BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Peuselhappie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Peuselhappie. Wys alle plasings

Donderdag 25 April 2024

Die Afkop Hond

 FAMILIE IS KOSBAAR...

Dis deel van die De Konings se familie oorleweringe. Pa het ons al daarvan vertel. Van die afkop hond. Tannie Miem wat as dogtertjie die afkop hond gesien en die stuipe gekry het...

Nou onlangs met my langverlof het ek ook daar in die Oos Kaap ‘n draai gemaak. Ek was baie jare laas daar en hier was nou ‘n geleentheid om darem weer ‘n bietjie familiebande op te tel en te versterk.

Vir ‘n week het ek en Natanie by my oudste neef Thomas oorgebly op Jeffreysbaai en is oorweldig deur die gasvryheid en ekstra moeite wat hy gedoen het om ons verblyf so aangenaam as moontlik te maak. (Baie dankie neef Thomas…waardeer!) Thomas  as oudste neef is  soort van die skakel en verbinding tussen die twee generasies. Hy weet en onthou dinge waarmee die jongeres nie so goed bekend is nie. Thomas is gelukkig ook ‘n goeie en luisterbare verteller. Familiestories. Ook spookstories. En dis nogal blykbaar volop hier in die Oos Kaap... So word die verhaal van die afkop hond toe ook weer afgestof.

Oupa Thom de Koning was baie lief vir sy honde. Een van hulle was ‘n Dalmatian, met die voorspelbare naam van Bontes. Bontes het op ‘n stadium verdwyn en daar is baie na hom gesoek, maar tevergeefs.

In daardie tyd gaan kuier oupa en ouma met die kinders by vriende aan die anderkant van die Gamtoos rivier. Collings mense. Oupa was veral ook lief om op hulle grond te gaan jag. Om by die Collings te kom moes die treinbrug oorgesteek word. Daar is toe lekker gekuier en seker ook geëet. Dis nou oupa, ouma en die oudste twee kinders, oom Boetie was die oudste, seker toe so ongeveer ses jaar oud en tannie Miem ‘n jaar of wat jonger. (Pa was toe ook moontlik al gebore en het die tog dan as baba meegemaak) Niemand kan presies die tyd en dus die ouderdomme onthou nie...

Hulle loop toe in die donker oor die treinbrug met ‘n lantern as lig. (Terloops, die treinbrug het klaarblyklik ook ‘n besondere storie aan hom. Dit was oorspronklik ‘n brug in die Vrystaat wat die toneel was van aksie tydens die Anglo-Boere Oorlog. Dis later van tyd verskuif na die Gamtoos. Die brug is vandag nog daar en die koeëlgate kan gesien word.) Op die brug gebeur dit toe... Die jong Miem roep verskrik: “Daar is Bontes... Maar Bontes het nie ‘n kop nie...”  Die presiese woorde sal niemand natuurlik nou meer weet nie. Nietemin ‘n angswekkende ervaring. Die ander op die brug sien egter niks...

Die volgende dag is daar weer na Bontes gesoek. Ook onder die brug. En ja... sy koplose lyf is opgespoor. Bontes moes ‘n onderonsie met ‘n trein gehad het, en het sleg daarvan afgekom...

Thomas het ons nou weer na die einste brug gevat. Dis net so ‘n entjie aan van waar oom Robert en oupa se suster Ant Johanna ‘n plaaswinkeltjie gehad het.


Thomas, my oudste neef


Die treinbrug oor die Gamtoos


Tannie Miem is nou op 93 jarige ouderdom, my oorlede Pa se enigste lewende sibbe. Nog vol energie en helder van verstand. Natuurlik ken sy die storie van die afkop hond. Ek het haar gevra. Maar sy self onthou niks van die gebeure nie, sy was te jonk.

Is die storie van die afkop hond waar? Ek weet nie. Moeilik om te glo dat iemand dit sommer uit die duim gesuig het. Maar ook moeilik om te verklaar...

Wat sou kon gebeur het?  Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat familie en familiegeskiedenis kosbaar is. En nog meer kosbaar as ons ook broers en susters in God se huisgesin kan wees. Mag God dit vir ons skenk!


Natanie (13) en tannie Miem (93)






Woensdag 01 Julie 2015

STERWE OM TE KAN LEWE

- geboorte op Tsumeb na ‘n miskraam.

Die Here is altyd betyds, al voel dit dikwels vir ons of Hy heeltemal te laat is en ons in die steek gelaat het... Jesus was oënskynlik te laat om Lasarus te genees (mens kry die indruk dat Hy met opset getalm het*), maar toe doen Hy iets baie groter vir die man, Hy skenk hom ‘n nuwe lewe vanuit die graf en toon so sy Goddelike genade en almag!

Die pad wat die Here met ons gestap het tot in Tsumeb, was darem nou nie so dramaties nie, maar tog in baie opsigte die van ‘n nuwe lewe nadat die oue eers moes sterf. En sterwe is natuurlik nooit maklik of aangenaam nie.

Ons het die tyd in Bray (Onder-Molopo gemeente) aan die Botswanagrens baie geniet, maar weens verskeie redes het ‘n skuif (veral na Namibië) baie wenslik gelyk. My ouers in Walvisbaai het ook bejaarde ouderdom bereik en daar was ander oorwegings ook...

Die gemeente Verre Noord, in die noorde van Namibië (Ovamboland soos ons hom ken, met dorpe soos Oshakati, Ondangwa, Ongwediva, Ruacana ens.) het vakant geword. Ek het aansoek gedoen en maar gewag om te sien wat gaan gebeur. Op Woensdag 7 Oktober 2009 bel Mev. de Lange uit Oshakati om te hoor waar Bray is. (Ja, min mense weet waar dié afgeleë plekkie homself bevind.) Verder sê sy niks nie. Ek gee die saak aan die Here oor: “Here, dis alles in U hande”

Ek hoor later daar was 12 aansoeke. Dis nogal heelwat. Menslik gesproke is die kanse baie skraal dat ek beroep sou word of selfs net ‘n preekbeurt sou kon kry. Ek is doer ver in die gramadoelas. Wel, dis wonderlik, ek kry toe tog ‘n e-pos van Oshakati om te hoor of ek die naweek van die 30ste Oktober daar kan wees. Wat ‘n geleentheid! Ek kry toestemming van my gemeente dat ek die kerkbakkie kan gebruik om Namibië toe te gaan – dis ‘n groot verligting!

Als begin mooi in plek val vir ons groot reis na die noorde. Ek maak ook kontak met my vriende Vic en Milly Basson in Rundu. Ons beplan om met die terugpad sommer via die ooste van Ovamboland deur die Kavango te gaan en daar oor te bly voor ons terugtog deur Botswana.

