BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Nuwe Begin. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nuwe Begin. Wys alle plasings

Dinsdag 01 Oktober 2019

DIE NUWE WYN


IS DIE BESTE! 

[Vir ‘n huweliksdiens, maar ook op elkeen van toepassing wat smag na 'n nuwe lewe...] 

Jesus verander water in wyn tydens ‘n bruilofsfees! (Johannes 2:1-12) Dis een van sy bekendste wonders. (Partykeer om ‘n verkeerde rede. Sommiges redeneer mos graag: “Ag, sien ons kan maar dronk word… Jesus self het mos wyn gemaak…” Jammer om hulle pret te bederf, maar hulle maak natuurlik ‘n groot fout, want die Woord van God is baie duidelik dat geen dronkaard die koninkryk van God sal binnegaan nie.) 

Wat beteken hierdie wonder dan wel? Wat wil die Johannes evangelie vir ons sê? En sê dit spesiaal ook iets vir julle wat vandag in die heilige eg verbind word? 

DIE GAS BY DIE FEES 

Die verhaal beweeg op verskillende vlakke. Dis natuurlik die wonderlike verhaal van die mens Jesus wat ‘n eg menslike fees, soos ‘n bruilofsfees saam met Sy dissipels bywoon en die gasheer uit ‘n groot verleentheid en verknorsing help. Sien vir Jesus vrolik rondbeweeg tussen die gaste! Jesus was geen askeet of kloosterbewoner nie, maar ware mens soos God bedoel het by die skepping. En onthou deel van God se goeie skepping was die skepping van die mens as man en vrou, van die huwelik… Dit moet ons tog duidelik laat verstaan : Die huwelik is ‘n kosbare geskenk van God aan die mens! Die huweliksverhouding en die intieme band tussen die twee geslagte is nie deur die duiwel uitgedink nie, maar deur God geskep! Geniet dit soos God dit bedoel het en vier fees! Maar vier fees op so ‘n manier dat ons Jesus as die belangrikste Gas in gedagte sal hou! 

TEKEN VAN SY HEERLIKHEID 

Maar daar is ook ‘n dieper vlak. Hierdie wonder word ‘n teken genoem. “Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.” (11) ‘n Teken wat ons iets moet wys van die allesoortreffende heerlikheid van Jesus. Dis tipies van die Johannes evangelie om Jesus se wonders te beskryf as tekens wat ‘n dieper geestelike boodskap moes oordra en geloof opwek. Nou wat is die boodskap van hierdie teken? Kom ons kyk na twee aspekte: 

OORVLOED 

Dis ‘n teken van oorvloed. “Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak.” (7) Let op die beklemtoning - “tot bo toe volgemaak” Die nuwe bedeling wat Jesus bring – die vergifnis en verlossing wat ‘n kenmerk is van sy heerlikheid is ‘n bedeling/lewe van oorvloed. En ons hoef nie te wonder van watse oorvloed hier gepraat word nie. Dis die heerlike oorvloed van genade! Johannes het sy lesers reeds hierop voorberei in die inleiding! “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon--en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid...En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” (1:14,16) Jesus die Messias, die Gesalfde van God bring ‘n oorvloed van genade en vergifnis. Vir die grootste stukkendste sondaar...

Meer nog! Hy bring ‘n nuwe begin, ‘n nuwe skepping, herstel van die skade wat sonde gedoen het. Die tema van die skepping en herskepping (waarby die saak van die huwelik so goed pas) het Johannes reeds aangeraak met sy inleidende sin. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” (1:1) Duidelike parallel met Genesis 1:1! Natuurlik deel nie almal in hierdie oorvloed van genade nie, trouens die meeste verwerp dit , maar vir die wat dit aanvaar – beteken dit ek deel in die voorreg om persoonlik ‘n kind van God te wees! (Sien Johannes 1:11-13)* 

Dis ook nie toevallig dat Jesus juis wyn maak as simbool van die nuwe Messiaanse bedeling nie. Dis ‘n tema wat by baie Ou Testamentiese profete voorkom, byvoorbeeld Amos**. Wyn is ‘n simbool van oorvloed, vreugde, vervulling en versadiging! 

