BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Hollywood. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hollywood. Wys alle plasings

Woensdag 05 Februarie 2020

DIE REGTE PERSOON


[Wat sê God oor seksualiteit, huwelik en egskeiding? – ‘n basiese vertrekpunt.] 



Miskien wonder jy : “Het ek met die regte persoon getrou?” Veral nou as dinge nie so lekker gaan nie… Daar is rusie, verwyte, die gevoel van liefde is weg en elke aspek van die huwelik het afgekoel en flou geword... Daar is ‘n knaende stemmetjie: “Het ek die regte keuse gemaak?” 



Dis eintlik ‘n maklike vraag om te antwoord. (Kliek) John Piper sê : “Kyk na die ander naam op jou huweliksertifikaat. Dis die naam van die regte huweliksmaat.” God het jou en daardie persoon saamgevoeg! “Ja, maar hy maak so, sy maak so, ons gevoel vir mekaar is heeltemal weg…” Geen maars nie! God het julle bymekaar gevoeg en jy mag nie teen God gaan en skei nie! Jesus se standpunt is baie helder. “Hy het hulle geantwoord: "Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie." (Matteus 19:3-9) 

Dis Jesus se duidelike woorde, maar nou het Hollywood en die Huisgenoot ons gebreinspoel deur egskeiding as iets normaal uit te beeld. Dis nou “normaal” - as daar probleme kom om te skei. Maar die Satan het nie daar opgehou nie, nou het Hollywood en die Huisgenoot verder gegaan en ons vertel dis normaal om ongetroud saam te bly. Nog erger! Ons verkrag die huwelik nog voor daar ‘n huwelik is. En nou glo mense eerder vir Hollywood as vir God, maar dit kom hulle duur te staan, want God sê in Hebreërs 13:4 - “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” 

God se oordeel tref diegene wat sy ordes rondom huwelik en seks minag! 

... en ek en jy hoef nie ver te kyk om hierdie oordele raak te sien nie!

Ons weet dat die hele Skrif deur God geïnspireer is, van God af kom, Goddelike gesag dra. (Kliek – SKRIF) Nou is dit juis as dit kom by die kwessies soos huwelik en seksualiteit dat mense die duidelikste wys hoe min hulle van God se Woord dink. Ons stem formeel saam – "Ja, die Bybel is God se Woord," maar as dit by hierdie sake kom dan maak ons soos ons wil. Ons weet beter as God, ons maak ons eie norme en standaarde... en die gevolge is skrikwekkend, verwoestend en fataal! 

Die duiwel fluister so maklik vir ons – hierdie man of vrou waarmee ek getroud is, is nie die regte een nie. Ek voel dan niks meer vir hom of vir haar nie… En dis dan wanneer ons die Skrif minag en skei.

Kom ons kyk na ‘n paar Bybelse hoekpenne rondom huwelik: 

KWALIFIKASIES 

Interessant die Bybel gee net twee kwalifikasies vir die regte huweliksmaat. Eerstens – (vanselfsprekend) dit moet ‘n persoon wees van die teenoorgestelde geslag. God het man en vrou gemaak en hulle bymekaar gebring. (Sommiges by die Algemene Sinode het dit blykbaar vergeet...) Die tweede kwalifikasie wat in die Nuwe Testament gestel word is dat dit ander persoon ‘n gelowige moet wees. 

Maar as jy reeds getroud (met ‘n ongelowige) is, dan mag die huweliksmaat se ongeloof geen rede wees om daardie persoon te verlaat nie. 

EGSKEIDING MAAK GOD KWAAD 

Kom ons kyk na drie redes waarom egskeiding so ‘n vreeslike vergryp is teen God : 

Egskeiding is opstand teen ‘n Goddelike instelling en handeling. Die huwelik is nie bloot ‘n menslik kulturele verskynsel nie, maar ‘n Goddelike orde. (Genesis 2:24) Wie teen God se ordes in opstand kom sal die gevolge dra, nou en eendag. Ons mag nie God se werk ongedaan probeer maak nie. Volgens Jesus se woorde in Matteus 19 het God jou en jou maat bymekaar gevoeg! 