Die moontlikheid van ‘n nuwe begin bo in die noorde is nie al nuwe begin en nuwe lewe nie. Hier aan die einde van Oktober vermoed Jacolette sy is swanger! Nuwe lewe! So op die vooraand van ons vertrek.

Ek kry juis ook in hierdie tyd ‘n brief kry van Pa waarin hy skryf oor Martin Rautanen – pionier van Ovamboland. (In Ovamboland het my Pa self ook kosbare dinge beleef.) Ek het ‘n boek oor dié sendeling se besondere lewe van volharding ‘n paar jaar tevore vir hom as geskenk gegee. Is dit toevallig dat hy nou oor hom skryf, is dit dalk ‘n aanduiding van die rigting vir die toekoms?

Die reis na die noorde lewer wel ‘n kwota moeilikheid op as die bakkie se petrolpomp probleme gee, maar ons kom veilig aan by ons bestemming. Oom George Benz is ons baie behulpsaam en dit word opgelos. Na soveel jare is die verandering en ontwikkeling in Ovamboland verstommend. Oshakati-Ongwediva-Ondangwa het ‘n polsende stad geword! Die manne wat Ovamboland laas in hulle “army dae” gesien het, sal nie meer weet waar om te trap nie...

Ek preek Sondag 1 November op Oshakati oor 1 Kor. 1:18-25. Dis vir my aangenaam om die Woord te bring en die mense luister aandagtig. Nou het ek gedoen wat ek kon en is alles in die Here se hande! Die Saterdag koop Jacolette ‘n swangerskaptoets by ‘n apteek op Oshakati, maar sy gebruik dit nog nie. Direk na kerk vat ons die lang pad terug via Eenhana – Okongo – Nepara tot by Rundu. Wat ‘n eindelose lang pad. ‘n Groot deel is vreeslik sinkplaat. Ons slaap die Sondag en Maandagaand by Vic hulle oor. Maandagoggend doen Jacolette haar tuis swangerskaptoets – dis positief! Groot opgewondenheid, nuwe lewe!

Op Woensdag 4 November is ons weer terug op Bray! Nou begin daar ‘n uitmergelende tyd van wag en wonder... Ek was onder die indruk dat Verre Noord reeds op Donderdag 5 November ‘n beroep so uitbring. Hoor Donderdag niks, hoor Vrydag niks...

Onseker, wonder ook, sal als goed gaan met die nuwe baba? (My dierbare vroutjie is nie meer so jonk nie.) Wat van die beroep, ek hoor niks, moet ek weer iewers anders aansoek doen?

Later lei ek af van ‘n e-pos van Anina, die skriba dat hulle nog nie beroep het nie, maar dinge bly baie vaag...

Op 11 November vat ek die bakkie vir sy diens op Vryburg. Die urine toets van die dokter bevestig dat Jacolette swanger is. Die bloedtoets se uitslag moet nog kom.

Die volgende dag bevestig ook die bloedtoets se uitslag amptelik, ons gaan ‘n baba hê. Goeie nuus. En dan, slegte nuus. Dieselfde dag is daar ‘n e-pos met wat my heeltemal uit die veld slaan. Vriende van my het op Oshakati in die kerk opgetree en volgens die e-pos gaan hulle Oshakati toe. Die gemeente het blykbaar nie geld om nou al ‘n predikant te beroep nie. Hulle gaan vir ‘n tydperk soontoe om die bediening waar te neem. Wat gaan aan? Ek wonder waarom ek niks hoor nie, waarom is die gemeente dan nie meer openlik met my nie? Is dit die dood van die Verre Noorde droom? Moet ek Namibië afskryf en uit my hart verban? Moet ek op ander plekke aansoek doen en kort-kort toestemming vra om elders te gaan preek? Ten spyte van probleme wat ek by Verre Noorde raakgesien het, het ek my nogtans ingestel om te gaan en opgewonde geword oor die moontlike beroep en skuif na ‘n nuwe plek met nuwe uitdagings. Dalk ‘n effens benoude beklemmende opgewondenheid soos ek oor die laatlam baba opgewonde is?

Nie lank nie toe word nie net Oshakati nie, maar ook die swangerskap ‘n groeiende (sterwende?) krisis. Jacolette het baie pyne, bloeding... Iewers is iets fout.

Net na die kerkdiens op Bray op Sondag 15 November vat ek vir Jacolette Vryburg toe. Hospitaal toe. Hulle doen ‘n sonar. Daar is geen hartklop waarneembaar nie! Ek besef dis verby. Na twee dae is daar geen twyfel nie, die swangerskap is iets van die verlede. Sy ondergaan die nodige prosedures. Dis vir haar ‘n hartseer tyd; ‘n vrou beleef ‘n miskraam baie intens. Die gemeentelede is baie simpatiek en ondersteunend. Ek aanvaar als meer gelate. Dis tog dalk ten goede. Die feit dat daar nie meer ‘n baba gaan wees nie, sal ‘n trekkery iewers heen makliker maak... of probeer ek dalk maar net als vir my rasionaliseer? 

Uiteindelik ontvang ek die tyding per e-pos van Oshakati wat sê dat hulle nie nou ‘n beroep gaan uitbring nie, maar eers die volgende jaar in die eerste kwartaal. Dit plaas my in ’n moeilike posisie. Moet ek vir ander plekke aansoek doen of geduldig wag en dan dalk in elk geval nie soontoe beroep word nie?

Aan die einde van ‘n veelbewoë jaar op 31 Desember skryf ek : “Here, my tye is in U hand. Hoe lank gaan ons nog op Bray bly? Mag die Here insig gee. Ek sien geen langtermyn toekoms vir my en ons kinders hier nie... Wat gaan met Oshakati gebeur, wat gaan hulle besluit?”

En toe heel onverwags op Dinsdag middag 19 Januarie 2010 bel ds. Darius Botha onverwags van Tsumeb. (ek het hom nog nooit ontmoet nie) Hy gaan na Kroonstad en wou weet of ek beskikbaar is. Ek sê dadelik "JA" en hoor van hom dat hulle op die 31ste Januarie gaan beroep. Daar wag dus ‘n spanningsvolle tyd op my...

Saterdagaand 30 Januarie bid, skryf ek : “Môre gaan DV ‘n baie deurslaggewende dag in my lewe en toekoms wees! O, Here God ek bring dit alles na U toe! Here Jesus U het ons leer bid : Vader, laat U wil geskied! Ek bid dit, laat my hart vreugde in U vind.”

Sondagaand 31 Januarie om 17:30. Ek het pas gehoor ek is na Tsumeb beroep! Piet Gous het my geskakel.

