BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Begrafnispreke. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Begrafnispreke. Wys alle plasings

Dinsdag 05 Mei 2015

VIER FEITE WAT NIE VERSWYG MAG WORD NIE

(ook nie by ‘n begrafnis– of roudiens nie!)



In die aangesig van die dood droog ons slimmighede en stories op... Gelukkig het ons God se Woord vir ‘n tyd en geleentheid soos hierdie. Kom ons kyk saam na Hebreërs 9:27,28.


‘n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Die meeste mense glo nie meer die Bybel nie... Vriende, ek glo die Bybel – dis natuurlik nie ‘n prestasie nie maar ‘n genadegawe, ek glo dis God wat hier praat en dat sy woorde die verskil tussen lewe en dood, hemel en hel maak. Ek gaan net vier basiese feite uit die gelese gedeelte uitlig, vier feite wat die Woord hier leer, vier feite wat onomstootlik waar is...

DIE MENS IS BESTEM OM TE STERWE. (hiermee kan jy nie stry nie, selfs al is jy 'n ateïs) Die dood is die een ding wat niemand kan vryspring of ontwyk nie. Dit kom beslis. Meestal onverwags – dink maar aan die skrikwekkende gebeure onlangs in Nepal! Ons is bestem om eenmaal te sterwe. Beslis te sterwe, maar ook net een maal... Daar bestaan dus nie iets soos ‘n tweede kans, ‘n vagevuur of reïnkarnasie nie! En dus die hartseer, wat ek ook telkens sien en beleef, mense weet die dood is ‘n feit, maar die meeste is nie voorbereid daarvoor nie – daai ding van uitstel, jy weet...

NA DIE DOOD WAG DIE OORDEEL. Die dood is nie die einde van ons bewustelike bestaan nie. Na die dood kom daar ‘n oordeel. God maak onderskeid tussen mense. Die mens word tot verantwoording geroep. Daar kom ‘n skeiding – die skape word van die bokke geskei. Die een groep deel in die ewige heerlikheid saam met God, die ander groep word weggestuur na die ewige smart weg van God af.

In hierdie lewe sowel as in die ewigheid bestaan daar vir elke mens net twee opsies, twee moontlikhede. Die Bybel sê dit op baie maniere : Daar is ‘n smal pad na die lewe of ‘n breë pad na die verderf. (jy kan op hierdie oomblik net op een van die twee wees) Jou huis is op die rots gebou of op sand gebou. (nie op beide nie) Jy dien God of jy dien Mammon. (jy kan nie altwee dien nie) Daar is nie ‘n tussengroep nie. Daar is nie iets soos ‘n halwe Christen of ‘n half geredde nie! Net soos jy ook nie iets soos ‘n halwe bestuurderslisensie kry nie – jy het een of jy het nie een nie!

JESUS SE STERWE WAS GENOEGSAAM VIR ONS SONDE. Jesus se sterwe was ‘n offer vir ons sonde. Sy offer was genoeg om die sondes van baie mense (met ander woorde sy miljoene kinders) weg te neem. Die begrip “een maal” is hier baie belangrik. Dit beklemtoon die genoegsaamheid van Jesus se sterwe. Dit gaan immers hier in Hebreërs oor die voortreflikheid van die Nuwe Verbond bo die Ou Verbond. Jesus se eenmalige sterwe was genoegsaam in teenstelling met die oneindige en ontelbare bloed offers van die ou bedeling wat telkens herhaal moes word. Jesus se sterwe was genoeg vir die grootste en aakligste sondes en gruwelikste sondaars... genoeg vir Saggeus, die Samaritaanse vrou, Paulus, Petrus... Hulle is deur Jesus aangeraak en het deur Hom vergifnis en vryspraak gekry. As jy jou tot Jesus wend, maak nie saak wat agter jou lê nie, sal jy agter kom dis ook genoeg vir jou. Nog nooit het Jesus ‘n berouvolle sondaar weggejaag nie. (Johannes 6:37)

