BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kolmanskop. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kolmanskop. Wys alle plasings

Sondag 13 Mei 2018

DIE SPOKE WAT JOU TEISTER

- en hoe om die oorwinning oor hulle te behaal! 



Is daar spoke wat jou pla? Ek praat nie van die soort wat soos wit lakens lyk en in begraafplase of by Uniondale ronddwaal nie... Ek praat van arrogante aktiewe spoke soos Selfbejammering, Selfbewustheid, Mislukking, Verlore kanse, Skuldgevoelens. Eintlik almal maar een of ander vorm of gevolg van SONDE! Hierdie spoke is gevaarlike vyande in diens van die groot vyand Satan. Hulle spits hulle veral toe op God se kinders. Hierdie vyand en sy trawante hou daarvan as jy op die grond lê. Hulle trap jou en vra dan smalend : “Nou waar is jou God dan nou?” Hierdie spoke hou jou terug en breek jou spoed. Hulle breek jou lewe af totdat dit 'n stukkende bouval word! Hulle is die rede dat baie mense nie die vreugde van God kan beleef nie, moedeloos word, skuldig voel om iets vir die Here te doen.... 



In Miga 7:5-10 vind ons kosbare bemoediging uit die Woord wat vir jou wat deur hierdie spoke geteister word hoop kan bring!* Ja, my vriend, daar is hoop as ons geval het, hoop as ons in die donkerte is! Daar is uitkoms as ons ons hoop op God stel en nie op mense nie! Ja, dis waar, selfs die mense naaste ons stel ons dikwels teleur, maar nie God nie. “Moenie ‘n maat vertrou nie, moenie op ‘n vriend staatmaak nie, pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê. Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.” (5,6) Die oplossing is om my nie meer op mense te verlaat nie, maar myself tot GOD te keer! “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” (7) Die oplossing vir al die spoke wat jou teister is ’n toekeer na God - wend jou in die gebed tot Hom. By die Here is daar bevryding en dan sal jy triomfantelik kan uitroep : “Wees nie bly oor my nie my vyand nie, al het ek tot ’n val gekom, ek sal weer opstaan!” (8) Hierdie is ‘n geweldige wapen teen die groot beskuldiger en aanklaer, Satan. Al die spoke is maar eintlik net in sy diens... 

DUISTERNIS EN LIG

Spoke floreer in die donker. Lig verdryf spoke. Om ontslae te raak van hierdie spoke soos Selfbejammering, Selfbewustheid, Mislukking, Verlore kanse, Skuldgevoelens moet God se lig eers oor my skyn. Ons enigste hoop is as God se lig ons verlig. Let op wat sê die profeet : “Die Here is my lig!” (8) Nou weet ons uit die Nuwe Testament, Jesus sê dat Hy die Lig van die wêreld is. Die lig wat die spoke uit ons lewens laat vlug is die evangelie lig. Die heerlike boodskap van Jesus se sterwe en opstanding. Sy genoegsame afgehandelde verlossingswerk! 

VAT DIE SPOKE AAN...

Kom ons kyk prakties hoe die evangelie se lig die spoke uit ons lewe verdryf. Ons vat hulle bietjie een vir een aan: 

Selfbejammering. Wat ’n verlammende spook! “Ag arme ek...” Met hierdie spook moet ek baie hard werk- ek moet hom sien vir wat hy is nl. sonde. Ja, jy het reg gehoor, Selfbejammering is sonde. Dis ‘n mosie van wantroue in God se bestuur van my lewe. As ek na die kruis kyk, die liefde van Christus vir my besef, sal ek besef dat selfbejammering sondig is. Selfbejammering is niks anders as opstand teen God se soewereiniteit nie. God het my mos gemaak soos ek is, Hy is in beheer van my lewe. Die goeie nuus is, dat daar bevryding ook van hierdie sonde is. Bely jou selfbejammering... ook dit kan vergewe word. En begin God dank... daar is soveel om voor dankbaar te wees... Hierdie spook vlug vir alle vorme van dankbaarheid en vergenoegdheid, hy kan dit nie uitstaan nie... 