Ek sou later verneem dat die feit dat ek vir Verre Noord aansoek gedoen het, ‘n rol gespeel het in my beroeping. Dis waar Tsumeb my naam gekry het. My Verre Noorde ideaal en verwagting moes sterf, sodat ek op Tsumeb nuwe lewe kon vind. Die Verre Noorde moontlikheid was ‘n miskraam, maar nie die einde van God se pad met ons nie. Op 11 April 2010 word ek op Tsumeb as leraar bevestig en so begin ‘n nuwe opwindende fase in ons lewe... Ons is besonder gelukkig hier, en ja, minder as ‘n jaar later maak nog ‘n nuwe lewetjie haar opwagting, toe Natanie Vreugde op 20 Januarie 2011 die lewenslig aanskou. God het sy tyd en sy plek!

NS En nou kan my gebed maar net wees : "Here dankie vir U onbeskryflike genade en asseblief Here gee vir ons weer LEWE, lewe soos in HERLEWING, 'n vars werk van U Gees in ons binneste wat sal lei tot ware toewyding, heiliging en entoesiasme in onsself en die gemeente, sodat U Naam geheilig kan word!

*Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. (Johannes 11:6)



[Die meubels word gelaai op Bray. Stephanie en Christien Eloff, Jonette en Marisja.]


[Natanie]

Maandag 06 April 2015

LAASTE BEKER KOFFIE OP ONKOSHI

Sommer so onverwags is 'n stukkie geskiedenis vanoggend vir my verder ingekleur...

Verlede naweek is een van die baanbrekers van die Tsumeb omgewing, tannie Sientjie Fourie oorlede. Ek het haar nie geken nie, maar haar dogter tannie Matie Stehle is ons skriba. Die Fourie gesin was pioniers wat op die plaas Ruimte (naby die Etosha wildtuin) vanaf 1947 geboer het en was baie betrokke by die kerk en gemeenskap. Hulle het ook op 'n ander hartseer manier deel van die omgewing se geskiedenis geword  toe Sientjie se man, Louis Fourie in 1982 deur terroriste op sy plaas vermoor is. Tannie Sientjie het heldestatus verwerf toe sy deur haar dapper optrede 'n groter ramp voorkom het. Deur aanhoudend op die aanvallers te skiet het sy verhoed dat hulle oor die veiligheidsheining rondom die opstal geklim het... Dit was rowwe dae van pyn, hartseer, lewensverlies... Hierdie Tsumeb, Grootfontein en Otavi omgewing was nie verniet bekend as die Driehoek van die Dood nie.

Vanoggend praat ek met tannie Babsie du Plessis wat my huis hier op Tsumeb huur. Sy vertel toe dat wyle Louis Fourie sy laaste beker koffie by hulle op die plaas gedrink het. Hulle het op die plaas Onkoshi geboer. Toe hulle die skokkende nuus van Louis se dood kry, het die beker nog op die tafel gestaan... Dit het die hele saak net nog meer hartseer gemaak.

Mag ons wat nie eers wat binne die volgende minute gaan gebeur nie, voluit lewe vir God en ons naaste... die beker koffie wat jy vandag vir iemand inskink kan dalk 'n laaste liefdesdaad aan daardie persoon wees!

Dinsdag 13 November 2012

GOD SE BOME IS KOSBAAR

- bewaar hulle!

God se kinders het respek vir Hom - vir sy heiligheid, almag en  koningskap. Dit sal verseker ook respek insluit vir sy skepping. Dis tog net logies : as ek die Skepper eer en aanbid sal ek ook sy skepping bewonder en oppas. Natuurlik het ons as Christene ‘n gebalanseerde benadering. Ons verafgod en aanbid nie die natuur nie. Ons het nie ‘n onrealistiese Greenpeace houding wat dikwels meer skade doen as goed nie. Ons erken met dankbaarheid dat God vir ons plante en diere gegee het om verantwoordelik te gebruik!

Namibië is geseënd met ‘n goeie grondwet wat voorsiening maak vir die bewaring van ons natuurlike erfenis. In praktyk werk dit ongelukkig nie altyd so op voetsoolvlak  nie. As boomliefhebber is ek baie bekommerd oor die uitroei van kosbare inheemse bome in ons relatief boomskaars en droë land.

Wes van Otavi vind mens pragtige groot mopanie (Colophospermum mopane) savanne. Reuse oeroue bome wat in harde omstandighede die toetse van die tyd, baie droogtes en veldbrande deurstaan het. Hierdie bome word nou teenstrydig met die wet vir die maak van houtskool afgekap. (Ek praat van groot bome, nie van struikmopanies nie!) Nie almal in die houtskoolbedryf beperk hulle blykbaar tot die ontginning van indringerbos soos sekelbos of swarthaak  nie! Vir kortstondige kontant word onherstelbare skade aangerig!





Nog ‘n bekommernis. In die Kavango streek vind die grootskaalse kap van pale plaas. Dis skaars stadig groeiende boomsoorte soos Vals Mopanie, hier ook genoem Osiwi (Guibourtia coleosperma) wat hiervoor aangewend word. In praktyk is dit ‘n bron wat nie hernubaar is nie. Veldbrande veroorsaak dat baie min nuwe jong boompies ooit sal oorleef. Dis ‘n pyn in die siel om die hope pale langs die paaie van ons pragtige land so te sien!


Hierdie pale word opgelaai in die Kavango deur 'n vragmotor met 'n Vrystaatse registrasienommer. Wonder of die eienaar daarvan weet?


Mag ons mense tog leer om respek vir bome te hê! Dis immers God se bome! “Die bome van die Here...” (Psalm 104:16)


GOD'S TREES ARE PRECIOUS
- protect them!

God’s children respect Him. His holiness, His omnipotence and Lordship. That will include respect for His creation. It rather goes without saying. If I honour and worship the Creator, I would also care for his creation! Off course, we as Christians have a balanced approach. We don’t  idolize or worship nature. We don’t support a Greenpeace type of attitude, which causes more harm than  good. We acknowledge with gratitude that God has  provided plants and animals for us to use in a responsible way!

Namibia is blessed with a good constitution which provides for the protection of our natural heritage. Unfortunately this doesn’t always have the desired effect in real life. As a lover of trees, I am very much concerned about the exploitation of our precious indigenous trees in our country which is quite dry and has relative few trees.

To the west of the town of Otavi, one finds a beautiful example of mature mopane (Colophospermum mopane) savannah. Ancient trees which survived the onslaught of ages, droughts and fires! These trees are cut in defiance of the law and used for the production of charcoal. (I refer to mopane trees and not mopane shrubland) It seems that the charcoal industry doesn’t always confine itself to the harvesting of encroaching species like sicklebush and swarthaak. The allure of quick bucks causes irreparable damage to our environment.