DIE NUWE BEDELING 

Dis ‘n teken van die nuwe bedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref! Johannes maak ons spesifiek attent daarop dat die klipkanne wat Jesus gebruik het deel was van die reinigingsgebruike van die Jode. Die klipkanne met die water was deel van die ou Joodse oorde van seremonies en wette. “Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou”. (6) 

Jesus maak nou iets beter! Hy maak wyn in die plek van water. Die beste wyn! Hy vervang die ou orde en bring iets beter! 

Ook hierdie aspek het Johannes reeds in sy inleiding aangeraak. (Sien 1:17) Kort hierna verduidelik Johannes ook hoe Jesus die tempel vervang wat ook deel van die ou orde was. Die ou bedeling van Moses en die wet kon nie waarlik verlossing bring nie, maar Jesus kan! En Hy wil dit vir JOU doen!

Die nuwe bedeling wat Jesus bring, die nuwe skepping is soveel beter as die vorige! Die nuwe wyn wat Jesus maak is die beste! “Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom en sê vir hom: "‘n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou." (9,10) Die hele teken wat Jesus hier doen is ‘n teken van sy heerlikheid. Hy wat deur sy kruis en opstanding vir ons ‘n nuwe en beter toekoms geopen het. Oorvloedige vergifnis, maar ook uiteindelik volledige herstel van die skepping! Herstel van die skade en verwoesting wat Satan en sonde aangerig het. Kom ons roep hardop uit in hierdie stukkende wêreld : “Jesus maak sondaars nuut!” 

Hierdie nuutheid begin nou maar sal eendag volkome sigbaar wees. Die wonder wat Jesus by ‘n bruilof doen is juis so gepas, want dit wys uiteindelik heen na die bruilofsmaal van die Lam wat wag vir almal wat Hom glo. Die hemelse fees! En dis dié fees om nie mis te loop nie! 

Die betekenis van Jesus se wonderteken om water ‘n wyn te maak is dus baie duidelik. Dis ‘n teken van die nuwe oorvloedige genadebedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref en uitloop op ‘n nuwe skepping! Juis op die gebied van huwelik en seksualiteit is die sondegebrokenheid en sondeskade die duidelikste sigbaar. Maar dis juis ook hier waar Jesus ‘n oorvloed van genade en heelmaking kom bring het. Mag ons dit in die moeilike tye onthou! 

Francois en Madelein julle is as kinders van God begenadigde sondaars, julle het die volheid van sy genade ontvang. Mag julle dit ook verder in julle huwelik beleef en ook uitleef in julle huis, in die gemeente waar die Here julle geplaas het en in julle alledaagse handel en wandel! 

En sommer net ‘n laaste, maar baie belangrike vraag aan elkeen wat nou hier lees: 

HET JY AL DIE NUWE WYN GEPROE? 



*Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 
Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore. (Johannes 1:11-13) 

**Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. 
En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. (Amos 9:13,14)



Baie geluk Francois en Madelein!


Vrydag 18 Januarie 2019

TROOS, TROOS!

- God gee die enigste ware troos wat ons nodig het. 


“Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes."  Jesaja 40:1 (OAV) 

Watter heerlike woorde! Troos, die uitkoms is hier!* 

Ons is almal mense wat troos en bemoediging nodig het. Ons is stukkende mense in ‘n stukkende wêreld. Sonde, siekte, swaarkry...die sterflikheid wat soos 'n swaard oor ons koppe hang! Hier word troos juis vir ons aangekondig. En as ons troos ontvang het, het ek en jy die opdrag om aan ander troos en bemoediging te bring. (meer daaroor volgende week) Jesaja hoofstukke 40-55 is ‘n besondere troosboek. Hierdie gedeelte, 40:1-11 is die inleiding – die temas wat hier aangeroer word, word vorentoe verder uitgewerk in die res van die hoofstukke. 

Agtergrond en konteks. Die volk Israel sit in ballingskap in verre Babilonië. Dis ‘n hartseer ellendige situasie. Ver van hulle land en mense. Jerusalem is ‘n puinhoop. Die tempel is afgebreek. ‘n Verwoeste stad, verwoeste lewens, uitsiglose toekoms! (Dis dalk hoe jy nou voel?) Maar juis in hierdie situasie kom God met ‘n aangrypende en verreikende troosboodskap! Hoor mooi! 

