BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Celebrities. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Celebrities. Wys alle plasings

Donderdag 19 November 2015

NIE ‘N “CELEBRITY” NIE

- Jesus het nie ‘n filmster voorkoms of glansgans persoonlikheid gehad nie, maar net Hy kan jou voorberei vir daardie groot afspraak!


Voorbereiding is absoluut noodsaaklik. Wees voorbereid vir jou eksamen, lisensie uitpasering, om jou rekenings te betaal, vir daardie belangrike werksonderhoud...

Sondag 24 Februarie 2013

JESUS FASSINEER MY!

- want Hy is volmaak liefdevol en regverdig, maar nooit ‘n people’s pleaser nie. 


Jesus fassineer my! Daar is niemand soos Hy nie! Hy is waarlik God! Van ewig is Hy daar. Hy is ook  volledig mens, iemand wat honger en dors kan kry. Wat kan huil. Maar Hy is ‘n volmaakte mens – die Enigste Volmaakte Mens! Dis so duidelik uit sy verhouding met sy Hemelse Vader. Een ding het vir Hom saakgemaak – om die wil van sy Vader uit te voer. Ons lees hier in Lukas 9:51 hoedat Hy vasbeslote die reis na Jerusalem aangepak het. Ja, Hy het geweet wat daar wag – verraad deur sy eie dissipel, bespotting, lyding en dat Hy uiteindellik die wreedste marteldood denkbaar sou sterf! En tog gaan Hy in gehoorsaamheid aan sy Vader...in die angsnag van Getsemane bevestig Hy dit weer. 

Jesus is volmaak gebalanseerd en heilig. Hy was absoluut regverdig, liefdevol, genadig, maar Hy het nooit iemand gelek of iemand se guns gesoek nie. Hy was nooit onbeskof of onvriendelik nie, maar ook nooit ‘n people’s pleaser nie! In ‘n tyd wanneer een na die ander held of “celebrity” val – van Joost van der Westhuizen tot Lance Armstrong tot Oscar Pistorius is dit so wonderlik om die volmaakte held, Jesus Christus te aanbid en te bewonder! Mag ons alle mensafgode laat staan en Hom alleen vereer! 

Jesus se absolute volmaaktheid, liefde en regverdigheid, ja sy onkreukbare karakter, maar ook sy allesoortreffende belangrikheid en Goddelike gesag, kom so duidelik hier in Lukas 9:51-62 na vore. Mag dit ons elkeen bring tot ‘n nuwe oorgawe aan Hom. Mag ons Hom bewonder en aanbid vir Wie Hy is! 

Oppad na Jerusalem moes Jesus deur die Samaritaanse gebied reis. (dit was so noord van Jerusalem) Hy probeer toe oornag verblyf daar reël, maar die Samaritane weier dit, want hulle was die Jode vyandig gesind en hulle het nie Jerusalem as aanbiddingsplek erken nie. (“hulle was nou lekker spiteful”) Toe dit nou gebeur, raak twee van Jesus se dissipels, Jakobus en Johannes ewe skielik baie entoesiasties en ywerig. Voortvarend sou mens kon sê. (54) “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Hoe boos en bedrieglik is die mens se hart! Dit klink of die dissipels hier begaan is oor Jesus se eer, maar eintlik wil hulle maar net aan hulle eie negatiewe gevoelens teenoor die Samaritane uiting gee.* Hulle dink hulle kan Jesus inspan om hulle eie nasionalistiese wraaksug teen die Samaritane te bevredig. Maar hulle misgis hulle met Jesus. Jesus het hulle skerp tereggewys. (55) Jesus het geen wraakgevoelens teenoor die Samaritane nie. Hy wil dat hulle ook gered word. Hy het ook genade en liefde vir Samaritane! (Dink maar aan Sy gesprek met die Samaritaanse vrou in Johannes 4. Hy bied haar die lewende water aan, al is Hy baie eerlik met haar en ontbloot Hy haar sonde van losbandigheid om ongetroud saam met ‘n man te woon. Weereens Jesus is nooit 'n people's pleaser nie!) Jesus laat Hom nie misbruik nie! Nie vir ons politieke of sport voorkeure nie (Hy is nie daar om die blou Bulle op die rugbyveld te bevoordeel nie), maar ook nie vir ons aardse materiële ambisies nie! Interessant, later in die boek Handelinge lees ons ons hoe baie Samaritane hulle tot Jesus bekeer het... 