Selfbewustheid. Dis daardie gedurige en verterende ongemaklikheid : “Wat sal ander mense van my sê, wat dink hulle van my? Ek voel altyd te vet, of te maer of te dom! Ek is vasgevang in mense vrees, ek is so bang vir kritiek ek doen maar liewers niks.” Selfbewustheid is eintlik net hierdie spook se skuilnaam. Sy regte naam is hoogmoed en hoogmoed is sonde! Die oplossing is om te verstaan dat as ek ’n Christen is, ek ’n nuwe identiteit gekry het deur Jesus se kruis en opstanding. As ek Jesus al aanvaar het, beteken dit mos dat ek saam met Hom gesterf het en saam met Hom uit die dood opgewek is! Die ou ID is dood. (Kliek op OORWINNING) Ek is nou ’n nuwe skepsel... God het my aanvaar en as sy eie kind aangeneem. Ek hoef geen mens te vrees nie. Ek kan tevrede wees soos God my gemaak het. Ek kan uitsien na die pad waarop Hy my lei in sy alwysheid! 

Mislukking. Hierdie spook kan uitgeken word aan sy geliefkoosde fluisterwoorde : “Onthou jy nog? Kyk hoe het jy daar verbrou, kyk watter skade het jy aangerig....Kyk hoe het jy die Here teleurgestel.” Jy moet hom hard aanvat op sy eie terrein. Sê vir hom : “Ja ek onthou alles..., maar ek onthou veral die kruis! Daar is volledig betaal vir alles. Ek het misluk, dis waar, maar Jesus het geslaag namens my!” 

Verlore kanse. “Ag het ek maar..,” is die herhalende gesanik van hierdie verlammende spook. Ek kan nie fokus op my huidige verantwoordelikhede nie, tob altyd oor dit of dat wat ek moes gedoen het. Kortom, ek is vasgevang in die slagyster van die verlede. Hoor nou baie mooi! Die boodskap van die kruis sê dat ons verlede uitgewis is en dat ons nou vorentoe kan kyk. Daarom kon Paulus ook sê : “Ek vergeet wat agter is en strek my uit na wat voor is.” (Fil. 3:13) Begin om dit te glo... 

Skuldgevoelens. Oor sondes van die verlede en hede. Heel dikwels fokus dit op daardie een groot sonde....daardie enkele verskriklike ding waaroor ek so bitter skaam en sleg voel. Hierdie is nogals ‘n baie groot en sterk spook. Dis ‘n duiwelse spook wat vir jou met sadistiese genot probeer afkraak : “Kyk wat het jy gedoen. Jy is niks anders as ’n sondaar nie.” Hy sê dit as jy so pas geval het, maar hy kan jou ook skielik herinner aan iets van lank lank gelede... Hoe antwoord jy hierdie spook? Stem saam! “Ja, ek is ’n sondaar, ek kan niks ontken nie, maar die Woord sê :“Christus het Homself vir ons sonde gegee” (Gal. 1:4) 

Oorkoepelend gestel – al hierdie spoke van duiwelse duisternis word deur die evangelie lig verdryf! 

Hoe skyn God se lig, die bevrydende evangelie lig oor my lewe? Vers 7 het die sleutel. "Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” Die eenvoudige waarheid van geloofsvertroue op God se beloftes. Spesifiek vertroue op Jesus Christus soos God Hom openbaar het, spesifieke vertroue op die sterwe en opstanding van Jesus. Om te vertrou – “Sy sterwe was genoeg, ja ook vir my! Daar is alles volbring! Ek was skuldig, maar Jesus het my straf gevat en nou staan ek sonder skuld voor God!” O, vriend bedink dit, glo dit, dank God vir hierdie waarheid. Ek erken my foute en onderwerp my aan sy tugtiging, maar ek weet Hy tugtig my nie om my te vernietig nie. Hy gee weer lig en oorwinning. Hierdie waarheid, die kruiswaarheid gee my die oorwinning oor al die teisterings en beskuldigings van die Satan. “Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn, want ek het teen Hom gesondig. Wanneer Hy my saak verhoor en oor my uitspraak lewer, sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee.” (9) Deur vas te hou aan die vaste waarheid van Jesus se genade offer sal ek die Satan en sy trawante plat trap. “My vyand sal dit sien, hy sal deur skaamte oorval word, hy wat vir my vra: "Waar is die Here jou God?" Ek sal op my vyand neersien, hy sal plat getrap word soos modder op die straat.” (10) 

BLOEI JY? STAAN WEER OP!!!

Is die spoke in jou lewe besig met ‘n skrikbewind? Is jy platgeslaan, lê en bloei jy in die donker? Sê in geloof : “Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand, al het ek tot ‘n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig.” (8) Dis die wapen van elkeen wat aan Jesus behoort! Hiermee kan ons die spoke die hasepad laat kies!


