BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Coram Deo. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Coram Deo. Wys alle plasings

Vrydag 04 Julie 2014

DADELIK MORSDOOD

- pasop vir die minagting van die Gees binne die heilige gemeenskap! 

As jy die boek Handelinge lees word mens getref deur die positiewe klanke van oorwinning, liefde, blydskap en getuienis in die eerste gemeente. Alles gaan so goed. Dan skielik die hartseer en skrikwekkende gebeure rondom Ananias en Saffira (Handelinge 5:1-11) wat uitstaan soos ‘n seer vinger, ‘n vals noot. Tragies, skrikwekkend, om van te sidder! ‘n Hele paar vrae word by ons opgeroep. Die spoed en die strengheid van hulle straf klink vir ons vreeslik, buitensporig en vreemd. Was dit regtig nodig en geregverdig om so drasties op te tree of het ons dalk hier te doen met die onbeheerste uitbarsting van ‘n outoritêre figuur? (Petrus) Word hier ‘n metode van tug in die kerk voorgeskryf? Wat is die betekenis vir ons vandag?

WIE IS GOD?

Reg aan die begin moet ons sê dat baie van die moderne verbasing en onbegrip vir hierdie gebeure te maak het met die feit hoe vêr ons denke en optrede verwyder geraak het van die Bybelse begrip van die ontsagwekkende heiligheid van God. Ons het ons eie inhoud aan God gegee. Vir ons self ‘n mak Vader Krismis god gemaak...een wat altyd met al ons doen en late saamstem... Die boodskap van Jesaja 6* het vergete geraak...

NOU WAT WAS FOUT?

Hoe moet ons hierdie twee mense se skokkende straf verstaan? Wel, om begrip vir die straf te kry sal ons eers die aard van hulle sonde moet probeer verstaan. Daar was geen verpligte kollektivisme in die Vroeë Kerk nie, so hulle sonde het niks te maak met die weiering om afstand te doen van persoonlike besit nie. Dit was ook nie net ‘n geval van gierigheid opsigself nie. Nee, die saak wat hier ter sprake kom is die kwessie van integriteit in die teenwoordigheid van die God van Waarheid. Ananias en Saffira het nie besef dat daar waar God se Gees is , daar is God, nie. Die God wat as heilige God ‘n verterende vuur is, wat alle valsheid vernietig.

Uit Lukas se vermelding van die gebeure is dit baie duidelik dat Ananias en Saffira met voorbedagte rade daarop uit was om te mislei. Hulle was daarop uit om op ‘n valse manier erkenning vir hulleself te kry in die geledere van die kerk. Daar was ‘n groot verskil tussen hulle optrede en die van Barnabas. Barnabas het vanuit ‘n gesindheid om andere te dien die volle prys van sy eiendom na die apostels gebring. Ananias het hierdie liefdesdaad vir mense oë gedoen en nog boonop doelbewus die waarheid verdraai. Hy het deel van die geld agtergehou.

AGAN EN ANANIAS

Deur die gebruik van die Griekse woord vir “agterhou” (2) vestig Lukas waarskynlik die aandag op die enigste plek waar hierdie betrokke woord in die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) gebruik word, naamlik die verhaal van Agan se sonde (Josua 7) Onthou weer die parallelle wat tussen die Intog gebeure (Josua) en die heilshistoriese fase wat in Handelinge vir ons geskets word. (Kliek op MET JOU) Agan het van die bangoed (dit wat aan die Here behoort) agtergehou vir homself. Deur dit te doen het Agan op ‘n tweeledige manier God geminag: 

· Hy het God se alwetendheid geminag, deur te dink dat hy God kan flous en ongesiens kan wegkom met sy daad.

· Hy het God se heiligheid en heerskappy geminag deur so arrogant te wees om te vat van dit wat aan God behoort het.

Agan se optrede het meer as net persoonlike implikasies gehad. Deur sy minagting van God het Agan Israel ontheilig. Dit was ‘n ernstige saak en loop uit op Israel se vernederende neerlaag teen die klein stadjie Ai. In ooreenstemming met die erns van die sonde is Agan en sy familie ook dan gestraf. Hulle almal is gestenig en verbrand. God is voorwaar ‘n verterende vuur! God laat nie met Hom speel nie!

Die ooreenkomste is ook verder baie opvallend. In beide gevalle het die weerhouding van die Here van dit wat aan Hom behoort tot die doodstraf gelei. Die vraag is nou net of Ananias wel die Here se eiendom gesteel het? Petrus het dit tog duidelik gestel dat hy sy eiendom kon gehou het. Die kernsonde wat Ananias se sonde ‘n parallel gemaak het met die van Agan was sy misleiding en bedrog. Ananias het openlik in die teenwoordigheid van die Heilige Gees (onthou die Heilige Gees woon in die gemeente) verklaar dat dit die volle prys van sy eiendom was. Daardeur het sy hele eiendom die Here se besitting geword. In hierdie opsig het hy dus van God gesteel. Net soos Agan het Ananias en Saffira die kennis en heiligheid van God beledig en geminag. Vir God gelieg! “Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God." (Handelinge 5:4) Hierdie paartjie het die arrogante sonde begaan om dit te durf waag om in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel bedrog te pleeg.

