BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Bitterheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bitterheid. Wys alle plasings

Vrydag 10 Mei 2019

RUT : RAMP TOT TRIOMF

Rut is ‘n aangrypende liefdesverhaal. Min liefdesverhale begin egter op ‘n droewiger noot. (Lees gerus nou eers Rut hoofstuk 1) Dit begin met gebrek, droogte en dood! Dit lyk asof als wat vir hierdie familie verkeerd kan loop wel verkeerd loop. Jy ken dalk ook sulke tye... 

En dis nie net droogte en dood nie, maar so tussen die lyne is hier nog ook ‘n ander tragedie. Moenie vergeet nie, die twee seuns wat nou gesterf het, was getroud met Moabiete! Dit was duidelik teen God se wil. “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.” (Deut 23:3) 

NAOMI WORD MARA 

Kyk bietjie na die verhaal uit Naomi se oogpunt. Sonder man, sonder seuns, sonder ‘n toekoms…Wanneer als so verkeerd loop, gooi dit jou lewe onderstebo en dan gebeur daar dikwels, seker die ergste wat met ‘n mens kan gebeur – wantroue oor God se liefde! In geen onduidelike taal nie, verwyt Naomi vir God! Hoor haar pyn:

“Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai." (1:13) 

“Hierop het Naomi vir hulle gesê: "Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 
My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring." (1:20,21) 

Hartseer en stukkend! Haar lewe was vol en nou is dit leeg! Sy is so stukkend dit tas haar hele identiteit aan – Sy wil nou Mara genoem word en nie meer Naomi nie. Die kontras tussen die twee name is baie groot. Naomi beteken, “lieflik, aangenaam”. Mara beteken “bitter”. 

GODDELIKE INGRYPE;MENSLIKE KEUSES! 

Gelukkig is dit nie die einde van die verhaal nie. Dit eindig nie by bitterheid en depressie nie. Die Here doen wonderlike dinge in hierdie uitsiglose hopelose situasie. Maar belangrik : In hierdie wonderlike dinge wat God doen is mense en hulle keuses betrokke. 

Twee belangrike keuses is opvallend. Rut se keuse om saam met Naomi te gaan. Dis nie net ‘n stukkie medemenslikheid nie, dis eintlik ‘n radikale bekering. Sy was ‘n heiden Moabiet, maar sy bekeer haar tot die lewende God. “Maar Rut het geantwoord: "Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei." (1:16-17) Hierdie keuse van Rut, wat nie ‘n maklike keuse was nie, het verreikende gevolge gehad. Heerlike gevolge wat sy nooit sou kon besef nie. 

Maar daar is ook Boas se keuse. Boas was ‘n verlangse familielid, ‘n welvarende man en Rut het gaan koringare optel op sy lande. En om die lang storie kort te maak (want dit het nie sommer als vanself gebeur nie), het Boas besluit om homself oor Naomi te ontferm en haar losser te word (volgens destyds se gebruike) en met haar te trou! 

Dit alles loop uit op ‘n heerlike einde. Ons lees:

“Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ‘n seuntjie in die wêreld gebring. 

Die vrouens sê toe vir Naomi: "Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 
en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring." 
Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem. 
Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: "‘n Seun is vir Naomi gebore." Obed was die voorvader van Dawid.” (4:13-17) 

Wat ‘n geweldige kontras met die begin van die verhaal. Van ‘n doodloopstraat na ‘n belofteryke toekomspad. Van ‘n dodelys, na ‘n geslagsregister. In die begin hoor ons ‘n bitter verwytklag teen God uit Naomi se mond, hier hoor ons lofsange aan die Here uit die mond van ‘n klomp vroue! 

God se werke en menslike keuses is in verweef met mekaar. Ja, dis uiteindelik God wat ‘n ramp verander in ‘n triomf – en tog maak Hy gebruik van menslike keuses. Menslike keuses is belangrik! Jou keuses het gevolge! Dink weer aan Rut se keuse om die ware God te dien en die afgode te los. Dink aan Boas se keuse om hom oor hierdie arm meisie te ontferm. Dit het heerlike gevolge gehad! 

Is jou keuse op die oomblik die regte keuse in die lig van God se Woord? 

