesus se oorwinning!

Openbaring is vir baie mense net ‘n ingewikkelde raaiselagtige boek wat ons maar liewers moet uitlos. Hulle sien dit as ‘n boek wat moeilik ontsyferbare voorspellings oor die toekoms maak… miskien bedoel vir slim professore of "nerds" met dik brille...

Nee, Openbaring is ‘n heerlike troosboek, ‘n kragtige stuk aanmoediging en versekering. Dit gee God se kinders weer WOEMA! Openbaring gaan oor die groot tema van OORWINNING. Dis ‘n boodskap wat kinders ook kan verstaan...

Maandag 22 April 2013

ONS GAAN DIE WÊRELD REGRUK

- die illusie van die “Social Gospel” 

Gaan ons die wêreld ten goede omkeer en die koninkryk laat kom deur die mens se sosiaal-ekonomiese omstandighede te verander? Gaan almal beter mense word as ons deur ‘n verskeidenheid van programme dit regkry om werkloosheid, onkunde, siektes, ongelykhede en dergelike ellendes uit te wis? Is dit die kerk se primêre taak om ons te beywer vir ‘n wêreldbestaan sonder bomme en ‘n aarde sonder armoediges? Blykbaar dink baie mense in die kerk so en verkondig met groot entoesiasme hulle idees wat mens breedweg as die “Social Gospel” kan tipeer. 

Die “Social Gospel”* is ‘n verskraalde, nee ‘n vals evangelie, want dit: 

1. Lê die klem op die horisontale verhouding tussen mense. Natuurlik is medemenslike verhoudings vir God ontsettend belangrik. Nooit mag ons egter vergeet dat die mens se grootste nood sy gebroke verhouding met God is nie. Die grootste en wortelsonde is immers die oortreding van die eerste gebod : "‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.” (Matteus 22:38) Beslis verander die aanvaarding van die evangelie ook mense se onderlinge verhoudinge en selfs hulle ekonomies-sosiale omstandighede. Waar groot getalle mense tot bekering kom soos tydens die Walliese herlewing van 1904 word huishoudings nuut en verbeter lewensstandaarde omdat vaders nie meer hulle geld uitsuip nie, maar vir hulle gesinne begin sorg in lyn met die opvolgende gebod van naasteliefde. Die punt is net, dinge begin nuut word op alle terreine as mens weer in die regte verhouding tot God kom. Dit kom heel eerste. 

2. Hou nie rekening met die totale verdorwenheid en uiterste verlorenheid van die mens nie. Dit gaan klaarblyklik van die veronderstelling uit dat die natuurlike mens tot goeie werke instaat is en opgehef kan word tot 'n Godaanvaarde vlak. Mag ons altyd onthou dat ons beste dade vir God verwerplik is. Moenie my verkeerd verstaan nie. Goeie werke is absoluut God se duidelike wil vir sy kinders, maar dis goeie werke wat voortvloei uit die redding deur geloof. Sulke werke word deur God voorberei en is welbehaaglik vir Hom. Efesiërs 2:8-10 leer ons : “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Mense het eers nodig om gered te word, voordat hulle kan begin nuut leef. En ons moet ook nie sommer aanvaar dat almal wat ons kerkbanke volsit reeds gered is en maar bloot aangemoedig kan word om goeie werke te doen nie. 

Met alle respek, Madonna se “goeie werke” om vir Malawiese kinders skole te bou, tel nie in God se oë as goeie werke nie, want sy doen dit nie vanuit die geloof in Jesus as Verlosser nie! 

3. Maak nie erns met die Bybelse prioriteit en vereiste van die wedergeboorte nie. Om bloot Jesus en sy etiese leringe  (soos in die Bergrede) as voorbeeld na te volg, verleen nie toegang tot die koninkryk nie. Die vereiste is die wedergeboorte, niks minder as ‘n herskeppingswonderwerk nie! Die erns van Jesus se duidelike woorde aan Nikodemus mag nooit uit die oog verloor word nie. Om vir armes boorgate te sink maak nie van my ‘n Christen nie. Nog minder maak dit Christene van diegene wat uit daardie boorgate gaan drink. (lees meer hieroor en kliek op – DIE BOK WAT ‘N LEEU WOU WORD) 

4. Verkondig dikwels ‘n oppervlakkige Christus, wat deur sommige as net ‘n besondere Joodse rabbi gesien word. Jesus word bloot gedefinieer in terme van sy morele opdragte van naasteliefde. Alles mooi, maar van sy grootste primêre doelwit op aarde naamlik om Homself as offer aan die kruis te gee in plek van sondaars praat hierdie sosiale weldoeners en woelgeeste maar min. Jesus is in die eerste plek die Gekruisigde! Dis Hom wat Paulus verkondig het. Meer nog, Jesus self is baie duidelik as dit by sy hooftaak kom : “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45) Jesus se kruisdood staan sentraal in die boodskap wat ons moet verkondig.

5. Reduseer die kerk tot net nog ‘n NGO, juis omdat die boodskap van die Gekruisigde Christus verswyg word. Sommige “Christelike” joernalistiek bewys hierdie gebrek baie opvallend.** Mens hoor baie van sop en komberse (en dis wonderlik!), maar selde van sonde oortuiging en bekerings. Daar is baie hulporganisasies wat goeie werke bepleit en organiseer. Dis mooi, maar niks unieks nie, die Moslems doen dit ook. Die kerk volgens sy Bybelse bedoeling is egter iets meer en iets heeltemal anders. Die kerk bestaan uit mense wat deur die geloof verlos is en so lede van Christus se liggaam geword het. Hierdie kerk het die taak om die evangelie te verkondig (Groot Opdrag) sodat mense hulle kan bekeer en aan die Koning kan onderwerp. 