DIT RAAK ONS!

Lukas wil ‘n bepaalde boodskap aan die kerk van alle eeue oordra. Deur hierdie gebeure toon God Sy heiligheid en sy standaard van heiligheid vir Sy volk. (Sy kerk) Opvallend – die episode met Agan redelik vroeg gebeur het in die nuwe fase van God se plan met Sy volk - die intog in die beloofde land. Hierdie gebeure is ook aan die begin van ‘n nuwe bedeling, die bedeling van die Heilige Gees in die Nuwe Verbond, die veroweringstog van die kerk in die wêreld! (kort na Pinkster) 

Die kerk is die gemeenskap van die heiliges, reeds hier op aarde. Ons bely mos : “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!” Ons moet besef ons leef in die teenwoordigheid van ‘n heilige God. Hierdie besef moet ons motiewe en optrede bepaal. ‘n Lewe voor die aangesig van God! Coram Deo! Om vir elke oomblik te besef ek het met Hom te doen die Almagtige, Alwetende, Alheilige. God se oordeel tref hulle onmiddelik. 

Tog weet ons dat dit nie altyd so gebeur nie. (Ook maar goed so). Waarom gebeur dit nie aldag nie? Dis ‘n teken van God wat vooruitwys na die finale en skrikwekkende oordeel van misleiers en skynheilige meelopers by die finale koms van Jesus. 

VREUGDEVOLLE VOORREG, MAAR OOK GEVAARLIKE VUUR!

Om God in ons midde te hê is ‘n oneindige voorreg en genade, maar sy teenwoordigheid moet ook ‘n heilige eerbied en erns by ons wek, met hierdie God kan ons nie oneerlike speletjies speel nie! 

Binne die heilsgeskiedenis is hierdie nie ‘n voorbeeld wat ons presies so moet probeer navolg nie, maar is dit ‘n teken! Voor die finale aanbreek van die groot dag sien ons nog nie die volle seën en volle vloek waarvan hierdie tekens getuig nie. Ook in die Vroeë Kerk is nie alle ernstige sonde dadelik gestraf nie. Soms straf God sy kerk fisies deur byvoorbeeld siekte (1 Korintiërs 11:30-32; Jakobus 5:15), maar aan die anderkant sal daar baie skynheiliges wees wat eers by die finale oordeel aan die pen sal ry. Ons lewe nou nog in genadetyd, dis God se lankmoedigheid wat ons kans gee vir bekering. Daar is reeds tekens van God se oordele, maar alles word nie nou al voltrek nie.

EN NOU...?

Hierdie skrikwekkende gebeure rondom Ananias en Saffira :

~ is ‘n duidelike boodskap van waarskuwing aan die kerk van alle eeue. Dis kranksinnige dwaasheid om God se heiligheid en alwetendheid uit te daag en te dink ek gaan daarmee wegkom. Dis dwaas om die gemeente van die lewende God te probeer bedrieg of skade aandoen! (Ook jy wat jou liggaam, God se tempel skend deur onreinheid, jy wat probeer mislei deur in twee wêrelde te leef, neem kennis voor dit te laat is.

~ korrigeer die eensydige klemme wat op die Heilige Gees se werk en teenwoordigheid geplaas word. Ja, die Heilige Gees bring vreugde en blydskap (13:52; 8:39) By ‘n vorige keer het ons gesien dat dit juis die teenwoordigheid van die Heilige Gees is wat die gemeenskap van die gelowiges moontlik maak. (Kliek op GEMEENSKAP) Maar die Heilige Gees se teenwoordigheid hou ‘n skrikwekkende gevaar in vir almal wat Sy krag en heiligheid ligtelik opneem of wil misbruik.

~ laat ons besef die gepaste reaksie op die bewustheid van die brandende heerlikheid van die Heilige Gees se werk en teenwoordigheid is eerbiedige vrees en ontsag. (5:5,11,13) Lukas volg die Ou Testament se voorbeeld (Psalm 103:17; Spreuke 1:7) en som die hele lewe van geloof en vroomheid op met die frase, “die vrees van die Here” (Lukas 1:50; Handelinge 9:3) Waar is die vrees van die Here? Dit het ‘n skaars bestanddeel geword in die kerk van die Here. Is dit nie ‘n aanduiding dat ‘n groot deel van die Christendom maar besig is met hulle eie mensgemaakte here nie? Hartgrondige vreugde en eerbiedige vrees is nie vir God se kinders teenstrydige emosies nie. Ons vrees vir God is juis gegrond in die feit dat Hy die regverdige, heilige en konsekwente God is, maar dis juis ook die rede vir ons blydskap. Hy is deur Jesus ons Vader, ons is versoen met Hom. Dis met ander woorde nie dieselfde as die heidene se vrees vir hulle wispelturige gode nie. Wie bewus is van die angswekkende heiligheid van God verbly hulle in Sy genade en sal dit nooit goedkoop maak en God tart nie.

