BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Woord en Gees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Woord en Gees. Wys alle plasings

Vrydag 01 Maart 2019

KRY WEER LEWE!


- Die lewe wat die Gees gee deur die Woord! 



Wat moet ek doen as my liefde vir Jesus flou geword het? Wat staan my te doen as ek my geestelike woema en vreugde verloor het? Wat is die oplossing as my geestelike vlammetjie laag en effentjies brand? Of as ek afvallig geword het? Dis ‘n vraag waarmee elke kind van God iewers langs die pad te doen kry. Ons bly nie altyd op ‘n geestelike hoogtepunt nie! Daar is nie altyd ‘n liefdesywer vir God en sy mense in ons hart nie. 

Nou is daar ‘n paar groot gevare wat dreig as God se kinders deur sulke dooie en dor tye gaan : 

1.Ons gee maklik moed op. “Nee wat Christenskap is nie vir my nie, dit werk nie! Ek gaan als maar los." 

2.Ons aanvaar die geestelike louheid en doodsheid as normaal. “Ag, ek sal maar net so met die uiterlike rituele voortgaan al het ek geen vreugde of passie meer nie. Ek sal maar net voorgee dat als goed gaan. Dit lyk in elk geval nie juis of dit met ander Christene veel beter gaan nie” 

3.Ons gryp in radeloosheid na allerhande kunsmatige oplossings en oppervlakkige ervarings. ‘n Nuwe kerk, een of ander nuwe lering, ‘n kitsplan vir geestelike lewe…. “Ek moet dalk net ‘n slag omval (slain in the Spirit), miskien ‘n paar Gospel konserte bywoon, dalk iets nuuts ontdek of doen, soos om die Joodse sabbat te begin hou…" 

JESUS VERTEL ONS DUIDELIK WAAR LEWE VANDAAN KOM… 

Hier in Johannes 6:63 maak Jesus self ‘n baie belangrike uitspraak oor die geestelike lewe. 

“Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self (Grieks = vlees) kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.” 

Die kernwaarheid is : 

Die Heilige Gees bring ware lewe, nie die vlees (mens) nie! 

Dit het in hierdie konteks daaroor gegaan dat baie van Jesus se dissipels aanstoot geneem het oor die dinge wat Jesus gesê het. (Vgl. 6:53) Nou wil Jesus sê : “As julle hierdie dinge op ‘n bloot vleeslike/menslike manier probeer verstaan gaan dit julle nêrens bring nie! Menslike pogings en prestasies kan nie ware lewe gee nie, net die Gees kan.” 

Mensgemaakte kitsoplossings gaan nie jou Christen blydskap en vreugde weer herstel nie! 

GEES EN WOORD 

Twee opvallende sake kom hier in Jesus se woorde na vore. Die onmisbare belangrikheid van Gees en Woord. Beide sake se wortels gaan terug na die Ou Testament. 

Dwarsdeur die Ou Testament word dit duidelik gesê dat die Gees lewe bewerk. Dis ‘n basiese waarheid. Vir ware lewe is ons totaal afhanklik van die Gees van God, die Heilige Gees! Reeds in Genesis 1:2 by die skepping word ons gewys op die onmisbare belangrikheid van God se Gees. ‘n Ander dramatiese voorbeeld van die Gees wat lewe gee is die visioen van die vlakte met die doodsbeendere in Esegiël 37! 

In die Johannes evangelie word die onmisbare rol van die Gees keer op keer beklemtoon. Een van die belangrikste plekke is in Jesus se verduideliking van die wedergeboorte aan Nikodemus in hoofstuk 3. 

“Daarop sê Jesus vir hom: "Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." 
Nikodemus vra Hom toe: "Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?" 
Jesus het geantwoord: "Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 
Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 
Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 
Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is." (3:5-8) 

Geen lewe is moontlik sonder die lewendmakende Gees van God nie! 

Daarom is dit so belangrik dat die Gees op Jesus neergedaal het! (1:32 ev) Baie belangrik – Jesus het nie net die Gees op ‘n beperkte manier of vir ‘n tyd lank beleef nie. Nee. Ons lees hierdie wonderlike uitspraak in 3:34 – “God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking.” Jesus beleef die onbeperkte teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees! Nou verstaan mens wat Jesus in die tweede deel van vers 63 sê : “Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.” (NAB) of “die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” (OAV) Omdat Jesus absoluut vol van die Heilige Gees is, is sy woorde die produk van die lewegewende Gees. 

En dit bring ons by ‘n belangrike saak : 

Jesus se woorde as ons dit hoor,
verstaan en absorbeer, wek ware lewe! 

Die oplossing vir jou louheid en flouheid is hier... in jou hande! Jesus se woorde maak die verskil! Dis wat Jesus vir die dissipels hier probeer oordra – “As julle my woorde reg verstaan dan sal julle nie aanstoot aan my neem nie, maar julle sal my aanvaar as die brood van die lewe!” 

Om Christus as die Brood van die lewe te eet is om sy woorde te eet en te absorbeer in jou lewe. Om Jesus te ken kan nie losgemaak word van om sy woorde te ken en te glo nie! Omdat Jesus vol van die Gees is, is dit sy woorde wat ware lewe in ons wek! 

Weereens, hierdie waarheid vind ons alreeds in die Ou Testament. Kyk na Deuteronomium 8:3. “Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.” Hierdie woorde is Jesus self, dis sy woorde. Jesus se woorde is dus ons bron van lewe! Dit herinner sterk aan die uitspraak van die profeet, Jeremia. “Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ‘n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is, Here, almagtige God.” (Jeremia 15:6) 

VAT SAAM: 

1.Ware lewe kom van die Gees en die Woord. Daar is ‘n onlosmaaklike verband tussen die Gees en die Woord. Jesus se Woorde kom van die Gees en het lewendmakende krag. Jesus se woorde as ons dit ernstig opneem het lewendmakende krag! Hierdie woorde het ons in die Skrif! Pasop vir ‘n valse onderskeid as mense ewe vroom beweer : “Ek soek die Gees, die Woord is maar net letters!” 

