BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Christelike Vryheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Christelike Vryheid. Wys alle plasings

Donderdag 16 Maart 2017

HEELTEMAL VRY!

maar vrywillig diensbaar.



Een van Martin Luther se beroemdste geskrifte wat in 1520 verskyn het, heet : DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN. Hierin maak hy ‘n baie grondige, diepsinnige en heerlike stelling. 

Dis (tipies Luther) in die vorm van ‘n paradoks : 

"‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; ‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan." 

VRY ÉN DIENSBAAR! Natuurlik het Luther nie die stelling uit sy duim gesuig nie, dis ‘n samevatting van wat Paulus in 1 Korintiërs 9:19 sê : "Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.”

DIE CHRISTEN IS VRY. 

‘n Christen is heeltemal volkome vry. Hieroor bestaan soveel onkunde wat lei tot soveel vrees en onsekerheid. So baie mense dink Christenskap is een stuk vreeslik harde werk. Byna soos slawerny. Hulle voel die hele tyd : Ek moet myself beter maak, ek moet harder werk, ek moet my bes probeer om al die reëls te hou, dan sal God my aanvaar. 'n Vreesagtige gevoel van onsekerheid : "Jong, as ek nie in my spoor trap nie, gaan ek dit nie maak nie..."  (As jy hulle vra oor hulle Christenskap, is hulle antwoord altyd : “Ek probeer om een te wees.”) Wat ‘n groot misverstand! Kom ons maak seker vanuit die Woord. Wat verwag God van ons? Wat moet ons doen sodat ons kan weet Hy is tevrede met ons en het ons as sy kinders aanvaar? Gelukkig het Jesus self die antwoord op hierdie uiters belangrike vraag gegee. “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het." (Johannes 6:28,29) Geloof alleen! Dis die basis van Christelike vryheid en vrede. Om te weet God het my aanvaar omdat ek in Jesus glo. Daar is geen ekstra voorwaardes of fynskrif nie! Om te weet God het my aangeneem nie op grond van my prestasies nie, maar op grond van Jesus se prestasie en verdienste aan die kruis! 

Deur die geloof in Jesus kry ek deel aan ‘n heerlike uitruiling – Jesus vat my sondeskuld en onvolmaaktheid op Hom (en sterf daarvoor) en Hy skenk sy geregtigheid en sy volmaaktheid aan my! 

In God se oë is ek dus ‘n regverdige! Dis die basis van my vrede. (Rom 5:1) Niks kan my meer bangmaak of veroordeel nie. Ek is vry van die vrees vir die wet, sondeskuld, satan, dood en hel! Jesus se sterwe het hierdie vyande volledig en finaal uitgeskakel. Daarom kan Paulus uitdagend uitroep in Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Die implikasie is duidelik, ons is vry van alle oordeel nie weens ons goedheid of prestasies nie, maar vanweë Jesus se sterwe opstanding en voortdurende intrede vir ons!

DIE CHRISTEN IS DIENSBAAR. 

As praktiese voorbeeld van hoe vryheid en diensbaarheid saamgaan gebruik Luther die verhaal van Jesus en die tempelbelasting. Ons vind dit in Matteus 17:24-27. Elke meelewende Jood moes jaarliks ‘n bedrag betaal waarmee die offerdiens in stand gehou is. Dit lyk nou asof Petrus deur ‘n vraag of Jesus die belasting betaal in die verleentheid gestel is.* Jesus is vooraf bewus van Petrus se dilemma en wag hom in met ‘n ander vraag. (25) "Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?" Die antwoord binne die denke van destyds is baie duidelik. Konings belas mos nie hulle eie familie nie. Koningseuns is vrygestel van belasting. Dit geld ook van die groot hemelse Koning. Jesus se insinuasie is duidelik : As Hy nie tempelbelasting betaal nie, is dit nie uit suinigheid, slordigheid of gebrek aan belangstelling nie. Hy, Jesus is die Seun van God, Hy as Prins word tog nie aangeslaan vir die onderhoud van sy eie Vader se paleis nie! Hy is vry van tempelbelasting en skuld niks! 

