BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Troosboek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Troosboek. Wys alle plasings

Saterdag 20 April 2019

DIE MOEDSKEP VISIOEN

(Vir Israel Folau)*

Een prentjie is meer werd as ‘n duisend woorde! Hier in Openbaring 1:9-20 kry ons ‘n besondere prentjie – ‘n Moedskep-visioen** wat die swaarkry Christene van die destydse Klein Asië moes vertroos en bemoedig. En dis heerlik aktueel… dis vir ons! Vir Christene wat ly in Noord-Korea of Iran, maar ook kinders van God wat in die materialistiese en goddelose Westerse wêreld deur hulle eie families of die samelewing gespot, uitgestoot en vervolg word. Ouens soos Israel Folau wat weens hulle getrouheid aan die Woord skade ly en beledig word... 


TROOSBOEK

Onthou Openbaring is ‘n troosboek en nie ‘n detail voorspellingsboek nie. Die Christene aan wie Johannes geskryf het, het ‘n groot behoefte aan troos en bemoediging gehad. Hyself natuurlik ook. (Johannes deel in die swaarkry wat insluit vervolging en onregverdige behandeling, armoede, uitbuiting, geweld – Johannes self is immers verban na die eiland Patmos ter wille van sy geloof) En wat ‘n heerlike troos kry hulle… Dié troos is nie oppervlakkige clichés soos : “Ag, toemaar dinge is nie so erg nie.” Nie, “Ag onthou elke donker wolk het ‘n silwer randjie” nie. Nee! Dit gaan oor grondige evangeliese troos. Die troos wat Jesus se kruis en opstanding en ewige heerskappy ons bied. Die prentjie wat Johannes sien en waarmee hierdie Christene bemoedig word is die prentjie van die verheerlikte en oorwinnende Christus! Hy wat wel dood was maar nou vir ewige lewe! 

JESUS BY ONS!

In hierdie moeilike omstandighede moet kinders van God weet, Jesus is nie ver of afsydig nie, maar midde in sy kerk – tussen die staanlampe! By ons in ons nood en smart! Jesus is vir altyd betrokke by sy kerk en teenwoordig in sy ware kerk! (13) Jesus is die Seun van die Mens – (Daniël 7) Hy is die Messiaanse bevryder wat beloof is! 

KYK!

Nou word sy voorkoms vir ons in detail beskryf. Natuurlik moet ons dit nou nie verstaan as ‘n letterlike foto van Jesus nie, maar as funksionele beeldspraak om iets van sy ONBESKRYFLIKE HEERLIKHEID EN MAJESTEIT EN MAG te beklemtoon! Woorde ontbreek! 

Net kortliks (maak self jou Bybel hier oop by Openbaring 1): 

Die lang kleed en goue band (13) – Jesus se hoëpriesterlike waardigheid! Sy werk as Hoëpriester is voltooi! 

(14) – witheid dui op sy wysheid, insig, kennis. Hy weet van als en Hy het die oplossing en raad wat nodig is. 

Oë soos vuur – deurpriemende insig, alwetendheid, niks bly vir Hom onsigbaar en niks kan vir Hom weggesteek word nie! 

(15) Voete soos gloeiende geelkoper – Gepoleerde kopervoete beeld Jesus se standvastigheid en krag uit. Hy kan nie wankel nie. (Hy sal nie koue voete kry en vlug en ons in die steek laat nie...) Ook sy volmaakte suiwerheid. Wat ‘n troos in ‘n wankelende onsekere en onreine vuil wêreld! Jesus se heerlike andersheid staan uit! ‘n Magtige stem soos baie waters – dink aan die gedruis van ‘n indrukwekkende en asemrowende waterval! ‘n Gerusstellende geluid, God se stem! Goddelike gesag en Goddelike ontsagwekkende heerlikheid. 