*Natuurlik het hierdie profetiese boodskap in die eerste plek gegaan oor die situasie van die vervalle Jerusalem. Jerusalem sou weer opstaan en herbou word! Vers 11! "Die dag wanneer jou mure herbou word, dié dag sal jy nie onder die vyand se wet staan nie." Hierdie troos is duidelik egter ook vir God se kinders van alle eeue bedoel, soos Openbaring ons immers leer is almal wat aan Jesus behoort, die nuwe Jerusalem, die bruid van die Lam! 


God kan inderdaad spookgeteisterde bouvalle weer herstel!
(Foto - Kolmanskop)



Vrydag 02 Januarie 2015

KYK NA DIE SKAAL

- en kry hoop vir 2015 en nog verder!

Aan die begin van die jaar het ons almal tog maar sekere verwagtinge of planne, al stel ons dit nie formeel in vaste nuwejaarsvoornemens nie... Jy wil dalk hierdie jaar jou huis klaar renoveer, vasbyt en ’n nuwe motor koop, jou boerdery uitbrei, weer studeer, aandag aan jou liggaam gee en begin fiks word... Of moed bymekaar skraap en vir die meisie begin kuier wat jy al lankal in die oog het, dalk trou, ‘n gesin begin... Met al hierdie planne en projekte is daar natuurlik niks verkeerd nie en as kinders van God kan ons ook sy seën vra op hierdie dinge. (mits dit binne sy geopenbaarde riglyne en wette geskied) Tog is daar een demper, een vals noot, een lang skaduwee wat nie ontvlug kan word nie.... VERGANKLIKHEID! Alles en almal is verganklik, als word oud, gaan tot niet, raak stukkend of sterf... ! Als en almal sal vergaan! Eendag word die nuwe huis ‘n murasie, iewers word die gesondste liggaam siek, alle geliefdes word net tydelik aan ons geleen voor die dood hulle kom wegvat... (Dis weer persoonlik vir my die onderstreep, toe ek die afgelope vakansietyd vier begrafnisse moes hanteer...) 

Vir die hartseer werklikheid van nietigheid, tydelikheid en verganklikheid het net die Bybel ‘n troosvolle boodskap. Die Bybel leer daar is ‘n onverganklike erfenis wat eendag vir God se kinders wag! As ek wedergebore is, is ek ‘n kind van God. As kind van God is ek ‘n erfgenaam! “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” (Romeine 8:17) 

HOE LYK DIE ERFPORSIE?

Die erfenis wat vir God se kinders wag behels twee groot sake volgens Romeine hoofstuk 8 :

~ die hele skepping gaan tot volmaaktheid herstel word.

~ God se kinders gaan tot volmaaktheid herstel word.

1) DIE SKEPPING gaan volmaak herstel word.

God gaan sy hele stukkende skepping weer vernuwe en heelmaak tot iets beter as wat dit ooit was! Die hele skepping gaan weer voldoen aan sy oorspronklike plan. Dit gaan weer “goed” wees in die oortreffende trap! (Daar is twee beduidende uitsonderings : die afvallige engele m.a.w. Satan en sy demone en mense wat die evangelie van Jesus nie aanvaar het nie, sal nie deel wees van hierdie herstel nie, maar onder die ewige toorn van God ly.) Hoekom moet die skepping herstel word? Die eenvoudige rede is - hierdie skepping is tans nie soos God bedoel het dit moet wees nie. Dis vol ellende en verganklikheid. Ons sien die gevolge in alle vorme van verwoesting en dood... van die besoedeling van ons oseane, uitroei van woude tot by die grusame stroping van renosters... Waar kom dit vandaan? Wat is die diepste oorsprong van al hierdie euwels en ellendes? “Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.” (Romeine 8:20) God het dit gedoen - God het hele aarde vervloek as gevolg van die sondeval! Die mens se straf het gelei tot die vervloeking van die hele skepping. Die skepping ly direk en indirek onder die gevolge van die mens se rebelllie! Maar net so, die mens se verlossing deur Jesus lei weer tot die hele herstel van die hele skepping. Anders gesê: Jesus se verlossingswerk het geweldige implikasies, kosmiese implikasies - dit lei tot die herstel van mens sowel as die ganse skepping. Jesus se bevrydingswerk lei daartoe dat ons en die skepping herstel word tot God se oorspronklike bedoeling, nl. om in volmaaktheid eer aan God te bring. Die skepping sien met gespanne verwagting hierna uit, sê Paulus deur die treffende stylfiguur van personifikasie! “Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.” (Romeine 8:19-21) 

Die ellende wat ons nou in die skepping sien en in die alledaagse lewe ervaar is nie God se bedoeling nie. God gaan dit nie daar laat nie. Die skepping weet dit as’t ware en verlang na die herstel wat God gaan bring. Die nuwe hemel en die nuwe aarde. Hoe dit presies gaan lyk weet ons nie. (beslis nie minder mooi as die huidige nie) Wat ons wel weet, die nuwe hemel en nuwe aarde is die plek waar volmaakte harmonie sal heers, waar geregtigheid sal woon, waar God se wil volkome sal geskied! ( 2 Petrus 3:13)

2) GOD SE KINDERS gaan volmaak herstel word.