Hierdie troos is iets konkreets. God se troos is iets baie meer as net medelye betoon, meer as net mooi woordjies of ‘n whatsapp met ‘n prentjie van blomme, gesiggies of vissies! Dis nie leë trooswoordjies soos : “Ag, dis nie so erg nie! Ag, jy sal een van die dae beter voel” nie. Dis die vaste versekering dat God ‘n einde aan die ballingskap sou maak en dat daar vir God se volk ‘n nuwe begin gaan kom. Dit gaan ‘n nuwe eksodus/bevryding wees. Daar gaan ‘n nuwe pad deur die woestyn gemaak word. (3) Letterlik ook in die sin dat net soos daar ‘n woestyn was tussen Egipte en Kanaän, daar ook ‘n woestyn was tussen Babel en die land. As God is troos is dit meer as net woorde. Dis ‘n nuwe begin! 

Hierdie troos is vir mense wat erg gesondig het. Die volk het juis weens sonde en God se oordele daaroor in soveel ellende beland. Hy het gestraf. Maar nou bring God uitkoms. Die straf is nou verby! (2) Die troosboek maak dit verder duidelik dat God self iets aan die sondeprobleem gedoen het. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (44:22) Goddelike troos vind plaas wanneer ons sondeprobleem aangespreek word, want dis juis die kern van al ons probleme! God het die vergifnis bewerk en daarom vra Hy bekering in reaksie daarop. In die res van die hoofstukke is daar duidelike oproepe tot bekering. Sonder bekering kan jy nie troos en vrede verwag nie. “Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here.” (48:22) “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (55:7) Onthou net : Troos en vergifnis is nie goedkeuring van sonde nie. Dink maar aan Jesus se hantering van die owerspelige vrou in Johannes 8. Hy veroordeel haar nie. Hy skenk vryspraak en kwytskelding, maar met ‘n duidelike opdrag om nie verder te sondig nie! 

Hierdie troos is vir verganklike mense. In hierdie gedeelte hoor ons ‘n moedelose skeptiese stem. Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: die gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. (6,7) Hier hoor ons twyfel. Hoe kan hierdie wonderlike beloftes waar word, ons is so nietig? Maar hoor die heerlike versekering… “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (8) Die mens is nietig maar God se Woord, God se beloftes staan onvernietigbaar, onveranderlik vas tot in ewigheid! God se Woord is effektief! Dit waarborg resultate! “Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (55:10,11) 

Hierdie troos is ‘n Godgewerkte en Godgewaarborgde troos. Dis God self wat ingryp omdat Hy getrou is aan sy Verbond “Vir my volk sê” (1) is ‘n sinspeling op die verbond. Dit word later eksplisiet gesê. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep.” (Jes 42:6a) God bewerk en waarborg die verlossing, want Hy is die almagtige! (5) As God besluit om iets te doen kan niemand dit keer nie! “Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. Ook hierna is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.” (43:11-13) 

Hierdie troos is ‘n evangeliese troos, die troos in Jesus! Dit gaan ooglopend oor veel meer as die einde van die fisiese ballingskap. Dit gaan oor die bevryding wat Jesus sou bring. Daar is baie aanduidings hiervan in hierdie hoofstukke self. Die belofte van die wegbereider in Jesaja 40:3,4 is deur die koms van Johannes die Doper vervul. “In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom." Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het: "Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit." (Matteus 3:1-3) Die sentrale figuur in Jesaja 40-55 is die Lydende Kneg van die Here, Jesus Christus. Die kern van hierdie troos kry ons so pragtig beskryf in 53:5,6. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” Jesus se plaasvervangende sterwe. Hy wat sy lewe vir sy skape gegee het. Jesus self is die Goeie Herder, wat juis ook vir die swakkes omgee en hulle versorg. 

"Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie." (11) 

Die enigste ware troos is die troos wat Jesus se kruisiging en opstanding vir ons bring! Dis die troos van die evangelie wat sê : Jou enorme skuld is klaar betaal, Ek het jou skande en verleentheid uitgewis! Ek maak ‘n nuwe begin met jou! Hierdie troos is so oneindig ryk! Dis meer as net vergifnis. 