6. Maak dikwels valse “strooipopfigure” van mense wat die Bybelse evangelie verkondig en skiet hulle dan met groot geraas aan flarde. Opmerkings soos “die ou sendelinge het net in mense se siele belang gestel” word gehoor. “Party Christene stel so belang in die lewe hierna dat hulle vergeet om nou te leef”, is ‘n ander beskuldiging. Dis grotendeels so onwaar en onbillik. Dis juis mense wat die herstelde verhouding met God as eerste prioriteit beskou het, wat die meeste vir ander mense se liggaamlike en sosiale nood omgegee en iets daaraan gedoen het te midde van groot opofferings. Dis tog immers die evangelie wat iemand soos die klipharde John Newton se hart verander het en hom teen die slawehandel laat draai het! 

7. Maak ‘n valse teenstelling tussen dade en dogma. Lewe en leer. Die slagspreuk (wat met baie mense resoneer) is : “Deeds not Creeds.” Allerlei aktiwiteite en aksies word voorgehou as die taak van die kerk en die hoop vir die wêreld. Wat mense glo, maak nie regtig meer so saak volgens hierdie siening nie. Die nuwe geslag “Social Gospel” verkondigers glo nie dat daar iets soos waarheid bestaan en dat dit geken kan word nie. (Lees meer, kliek op – KERKBODEKASKENADES) Michael Horton vat die Bybelse balans en volgorde pragtig saam : “Yet the answer is not “deeds over creeds,” but to be re-introduced to the creeds that generate the deeds that are the fruit of genuine faith. Getting the gospel right and getting the gospel out, as well as loving and serving our neighbours, comprise the callings of the church and of Christians in the world. However, confusing these is always disastrous for our message and mission.” Die regte leer, as dit werklik geglo word, sal noodwending tot hart en lewensverandering by die individu lei en onvermydelik ook ‘n impak hê op die breër gemeenskap. Ja, hoe meer bekeerdes daar in ‘n gemeenskap, staatsdiens of land aanwesig is, hoe positiewer die invloed! 

8. Behels ‘n naïwe optimisme dat die mens deur ‘n verskeidenheid van aksies en aktivisme die aarde ‘n beter plek kan maak. Dit maak nie genoeg erns met die feit dat die probleme waarmee die mensdom te kampe het die direkte gevolg van sonde of die indirekte nalatenskap van die sondeval is nie. Horton slaan weereens die spyker op die kop as hy opmerk: “Terrorism, global warming, and AIDS are problems we need to address as responsible human beings together with non-Christians in our common life together… However, the Great Commission is not the Great Cultural Mandate… If we could resolve our top ten crises in the world today, we would still have the devil on our back, sin mastering our heart, and everlasting death as the penalty for our mutiny.” Die wortel van alle ellende is die mens se sonde en dis die unieke taak van die kerk om hiervoor die oplossing aan te bied in die verkondiging van die evangelie. Jesus het immers gekom om sy volk van hulle sondes te verlos. (Matteus 1:29) 

9. Misken of onderspeel die Bybelse hoop wat gerig is op ons ewige erfenis, die opwindende werklikheid van die nuwe hemel en nuwe aarde. Natuurlik leer die Woord ons nie om hande gevou te sit en vir die wederkoms te wag nie. Natuurlik moet ons as verantwoordelike burgers nou hard werk sodat ons (en andere saam met ons) kan eet. Natuurlik, moet ons uitreik na ‘n wêreld in nood en nou en hier sout en lig wees. Dit behels om deur heiligheid (wat barmhartighed insluit) God te eer te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Tog was die fokus van die eerste Christene (juis omdat hulle so vervolg is weens hulle kompromislose lewens) die heerlike erfenis wat wag. Daarom sien Paulus daarna uit om by Jesus te wees, al weet hy dat hy nog werk oor het om te doen op aarde. Christene is realistiese mense. Ons weet dat nie die ANC, of die VN of Siener van Rensburg se aanhangers die wêreld ‘n beter plek gaan maak nie. Ons glo dat hierdie aarde eers deur vuur gesmelt en gereinig sal word, voor God dit gaan herskep by Jesus se wederkoms! “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? -- julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Petrus 3:11-13) Wat ‘n heerlike vooruitsig! Die Christen neem met blydskap kennis van Jesus se uitspraak teenoor Pilatus : "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie." (Johannes 18:36) Hierdie wêreld is ook nie ons finale tuiste nie, ons is bloot vreemdelinge en tydelike bywoners. 

Dis juis Christene wat hierdie hoop op ‘n ewige erfenis die sterkste koester, wat ook nou heilig en gehoorsaam lewe en ‘n verskil maak in ander mense se lewens. Hoekom? Ons weet ons gaan voor ons Koning verantwoording doen, ons weet ook daar wag ‘n beloning! 

10. Dit maak nie onderskeid tussen die Groot Opdrag (die kerk se sendingtaak), die Liefdesgebod (vir alle mense) en ons Kultuurmandaat (om die aarde te onderwerp) nie. Jesus se laaste opdrag is baie duidelik dat ons mense sy dissipels moet maak deur die verkondiging van die evangelie. Sondaars moet uitgedaag word om hulle te bekeer en in Hom te glo. Die kerk mag nooit hierdie primêre fokus verloor nie. Die korrekte aandag aan die ander twee sake is ‘n uitvloeisel van eersgenoemde. Mense wat reeds sy dissipels is sal noodwendig in gehoorsaamheid aan Hom ook ander mense liefhê en in alle verhoudings (ook teenoor die skepping) nuut leef. Hierdie nuwe lewensstyl dien ook weer om die verdere evangelieverkondiging meer geloofwaardig te maak. 


Kan ons iets leer by die “Social Gospel”? Beslis ja! ‘n Mens kan van almal iets leer. (selfs van die duiwel, hy is ‘n voorbeeld van vlytigheid!!) Alle grappies daar gelaat. Ja, dit is so dat daar by sommige opregte Christene ‘n skeeftrekking kan plaasvind. ‘n Oorbeklemtoning van die suiwere leer, terwyl die praktiese Christelike lewe wat naasteliefde insluit verwaarloos kan word. Soos in baie gevalle is die “Social gospel” ‘n dwaling wat deels ontstaan het vanweë ‘n eensydige Christenskap wat liefde tot die medemens verwaarloos het. Die “Social Gospel” bly egter ‘n vals boodskap wat verwerp moet word, maar dit moet ons tog aanmoedig om seker te maak dat ons nie in ivoortorings sal lewe wat die geloofwaardigheid van die evangelie sal skaad nie. 