2.As my geestelike lewe verflou het, moet ek dus opnuut erns met die Skrif maak. Ek moet tyd en moeite doen om die woorde van Jesus te verstaan, maar ook glo en absorbeer in my lewe. 

3.Pasop vir kitsoplossings en kortpaaie. Net soos ‘n wiskundeboek onder jou kopkussing jou niks baat nie, gaan ‘n Bybel op jou bedkassie ook nie veel help nie. Jy leef dalk vir jare en jare in dorheid, omdat die woorde van Jesus vir jou onbekend is of geslote is. Pasop vir skynoplossings – tegnieke en metodes wat net vir ‘n tydjie emosies opjaag, maar dis nie gebou op ‘n suiwer verstaan van die woorde van Jesus nie. 

4.Jesus wil vir ons die volle lewe gee. Dis ‘n lewe van oorvloed. “‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” (Joh 10:10) Dit het hier niks te doen met loopbaansukses, geld of gesondheid nie. Dit gaan daaroor om voortdurend met Hom in gemeenskap te leef. 

IS JOU WOEMA WEG? BEGIN OM ERNS TE MAAK MET DIE WOORD! 


Vrydag 09 Maart 2018

DIE AVONTUUR VAN WARE GEBED

- Bid met die fokus op Hom wat op die troon sit en beleef hoe die Gees werk en die Woord versprei! 


Verlede Sondag het ons ‘n kykie gekry in die hemelse troonsaal. Die setel van alle mag en gesag, die plek van alle beslissings en besluite wat die heelal en die geskiedenis raak, maar ook ons elkeen persoonlik. Ons het saam met die apostel Johannes gesien – GOD IS OP DIE TROON. Ons het gesien en gehoor dat die hele kerk van alle eeue, die engele en die ganse skepping gefokus is op een saak : die aanbidding van God! Die spilpunt waarom die heelal draai is nie menslike drome, belange en behoeftes nie, maar die eer van die oneindig heerlike en glansryke God! Daar is altyd rede om God te loof – as Skepper en as Verlosser. 


HOE BID ONS?

Maar hoe raak dit ons nou prakties? Hoe raak dit spesifiek ons gebedslewe? Maak dit ‘n verskil aan die inhoud van ons gebede? En dis terloops sommer ‘n goeie vraag : “Hoe lyk my en jou gebede? Pas dit in by die groter prentjie. Is ons gebede nie dikwels maar ‘n inkopielys of ‘n gesanik oor probleme en ellendes nie? Mis ons gebed nie al te dikwels die doel waarvoor gebed daar is nie?” Helaas dis inderdaad dikwels die geval. En dis seker die groot rede waarom gebed so ‘n frustrasie is en waarom gebede onbeantwoord bly, want God gaan nie toelaat dat ons Hom inspan vir die verwesentliking van ons eie selfsugtige ideale nie. Dis hierdie verkeerde fokus van gebed wat mense dan uiteindelik moedeloos en rebels maak, “Ag, nee wat gebed werk nie” en dan hou ons heeltemal op met bid. Natuurlik mag en moet ons ons eie behoeftes aan God bekend maak. Ons kry immers so ‘n opdrag in Filippense 4. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Fil. 4:6) Maar ons gebedslewe as geheel moet gefokus wees op die eer van God wat op die troon sit en nie op selfbelang en selfsug nie. 

Dis tog die duidelike strekking van die Onse Vader! Allereers gaan dit oor God se naam, God se koninkryk en God se wil en daarna oor ons behoeftes juis binne die konteks van die najaging van hierdie Godverheerlikende doelwitte! 

Van nature stel ons ons eie begeertes eerste! My geluk, my behoeftes, my veiligheid, my belange, my klein wêreldjie. Dis eers wanneer die Heilige Gees ‘n mens se hart waarlik verander via die wedergeboorte dit daar ‘n passie in ons harte begin groei vir God se koninkryk, God se plan, God se eer.

AVONTUUR!

Ware gebed wat gefokus is op God se eer is iets wonderliks! ‘n Reuse avontuur! God maak ons so deur ons gebede deel van sy plan om sy koninkryk te laat kom. Ons beweeg so saam met God se bedoeling en God se agenda! En hoe laat God sy koninkryk kom? Deur die verkondiging van die Woord en die werk van die Heilige Gees. En daarom is dit opvallend in Handelinge hoe Gebed, die Woord en die Heilige Gees saamgaan.

GEBED, WOORD EN GEES

Ons het dit treffend ‘n werklikheid word in Handelinge 13:1-3. 

“Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. 
Toe hulle op ‘n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: "Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het." 
Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.” 

Wat gebeur hier? Die leiers van die gemeente kom bymekaar vir vas en gebed. Hulle dien op so ‘n wyse God. Dis binne so ‘n konteks van Godgefokusde gebed waar die Heilige Gees werk en leiding gee en ‘n nuwe koers aandui oor hoe die Woord van God kan versprei. Paulus en Barnabas word afgesonder om die Woord te verkondig. Dit loop dan uit op die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas. En dink aan al die heerlike gebeure en kragtige deurbrake tydens daardie reis... 

