BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Prins van Vrede. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Prins van Vrede. Wys alle plasings

Vrydag 11 November 2016

PRINS TRUMP

- Sal uiteindelik ook geen heil bring nie.



Die wêreld is steeds in ‘n toestand van ontnugtering, skok en verbasing. “Dit kan tog nie wees nie...” Ek kan my probeer indink dis seker soos daardie gevoel wat ek jare terug in Pretoria-Wes gehad het, toe my bakkie bykans voor my oë gesteel is. "Is dit als net ‘n nare droom?" Die selfversekerde Clinton met haar liberale feministiese aanhangers en groot geld Wallstreet ondersteuners het hulle gereed gemaak vir ‘n juig partytjie (Newsweek tydskrif het reeds ‘n oorwinningsuitgawe gepubliseer gehad), maar word toe gekonfronteer met die ondenkbare werklikheid van ‘n loesing. Kort tevore het die Amerikaanse pers gespekuleer dat Bush waarskynlik die laaste Republikeinse president was, maar nou is daar ‘n Demokratiese dermuitrygery oor wat verkeerd geloop het... (“Ja, julle moes nie so vir arme Bernie Sanders bevark het nie, julle moes nie so baie op minderhede gefokus het terwyl julle die wit werkersklas vergeet het nie, die Clinton elite is uit voeling met wat werklik in Amerika aan die gang is...”) Meningspeilers loop (weer) met rooi gesigte... (soos na die uitslag van die Brexit referendum) Wys jou net weer die beperkings van menslike wysheid en insig...

Maar daar is natuurlik ook miljoene Amerikaners vir wie dit die aangenaamste verrassing in jare was. (Miljoene het immers entoesiasties vir hom gestem)  En 'n groot deel van hierdie opgewondes is Christene, ook soms Christene in ander lande...


Behoort Christene baie opgewonde te wees en hoe opgewonde?

Net enkele perspektiewe vanuit 'n Bybelse oogpunt :

Temper maar bietjie die vreugde. In baie evangeliese kringe is daar groot blydskap dat Trump vir Clinton en haar liberale gespuis ‘n loesing gegee het. Ek moet eerlik wees, dit gee my ook ‘n plesier om te sien hoe ‘n "underdog" ‘n geveg wen. En dis nog ‘n groter lekkerte as die verloorders die polities korrekte liberale elite is. Tog meen ek dat ons as Christene hierdie lekkerkry gevoel oor ‘n Clintonverloor maar moet temper met nugtere en realistiese Bybelse denke. 

Beslis kan Trump moontlik ‘n positiewe invloed hê op kernbelangrike besluite soos die vul van vakatures in die Amerikaanse hooggeregshof. Daaroor moet ons bly wees. Beslis kan ons versigtig hoop dat Trump (veral onder die positiewe invloed van Mike Pence) ‘n rigting kan inslaan wat meer Christen vriendelik sou kon wees as wat Hillary sou doen...

maar... Pasop vir ‘n misplaaste euforie. (Onthou ook sommer maar weer vir Animal Farm...) Die waarskuwing van Psalm 146 is nou meer van pas as ooit tevore.

“Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. 
Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. 
Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, 
wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid;" (Ps. 146:3-5)

Christene wie se vreugde nou geen perke ken nie, moet pasop vir dieselfde fout as wat die Obama ondersteuners ‘n klompie jare terug gemaak het. Hy was die kandidaat wat positiewe veranderings aan ‘n oorlogsmoeg Amerika beloof het... Hy het vroeg in sy termyn sommer al ‘n Nobelprys vir vrede ingepalm... Helaas, vandag is daar nog steeds geen vrede in die wêreld nie. Trump gaan onmoontlik nie al die probleme kan oplos en die veranderinge kan bewerkstellig wat hy beloof het nie. (Ek vermoed hyself weet dit reeds, trouens ek dink maar hy is bloot ‘n slim populis wat sy boodskap by sy gehoor aanpas om mag te verkry. Amerikaanse Zuma tipe as jy my vra...)