Voetnotas

*Hierdie is nie ‘n akademiese bespreking van die “Social Gospel” in al sy variasies en uitlopers (soos byv. Bevrydingsteologie) nie. Die term word baie breed oorkoepelend gebruik om die denkrigting aan te dui wat die Bybelse klem op die verhouding tussen God en mens verskuif het na ‘n mensgerigte benadering. Dit word goed beskryf deur H. Richard Niebuhr as volg : “A God without wrath brought men without sin into a kingdom without judgment through the ministrations of a Christ without a Cross.” 

** Ds. Hein Bertram merk tereg op in ‘n reaksiekolom van die aanlyn Kerkbode : “Misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus.”
In die lig van dié stelling moet die sin verderaan verander word na: “Kerkbode is verbind tot die bevordering van die Sosiale Evangelie(Social Gospel).” Die evangelie van Jesus Christus en Kerkbode is twee konsepte wat deesdae oënskynlik totaal vreemd teenoor mekaar staan. 


Vrydag 28 Desember 2012

KASTREER JULLESELF

-  “snydende” sarkasme van ‘n liefdevolle apostel.

Die apostel Paulus het seker die wêreld se bekendste lofrede op die liefde geskryf. Ons almal ken die aangrypend wonderskone 1 Korintiërs 13 en het altyd maar weer nodig om daarna terug te keer en onsself opnuut met hierdie tydlose waarhede te verfris!  En nou is dit juis hierdie apostel, ‘n kenner van die liefde wat met amper ‘n skurwe en  skokkende stuk sarkasme die Galasiese dwaalleraars bykom.   Die Judaïseerder  valse leraars wat gemeentelede wou omhaal om weer die tora voorskrifte oor die besnydenis te onderhou,  kry ‘n bitsige teregwysing van Paulus se kant af : “Ek wens die mense wat díe verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiërs 5:12)  Dis asof Paulus byna in desperaatheid oor hierdie vernietigende onkunde smalend raak en sê : “Laat julle misleiers dan nou maar hulle waansin tot die uiterste volhou en hulle dan nou maar sommer self kastreer!” * Harde woorde!

Waarom haal ek nou hierdie sterk woorde van Paulus op? Dit gebeur so dikwels dat iemand  wat vir die waarheid opkom van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid beskuldig word. Dis ‘n beskuldiging wat vir elkeen na wie dit kom tot ernstige nadenke en selfondersoek behoort te stem. Ja, want ons weet mos dat die liefde die grootste gebod is, maar juis ook die een wat ons as selfgesentreerde mense die maklikste oortree. (en wie van ons is nooit hieraan skuldig nie?)

En tog moet ons ook met nugterheid  kennis neem van ‘n  buite  konteks verabsolutering van ‘n normlose liefde wat kwistig deur die media gepropageer en selfs deur teoloë nagepraat  word. Liefde sonder die konteks en merkers van die waarheid  verval maklik in ‘n sentimentele onsinnigheid. Kom ek probeer verduidelik : Ons moet God liefhê, maar hierdie God is nie sommer enige god nie! Hy is byvoorbeeld  nie Boeddha nie, en Hy is ook nie die innerlike self-mensgod of kosmiese energie van die New Age nie! Die punt is : om God te kan liefhê is waarheidsonderskeiding gegrond op die Bybel  nodig! Want daar is sekere gode wat ek juis nie mag liefhê nie. Dieselfde geld die gebod om ons medemens lief te hê. Slegs die Woord van God kan vir ons inhoud aan hierdie liefde gee. Van Zuma (wat ons daarin herinner om nie honde bo mense te stel nie!!!) tot goddelose Hollywood sterre  gebruik  die begrippe ubuntu, liefde en verdraagsaamheid... maar  hulle is heel gemaklik as dit selfgesentreerde losbandigheid en sedeloosheid insluit.  Hierteenoor het Bybelse liefde duidelike norme. Liefde is nie maar net om  altyd te probeer “nice” wees nie, liefde is harde werk en ‘n duidelik uitgestippelde leefstyl volgens die opdragte en grense van die Skrif.

Bybelse liefde beteken nie om ten alle koste “nice” te wees nie, veral nie met dwaalleraars wat Bybelse waarhede ondergrawe nie.

Die groot drie van 1 Korintiërs 13 (Geloof, Hoop en Liefde) kan nie van die evangelie waarheid losgemaak word nie.  Alleenlik omdat Jesus Christus histories ligaamlik gesterf  en weer opgestaan het, kan ek geloof, hoop en liefde beoefen.  My geloof het ‘n inhoud : Jesus die enigste Middelaar met sy saligmakende sterwe en opstanding. My hoop het ‘n vaste grond en waarborg : sy genoegsame heilswerk wat vir my ‘n ewige  toekoms verseker.  Die liefde wat my dring om liefde te bewys is juis die liefde wat histories aan die kruis gestalte gevind het – die enigste norm vir ware liefde!

Is dit dan liefdeloos om hierdie evangelie waarhede kompromisloos te verkondig en kragtig te stry vir  die  geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges oorgelwer is? (Judas vers 3) Die term liefde word so maklik rondgegooi, maar is dit nie juis ‘n bewys van gebrekkige liefde as ons toelaat dat  teologiese professore kosbare geroepenes aan ons fakulteite vergiftig met twyfel oor die opstanding en dat hulle daardie gif oordra aan getroue lidmate wat Sondag na Sondag opkom om te hoor wat sê God se Woord nie?  Is dit nie juis ‘n gebrek aan liefde wat maak dat ons hande gevou sit en toekyk hoe opregte gelowiges wat aan God se Woord getrou wil wees verwar word, deur leringe wat ons vertel dat ons God al die jare met ‘n verkeerde Naam en op ‘n verkeerde dag aanbid het nie? Moet ons stilbly as daar verkondig word dat God alle mense ryk en gesond wil maak, hier en nou?