Dis natuurlik nie die eerste soortgelyke situasie in Handelinge waar die verband tussen God gesentreerde gebed en die Woord duidelik na vore kom nie. Ons vind ‘n soortgelyke samehang tussen gebed, die Heilige Gees en die Woord in Handelinge 4:23-31. Dit vind plaas na die dreigemente van die Joodse Raad teenoor Petrus en Johannes om die apostels te probeer stilmaak. Dan vertel hulle dit aan die ander. En wat doen hulle dan? Hulle bid. Maar kyk net die fokus van die gebed. Geen spoor van selfbelang, geen fokus op hulle vrese en veiligheidsituasie nie. Hulle loof God as Skepper. “Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: "Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.” (24) Nadat hulle God as Skepper aanbid het, pleit hulle by God op grond van die beloftes in sy Woord.. En waaroor gaan hierdie pleitroep? “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig.” (29) Merkwaardig! Dis ‘n Godgesentreerde gebed wat fokus op sy eer en die uitbreiding van sy koninkryk. Dit gaan oor die uitwerking van God se werk as Verlosser! En wat was die gevolg? “Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.” (31) Hierdie gebed word positief verhoor. Weereens, gebed, die Heilige Gees en die Woord! 

Hoe lyk ons gebede? Hoe lyk my en jou gebede, ons gemeente s’n? Weerspieël ons gebede ‘n bewustheid van God op die troon? Wys ons gebede dat ons ‘n passie het dat sy Naam verheerlik sal word en sy koninkryk sal kom? Is ons gebede in lyn met God se plan om die Woord te laat verkondig? 

Is ons gebede ‘n lieflike geur van oorgawe aan sy wil of dra dit dalk die stank van selfsug? 

Image result for aardbol images
Kom ons aanbid Hom wat op die troon sit. Kom ons aanbid Hom as Skepper en Verlosser en pleit dat Hy ons die genade mag gee om sy Woord uit te dra. So word jy deel van ‘n Godgewilde avontuur! So kom Sy koninkryk op aarde!



Maandag 19 Februarie 2018

‘N JONGMENS SE PAD MET GOD

DIE FONDASIE , VORMING , VOLHARDING EN VERANTWOORDELIKHEID IN ‘N JONGMENS SE LEWE! 


Dis die lewende God wat sondaars red. Ook jong sondaars. Hý doen dit! Hy maak hulle vas aan Jesus Christus en voeg hulle by sy kerk. Hiervoor gebruik Hy natuurlik sy genademiddele en metodes soos Hy wil! Wat ‘n heerlike wete! Wat ‘n groot rede tot lof en dank! 

Juis ook vir ons wat wonder: “Wat gaan van ons kinders word? Gaan hulle die Here ken, gaan hulle volhard op die pad van die Here? Die aantrekkingskragte van die wêreld is so groot, die Satan so slinks en die pad na die lewe is smal!” 

Timoteus was ‘n jongman wat die Here gedien het. Dis interessant as mens bietjie vra : “Hoe het hy die Here leer ken? Watter mense het God in sy lewe gebruik?  En hoe?Wat was sy fondasie? Wat van sy eie verantwoordelikheid?” Ons gaan veral kyk na 2 Timoteus 3:13-17 maar ook bietjie verder rondloer in die twee briewe wat Paulus persoonlik aan die jongman Timoteus geskryf het en net so ‘n paar sake wat daarin voorkom uitlig. Kom ons noem dit, die deurslaggewende faktore in die lewe van ‘n Christen jongmens. 

"Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus." (2 Timoteus 3:14-17) 

Die fondasie van die Skrif – Timoteus het van kleins af die Bybel geken. (In sy geval natuurlik die Ou Testament) Dit het vir hom die basiese kennis gegee wat hy moes hê. Die kennis het in sy geval tot geloof gelei en so kry hy deel aan die verlossing. Die belangrikheid van kennis oor die Bybelse waarhede kan nie oorbeklemtoon word nie. Huisgodsdiens! Gebrekkige kennis lei tot ondergang en verlorenheid. “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hosea 4:6 OAV) Terloops, dit gaan nie hier oor persoonlik geopenbaarde kennis nie, dit gaan oor kennis van God se Woord (wet), met ander woorde die Skrif! 

Kennis van die Skrif lei tot geloof in Jesus en dus tot verlossing, maar dit gaan ook verder. 

Die Skrif wys ook vir ons hoe ons as verlostes moet lewe! 

Die Skrif het groot waarde, sê Paulus. Deur die Skrif, ken ons die waarheid, dis ons wapen teen dwalinge en valse lering, dit wys ons hoe ons dinge wat in ons denke en dade verkeerd is reg moet maak. Die Woord dui die koers aan hoe om positief ‘n lewe te leef waarvan God hou. Die kennis van die Bybel rus ons toe om die goeie werke wat God van sy kinders te vra te doen. 

Die Skrif is onontbeerlik vir redding en lewe as geredde! 

Baie mense ontken dit vandag en weet gevolglik weinig van die Woord. (Hulle kan die Blou Bulle se spelers opnoem, maar weet nie eens of Jesaja in die Ou of Nuwe Testament is nie!) ‘n Algemene redenasie is: “Ons het nie die Bybel nodig nie, want die Heilige Gees praat sommer direk met ons.” Dis ‘n groot dwaling. Die Gees en die Woord gaan saam. Daar is niks wat jy as ‘n feit oor God en Jesus en die ewigheid kan weet, as jy dit nie vanuit die Skrif weet nie. Daar is net een maatstaf en norm waaraan ons as God se kinders als kan toets en dis die Woord. Die Woord het die voorrang, self bo engele! Ja, regtig! Galasiërs 1:8 leer ons : “Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!” Geen droom, engel, visioen of bonatuurlike belewenis staan bo die Skrif nie! Paulus wil die jongman Timoteus opnuut net weer vasmaak aan die geskrewe Woord. Bly by die Skrif, Timoteus! Sola Scriptura is nie iets wat deur die reformatore uitgedink is nie, dit was al Paulus se raad en opdrag aan Timoteus. 

