BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Aanbidding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Aanbidding. Wys alle plasings

Vrydag 09 Maart 2018

DIE AVONTUUR VAN WARE GEBED

- Bid met die fokus op Hom wat op die troon sit en beleef hoe die Gees werk en die Woord versprei! 


Verlede Sondag het ons ‘n kykie gekry in die hemelse troonsaal. Die setel van alle mag en gesag, die plek van alle beslissings en besluite wat die heelal en die geskiedenis raak, maar ook ons elkeen persoonlik. Ons het saam met die apostel Johannes gesien – GOD IS OP DIE TROON. Ons het gesien en gehoor dat die hele kerk van alle eeue, die engele en die ganse skepping gefokus is op een saak : die aanbidding van God! Die spilpunt waarom die heelal draai is nie menslike drome, belange en behoeftes nie, maar die eer van die oneindig heerlike en glansryke God! Daar is altyd rede om God te loof – as Skepper en as Verlosser. 


HOE BID ONS?

Maar hoe raak dit ons nou prakties? Hoe raak dit spesifiek ons gebedslewe? Maak dit ‘n verskil aan die inhoud van ons gebede? En dis terloops sommer ‘n goeie vraag : “Hoe lyk my en jou gebede? Pas dit in by die groter prentjie. Is ons gebede nie dikwels maar ‘n inkopielys of ‘n gesanik oor probleme en ellendes nie? Mis ons gebed nie al te dikwels die doel waarvoor gebed daar is nie?” Helaas dis inderdaad dikwels die geval. En dis seker die groot rede waarom gebed so ‘n frustrasie is en waarom gebede onbeantwoord bly, want God gaan nie toelaat dat ons Hom inspan vir die verwesentliking van ons eie selfsugtige ideale nie. Dis hierdie verkeerde fokus van gebed wat mense dan uiteindelik moedeloos en rebels maak, “Ag, nee wat gebed werk nie” en dan hou ons heeltemal op met bid. Natuurlik mag en moet ons ons eie behoeftes aan God bekend maak. Ons kry immers so ‘n opdrag in Filippense 4. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Fil. 4:6) Maar ons gebedslewe as geheel moet gefokus wees op die eer van God wat op die troon sit en nie op selfbelang en selfsug nie. 

Dis tog die duidelike strekking van die Onse Vader! Allereers gaan dit oor God se naam, God se koninkryk en God se wil en daarna oor ons behoeftes juis binne die konteks van die najaging van hierdie Godverheerlikende doelwitte! 

Van nature stel ons ons eie begeertes eerste! My geluk, my behoeftes, my veiligheid, my belange, my klein wêreldjie. Dis eers wanneer die Heilige Gees ‘n mens se hart waarlik verander via die wedergeboorte dit daar ‘n passie in ons harte begin groei vir God se koninkryk, God se plan, God se eer.

AVONTUUR!

Ware gebed wat gefokus is op God se eer is iets wonderliks! ‘n Reuse avontuur! God maak ons so deur ons gebede deel van sy plan om sy koninkryk te laat kom. Ons beweeg so saam met God se bedoeling en God se agenda! En hoe laat God sy koninkryk kom? Deur die verkondiging van die Woord en die werk van die Heilige Gees. En daarom is dit opvallend in Handelinge hoe Gebed, die Woord en die Heilige Gees saamgaan.

GEBED, WOORD EN GEES

Ons het dit treffend ‘n werklikheid word in Handelinge 13:1-3. 

“Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. 
Toe hulle op ‘n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: "Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het." 
Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.” 

Wat gebeur hier? Die leiers van die gemeente kom bymekaar vir vas en gebed. Hulle dien op so ‘n wyse God. Dis binne so ‘n konteks van Godgefokusde gebed waar die Heilige Gees werk en leiding gee en ‘n nuwe koers aandui oor hoe die Woord van God kan versprei. Paulus en Barnabas word afgesonder om die Woord te verkondig. Dit loop dan uit op die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas. En dink aan al die heerlike gebeure en kragtige deurbrake tydens daardie reis... 