Another concern. Large scale harvesting of poles takes place in the Kavango region. Rare slow growing species like African Rose, locally known as Osivi (Guibourtia coleosperma) are exploited. This is for all practical purposes a resource that is not renewable. Annual fires prevent most sapplings to mature. It is painful to see the heaps of poles from these rare trees along our country’s roads for sale.


May our people learn  to respect our precious trees! In fact, these trees are God’s trees! “The trees of the Lord...” Psalm 104:16

Donderdag 09 Augustus 2012

KYK NA DIE KONTEKS

- baie belangrike beginsel vir Bybellees.

Die Bybel is ‘n boek. Weliswaar ‘n absolute unieke boek, God se Woord. Ons kan sy boodskap net begryp deur die leiding van die Heilige Gees.  En tog is dit steeds ‘n boek met gewone letters, woorde, sinne, paragrawe... Dis eintlik ‘n klein bibliotekie van boeke, wat aanmekaar gebind word deur een storielyn en een Outeur. Maar nietemin, dis ‘n boek wat dus gelees en verstaan moet word. En ja, dan moet dit gehoorsaam word, want dit dra absolute gesag, juis omdat dit God se openbaring is.

So dikwels interpreteer mense die Bybel op ‘n dwase manier en maak onsinnige gevolgtrekkings, omdat basiese leesreëls nie gevolg word nie. Ek wil net dat ons na een so ‘n onmisbaar belangrike reël kyk : 

LEES DIE BYBEL IN  KONTEKS.

Hoekom is dit so uiters belangrik?  In die Bybel sal jy die volgende selfstandige  sinnetjie kry : “daar is geen God nie.” (Psalm 14:1 ) Nou hoe nou? Wil die Bybel ons dan nou aanspoor tot ateïsme? Wie hierdie  uitspraak  geïsoleerd verstaan, kan maklik tot so ‘n dwase gevolgtrekking kom. Maar kyk ons eerlik na die konteks is die boodskap iets heeltemal anders. Dan sien ons dat hierdie woorde uit die mond van ‘n dwaas kom. Dan word die Bybelse boodskap duidelik. Ateïsme is sotlike dwaasheid! 

Die onmiddelike konteks van ‘n Bybelse uitspraak is dus van uiterste belang vir die regte verstaan van die betrokke gedeelte.

Maar ons moet ook verder kyk na die konteks van die bepaalde paragraaf of strekking van die Bybelboek waarin ‘n teksgedeelte voorkom. ‘n Teks wat maklik misbruik kan word om die toelating van die vrou in die lerende amp te regverdig is die uitspraak van Paulus in Galasiërs 3:28 “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie, in Christus Jesus is julle almal een.” Die konteks wys, dit gaan hier oor die kwessie van vryspraak deur die geloof alleen. (Vers 24) Die geheelboodskap van Galasiërs bevestig dat die geloof in Jesus genoegsaam is en dat ons nie meer die wet (besnydenis) hoef te onderhou nie. Paulus se uitspraak hier mag dus nie bygesleep word in ‘n debat oor die vrou in die amp nie. Dis laat nie reg geskied aan die konteks nie. In ander briewe laat Paulus homself wel duidelik uit oor hierdie vraagstuk.

Deur na die konteks van ‘n gedeelte te kyk kan ook baie skynteenstrydighede in die Bybel opgelos word. In 1 Johannes 4:8 lees ons : “God is liefde.” en in Hebreërs 12:29 blykbaar ‘n botsende uitspraak : “ons God is ‘n verterende vuur.” Wie na die onderlinge kontekste kyk behoort glad nie verwar te word nie. In 1 Johannes gaan dit nie oor ‘n allesomvattende beskrywing van God nie, maar oor die noodsaaklikheid dat Christene, God nie kan dien sonder liefde vir mekaar nie. Dis ‘n onmoontlikheid wil Johannes ons laat verstaan, want God self is dan liefde! Net so gee die uitspraak in Hebreërs ook nie ‘n volledige beskrywing van God nie. Wie die konteks nagaan sal sien die skrywer roep met erns sy lesers op om sorgvuldig na God te luister. Ons word geroep in die konteks van die Nuwe Verbond, maar dis ‘n ernstige saak. In die geval van die Ou Verbond by Sinaï het God  Hom bekend gemaak op ‘n angswekkende wyse as ‘n heilige verterende vuur. Hy is dit nog steeds, vir mense wat die Nuwe Verbond in Jesus verwerp. “So, pasop!”, wil die skrywer ons waarsku, "God laat nie met Hom speel nie!." 

Nie net is die omliggende konteks van bepaalde paragrawe of die hoofstrekking van ‘n Bybelboek belangrik nie, maar ook die geheelkonteks en storielyn van die Bybel as geheel. So kan iemand wat eerlik en opreg die Bybel van vooraf lees tot die gevolgtrekking kom dat ons bloedoffers moet bring en die besnydenis moet toepas. As mens egter die Bybelse storielyn in ag neem en raaklees dat die Godsopenbaring ‘n finale hoogtepunt bereik het in Jesus Christus (Hebreërs 1:1-3), dan is dit maklik om te verstaan dat alle bloedoffers en bloedige tekens afgeskaf is, aangesien Jesus se eenmalige offer voldoende versoening was vir elkeen wat Hom as Verlosser aanvaar het. Dieselfde geld vir iets soos die Sabbat. Ongetwyfeld is die Sabbatsgebod van sentrale belang in die Ou Verbond. As mens egter die geheelkonteks van die Bybel verstaan, besef ons dat die Sabbat slegs ‘n tydelike padteken was, wat na Jesus heengewys het. Nou dat Jesus gekom het en vir ons ware rus bring, het die teken sy funksie verloor en mag niemand ons meer hieroor oordeel of voorskryf nie. (Kolossense 2:16,17)

PASOP : Een van die kenmerke van dwaalleraars  is dat hulle graag stringe Bybeltekste uit konteks en verband aanhaal. Dan kan mens natuurlik die Bybel enigiets laat sê wat jy hom wil laat sê.

Om die geheelkonteks en storielyn van die Bybel beter te verstaan, lees gerus LUGFOTO VAN DIE BYBEL. (3 dele)

Erkenning aan : Dr. J. Van Bruggen, HET LEZEN VAN DE BIJBEL

Woensdag 08 Augustus 2012

BAIE DANKIE/VIELEN DANK

- mein Glas ist nicht nür halb voll.

