BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Spreuke. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Spreuke. Wys alle plasings

Vrydag 09 April 2021

Let go and let God?



Sal God my help? En hoe doen Hy dit?

Hoe help Hy my in tye van rampe, krisisse en kwellings? In tye van persoonlike swaarkry, finansiële moeilikheid, huwelik en gesinsprobleme? Wat is God se rol in my persoonlike stryd teen sonde, moedeloosheid en depressie? Dikwels hoor mens die eenvoudige eenlynige antwoord en eenstop oplossing: "Let go and let God! "Of mens kry die raad : “Gee dit net vir die Here!”

Die bedoeling is dan waarskynlik – vertrou net op die Here en als sal reg uitwerk! Dit klink so wonderlik. So kragtig. Eenvoudig en vroom. Maar is dit regtig die volle Bybelse antwoord? Is dit hoe mens byvoorbeeld ‘n wiskunde eksamen moet benader? Is dit die oplossing vir jou finansiële krisis? Is dit hoe mens jou huwelikskonflik moet aanpak? Is dit die oplossing vir ons (elke kind van God) stryd teen sonde? Of anders gesê is dit die sleutel vir sukses op die pad van heiligmaking? Daardie moeilike pad wat elke kind van God beleef om al hoe meer heilig te word en gelykvormig aan Jesus te word.


Kom ons toets die gedagte van Let go and let God aan ’n paar Skrifgedeeltes binne konteks.


SPREUKE 3:5-7

“Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is:”



“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; (OAV)



As mens so vinnig lees dan lyk dit of “Let go, let God” presies die raad van Spreuke is. Laat alles net aan die Here oor en als sal regkom. Maar dis nie heeltemal wat hier staan nie. Ja, daar moet vertroue op God wees, maar daar moet ook aksie van ons kant wees. Hier is ‘n opdrag -Tree op teen die verkeerde in jou lewe! “Wyk af van die kwaad, vermy wat sleg is.”

Dis vir die verstaan van hierdie teks ook belangrik om na die totale boodskap van Spreuke te kyk. Spreuke gaan oor wysheid. Vertroue op die Here beteken juis dat ek die wysheid wat van die Here kom prakties sal toepas in my lewe. Praktiese stappe neem. En hoe lyk hierdie wysheid? Dis alles behalwe ‘n passiewe “Let go and let God! “ Dis konkrete dade en keuses. Dink maar wat leer Spreuke ons : Ek moet kies om my kinders te tugtig, ek moet wegbly van verleidelike vroue, ek moet nie borg teken vir iemand anders nie ( bly weg van bedenklike finansiële praktyke), ek moet eerlike besigheid doen, ek sal omkopery vermy (17:23) ek moet hard werk, ek moet nie ‘n kermende kywende vrou wees nie – want dan gaan my man my los (Spreuke 21:9) ens. Gaan lees Spreuke en volg daardie raad in die praktyk– natuurlik is dit nie 'n towerstaffie vir gerief nie, maar jy sal die verskil in jou lewe begin agterkom! Kom ons wees prakties – Dit help nie net om te sê – Ek het my finansiële probleme vir die Here gegee nie, maar ek gaan aan om onnodige luukshede te koop, ek is te lui om kos te maak en leef van duur kitskos… Dit help nie ek vra : "Here maak my asseblief heilig", maar ek sit aand na aand voor die TV wat my gedagtes besoedel nie! Dit help nie, ek bid vir gesonder longe , maar ek weier om op te hou rook nie! Spreuke leer vir ons ‘n duidelike balans tussen vertroue op die Here en die praktiese toepassing van sy opdragte. Spreuke leer geen passiewe - “Let go and let God” nie!

ROMEINE 8:12,13.

“Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” Hier gaan dit seker oor die grootste stryd in elke kind van God se lewe – die worstelstryd teen sonde. Wat is Paulus se opdrag? Let go and let God? Nee, dis ons aktiewe plig as kind van God om sondige praktyke uit te roei. Hoe doen ons dit? Deur die Heilige Gees. Deur die krag van die Gees. Dit beteken nie dat ons passief is nie. 