Om terug te kom na Paulus se kras uitspraak. Ek dink ons kan vanuit die konteks van die Galasiër brief, baie hieruit leer.  Paulus maak ‘n duidelike onderskeid in hoe hy die dwalende (reeds of in die proses) gemeentelede aan die eenkant en die  dwaallerende ketters aan die anderkant hanteer en aanspreek. Paulus se hart gaan uit na die misleide gemeentelede. Hy smeek hulle met ‘n moederlike besorgdheid om terug te keer na die vryheid van die evangelie en die volheid in Christus alleen. “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle  totdat Christus in julle gestalte kry.” (Galasiërs 4:19) Ja, hy vertel die waarheid aan hulle onbeskroomd en vra hulle mooi om dit tog nie as vyandskap te sien nie. (Galasiërs 4:16) Maar vir die gewetenlose  leraars wat die gemeente van die waarheid probeer weglok, het Paulus geen sagte woordjies nie, inteendeel...  Die rede is duidelik : dwaalleer (en hier praat ons nie van bloot verskillende interpretasies rondom byvoorbeeld die doop en die manier van Jesus se wederkoms nie, maar kernsake soos die ontkenning van die Godheid van Jesus Christus, sy genoegsame offer aan die kruis, sy  ligaamlike opstanding...) ondergrawe  mense se geloof!  Dit het Paulus goed besef en daarom verklaar hy : “daarmee vernietig hulle die geloof van sommige” (sien 2 Timoteus 2:16-18)

Wat wil ek met bogenoemde probeer sê? Met kinders van God wat onder die invloed van dwaalleer gekom het, moet ons reguit volgens die waarheid, maar in groot liefde, nederigheid, geduld en wysheid werk.  Maar valse profete moet nie verwag om met mooi woordjies gepamperlang te word nie! ( 2 Petrus 2  handel hieroor en is ‘n hoofstuk wat ons almal moet laat sidder) Nog minder moet hulle dink dat ons hulle gaan vlei met : "ons kan so baie by julle leer!"

Ten slotte net twee praktiese opmerkings waaraan elkeen wat vir die waarheid teen valse leringe opstaan gedurig herinner moet word:

1. Verkondig die waarheid op ‘n positiewe manier en met blydskap. (Ouers, dit geld natuurlik ook vir die manier waarop ons huisgodsdiens hanteer!) Die waarheid van die evangelie is immers ‘n blye boodskap wat bevryding bring! Ja, spesifieke dwalinge moet soms by die naam aangespreek word, maar  laat die klem val op die waarheid self. Dit voed en bou die gelowiges en stel hulle instaat om self te kan onderskei.

2. Pasop vir ‘n siniese bitterbek ingesteldheid. Daar is so ‘n magdom van valse leringe rondom ons dat mens maklik perspektief (en jou vreugde in Jesus) kan verloor.  Daar  bestaan die gevaar van ‘n oorpessimisme, wat vergeet dat Christus self sy Kerk instand sal hou.  Daar is ‘n slaggat van  kleinsielige foutvindery en haarklowery. Dit dreig om elkeen wat daarin val, nutteloos te maak vir die saak van die Koninkryk!

 Mag God ons ‘n gesonde balans gee om ons te bewaar van passiwiteit in die aangesig van dwaling, maar ook van ‘n mensgedrewe en eiesinnige aktivisme! Mag die norm van God se liefde ons hierin rig!


*Die Franse, La Sainte Bible gebruik inderdaad hierdie term. “qu’ils se châtrent!”

Dinsdag 29 Mei 2012

SATAN SE SAPPIGE STORIES

- die gevare van die  “health, wealth and prosperity teaching”

Ons geloof is gebou op God se kosbare en heerlike beloftes. Maar soos ons weet is die Satan, God se na-aper. Hy maak ook beloftes, baie aanloklike beloftes wat hy deur sy valse apostels aan mense opdis en so miljoene mislei.

Valse beloftes. Dis ‘n ou taktiek van die duiwel waarmee hy al vir Adam en Eva uitgevang het. Aan hulle het hy die subtiele belofte gesuggereer dat as hulle van die verbode vrug eet,  hulle net soos God sou word. “...dan sal julle soos God wees wat alles kan ken.” (Genesis 3:5)   Sedertdien is die sondige mens ‘n maklike slagoffer vir Satan se sappige beloftes wat so lekker pas by ons sondige begeertes. Satan se beloftes gaan hoofsaaklik oor geld, gerief en grootsheid (roem), want dis die dinge van die wêreld wat die sondige mens nastreef as eerste prioriteit bo God!  Dis presies teen hierdie verkeerde begeertes waarteen 1 Johannes 2:15-17 so ernstig waarsku : 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. Die wêreldse dinge, alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit, kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”

Satan het sy listige beloftes oor  gerief en voorspoed ook op Jesus uitprobeer. Natuurlike op ‘n super slinkse en subtiele wyse soos ons lees in Matteus 4:1-11. Hy probeer (die honger) Jesus verlei om brood te maak uit klippe. So wou Hy dat Jesus sy mag in belang van sy eie behoeftes gebruik in plaas van tot eer van God. Daarna probeer hy Jesus oorreed om van die tempel se dak af te spring, want dit sou vir Jesus dadelik roem en grootsheid meegebring het. Uiteindelik kom hy na Jesus met ‘n belofte van ontsaglike rykdom en mag. Jesus verwerp al hierdie mooi praatjies van die duiwel en onderwerp Homself aan God se volmaakte wil. God se agenda  vir Jesus was die kruis, en al hierdie pogings van Satan was daarop gemik om aan Jesus ‘n kortpad na roem en gerief voor te hou sodat Hy nie na die kruis sou gaan om die oorwinning daar oor die duiwel te behaal nie!