En onthou die belangrikste keuse ooit – ‘n keuse vir Jesus! Dis ‘n eenmalige keuse, maar ook ‘n voortdurende keuse! Hoe kies jy nou? 

KLEIN SKARNIERE 

Iemand stel dit so : “Groot deure draai op klein skarniere!” Een regte keuse, hoe gering dit ook al mag blyk, het reuse positiewe gevolge vir jou en vir baie ander mense. Baie groter as wat jy dalk sou besef. In jou ellende en hartseer. Daarom - kies reg, kies volgens wat God wil. Kies volgens die Woord! Doen die regte ding, doen wat jy weet jy moet nou doen, al lyk dit hoe onbelangrik of nederig. As Rut nie bereid was om die nederige werk te gaan doen om te gaan are op tel op die lande nie, sou sy nooit by Boas uitgekom het nie! 

Doen jy net dit wat jy kan en moet, God sal die res doen! 


GOD SE GROTER PLAN : DUBBELE PLUS!

Die boek Rut is ‘n boodskap van hoop in tye van swaarkry en ellende. Gebrek, droogte en dood en ja, ook mislukking en sonde is nie die einde nie! Ook jou ellende en hartseer wat jy nou beleef is nie die einde nie! Hartseer omstandighede en gebeure het nie die laaste sê in ons lewens nie. God verander ‘n minus in ‘n plus. Maar God se plan is ook groter as wat ons as mense kan besef en verstaan. Hoe so? Die verhaal van Rut is natuurlik baie meer as ‘n liefdesverhaal tussen twee mense. Dis baie meer as ‘n mooi einde van "hulle het lank en gelukkig gelewe..."  Dis die liefdesverhaal van God vir sondaars. Dis uiteindelik verhaal van God se Seun, want hierdie geslagsregister aan die einde van die boek koppel die bekeerde Moabiet, Rut aan Jesus, via die voorvader Dawid. Rut word ‘n groot-groot oumagrootjie van Jesus! (Sy sou dit in haar leeftyd nooit kon droom of raai nie) Matteus noem ook spesifiek haar naam in sy geslagsregister van Jesus aan die begin van sy evangelie! (Matt 1:5) Die noodsituasie van ‘n gewone Israelitiese familie word deur God in ‘n seën vir ‘n hele volk (Dawid), maar meer nog in ‘n seën vir die wêreld omskep. (Jesus) God het ‘n minus in ‘n plus verander en uiteindelik in ‘n dubbele plus!* 

God ken jou persoonlike detailomstandighede en gryp genadiglik in, maar God sien ook die groter prentjie van Sy RAADSPLANNE wat ek en jy nie nou verstaan nie. Dis ‘n heerlike troos!

*W.S.Prinsloo, Die boek Rut

Donderdag 10 Julie 2014

LEEF IN VREDE

- omdat die God van vrede my Vader is.

Vrede is seker een van die skaarste artikels wat daar is. Daar’s ‘n groter gebrek aan vrede as aan kos of enigiets anders op aarde. Niemand kan hierteen stry nie. Die afwesigheid van vrede is sigbaar (en hoorbaar) elke dag, maar nog meer dikwels is dit ’n stille onderstroming - daar is net ’n skyn van vrede in baie situasies en op baie gesigte - onder kook dit van woede, onmin en onvrede. Hierdie hartseer toestand heers vanaf die sondeval... Die heel eerste gesin beleef ’n moord. (Rapport en Huisgenoot sou toe al ‘n bestaan kon maak uit geweldsensasie...) Ons leef in ’n wêreld waar daar geen harmonie is nie. Rusie, afguns, stryd, gemene wedywering, miskenning, benadeling, vertrapping, hartseer, verskeurdheid is deel van die mens se alledaagse bestaan. Haat, onmin en geweld kom voor tussen huweliksmaats, gesinslede, kollegas, volke en nasies! (En ja... ook binne in gemeentes...) Elke nuusbulletin bevestig hierdie afgryslike feit. Byna elke slaapkamer ook... Onvrede en onmin is die kenmerk van ’n wêreld sonder God. ’n Mensdom wat vervreemd is van God en op sy eie aankarring. Die wêreld met sy gebrek aan vrede is die uiterste teenpool van God se Koninkryk. God se Koninkryk is ’n Koninkryk van vrede en harmonie. 