Terwyl Jesus oppad is na Jerusalem om gekruisig te word gebeur daar nog dinge wat ons beter laat verstaan wie Hy is... Iemand bied aan om Jesus te volg. Hy klink baie oortuigend en entoesiasties. “Ek sal U volg waar u ook al gaan.” (57) Ons sou dalk dink, dis ‘n uitstekende kandidaat om ‘n dissipel te word. Maar Jesus gooi bietjie koue water op sy opgewondenheid. “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie.” (58) Jesus is baie eerlik. Hy wil nie hê iemand moet Hom volg weens verkeerde motiewe of misplaaste verwagtings nie. Hy wil hê ons moet weet dit bring swaarkry as jy Hom gaan volg. Dis asof hy wil sê : “Meneer, dink mooi, daar is geen gerief of materiële voordele betrokke as jy my wil volg nie!” 

Jesus het nooit die “Prosperity Gospel” van Joel Osteen en ander Amerikaanse kwaksalwers verkondig nie! 

Jesus roep ‘n ander persoon : “Volg my” (59) Die man klink heel gewillig, maar hy wil eers die belangrike medemenslike taak verrig om sy Pa te gaan begrawe. Jesus wys dit sterk af. (60) Sjoe, dit klink nogals hard. Wat bedoel Jesus hierdeur? Hy probeer nie sê dat ons nie respek vir ons ouers moet hê nie – Hy wil maar net duidelik stel dat as ek Hom wil volg Hy absoluut eerste prioriteit moet geniet. 

In die lig van Jesus se absolute majesteit, word alle ander belangrike dinge minder belangrik! 

Nog iemand bied aan om Jesus te volg, maar hy stel ‘n voorwaarde : “Laat my eers toe om my familie te groet.” Ons weet nie presies wat die konteks was nie, miskien was sy familie dalk ver of sou dit lank neem. Jesus se antwoord (62) wys egter maar net weer : Hy vereis totale oorgawe! Absolute “commitment!” 

Net Jesus kan absolute oorgawe van ons wil, emosies, besittings, noem maar op, eis! Hoekom? 

Die antwoord sien ons voor ons hier op die Nagmaalstafel : brood en wyn, die tekens van sy volle oorgawe aan die wil van die Vader ter wille van ons. Jesus gee alles! Jesus het Homself as offer gegee. Sy liggaam is stukkend gebreek, sy bloed het vryelik gevloei. Hy het Homself gegee om in ons plek verbrysel en deurboor te word. Hy is vir al my aaklige sondes gestraf. Sy lewe was vir my ‘n genoegsame boetebetaling. Deur geloof in Hom is ek vry, sonder skuld voor God. Sy genade vir stukkende sondaars is onbeperk ruim – Ja, Hy het genade selfs vir die Samaritane wat Hom nie eers slaapplek wou gee nie. Genade vir ‘n Saggeus, ‘n Petrus, ‘n Paulus... maar moenie ‘n fout maak nie, Hy vra totale oorgawe en toewyding en gehoorsaamheid... Hy gaan nie vir my en jou lek om Hom te volg nie... Hy stel die voorwaardes...nie ons nie! Om Hom na te volg kan dalk my vriende, my reputasie, my geld kos... Maar weet verseker, om Hom te glo en te volg is ewige absolute wins! Amen.

*Ja, dit lyk op die oog af dat hulle God se eer wil verdedig soos Elia in 2 Konings 1:10,12, maar Jesus is nie beïndruk nie.

Donderdag 14 Februarie 2013

BESTEM OM TE STERWE

- en daarna die oordeel... 