Tog besluit Jesus om wel vrywilliglik die voorgeskrewe tempelbelasting vir Homself en Petrus te betaal. Sommer so uit ‘n vis** se bek. Die eerste die beste vis. Geen groot issue nie! Hy doen dit nie omdat Hy daartoe verplig is nie, maar om nie onnodig aanstoot te gee nie! Jesus is vry om dit nie te betaal nie, maar betaal dit vrywillig! Jesus doen dit sodat daar nie misverstand sou wees nie. As Hy nie die belasting sou betaal nie, sou mense dink dat Hy die tempel of die offerdiens minag. Jesus wil nie ‘n onnodige struikelblok daar stel wat dit vir mense moeiliker sal maak om sy boodskap te glo en gered te word nie. Jesus betaal belasting al is Hy as Seun van God vry van hierdie verpligting. Dis ‘n pragtige demonstrasie van Christelike vryheid. Ek is vry van alle wette, maar maak myself vrywillig diensbaar aan God en my naaste.

Ek dien en gehoorsaam God nie om gered te word nie. Ek dien Hom omdat Hy my liefhet, my vryheid geskenk het en ek Hom wil dien. Ek kom kerk toe, ek bid, ek werk vir Hom vrywilliglik omdat Hy vir my alles reeds gegee het en ek wil dankie sê. Ek is vry, maar ek kies in vryheid om te dien. Ook om my medemens te dien tot hulle voordeel. Dis soos Paulus sy vryheid verstaan het. “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen." (1 Kor. 9:20) Hy besef hy is vry van die Joodse wette, maar hy onderwerp hom daaraan in soverre dit nodig is om die Jode na Christus te lei. Hy doen dus nie dinge wat die Jode onnodig aanstoot sal gee nie. Kom ons dink ons in aan die situasie van ‘n vroue sendeling in ‘n Moslem land. As Christen is sy vry om nie ‘n Hijab (haarbedekking) te dra nie, maar ter wille daarvan om nie ‘n aanstoot vir die mense onder wie sy werk te wees nie, sal sy dit vrywilliglik dra. Juis om die evangelie te bevorder. Dis presies wat Jesus doen met die tempelbelasting – uit liefde vir ander mense en sensitiwiteit vir hulle gevoelens gee Hy op hierdie punt sy vryheid prys en betaal! Laat ons veral hierdie beginsel onthou as dit kom by omstrede sake soos die gebruik van alkohol en tabak, kleredrag en grimering, ontspanning en vermaak... Ja, as Christen is ek vry, maar is my keuses in die beste belang van ander mense? Veroorsaak my keuses nie dalk ‘n struikelblok in die weg van die evangelie nie?

Deur geloof in Jesus is ons vrygemaak van ons skuld, vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel. Hierdie vryheid is nie ‘n selfsugtige vryheid, wat ek net tot my selfsugtige voordeel gebruik nie. Nee juis deur geloof in Christus is ons verlos en vry tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! 

Kortom : ons is vry sodat ons in vreugde (sonder vrees) en uit dankbaarheid God en ons naaste kan dien en liefhê. 

Die Christen is iemand wat nie in en vir homself leef nie, maar in Christus en in sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

*Volgens van Bruggen sou die vraag ook kon vertaal word met ‘n stellig. “Julle leraar betaal die didrachma nie!” Petrus se “Ja’ bevestig dan dat Jesus nie die tempelbelasting betaal het nie. 

**Net terloops. Wat is nou die betekenis van die geldstuk in die vis se bek? Die opvallende en besondere is nie dat ‘n vis ‘n geldstuk in die bek kan hê nie. (dit sou kon gebeur) Die opvallende is dat Jesus die mag het om so ‘n opdrag te gee en te kan weet dat die eerste vis wat gevang sou word so ‘n geldstuk in sy mond sou hê. Hierdeur bewys Hy dat Hy werklik die Prins is in die Vaderhuis, werklik die Seun van God, want dis net Goddelike Almag en Alwetenheid wat dit kan vermag.