Ons Verlosser sê ook : 

Ek gee jou krag! “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” (40:29-30) 

Jy hoef nie bang te wees nie. “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (41:10) 

Ek sal jou nooit vergeet nie. “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie." (49:15) 

Ek is nie meer vir jou kwaad nie. “Net ‘n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. In ‘n opwelling van toorn wou Ek ‘n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met ‘n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser.” (54:7,8) 

BELANGRIKE VRAAG 

Wat kos die troos? Hoe kry ekself dit? Die antwoord is duidelik : Kom, kom kry die troos en versadiging alles verniet! “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (55:1) Dis ‘n uitnodiging wat in die geloof aangeneem moet word. Dis ‘n uitnodiging van Jesus self. (vgl. Matteus 11:28-30) 

KOM KRY DIE TROOS,NOU!

Hierdie Goddelike troos moet in ons gebroke wêreld verkondig word. Ons moet dit self glo en hierdie troos ook aan ander bedien. (9) 

Ek wil jou graag aanmoedig. Doen jouself ‘n reuse guns en gaan lees biddend Jesaja hoofstukke 40-55! 

*Jesaja 40:1-11 (NAB) 

. 1 Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. 

· 2 Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes. 

· 3 Iemand roep: "Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God! 

· 4 Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ‘n gelykte word en elke koppie ‘n vlakte. 

· 5 Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê." 

· 6 Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: 

· 7 gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. 

· 8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig. 

· 9 Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: "Julle God is hier! 

· 10 Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom. 

· 11 Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.

"...strome op die droë grond" (Jesaja 40:3)

Donderdag 23 Maart 2017

HINKEPINK*

‘N NUWE TOEKOMS IN! 

"Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,..." 

[Jakob is op pad terug na sy geboorteland nadat hy vir Esau moes vlug. Hy moet nou weer vir Esau in die oë kyk en is baie bevrees. Hy maak allerhande planne om Esau met geskenke te paai. Maar voor hy Esau ontmoet, wag daar ’n ander verrassing vir Jakob. Hier in die nag by die Jabok rivier beleef Jakob ’n ingrypende lewensveranderende ontmoeting met God! Ons lees van hierdie ingrypende gebeurtenis in Genesis 32 :22-32] 

GROOT GEVEG

Wat ’n merkwaardige ontmoeting! ‘n Hewige worsteling! Die man wat teen Jakob baklei, is niemand anders as God self nie! Ja, God “baklei” soms met ’n mens! Maar Hy baklei nie met hom om hom te vernietig nie. Hy baklei met hom om hom te seën! 

Dit gebeur nogal dikwels dat God ’n mens op dieselfde tyd seën en slaan. Anders gesê, die tye wanneer God met ’n mens ontmoet en jou genadig is, is ook terselfdertyd ’n tyd van hartseer en pyn! Hierdie episode in die lewe van Jakob is ’n aangrypende voorbeeld daarvan. Kom ons kyk na ‘n paar praktiese beginsels uit hierdie gedeelte van hoe God dikwels met ons werk en ons ontmoet: 

Die ontmoeting is God se inisiatief! Jakob maak slim planne om Esau te paai (vers 20b), maar God het al die tyd nog ’n groter plan met Jakob gehad. Jakob maak hom reg om Esau te ontmoet, maar God ontmoet met Jakob. Jakob probeer sy verhouding met Esau reg stel, maar God wil eers werk aan die verhouding tussen Hom en Jakob! God gryp in Jakob se lewe in, Hy “oorrompel” vir Jakob. Dit laat mens onwillekeurig dink aan hoe God baie eeue later ’n Fariseër, op sy pad “oorval” het! Saulus van Tarsus se radikale bekering op pad na Damaskus! God is ’n God van ontmoetings! God werk en praat en stoei met mense! Om hulle te red en te verander. 