(16) Die sewe sterre in sy regterhand – dui op die sewe leraars van die sewe gemeentes. Sy regterhand is sy sterk hand. Hy alleen beskerm en beheer sy kerk, soewerein! ‘n Skerp swaard – Jesus het die bevoegdheid om met sy woorde te oordeel. Jesus is die Een wat sy kerk aanspreek, bemoedig en oproep tot bekering. Jesus se woorde sal uiteindelik staande bly, Jesus het die laaste sê! Sy hele voorkoms is soos die son op sy helderste – Hierdie verblindende heerlikheid van Jesus herinner mens aan die gebeurtenis toe Moses van die berg Sinai afgekom het (toe sy gesig so geblink het) en ook aan die gebeurtenis by die verheerliking op die berg. Jesus se gesig wat van heerlikheid blinkende skyn. (Matt 17) Die onbeskryflike heerlikheid en majesteit van Jesus kan nie met mensetaal geteken word nie! 

Hierdie angswekkend heerlike visioen laat Johannes verstom en verbyster! Geen woorde nie! Hy val neer soos ‘n dooie. 

SY VERTROOSTENDE HAND EN WOORDE

Wat nou? Nou is dit so vertroostend. Jesus vat aan Johannes. ‘n Gerusstellende hand op sy skouer en gerusstellende woorde : “Moenie bang wees nie!” Hoe dikwels het Jesus hierdie woorde vir sy bang dissipels op aarde gesê – nou na sy opstanding hoor Johannes dit weer! Mag ek en jy dit hoor… en moed skep! Mag jy nou op hierdie oomblik in jou toestand van vrees, hartseer, verwerping of eensaamheid sy hand voel, sy stem hoor... 

DIE EERSTE EN DIE LAASTE

Asof die visioen nie genoeg was nie, gee Jesus in woorde weer ‘n bevestiging waarom Johannes en al God se kinders nie hoef te vrees nie. “Ek is die EERSTE EN DIE LAASTE!” Dieselfde betekenis as die “Alfa en die Omega” (8) Hierdie term kom uit die profeet Jesaja. 

Kom ons blaai bietjie na Jesaja: 

“Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (Jesaja 41:4) 

“So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.” (Jesaja 44:6) 

“Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.” (Jesaja 48:12,13) 

In al hierdie kontekste gaan dit oor God wat die Skepper is van als en almal, oor God wat volkome in beheer is van sy Skepping. God is die oorsprong van sy Skepping en bereik self sy doel met sy Skepping. Niks en niemand kan Hom keer om sy doel te bereik en sy planne uit te voer nie. Absolute soewereine gesag. Jesus, as ware God het hierdie Goddelike gesag en mag! 

Jesus se oneindige gesag en onbeperkte mag word bevestig deur die feit van sy OPSTANDING! 

Die opstanding is die onomstootlike bewys van Jesus se Goddelike heerlikheid en almag. Sonder die opstanding sou dit als maar net mooi woorde wees! Niks kan Jesus se gesag en mag inperk of belemmer nie! Hy lewe vir ewig! Hy en Hy alleen het die sleutels van die dood en die doderyk. Juis dit wat die grootste vrees en onsekerheid by die mens bring – die dood, staan nou onder beheer van Jesus! Wat ‘n heerlike troos vir hierdie Christene wat doodgemaak is vir hulle geloof. Jesus het beheer oor die dood, so selfs as ons sou sterf bly die dood skadeloos, want ons is dan by Hom in heerlikheid! Dis nie die duiwel of ander magte of enige aardse tiran wat finale beheer oor die dood het nie. 

Die Opstandingswaarheid bevry ons van 
ALLE VREES! 


(Maar onthou, die duiwel lieg vir ons en wil ons laat glo dat hy in beheer is en dat hy kan dood en verwoesting saai soos hy wil....) 

Al die heerlike waarhede oor Jesus – sy volledige versoeningswerk aan die kruis, sy almag, sy beloftes oor die ewige erfenis en volmaakte heerlikheid wat vir ons wag… is gebou op die kernwaarheid van die letterlike liggaamlike opstanding uit die dood! ( Twyfel jy oor die opstanding? Kliek – ENIGSTE VERLOSSER) Jesus se opstanding uit die dood op die derde dag is die fondasie van die verlossingsevangelie. Omdat dit waar is, is die evangelie waar. Dis waarom ons feesvier. Ons weet Hy het sonde, Satan, dood en hel oorwin! 