Donderdag 24 November 2016

MOENIE KANNIBALE WORD NIE!

- gebruik jou vryheid verantwoordelik in liefde.


’n Christen kannibaal - al van so iets gehoor? Dis eintlik ’n bietjie ondenkbaar - kannibalisme word meestal geassosieer met ruwe barbare wat in wilde ekstase om ‘n vuur dans in afwagting van ‘n grusame maaltyd van mensevlees, heidene wat nog nooit die evangelie gehoor het nie. Kannibalisme is egter ook ’n gevaar in die kerk van Jesus Christus. So lees ons in Galasiërs 5:15 – “Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.” Ja, en dit gebeur nogal dikwels - vra maar rond - hoeveel mense het juis seer gekry in die kerk, tussen God se kinders...

LEERSTELLINGS MOET LEI TOT ‘N NUWE LEEFSTYL

Vanaf Galasiërs 5:13 begin 'n nuwe afdeling van die hierdie brief van Paulus. Dis ‘n gevestigde patroon van Paulus in sy briewe dat hy eers die leerstellige basis behandel – naamlik redding deur geloof in Jesus en dan praktiese opdragte en vermanings oor hoe om hierdie redding uit te leef. In Galasiërs het Paulus weereens die redding deur die geloof in Jesus alleen beklemtoon teenoor die Judaïseerders wat geleer het dat die wet (spesifiek die besnydenis) ook nodig is vir redding. Paulus het beklemtoon - deur geloof in Jesus is julle volledig vrygespreek en vry van alle Mosaïese wetgewing van die Ou Verbond!

Maar nou moet hierdie leerstellige waarheid prakties neerslag vind in ons lewens. Leerstellings (waarhede) is nie ‘n doel opsigself nie, maar is die fondasie waarop die praktiese Christen lewenswyse gebou moet word. Dit wat jy regtig glo sal en moet 'n invloed hê op dit wat jy doen. 

Ons glo pragtige korrekte dinge, maar word dit gesien in ons lewens? 

Paulus praat nou direk met God se kinders.* Die vryheid van die gelowige is reeds duidelik deur Paulus verduidelik. “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.” (5:1) Dis Christus wat ons volledig vrygemaak het. Dis kosbaar! Moenie weer ‘n slaaf word nie...

VRYHEID IN VERANTWOORDELIKHEID

Die vryheid van God se kinders is 'n feit en 'n voorreg. Paulus herhaal weer die feit van die vryheid van God se kinders. “Want julle is tot vryheid geroep, broeders;” (5:13) Hierdie vryheid bring egter ook verantwoordelikheid mee. Die vraag ontstaan nou- hoe lyk hierdie vryheid, wat is die praktiese gevolge, hoe moet hierdie verantwoordelikheid uitgeoefen word? Die regte gebruik en aanwending van hierdie vryheid word negatief en positief gestel. 

Negatief -13b - “gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie,” (OAV) “Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie.” (NAV) “Die "vlees" –verwys na die sondige menslike natuur, verdorwe aard van die mens. (vgl. Ef 2:3) Die woord wat hier met "aanleiding/geleentheid/verskoning"* vertaal word, beteken in die militêre sin die basis waarvan operasies uitgevoer word. Die beeld is hier van die sondige natuur wat die posisie van 'n vyandige opponent gebruik as 'n basis, vir sy aktiwiteite. Dit gaan hier oor 'n waarskuwing om nie vryheid te misbruik as verskoning (pretext) of geleentheid om toe te gee aan die wense van ons sondige natuur nie. Ons sondige menslike natuur is maar 'n kansvatter, as hy hoor van die vryheid in Christus wil hy dit misbruik. Dit mag nie - onder geen omstandighede nie! Dis hoegenaamd nie in lyn met die Christen betekenis van vryheid nie! 

