BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Helde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Helde. Wys alle plasings

Saterdag 07 Desember 2013

MANDELA

- as heilige verklaar?

RSG berig : 

"Die aartsbiskop van York in Engeland, John Sentamu, sê hy hoop oud-president Nelson Mandela sal as 'n heilige deur die universele kerk verklaar word. Sentamu wat naas die Aartsbiskop van Canterbury die tweede magtigste persoon in die Kerk van Engeland is, het hulde aan Madiba gebring. Hy sê wat Mandela in sy lewe gedoen het, is die verpersoonliking van wat 'n heilige is. Sentamu het 'n beroep op mense gedoen om ter herinnering van Madiba in die tyd wat volg, meer liefdevol, ondersteunend en gelukkiger te wees."


Die leegheid van die wêreld en sy godsdiens word so ontbloot in hierdie dae van Mandelasterie! Volgens die Bybel is alle kinders van God, heiliges! (Kliek op ROOMSE RAAISELS)

In die hoofartikel van vanoggend se BEELD word gesê dat Suid-Afrika nou "vaderloos" is! Wel, ek is gelukkig nie - my Hemelse Vader is nog steeds daar en sy sorg en beskerming is ewig en volmaak!

Die raserny rondom Mandela maak vir my maar net een ding duidelik : Miljoene mense smag na 'n ware held en bevryder. Dis so wonderlik om ons HELD EN BEVRYDER Jesus Christus te mag ken en een van die dae sy vleeswording te mag vier...

Vir 'n Christelike perspektief op Mandela - kliek op MANDELA IS NIE DIE MESSIAS NIE

Hierdie gaan jy nie in die media sien nie:

Lees meer oor 'n alternatiewe siening oor Mandela by die WARE MANDELA - siening van 'n sendeling. (nie noodwendig myne nie)

Sondag 24 Februarie 2013

JESUS FASSINEER MY!

- want Hy is volmaak liefdevol en regverdig, maar nooit ‘n people’s pleaser nie. 


Jesus fassineer my! Daar is niemand soos Hy nie! Hy is waarlik God! Van ewig is Hy daar. Hy is ook  volledig mens, iemand wat honger en dors kan kry. Wat kan huil. Maar Hy is ‘n volmaakte mens – die Enigste Volmaakte Mens! Dis so duidelik uit sy verhouding met sy Hemelse Vader. Een ding het vir Hom saakgemaak – om die wil van sy Vader uit te voer. Ons lees hier in Lukas 9:51 hoedat Hy vasbeslote die reis na Jerusalem aangepak het. Ja, Hy het geweet wat daar wag – verraad deur sy eie dissipel, bespotting, lyding en dat Hy uiteindellik die wreedste marteldood denkbaar sou sterf! En tog gaan Hy in gehoorsaamheid aan sy Vader...in die angsnag van Getsemane bevestig Hy dit weer. 

Jesus is volmaak gebalanseerd en heilig. Hy was absoluut regverdig, liefdevol, genadig, maar Hy het nooit iemand gelek of iemand se guns gesoek nie. Hy was nooit onbeskof of onvriendelik nie, maar ook nooit ‘n people’s pleaser nie! In ‘n tyd wanneer een na die ander held of “celebrity” val – van Joost van der Westhuizen tot Lance Armstrong tot Oscar Pistorius is dit so wonderlik om die volmaakte held, Jesus Christus te aanbid en te bewonder! Mag ons alle mensafgode laat staan en Hom alleen vereer! 

Jesus se absolute volmaaktheid, liefde en regverdigheid, ja sy onkreukbare karakter, maar ook sy allesoortreffende belangrikheid en Goddelike gesag, kom so duidelik hier in Lukas 9:51-62 na vore. Mag dit ons elkeen bring tot ‘n nuwe oorgawe aan Hom. Mag ons Hom bewonder en aanbid vir Wie Hy is! 