Sy dissipels was daarvan oortuig… hulle het aan Hom gevat, gesien hoe eet Hy brood en vis…. Ons is ook daarvan oortuig deur die Woord en die werk van die Gees in ons harte! 

Kyk vandag weer opnuut na die verheerlikte Jesus, voel sy hand, hoor sy Woorde en skep moed! 

* Israel Folau is die Australiese rugbyspeler wat vervolg word, bloot omdat hy Bybelse waarhede op Instagram herhaal het. Dit het die gay aktiviste die harnas ingejaag. Dis ook heel moontlik 'n voorskou van die tipe vervolging wat nog op alle evangeliese en Bybelgetroue Christene wag.
**Jan du Rand, p131


Vrydag 18 Januarie 2019

TROOS, TROOS!

- God gee die enigste ware troos wat ons nodig het. 


“Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes."  Jesaja 40:1 (OAV) 

Watter heerlike woorde! Troos, die uitkoms is hier!* 

Ons is almal mense wat troos en bemoediging nodig het. Ons is stukkende mense in ‘n stukkende wêreld. Sonde, siekte, swaarkry...die sterflikheid wat soos 'n swaard oor ons koppe hang! Hier word troos juis vir ons aangekondig. En as ons troos ontvang het, het ek en jy die opdrag om aan ander troos en bemoediging te bring. (meer daaroor volgende week) Jesaja hoofstukke 40-55 is ‘n besondere troosboek. Hierdie gedeelte, 40:1-11 is die inleiding – die temas wat hier aangeroer word, word vorentoe verder uitgewerk in die res van die hoofstukke. 

Agtergrond en konteks. Die volk Israel sit in ballingskap in verre Babilonië. Dis ‘n hartseer ellendige situasie. Ver van hulle land en mense. Jerusalem is ‘n puinhoop. Die tempel is afgebreek. ‘n Verwoeste stad, verwoeste lewens, uitsiglose toekoms! (Dis dalk hoe jy nou voel?) Maar juis in hierdie situasie kom God met ‘n aangrypende en verreikende troosboodskap! Hoor mooi! 

Hierdie troos is iets konkreets. God se troos is iets baie meer as net medelye betoon, meer as net mooi woordjies of ‘n whatsapp met ‘n prentjie van blomme, gesiggies of vissies! Dis nie leë trooswoordjies soos : “Ag, dis nie so erg nie! Ag, jy sal een van die dae beter voel” nie. Dis die vaste versekering dat God ‘n einde aan die ballingskap sou maak en dat daar vir God se volk ‘n nuwe begin gaan kom. Dit gaan ‘n nuwe eksodus/bevryding wees. Daar gaan ‘n nuwe pad deur die woestyn gemaak word. (3) Letterlik ook in die sin dat net soos daar ‘n woestyn was tussen Egipte en Kanaän, daar ook ‘n woestyn was tussen Babel en die land. As God is troos is dit meer as net woorde. Dis ‘n nuwe begin! 

Hierdie troos is vir mense wat erg gesondig het. Die volk het juis weens sonde en God se oordele daaroor in soveel ellende beland. Hy het gestraf. Maar nou bring God uitkoms. Die straf is nou verby! (2) Die troosboek maak dit verder duidelik dat God self iets aan die sondeprobleem gedoen het. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (44:22) Goddelike troos vind plaas wanneer ons sondeprobleem aangespreek word, want dis juis die kern van al ons probleme! God het die vergifnis bewerk en daarom vra Hy bekering in reaksie daarop. In die res van die hoofstukke is daar duidelike oproepe tot bekering. Sonder bekering kan jy nie troos en vrede verwag nie. “Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here.” (48:22) “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (55:7) Onthou net : Troos en vergifnis is nie goedkeuring van sonde nie. Dink maar aan Jesus se hantering van die owerspelige vrou in Johannes 8. Hy veroordeel haar nie. Hy skenk vryspraak en kwytskelding, maar met ‘n duidelike opdrag om nie verder te sondig nie! 