Dink aan ‘n windpomp. Heeltemal afhanklik van die wind. Tog is die windpomp aktief betrokke. Die rem moet los wees. Die windpomp kreun so hard werk hy, al kom die energie van die wind. Die Gees gee ons krag, maar ons moet tot aksie oorgaan. Deur die krag van die Heilige Gees sal ek ‘n telefoon optel en ‘n einde maak aan ‘n sondige verhouding!


HEBREËRS 12:4,14

“Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Weereens geen passiwiteit nie. Die skrywer moedig ons aan. “Julle moet weet hierdie stryd teen sonde is ernstig, dit vat alles van julle – 'n stryd om lewe en dood.” Wat behels dit positief? Beywer julle… weereens volle aksie en betrokkenheid van ons kant af!

2 TIMOTEUS 2:22 

“Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.”

Hier vind ons praktiese raad vir heiligmaking. Dit vereis aksie, negatief en positief. Vlug weg van als wat verkeerd is. Gebruik jou voete indien nodig. Bly weg van daardie partytjie waar jy versoek gaan word! Positief - Oefen die regte dinge in saam met ander mense wat ook ernstig is oor God!

2 PETRUS 1:3-5

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.

Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,...”

God skenk sy kinders als wat nodig is vir ‘n heilige lewe. Maar hoor dan mooi verder : “Werp alles in die stryd!” Aksie! Dade! Vgl. Filippense 2:12,13 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Ja, alle eer en dank aan God wat ons wil verander en vir ons bekwaamheid gee... Maar dit bring ons tot aksie. Ons moet gehoorsaam raak om te leef soos Hy wil hê!

Die eenvoudige raad "Let go and let God!" word goed bedoel. En as mense daarmee bedoel dat ons nie op onsself moet vertrou nie, maar absoluut in biddende afhanklikheid van God moet leef is dit ‘n groot waarheid. Dit kan egter maklik verkeerd verstaan word – as ‘n tipe passiewe toeskouer Christenskap. 'n Verskoning om nie verantwoordelikheid vir ons woorde en dade te vat nie. Dan is dit in stryd met wat die Woord ons leer. Die Bybelse boodskap is dat ons as kinders van God volkome moet vertrou op Jesus wat my skuld gedra het, dat ons volkome moet vertrou op die Heilige Gees wat in my woon. Maar hierdie vertroue moet oorgaan tot aksie en gehoorsaamheid. As ek mens iemand vertrou, gehoorsaam ek juis sy opdragte. As ek baie vertroue het in my huisdokter gaan ek juis doen wat hy my voorskryf... of dit nou oefening of pille of wat ook al is... Maak dus erns met al die opdragte in God se woord! Vra jouself, wat sê God se Woord oor alle sake in jou lewe. En gehoorsaam!

Vertroue op God beteken nie maar net om in enkele situasies of in tye van moeilikheid op God staat te maak nie. Nee, vertroue op God is 'n LEEFSTYL van dinge doen soos Hy dit in sy Woord beveel. Binne in so 'n verhouding bring Hy wonderlike uitkoms!

Vrydag 20 April 2018

SWAPE EN SOTTE SAL SINK!

Sonder wysheid wag ellende! Wat is wysheid en waar pas dit in? Het jy wysheid? Soos jy sal weet is daar verskillende literatuursoorte in die Bybel, onder andere...geskiedkundige boeke, profetiese boeke, briewe aan gemeentes en persone ens. Daar is ook wysheidsboeke. Ons dink veral hier aan boeke in die Ou Testament soos Spreuke, Prediker, Job en sekere Psalms. Waar pas hierdie wysheidsboeke in? Net so vinnig : Die geskiedkundige boeke vertel vir ons van God se groot reddingsdade. (Dink byvoorbeeld aan Eksodus en Josua) Dit handel oor God wat sy volk uit Egipte uit die slawerny bevry het en vir hulle na ‘n nuwe vrugbare land gebring het. Maar nou moes hierdie volk weet hoe om gelukkig en gehoorsaam in die nuwe land, hulle erfenis te leef. En hiervoor is wysheid nodig. 