Oppad na Jerusalem moes Jesus deur die Samaritaanse gebied reis. (dit was so noord van Jerusalem) Hy probeer toe oornag verblyf daar reël, maar die Samaritane weier dit, want hulle was die Jode vyandig gesind en hulle het nie Jerusalem as aanbiddingsplek erken nie. (“hulle was nou lekker spiteful”) Toe dit nou gebeur, raak twee van Jesus se dissipels, Jakobus en Johannes ewe skielik baie entoesiasties en ywerig. Voortvarend sou mens kon sê. (54) “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Hoe boos en bedrieglik is die mens se hart! Dit klink of die dissipels hier begaan is oor Jesus se eer, maar eintlik wil hulle maar net aan hulle eie negatiewe gevoelens teenoor die Samaritane uiting gee.* Hulle dink hulle kan Jesus inspan om hulle eie nasionalistiese wraaksug teen die Samaritane te bevredig. Maar hulle misgis hulle met Jesus. Jesus het hulle skerp tereggewys. (55) Jesus het geen wraakgevoelens teenoor die Samaritane nie. Hy wil dat hulle ook gered word. Hy het ook genade en liefde vir Samaritane! (Dink maar aan Sy gesprek met die Samaritaanse vrou in Johannes 4. Hy bied haar die lewende water aan, al is Hy baie eerlik met haar en ontbloot Hy haar sonde van losbandigheid om ongetroud saam met ‘n man te woon. Weereens Jesus is nooit 'n people's pleaser nie!) Jesus laat Hom nie misbruik nie! Nie vir ons politieke of sport voorkeure nie (Hy is nie daar om die blou Bulle op die rugbyveld te bevoordeel nie), maar ook nie vir ons aardse materiële ambisies nie! Interessant, later in die boek Handelinge lees ons ons hoe baie Samaritane hulle tot Jesus bekeer het... 

Terwyl Jesus oppad is na Jerusalem om gekruisig te word gebeur daar nog dinge wat ons beter laat verstaan wie Hy is... Iemand bied aan om Jesus te volg. Hy klink baie oortuigend en entoesiasties. “Ek sal U volg waar u ook al gaan.” (57) Ons sou dalk dink, dis ‘n uitstekende kandidaat om ‘n dissipel te word. Maar Jesus gooi bietjie koue water op sy opgewondenheid. “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie.” (58) Jesus is baie eerlik. Hy wil nie hê iemand moet Hom volg weens verkeerde motiewe of misplaaste verwagtings nie. Hy wil hê ons moet weet dit bring swaarkry as jy Hom gaan volg. Dis asof hy wil sê : “Meneer, dink mooi, daar is geen gerief of materiële voordele betrokke as jy my wil volg nie!” 

Jesus het nooit die “Prosperity Gospel” van Joel Osteen en ander Amerikaanse kwaksalwers verkondig nie! 

Jesus roep ‘n ander persoon : “Volg my” (59) Die man klink heel gewillig, maar hy wil eers die belangrike medemenslike taak verrig om sy Pa te gaan begrawe. Jesus wys dit sterk af. (60) Sjoe, dit klink nogals hard. Wat bedoel Jesus hierdeur? Hy probeer nie sê dat ons nie respek vir ons ouers moet hê nie – Hy wil maar net duidelik stel dat as ek Hom wil volg Hy absoluut eerste prioriteit moet geniet. 

In die lig van Jesus se absolute majesteit, word alle ander belangrike dinge minder belangrik! 

Nog iemand bied aan om Jesus te volg, maar hy stel ‘n voorwaarde : “Laat my eers toe om my familie te groet.” Ons weet nie presies wat die konteks was nie, miskien was sy familie dalk ver of sou dit lank neem. Jesus se antwoord (62) wys egter maar net weer : Hy vereis totale oorgawe! Absolute “commitment!” 

Net Jesus kan absolute oorgawe van ons wil, emosies, besittings, noem maar op, eis! Hoekom? 

Die antwoord sien ons voor ons hier op die Nagmaalstafel : brood en wyn, die tekens van sy volle oorgawe aan die wil van die Vader ter wille van ons. Jesus gee alles! Jesus het Homself as offer gegee. Sy liggaam is stukkend gebreek, sy bloed het vryelik gevloei. Hy het Homself gegee om in ons plek verbrysel en deurboor te word. Hy is vir al my aaklige sondes gestraf. Sy lewe was vir my ‘n genoegsame boetebetaling. Deur geloof in Hom is ek vry, sonder skuld voor God. Sy genade vir stukkende sondaars is onbeperk ruim – Ja, Hy het genade selfs vir die Samaritane wat Hom nie eers slaapplek wou gee nie. Genade vir ‘n Saggeus, ‘n Petrus, ‘n Paulus... maar moenie ‘n fout maak nie, Hy vra totale oorgawe en toewyding en gehoorsaamheid... Hy gaan nie vir my en jou lek om Hom te volg nie... Hy stel die voorwaardes...nie ons nie! Om Hom na te volg kan dalk my vriende, my reputasie, my geld kos... Maar weet verseker, om Hom te glo en te volg is ewige absolute wins! Amen.

*Ja, dit lyk op die oog af dat hulle God se eer wil verdedig soos Elia in 2 Konings 1:10,12, maar Jesus is nie beïndruk nie.