Baie dankie en baie welkom aan die besonder baie besoekers aan hierdie Blog die afgelope paar dae! Ongelooflik! Ek hoop julle geniet dit en vind  groot seën, vreugde en vertroosting. (Net soos die vreugde wat ek beleef deur hierdie Blog te skryf)

Omdat die evangelie die Blye Boodskap is van dit wat Jesus deur sy kruisdood en opstanding vir ons as sondaars kom doen het, is ‘n ware grondige blydskap deel van die basiese Christelike belewenis. Dis ‘n blydskap wat die wêreld nie ken en verstaan nie. Dis ‘n blydskap gebou op God se standvastge en heerlike beloftes wat waar word in Jesus. Juis omdat ons vreugde, ‘n stroom blydskap is wat ons uit die onuitputlike Bron, Jesus self ontvang, het God se kinders nie nodig om dit by bedenklike oorde te soek nie. Psalm 141:4  is so treffend en veelseggend :

 “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” ("...ich mag nicht essen von ihren leckeren Speisen")

Die kind van God wat kan bely : "Die Here is my Herder" ondervind dat God self vir hom 'n fees berei. "U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid."
(OAV - "my beker loop oor!!!") Psalm 23:5

Die kind van God se blydskap is ‘n blydskap in alle omstandighede. Ons is bly al huil ons ook soms. Daarom kan Paulus verklaar : “In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap.” (2 Korintiërs 7:4) Dis ‘n unieke soort van blydskap. Dis bonatuurlik en altyd blywend, en dalk nog vreemder - dis ‘n blydskap wat floreer op beledigings wat ons te beurt val ter wille van Christus. Ja, jy het reg gelees. Jesus stel dit so duidelik in Lukas 6:22-23 

“Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die Mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel.”

So gesien is alle kinders van God se glase nie net half vol nie, maar oorlopens toe vol! Altyd!

Baie gelukkig en vol vreugde  hier op Tsumeb.
Johannes

Dinsdag 17 Julie 2012

ROLTRAPPE EN RUÏNES

- Rip van Winkel op Rundu.

Dit was my heerlike voorreg om verlede maand 'n reeks Pinksterdienste op Rundu in die Kavango waar te neem. Rundu was my eerste gemeente (1991-98) en die dorp en sy mense langs die pragtige Kavango rivier sal altyd ‘n spesiale plekkie in my hart hê. Dit was aangenaam om weer daar te kom, die Woord te deel, ou kennisse te sien en Vic en Milly Basson se gasvryheid te geniet. 

Maar dit was ook weer ‘n tyd van nadink, besin en herkou... Toe ek Rundu binnery in kruipende verkeersdrukte (ja, glo my!), het ek so ‘n amperse Rip van Winkel gevoel beleef. Rundu is nie meer ‘n veraf voorpos van die beskawing langs ‘n rustige rivier nie. Dis nou ‘n polsende stad. Rundu het ingrypend verander! 

Die vooruitgang op Rundu die afgelope dekade of wat is baie opsigtelik : nuwe moderne geboue, roltrappe en robotte.  Dit woel en werskaf, ‘n reuse nuwe mark word opgerig...  Die stofstraat voor die voormalige ENOK woonstelle waar ek gebly het, het onlangs ‘n splinternuwe teerstraat geword. 

Maar daar is ook minder aangename veranderings : die skrikwekkende uitroei van pragtige inheemse bome (selfs teen die skuins walle langs die vloedvlakte word dit ontbos), die verspreiding van uitheemse indringerplante, verwaarloosde tuine (mense wat die dorp nog van “army” dae geken het, sal in hulle wortels geskok wees), die hope vullis  in die strate...


Ek gooi ‘n draai by die ROK  van ouds. (Vir die wat Rundu nie ken nie, dit was die bekende Rundu Ontspanningsklub) Almal in Rundu het dié kuierplek geken, geleë op ‘n pragtige hoogte wat uitkyk oor die rivier. Vir party was dit eintlik iets baie meer as net ‘n kuierplek... amper ‘n bestaanswyse of dalk ‘n ontvlugtingsoord. Nou is dit onooglik en verwaarloos. In die proses om 'n volwaardige ruïne te word. Eintlik pateties, tragies... Ek kyk binne in. Die kroegtoonbank is nog daar, ‘n leë stilte klink in jou ore. Die plafon val inmekaar. Louw Potgieter se pragtige skildery op die muur by die ingang is swart bekrap. Rommel en nogmaals rommel... Die vergane glorie van die ROK is vir my simbolies van die mens se tydelikheid en gebrokenheid. Van verkeerde keuses en geleenthede wat vir altyd verby is. Dis hartseer om te sê, maar sommige van die gereelde ROK besoekers het destyds toe ek hier in die bediening was, hulle eie praatjies bo die Woord gekies. Nou is die ROK stil, uitgedien... en  van sy voormalige besoekers is nie meer met ons nie.

“Here, alles vergaan, maar U Woord bly ewig staan.”

Gelukkig kon ek die vreugde beleef dat daar nou nog op Rundu mense is wat begerig die Woord van God indrink en selfs op weeksaande moeite gedoen het om te kom luister. Dit was vir my heerlik om die kosbare Woord van God aan julle te bedien. Mag ons weet, dat elkeen wat na Jesus en sy Woorde luister en dit doen, sal wees soos die man wie se huis op die rots gebou is. So ‘n huis sal die storms van die tyd, verganklikheid, vervolging en die Laaste Oordeel deurstaan en permanensie kry in God se ewige Koninkryk. Wie bou op die valse sekuriteit van rykdom, losbandigheid en die najaag van selfgesentreerde ambisies se lewenshuis sal verkrummel tot ‘n bouval soos die ROK. Dis ‘n skrikwekkende werklikheid, wat selfs in hierdie lewe al in sommige gevalle  met die blote oog sigbaar is...

Rundu en omgewing het baie blyplek van goeie gehalte: Kavango River Lodge, Omashare River Lodge, Sarasungu River Lodge, Ngandu Safari Lodge, Kaisosi River Lodge...  Maar enige aardse verblyf en menslike akkommodasie is net tydelik. Maak seker van jou ewige blyplek. Dis die huis van die Vader waar Jesus vir ons woonplek gereed gemaak het deur sy genoegsame versoenende sterwe. Weet jy hoe om daar te kom? Wel, dis eenvoudig, Jesus self is die pad daarheen, Hyself is die volledige waarheid, Hy in Homself  is die lewe. (Johannes 14:6) Wie Jesus aangeneem het, deel in die volle pakket van ewige vreugdevolle verblyf.  Die woonplek waarheen Hy ons gaan neem as Hy sy mense kom haal is ‘n  onverganklike woonplek, volmaak in die heerlike teenwoordigheid van God. Anders as die ROK kan dit nooit ‘n ruïne raak nie...

Naskrif

Die tydelikheid van ons bestaan is nog verder onderstreep, toe die jarelange en getroue tuinwerker van die kerk, Irenaeus juis in die tyd van Pinkster, oorlede is.