Positief - 13c – “maar dien mekaar in liefde”. Liefde is hier die manier hoe hulle mekaar moet dien. Liefde is hier die liefde tussen Christene. Interessant Paulus gebruik die woord dien** (letterlik - slawe wees) binne die konteks waar hy juis die vryheid van Christene beklemtoon. Dit onderstreep die feit dat hoe vry die gelowiges ook al mag wees, hulle behoort nie aan hulleself nie - die doel van hulle vryheid is onderlinge diens deur liefde. Deur hierdie paradoks word die ware aard van Christelike vryheid uitgedruk - nie soos die Grieke dit verstaan het(en dikwels ons) as dat ek die meester van my eie besluite is nie, maar vryheid vind uitdrukking in die kapasiteit om andere deur liefde te dien. 

LUTHER SÊ DIT SO TREFFEND

Martin Luther was lank ‘n slaaf van twyfel, vrese, van Roomse leerstellings, reëls en rituele en daarom was die vryheid wat die eenvoudige evangelie vir hom deur die geloof in Jesus gebring het, baie kosbaar.

Een van Luther se beroemdste geskrifte is getiteld OOR DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN, wat in 1520 verskyn het. Hierin maak hy ‘n merkwaardige paradoksale stelling : 

‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; 
‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan. 

In die midde van die felle stryd teen Rome en al die gevaar daaraan verbonde, lewer Luther ‘n lofwaardige getuienis oor die vryheid van God se kinders. Vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel, vry van allerhande kerklike rituele en ondraaglike laste - maar juis deur geloof in Christus verlos tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! Daarom is die vrygemaakte kind van God iemand wat nie in homself leef nie, maar in Christus en sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

Ons hemelse Pa het ons ‘n persent gegee – verniet, want dis ‘n geskenk... ons is vry, ons skuld niks daarop nie en hoef nie daarvoor te werk nie, maar uit dankbaarheid deel ons die geskenk vrywillig met ander. Dankbaarheid vir sy vrye guns lei tot diensbaarheid in liefde!

DIE FOKUS EN ESSENSIE VAN DIE WET

Paulus gee nou die rede waarom hy kan sê dat onderlinge diens deur liefde die doel en fokus punt van gelowiges se vryheid is. “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat**: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (5:14) Die “hele wet” verwys na die bedoeling van die wet as geheeleenheid wat vervul word in die een gebod. Hy verwys na Lev 19:18b wat sê : “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die bedoeling hier is nie dat ons eers onsself moet liefhê voor ons ander kan liefhê nie,maar primêr dat ons ander moet liefhê met dieselfde spontaniteit en intensiteit as wat ons onsself liefhet. In die konteks hier is die naaste primêr, die mede-Christen. Die wet word vervul deur die liefde. Paulus kondenseer die wet as geheel in die een enkele gebod van die liefde.*** (liefde vir God natuurlik is nie uitgesluit nie, dis vanselfsprekend). 

In vers 15 verwys Paulus na onenigheid onder die Galasiërs, moontlik aangevuur deur geskille wat ontstaan het a.g.v. die Judaïseerders se leringe. Hulle word gewaarsku dat die gevolge hiervan selfvernietiging is. 

LAAT ONS OPSOM :

1. As mense wat deur Christus deur die evangelie vrygemaak is moet ons pasop vir twee gevare : terugkeer na slawerny van die wet aan die een kant en misbruik van ons vryheid aan die anderkant.

2. Vryheid van die wet beteken nie en is geen goedkeuring vir wetteloosheid en losbandigheid nie. Vryheid bring sy eie verpligting naamlik die korrekte gebruik van daardie vryheid. Radikale vrywillige liefde!


NIE BYT NIE, MAAR DIEN!

Die enigste sinvolle reaksie op ons kosbare verlossing en die vryheid wat Jesus ons gebring het is liefdesdiens. As ons die bevryding en vrede waarvan die Kersboodskap getuig regtig ontvang het, sal ons mekaar nie byt nie, maar mekaar begin dien. AMEN

Notas :

* Deur die beklemtoonde gebruik van "julle" tref Paulus 'n duidelike onderskeid tussen sy lesers en die agitators (die Judaïseerders) .