Die rol van ander mense. God het ander mense gebruik, juis om vir Timoteus die Woord te leer. Wie was hulle in Timoteus se geval? Sy ma en ouma! Hulle was ware gelowiges. Die mense in sy eie huis. “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.” (2 Tim 1:5) Later het Paulus self ‘n groot rol in Timoteus se lewe gespeel. Hy noem Timoteus “ my kind in die geloof”. Elke kind van God kan mense opnoem wat ‘n groot rol in sy of haar lewe gespeel het. Moenie hulle raad en lering en voorbeeld sommer weggooi nie. Kyk na hulle pad. Natuurlik is niemand volmaak nie. Maar onthou en respekteer die lering en voorbeeld van hulle wat die pad al verder as jy gestap het. 

Paulus wys Timoteus ook op sy eie verantwoordelikheid. Jy kan nie net op ander se insette staatmaak nie. Elke jongmens kom op ‘n punt van beslissing. Ek self moet nou keuses maak! Ek self moet my persoonlike vertroue in Jesus die gekruisigde plaas. Ek self moet nou volhard en die stryd stry! Kyk na nog ‘n paar verantwoordelikhede wat Paulus uitlig: 

1 Tim 6:20. “Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die "kennis", soos dit verkeerdelik genoem word." Bewaar dit wat jy ontvang het. Pasop vir allerhande los praatjies en kamtige kennis. Moenie als glo wat jy hoor en sien (veral nie) op sosiale media nie! Instagram is nie die standaard van die Koninkryk nie!

2 Timoteus 1:13,14. “Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.” Weer die noodsaak van bewaring. Dit wat jy geleer het is goed, bewaar dit deur die Heilige Gees. Dit verg moed en aksie van jou kant af, jong Christen! 


2 Timoteus 2:22. "Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.” Vlug vir wat verkeerd is. Gebruik jou voete! Bly weg van die partytjies, vriende en vermaak waar God nie geëer word nie. Maar positief, streef na die regte dinge saam met ander kinders van God! Kies jou vriende baie versigting! Hou aan geestelik groei! 


1 Timoteus 6:12 “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het”. Ja, God self is ons Redder, maar jy het die verantwoordelikheid om al jou kragte in te span en te volhard. God het jou geroep Timoteus, God het jou geroep... en jy het jou geloof openlik bely! Nou begin die harde werk en die vasbyt eers regtig! Dis met hierdie boodskap van Paulus waarmee ek julle as ons nuwe lidmate wil verwelkom en ook uitstuur!


Agter (v.l.n.r.): Eleanor Steenkamp, Johan Muller, Charlie Voigts, Mornè Button.
Voor (v.l.n.r.) : Lezanne Britz, Danielle Bartlett.

BAIE WELKOM JULLE!

Maandag 30 Oktober 2017

ONAFSKEIDBARE TWEELING

- Gehoorsaam aan WOORD en GEES sal ons gedurig reformeer en getrou bly aan ons evangeliese roeping!



Jesus het die genoegsame losprys vir sondaars aan die kruis betaal. Daarna het Hy opgestaan uit die dood. Regtig. Histories. Liggaamlik. “Voel aan My.” Hy eet ‘n gebakte stuk vis voor hulle oë! Maar daarna doen Hy nog iets belangrik. Hy gee aan sy dissipels (aan sy kerk) :
  • ‘n Vaste verwysingspunt (Skrif)
  • ‘n Helder roepingsopdrag (Evangelieverkondiging deur getuienis)
  • ‘n Heerlike belofte (Heilige Gees)
Dis baie belangrik om raak te sien wat Jesus na sy opstanding doen en waarop Hy fokus in die kort tydjie tussen sy opstanding en hemelvaart. Ons lees hiervan in Lukas 24. Hy doen nie nuwe dramatiese wonders nie. Hy verwys sy dissipels (ons!) terug na die Skrifte! “Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is." Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (44,45) En Hy maak die belofte van die Gawe! Die Heilige Gees! “En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.” (49)

WOORD EN GEES

Belangrik! Hier in die laaste hoofstuk van Lukas lees ons hoe lê Jesus die fondasie vir gesonde en doelgerigte kerk wees. Woord en Gees. Gehoorsaam aan die Woord en bekragtig deur die Gees kan ons ons evangeliese roeping vervul. Hierdie kern roeping is baie duidelik. Die verkondiging van bekering en vergifnis in Jesus se Naam. “Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (46,47) Mag ons dit sommer weer duidelik hoor : Die kerk se primêre fokus mag nooit selfoorlewing, geldinsameling, sosiale betrokkenheid of kultuurprojekte wees nie. Ons moet die verlossingsboodskap aan alle mense bring. Bekering en vergifnis van sonde. 

Maar terug by die fondasie van Woord en Gees. Dis hierdie fondasie wat as’t ware weer herontdek is tydens die Protestantse Reformasie. Die gesag van die Woord en die Gees. Die leiding van die Woord en die Gees. Bemagtiging deur Woord en Gees. 

Wat beteken dit prakties? Woord en Gees gaan saam. Die Woord is ons norm. Enigste norm. Sola Scriptura. Die Woord en die alleen sê vir ons wat is reg en verkeerd. Nie die Huisgenoot, Hollywood of die algemene opinie op straat nie. Die Woord is dus onmisbaar belangrik. Maar die Heilige Gees is net so onmisbaar. Die Heilige Gees maak vir ons die betekenis van die Woord oop en bekragtig ons om dit te gehoorsaam. Hy gebruik die Woord om ons te heilige, te verander, te vernuwe... Hy bewerk die gehoorsaamheid om die evangelie van Jesus uit te leef en te verkondig. 