Die tragiese gebeure wat rondom die bekende Paralimpiese atleet Oscar Pistorius en sy model vriendin Reeva Steenkamp ontvou, kan seker deur niemand geïgnoreer word nie. Oscar is nie net ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika nie, maar die prominensie wat die ramp van 14 Februarie in die wêreld media geniet, is ‘n bewys van sy internasionale aansien. Weens sy dapper uithouvermoë om ‘n ernstige gebrek te oorkom, verdien die lemnaeler dit sekerlik... 



Ek beskou die aardse regsvraag van skuldig en onskuldig as iets waaroor mens jou liefs nie nou moet uitspreek nie. Dis waarvoor daar howe en regters is. Tog kan al die nuusberigte en kommentare oor Oscar en Reeva nie anders as om my weer oor ‘n paar sake Bybels te laat nadink nie: 



Die diep verdorwenheid van elke mens onder die blink oppervlakte van roem, sukses en gewildheid. Dit raak natuurlik elkeen van ons (ook die nie-beroemdes), aangesien die Woord duidelik sê : “... almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” (Romeine 3:10-12) Dit onderstreep maar weer die groot waarheid dat niemand in die Koninkryk kan ingaan as hy nie weergebore word nie. (Johannes 3:3)



Die geestelike armoede in die hedendaagse heldegalery. Die “celebrity” afgodskultuur is verrot. Die voorbeelde van waansin, immoraliteit en dwaasheid is legio... Die helde wat God werklik eer en liefhet deur sy gebooie te bewaar is dun gesaai. Daar is min rolmodelle soos ‘n Eric Liddel wat kan uitblink op die sportveld, maar wie se Christenskap meer is as net woorde en ook beginsels insluit. Daar is wel baie misbruik van "Christenskap" in 'n godsdienstige land soos Suid-Afrika. Dikwels word Bybelverse (en selfs 'n Bybeltatoe) buite konteks en blatant aangewend in diens van die eie ego... Ek weet niks van Adriaan Basson se geestelike waardes nie, maar wat hy in Rapport skryf is beslis die spyker op sy kop slaan :

"Ons weet nou dis ’n leuen dat die blink wêreld van sport, geld, mode en skoonheid verhewe is bo wreedheid.
Maar dié leuen is ’n multimiljoenrand-bedryf wat lewend gehou word deur ons almal wat so graag gode skep, net om hulle keer op keer te sien val."



Die kaping van Christelik klinkende terme deur ‘n irrasionele en sentimentele verbruikersgodsdiens. Reeva in haar eie woorde, klink baie teenstrydig om die minste te sê. Sy was na wat berig word ‘n aktiewe Twitter gebruiker wat haarself beskryf as : "SA Model, Cover Girl, Tropika Island of Treasure Celeb Contestant, Law Graduate, Child of God". Sy sien haarself ook as : "Brainy, blonde, bombshell" Die vermoede oor die oënskynlike verwarring in haar denke oor wat kindskap van God behels word verder versterk as mens jouself afvra wat ‘n meisie dan nou blykbaar vieruur in die oggend by ‘n man met wie sy nie getroud is nie, se huis maak? En dan natuurlik is dit verstommend hoe modelle wat hulleself in ‘n minimum van klere op loopplanke en voorblaaie ten toonstel kan dink dat hulle leefstyl te rym is met die Bybelse beginsels soos gestel in 1 Timoteus 2:9 – “Van die vroue wil ek hê dat ook hulle dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees.”

Christenskap het ‘n byna niksseggende begrip onder die massas geword en kort baie dringend ‘n Bybelsgebaseerde definiëring! 