Trump se oorwinning onderstreep net die geestelike bankrotskap van die Amerikaanse samelewing. Die feit dat beide groot kandidate Trump en Hillary mense met bedenklike morele waardes is, laat jou wonder oor die stand van die Amerikaanse samelewing. Geld morele waardes glad nie meer as ‘n aanbeveling nie? Dit wys ook op die oppervlakkigheid van Amerikaanse Christenskap – beide partye se kandidate sou hulleself as Christene beskryf. Wat het geword van die begrip Christen? Dit laat mens ook wonder oor die onderskeidingsvermoë van baie sogenaamde “evangelicals” wat Trump opgehemel het. Om uit nood vir iemand te stem is een saak, maar om iemand met ‘n gruwelike morele rekord so aan te prys, grens aan ‘n die-keiser-se-klere tipe storie. Christene vir wie die waarheid saakmaak kan nie met entoesiasme daaraan deelneem nie.

Gelukkig het ons as Christene ons eie Prins!

Ons kan opnuut weer bevestig dat ons ons heil in Hom alleen vind en ons verwagting op Hom alleen stel. Hy maak nie leë beloftes nie, Hy het nie geraamtes in die kas nie, Hy soek nie die goedkoop eer van mense nie, maar doen die wil van sy Vader en dit tot ons ewige welsyn en voordeel! Oor Hom kan en moet ons onbeskaamd en onbeperk juig!

Saterdag 22 Junie 2013

JESUS EN DIE SWAARD

- Wat maak ons met sy skokkende uitspraak in Matteus 10:34 en verder?

"Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.  Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees."

“Swaard en tweedrag”, kan dit regtig die woorde wees van die Prins van Vrede? Pas dit nie dalk eerder by Mohammed en sy Islam nie?

Die nag toe Jesus gebore is het die engele met hemelse note uitgeroep: “Vrede op aarde...” Inderdaaad het Jesus ‘n boodskap van vrede gebring en ander aangemoedig om vrede na te jaag. In die bergrede leer hy tog duidelik: “Geseënd  is die vredemakers want hulle sal kinders van God genoem word.” Jesus se hele doelwit was tog vrede. Hy het juis mos  gekom sodat daar vrede tussen ons en God kan wees. Jesus het ook sy dissipels uitgestuur met ‘n boodskap van vrede. Ons lees daarvan in die begin van hierdie hoofstuk: "As julle in ‘n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit.  As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe.” (Matteus 10:11,12)

Maar hoe nou? Ons hoor dan nou dat Jesus self sê dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard en tweedrag! Weerspreek Jesus homself of het die skrywer Matteus iewers ‘n liederlike fout begaan?

Kom ons kyk bietjie mooi na hierdie gedeelte in sy konteks.  Jesus stuur sy dissipels op ‘n sendinguitreik en berei hulle voor vir die teenstand wat hulle te wagte kan wees.  Hy praat openhartig oor die vervolging wat voorlê, maar herinner hulle ook daaraan dat hulle nie mense met beperkte mag hoef te vrees nie, maar eerder God, wat liggaam en siel in die hel kan laat vergaan. In die lig hiervan spoor Hy hulle aan om sy naam openlik te bely. Hierdie dinge kan hulle dalk vir hulle vreemd op die oor val en daarom gee Hy nou ‘n belangrike perspektief op sy koms en doel.  Dis asof Hy wil sê: “Julle moet nie verbaas wees oor al hierdie moeilikheid wat ek vir julle voorspel nie, julle moet verstaan dat my boodskap  en bediening noodwendig tot vyandskap en tweespalt gaan lei.”

Ons kry in Jesus se woorde ‘n rowwe verwerkte aanhaling uit  die Ou Testamentiese profeet  Miga. “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword. Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” (Miga 7:6) Dit gaan daaroor dat die profeet weet dat hy teenstand en vyandskap van sy eie mense sal moet verduur (dalk sy vrou – sien vers 5) om in die geloof te volhard.

Jesus bring verdeeldheid omrede nie almal sy boodskap van vrede aanvaar nie. Sommige reageer positief en bekeer hulle, ander verset hulle bly onbekeerd en verhard. Reeds toe Jesus die twaalf apostels uitgestuur het, het Hy met hierdie dubbele reaksie rekening gehou en hulle daarop voorberei. Daarom sê vir hulle:

“As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug.
As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.
Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp." (Matteus 10:13-15)

Die probleem is nie by Jesus se boodskap nie, maar by die mense wat sy boodskap van bekering en vrede verwerp!