~ dwing ons om weer te besef met wie het ons te doen. Die Heilige van Israel! Sy volk moet ook ‘n heilige volk wees, dit was Sy standaard gewees in die Ou Bedeling, dis ook Sy standaard in die Nuwe Bedeling! (1 Petrus 1:16) Ja, Sy deur van Genade staan wyd oop, maar diegene wat dink hulle kan onheiligheid en disrespek en misleiding by hierdie deur insmokkel maak ‘n fatale fout. Genade en die feit dat God op grond van Jesus se werk al ons gruwelikste sonde vergewe, beteken nooit dat God Sy heiligheid prysgee nie. Dis juis hoekom genade die bloed van Jesus gekos het sodat God ons kan vergewe sonder om sy heiligheid prys te gee.

*Lees gerus hoe die profeet met die heiligheid van God gekonfronteer word en so sy eie en sy volk se sonde besef, maar dan ook vergifnis (en ‘n opdrag) ontvang!

(Hierdie boodskap was die laaste van die Pinksterreeks van 2014 oor temas uit Handelinge. Vir die eerste aflewering in die reeks, kliek op JESUS TEENWOORDIG)


Woensdag 01 Mei 2013

EK “LIKE” ELIA

Ek het Elia jare gelede leer "ken" langs die pad iewers tussen Okahandja en Otjiwarongo. Dit was nou nie juis ‘n aangename dag nie. Ek was oppad na Tsumkwe in Boesmanland (in die verre noordooste van Namibië) en het van die pad afgetrek omdat ek van mening was daar was fout met die bakkie waarmee ek gereis het. Vanaf die oggend het ek ander voertuie gestop en boodskappe by Windhoek probeer uitkry na my pa om te kom help. (dit was voor die tyd van selfone) Eers laatmiddag, ongeveer by vyf uur se kant, het Pa en ‘n werktuigkundige opgedaag, net om uit te vind daar was al die tyd niks fout nie... Praat van ‘n groot verleentheid... Maar nietemin, terwyl ek uur na uur daar gewag het, het ek aan A.W. Pink se bekende boek, “Elijah” gelees... 

Die profeet Elia is vir my ‘n fassinerende en inspirerende persoon. ‘n Held met ‘n harige mantel en ‘n leergordel. Natuurlik, gaan dit nie oor sy voorkoms nie, maar sy onverskrokke karakter. Op sy Facebookprofiel sou ek baie graag ‘n “like” wou registreer. Kyk bietjie saam met my na sy profiel soos die Woord dit vir ons teken : 

Elia het in die teenwoordigheid van God geleef. Coram Deo was die groeibodem van sy lewensuitkyk en aksies. Ons lees : “die God van Israel... voor wie se aangesig ek staan...” (1 Konings 17:1,18:15)* Hier lê die geheim van sy lewe en loopbaan. Hy het in eerbiedige kontak met God geleef. God se wil, wense en eer was sy ambisie en motivering. Hy het nie een of ander selfsugtige of selfgerigte agenda nagevolg nie, maar bloot opgetree volgens God se duidelike opdragte. Telkens lees ons : “toe kom die woord van die HERE tot hom...” (1 Konings 17:2,8; 18:1; 21:17) Al sy aksies was in gehoorsaamheid aan God se woord. (1 Konings 18:36) Elia was ‘n regverdige wat in ‘n verhouding met die Lewende God gestaan het en nie bloot ‘n beroepsprofeet nie. Hy het ‘n passie vir God gehad, ‘n ywer vir die HERE wat sy hart in beroering gebring het. Soos Henog het hy met God gewandel en soos Henog word hy lewend in die hemel opgeneem. Hy word die unieke voorreg gegun om die heerlikheid van God binne te gaan met ‘n wa en perde van vuur. Verbysterend! 