Die kortstondigheid en onsekerheid van die aardse lewe. Iemand beplan ‘n Valentynsdag, maar word sonder waarskuwing die ewigheid ingeslinger. Mag die broosheid van die lewe gedurig as herinnering dien om gereed te wees om ons God te ontmoet. Daagliks lees ons van moorde en lewensdraadjies wat op verskeie maniere geknip word. “Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras...” (Psalm 103:15-16) 

...en daarna die oordeel. Na ‘n hartseer sterfgeval is daar altyd ‘n oorvloed van mooi wense soos : “RIP, Mag die Vader vertroosting gee, hy/sy was ‘n besondere mens en ‘n ware engel...” Sulke uitsprake word seker opreg bedoel en kan dalk die hartseer van agtergeblewe naasbestaandes help versag. Maar moet ons nie bietjie verder en vooruit dink nie? As Christen glo ek die Bybel en die Goddelike uitsprake oor die oordeel. Hebreërs 9:27 stel dit so duidelik : 

“ ‘n Mens is bestem om net eenmaal te sterf en daarna kom die oordeel.” 

Nou dink ek maar in die lig van hierdie uitspraak, as ons regtig vir mense omgee, moet ons dalk nie tog meer moeite doen om die evangelie en ook die dringende oproep tot bekering betyds aan hulle te rig nie? Na die dood is daar geen tweede kans of reïnkarnasie nie, maar slegs die regverdige oordeel van God! Moet ons nie maar ons skaamte opsy sit, bereid wees om uitgelag en beledig te word, maar gehoorsaam raak aan God se opdrag om die goddelose te waarsku nie? "Wanneer Ek vir die goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood." (Esegiël 3:18) Gaan ons waarsku voordat dit vir ewig te laat is nie?

Kan ek jou vra : "Is jy gereed om jou Maker te ontmoet?"


(foto : BBC)

Dinsdag 14 Februarie 2012

SIEK EN SAT VIR "CELEBRITIES"

Ons liggame verduur ongelukkig baie tipes besoedeling. Dis lugbesoedeling, waterbesoedeling, geraasbesoedeling... en vele meer. Nog erger en dalk met erger gevolge is die “Celebrity besoedeling” waarmee ons sintuie en siele gepynig word! Tot satwordens toe, word ons gebombardeer met sepiesterre, sangsensasies, rugbyreuse en politieke ikone en wie weet watter ander glansganse se onbenullige lewensbesonderhede en onbybelse lewensbeskouings! Nou dat die Woord van God grotendeels sy plek in ons volkslewe verloor het, is hulle die groot lewenskenners en beraders! Ons word opgesaal met hulle skandes en skeisake, hulle hofgedinge en bekgevegte! Om een of ander rede is hulle babas mooier, hulle hartsere belangriker en hulle sondes sappiger as ons gewone sterflinge s’n. Dit moet eenvoudig op die voorblaaie... (Nou ja, Huisgenoot se joernaliste moet seker ook eet...)

Op ’n ernstiger noot. Waarom dink ek behoort ’n Christen nie mee te doen aan Celebrity verering nie? Oorweeg en bedink die volgende :

Die “Celebrities” het die de facto gode van ’n groot deel van die Afrikanervolk geword! (en seker die meeste ander Westerse gemeenskappe) Wat hulle sê is belangriker as wat God in sy Woord beveel. Hulle bly mos ons mense se helde al minag hulle God se opdragte deur hulle onsedelikheid en lastering. Die “Idols” kompetisie is eintlik ’n baie raak beskrywing. Arrogante mensgemaakte afgodjies. Om enige mensgemaakte god te vereer is ’n gruwelike sonde wat God se toorn oproep. Dis ’n konkrete voorbeeld van die verering van die skepsel in plaas van die Skepper! (Romeine 1:25) Laat ons net weer onthou : God deel sy eer met niemand nie. Dit moes koning Herodus op die harde manier leer toe hy wurmkos geword het! (Handelinge 12:22,23) Is dit dan snaaks dat soveel van Suid-Afrikaners se afgodjies baie hard van hulle troontjies afgestamp word?