Egskeiding behels die skending van ‘n Goddelike simbool en boodskap. In die NT is dit baie duidelik dat die huwelik oor meer gaan as net ‘n menslike verbintenis. Dis ‘n prentjie van iets baie groter. Dit beeld iets van die heerlike rykdom uit van die innige verhouding tussen Christus en sy gemeente. “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het." (Efesiërs 5:23-25) 

Egskeiding is ‘n daad wat deur God gehaat word, want dit is geweld en bring die nageslag wat Hom moet eer in die gedrang. Dit het ‘n verwoestende invloed op ons verbondskinders!  (Weerens jy hoef nie ver te gaan soek om dit te sien nie.) Erger. Egskeiding vertroebel en versuur die verhouding tussen ons en God. Ons offers (godsdiens) word vir Hom onaanvaarbaar! Dit is die duidelike boodskap van God volgens die profeet Maleagi: 

“Daar is nog iets wat julle doen. Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie, 
en julle vra: "Waarom dan nie?" Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het. 
Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees, wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie. 
Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.”  (Maleagi 2:13-16) 

VERGIFNIS? 

Die groot vraag wat nou by ons opkom is: Is daar vergifnis vir my as ek op hierdie gebied oortree het? 

JA , vergifnis is beskikbaar, want ons het ‘n evangelie! 

Daar was ‘n kruis en ‘n opstanding! Die prys vir alle sonde is betaal, die straf op alle sonde is gedra deur Hom wat Sy lewe vir ons gegee het! 

Drie verdere perspektiewe is egter baie belangrik: 

Is daar vergifnis? Ja, as ons ons sondes bely... “Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Johannes 1:9) 

Is daar vergifnis? Ja! Onthou net die gevolge en letsels van hierdie sondes sal vir altyd op aarde by ons bly! Die moontlikheid van vergifnis verminder nie die erns van die oortreding nie. Moet nooit dink egbreek en losbandigheid is ‘n geringe saak nie! Dit het altyd konsekwensies! (Kliek -Dawid) 

Is daar vergifnis? Ja, maar vergifnis is geen vrypas om met sonde voort te gaan nie! Jesus het die owerspelige vrou vergewe en nie veroordeel nie, maar Hy het gesê : “Gaan heen en sondig nie meer nie.” (Johannes 8:11)  As jy volhard in hierdie sonde kan daar ‘n dag kom wanneer God se stem stil word en jy nie meer in vergifnis belangstel nie! 

As ons respek het vir God, sal ons respek hê vir die Goddelike instelling van die huwelik. As Jesus regtig my Koning is, sal ek my onderwerp aan sy opdragte ten opsigte van die huwelik!


Die regte een!



Maandag 06 November 2017

HARVEY WEINSTEIN

en die Nuwe Jerusalem! 

Paulus praat met die kinders van God (hulle is geseënd en uitverkore in Christus, begenadig en gered deur die geloof alleen)* op ‘n baie kragtige manier in Efesiërs 4:17-24**  en moedig hulle aan om heeltemal te breek met hulle ou heidense leefstyl. 

HEIDENSE LEEFSTYL

Wat is hierdie heidense leefstyl? Dis belangrik om raak te sien, dis nie net die leefstyl van die Moslems, Hindoes of geverfde kannibale daar doer nie, dis die hele wêreldsisteem waarin ons leef en wat ons elke dag rondom ons sien. As mens na hierdie beskrywing kyk, kon jy net sowel dink Paulus was ‘n middag op die Internet en hy het so bietjie op Instagram en YouTube rondgekuier. 

Hoe lyk en klink die heidense leefstyl volgens Paulus?