Dit was natuurlik nie ’n toevallige ontmoeting nie. God het al lankal ’n plan met Jakob gehad. Twintig** jaar vantevore toe Jakob gevlug het vir Esau, en hy met sy kop op ’n klip geslaap het by Bet-El en gedroom het van die leer met die engele wat opklim na die hemel, het God al met Jakob gepraat. God het hom belowe dat Hy hom sal beskerm en terugbring na sy land. (Gen 28:15) God se ontmoeting met Jakob, kom voort uit sy uitverkiesende genade! God het Jakob al lankal uitgekies en besluit om bemoeienis met hom te maak! Geliefde, die Here stap dikwels ’n lang pad met ’n mens - in jou ouerhuis, deur huisgodsdiens, in die Sondagskool, deur mense op jou pad, en Hy laat jou toe om baie draaie te loop....maar dan kom daar ’n tyd wat God sê : “Nou is die tyd! Nou moet jy voor my buig! Nou is die dag van beslissing en van redding!” Jy sal weet hoeveel keer die Here met jou gepraat het. Jy sal weet hoe lank jy al besig is om jou eie plannetjies te maak. Jy sal ook weet, dis nou die tyd. God roep my nou om Jesus te volg! 

Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding. (2 Korintiërs 6:2) 

Die ontmoeting met God is pynlik. Jakob is bang vir Esau. Maar nou kom hy skielik agter dat God sy eintlike "vyand" is. God baklei met hom in ’n pynlike geveg. Jakob moet eers met God versoen raak, voordat hy met sy broer vrede kan maak. Dis dikwels nodig dat die Here hardhandig moet ingryp in ons lewens. Ons is mos maar hardkoppig en hardhorend... Jakob word teen die heup geslaan sodat die heup uit die potjie spring. Paulus is met blindheid getref op pad na Damaskus. God moet ons dikwels eers slaan voor ons luister. Dit kan baie seer wees! Dit kan verskeie vorme aanneem...’n Groot verlies (dood van ’n geliefde), ’n mislukte huwelik, ’n ernstige siekte, ’n finansiële ramp of een of ander groot teleurstelling! Dit kan ook ’n groot vernederende openbare sonde wees, wat God gebruik om mens plat te slaan. (Dink aan Petrus) 

Iemand sê tereg oor hierdie gedeelte dat die fisieke pyn van Jakob nie al pyn was nie. Die ergste pyn was dat Jakob die waarheid oor homself moes raaksien. God vra vir Jakob wat sy naam is. Hoekom? God het mos vir Jakob baie goed geken. Jy, sien ’n naam in daardie tyd was eintlik ’n beskrywing van jou diepste wese en karakter. Nou moet Jakob, antwoord : “Jakob! Ek is Jakob! Ek is ’n bedrieër!” (Dis mos wat die naam Jakob beteken) God konfronteer ons eers met ons eie boosheid as Hy ons wil red en seën! Jesus sê vir die Samaritaanse vrou : “Gaan roep jou man.” Hy ontbloot die feit dat sy al 5 mans gehad het, en op daardie stadium ongetroud saamgebly het met ’n man! God wil hê dat ons die eerlike waarheid oor onsself in die oë kyk. En die eerlike waarheid oor myself is dat ek ’n sondaar is. Maar Jesus het juis gekom vir sondaars en net vir sondaars! Redding begin as ek eerlik is voor God en myself sien as ’n sondaar wat genade nodig het! 

Die ontmoeting met God bring genade en ’n nuwe begin. Nadat Jakob, die bedrieër ontbloot voor God gestaan het, ontvang hy genade. God stel hom nie teleur nie. God stel desperate sondaars nie teleur nie. Ons weet Jakob was op hierdie stadium van sy lewe desperaat dat God moes ingryp in sy lewe. Vers 26 (OAV) “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy dat U my seën.” Begeer jy God se genade bo enigiets anders! Hou moed! Dis nou die tyd dat God jou gaan antwoord! Jakob ontvang genade en die duidelike bewys daarvan is dat God hom ’n nuwe naam gee! “Die man het gesê: "Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou." (28) ’n Nuwe naam vir ’n nuwe mens! Iemand het dit so gestel:

Die glibberige aartsskelm word ‘n vroom aartsvader! 

Dis wat genade doen. Genade open ’n nuwe toekoms. As iemand is Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk alles het nuut geword.” ( 2 Kor. 5:17) 

Daardie wond...