**“vervul” OAV

*** Drie opmerkings is van belang : 

1)Deur Christus se verlossing is gelowiges vry van die wet en dus onder geen verpligting om sy statute te onderhou nie.

2) God se wet bly egter 'n uitdrukking van Sy wil, wat vereis dat ons ons naaste liefhet soos onsself. 

3) Hieruit volg dat dit wat die wet as geheel van ons verwag, vervul word, aan voldoen word wanneer ons as medegelowiges mekaar in liefde dien. Deur lief te hê voldoen ons aan die diepste vereistes en bedoeling van die wet. Die wonder van die Nuwe Verbond is dat God se wette nou in ons harte geskryf is, nie in die vorm van reëls nie, maar in die vorm van ‘n begeerte om vrywillig lief te hê! Hierdie liefde is natuurlik nie bloot ‘n sentimentele gevoel nie, maar het duidelike etiese implikasies. (Kliek op Mauritius)

Maandag 12 Januarie 2015

DIE VRYHEID EN EENHEID VAN PARYS

- wat my nie opgewonde maak nie.

Hoe so? Selfs Abbas en Netanyahu loop dan saam-saam...?


Die wêreld is bykans ongeëwenaard verenig in die veroordeling van die aanval op die CHARLIE HEBDO kantore in Parys. Op ongekende skaal is daar die afgelope naweek vir vryheid en eenheid betoog. Christene is ongetwyfeld ook ten gunste van vryheid. Dis immers ‘n oorheersende tema onder andere in die brief aan die Galasiërs. Maar die vryheid waarvoor ons staan en waarin ons lewe is ‘n vryheid wat fundamenteel verskil met die vryheid waarvoor wêreldleiers Sondag in Parys saam met derduisende optoggangers gemarsjeer het, toe ‘n verbysterende geskatte 1,6 miljoen Franse Parys se strate ingevaar het vir hulle marche républicaine. 

SAAM MET DIE FRANSE EN DIE WÊRELD?


Die Christen bevind homself in ‘n moeilike middelposisie in hierdie tyd van #NousSommesCharlie. (ons is Charlie) Ja, ons is erg gekant teen alle terreur en geweld, ook Islamitiese terreur, maar ons is ook net so sterk gekant teen die obsene westerse idee van vryheid soos verteenwoordig in die lastertydskrif CHARLIE HEBDO. Almal gaan dus vir ons kwaad wees, die Moslems omdat ons hulle valse en gewelddadige godsdiens afwys, maar ook die Westerse postmodernistiese liberale omdat ons nie kan saamsing in hulle koor van losbandige vryheid teen God en sy gebod nie. Nooit, maar nooit kan ons onsself aan “Charlie” se kant skaar nie!

VRYHEID = VRYHEID ONDER DIE WOORD. 

EENHEID = EENHEID IN CHRISTUS.

As Christene glo ons in die vryheid om God te dien volgens ons gewete wat gebonde is aan sy Woord. As Christene verlang ons na eenheid, eenheid binne die Waarheid, met ander woorde ‘n eenheid wat gevind word in onderwerping aan Jesus Christus as ons Koning!

Die Franse se passievolle uitstorting van solidariteit en emosie vir vryheid en eenheid gee mens eintlik koue rillings. Maar dis rillings van skok, want die vryheid waarvoor hulle skree is ‘n vryheid sonder die grense van die Woord en die eenheid waarvoor hulle betoog is ‘n eenheid buite die heerskappy van Christus! Kortom gestel : Die massale optog in Parys is wesentlik die “opmars” van ‘n antichristelike bestel. Lyk my die wêreld is nou ryper vir so ‘n bedeling as ooit te vore...



                 [La place de la Bastille... foto Libération ]


[Merkel en Hollande - foto Libération ]

Vrydag 14 Junie 2013

SLAAF OF KIND?

