BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Belydenis van geloof. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Belydenis van geloof. Wys alle plasings

Donderdag 16 Februarie 2017

KEUSE TEEN DIE PALEISLEWE!

- Geloof kies teen gerief en sonde, maar vir die beloftes van God!


Dis maklik om te sê : “Ja.” Dis maklik om te sê : “Ek glo.” Maar om geloof op die regte manier te bely vra meer as net woorde, dis ‘n voortdurende keuse en lewenslange toewyding. Om geloof te bely is ‘n nuwe leefstyl wat mens dikwels in die moeilikheid bring. Om geloof te bely is om ‘n daaglikse pad saam met die Here loop. 

Ons het ‘n groep mense wat openlik gaan bely dat hulle in Jesus glo. Dis ‘n baie groot geleentheid. Dis ook ‘n goeie tyd om te vra : “Hoe raak geloof my lewe op ‘n praktiese vlak?” Baie misverstande oor geloof – geloof help jou om nie siek te word nie, geloof maak dat jy meer reën kry, geloof maak jou besigheid voorspoedig... NEE! Kom ons kyk wat sê die Bybel. As ons oor geloof wonder is Hebreërs 11 natuurlik ‘n baie geskikte hoofstuk om te raadpleeg, want hier kry ons ‘n beskrywing van geloof in aksie. Geloof word vir ons op ‘n baie praktiese manier uitgebeeld soos dit gelyk het in die lewens van die geloofsreuse van die ou Testament. Ons lees hoe geloof gefunksioneer het in die lewens van Abel, Henog, Noag, Abraham... Hierdie geloofshelde het nie oor geloof gefilosofeer nie, hulle het geloof in God en sy beloftes prakties geleef. Een van die besondere geloofshelde was Moses. Kom ons kyk watter praktiese effek het geloof in sy lewe gehad na aanleiding van Hebreërs 11:24-28 :

~ Geloof bring Moses by radikale keuses. “Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê." (24,25) Ons ken mos die geskiedenis van Moses – die baba in die mandjie, die Egiptiese prinses... sy bevoorregte grootwordjare in die paleis. Dit het beteken dat Moses die gerieflike lewe van ‘n Egiptiese prins kon geniet. Al die rykdom, plesier en voorregte van die Egiptiese paleis was syne... Maar op ‘n stadium moes Moses kies : die gerieflike paleislewe of ‘n lewe saam met God se volk. Dit moes ‘n baie moeilike besluit gewees het. ‘n Mens kan jou indink hoe sy vriende of dalk selfs sy “prinsesma” by hom gepleit het. “Dink mooi Moses, besef jy wat gaan jy verloor as jy die paleis verlaat en jou by die verdrukte Israelitiese slawe gaan voeg ? Dan kan jy maar koebaai sê vir al die skatte van Egipte, die beskerming van die Farao, die plesier van die hoflewe, die mooi Egiptiese meisies...moenie dom wees nie, Moses. Onthou die Israeliete is slawe, saam met hulle gaan jy net swaarkry.” Maar omdat Moses God se beloftes geglo het, het hy ‘n keuse gemaak om die lewe van ‘n prins in Farao se paleis vaarwel te roep. Hy kies teen die tydelike verbygaande genot van sonde, hy kies vir ‘n lewe van swaarkry. Geloof in God en sy Woord bring jou by ‘n keuse teen sonde, want jy besef dat die plesier van sonde van korte duur is, maar die vreugde wat God gee vir ewig duur! 

GELOOF VEREIS ‘N KEUSE VIR EN KEUSE TEEN!

~ Geloof laat Moses ‘n nuwe waardasie maak. “Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.” (26) Moses moes kies tussen rykdom en Christus. (Ja, Jesus Christus het natuurlik toe nog nie aarde toe gekom nie, maar ‘n keuse vir God se beloftes was mos ‘n keuse vir Christus!) Let mooi op - Hier in Hebreërs 11 kry die “Prosperity Gospel” ‘n uitklophou. Geloof in God en in Jesus wat sou kom, het nie vir Moses rykdom gebring nie, inteendeel dit het hom juis rykdom laat verloor. Moses kon baie ryk gewees het as hy soet en stil in Farao se paleis gebly het. Hy sou ook ‘n invloedryke persoon met mag en voorregte gewees het. Maar nee, hy gehoorsaam God se opdrag om die volk uit te lei en verloor al sy kanse vir rykdom en prestige. Hoe het hy dit reggekry? Hy het uitgesien na God se beloning! Geloof laat ons die onsigbare sien. (11:1) Dit maak dat ons meer waarde heg aan Christus en die ewige lewe wat Hy vir ons bring, as aan tydelike aardse ambisies, plesiere en rykdom. Geloof heg meer waarde aan God se beloftes as aan ons pelle se opinie! Geloof sien dit wat ander mense rondom jou nie sien nie. Geestelike realiteite weeg meer as sigbares! Ander mense dink, Jesus is maar vaal en vervelig. Maar die een wat glo, besef dat om Jesus te ken oortref alles in waarde. (Vgl. Filippense 3:8) Die ongelowiges kyk vas teen die plesier en rykdom van die wêreld. Die gelowige word gefassineer deur die heerlikheid van Jesus en die beloning wat Hy bring! Glo jy? Hoe kosbaar is Jesus vir jou? 