Die resep vir volharding en roepingsvervulling is om tegelykertyd aan beide vas te hou – Woord en Gees.

Die kerke van die reformasie het natuurlik soos dit menslik is, telkens weggedwaal van hierdie beginsel. En dit gee in ons dag steeds aanleiding tot groot verwarring, gruwelike onkunde en dwaling!


  • Soms word die Woord oorbeklemtoon ten koste van die Gees. Dit gebeur wanner die Bybel op ‘n suiwer intellektuele tegniese manier benader word. Kraakdroë ortodoksie. Ons doen deeglike, maar koue eksegese. Ons formuleer als so mooi reg, daar is geen teologiese leerstellige haar uit sy plek nie… Die regte kolletjies op die “i” en die presiese strepies deur die “t”. Maar daar is geen gebrokenheid en berou oor sonde nie, geen ware bekering nie, geen gehoorsaamheid om Jesus se opdragte uit te voer nie. Daar is min opgewondenheid, min opoffering, min liefde. Byvoorbeeld ons formuleer so mooi dat Jesus die enigste Middelaar is, maar ons kom nie prakties by gebed uit nie, ons is nie regtig lief en toegewyd aan hierdie Middelaar nie, ons het geen passie en doen geen moeite om hierdie Middelaar aan ander te verkondig nie. Ek wil vir jou vra wat die Woord en die belydenisskrifte (wat opsommings is van die Woord) so goed ken: Hoor jy nog hoe die Gees deur die Woord met jou praat, oortuig Hy jou deur die Woord van sonde en dryf dit jou opnuut na uit na Jesus om Hom te omhels? Maak die evangelie ‘n verskil in jou liefdeslewe, besigheidslewe, ontspanningslewe? Lei die Heilige Gees jou in ‘n heilige lewe?
  • Soms word die Gees losgemaak van die Woord. Die Woord word effens opsy geskuif. Dit het ook by verskeie kere in die verlede gebeur en gebeur vandag nog baie. Dis wanneer mense redeneer : “Die Gees sal my lei en dis nie nodig om erns maak met die Woord nie. Dis ook nie nodig dat ek na ernstige prediking, na Woorduitleg luister nie.” Natuurlik sal diesulkes nooit openlik die Woord weggooi nie. Hulle sal nog steeds sê : “Ons glo die Bybel.” Maar wat gebeur? Hulle gebruik die Woord op die klank af, ruk tekste uit verband uit (“Spreek Lewe” teologie), maak nie erns met die konteks nie, jaag allerhande nuwighede na wat hoegenaamd nie in die Skrif voorkom nie – “salf huise met olie”. Daar word sommer links en reg beweer : “Die Here het vir my gesê…” Ja, daar is moontlik baie opgewondenheid, baie sentimentaliteit, baie lawaai, baie nuwe idees, maar ook ongelukkig baie verwarring! Maar ongelukkig min standvastigheid, min volharding, min integriteit en heiligheid en min waarheid! Ek wil vir jou wat die Woord afskeep vra: ”Waar anders as in die Woord gaan jy die suiwer wil van God hoor, hoe anders as deur omvattende Woordkennis gaan jy koershou in ‘n chaotiese wêreld, hoe anders gaan jy weerstand bied teen die daagliks propaganda van die Satan?”

VOORTDURENDE REFORMASIE

Altyddeur moet die kerk opnuut luister en opnuut gehoorsaam word aan die Woord en die Gees. Die kerk as geheel, maar ook ek en jy persoonlik. Ons het reformasie weer net so nodig soos vyf honderd jaar gelede. Is jy daarvoor bereid? Is jy bereid om die Woord en Gees te gehoorsaam en standpunt in te neem die oorweldigende materialisme, die Hollywood welluskultuur, die afgodiese sportwaansin en prestasiebeheptheid wat op ons eie voorstoep is…? Martin Luther het teen die hele wêreld opgestaan, omdat die Woord en Gees sy siel oorweldig het. Deur die Woord en Gees het hy vrede gevind vir sy geteisterde siel. Maar dit het vir hom ook baie moeilikheid besorg… Dit het hom in botsing gebring met ‘n afgedwaalde kerk en goddelose wêreld. Hy het die brandstapel net-net vrygespring...  (Kliek op LUTHER)

Is ek en jy bereid om opnuut die Woord en Gees te gehoorsaam en die spot en haat van mense te verduur? Dis die vraag wat elkeen vandag voor God moet antwoord! Dis die voorvereiste vir voortdurende reformasie. Dis so bitter nodig in ons dag...


Ons het op Sondag 29 Oktober 2017 die Reformasie feestelik gevier in 'n vol kerk. By die geleentheid het 'n nuwe lidmaat, Helena Boshoff ook belydenis van geloof afgelê. (en dit was boonop ook nog haar verjaarsdag!) Die Sondagskoolkinders het in 'n kort seremonie die 5 solas van die Reformasie aan 'n houtdeur vasgespyker.

Dinsdag 14 Februarie 2017

OMVALGEES

-of GEES VAN JESUS?

Ons bely om in ‘n Drie-enige God te glo – Vader, Seun, Heilige Gees. Die lewende God openbaar Hom so en is so as Drie-enige God betrokke by ons persoonlike verlossing. Die Vader het ons van ewigheid af lief, het ons uitgekies en het sy Seun Jesus gestuur om die uitverkorenes se verlossing deur die kruis en opstanding te bewerkstellig. Jesus, die Seun het ons ook lief en het in gehoorsaamheid aan die Vader ons verlossing aan die kruis bewerk deur ons sondestraf te dra en ons sodoende los te koop. Maar wat nou van die Heilige Gees? Hoe is Hy betrokke? 