Hierdie troos is vir verganklike mense. In hierdie gedeelte hoor ons ‘n moedelose skeptiese stem. Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: die gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. (6,7) Hier hoor ons twyfel. Hoe kan hierdie wonderlike beloftes waar word, ons is so nietig? Maar hoor die heerlike versekering… “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (8) Die mens is nietig maar God se Woord, God se beloftes staan onvernietigbaar, onveranderlik vas tot in ewigheid! God se Woord is effektief! Dit waarborg resultate! “Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (55:10,11) 

Hierdie troos is ‘n Godgewerkte en Godgewaarborgde troos. Dis God self wat ingryp omdat Hy getrou is aan sy Verbond “Vir my volk sê” (1) is ‘n sinspeling op die verbond. Dit word later eksplisiet gesê. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep.” (Jes 42:6a) God bewerk en waarborg die verlossing, want Hy is die almagtige! (5) As God besluit om iets te doen kan niemand dit keer nie! “Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. Ook hierna is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.” (43:11-13) 

Hierdie troos is ‘n evangeliese troos, die troos in Jesus! Dit gaan ooglopend oor veel meer as die einde van die fisiese ballingskap. Dit gaan oor die bevryding wat Jesus sou bring. Daar is baie aanduidings hiervan in hierdie hoofstukke self. Die belofte van die wegbereider in Jesaja 40:3,4 is deur die koms van Johannes die Doper vervul. “In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom." Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het: "Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit." (Matteus 3:1-3) Die sentrale figuur in Jesaja 40-55 is die Lydende Kneg van die Here, Jesus Christus. Die kern van hierdie troos kry ons so pragtig beskryf in 53:5,6. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” Jesus se plaasvervangende sterwe. Hy wat sy lewe vir sy skape gegee het. Jesus self is die Goeie Herder, wat juis ook vir die swakkes omgee en hulle versorg. 

"Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie." (11) 

Die enigste ware troos is die troos wat Jesus se kruisiging en opstanding vir ons bring! Dis die troos van die evangelie wat sê : Jou enorme skuld is klaar betaal, Ek het jou skande en verleentheid uitgewis! Ek maak ‘n nuwe begin met jou! Hierdie troos is so oneindig ryk! Dis meer as net vergifnis. 

Ons Verlosser sê ook : 

Ek gee jou krag! “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” (40:29-30) 

Jy hoef nie bang te wees nie. “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (41:10) 

Ek sal jou nooit vergeet nie. “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie." (49:15) 

Ek is nie meer vir jou kwaad nie. “Net ‘n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. In ‘n opwelling van toorn wou Ek ‘n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met ‘n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser.” (54:7,8) 

BELANGRIKE VRAAG 

Wat kos die troos? Hoe kry ekself dit? Die antwoord is duidelik : Kom, kom kry die troos en versadiging alles verniet! “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (55:1) Dis ‘n uitnodiging wat in die geloof aangeneem moet word. Dis ‘n uitnodiging van Jesus self. (vgl. Matteus 11:28-30) 

KOM KRY DIE TROOS,NOU!

Hierdie Goddelike troos moet in ons gebroke wêreld verkondig word. Ons moet dit self glo en hierdie troos ook aan ander bedien. (9) 

Ek wil jou graag aanmoedig. Doen jouself ‘n reuse guns en gaan lees biddend Jesaja hoofstukke 40-55! 

*Jesaja 40:1-11 (NAB) 

. 1 Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. 

· 2 Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes. 

· 3 Iemand roep: "Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God! 

· 4 Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ‘n gelykte word en elke koppie ‘n vlakte. 

· 5 Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê." 

· 6 Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: 

· 7 gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. 

· 8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig. 

· 9 Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: "Julle God is hier! 

· 10 Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom. 

· 11 Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.

"...strome op die droë grond" (Jesaja 40:3)

Maandag 23 Januarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (1)

- Kyk na die skildery en skep moed!