Die “Celebrities” teken vir ons ’n valse defenisie van sukses en geluk. Hulle is die mense wat nou kastig die “lewe” ervaar! Hulle het so ongemerk ons (en ons kinders se) rolmodelle geword. As ons motors, huise en lywe nie soos hulle s’n kan lyk nie, voel ons soos mislukkings. Die Celebrities met hulle blink motors en (skamelgeklede) blink lywe propageer egter ’n boodskap wat direk indruis teen die Bybelse boodskap van wêreldversaking. (1 Johannes 2:15-17; Jakobus 4:4) “Lewe” is om God te ken en is nie afhanklik van die oorvloed van ons besittings nie!

Die “Celebrities” kom weg met “moord” en maak ons gewoond aan morele verval as aanvaarde norm. ’n Celebrity mag maar ’n roekelose rokjagter met ’n rekord van ‘n streep gebroke vroue (en buite egtelike kinders) wees! En selfs ’n Christelike radiostasie speel nog steeds sy musiek! Solank ’n Celebrity kan sing of drieë druk bly hulle mos ons helde! En so geleidelik het hulle optrede ’n groot rol gespeel om sondes soos homoseksuele lewensstyle, huweliksontrou, losbandigheid (saamblyery) en materialisme aanvaarbaar te maak!

Die “Celebrities” en hulle media meelopers is sensasiebeluste geldjagters wat ons “besteel”. (En hulle vang ons so maklik). Hulle ken die kuns om na ’n koerant of tydskrif te hardloop met ’n tranetrekker skinderstorie as die geld om hulle uitspattige leefstyle voort te sit bietjie min word. (Of skryf ’n niksseggende voortydige outobiografie!?) Hulle weet baie goed om kunsmatig ’n mark te skep vir nuuskieriges wat bereid is om te betaal vir die bevrediging van daardie nuuskierigheid. Dis ’n skreiende aanklag teen die agteruitgang van ons waardesisteem, dat ons bereid is om miljoene Rande aan vermaaklikheidsterre te bestee, maar daar is nie geld beskikbaar vir ordentlike onderwys in ons land nie.

Die “Celebrities” verkondig ’n verdraaide evangelie. Die gevaarlikste “Celebrities” is nie die wat openlik goddeloos is nie, maar die wat slim genoeg is om ’n Christelike sousie oor hulle beeld te gooi en so die harte te wen van liggelowige Christene. Dis kom neer op die uitbuiting van die (oorblywende) Christelike sentimente van die Afrikaner. By nadere ondersoek is dit duidelik dat hulle idee van Christenskap nie strook met die Woord nie. Die variasie van Christenskap wat hulle aan ons opdis gaan hand aan hand met gewildheid, rykdom en mensgesentreerde sukses! O, en kerke nooi hulle so graag vir praatjies! En inderdaad is dit leë praatjies! Kom niemand dan agter dat Jesus nie met hierdie tipe Christenskap versoen kan word nie? Hy was nie gewild nie, maar verworpe, nie ryk nie, maar arm... in die oë van die wêreld eindig sy lewe in die grootste mislukking, die skandedood aan die kruis! Ons word opgeroep om saam met Hom as uitgeworpenes buite die laer te ly en sy smaad te dra! (Hebreërs 13:13,14)


Dis dalk tyd dat Jesus se volgelinge duidelik laat hoor : “Ons is siek en sat vir Celebrities!” Dis tyd dat ons eerlik raak oor morele naaktheid en waag om te sê : “Die keiser(s) is kaal!” Ons moet hulle raaksien vir wie hulle is, mensgemaakte afgode! En ons moet bely (ek ook) : “Here vergewe ons dat ons so maklik mense op ’n troon plaas of onsself met hulle ongeregtighede besoedel!

Skryf ek nou alle “Celebs” af? Is alle glansganse gans en al af te skryf? Natuurlik nie! Ook vir hulle is daar genade, as hulle hulle bekeer! Kan ons alle openbare figure onder dieselfde kam skeer! Nee, ek glo nie so nie, orals kry mens God se kinders. Hy alleen ken die harte.

Maar dis wel baie duidelik : Die kind van God moet ver bly van die Celebrity kultuur en verering. Die Woord van God lei ons direk in ’n teenoorgestelde rigting as ons lees :

“Skaar julle by die nederiges...”
(Romeine 12:16)