Beleef jy die werk van die Gees persoonlik in jou lewe? As dit kom by die werk van Gees is daar dikwels groot verwarring in baie mense se denke. Wat doen Hy? Beleef ek Hom eers as ek omgeval het? Moet ek kan getuig van snaakse ervarings soos onbeheerde lagbuie, om soos ‘n hond te blaf of ‘n papegaai te skreeu?

Terloops. ‘n Basiese vertrekpunt om te onthou : Die Heilige Gees is op Pinkster aan die kerk gegee. Sy koms en teenwoordigheid is ‘n historiese feit net soos die kruis en opstanding.

Wat doen die Heilige Gees in hierdie tyd? Waarmee besig? Wat is sy hooftaak? Hoe lyk ‘n mens of gemeente waar die Gees werksaam is? Watse praktiese verskil maak die Gees in ons lewens? Jesus self gee in die gesprek met sy dissipels op die vooraand van die kruisiging onskatbare belangrike inligting oor die Heilige Gees. Ons gaan fokus op Johannes 16:12-15. Hierdie lering van Jesus sal baie help om verwarring en misleiding te voorkom.

Jesus se dissipels het wonderlike dinge beleef, maar hulle verstaan van Jesus en sy verlossingsplan (veral die noodsaak van sy kruisdood) was egter nog op hierdie tydstip baie beperk. Nou maak Jesus ’n wonderlike belofte in vers 13. 

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.” 

DIE WAARHEID

Hoe moet ons dit verstaan? Van watter waarheid word hier gepraat? Jesus self is die waarheid – Johannes 14:6! Jesus self is die finale waarheid, die finale spreke van God aan die mens. Ons hoef nie en mag nie wag vir ‘n ander meer op datum waarheid nie. God het sy finale boodskap aan ons deur Jesus gebring. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak”. (Hebr 1:1-2) Jesus self is die klimaks van God se openbaring aan die mens. Jesus is die hele waarheid. In Hom woon die volheid van God. Daar is nie iewers nie ekstra stukke lering of waarheid wat ons nog moet ontvang nie. 

Die Heilige Gees leer nie vir ons nuwe ekstra bykomstige waarhede nie, maar bring begrip en insig by ons oor Jesus en sy werk!

Die Heilige Gees is die Gees van die waarheid. Hy maak die waarheid (Jesus self) aan ons bekend. Hy verduidelik aan ons die implikasies van Jesus se lewe en sterwe. Hy maak ons oë oop vir Jesus! Die Heilige Gees kom nie met nuwe lering, nuwe rigtings, nuwe openbaring nie. (Pasop vir mense wat beweer dat God nou na 2000 jaar se kerkwees ‘n nuwe ding aan hulle deur die Gees geopenbaar het – byv. dat God nou deur Hebreeuse name aanbid moet word. Kliek op Wortels van Verwarring)

Die Gees sal ons lei (guide) – dit het hier in hierdie konteks niks met leiding (guidance) te doen in sin van met wie ek moet trou, beroep ens. nie. (Oor hoe om keuses te maak volgens God se wil is ‘n ander onderwerp en natuurlik is die Heilige Gees ook hier deur middel van die Woord betrokke.)

Nee, sy leiding stel ons in staat om God se openbaring in Jesus te begryp en te gehoorsaam!

Die Heilige Gees gee nie sy eie selfstandige boodskap nie – Hy sê net wat Hy van God hoor (net soos Jesus – vgl. Johannes 5:19) Die Heilige Gees se bediening is baie soortgelyk aan Jesus se aardse bediening, net op ’n baie groter skaal. Juis daarom was dit voordelig dat Jesus sou weggaan! “die dinge wat gaan kom” - ontsluit die betekenis van Jesus se dood en opstanding wat nou op hande was (gaan nie hier oor wederkoms nie). Weereens die Heilige Gees maak die implikasies van Jesus se sterwe en opstanding duidelik. 

ALLE FOKUS OP JESUS

Belangrik. Vers 14 lees : “Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” Die Heilige Gees se hoofdoel is om Jesus te verheerlik. Om ons die grootheid, die heerlikheid, die wonder van Jesus te laat raaksien en verstaan. Weereens is daar ’n parallel tussen Jesus en die Heilige Gees se bediening : Jesus se bediening het heerlikheid aan die Vader gebring, die bediening van die Heilige Gees bring heerlikheid aan Jesus – Vgl. Johannes 17:4. 

INNIGE BAND MET JESUS

Die Heilige Gees plaas dus nie die fokus op Homself nie, maar op Jesus. Die Heilige Gees maak Jesus groot. Die Heilige Gees open ons oë om Jesus se heerlikheid raak te sien. Sonder die werk van die Heilige Gees bly Jesus vir jou oninteressant, net van teoretiese belang. Ons sien hier die intieme noue verband tussen Jesus en die Heilige Gees. Dit word bevestig in die res van die Nuwe Testament soos in :

Romeine 8:9 – “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”

1 Korintiërs 2:16 – “Daar staan geskrywe: "Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?" Maar ons, ons het die Gees van Christus.” 

1 Petrus 1:11 – “Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het.”

Handelinge 16:7 (NAV) – “Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus* het hulle dit nie toegelaat nie.”