Elia was God se leerling avonturier en moes telkens nuwe grense van gehoorsaamheid oorsteek. God het vir Elia stap vir stap geleer wat geloof en vertroue behels. Hy moes ondervind dat God vir hom op enige plek en deur enige agent kan sorg. By die spruit Krit, het God kraaie gebruik om brood en vleis te bring. Elia is egter nooit toegelaat om in een of ander gemaksone te stagneer nie. Die spruit het al stadiger geloop en op ‘n dag heeltemal opgedroog... Wat nou? Elia moes eenvoudig net nog dieper op God vertrou. Van alle mense stuur God hom toe na ‘n weduwee (heeltemal hulpeloos in die destydse sosiale opset) en boonop nog ook ‘n heiden, juis in die gebied waarvan Elia se grootste vyand, die bose Isebel vandaan gekom het! Kyk, God het darem ‘n sin vir humor! Vanuit ‘n krisis stuur God vir Elia na iemand wat nog in ‘n groter krisis is om vir hom te sorg. Die dreigende ramp word afgeweer deur ‘n wonderwerk (vermeerdering van die meel en olie), maar Elia se geloofskursus was nog nie klaar nie. ‘n Groter ellende het gewag. Dink net sy groot verleentheid toe sy weldoener se enigste seun sterf... Alles deel van God se plan om Homself en sy almag aan Elia te openbaar, alles ter voorbereiding vir die groot slag van Karmel.


Elia het proefondervindelik geweet : 
GOD LEEF! 

Elia was nie ‘n people’s pleaser nie. Dink jou in, ‘n “kerkman” wat vir droogte bid! Laat ‘n predikant dit vandag waag om so iets te doen... Elia het hom bitter min aan enige openbare opinie of tydsgees gesteur. Dit kon nie anders nie, want ons het mos gesien hy het voor God se aangesig geleef. Toe Agab vir hom beskuldig dat hy die beroerder is van Israel, vertel Elia hom kaalkop die waarheid : “Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het.” (1 Konings 18:18) Elia het nie geglo aan ‘n sagte diplomatiese boodskap met mooi woordjies nie. Hy het gesê wat hy bedoel, en het bedoel wat hy gesê het. Op Karmel daag hy die volk in reguit taal uit : “En Elia het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” Elia, aangevuur deur sy ywer vir die ware God, het nie belanggestel in samesprekings met dwaalprofete en kompromieë met Satan se agente nie. Sy houding teenoor God se vyande was eenvoudig en duidelik , sy aksie was deeglik en dodelik : “Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elia het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar geslag.” (1 Konings 18:40) 

Kan jy raai wat sou die etiket om Elia se nek gewees het, as hy vandag sou optree? Ja, reg – ONVERDRAAGSAME FUNDAMENTALIS! 

Elia was ‘n bidder. ‘n Bidder volgens God se wil en plan. As God gesê het daar sal droogte wees, dan bid Elia vir droogte (Jakobus 4:17) en as God besluit het, dit moes weer reën, dan bid Elia vir reën! (Jakobus 4:18) Sy gebede was egter nie net tot water beperk nie. Vreesloos bid Elia vir vuur, nie om mense te vermaak of lof vir homself te probeer inoes nie, maar vanuit ‘n hartstogtelike begeerte dat God se volk na Hom moet terugkeer. Hy stort sy hart voor God uit. “En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elia nader gekom en gesê: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer.” (1 Konings 18:36,37) God antwoord inderdaad hierdie vurige gebed met vuur! Maar nog was dit nie die einde van Elia se gebede nie! Toe Agab optrek om te eet en te drink, het Elia opgeklim om te smeek en te pleit voor God vir die reën! (1Konings 18:42) Ware bidders stel alles uit en af om eers met God besig te raak! Elia het die kuns verstaan om met sy kop tussen sy knieë voor God te pleit totdat die deurbraak kom en God hoor! En was dit ‘n worsteling! Eers nadat sy dienaar die sewende maal gaan kyk het, het ‘n wolkie so groot soos ‘n man se hand verskyn... 

Elia was tog ook net ‘n gewone brose swakke mens. Elia moes ook die dure les leer dat die sterkste gelowige nog steeds niks en volkome afhanklik van God se genade is. Elia wag hierdie keer nie vir die woord van die HERE nie en die gevolge is katastrofies : die dapper profeet word bang, vlug vir ‘n vrou en verval in patetiese pessimisme en diepe depressie. (Lees meer hieroor, kliek op – PROFEET ONDER DIE BOS) Die held van Karmel se moed verkrummel en hy wankel op die rand van selfmoord! Gelukkig is God getrou. Hy verlos Elia en gee aan hom weer ‘n nuwe visie van Homself en nuwe opdragte. Elia se uitgesprokenheid en waagmoed, maar op ‘n manier juis ook sy swakheid inspireer my... 

(as jy wonder, ja, Elia het volkome van sy angste herstel en later vreesloos in opdrag van die HERE geprofeteer dat die honde Isebel sou opvreet...) 

Man, ek sê weer, ek “like” Elia. Mag God ons genadiglik sulke manne skenk wat vreesloos en met integriteit sal optree. Dit kan gebeur, want die God van Elia is nog steeds God! 


*Skrifaanhalings kom uit die Ou Afrikaanse Vertaling