Dis presies nog  die taktiek van die duiwel ook met ons. Hy wys vir ons ‘n maklike kortpad na rykdom, gerief en roem om ons weg te lok van die pad waarop God wil hê ons moet loop. Die pad van die waarheid is God se pad van vertroue op Jesus wat nou vir ons vryspraak bring  en eendag sal uitloop op onbeskryflike heerlikheid.

Hoe verskil Satan se slimpraatjies van God se beloftes? Die duiwel se beloftes sluit aan by die mens se sondige  begeertes. Hierteenoor, is God se beloftes gemik op die eer van sy naam en is juis in konflik met ons eie sondige ambisies. Satan se mooi beloftes is gefokus op die hier en die nou.   

God se volgorde is eers die kruis en daarna die kroon!  

Die Bybel is klinkklaar helder, ons grootste behoefte nou is om vergifnis van sonde te ontvang en vrede met God te vind. Eers met die wederkoms gaan ons liggame ook herstel word en sal al die trane van ons oë afgevee word. Jesus moes eers deur lyding gaan en dan verheerlik word! Ons as sy volgelinge is veronderstel om dieselfde pad te loop. Christenskap is nie ‘n maklike paadjie wat geplavei is met geld en gerief nie. Nee, Paulus het dit baie duidelik aan die nuwe bekeerlinge van sy dag gestel dat ons  “eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom.” (Handelinge 14:22)

Die valse apostels van die “Word of Faith Movement”  en die verkondigers van die “Prosperity Gospel” beloof aan hulle aanhangers ‘n lewe van gerief, gesondheid en aardse sukses, nou! Dis tyd dat hierdie gruwelike grootbekke ontmasker word vir wat hulle is : valse profete en dwaalleraars! Wat hulle verkondig is direk in stryd met die boodskap van Jesus!

Hierdie hedendaagse vals apostels wil ons heidense tegnieke leer om vir onsself ‘n gerieflike lewe hier op aarde te skep! Dit skreeu teen Jesus se opdrag om juis ons kruis op te neem, onsself te verloën en Hom te volg. Een van hulle, die bekende Joel Osteen sê : “All of us are born for earthly greatness” Hy verkondig ook die heidense lering dat die mens se woorde skeppingsmag het en verdraai die Skrif om dit te staaf*. Hy beweer: “words give life to your dreams” en “Friend, there is a miracle in your mouth.” Die gerespekteerde  jarelange prediker van God se Woord, John MacArthur noem Osteen ‘n “pagan religionist, a quasi pantheist and an agent of Satan.” Dis harde woorde, maar dis inderdaad belangrik dat ons ons broers en susters duidelik moet waarsku teen sielsvernietigende dwaling. Dis tragies, maar hierdie gevaarlike Joel Osteen, met sy duisende aanhangers het werklik geen insig in die waarheid nie. (Dit het ek onlangs besef toe hy Mormone as Christene beskryf het) 

“Mag ons dan oordeel?”, vra jy. Wel, Paulus het nie geskroom om dwaalleraars by die naam te noem nie. (Sien 2 Timoteus 2:16,17) Die eer van God en die ewige welsyn van mense is op die spel.  Ek kan maar net saam stem met John Piper as hy sê : “I hate the Prosperity Gospel.”

Waarom is hierdie valse lering so gewild? Dis eenvoudig. Dit wat die Satan deur hulle beloof, vind gemaklik aansluiting by die sondige mens se natuurlike begeertes. Om opgewonde te raak oor hierdie beloftes van sukses en roem  hoef mens mos  nie wedergebore te wees of jou te bekeer van selfgesentreerdheid nie.  Alle sondaars wil altyd al hierdie dinge hê. Maar daar is ook ‘n ander aspek wat ons maklik miskyk. Hierdie vals leraars is ‘n bewys van God se oordeel oor goddelose mense, wat  soetsappige boodskappe verkies wat hulle eie  sondige begeertes bevredig en hulle nie sal ontstel nie. Sulke bose mense maak vir hulleself leermeesters bymekaar om te sê wat hulle graag wil hoor. (2 Timoteus 4:1-5) God gee dus mense wat nie die waarheid liefhet nie, oor aan die oordeel. Hy laat  toe dat hulle hulself dik vreet aan die leuen sodat hulle daaraan kan stik en sterf!

Naskrif : Luister na die waarskuwing van manne soos John Piper en Paul Washer oor hierdie gevaarlike dwaling deur te kliek op PROSPERITY GOSPEL.

*Sien op hierdie blog, DIE DUIWEL SE BYBEL.


Joel Osteen


Maandag 16 April 2012

DIE DUIWEL SE BYBEL

- Satan se slinkse misbruik van die Skrif

Ja, jy het reg gelees. Die duiwel het ook ’n Bybel! En, nee, dis toe nie die Huisgenoot nie! Die skokkende feit is juis dat Satan heel dikwels van  presies  dieselfde Bybel as ons gebruik (eerder misbruik) maak. As dit dalk vir jou vreemd klink, gaan lees maar gerus weer die gedeelte in Matteus 4:1-11 waar Jesus in die woestyn deur die duiwel versoek is. In vers 6 lees ons hoe Satan twee aanhalings uit Psalm 91 maak om Jesus te probeer oorreed om van die tempel se hoogste punt af te spring. Ewe manhaftig sê die duiwel dan vir Jesus : “Daar staan mos geskrywe...” Natuuurlik kon Jesus Hom terug antwoord uit die Woord deur te sê : “Daar staan ook geskrywe: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’” Satan haal die tekste uit Psalm 91 wel korrek aan, maar gee ’n vals betekenis daaraan asof God se beloftes van beskerming sou beteken dat ons opsetlik maar kan toets of dit wat God sê waar is. Jesus wys hom dan duidelik uit die Woord dat sy gebruik van die teks teen God se bedoeling is. Satan het doelbewus Jesus probeer mislei uit die Bybel om Hom weg te hou van God se bedoelde lydensweg. Hy stel Jesus voor ‘n maklike pad van kitsroem, want as Jesus van die tempel sou afspring, sou almal Hom as iets besonders geëer het. So sou Jesus weggelok word van die doel van sy koms naamlik sy plaasvervangende sterwe aan die kruis.