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matteus 5:9) is dus ’n baie diep betekenisvolle uitspraak. Vrede is ’n fundamentele saak in die Koninkryk van God. 

Slegs vredemakers sal toegang hê tot die Koninkryk, want slegs vredemakers kan waarlik kinders van God genoem word.

Wie en wat is ’n vredemaker? Die klem val nie hierop dat God wil hê ons moet klein diplomaatjies wees wat orals tussen mense bemiddel nie. So hoe moet ons die term vredemaker verstaan? Die term vredemaker kry vir ons betekenis in die lig van die tweede helfte – “hulle sal kinders van God genoem word”. God is die God van vrede, God self is die groot vredemaker. Wat beteken dit? Ons lees hiervan direk in Kolossense 1:19,20 “God het besluit om met sy volle wese in Hom (Jesus) te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” God het deur die bloed van Jesus vrede gemaak met ons as sondaars. Deur Sy Seun in ons plek te straf het God versoening bewerk tussen Hom en ons. Ons sondes is regverdiglik gestraf, so die lug tussen ons en God is gesuiwer. Die gevolg van die sterwe van Jesus is dat God nie meer ons vyand is nie maar ons vriend. Nie meer ’n bedreiging nie, maar ’n skuiling. Ons staan nie meer in ’n misdadiger-Regter verhouding nie, maar ’n kind-Vader verhouding. 

EK KAN VREDE EN VERGIFNIS SKENK OMDAT (EN NET OMDAT) EK DIT ONTVANG HET!

Hierdie Saligspreking fokus ons aandag dus weereens op die Here Jesus self. God het Hom gestuur om vrede te maak - dit is reeds by sy geboorte aangekondig. “Vrede op aarde!” Jesus self het die vrede tussen ons as skuldiges met God bewerk. Wat Jesus vir my gedoen het moet ek uitleef. Teenoor alle mense, selfs ook my vyande. (dit sou insluit die taxibestuurder, "spietkop", politieke opponent, rugbyteenstander... almal wat my ontstig of benadeel) Vrede maak beteken dus eerstens dat mens met jou eie vyande vrede maak en alle stryd teen hulle opskort. Wat God dus vir ons gedoen het (vrede gemaak met ons) verwag Hy dat ons ook met ons vyande sal doen.

PRAKTIESE KWESSIES

  • Hoe kan ek ’n vredemaker in praktyk wees? Ek moet eers my eie behoefte aan vrede raak sien! Het jy al besef jy is van nature ‘n vyand van God en het daarom sy vergiffnis en vrede nodig? Slegs deur geloof in Jesus en sy bewerking van vrede aan die kruis. Jesus het die vrede volledig bewerk (daar’s geen uitstaande boetes wat ek nog moet betaal nie), ek moet net in dankbaarheid en blydskap aanvaar dat die boete wat Hy betaal het genoegsaam was. Vrede met God word deur die geloof verkry en geensins deur enige prestasie nie. (Romeine 5:1) Vrede met God is ’n voorvereiste om prakties as vredemaker te kan leef.
  • Die kind van God, wat vrede het met God, kan nie anders as om ‘n vredemaker te wees nie, want sy Vader is dan die God van vrede. ( hulle sal kinders van God genoem word) Hoe lyk vrede maak in die praktyk? Die kind van God haat onmin, disharmonie, geweld, gebroke menseverhoudings nie net omdat dit lyding veroorsaak is nie, maar omdat dit in stryd met God se wil en karakter is. Daarom doen hy alles in sy vermoë om vrede te bevorder - deur ander hulle kwaad nie toe te reken nie, deur ander se misstappe oor te sien of as dit nodig is dit uit te praat, deur rusie te vermy, selfs as dit nodig is onreg te ly, die minste te wees, stil te bly. (Laasgenoemde is baie doeltreffend om die meerderheid van potensiële konflikte te ontlont! - probeer dit)

Die ding van vrede maak is beslis rof en seer, maar ons kan nie anders nie!