Maak oop en lees Openbaring 1:1-6 ( ’n oop Bybel langs jou is ’n vereiste om hierdie studies te volg)

Om te begin : MOENIE BANG WEES VIR OPENBARING NIE! Die boek Openbaring bekleë gewoonlik een van twee plekke in baie Christene se denke :

~ Dit word geïgnoreer en eenkant geskuif. (“Ag, dis te moeilik, dit maak my deurmekaar, los dit maar vir spesialiste!”)

of

~ By sommige is daar amper ʼn buitensporige en fanatiese belangstelling in die boek. Dit word amper ’n geestelike stokperdjie. Heeldag word daar na DVD’s gekyk en boeke gelees oor die onderwerp van die eindtye en vervulling van profesieë! (En met almal wat nie met my siening van interpretasie saamstem nie, word daar hewig gestry!)

Nie een van bogemoemde benaderings is tog reg nie!

Ons moet wel erns maak met die boodskap van Openbaring. Die lees van hierdie boek dra ’n belofte van seën! (Vers 3) Dis tog deel van God se Woord wat Hy vir ons welwese bedoel het.

PRENTJIES

Aan die anderkant is Openbaring nie ’n eie agenda opsigself nie. Ons sal sien dat Openbaring niks anders sê as die res van die Bybel nie, maar slegs uitbrei op sekere waarhede en dit op ʼn ander manier sê. Terloops, die meeste beelde wat in Openbaring gebruik word, kom in elk geval uit die Ou Testament! Nog belangriker : Die hoofinhoud van Openbaring is die evangelie self! ’n Mens sou amper kon sê dat Openbaring vir ons die evangelie in prentjies teken. Die evangelie gaan oor die goeie nuus met betrekking tot Jesus en sy werk! Reeds hier in die aanhef val die klem reeds baie duidelik op Jesus en sy verlossingswerk. Kyk weer na Vers 5 en 6. Jesus self is die doel en hoogtepunt van die geskiedenis!


Wat wil Openbaring nou eintlik sê? Vertel dit ons van die laaste dae? (En wanneer is dit?) Kom ons maak eers seker oor ’n paar belangrike vertrekpunte.

~ Openbaring is in die eerste plek aan sewe regte gemeentes (Efese, Smirna ens.) gerig. (Hierdie gemeentes was in die streek wat vandag Turkye is) Dit het gegaan oor sake wat hulle op daardie oomblik geraak het, binne ’n spesifieke situasie. Dis ’n boek vol bemoediging en vermaning in ʼn konteks van vervolging en die bedreiging van afvalligheid wat hulle konkreet beleef het. Dit moes hierdie Christene wat swaargekry het vermaan, vertroos en bemoedig. Dink dan net logies : As Openbaring hoofsaaklik en eksklusief gehandel het oor dinge wat in ons tyd (2000 jaar later) sou gebeur, watter nut sou dit vir hulle hê? Watse troos sou dit vir hulle bring? Wat sou dit help om vir hierdie mense te vertel van Iran se kernplanne of Europa se staatkundige bedeling? Vanuit die oorspronklike bedoeling en konteks kan ons sê :

Openbaring is ’n TROOSBOEK, nie ’n VOORSPELLINGSBOEK nie!


Ons kan en mag nie Openbaring lees asof dit Nostradamus of Siener van Rensburg is nie! Die hoofinhoud van hierdie troos is : die vestiging van en erkenning van God se alleenheerskappy op aarde soos dit reeds in die hemel is. (Mounce) Dis alles seker vanweë die oorwinning van Jesus!
~ Inderdaad gaan Openbaring oor die Laaste Dae. Maar wat bedoel die Bybel met die Laaste dae? Die Nuwe Testament beskou die hele tydsduur na Jesus se kruis en opstanding as die eindtyd of Laaste Dae. Die evangelie gebeurtenis in Jesus se kruis en opstanding was die beslissende draaipunt wat die hele geskiedenis in twee dele sou verdeel. Met Jesus se eerste koms en werk het die Laaste Dae aangebreek. Twee belangrike teksgedeeltes is Handelinge 2:14-21 en Hebreërs 1:1-3 . In Handelinge 2 kry ons die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag en Petrus se daaropvolgende toespraak. Hierin verwys Petrus dat wat op daardie tydstip gebeur het ’n vervulling is van die profeet Joël se voorspelling oor die laaste dae. (Sien vers 17) Die tydperk van die Laaste Dae was dus met die uitstorting van Heilige Gees reeds ’n werklikheid! (Die laaste dae is dus nie ’n tydperk wat eers in 1948 of 2000 begin het nie) In Hebreërs 1 sê die skrywer duidelik : “in hierdie laaste dae het God met ons gepraat deur die Seun” Vantevore het God Homself op baie maniere (deur profete, drome ens.) geopenbaar, maar Jesus was God se finale spreke. Deur Jesus het God alles aan ons bekend gemaak wat nodig is. (En natuurlik het ons God se openbaring deur Jesus in ons Bybel)