Satan misbruik God se Woord veral deur dit buite konteks te gebruik en ’n vals op-die-klank-af betekenis daaraan te heg. Kom ons kyk net na vier voorbeelde:

Matteus 7:1 “Moenie oordeel nie” Hierdie is ’n geliefkoosde skuiwergat wat Satan bied vir mense wat nie aangespreek wil word oor hulle sonde nie. As hulle tereggewys word,  is hulle gou om terug te kap : “Onthou die Bybel sê  jy mag nie oordeel nie.” Dis ook ’n gerieflike verweer vir die morele relatiwis wat beweer dat die Bybel geen norme en standaarde het nie en dat niks meer sonde is nie. Maar wat sê Jesus regtig hier? Hierdie vers kan onmoontlik beteken dat Christene geen sedelike beoordeling of onderskeid tussen reg en verkeerd mag maak nie. Sonder enige norm sou dit in elk geval sinneloos wees om van “balk en splinter” te praat, want dan is als mos maar ewe reg! Verder aan in Jesus se gesprek is dit baie duidelik dat daar van ons  inderdaad verwag word om onderskeid tussen reg en verkeerd te maak as Jesus waarsku teen die vals profete. (Vers 15)  “Pas op vir die vals profete” Beoordeling van hulle dade is belangrik, want Jesus gaan voort om te sê : “Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte.”  So ’n uitspraak van Jesus sou geen sin maak, as ons nie instaat kon wees om te onderskei tussen goed en verkeerd nie!  Wat Jesus wel verbied is skynheilige foutvindery van mense wat self nie ontsag vir God se oordele het nie. Ons moet besef dat onsself ook deur God beoordeel word. Wie die erns hiervan besef sal allereers erns maak met sy eie lewe. Paulus se opdragte in 1 Korintiërs 5 stel dit ook duidelik wat die regte vorm van “oordeel” is wat God se kinders moet beoefen. Daar moet dissipline, toesig en tug binne ’n gemeente wees. (1 Kor 5:13 NAV)  “Maar julle moet oor julle eie mense oordeel : ‘Verwyder die slegte mens onder julle uit!’” Snaaks dat niemand hierdie teks aanhaal nie!? Is die rede dalk mensevrees? En om hierdie mensvrees weg te steek skuil ons maklik agter ‘n oppervlakkige lees van Matteus 7:1?

1 Tessalonisense 5:21 “Beproef alle dinge...”  (OAV) ‘n Kansvatter sou dalk hierdie teks as verskoning wou gebruik om al wat ‘n sonde is, uit te probeer! Hier staan tog immers “alle”  dinge! Kan dit wees? Moet ek proe aan dronkenskap of ‘n slag my geluk by die dobbelhuis toets? Die belangrikheid van die konteks vir ‘n gesonde verstaan van die Skrif word hier weereens duidelik gedemonstreer. Wie net die vorige vers lees sal agterkom dat dit hier gaan oor die beoordeling van profetiese uitsprake. Ja, ons moet erns maak met die profesie, maar ons het die verantwoordelikheid om dit te beoordeel. En die maatstaf van beoordeling is God se Woord. Dis nie nou die plek om in te gaan op wat die Nuwe Testament met profesie bedoel nie. Maar ongeag mens se opinie oor hierdie saak is dit baie duidelik dat hier geen groen lig gegee word om allerhande sondes of skadelike dinge uit te toets nie. As iets teen God se Woord is moet ons alleenlik maar daarvan af wegvlug en dit met alle mag vermy! (2 Timoteus 2:22)

Johannes 10:28  “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”  Dis inderdaad ’n wonderlike belofte wat waar is, maar die duiwel gebruik dit om ’n valse gerustheid aan onbekeerde (of vals bekeerde) mense te gee. Hoe so? Hierdie belofte gee Jesus  nie sommer aan elke Jan Rap en sy maat  nie, maar net aan Sy skape. Die vers net voor vers 28 is baie duidelik, waar Jesus sê : “My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.”  Van hulle - gehoorsame volgelinge van Jesus,  en net hulle word gesê dat hulle onaantasbaar veilig in Jesus se hand is. Die stelling : “Eenmaal gered, altyd gered” is ’n kosbare Bybelse waarheid, maar as daar hoegenaamd nie ’n “eenmaal” in my lewe was nie, kan ek tog ook nie die “altyd” op my van toepassing maak nie. Wat bedoel ek? Baie mense het op ’n stadium een of ander oppervlakkige emosionele ervaring (dalk op ’n kamp of tydens ’n moeilike tyd in hulle lewens)..., maar dit was in die verre verlede en hulle huidige lewe toon geen tekens van ’n wandel met Jesus nie. Oor ’n lang tydperk blyk dit dat daar geen diepgaande lewensverandering plaasgevind het nie. Dit was bloot ’n verbygaande gevoel en ’n kortstondige belewenis. As sulke mense op ’n teks soos hierdie vertrou, is dit ’n gevaarlike mistasting. Hulle leef ver van God af, maar troos hulleself met ’n belofte wat eintlik glad nie op hulle van toepassing is nie. Die oplossing is om eerlike selfondersoek te doen en met opregtheid na Jesus te kom, alleenlik op Hom my vertoue te stel en in dankbaarheid Hom te begin gehoorsaam. Dan kan ek op hierdie kragtige belofte en ander soortgelyke beloftes (soos Filippense 1:6) staatmaak!

Spreuke 18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong” Dis ’n basisteks van die “Spreek Lewe” dwaling  wat tans baie mense (en ook opregte Christene) op sleeptou het.  Hierdie dwaalidees kom nie uit ’n gesonde nugtere verstaan van die Woord nie, maar is versinsels van die Word of Faith Movement. Satan misbruik hierdie teks om mense te laat glo dat ons skeppingskrag in ons woorde het. Dis natuurlik ’n New Age leuen!