  • Natuurlik, ons moet geen illusie hê nie om ’n vredemaker te wees in hierdie wêreld waar geen vrede en geregtigheid is nie, is ’n ontsagwekkende taak, wat geweldige eise stel. Dit kom neer ons moet die beginsels van die Koninkryk uitleef in ’n omgewing en tussen mense wat niks omgee vir God en sy beginsels nie. dit gaan baie kos, dit gaan ons seermaak! Jesus spel vorentoe die praktiese konsekwensies van hierdie beginsel uit in Matteus 5:39-44 “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie." "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,” Sjoe, dis meer as ‘n mond vol!*  Mag die Gees die implikasies hiervan in elkeen se situasie vir ons duidelik maak... Dit behels o.a.’n vaste beginsel besluit om aan almal goed te doen - ook die wat my haat en misbruik, en om heeltemal af te sien van die wêreldse beginsel van vergelding. “Maar,” is die vraag - “gaan ek nie geweldig skade ly en seerkry nie?” Ja, jy gaan! God se kinders is inderdaad weerlose lammers onder wolwe maar onthou ons vrede is te danke aan die Een Lam wat vir ons geslag is. En alles skade gely het ter wille van ons...
  • Die saak van vredemaak is juis iets wat in werking kom wanneer daar verskil van opinie is, onreg gepleeg word en vergelding oorweeg word. Dis in sulke situasies dat ons graag verskonings uitdink om nie Jesus se opdrag te gehoorsaam nie, maar juis in sulke omstandighede moet ons wys dat ons kinders van God is, mense wat heeltemal anders dink en anders opereer as die wêreld...
  • Nodeloos om te sê - Hierdie gesindheid van vredemaker wees is belaglik in die oë van die wêreld. Dit lyk soos roekelose selfvernietiging. Maar nou ja al die Saligsprekinge lyk onsinnig vir die wêreld, trouens die hele evangelie van die gekruisigde is ’n dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word is dit die krag van God. (1 Korintiërs 1:18)

NIE OPSIONEEL NIE, MAAR PRIORITEIT!

Vrede met alle mense is ’n prioriteit vir elke kind van God. “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Romeine 12:8) Dit behoort so te wees omdat elke kind van God per definisie iemand is wat vrede ontvang het deur die vergifnis wat daar in Jesus is. ’n Kind van God kan nie iets anders wees as ’n vredemaker, vrede soeker, vrede liefhebber nie. 

EN DAARDIE BITTERHEID?

Ons sal die negatiewe ook moet stel - wie houtgerus kan voort leef in onmin, haat, konflik met sy medemens kan nie ’n kind van God genoem word nie. Die vertroeteling van jare se bitterheid wys net een ding : JY SELF HET NOG NIE VREDE MET GOD NIE! Wie onmin liefhet kan nie deel wees van God se Koninkryk nie, want God is ’n God van vrede.

*Natuurlik het ons hier te doen met 'n KONINKRYKSBEGINSEL wat mens laat duisel! Ons moenie hier verstrengel raak in letterlike detail nie. Die punt wat Jesus wil tuisbring is baie duidelik : God se kinders moet in situasies van onreg, op 'n onverwagte (bykans kreatiewe?) manier reageer, omdat die genade wat ons ontvang het, ons aanspoor om ander (ons vyande) deur liefde te oorwin, eerder as om die wêreld se opsie van vergelding en wraak na te volg. Ons reageer dus nie volgens ons "regte" nie, maar volgens 'n radikale andersheid van liefde! Daarin lê geweldige getuieniskrag!

Destyds het die Romeinse soldate wat Palestina beset het, die mag gehad om inwoners te dwing om hulle te help. (Dink aan die geval van Simon van Cirene wat gedwing is om die kruis te dra.) Dink nou wat sou die reaksie wees, as 'n gehate Romeinse soldaat jou gedwing het om 'n swaar pak goed vir een myl te dra en dan sê jy vir hom : "Kom ek dra dit sommer vir jou nog 'n myl!" Hierdie soldaat sou moes besef dat jy aan 'n groter Koninkryk as hy behoort en 'n groter Heerser as hy dien! So bring jy binne 'n situasie van onreg, eer aan God! Ongelooflik!(Sien Sinclair B. Ferguson se THE SERMON ON THE MOUNT)