DIE BELOFTE HET WAAR GEWORD

Hierdie belofte van Jesus (“wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” ) het duidelik en dramaties waar geword in die lewe van die apostels vir wie Hy hier aanspreek. Eers na Pinkster toe die Heilige Gees uitgestort is kon hulle eers volkome verstaan wat die implikasies van Jesus se sterwe en opstanding is. Daarom kon hulle so kragtig preek oor die kruis en opstanding na Pinkster. Daarom kon hulle sulke diep dinge skryf in die Nuwe Testamentiese geskrifte. Hierdie diep verstaan van Jesus wat deur die Heilige Gees bewerk is, het ons dus hier in ons Bybels. As die Heilige Gees nou in ons werk maak Hy vir ons die Bybel verstaanbaar. Die Heilige Gees se taak is nie om ekstra buite Bybelse insigte aan mense te gee nie! (byv. oor datums van die wederkoms ens.), maar om die Woord vir ons oop te breek! Ons vind die volle waarheid oor Jesus in die Nuwe Testament. Die Heilige Gees het hierdie volle waarheid oor Jesus aan die apostels geopenbaar en ons kan dit in ons hande neem en lees en so openbaar Hy dit weer aan ons.

DIE GEES WERK DEUR DIE WOORD

Dus op ’n afgeleide manier raak hierdie belofte wel ons ook persoonlik - die Heilige Gees open ons oë om die geskrifte van die apostels te verstaan. So leer ons die volle heerlikheid van Jesus ken terwyl ons die Bybel bestudeer.

Die groot saak is dit - Die Heilige Gees fokus ons aandag op Jesus self deur middel van die Woord. Dis sy voortgaande werk. Dit stem ook ooreen met Johannes 16: 8-9. Die Heilige Gees oortuig mense van hulle sonde en van die heerlikheid van Jesus sodat hulle na Jesus kan kom vir redding!

WAT VAN MY?

Kom ons vra weer die praktiese vraag: Werk die Heilige Gees in my? Toets dit hieraan : Het ek ‘n groeiende honger na die Woord en ‘n groeiende begrip van die Woord? Het ek ‘n groeiende besef van my sondigheid? Maar veral, het ek ‘n groeiende besef hoe heerlik Jesus is, het ek ‘n groeiende liefde vir Jesus en ‘n groeiende vertroue op Hom alleen? Is Jesus vir jou kosbaar? Het jy ‘n begeerte om Hom te gehoorsaam? Dis ‘n duidelike teken, die Gees is besig met jou! Dank Hom. Dis net genade! 

Hoe lyk ‘n gemeente waar die Heilige Gees werksaam is? Daar is ‘n honger en dors na Jesus, na Sy woorde. Daar is Christus gefokusde prediking. Daar is ‘n diepe begrip en dankbaarheid oor Jesus se kruis en opstanding. Daar is ‘n erns met sonde en ‘n gebrokenheid oor wat verkeerd is. Verootmoediging en berou. (Die werking van die Gees in ‘n gemeente kan dus nie gemeet word aan hoeveel lidmate omval, lag of blaf nie!) 

God Drie-enig is betrokke by ons verlossing! Dis duidelik, die Heilige Gees se werk is ook onmisbaar belangrik. Niemand kan die Bybel verstaan, niemand kan glo, niemand kan hulle bekeer tot Jesus sonder die werk van die Heilige Gees nie.

*Hier is die NAV se teks beter as die van die OAV



Gloriosa superba / Rooiboslelie / Vlamlelie

Vrydag 12 Februarie 2016

HOE WEET EK?

[Vaste waarheid en norme in die onseker wêreld van wisselende gevoelens en groeiende relativisme]

Hoe weet ek dat God my liefhet? Sommige sal sê : “Ek voel so.” of “Die Here het my gehelp.” Maar wat van die kere wat jy nie so voel nie of nie ervaar dat die Here jou help nie? Is Hy dan nou nie meer lief vir jou nie? 

Hoe weet ek dat ek ‘n kind van God is? Weereens, sommige sal beweer : “Ek voel so.” Maar dis ‘n uiters wisselvallige barometer, want ons weet ons gevoelens verander gedurig en meer nog, ons emosies en buie is altyd maar baie onbetroubaar. (Almal wat positief voel hulle het ‘n wiskunde toets deurgekom, is nie altyd deur nie.) Hoe kan mens iets so belangrik soos jou ewigheidsbestemming op gevoelens grond? 

Hoe weet ek wat is reg en verkeerd? (Al hoe meer word dit in ons postmodernistiese wêreld betwyfel of daar hoegenaamd nog iets soos reg en verkeerd is, want elkeen, so word beweer, is mos sy eie norm en maatstaf.) So dikwels hoor mens : “Ek voel net dis reg.” Dis mode (en ek dink dit word goed bedoel) om ‘n WWJD bandjie om jou arm te dra. Maar die vraag is nog steeds, hoe weet jy wat Jesus sou gedoen het? Is dit maar net jou subjektiewe opinie en pas jy nie maar daardie opinie aan by jou gevoelens en voorkeure nie? Verskriklike onreg en losbandigheid word gepleeg onder die naam van Jesus...

Die allerbelangrikste vraag is geliefdes, hoe weet ons wat is regtig waar, hoe weet ons wat is regtig reg of verkeerd, hoe weet ek my sonde is vergewe, hoe weet ek dat ek in ewigheid by die Here sal wees?

Kom ons kyk wat het Jesus self as die bron van waarheid aangedui in Lukas 24:44-49.

Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.
Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,
en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’
Julle is getuies van hierdie dinge.
En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is."

(Jesus sê hierdie dinge na sy opstanding en nadat Hy Homself lewend aan sy dissipels vertoon het.) 