- die belangrike waarheid vir die verstaan van Christelike vryheid.

Is jy in jou verhouding met God ’n slaaf of ’n kind? Dis ‘n baie belangrike vraag waaroor Galasiërs 4:1-10 mens ernstig laat dink.


“1. Hierby wil ek nog dít sê: Solank ‘n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ‘n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom.

2. Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.

3. En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls.

4. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe

5. om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.

6. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: "Abba!" Dit beteken: Vader!

7. Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

8. Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode.

9. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?

10. Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier.”


Slaaf of kind? 

Daar is ’n baie groot verskil. In destydse huishoudings was dit algemeen om slawe in die huis te hê. Hulle was eintlik maar deel van die huishouding en is soms ook selfs goed behandel. Maar tog is daar ‘n groot dieperliggende onderskeid. Wat is dan nou die verskil tussen ’n slaaf en ’n kind?

Die slaaf is net tydelik deel van die huis (hy kon enige dag verkoop word), ’n kind is permanent deel van die familie.

Die slaaf is vasgevang in ’n sisteem van pligte en reëls; die kind staan in ’n verhouding.

Die slaaf se waarde het net gelê in sy bruikbaarheid, dit wat hy kon doen; die waarde van ‘n kind kan nie gemeet word in geld of nuttigheid nie; dit gaan oor verwantskap! (Vir hoeveel verkoop mens ‘n kind?) Dit gaan oor onvoorwaardelike liefde!

Die slaaf moet die eienaar aanspreek as meneer of baas; die kind het die unieke voorreg om die eienaar, Vader, Pa of Pappa te noem!

Baie mense wat dink hulle is Christene is eintlik maar net (godsdiens) slawe! 

Hulle is miskien amptelik deel van die kerk en godsdienstig bedrywig, maar het nog nooit verstaan of beleef wat dit is om kind van God te wees nie. Paulus skryf baie ernstig oor hierdie saak, want daar was mense in die Galasiese kerk wat weer wou terugkeer na ’n slawesisteem van wette. ( Mosaïse wette soos die besnydenis en die onderhouding van Joodse feesdae). Dit wys ons op ’n skrikwekkende moontlikheid : Selfs ook ware van kinders van God loop die risiko om terug te val in ’n slawementaliteit en die vreugde van hulle kindskap te verloor!*

Is jy dalk ’n slaaf? (Toets dit bietjie)

’n Slaaf se lewe word gereguleer deur pligte en reëls, maar daar is min vreugde. Baie godsdienstiges is so. Jy probeer altyd om reg te leef, om in jou spore te trap, jy probeer die regte dinge doen... jy kom kerk toe, jy lees Bybel, jy bid, maar die blydskap in die Here is afwesig!

’n Slaaf word beheer deur vrees en onsekerheid, hy is gedurig bang dat hy ’n fout maak en gestraf word. So is baie se godsdiens : ek is onseker of God my liefhet, ek is onseker of Hy my vergewe het, ek is gevolglik bang vir die dood, bang vir die oordeel, bang vir die ewigheid! Ek kan nie regtig met vreugde en verwagting na die koms van Jesus uitsien nie, want sê nou ek maak dit nie regtig nie? Sê nou maar ek is nie goed genoeg nie?

Die slaaf ken net ’n werknemer-werkgewer verhouding, maar niks van ’n Pa-kind verhouding nie. Godsdiens is vir my ’n werk en nie ’n verhouding nie. Dis ’n swaar las van pligte wat my moedeloos maak en psigies uitmergel!