“hulle gedagtes lei tot niks” Een van die hoofkenmerke van die heidense leefstyl is verdorwe sinnelose dwase denke. In die geroesemoes en lawaai van die goddelose wêreld met sy filosofie, idees en ideologie, sy hedonisme, materialisme, feminisme, liberalisme, ateïsme (noem maar op...) is daar geen blywende oplossings nie, geen ware rus en geen ewige heerlike bestemming nie. Dis ‘n ydele soeke na ‘n altyd ontwykende utopie, ‘n hersenskim van geluk wat nêrens te vinde is nie. Dis ‘n gejaag na ‘n haas wat nie eers bestaan nie. Soos ‘n hamster wat hom verbeel hy gaan iewers kom maar al die tyd op sy eie wieletjie in die rondte hardloop. Dis ‘n vretende verlange na die pot goud aan die punt van die reënboog, wat maar altyd net buite bereik bly. ‘n Tevergeefse vertroue op helde met wankelrige voete en ‘n swerm onkundige kiesers wat agter hulle aanstrompel... Die Obamas, Trumps, Macrons…maar nie een van hulle weet in watter rigting die Lewe te vind is nie! 

“verduisterde verstand...onkunde” Die heidendom verstaan niks van ‘n heilige lewe in gemeenskap met God nie, weet nie wat in die Woord staan nie. Die heiden verstaan nie waarvandaan hy kom, wat sy doel op die oomblik is en waarheen hy op pad is nie. Onkundig, maar ook verhard. Die heiden het immuun geraak teen God se waarskuwings. Veragters van sy liefde, verbitter teen sy gebooie en vertrappers van sy verlossingsgenade.

Die heidene het “afgestomp” geraak – vir my een van die duidelikste kenmerke van die samelewing. Ongevoelig, skaamteloos, onsensitief. Sonde is nie eers meer ‘n skande nie – dis die hoof sappige nuus op die voorblaaie : “ons bly saam, hoereer saam, lieg saam, steel saam en voel nie eers skaam of skuldig daaroor nie. Selfs as ons uitgevang word is daar geen hartgrondige berou nie, in plaas van belydenis en bekering gaan ons net vir ‘n bietjie terapie!” Dis die losbandige leefstyl van Hollywood en Harvey Weinstein** en sy kan wurms, waaroor almal nou “Oe!” en “A!”, maar dis waarvan mense eintlik regtig hou, want hulle betaal om hierdie vuil water dag vir dag uit hulle morsige TV skerms op te slurp. Inderdaad ‘n “onversadigbare drang” na “losbandigheid!”

Die boosheid gaan al verder, daar word steeds nuwe vorme van losbandigheid wellus en haat uitgedink. Daar kom telkens nuwe skandale van bedrog na vore… en dis nie net Zuma wat skuldig is nie!

Hierdie heidense leefstyl staan in skrille kontras met die waardes en voorbeeld van Jesus. (20) Die opdrag wat Paulus gee is kort en kragtig (en baie ongewild!). Hou op, breek met…

NUWE DENKE WORD BENODIG

Waar begin dit? Innerlik by ons gees en gedagtes. “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Romeine 12:1,2) Moenie meer dat Instagram, Hollywood en die Huisgenoot jou gedagtes en waardes bepaal nie! Moenie nabootsers word van die sepiehelde nie! Moenie gelykvormig word aan die grillerige glansganse van aan ons tyd nie. Gaan eerlik terug na God en sy Woord. Leef nuut volgens die lewe waartoe God julle geroep het. God se bedoeling is dat ons beelddraers van Hom moet wees. Ons weet God se beeld is in ons geskend. Dis verwronge en vuil. Ons weet nie eers hoe ons meer veronderstel was om te wees nie. Gelukkig kan ons weer weet hoe God se beeld in ons moet lyk. Jesus. Hy is die Beeld van die onsienlike God. Positief – om weer God se beeld te vertoon moet ons volgens die opdragte en voorbeeld van Jesus leef! En Hy maak dit moontlik deur die Heilige Gees wat in ons woon! 