Laat ons dit duidelik sê : Die mens het nie bonatuurlike skeppingskrag in sy woorde nie. Net God kan ’n magswoord spreek soos byvoorbeeld by die skepping : “Laat daar lig wees!” (2 Korintiërs 4:6) Net God kan ook die lig in ‘n donker hart laat skyn!

Wat beteken  hierdie teks in Spreuke dan?  Onthou die boek Spreuke gaan oor praktiese alledaagse wysheid. Dit gaan hier bloot oor ’n waarskuwing om versigtig te wees wat ons sê. Los (en baie ) pratery, skinder, beledigings en leuens het verskriklike gevolge. Verkeerde woorde uit ’n mens se mond kan groot skade aanrig en ja, selfs die dood veroorsaak. (’n Koning kon byvoorbeeld ’n doodsvonnis oor iemand uitspreek en so ’n persoon se lewe beëindig of dwase rebelse  praatjies kan jou in die moeilikheid by die owerhede laat beland en dit kon ook jou lewe kos) Dis die konteks waarin hierdie uitspraak gemaak word. (Sien ook vers 6-8) In die Nuwe Testament spreek Jakobus hoofstuk 3 wat handel oor die tong hierdie selfde tema aan en die boodskap is : “Beheer jou tong!”

Dit beteken hoegenaamd nie dat ons woorde ’n soort van magiese krag  het nie. As dit dan nou kwansuis ’n “geestelike wet” is, hoekom gaan hierdie ouens nie na hospitale en begraafplase en wek almal wat dood was weer op nie? Hierdie mense het inderdaad al groot hartseer en verwarring  met hulle dwaalleer veroorsaak. Ds. Maritz van Koppies, wat self pynlike ondervinding hiervan het,  vertel : “Toe ek die tyding gekry het dat my seun verongeluk het en reeds breindood is, het ek op die stoel neergesak en gebid: ‘Ag Here, tog nie nog ‘n kind van my wat sterf nie!” Iemand sê toe: ‘Moenie so dood spreek nie; spreek lewe oor die kind!’ My seun se brein was reeds drie ure sonder suurstof en ek het geweet wat dit medies beteken.” 

Die Word of Faith Movement dink dat mens God kan beveel, eintlik gaan sommige nog verder en dink dat die mens self ’n klein godjie is! Die kernmotief agter  hierdie dwaling is die menslike soeke na mag. (dink maar aan wat in die tuin van Eden gebeur het) Hy wil graag vir homself die lewe so gerieflik moontlik te maak en misbruik geloof om vir homself gesondheid en welvaart op aarde te verseker. Vir meer agtergrond oor hierdie dwaling lees gerus : “Man as God - The Word of Faith Movement” deur Rev. Curtis I. Crenshaw.

Ten slotte : God se Woord is kosbaar en lewegewend. Maar pasop in die hand (mond) van die Satan bring dit die dood! Daar is soveel tragiese voorbeelde hiervan. Daarom is dit nodig dat ons die Woord binne sy konteks, bedoeling en geheelinhoud sal verstaan. (kliek : LUGFOTO VAN DIE BYBEL) God het vir hierdie doel die gawe van waarheidsleraars deur al die eeue aan sy kerk geskenk. Vir die kind van God is dit dus uiters belangrik om deel te wees van ‘n gemeente waar die Woord in waarheid verkondig en uitgelê word.

Saterdag 14 April 2012

PASOP VIR DIE GOGGAS

wat gate vreet in die GENADEBOODSKAP!

Die kort briefie van Judas bevat ‘n kragtige boodskap vir die kerk van ons tyd. (maak nou gerus eers daar oop in jou Bybel)

Vers 3 "Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan die heiliges."

Ons vind hier ’n sterk oproep en vermaning om kragtig te stry vir die ware geloof. Judas sê dus vir sy lesers (en ons) dat daar dringend aksie geneem moet word om die waarheid van die verlossingsboodskap te beskerm en te bewaar. 

Dis ‘n boodskap wat nie verander mag word nie. Dis finaal vir eens en altyd oorgelewer aan God se mense! Die bewaring van hierdie boodskap is ‘n saak wat nie net enkelinge raak nie, maar juis ons gemeentes! Dis ‘n belangrike boodskap vir elkeen in die gemeente. Die gemeente word immers in 1 Timoteus 3:15 die “draer en beskermer van die waarheid”  genoem. 

Hoekom vind ons hierdie ernstige en  dringende toon by Judas? Daar is gevaar!
Dis ’n feit - die kerk van Jesus is en  word bedreig. (Dit was reeds die geval in die tyd van die Nuwe Testament) Die rede is eenvoudig : Satan hou nie van die kerk van Jesus nie. Satan wil nie hê mense moet gered word nie. Satan haat die kerk, omdat hy God haat. Baie vyande word dus teen die kerk ingespan. Maar baie belangrik - die grootste en gevaarlikste vyand is nie magte buite die kerk nie, maar valse leringe binne die kerk. 

Ons grootste bedreiging is nie - Islam, diktators of bose regerings nie, maar ‘n verdraaiing van die evangelie boodskap!

Judas noem spesifiek hierdie valse leraars en hulle lering wat die kerk binnegedring het by die naam.

HULLE IS GEVAARLIKE GOGGAS WAT GATE VREET IN DIE GENADEBOODSKAP EN DIT WAARDELOOS MAAK!

Wat is hierdie gevaarlike valse leer? (Vers 4) Dit gaan oor die misbruik van genade. Hoe gebeur dit? Valse leraars hou genade voor as ’n dekmantel, 'n verskoning om losbandig te leef! Hulle valse propaganda kom basies op die volgende neer : Omdat God se genade so groot is kan ons maar aanhou sonde doen, Hy sal mos maar vergewe. Iemand het dit iewers so gestel : Dis God se plig om ons te vergewe en ons voorreg om te sondig! Hierdie tipe redenasie en lering is ‘n dodelike bedreiging vir die kerk en sy boodskap!