Kroegtoonbank ROK


Muurskildery by die ROK



Die Kavango het die pragtigste inheemse boomsoorte. 
Een van my gunstelinge is die Baster Mopanie.
(Guibourtia coleosperma)


Van kosbare bome word pale gekap en met vragmotors weggery.



Moderne geboue op Rundu



Maandag 02 Julie 2012

"HUIL" BY DIE HUISGENOOT


- uitbuiting van boosheid vir eie gewin.

Sonde bly altyd tragies. Dit verwoes, maak seer en die ergste van alles, dit beroof ons van gemeenskap met God. Om te sondig  is altyd iets afskuweliks, of dit 'n verlorene is wat heel gelukkig aanhou onreg doen en of dit 'n kind van God is wat vir versoeking geval het. Sonde is altyd iets om oor te rou. Ook die kind van God wat weet dat sy sonde vergewe en uitgewis is, sal as hy daaraan herinner word met pyn en selfveragting aan die sonde van die verlede terugdink. (En natuurlik dan met dankbaarheid oor die feit van vergifnis die pad van heiligmaking met groter vasberadenheid loop.)

In die lig van die erns en veragtelike aard van sonde is dit 'n bedenklike tendens dat veral bekendes wat die pad byster geraak het, blykbaar so graag aan die pers (en by name die Huisgenoot) hulle sondestories verkwansel. Hierdie sonde ontboesemings, wat gewoonlik eers plaasvind nadat hulle uitgevang is of die melk suur geword het, bevat weinig egte berou en belydenis. Nee, dis eerder klanke van blaamverskuiwing en verskonende beredenerings wat gehoor word. "Ag, as die ander party tog maar net sy of haar aanddeel sou wou erken, sal ek klaar beter voel." Verskonings, verwyte, verfraaiings en verduidelikings, in plaas van verootmoediging...

Kan 'n mens so laag daal om glimlaggend geld te maak uit jou sonde besonderhede (met foto's en al)? En wat vertel dit ons van onsself as ons geld uitgee om hierdie besonderhede te bestudeer?

Sonde is iets om te bely en nie vir finansiële gewin en gratis aandag te benut nie!

Ons kan almal val. Andere se val moet juis vir ons 'n ernstige waarskuwing wees, om nooit met sonde te speel nie. Dit moet die kind van God laat sidder en met groter erns laat  waak en  bid. Mag ons nooit ligtelik oor sonde dink nie. Nie oor ons eie nie en ook nie oor ander s'n nie. Veral mag ander se sonde nooit vir ons 'n bron van vermaak, leesgenot of onderwerp van bespreking wees nie. Efesiërs 5:12 waarsku :

"Dit is 'n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen."

Die brief van Jakobus bevat sinvolle raad.  Sondaar, moenie Rapport  toe hardloop nie, maar rapporteer berouvol aan God. Die belofte is : "Nader tot God en Hy sal tot jou nader."  Moenie siek  stories  versin nie, "maar bekla julle ellende, treur en huil!" Moenie publisiteit op  die Huisgenoot se voorblad soek nie, "maar onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog." (Sien Jakobus 4:8-10)

Donderdag 28 Junie 2012

BILLIK EN TOT ONS BESWIL

- afwesige pa's is nie God se bedoeling nie!

Onlangs berig die dagblad BEELD : Die getal wit mans in Suid-Afrika wat kinders het, maar “afwesig” is omdat hulle nie in dieselfde huis as hul kinders woon nie, het van 13% tot 17% gestyg.

Dít blyk uit syfers wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) ingewin en ... in Pretoria op die jaarlikse konferensie oor kindermishandeling voorgelê is.

Lucy Holborn, navorsingsbestuurder van die SAIRV, het gesê die navorsing oor afwesige pa’s is een van die kommerwekkendste dele van hul studie oor gebroke gesinne.

Afwesige swart pa’s het van 46% tot 51% gestyg en afwesige bruin pa’s van 34% tot 39%, terwyl die afwesige Indiër-pa’s van 17% tot 13% afgeneem het.

Meisies wat sonder hul pa grootword, is meer geneig om ’n swak selfbeeld te hê en riskante seks te beoefen en om probleme in romantiese verhoudings te hê.

Seuns wat sonder ’n pa grootword, is meer geneig tot aggressiewe gedrag.

Sue Krawitz, voorsitter van die Nasionale Aannemingskoalisie en direkteur van die Impilo-kinderbeskermings-en-aannemingsdienste, het gesê net 33,5% van Suid-Afrikaanse kinders woon by albei ouers.

Hierdie skrikwekkende toestand is die direkte gevolg van die verwerping van God se voorskrifte en bepalings!

Kom ons verduidelik. God is ons Maker en Hy het die bekwaamheid en reg om die reëls van ons bestaan te maak. Hy het sekere ordes daar gestel. Sy ordes is goed en onontbeerlik vir ons welsyn en funksionering as mense tot sy eer. In Deuteronomium 4:8 sê Moses van God se wette en voorskrifte :

“Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?”

GOD SE BILLIKE BEPALINGS IS TOT ONS EIE BESWIL.

Ons verwerp dit tot ons eie skade en skande! Die ontwerper en vervaardiger van ‘n spesifieke  voertuig weet mos wat is die beste brandstof, olie, smeermiddels en gebruiksvoorskrifte vir daardie bepaalde model. Wie dit ignoreer sal ongetwyfeld skade ly. God as ons Ontwerper en Maker, weet wat is vir ons die beste. God het vir ons voorskrifte gegee oor al die verhoudings waarin ons staan : man en vrou,  ouers en kinders, werkgewers en werknemers... Dit was waar vir die Israeliete voor Christus se koms. Maar ook vir ons wat leef na Jesus se koms is daar voorskrifte en opdragte. In die Nuwe Verbond het Jesus self ons norm geword en alle verhoudings kom vernuwe. Die vryspraak wat God ons skenk deur geloof in Jesus moet gevolg word deur ‘n nuwe lewensstyl van heiligmaking. Dit vind op ‘n praktiese wyse neerslag in gehoorsaamheid aan die Nuwe Testamentiese voorskrifte wat die huwelik, gesin en werkplek raak.