GEEN PLEK VIR DIE HEIDENSE LEEFSTYL IN DIE NUWE JERUSALEM NIE

Hoe ernstig is Paulus met hierdie waarskuwing? Ons het mos ‘n manier om die Bybelse waarskuwings af te skud en te versag. “Ag, ou Paulus is ‘n asyngesig rabbynse Jood.” As ons egter in Openbaring 21 na die beskrywing van die Nuwe Jerusalem kyk besef ons hoe reg is Paulus. Die Nuwe Jerusalem is in Openbaring beide ‘n plek, maar dis ook mense. Dit staan in kontras met Babilon. Babilon word uitgebeeld as ‘n onrein prostituut en die Nuwe Jerusalem as die rein bruid. ‘n Groter kontras kan jy nie kry nie. Babilon is die plek van die onreines, maar die Nuwe Jerusalem (kliek) by uitstek die plek van die reines. Hulle word verlig deur die heerlikheid van God en die Lam is hulle lamp. (23) Die onreines se eindbestemming is die poel van vuur. “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood." (8) Hulle mag nie in die Nuwe Jerusalem kom nie. “Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.” (27) Daar is geen plek vir die heidense leefstyl in die Nuwe Jerusalem nie! Dis verdoemend duidelik!

GENADE VIR DIE DORSTIGES!

Vreeslike woorde, maar wag, ook hier in Openbaring word die deur oopgehou vir die wat wil bekeer. Genade onbeskryflik groot! “Verder sê Hy vir my: "Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6,7) “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Vir die wat die uitnodiging aanvaar is daar eendag plek in die Nuwe Jerusalem, maar nou ook reeds plek aan die Nagmaalstafel. Die Nagmaalstafel is nie die plek vir goeie mense nie, maar vir dorstiges m.a.w. diegene wat hulle nood en behoefte aan Jesus besef! En Jesus stel niemand teleur nie, want die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde!***

*Sien Efesiërs 1:3-14, 2:8-10

**In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks,

hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.

Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word;

lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Efesiers 4:17-24)

***Natuurlik is Weinstein en dergelikes se optrede laakbaar, barbaars en afkeurenswaardig, maar al hierdie aktrises wat nou so kla is uiters naïef. Hulle onkunde is tiperend van die heidendom. Wat verwag hulle van ‘n bedryf wat losbandigheid, wellus en geweld as vermaak aanbied? ‘n Mens kan nie vuur in jou klere dra en dink jy gaan nooit brand nie!

**** 1 Johannes 1:7


Vrydag 10 Junie 2016

EN WAT VAN DIE HOUTKAPPERS?

Noag se ark gaan oor baie meer as tegniese detail rondom die gewoontes en hantering van diere…


Ons mag geen afgode maak nie. Ons moet die ware God en net Hom aanbid. Maar Wie en Hoe is die enigste ware God? Maak ons nie maar dikwels in ons gedagtes vir ons ‘n god wat by ons behoeftes, grille en giere pas nie, ‘n vals god? Die Bybel gaan oor die lewende ware God en sy dade. God wys vir ons wie Hy is uit sy dade.

In die verhaal van Noag gaan dit ook oor God. (Ons kyk hier net eers na Genesis 6) Dit gaan nie in die eerste plek oor die grootte van die ark, die hoeveelheid diere en hoe dit gebeur het dat die leeus nie die ander goed opgevreet het of hoe die olifante ingepas het of hoe Noag die houtkappers gekeer het om gate in die wande te pik nie! Dit gaan oor God wat ingryp in hierdie wêreld. 

God gryp in hierdie wêreld in deur oordeel en deur redding.

Hoekom oordeel en straf God? Hy is ‘n heilige God wat sonde en onreg en geweld nie kan duld nie. Hy kan nie aan Homself sy eie heiligheid en karakter ontrou wees nie. Hy oordeel, want die mense het dinge gedoen waarvan Hy nie hou nie. God is nie ‘n relativistiese post-modernis nie! “Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.” (11-12) Dit moet ons hard en duidelik hoor – daar is dinge waarvan God nie hou nie en daar is dinge waarvan Hy wel hou. Hy besluit wat reg en verkeerd is (Hy is immers die Skepper en Eienaar van als en almal) – nie die Huisgenoot of Hollywood nie en daarvolgens sal Hy oordeel. Sy straf is skrikwekkend, dis uitdelging. “Toe sê God vir Noag: "Ek het besluit om ‘n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.” (13) Die hele skepping! Wat met die mens gebeur as kroon van die skepping raak die hele skepping. Ons moenie God se oordele geringskat nie – dit het man, vrou, kind en suigeling getref! (Dink aan die TV beelde van die Tsunami van 2004!)