Dis natuurlik nie die eerste soortgelyke situasie in Handelinge waar die verband tussen God gesentreerde gebed en die Woord duidelik na vore kom nie. Ons vind ‘n soortgelyke samehang tussen gebed, die Heilige Gees en die Woord in Handelinge 4:23-31. Dit vind plaas na die dreigemente van die Joodse Raad teenoor Petrus en Johannes om die apostels te probeer stilmaak. Dan vertel hulle dit aan die ander. En wat doen hulle dan? Hulle bid. Maar kyk net die fokus van die gebed. Geen spoor van selfbelang, geen fokus op hulle vrese en veiligheidsituasie nie. Hulle loof God as Skepper. “Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: "Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.” (24) Nadat hulle God as Skepper aanbid het, pleit hulle by God op grond van die beloftes in sy Woord.. En waaroor gaan hierdie pleitroep? “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig.” (29) Merkwaardig! Dis ‘n Godgesentreerde gebed wat fokus op sy eer en die uitbreiding van sy koninkryk. Dit gaan oor die uitwerking van God se werk as Verlosser! En wat was die gevolg? “Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.” (31) Hierdie gebed word positief verhoor. Weereens, gebed, die Heilige Gees en die Woord! 

Hoe lyk ons gebede? Hoe lyk my en jou gebede, ons gemeente s’n? Weerspieël ons gebede ‘n bewustheid van God op die troon? Wys ons gebede dat ons ‘n passie het dat sy Naam verheerlik sal word en sy koninkryk sal kom? Is ons gebede in lyn met God se plan om die Woord te laat verkondig? 

Is ons gebede ‘n lieflike geur van oorgawe aan sy wil of dra dit dalk die stank van selfsug? 

Image result for aardbol images
Kom ons aanbid Hom wat op die troon sit. Kom ons aanbid Hom as Skepper en Verlosser en pleit dat Hy ons die genade mag gee om sy Woord uit te dra. So word jy deel van ‘n Godgewilde avontuur! So kom Sy koninkryk op aarde!



Vrydag 02 Maart 2018

DIE GEHEIM AGTER DIE DEUR…

WAT ‘N HEERLIKE VERSKIL MAAK AAN ONS VRESE EN ‘N NUWE VISIE OPEN… 


Waarom red God sondaars? Waarom maak God deur Jesus se bloed vrede met mense wat eens sy vyande was? Anders gestel wat moet ons as geredde mense se fokus wees? Nou, maar ook tot in alle ewigheid? Ons het soveel stryd, soveel moeilikheid, soveel dinge wat ons tyd in beslag neem en soveel goed wat ons benoud en bang maak. (Soos daai geluide van Ramaphosa om grond sonder vergoeding af te vat...) Waarop moet ons konsentreer? Waar pas ons in die groot prentjie? Wat is regtig belangrik? My behoeftes, pyne of begeertes of dalk iets groter? 

Kom ons oordink die hooftema : Die hoofdoel van die ganse skepping is aanbidding van Hom wat op die troon is! 

Hierdie fundamenteel belangrike saak is so heerlik duidelik uit Openbaring hoofstukke 4 en 5! Ons gaan net so oorsigtelik daarna loer. Openbaring is in elk geval soos ‘n skildery! Ons hoef nie te veel ons koppe te breek oor elke stukkie detail nie! Dis die geheelbeeld wat ons aanraak en in vervoering en bewondering bring. Ja, tot aanbidding aanspoor! 

Twee belangrike aaneenvloeiende temas is hier ter sprake : God wat op die troon is en die aanbidding (worship) van God. 

GOD IS OP DIE TROON 

Johannes kry ‘n kykie op die hemelse Goddelike werklikheid. Hier sien ons die ware toedrag van sake. ‘n Deur word oopgemaak en dan sien hy iets onbegryplik en onbeskryflik heerlik. “Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: 

"Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur." 
Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 
Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.” (4:1-3) 

Ons wat Openbaring lees word saamgenooi om ook te kyk en ons te verwonder. So wat sien ons deur die oop deur? Die troon van die heelal. Die setel van regering, van mag en gesag, die plek van alle besluite en beslissings. En wie sit op hierdie troon? GOD! Lees saam verder – 4:4,5,6,9,10; 5:1,6,7,11,13 