 Kom ons bekyk hierdie saak van naderby:

Redding uit genade is ’n kernwaarheid van ons geloof. (Efesiërs 2:8)  Radikale verbysterende  genade! Hierdie genade behels dat God ’n skuldige goddelose,  onskuldig verklaar (Romeine 4:4) sonder dat hy dit verdien, alleenlik op grond van Jesus se boetedoening aan die kruis. O, hierdie genade klink suikersoet vir die stukkende sondige siel! Genade het niks te doen met ons prestasies nie, maar is ‘n ewigheidsgeskenk van God af! (2 Timoteus 1:9,10) Genade is Goddelik gratis en  hemels heerlik. Genade gee hoop vir die grootste sondaarskurk. Genade het miljoene mense se lewens male sonder tal verander. Genade het die ewige  poorte laat oopswaai vir die slegste mense denkbaar. Genade het ontelbare mense voor die kake van die hel weggeraap. Dink maar aan die misdadiger aan die kruis of iemand soos die goddelose John Newton wat later  “Amazing Grace” geskryf het.

Maar gou het die duiwel sy kans gesien. Hy het dwaalleraars gebruik om die waarheid van genade te verdraai. Juis omdat dit so kosbaar is het die Satan dit vervals. (Dis mos net kosbare dinge wat vervals word. Niemand sal moeite doen om iets waardeloos te vervals nie.) Reeds in die Romeine brief spreek Paulus hierdie kwessie aan.  Juis omdat Paulus ‘n radikale genade verkondig het, het hy verwag dat daar ‘n misverstand sou ontstaan deurdat mense sou beweer  : “Ag, dis lekker, laat ons maar meer sondig sodat die genade ook meer kan word!"  Paulus reageer baie skerp teenoor so ‘n houding : “Volstrek nie!”  (Romeine 6:1,2) Hierdie dwaling (en dwaalleraars) kan maklik aan hulle geliefkoosde uitdrukkings herken word. Dit klink so mooi, maar dis halwe waarhede : “Ag, ons is mos maar almal mense... Ag, niemand is mos volmaak nie.” Dis inderdaad waar, maar sê jy dit as ‘n belydenis of bloot as ‘n verskoning om voort te ploeter in sonde? In ons dag is een van die handelsmerke waaronder hierdie dwaling verkoop word : “VERDRAAGSAAMHEID” 

Tot vervelens toe word daar op die “toleransie” snaar getokkel! 

Almal se sienings en almal se norme (of gebrek daaraan) moet geakkommodeer word! Ons moet tog net niemand se gevoelens seermaak nie. Die dwaalleraar gee kastig baie om vir mense se gevoelens, maar vertrap God se Woord!

Wat was Jesus se houding? Hy is die ruimhartigste Uitdeler van genade ooit. Hy vergewe die ergste sondes, maar dan sê Hy : 


“Gaan heen en sondig nie meer nie!” 

Die begrip “genade” word deur baie gebruik, maar daar is ‘n duidelike onderskeid hoe dit gebruik word. : Valse leraars misbruik die woord genade  as ’n verskoning en ’n dekmantel om rustig aan te hou sondig. God in sy Woord gebruik die  term genade as aansporing om nie meer te sondig nie, maar in dankbaarheid en heiligheid te leef!

Judas waarsku ons baie ernstig teen hierdie dwaling. Hy maak dit duidelik dat hierdie dwaling skrikwekkende gevolge het. Hy herinner sy lesers aan die  bekende voorbeeld van die volk Israel wat uit Egipte verlos is. God was Israel genadig. Hulle was ’n klomp slawe in groot ellende. Toe red God hulle genadiglik uit Egipte sonder dat hulle dit verdien. Maar wat gebeur toe? Hulle was ondankbaar, hulle begin kla, hulle begin afgode dien, hulle begin onsedelik leef... Hulle vergrype het grusame gevolge gehad! God het daardie einste Israeliete wat Hy gered het, uitgedelg omdat hulle sy genade vertrap het. Van daardie hele geslag het net Josua en Kaleb in die beloofde land ingegaan. Om maar lustig  met sonde aan te gaan roep die oordele van God op ons af. Judas noem nog twee voorbeelde van Goddelike wraakuitoefening om ons te waarsku : die engele wat ongehoorsaam was en die mense van Sodom en Gemorra. (Sien vers 5-7)

Die punt wat Judas maak is dit : God se optrede van die verlede wys dat Hy nie ‘n vertrapping van sy heiligheid duld nie, maar dit  konsekwent straf.

(Moet jou dus nie self wysmaak dat ‘n God van liefde nie kan straf uitdeel nie)

Pasop vir ’n valse begrip van  genade. Vals genade soek verskonings vir sonde.
Koester ware genade! Ja, ware genade bring hoop aan die ergste sondaar. Selfs ‘n Dawid! (Lees gerus SMS: “Ek is swanger”) Maar ware genade maak ’n mens egter dankbaar  en as ek dankbaar teenoor God is,  vlug ek weg van sonde. Ware genade leer my ‘n nuwe leefstyl. (Titus 2:11,12)

Niemand kan verby die feit kyk dat Judas se waarskuwings angswekkend is nie. Dit wek vrees by ons en dit moet! Maar weet jy ek verstom my oor die volmaakte balans in God se Woord. As ons weer ‘n slag gesidder het oor ons sonde en na Jesus toe gevlug het, is die Here baie gou om die vertroostende salf van sy getrouheid aan ons stukkende siele te smeer. Dis dan ook wat ons in vers 24,25 vind:

“Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid!”

Wat 'n heerlike troosvolle versekering!

God self sal ons in die genade laat volhard en veilig bewaar! Hy gebruik juis ernstige waarskuwings soos die van  Judas in hierdie proses van bewaring.