Merkwaardig! Hoe versterk en bou Jesus die wankelrige dissipels se geloof? Waarheen verwys Hy hulle om die waarheid te weet? Hy verwys hulle terug na die Ou Testament. Die wet, die profete en die psalms, met ander woorde die Bybel van daardie tyd, want die Nuwe Testament was nog nie op skrif nie. Jesus doen nou nie meer opspraakwekkende sigbare wonderwerke nie hier na sy opstanding nie, maar wat doen Hy? (45) Hy doen ‘n innerlike wonderwerk, Hy open die dissipels se verstand om die Skrifte te verstaan. Jesus verduidelik die betekenis van sy koms en die dissipels se opdrag aan die hand van die Bybel. Let op – “So staan daar geskrywe...” Niemand kan meer twyfel aan die waarde, gesag en belangrikheid wat Jesus self aan die geskrewe Woord toeken nie! 

As jy respek het vir Jesus sal jy respek hê vir die Bybel!

En veelseggend, Jesus gaan dan verder en herinner hulle aan die belofte oor die koms van die Heilige Gees. Die Heilige Gees wat hulle sou ontvang as hulle in Jerusalem sou gaan wag. Hier vind in dus reeds baie duidelik die kombinasie : WOORD en GEES! Woord en Gees gaan altyd saam en is onlosmaaklik aan mekaar verbind! Ons sien dit baie duidelik in ‘n gedeelte soos 2 Petrus 1:20-21.

Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie,
want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Petrus het reeds in vers 19 gesê dat die boodskap van die profete soos ‘n lamp is wat in ‘n donker plek skyn. Dis duidelik hy verwys na die Skrif. Maar dis ook duidelik dat ons die Skrif nie deur eie insig kan uitlê of verklaar nie, maar net met behulp van die Heilige Gees, want die Heilige Gees was direk betrokke by die skryf van die Woord. Jesus open nog vandag steeds mense se verstand om die Skrif te verstaan! Dis seker een van die duidelikste kenmerke van die wedergeboorte. Die Bybel wat altyd vir jou dof en deurmekaar was begin skielik sin maak en lewend word! Jesus doen dit deur die Heilige Gees! Weereens , WOORD en GEES! 

Implikasies :

1.Die Woord is die enigste vaste norm- nie tradisie nie, nie ons “gut feeling” nie, nie openbare mening nie, nie politieke korrektheid nie, nie een of ander opwindende ervaring of visioen nie. En beslis ook nie een of ander uitspraak van ‘n hedendaagse geldmaakprofeet of postmodernistiese verwarringsteoloog nie! As ons praktiese vrae wil beantwoord hê en eerlik God se wil wil doen moet ons na die Woord toe gaan. Praktiese vrae oor kerk toe gaan, hoe moet ‘n huwelik en gesin lyk, hoe moet ek geld hanteer, wat moet ek maak in omstandighede waar ek benadeel en sleg behandel word, hoe word ek gered...? Dis dwaas om te sê, “dit of dat voel vir my reg of nie”, die Woord sê duidelik wat ek moet doen!

2. Ons moet vashou aan beide die belangrikheid van die Woord en die Gees. Mens hoor : “Ons het nie meer die Bybel nodig nie, ons is nou verby daardie fase, die Gees praat sommer nou direk met ons.” Dit geliefdes is ‘n baie gevaarlike mite!* Ja, die Gees praat met God se kinders, maar Hy gebruik die Woord as instrument. Daarom noem Paulus die Woord, “die swaard van die Gees.” (Ef 6:17) Aan die anderkant is daar mense wat net ‘n blote kopkennis van die Woord het, dit help ook niks nie. Ons bly gedurig afhanklik van die Gees. As die Gees nie in ons werk nie, sal ons die waarskuwings van die Woord nie regtig ter harte neem nie, sal die Woord nie regtig vir troos bring nie. As die Gees nie ons harte sag maak nie, bly ons onaangeraak deur die beloftes en vermanings van die Woord, dan by ons sonder bekering, sonder geloof, sonder liefde, sonder hoop! 

3. Die Woord moet gehoor, uitgelê en verstaan word as ons wil groei en vrug dra. Ons het gesien hoe Jesus self sy dissipels terugverwys na die Skrif. Hy het seker mos darem geweet wat hulle (en ons) nodig het! Geen vrug sonder verstaan van die Woord nie! ‘n Toe Bybel en ‘n onverstaanbare Bybel is nutteloos! Jesus beklemtoon dit self in die gelykenis van die Saaier. “Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig." (Matteus 13:23) Vir vrugdra moet ons dus erns maak met praktiese geleenthede soos huisgodsdiens, Bybelstudie, katkisasie, prediking...

Daar is geen kortpaaie na volwasse vrugbare kindskap nie! Ons het die Woord, die Gees is hier by ons, kom ons maak erns met Woord en Gees!

*Die gevaar om Woord en Gees van mekaar los te maak is sterk deur die Reformatore beklemtoon in hulle stryd beide teen die Roomse en Anabaptiste. Op klassieke manier word die noue verbintenis tussen Woord en Gees deur Calvyn verdedig in sy beroemde brief aan die Roomse biskop Sadoletus wat die mense van Genève probeer teruglok het onder die Roomse juk in. Hierin sê Calvyn onder andere dat Christus die kerk inderdaad regeer deur die Heilige Gees, maar sodat hierdie regering nie vaag en onstabiel sou wees het Hy dit verbind aan die Woord. Vir hierdie rede het die Gees by monde van Paulus verklaar dat die kerk gebou is op die fondament van die apostels en profete. (Ef 2:20) Calvyn beskuldig beide Anabaptiste en Roomse dat hulle terwyl hulle uitermate roem oor die Gees, hulle die geneigdheid het om die Woord te begrawe en so ruimte te maak vir hulle eie valshede.