Jesus se eerste koms na die wêreld het die LAASTE DAE ingelui.


Jesus se koms na die aarde dui die beslissende moment aan van die begin van die vestiging van God se koningsheerskappy op aarde. Dis die Laaste Dae!
~ Ons moet verstaan wat is ’n profesie. Profesie (as ons ook gaan kyk na die Ou Testamentiese profete) het nie net gegaan oor toekomsvoorspellings nie, maar ook oor morele onderrig. Profesie is God se Woord vir mense in ’n bepaalde tyd en omstandighede. Deur sy werk ’n profesie te noem laat Johannes ons verstaan dat hierdie boek dieselfde gesag dra as die groot werke van die Ou Testamentiese profete! Dit gaan ook nie net oor ’n verre toekoms nie, maar het dwarsdeur die geskiedenis ’n boodskap vir daardie tyd se Christene gehad... dus ook vir ons!

Met bogenoemde as agtergrond, hoe moet ons dan nou Openbaring interpeteer?

Daar is twee belangrike beginsels wat ons in gedagte moet hou :

~ Hou rekening met die literatuursoorte (genres) in die Bybel. (Ons pas dit eintlik almal alreeds toe - ons lees die verhaal van die kruisiging wat geskiedskrywing is, anders as die Barmhartige Samaritaan wat ’n gelykenis is.)

In Openbaring kry ons die volgende literatuursoorte: Briewe, Profetiese uitsprake, Lofliedere, Apokaliptiese Visioene. Elke Bybelleser weet reeds dat ons nie elke Bybelgedeelte letterlik kan opneem nie. As Jesus sê : “Ek is die deur van die skape” weet ons tog presies wat Hy bedoel! Ons dink tog nie dat Jesus van hout gemaak is nie! Om dus alle beelde en getalle in Openbaring skielik letterlik te wil opneem is absurd! (Dink bietjie : Wil jy vir ewig ’n letterlike pilaar wees? - vgl. Openb 3:12)

 

~ Hou rekening met die sentrale tema en opbou van die hele Bybel. Die hele Bybel loop uit op die hoogtepunt in Jesus Christus! ( Kol 1:15-20; Ef 1:10) Ons kan die visioene nie los verstaan van die hoof evangelie gebeurtenisse naamlik Jesus se kruis, opstanding en wederkoms nie. Openbaring sê nie vreemde goed nie, dit sê presies dieselfde as die sentrale Bybelse boodskap, met Jesus as die kern, maar dikwels op ’n apokaliptiese manier. (Met beelde en simbole)

Ten slotte : Ons gaan na Openbaring kyk soos na ’n skildery. Om die geheelboodskap en grootsheid van ’n skildery te waardeer en te geniet, hoef mens nie altyd elke onderdeel te ontleed nie. Dis die geheelindruk wat mens aanspreek en ’n booodskap in jou hart deponeer! Ons gaan dus nie elke teks in detail probeer ontleed nie (en as ons oor detail betekenisse verskil, maak dit ook nie soveel saak nie) Ons gaan kyk na die groot temas wat saamvloei om aan ons ’n heerlike en magtige boodskap van oorwinning oor te dra! Sien nou reeds raak : "Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen." (Openb 1:6)

Mag die evangelie so nog helderder vir jou skyn, mag elkeen dit omhels en verder daarin groei en daaroor bly wees!

Lees verder oor Openbaring. Kliek op Maak oop by Openbaring (2)

 

(Bronliteratuur : Du Randt, Die A-Z van Openbaring; Goldsworthy, The Gospel in Revelation)