AS EK AAN JESUS BEHOORT KAN EK UTSIEN NA ‘N HEERLIKE FINALE VERLOSSING. As Jesus weer kom bring Hy die finale verlossing vir diegene wat Hom verwag. Dit sluit ook in die bevryding van ons liggame van verganklikheid! (Romeine 8:23, Filippense 3:21) Vir diegene wat in die geloof volhard bestaan daar 'n heerlike toekoms om na uit te sien! Maar diegene wat in hierdie toekoms wil deel, moet nou reeds na Jesus kom en sy genade aanvaar. Na die dood is daar nie ‘n tweede kans vir berou en bekering nie. Daarom, Jesus se wederkoms is nie goeie nuus vir almal nie, maar net vir die wat Hom verwag, wat uitsien na sy koms, wat weet hulle behoort aan Hom. Is jy aan Hom verbonde en leef jy in die verwagting van ‘n aangesig tot aangesig ontmoeting? Het jy al tot bekering gekom en Jesus as Verlosser aanvaa? Volhard jy in die geloof of het jy weggedwaal? Onthou, nie alle mense sal in die hemelse RUS ingaan nie! Hemelse rus word nie deur ‘n Christelike begrafnis, ingewikkelde rituele of ‘n spraaksame dominee se lofredes verseker nie, maar deur die genade van God wat ons deur geloof in Jesus as genoegsame Verlosser ontvang!

Vandag is ‘n baie belangrike en beslissende dag vir elkeen wat kan hoor.... luister na die waarskuwing van die Hebreër skrywer in hoofstuk 3:7-17.

Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: "Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.

Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.

Daarom het Ek ‘n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op ‘n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’

Toe het Ek in my toorn ‘n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie."

Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.

Maar solank daar nog ‘n "vandag" is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.

Daarom word daar gesê: "Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het."

Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie?

En van wie het God veertig jaar lank ‘n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie?

Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ‘n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie?

Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

Glo jy hierdie Bybelse feite? Baie sê wel nog so, maar hulle lewens wys dat hulle hul glad nie meer aan God se Woord steur nie. Daar is geen lewende geloof, geen lewensverandering, geen honger en dors na God se Woord en sy geregtigheid nie. 

Kom ons vat saam : Daar wag beslis ‘n oordeel na die dood. Daar is iets soos genade vir sondaars, omdat Jesus se offer genoegsaam was. Inderdaad, oorvloedige genade in die volste sin van die woord! Maar hierdie genade moet nou aanvaar word, anders mag dit te laat wees vir ewig!

Dinsdag 07 Oktober 2014

DIE GOEIE HERDER

- is ook ons troos in die aangesig van die dood.

Dalk is die boodskap van Psalm 23 so oorbekend dat ons dit nie meer raakhoor nie. Miskien kan jy dit opsê, maar die kosbare waarhede hierin het nog nooit joune geword nie. Ek wil jou uitdaag op hierdie hartseer dag, spesifiek ook julle wat baie smart beleef, jy wat baie vrae of twyfel het – kies vir die waarheid van hierdie Psalm in jou eie lewe! Die woord kom immers na ons, ons wat lewe, ons wat nog ‘n kans het, wat nog kan hoor...

Saterdag 25 Januarie 2014

DIE LAASTE VYAND

- word finaal verslaan en dit open ‘n opwindende nuwe toekoms!

Die dood is ‘n vyand. Dis wat die Bybel dit noem en dis wat dit is. Al ons mooi praatjies (en soms stroperige sentimentele pogings van “die mooiste blommetjies wat gepluk word”) kan dit nie wegsteek of versag nie. Die werklikheid van die dood as vyand tref ons almal weer opnuut soos nou met die heengaan van...

Vrydag 15 November 2013

“HY IS NOU OP ‘N BAIE BETER PLEK...”

- verskoon my, maar ek het my bedenkinge.


Onlangs lees ek weer hierdie woorde in ‘n bekende Suid-Afrikaanse koerant, in reaksie op die dood van ‘n jongman wat onder tragiese omstandighede gesterf het...