’n Baie goeie voorbeeld van ’n slaaf mentaliteit kry ons in die gelykenis van die Verlore seun, in die karakter van die oudste seun. Op die oog af het dit gelyk asof als reg is met hom : hy het nie weggeloop nie, hy het nie sy pa se geld op hoere geblaas nie, hy het al sy take en pligte uitgevoer... maar weet jy wat? Toe die Pa ’n fees hou vir die teruggekeerde seun toe kom daar ’n uitbarsting wat ’n nare geheim ontbloot : “Kyk al die jare werk ek soos ’n SLAAF vir Pa!” (Lukas 15:29) Wat sê dit? Daar was al die tyd ’n opgekropte bitterheid in hierdie seun. Hy was binne die vaderhuis, hy het nooit weggeloop nie, maar ook hy het geen verhouding met sy Pa gehad nie. Hy was maar nes ’n slaaf, uiterlik hou hy die reëls van die huis, maar binne geen liefde en verstandhouding met sy pa nie! (Kyk verder hieroor deur te kliek op DIE VERLORE SEUN 2)

My vriend, dink mooi : Jy is godsdienstig, dalk ernstig godsdienstig, maar is jy werklik ’n kind, of is jy net ’n slaaf?

Hoe word mens ’n kind? Wel, dis juis hoekom God sy Seun Jesus as mens gestuur het. (4) Kyk, ons is almal slawe van nature. Ons staan onder God se wette en omdat ons sondig is, breek ons daardie wette. Dit kla ons gewete aan, dit veroordeel ons, dit verskrik ons want ons weet ons verdien straf! En dis hoekom Jesus as mens gekom het, ook as mens onder die wet. Maar Hy het ons losgekoop van die wet. (5) Hoe het Hy dit gedoen? Hy het dit op twee maniere gedoen:
~Hy het die wet namens ons, in ons plek volmaak gehoorsaam. Daarom, as ek Jesus aanvaar, dan word ek ook beskou as iemand wat die wet volmaak hou. (Ek is mos in Christus!) 
~Maar Jesus het nog verder gegaan. Hy het die straf wat die wet vir ons voorgeskryf het, in ons plek gevat. (Jesaja 53:5,6) Die straf wat die wet vereis vir die sonde is die dood. Jesus het my sonde op Hom gevat en gesterwe in my plek. Die wet, om dit so te stel is nou tevrede, die straf is voltrek. Wie Jesus aanvaar het, kan beslis weet, my eie persoonlike sondes is klaar gestraf. Ek hoef nie meer in vrees en onsekerheid te leef nie, ek kan nou as ’n kind leef in die Vaderhuis.

Die basis van ons vryheid as kind van God is geleë in die radikale feit van ons vryspraak (regverdiging). 

God hou niks meer teen ons nie, in Jesus het Hy ons volkome aanvaar en ons verhouding met Hom is nie op enige manier afhanklik van ons prestasies nie! Ons kan Hom nou net voluit liefhê.

Omdat Jesus die prys betaal het, word elkeen wat op Hom vertrou as God se kinders aangeneem! En God gee ons ’n baie duidelike bewys van kindskap in ons harte! Wat is dit? Vers 6 (Lees) 

Die Heilige Gees, die Gees van Jesus woon in ons harte en bring ’n innige verhouding tot stand met ons Vader. Ons kan nou werklik vir God sê : “Vader, Pa” Hierdie waarheid word so duidelik gestel in Romeine 8:15 : “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader.” 

Nie meer slawe wat vrees nie, maar kinders wat liefhet!



Hierdie verhouding tussen my en God as my Vader reguleer nou my lewe en vorm die basis van my Christelike vryheid!

Prakties beteken dit: Ek lewe nou ’n heilige lewe, nie bloot omdat ek bang is vir reëls en straf nie, maar omdat ek my Vader wil eer en liefhê! Ek gaan gereeld kerktoe, nie omdat dit ’n harde wet is nie, maar omdat ek hier my Vader se woorde en teenwoordigheid geniet. Ek lees nou die Bybel nie as bloot ’n dorre plig nie, maar ek wil graag die stem van my Vader hoor. Ja, die kind hou hom nog by reëls, en daar is ook vir kinders pligte. Maar die hele motief, die hele verhouding is iets anders! 