Miskien kan jy vandag terug dink aan die tyd toe God werklik met jou ontmoet het. Dit was dalk ’n baie pynlike tyd, maar dit was ook ’n heerlike tyd toe jy genade en vergifnis ontvang het. Dalk hou jy nou nog letsels, ou wondmerke oor van daardie tyd. Kind van God, dank God dan vir dié letsels in jou lewe, dis ’n herinnering aan die seën wat jy ontvang het! Seën en letsel gaan dikwels saam. Dit word so treffend uitgebeeld in vers 31. “Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,...” Dit word spesiaal gemeld, die son kom op! ’n Nuwe dag het aangebreek, ’n nuwe hoofstuk in Jakob se lewe, ’n nuwe begin wat God met hom gemaak het. Positief, heerlik! Maar dit word ook gesê : “Jakob het mank gebly aan sy heup.” Soos iemand dit gestel het : Jakob hinkepink ‘n nuwe toekoms in. Vir altyd sou hierdie mank heup, Jakob herinner aan die dag toe God hom genadig was en geseën het! 

Eers eendag met die aanbreek van die heerlike toekoms by Jesus se wederkoms sal ons heeltemal sonder letsels wees!

Uiteindelik en beslis bring hierdie verhaal mens ook uit by Jesus. Hy het deur sy kruisdood en sy wonde vir ons alle seëninge wat daar is, verwerf : vergifnis, kindskap, die Ewige Lewe, die onverganklike erfenis! Maar dit het Hom ook ’n klomp pyn en letsels gekos. Die merke aan sy hande en sy voete en sy sy was getuienis daarvan - ook na sy opstanding was die letsels sigbaar. Mag Jesus se wonde ons herinner dat die volle prys vir my sonde betaal is, die boete was genoeg! Wees eerlik oor jou sonde in hierdie oomblik, bring dit na Hom. Vertrou Hom! Aanvaar sy vergifnis! Deur sy wonde het daar vir jou genesing van sonde gekom!

*"Die afloop van hierdie ontmoeting met die lewende God is nie dat mens soos 'n held in die destydse "Wilde Weste" - rolprente seëvierend die sononder inry nie. Jy hink die dagbreek van 'n nuwe toekoms binne." AF van der Merwe in  WOORD TEEN DIE LIG II/3

**Genesis 31:41

Maandag 12 Desember 2011

NUWE BEGIN IN DIE BEGRAAFPLAAS! Deel 1

Lees  eers Esegiël 36:24-38

Sien raak die groot waarheid : God is ’n God van ’n nuwe begin! Omdat Hy God is kan Hy dit op die onmoontlikste plekke met die onmoontlikste mense doen! God maak ’n nuwe begin in die begraafplaas! ’n Nuwe begin met ’n klomp bene! (dit sien ons later in hoofstuk 37) Hoor dit! Dis ’n feit! Hoor dit elkeen wat weggedwaal het, wat ’n gemors van jou lewe gemaak het, wat kosbare kanse laat verbygaan het, wat die Here se naam in die skande gesteek het, wat geteister word deur die mislukkings van die verlede... Hoor dit elke sondaar!

 God is die God van ’n nuwe begin!

Esegiël 36 stel dit so duidelik : God maak ’n nuwe begin met mislukte sondaars! Ons weet : Israel was God se uitverkore volk! Hulle het die wonder beleef van die Uittog, hulle was bevoorreg in elke opsig. Hulle het die Wet geken, die Tempel besoek, Priesters gehad en Offers gebring. En tog : Israel het boos en sleg geleef en God se Naam oneer aangedoen. (21) Dit bewys maar net weer : Uiterlike godsdienstigheid kan nie die mens se bose hart genees nie! Ten spyte van al hulle godsdiens, roemryke geskiedenis, al hulle voorregte, was hulle net so sleg en nog erger as die goddelose mense rondom hulle. Daarom straf God hulle, deur hulle te laat wegvoer in ballingskap. Deur hulle optrede het hulle God se Naam in die skande gebring. Die omringende heidense volke sou kon sê :  "Julle sê, julle het ’n heilige sterke God, maar kyk wat doen julle, kyk nou is julle verslaan en weggevoer na ’n vreemde land - waar is julle sterk God nou?”