GELOOF LAAT JOU ANDERS KYK NA LEWE!

~Geloof bevry Moses van vrees en laat hom volhard. “Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.” (27) God roep Moses basies om in opstand te kom teen die heidense koning en die volk uit te lei. Dis ‘n baie gevaarlike opdrag en kon enige tyd sy lewe gekos het. Deur geloof het Moses God gesien. Omdat Moses geglo het, was God en sy beloftes vir hom ‘n groter werklikheid as Farao en sy dreigemente. As ek regtig God se beloftes glo, dan volhard ek op die pad van heiligmaking al word ek gespot, uitgestoot of gedreig. Geloof bevry mens van mensevrees en menslike opinies sodat ek volhardend die Here kan gehoorsaam. Dit beteken dat as my vriende se sienings bots met God se Woord, dan kies ek eerder om God te gehoorsaam as om gewild of in te wees! Dis baie duidelik of iemand glo; die gelowige begin God se opdragte implementeer en sy wil eerste te stel. 

GELOOF BEHELS VOLHARDING

~Geloof bring Moses by ‘n vaste vertroue in God se beloftes. “Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.” (28) God het besluit om die eersgeborenes in Egipte uit te delg. Hy gee toe die opdrag deur Moses dat al die Israeliete ‘n lam moet slag en die bloed aan die deurkosyne moet smeer... So sou hulle lewens gespaar word in daardie nag van verskrikking. Dit het menslike gesproke nie na ‘n baie logiese plan geklink nie. Hoe sou ‘n bietjie bloed aan ‘n deur die doodsengel kon weghou? Moses het God egter geglo en die opdrag laat uitvoer. Geloof bring ons by ‘n persoonlike vertroue op God se verlossingsplan in Jesus. Geloof laat my sien dat Jesus se eenmalige offer aan die kruis genoeg is en my vir altyd teen die Goddelike wraak op sonde beskerm. 

GELOOF IS 'N VASTE VERTROUE IN GOD SE BELOFTES

Geloof is nie bloot ‘n korrekte napraat van sekere feite nie, maar ‘n keuse vir ‘n nuwe leefstyl en lewensbeskouing. Geloof bring nie gerief en gemak nie, maar maak ons getroue volgelinge van Jesus in die harde werklikheid van die alledaagse lewe, sodat ons eendag die beloofde beloning kan verkry!

Vrydag 14 Februarie 2014

MEER AS BOEREMATRIEK

- openbare belydenis van geloof maak net sin as dit ‘n saak van hart en mond en lewe is!

Paulus se groot begeerte en wens (wat hy so duidelik in Romeine 10 uitspreek) is dat sy eie volksgenote gered sal word! Dit lê hom baie na aan die hart. (Dis seker ook die begeerte van elke wedergeborene vir sy naaste.) Hy is diep besorg oor sy mense, dat al is hulle godsdienstig en al het hulle die wet, hulle nog steeds verlore is, sonder hoop vir die ewigheid! Hoor sy versugting : “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry." Die OAV stel dit treffender : “hulle probeer hulle eie geregtigheid oprig”

Ja, alle mense (ook goeie godsdienstige verbondsmense) het nodig om gered te word. Dis so, want almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie. Alle mense staan inderdaad onder die oordeel van God.

Daar is slegs twee opsies oor hoe om gered te word : die mens se eie manier of God se manier. 

Ons kan dit ook noem die mens se plan of God se plan. Eersgenoemde lei tot mislukking en teleurstelling, laasgenoemde tot ewige heerlikheid!

MENS SE PLAN

Die mens se plan is ‘n selfhelp plan. Ek probeer om God tevrede te stel, ek probeer om God se guns te wen deur sekere dinge self te doen. ‘n Mens kan dit vergelyk met die klim van ‘n LEER. Deur sekere prestasies en pogings probeer die sondaar self opklim na God. Ek probeer met menslike inspanning loskom van my sondeskuld. 

Kom ons kyk na ‘n paar van die sporte van hierdie leer :

Godsdienstigheid – sommiges dink omdat hulle lidmaat is van ‘n kerk, darem so af en toe kerk toe kom of sekere godsdienstige pligte nakom, al hulle sondes vergewe word.