Is godsdiens vir jou hierdie dorre sware plig? Heel moontlik is jy net ’n slaaf? Heel moontlik het jy nog nooit verstaan wat Jesus kom doen het nie, heel moontlik het jy nog nooit die volle verlossing wat Jesus bewerk het verstaan of aanvaar nie! 

Dis net ‘n kind van God wat waarlik die vreugde van Christelike vryheid kan smaak, maar natuurlik ook die groot verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan moet hanteer! Om vry te wees en uit ‘n vrywillige hart my Vader te dien en te gehoorsaam, sonder om daardie vryheid te misbruik en so my Vader te ontstel en my medemens te benadeel. Hieroor is Paulus baie duidelik :

“Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.
Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Galasiërs 5:13-16)

Die radikale vryheid van die Christen, maar ook die radikale liefdesdiens wat hieruit voortvloei is so treffend deur Martin Luther saamgevat : "‘n Christen is die mees vrye heer oor alle dinge, aan niemand ondrworpe nie; ‘n Christen is die mees diensvaardige kneg, aan almal onderworpe." Hierdie oënskynlike teenstrydigheid word immers deur Paulus self as volg geformuleer: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.” (1 Korintiërs 9:19)

Die kind van God moet sy vryheid uitleef onder die voortdurende leiding van die Heilige Gees, anders kan dit so maklik ontspoor deurdat ons toegee aan ons sondige begeertes!

PRAKTIESE RIGLYNE VIR CHRISTELIKE VRYHEID

My Christelike vryheid sal ek uitleef met die volgende sake in gedagte (Kyk veral na 1 Korintiërs 6 :12-20 en 8) :

Is hierdie ding wat ek wil doen bevorderlik en heilsaam vir my verhouding met die Vader en tot sy eer? Ek kan dalk redeneer, “dit is geoorloof”, maar is dit vir my nuttig?

Getuig my optrede van die bewustheid dat my liggaam nou ‘n woonplek (tempel) is van die Heilige Gees?

Hou my keuses rekening met die feit dat ek as hele mens (liggaam en siel) losgekoop is deur Jesus Christus en dus nie meer aan myself nie maar aan Hom behoort? (meer hieroor by VREEMDE VRYERS) Is my besluite ‘n weerspieëling van dankbaarheid hieroor?

Hoe raak my besluite ander swakker Christene? Gaan dit hulle benadeel of laat struikel?

Die maatstaf van my vryheid as kind sal wees liefde tot my Vader en liefde vir sy kinders!

Die praktyke van die sondige natuur druis baie duidelik teen hierdie liefde in (Galasiërs 5 :19-21), terwyl die vrugte wat die Heilige Gees in God se kind voortbring (Galasiërs 5:22) duidelik die stempel van liefde dra. Dit vervul dan ook die oorspronklike bedoeling van die wet.

Die kind van God bevind himself in ‘n opwindende verhouding : Die Vader het ons al ons skuld vergewe en gee vir ons die heerlike geleentheid om Hom vrywillig lief te hê!

Hoekom langer ’n slaaf wees? Aanvaar heelhartig die versoening van Jesus en word ’n kind! Kindwees, open ’n nuwe toekoms! As jy kind is wag daar vir jou ’n heerlike ewige toekoms! Vers 7 (Lees) 






Onthou dis net kinders wat erf, slawe kry niks!

*Pasop : Dis selfs vir kinders van God weer moontlik om deur mooi woorde weggelok te word terug na ‘n sisteem van slawerny. (soos wat die Hebrew Roots Movement graag doen. Kliek op : Wortels van Verwarring) Dis juis waarom Paulus hierdie gedeelte skryf. Maar ons almal moet maar versigtig wees om nie die kosbare verhouding van kindskap te verwaarloos en geleidelik te verstar in harde godsdienstige slawerny van uiterlike reëls en ‘n hartelose pligsaanbidding nie!






(Foto's : Ons jong volwassenes het onlangs die saak van Christelike vryheid oordink toe ons op Ohange Lodge gaan uitspan het)