Dit handel oor die vraag oor hoe om die alledaagse lewe met sy probleme, versoekings, slaggate en uitdagings te verstaan en regverdig te leef. Hoe om sin te maak van die lewe en sinvol te leef as God se mense. Om God se wil in die praktyk toe te pas, om die regte keuses te maak. 

DIE VROU WAT ROEP 


Aan die begin van Spreuke word ons bekendgestel met die grondbeginsels van die wysheid. Wysheid word hier vanaf Spreuke 1:20 gepersonifieer (uitgebeeld) as ‘n vrou. 


20.Wysheid is ‘n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, 

21.sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: 

22. "Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape ‘n afkeer hê van kennis? 

23.As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp. (Spreuke 1:20-23) 

BAIE ERNSTIG! 

Sy roep hardop uit, gee ‘n waarskuwing, maar maak ook ‘n belofte. (22,23) Wat my getref het is die bytende en verwytende aspek van die wysheid. “Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat teregwys nie. Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval,” (25,26) Dit klink so half vreemd. Pas so ‘n skerp verwytende toon by die Bybel? Is dit nie leedvermakerig nie? (Schadenfreude is die pragtig beskrywende Duitse woord) Ek dink nie Spreuke wil sê dat die wysheid ongeskik, ongevoelig of onbeskof is nie. Spreuke onderstreep net die erns van die saak. Dodelike erns! Dade het gevolge. Dwase dade het skrikwekkende en vernietigende gevolge. 

Dwaasheid lei tot ‘n ramp! 
Slegte keuses bring swaarkry. 
Sonder wysheid wag ellende. 
Swape en sotte sal sink! 

Klink rof nê? Ons leef in ‘n tyd waarin niemand gewaarsku wil word nie, niemand wil enige voorskrifte hoor nie. “Moenie vir my preek nie, ek is vry om te maak soos ek wil, ek is mos my eie baas” of “Moenie vir my sê ek mag nie rook nie, wie wil nou met pienk longe doodgaan?” en baie keer : “Wat is verkeerd met saamwoon voor die huwelik, watter verskil maak ‘n stukkie papier?” 

Wysheidslering is ongewild en bots teen die tydsgees. Alle gesag en norm word bevraagteken... ouers, onderwysers, kerk, die Bybel se gesag, ja God se gesag word geminag en sy norme weggesmyt. Daar mag nie gewaarsku of raad gegee word nie. En as daar skrikwekkende gevolge is, dan moet ons tog net simpatiek wees en moet ons mooi soetsappige trooswoordjies rig wat niemand in elk geval glo nie... 

Ons het die perspektief van ‘n boek soos Spreuke ontsettend baie nodig! Daar is ‘n dringende behoefte aan Spreuke se lering oor wysheid. En meer spesifiek die beginsels wat daaragter sit. En baie belangrik, ons moet natuurlik weet hoe om dit te verstaan en toe te pas binne die konteks van die Nuwe Testament. 

TWEE BELANGRIKE HOEKPENNE 

Waaroor gaan die wysheid in Spreuke? Net twee algemene vertrekpunte. 

1.Die kernbeginsel van wysheid is om God te ken. “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” (1:7) Wysheid het dus niks te maak met intelligensie nie, maar met onderwerping aan God se gesag. Die voorwaarde vir wysheid is nie ‘n hoë IK nie, maar ‘n groot respek vir God! Wysheid gaan dus ook reeds in die Ou Testament nie net oor ‘n klomp losstaande reëls en regulasies nie. Dit gaan oor liefde vir God. Wie God ken en liefhet en respekteer sal erns maak met God se ordes en voorskrifte. En onthou, God se norme, wette en waardes was nooit bedoel om ons vreugde te steel of die lewe vaal en vervelig te maak nie. God se wysheid gaan oor ons welsyn! Dis vir ons beswil en tot ons voordeel! 