Dis ‘n kernwaarheid en deurlopende tema in Openbaring. Waarom? Onthou die mense vir wie Openbaring aanvanklik geskryf is, was Christene wat baie swaar gekry het. Verdruk en vervolg, doodgemaak. Dit skep by mense vrees en onsekerheid. Wat gaan met ons gebeur? Het die duiwel en sy bose handlangers al die mag? Gebeur als maar volgens ‘n donkere noodlot? Hoekom gebeur soveel slegte dinge met ons? Is daar enige sin en doel in als? Het God ons nog lief? Is God nog in beheer? Die deurlopende motief van God op sy troon wil duidelik sê : God en God alleen is in beheer! Nie goddelose mense, nie goddelose regerings en tiranne nie, nie die Satan self beheer en bepaal die toekoms nie, maar net God en God alleen. Hy sit op sy troon en heers oor die heelal en die geskiedenis! Maar meer as dit, Hy is in beheer van jou persoonlike omstandighede en toekoms. Laat elkeen dit weet - God is op die troon – ook terwyl jy swaarkry, siek is, alleen voel, benoudheid ervaar… God is op die troon, juig daaroor! 

As jy begin wankel en moedeloos word, kyk deur die oop deur van Openbaring 4! 

AANBIDDING 

Die tweede groot tema is aanbidding. Dis opvallend belangrik. Dit ontwikkel tot ‘n absolute klimaks. Juis omdat God en God alleen op die troon is, maak dit volkome sin om Hom alleen te aanbid. Kyk bietjie wie aanbid God op sy troon: 

Die lewende wesens. (4:8) Die beeldspraak van die lewende wesens kom uit Esegiël en Jesaja. Die vier wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle sien alles raak (die oë) en hulle is oral (vlerke). Hulle observeer die grootheid van God. Dit reflekteer ook God se alwetendheid en alomteenwoordigheid. 

Die 24 ouderlinge. (4:10-1) Hulle is verteenwoordigend van die hele gemeenskap van gelowiges. Die 12 Ou Testamentiese stamme van Israel plus die 12 Nuwe Testamentiese apostels. Saam verteenwoordig hulle die kerk/volk van God van alle eeue! 

Albei groepe. (5:8-9) Let op die gebede van die gelowiges wat nou op aarde swaarkry is ‘n lieflike geur (soos wierook) in die hemel! 

Die menigte van engele. (5:11-12) Die inhoud van hulle aanbidding is lof aan die Lam! 

Dan die klimaks! Die ganse skepping! “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid." (5:13) Die hele skepping is gefokus op God! Niks en niemand is wonderliker, heerliker, meer fassinerend en belangriker as Hy nie! 

SKEPPER EN VERLOSSER!

Net nog iets baie opvallend en belangrik! God word aanbid as Skepper in hoofstuk 4. "Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep." (4:11) Ons moenie vergeet om God te prys vir die oneindig wonderlike skepping wat Hy gemaak het nie! Kyk net rondom jou...en loof Hom! 

God word aanbid as Verlosser in hoofstuk 5. Hier word God geprys as die Een wat deur Jesus, die Lam mense gered en bevry en losgekoop het. “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."* (5:9,10) 

Die hele skepping draai om een saak : die aanbidding van God! 

Ons moet bevry word van ons selfgesentreerdheid en individualisme en inval by en meedoen aan hierdie groot saak. Die aanbidding van God! Soos die aarde om die son draai, draai die ganse skepping rondom die heerlikheid van God! Als het ‘n groter doel! Kyk na die groter prentjie, die prentjie van God op die troon wat aanbid word. Moenie net vaskyk teen die onreg en boosheid van die wêreld nie. Moenie jou blindstaar teen korrupsie en tiranne nie. Moenie vasval in jou klein, persoonlike wêreldjie en agenda en bekommernisse nie. Kyk na die groter prentjie. Sien die groter werklikheid agter die skerms. Ja ons vrese en ellendes en pyne en hartsere is erg, maar as kinders van God, losgekoop deur die bloed van die Lam kan ons verby dit kyk en ons harte en stemme voeg by die aanbidding van God! 

Laat ons fokus op God – God as Skepper, God as Verlosser! AANBID HOM! En mag ons so bevry word van beide vrees en selfbeheptheid! 

*Vergelyk die treffende ooreenkoms met Eksodus 19:4-6, waar dit gaan oor God se doel met die redding van sy volk Israel. Hierdie waarheid word dan deur Petrus in 1 Petrus 2:9-10 op die Nuwe Testamentiese kerk van toepassing gemaak.En nou vind ons dit weer in Openbaring!


Eer Hom as Skepper...


Eer Hom as Verlosser...