As iemand Jesus as Verlosser aanneem, dan word hy volledig vrygespreek van alle skuld, volledig vergewe deur God, volledig deel van God se volk. Ons verlossing is vas en seker en afgehandel. Maar in ‘n sekere sin is ons verlossing nog nie voltooi nie. Ons liggame is nog steeds aan verganklikheid onderworpe. Ja, wat ons liggame betref leef ons nog steeds onder die vloek van die sondeval. Daarom word kinders van God siek, daarom is ons vol gebreke en skete, gaan ons liggame daagliks agteruit en sterwe ons uiteindelik. Ons leef nog in ’n onvolmaakte wêreld; daarom beleef ons hartseer en lyding. Om hierdie rede is daar by die kinders van God ’n verwagting en versugting dat ons verlossing voltooi sal word. Net soos by die skepping is daar ’n hoopvolle versugting by God se kinders na ’n volmaakte bedeling.’n Versugting en ’n uitsien na die volle heerlikheid wat nog openbaar moet word. God se kinders kan met reg uitsien na die volle verlossing. 

Wat behels hierdie volle verlossing waarna ons kan uitsien? Die verlossing van ons liggaam! (Romeine 8:23 OAV vgl. ook NIV) God se kinders gaan volmaakte verheerlikte liggame ontvang, bevry van alle verganklikheid en sondigheid. Sonder skete en kwale, sonder siekte en ellende, sonder smart en dood. Sonder enige sonde! Ons weet nie nou al presies hoe hierdie liggame sal wees nie, maar ons kry ‘n belangrike leidraad in Filippense 1:20-21, waar ons lees : “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” Ons gaan liggame hê soos Jesus se verheerlikte opstandingsliggaam. ‘n Liggaam, maar ‘n liggaam sonder beperkings en gebreke!

Wat ’n heerlike toekoms wat wag vir elkeen wat aan Jesus Christus behoort. Ons gaan nie spoke wees wat op wolke ronddryf nie, maar mense met volmaakte liggame wat God gaan bewonder in ‘n nuwe skepping!

Wat is die praktiese funksie van hierdie heerlike waarheid wat Paulus hier in Romeine 8 bespreek? Dis bedoel as troos en aanmoediging vir God se kinders wat nou swaarkry weens hulle geloof! “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie." (Romeine 8:18) Daar wag vir God se kinders ‘n heerlike toekoms wat ons huidige hartseer, pyn en ellende na niks sal laat lyk!



Paulus se woorde hier bring ’n skaal in mens se gedagte. (daardie balansseerskale) Dis asof hy wil sê : Kyk ’n bietjie na die skaal. Pak op aan die eenkant al die lyding, hartseer, vervolging... (ja, dit wat ons nou beleef is erg...) Maar pak nou op die anderkant van die skaal die heerlikheid wat vir God se kinders wag.... die volmaakte skepping, volmaakte liggame sonder gebreke, letsels of beperkings. Geen brille, pille of krukke. Geen emosionele pyn of hartseer. Volmaakte paradysgeluk en harmonie. Kyk hoe staan die skaal nou!

Op hierdie heerlikheid hoop ons met volharding, want God wat nie kan lieg nie het dit beloof! As die glans van hierdie heerlikheid vir ons deur die geloof ‘n werklikheid word, dan verdof ons swaarkry amper tot iets byna niksseggend in vergelyking met hierdie heerlikheid wat wag. 

Kyk na die skaal en kry perspektief! Mag die werklikheid van hierdie skaal ook vir jou perspektief gee op die onbekende 2015 wat wag... onthou dit veral in tye van swaarkry, pyn, onreg, vervolging, ellende... Maar maak veral seker dat jy ‘n erfgenaam van God is!




[Die voormalige spogdorp, maar nou spookdorp, Kolmanskop is 'n sigbare simbool van verganklikheid.]