Dink mooi : Wie doen die grootste skade aan God se naam op in hierdie wêreld ? Ja, jy is reg.... godsdienstige mense, mense op die lidmaatregister... kerkmense wat leef soos heidene!

Wat 'n tragiese skandelike toestand! Dit lyk asof God se plan met sy volk klaaglik misluk het.
Maar nou : Wonderlike nuus! God gaan nie alles net so los nie. Hy sê, Hy gaan ’n nuwe begin maak met die mislukte volk Israel. LW - God self gaan iets doen. Kyk die klem op EK! (Lees weer vers 24-27 hardop vir jouself)

Gód gaan ingryp!

Dis die mens se enigste hoop - as God ingryp en iets doen aan ons sonde en ellende. Dis wat ons ook so nodig het om te besef - as ons kyk na die afval en die verdorwenheid.... Geen menslik projek kan iets daaraan doen nie. Geen dreigemente of mooi praatjies kan die goddeloosheid keer nie. Geen aardse wette of reëls kan gesindhede (attitudes) en harte verander nie. Net God kan iets in jou lewe doen, in die lewe van jou eggenoot, in jou kinders...

Ons kan staatmaak op God se beloftes - Hy doen wat Hy sê! Kyk hoe kragtig stel vers 36 “Ek die Here sê dit en Ek sal dit doen.”

Net gou ’n belangrike vraag. Hoekom gaan God ingryp? Omdat Israel so belangrik of oulik is? Nee! Ter wille van die eer van sy eie Naam! (Terloops : Valse teologie sê altyd : Jy is so belangrik! Bybelse teologie sê : God se Naam is belangrik) God se doel is om die respek vir Sy Naam onder die oë van die volke te herstel. Vers 22-23 (Lees) God bring redding na sy volk nie omdat hulle dit verdien nie, maar ter wille van die eer van Sy heilige Naam. Onthou dit maar - as God ons genadig was -is dit nie omdat ek en jy so oulik was of beter as ander nie, maar om Sy Naam ontwil!
Soli Deo Gloria!

God maak ’n heerlike belofte oor wat Hy gaan doen: (dit behels basies drie dinge)

~ Hy gaan rein water oor hulle uitgiet. Hy gaan dus vergifnis skenk en hulle straf ophef (25)

~ Hy gaan vir hulle nuwe harte gee. Hy gaan sy Gees in hulle gee sodat hulle ’n nuwe begeerte sal hê om God se wil te doen en ook instaat sal wees om sy wil uit te voer. (26,27)

~ Hy gaan hulle seën, met ander woorde sy goedheid en sy liefde oor hulle uitstort. (33-35)

Hierdie beloftes van God het voorlopig in vervulling gegaan met die terugkeer uit Ballingskap uit Babel. Dit het dus konkreet waar geword in die geskiedenis! Maar daar sou nog iets beters kom!

Met Jesus se koms en werk het al drie elemente van hierdie belofte in volle vervulling gegaan:

~ Reiniging : Jesus bewerk vergifnis en hef ons straf op (sy werk aan die kruis bring reiniging) Prakties: Jou skuld en die skande van die verlede word finaal en volkome uitgewis. Jy is nou rein in God se oë!

~ Nuwe hart deur die Gees : Jesus gee die Heilige Gees aan elkeen wat Hom aanvaar - 'n nuwe hart met nuwe begeertes. Prakties beteken dit : Jy kry ’n Hart wat getrou wil bly aan jou huweliksmaat, ’n hart wat eerlik wil wees, ’n hart wat God se gebooie wil en kan uitvoer...! Kyk weer vers 27!

~ Seën : In Jesus kry ons deel aan al die seëninge wat God vir ons beloof het. (Nou reeds, maar veral ook eendag by sy wederkoms)

In beginsel het hierdie beloftes waar geword, maar wat is die situasie in jou persoonlike lewe? Het jy Jesus al aanvaar en so hierdie beloofde reiniging, nuwe hart en ewige seën ontvang?

God is die God van ’n nuwe begin! Ook ’n nuwe begin in jou lewe! Vertrou Hom daarvoor. Kom na Jesus, die Verlosser en Middelaar. Deur Hom sal God sy beloftes in jou lewe waar te maak! Amen
 
(volgende keer, meer hieroor)