Maar, God gryp ook in deur redding. Reddende genade. En die hoofbeginsel is genade! “Maar Noag is deur die Here begenadig.” (8) Hoe werk God se redding? Hy gee ‘n oplossing om die oordeel vry te spring! Hy gee ‘n uitkoms. Hy bevestig dit met ‘n verbond. (18) God se redding staan vas, Hy beloof dit formeel. Hierdie redding kan aanvaar of verwerp word. In hierdie geval was God se plan die ark- binne die ark is daar lewe, buite die ark is die dood. God se plan moet geglo word, al maak dit nie sin nie. Noag glo en reageer. (Hebr 11:7) “Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is."  Geloof is nie net ‘n teoretiese wete nie, dit gaan oor tot aksie, dit behels ‘n verandering van gedagte, lei bekering, ‘n wilsbesluit, ‘n keuse om God se reddingsplan te gehoorsaam. As jy glo, klim jy in...

Dwarsdeur die geskiedenis sien ons hoe God se reddingsplan parallel saamloop met sy oordele. God oordeel Sodom en Gomorra, maar daar is ‘n reddingsplan vir Lot en sy familie. “Vlug betyds...” Die wat dit glo en gehoorsaam word gered, die wat dit aflag en verwerp word vernietig. God oordeel Egipte met die finale plaag, die dood van die eersgeborenes. Maar weereens, God voorsien ook ‘n uitkoms. “Slag ‘n lammetjie en smeer sy bloed aan die deur!” Die wat hierdie belofte glo (en die bloed aansmeer) word gespaar, die ander sterf. So is daar nog baie voorbeelde... God oordeel die volk Israel deur giftige slange te stuur, maar Hy gee ook ‘n uitweg, oplossing. Die koperslang... “Kyk en jy sal lewe!” Altyd maar weer, oordeel en redding...

Die klimaks van God se oordeel en redding kom bymekaar in een enkele gebeurtenis. Jesus Christus wat aan die kruis sterf. Jesus hang aan die kruis as ‘n vervloekte, ‘n veroordeelde. Maar Hy is onskuldig, Hy dra die sonde van die skuldiges, van ons. God se oordeel tref Hom voluit en dis waarom Hy uitroep : “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Maar Jesus is juis God se oplossing vir ons om die oordeel vry te spring. Wie in Hom skuil is veilig, wie Hom verwerp sal die oordeel self moet dra. Buite die ark is dood, binne die ark is lewe. Buite Jesus is dood, binne Jesus, die lewe. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Johannes 5:12)

Ons moet seker maak dat ons die ware God aanbid. Hy is die God van oordeel en genade, heiligheid en barmhartigheid, geregtigheid en liefde, straf en redding! Hierdie eienskappe staan nie los van mekaar maak nie, ons het gesien hoe dit saamloop. Ons sien hoe dit tot volle betekenis kom by die kruis van Jesus.

Noag se vloed wys ook op die finale oordeel van hierdie wêreld deur vuur. Noag se ark wys ook op ons enigste hoop op redding, God se plan, Jesus Christus. Die finale oordeel kom, dis ‘n feit en net diegene wat in Jesus skuil sal veilige wees. Die ware God is die Vader van ons Here Jesus Christus wat deur sy Seun se kruisdood en opstanding vir ons ‘n oplossing ‘n uitweg voorsien het!

Is jy veilig in die ark? Glo jy God se oplossing is Jesus die Here? Het hierdie geloof gelei tot bekering, tot aksie, tot ‘n nuwe gehoorsaamheid? AMEN

[Ek weet nie hoeveel plek die ark gehad het en hoeveel diere daarin was nie, maar ek weet daar is plek vir jou by Jesus Christus - Hy het oorgenoeg veilige plek vir sondaars wat by Hom kom skuiling soek!]