Sakramente – baie mense redeneer dat as hulle gedoop is en die nagmaal mag gebruik is hulle outomaties kinders van God.

Seremonies – ‘n groot getal mense dink dat ‘n paar kerklike seremonies en rituele hulle gaan red. Hoe anders verklaar mens so baie se totale afwesigheid by die byeenkomste van gelowiges, maar die enorme gewildheid van kerklike begrafnisse? Dis niks anders as bygeloof nie...

Moralisme – ek dink my mooi lewe en goeie waardes sal vir my vrede bring by God. Ek probeer minder vloek, ek probeer om “Christelik” op te tree, ek voel darem ek is nie heeltemal so sleg soos party ander mense wat ek ken nie. Ek dink die Here sal my in die hemel toelaat, want ek help mos darem graag ander mense. (Waarskynlik maak die meerderheid van kerkmense staat op moralisme, al besef hulle dit self nie)

Moenie ‘n fout maak nie, mense wat op hierdie selfhelp leer probeer opklim na God is dikwels baie opreg en vol ywer! Maar dit help niks nie. Dis wat Paulus van sy eie volk sê. (kyk weer na vers 2 hierbo) Maar hoeveel die ywer ook mag wees, die leer van menslike verdienste sal altyd te kort wees...

Dis juis die ironie, die leer van menslike verdienste is oneindig lank en vermoeiend, maar dit bly altyd te kort om die Goddelike standaard van geregtigheid te bereik...

GOD SE PLAN

God se plan, God se oplossing is naby, dis hier by ons. Ek hoef nie ver te gaan soek nie! (8) God se plan is Sy Seun Jesus Christus wat vir sondaars gesterf het en ons volle straf (wat ons verdien het) gedra het aan die kruis en weer opgestaan het uit die dood! Anders gesê, GOD STEEK SY HAND EERSTE UIT na ons deur Jesus Christus. 



God inisieer en bewerk ons redding. Ons moet wel God se plan aanvaar, ons moet dit glo – nie net uit gewoonte of met ons verstand nie, maar met ons hart! Dis ‘n keuse wat my diepste binneste raak. Dis ‘n ontmoeting met die lewende Jesus deur die geloof! Hierdie geloof sal natuurlik ook sigbaar word. Ek bely dit met my mond. Dit is behels nie net om ja te sê nie, maar om my keuse om Jesus te volg telkens weer openlik met my mond en dade te bevestig. Dis om nie net 'n eenmalige belydenis in die kerk nie, maar ook om môre by die skool as ek voor keuses gestel word, openlik te sê : “Jong, ouens ek kan nie saam met julle lag vir hierdie vuil grap nie, ek kan nie saam met julle hierdie ding doen nie, ek gaan nie na hierdie smerige fliek kyk nie, want ek behoort aan Jesus!” Om so my aan Jesus se kant te skaar is iets heel anders as moralistiese selfredding, dis heilige en lojale dankbaarheid vir my redding uit genade! 

Belydenis is ‘n daaglikse voortgaande aksie. Dit beteken dat ek nie skaam moet wees om smaad en spot ter wille van Jesus Christus te verduur nie!

AFGRYSLIKE TELEURSTELLING OF SEKER HOOP?

As ek op die leer van menslike planne staatmaak is daar geen hoop nie. Op die oordeelsdag wag daar ‘n afgryslike teleurstelling. As ek egter God se plan, Jesus as Here aanvaar, kan ek seker wees van my bestemming. Ek sal nie teleurgestel word nie. “Die Skrif sê tog: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie." (11) Wat beteken dit om in Hom te glo? Hoe kom ek tot geloof in Hom? Ek roep Sy Naam aan. Ek vra Hom om my te red en vertrou dat Hy sy beloftes sal hou. “want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word." (13)

Ongelukkig is belydenisaflegging (of selfs ook die belydenisdoop) vir baie mense bloot ‘n seremonie. In die ou dae het hulle selfs gepraat van boerematriek, asof dit jou sleutel tot die volwasse lewe, trou en kinders kry sou wees! Hoor mooi, as jou belydenisaflegging bloot ‘n seremonie is, dan is jy maar weereens net besig om ‘n trappie te klim op die leer van eie geregtigheid. Dis nutteloos, dit kan jou nie red nie – en dis my plig om jou te waarsku hieroor... Maar as dit wat jy met jou mond bely (het), waarlik die oortuiging van jou hart is, dan het dit groot waarde, want hoor die belofte van God... “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.” (Romeine 10:9,10)

Baie geluk aan :


[Mariselle Stofberg, Charis van Eeden, Jacquiline Fryer, Karien Ströh, Marius Smit, Dannè Stoman, Ju-An Smit, Jacqueline Boshoff, Elrika Grobbelaar, Michael Faulds, Colette Rossouw]