Die verontagsamening van God se ordes het skrikwekkende gevolge! (dit word maar net weer bevestig deur die berig in BEELD) Verbrokkelde huwelike, verskeurde gesinne, verwarde kinders, arbeidsellende... Dis die gevolg van ‘n verwerping van God se ordes en die aanhang van afgode soos gierigheid en wellus. Materialisme en gierigheid eis duisende slagoffers. 
  • So baie pa’s jaag net na aardse besit en prestige en skeep die geestelike en emosionele versorging van hulle gesinne af.  So baie moeders laat  bediendes of dagmoeders hulle kinders grootmaak. Finansiële verpligtinge word as rede voorgehou. Dit is soms regtig die geval (en daarmee het mens baie simpatie), maar hoeveel keer gaan dit eintlik maar oor ‘n luukse lewensstyl, ‘n ekstra motor of ‘n vakansiehuis by die see? En so word ons kinders se geestelike welsyn geoffer aan Mammon... Is hierdie dinge dan vir ons belangriker as die kinders wat God aan ons geskenk het om vir Hom op te voed?
  • Die ander afgod wat verwoesting saai is wellus en onreinheid. Ons laat toe dat ons en ons kinders volgepomp word daarvan deur die TV, flieks en tydskrifte wat ons in ons huise toelaat. Losbandigheid bring verbreking in die lewens van ons grootmense en kinders! Die gevolge hiervan is huweliksontrou, egskeiding en gesinsverbrokkeling wat meer skade aanrig as alle plaasmoorde en padongelukke saam!


Dis tyd dat die kerk weer die moed sal hê om te sê wat die Bybel sê :

“Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.” 
(Maleagi 2:16)

Waarom voel God so ernstig oor hierdie saak? ‘n Gesonde huwelik is die basis van ‘n nageslag wat God eer! (Maleagi 2:15)

Die groot rede hoekom so baie agter hierdie afgode aanloop en dan die bittere vrugte van onder andere egskeiding en kinderverwaarlosing pluk,  is leegheid. Daar is ‘n vakuum in elke hart waar Jesus nie Koning is nie!  Die grootste oorsaak van ellende in ons gesins- en volkslewe is nie slegte regering of swak ekonomie nie, maar sondige harte wat weier om voor Jesus te buig en God se ordes as lewensreël te eerbiedig!


Vrydag 01 Junie 2012

MAORI NAGMAAL EN BOERE SMART

- bevrydende krag tot vergifnis.

Wat het ‘n Maori nagmaal ver oor die see in New Zealand en die konsentrasiekamp smarte van die Boere Oorlog hier op eie bodem met mekaar te doen?

Kom ek begin met die merkwaardige berig oor ‘n besondere  nagmaal in New Zealand.  ‘n Juweeltjie wat ek onlangs weer raakgelees het.* Dis Desember 1848 by ‘n plekkie genaamd Putiki op die walle van die Wanganui rivier.  ‘n Groot getal bekeerde Maori’s is saamgetrek om onder andere nagmaal te vier onder leiding van Rev. Richard  Taylor van die Church Missionary Society. Hulle het rivierlangs  met hulle  kano’s gekom.  Sommige uitgedos in tradisionele klere en ander in nuutverworwe Europese drag. Die bediening van die nagmaal is oor twee dae versprei, weens die groot aantal deelnemers. Op die 25ste word die tweede groep bedien. Tydens hierdie diens het ‘n aangrypende gebeurtenis plaasgevind wat die krag van die evangelie sonder twyfel sigbaar gedemonstreer het. Twee Maori hoofmanne was onder die aanwesiges by die tafel van die Here. Een van hulle, Tamati Wiremu Puna van Aramoho het sigbaar gebewe. Na die diens is hy uitgevra oor sy emosie. Hy vertel toe die aangrypende verhaal dat die ander hoofman, Panapa van die Nga-ti-Apa, wat saam met hom was, vantevore sy pa doodgemaak en geëet het! Hy het toe voortgegaan om te sê dat net die evangelie wat hom ‘n nuwe natuur gegee het, kon maak dat hy saam brood kon eet en uit dieselfde beker kon drink as die man wat die moordenaar was van sy eie pa.

Die verbysterende omvang van die pyn en smart wat ons Afrikanervolkie deur die Britte aangedoen is tydens die Anglo-Boere Oorlog het, maak weer opnuut mens se emosie wakker  met die onlangse onthulling dat nie 27 000 van ons volksgenote (soos ons gedink het)  in die Britse konsentrasiekampe gesterf het nie,  maar ‘n angswekkende 34 000.  Die diepte van hierdie onmenslike behandeling word nie net deur koue syfers vertel  nie, maar veral deur die verhale van moeders wat magteloos moes toesien hoe hulle kinders in hierdie haglike kamptoestande onnodig deur siekte, honger  en ontbering uitgewis word.

Van hierdie vertellings is opgeneem in ‘n nuwe boek oor die smartlike euwels van die konsentrasiekampe, “ONTHOU! - Kronieke van vrou - en kinderlyding 1899-1902" saamgestel deur AWG Raath en Elria Wessels.

Magdalena van der Merwe praat oor die dood van haar dogtertjie : 

“Daar sit ek met my siek kind op die skoot. Sy was sterwende en sê: ‘Mammie, gee vir my tog bietjie water.’ Wat kon ek doen? Ek antwoord: ‘My liefste, hier is geen water nie.’ Sy hou maar aan om te smeek vir water. Toe moes ek van my trane op haar lippies laat drup. Eindelik het sy gesterf...”

Anna Botha van Breipaal, Smithfield, vertel van die dood van haar seuntjie in die Bethulie-konsentrasiekamp:

“Hy het al swakker en swakker geword, en sy einde het genader. Hy het honger gehad en kon nie melk drink nie. Wanneer ek hom vra hoe dit met hom gaan, was sy antwoord: ‘Mammie, beter, maar ek het tog so honger!’ Sy laaste woord was: ‘[Ek het] honger’. 

“Toe hy gesterf het, was hy ses jaar oud, maar die lykie was nie [eens] so groot soos dié van ’n kind van twee jaar nie, net langer. Ek kon die tandjies deur die wangvelletjies tel. As ek my hand op die buikie lê, kon ek die ruggraat voel.” 

Die verhale van magtelose moeders, die foto’s van uitgeteerde liggaampies, rye en rye name van gestorwe kinders, kleuters, babas... dreig om vals note van verbittering uit jou sielsnare uit te ruk, maar...

...Tamati Wiremu Puna kon die moordenaar Panapa wat sy pa opgeëet het, vergewe,  want daar was ‘n houtkruis met ‘n Verlosser wat sy lewe vir ons gegee het. Dis ook die enigste (maar gelukkig genoegsame) rede waarom ons die Britte kan (en moet) vergewe vir die 34 000! Al is dit bewend en met trane in ons oë, kan ons harte die suiwersoet note van vergifnis uitjubel!

Is daar nog iemand wat jy moet vergewe?