Omdat nie almal Jesus se boodskap aanvaar en voor Hom wil buig nie, omdat sommige vir Jesus en ander teen Jesus kies, bring dit verdeeldheid binne ‘n gemeenskap, ja, selfs binne families, huisgesinne en eggenotes! Die evangelie bring nou reeds ‘n mate van skeiding in aanloop tot die groot en finale skeiding wat eenmaal by die wederkoms sal plaasvind. Die eggo van Sodom en Gemorra (15) is ‘n belangrike leidraad. Net soos die engel wat Lot hulle kom waarsku het, aangedring dat hulle hulle moes afskei van hulle ongelowige verwante en stadsgenote in die aangesig van die naderende oordeelsvuur, net so skei Jesus mense af van die ongelowiges deur die verkondiging van sy bekeringsboodskap!

Jesus se woorde oor die familie in vers 37 klink baie hard. “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.” Wat sou dit beteken? Natuurlik, Jesus begeer nie familietwis nie, maar Hy wil tog nie hê dat mense ter wille van familie se opinie en invloed die ewige lewe moet misloop nie!* Om Jesus te volg kom eerste, al moet ek dan nou my ongelowige ouers of rebelse kinders ongelukkig maak en myself hulle gramskap op die hals haal!

Neem standpunt in vir Jesus in alle omstandighede, anders is jy nie werd om Hom te volg nie!

Die rede vir die ervaring van verwerping deur jou eie mense kry ons in vers 38. Jesus sinspeel duidelik hier op sy eie kruisdood. Ja, Jesus is die bewerker van ewige vrede, maar juis sy boodskap en optrede het die swaard eerstens oor Homself gebring.  Jesus se pad na vrede het via die bittere en eensame kruisdood geloop. Sy verkondging van God se wil het daarop uitgeloop dat Hy op wrede manier gekruisig is. Jesus is deur die wêreld gehaat en vervolg, en daarom moet ons wat aan Hom behoort ook bereid wees om gehaat en vervolg te word.

Vra jouself : Word ek vervolg oor my Christenskap?

Ons keuse om ter wille van Jesus vervolg te word, is maar net die verlengstuk van sy eie lyding in hierdie wêreld! Die lojaliteit teen die gekruisigde Jesus maak ook ons onaanvaarbaar vir ander mense!

Jesus se woorde moes baie skokkend vir die dissipels gewees het! Dit klink nou asof volgelingskap van Jesus net tot onmin, geweld en vernietiging sal lei!  Is dit dan nog die moeite werd om Jesus te volg? Bring dit nie maar net moeilikheid nie? Daarom bemoedig Hy hulle in vers 39. Wie op aarde sy lewe verloor (dit verwys na al die vyandskap en teenstand wat God se kinders moet verduur, selfs tot die dood toe) sal dit juis vind! Die tydelike verliese wat ons lei omdat ons Jesus volg, word opgevolg  met ewige wins! Die wins van die Koninkryk!

Jy sê jy wil Jesus volg. Dis goed so. Maar wees realisties, wees voorbereid om harde bene te kou, dink mooi voor jy sommer net "ja", sê.  Hou rekening met die gevolge. (sien Lukas 14:28ev) Hier op aarde gaan dit vir jou nie altyd vrede bring nie.  Moet onder geen illusie leef nie. Moenie van die mensdom beter behandeling verwag, as wat Jesus te beurt geval het nie. Maar weet ook, dis oor en oor die moeite werd om jou openlik met die verworpe gekruisigde Jesus te identifiseer! By Hom alleen vind ons die lewe!

Jesus is nie ‘n populistiese people’s pleaser  of ‘n beginsellose verdraagsaamheidsvraat nie!

“Jesus en die swaard”, impliseer nie ‘n wrede Jesus nie, maar ‘n Jesus wie se kompromislose liefdesboodskap van bekering en vergifnis vir die meerderheid van sondaars onaanvaarbaar is - daarom het die swaard op Hom (en sy volgelinge) neergekom! Jesus bring noodwendig verdeeldheid, want niemand kan neutraal staan teenoor Hom nie!

Aan wie se kant is jy?


*Eksegese : erkenning aan Jakob Van Bruggen