2.Wat jy met die wysheid maak het gevolge. Ons keuses het gevolge! Die verontagsaming van wysheid het skrikwekkende uitkomste. Wie die raad van die wysheid verwerp oor sake soos owerspel, luiheid, bedrog en dronkenskap...sal ly onder die bittere nagevolge. Vat nou byvoorbeeld : “Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank.” (Spreuke 23:29,30) Die anderkant is net so waar. Gehoorsaamheid aan die wysheid het positiewe gevolge. “"Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid, maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie." (32,33) 

MEER AS REËLS : DIE ALWYSE EEN 

In die Nuwe Testament kry ons ‘n baie dieper en verrassende perspektief op die wysheid. Wysheid is meer as reëls, wysheid is ‘n Persoon. JESUS! Wysheid is in Jesus te vind, maar meer nog, Hyself is die wysheid! Jesus sinspeel daarop in Lukas 11:31. “Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!” Jesus is die groot Wyse, groter as Salomo! Dit word baie duidelik gestel in 1 Korintiërs 1:30. “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.” Jesus is die bron van alle wysheid wat ons nodig het. In Hom is al die wysheid te vinde! “Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind." (Kolossense 2:2,3) Hy is genoegsaam, Hy kan ons nooit verveel nie en ook nooit teleurstel nie. Daar is geen ander geheime resep tot Godgegewe lewensvreugde as Hyself nie! 

Hoe raak Jesus as die beliggaming van alle wysheid ons dan nou prakties? Om Jesus te ken en as Here te erken is om toe te laat dat Hy ons daaglikse keuses en leefstyl beïnvloed. Baie belangrik : Die wysheid gaan nie bloot oor ‘n lang lys moets en moenies nie, dit behels nie bloot ‘n klomp koue kliniese reëls nie. Dit behels verhoudingswysheid. Dit gaan oor gehoorsaamheid aan my Verlosser wat my oneindig liefhet sy lewe vir my gegee het. Dit gaan oor dankbaarheid. Dit gaan daaroor dat ek Hom wil eer en gelukkig maak en eerste stel in my besluite. Alle etiese besluite moet ek oorweeg vanuit die oogpunt van Jesus as my Verlosser en Koning! Die vraag is dus nie, is daar ‘n teks wat dit of dat verbied nie. Die vraag is wat doen dit wat ek wil besluit aan die beeld van Jesus in my lewe, hoe raak dit my liefde vir Hom, is dit hoe ek my lojaliteit aan Hom as Koning gaan bewys? Waarmee is jy tans in jou lewe besig? Wat sê jou keuses, jou stokperdjies, jou manier van besigheid doen van jou verhouding met Jesus as die WYSHEID van God? 

Om Jesus as wysheid te gehoorsaam en te vertrou is om die lewe te hê. Dis die beginsels wat Hy uitspel onder andere in die bekende Bergrede. Jesus verduidelik die gevolge van gehoorsaam sowel as ongehoorsaamheid aan Hom op treffende wyse met die beeld van die twee huise. Sonder Jesus is jy ‘n dwaas en sal vir ewigheid ‘n dwaas wees en jou hele bestaan sal ineenstort. Met Jesus is jy ‘n wyse, die wyse man wie se huis op die Rots gebou is en wat in al die storms van die lewe sal staande bly. Ewig staande sal bly, ook in die eindoordeel! 

Wanneer ons Jesus self sien as die volle vervulling en beliggaming van wysheid maak Spreuke 8:34-36 so wonderlik sin: "Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag. Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here. Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan; wie my haat, hou van die dood." 

Om Jesus te verwerp is om die wysheid te verwerp, dis ‘n keuse vir die dood. Om jouself aan Hom te onderwerp, is om wysheid te kies dis ‘n keuse vir die lewe!


Wysheid is om 'n sambreel gereed te hê, wanneer die reën kom!