* An Early Communion in New Zealand, Peter Best in The Banner of Truth, January 1996

Dinsdag 29 Mei 2012

SATAN SE SAPPIGE STORIES

- die gevare van die  “health, wealth and prosperity teaching”

Ons geloof is gebou op God se kosbare en heerlike beloftes. Maar soos ons weet is die Satan, God se na-aper. Hy maak ook beloftes, baie aanloklike beloftes wat hy deur sy valse apostels aan mense opdis en so miljoene mislei.

Valse beloftes. Dis ‘n ou taktiek van die duiwel waarmee hy al vir Adam en Eva uitgevang het. Aan hulle het hy die subtiele belofte gesuggereer dat as hulle van die verbode vrug eet,  hulle net soos God sou word. “...dan sal julle soos God wees wat alles kan ken.” (Genesis 3:5)   Sedertdien is die sondige mens ‘n maklike slagoffer vir Satan se sappige beloftes wat so lekker pas by ons sondige begeertes. Satan se beloftes gaan hoofsaaklik oor geld, gerief en grootsheid (roem), want dis die dinge van die wêreld wat die sondige mens nastreef as eerste prioriteit bo God!  Dis presies teen hierdie verkeerde begeertes waarteen 1 Johannes 2:15-17 so ernstig waarsku : 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. Die wêreldse dinge, alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit, kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”

Satan het sy listige beloftes oor  gerief en voorspoed ook op Jesus uitprobeer. Natuurlike op ‘n super slinkse en subtiele wyse soos ons lees in Matteus 4:1-11. Hy probeer (die honger) Jesus verlei om brood te maak uit klippe. So wou Hy dat Jesus sy mag in belang van sy eie behoeftes gebruik in plaas van tot eer van God. Daarna probeer hy Jesus oorreed om van die tempel se dak af te spring, want dit sou vir Jesus dadelik roem en grootsheid meegebring het. Uiteindelik kom hy na Jesus met ‘n belofte van ontsaglike rykdom en mag. Jesus verwerp al hierdie mooi praatjies van die duiwel en onderwerp Homself aan God se volmaakte wil. God se agenda  vir Jesus was die kruis, en al hierdie pogings van Satan was daarop gemik om aan Jesus ‘n kortpad na roem en gerief voor te hou sodat Hy nie na die kruis sou gaan om die oorwinning daar oor die duiwel te behaal nie!

Dis presies nog  die taktiek van die duiwel ook met ons. Hy wys vir ons ‘n maklike kortpad na rykdom, gerief en roem om ons weg te lok van die pad waarop God wil hê ons moet loop. Die pad van die waarheid is God se pad van vertroue op Jesus wat nou vir ons vryspraak bring  en eendag sal uitloop op onbeskryflike heerlikheid.

Hoe verskil Satan se slimpraatjies van God se beloftes? Die duiwel se beloftes sluit aan by die mens se sondige  begeertes. Hierteenoor, is God se beloftes gemik op die eer van sy naam en is juis in konflik met ons eie sondige ambisies. Satan se mooi beloftes is gefokus op die hier en die nou.   

God se volgorde is eers die kruis en daarna die kroon!  

Die Bybel is klinkklaar helder, ons grootste behoefte nou is om vergifnis van sonde te ontvang en vrede met God te vind. Eers met die wederkoms gaan ons liggame ook herstel word en sal al die trane van ons oë afgevee word. Jesus moes eers deur lyding gaan en dan verheerlik word! Ons as sy volgelinge is veronderstel om dieselfde pad te loop. Christenskap is nie ‘n maklike paadjie wat geplavei is met geld en gerief nie. Nee, Paulus het dit baie duidelik aan die nuwe bekeerlinge van sy dag gestel dat ons  “eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom.” (Handelinge 14:22)

Die valse apostels van die “Word of Faith Movement”  en die verkondigers van die “Prosperity Gospel” beloof aan hulle aanhangers ‘n lewe van gerief, gesondheid en aardse sukses, nou! Dis tyd dat hierdie gruwelike grootbekke ontmasker word vir wat hulle is : valse profete en dwaalleraars! Wat hulle verkondig is direk in stryd met die boodskap van Jesus!

Hierdie hedendaagse vals apostels wil ons heidense tegnieke leer om vir onsself ‘n gerieflike lewe hier op aarde te skep! Dit skreeu teen Jesus se opdrag om juis ons kruis op te neem, onsself te verloën en Hom te volg. Een van hulle, die bekende Joel Osteen sê : “All of us are born for earthly greatness” Hy verkondig ook die heidense lering dat die mens se woorde skeppingsmag het en verdraai die Skrif om dit te staaf*. Hy beweer: “words give life to your dreams” en “Friend, there is a miracle in your mouth.” Die gerespekteerde  jarelange prediker van God se Woord, John MacArthur noem Osteen ‘n “pagan religionist, a quasi pantheist and an agent of Satan.” Dis harde woorde, maar dis inderdaad belangrik dat ons ons broers en susters duidelik moet waarsku teen sielsvernietigende dwaling. Dis tragies, maar hierdie gevaarlike Joel Osteen, met sy duisende aanhangers het werklik geen insig in die waarheid nie. (Dit het ek onlangs besef toe hy Mormone as Christene beskryf het) 

“Mag ons dan oordeel?”, vra jy. Wel, Paulus het nie geskroom om dwaalleraars by die naam te noem nie. (Sien 2 Timoteus 2:16,17) Die eer van God en die ewige welsyn van mense is op die spel.  Ek kan maar net saam stem met John Piper as hy sê : “I hate the Prosperity Gospel.”

Waarom is hierdie valse lering so gewild? Dis eenvoudig. Dit wat die Satan deur hulle beloof, vind gemaklik aansluiting by die sondige mens se natuurlike begeertes. Om opgewonde te raak oor hierdie beloftes van sukses en roem  hoef mens mos  nie wedergebore te wees of jou te bekeer van selfgesentreerdheid nie.  Alle sondaars wil altyd al hierdie dinge hê. Maar daar is ook ‘n ander aspek wat ons maklik miskyk. Hierdie vals leraars is ‘n bewys van God se oordeel oor goddelose mense, wat  soetsappige boodskappe verkies wat hulle eie  sondige begeertes bevredig en hulle nie sal ontstel nie. Sulke bose mense maak vir hulleself leermeesters bymekaar om te sê wat hulle graag wil hoor. (2 Timoteus 4:1-5) God gee dus mense wat nie die waarheid liefhet nie, oor aan die oordeel. Hy laat  toe dat hulle hulself dik vreet aan die leuen sodat hulle daaraan kan stik en sterf!

Naskrif : Luister na die waarskuwing van manne soos John Piper en Paul Washer oor hierdie gevaarlike dwaling deur te kliek op PROSPERITY GOSPEL.

*Sien op hierdie blog, DIE DUIWEL SE BYBEL.


Joel Osteen