BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Skolesport. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Skolesport. Wys alle plasings

Maandag 30 Oktober 2017

ONAFSKEIDBARE TWEELING

- Gehoorsaam aan WOORD en GEES sal ons gedurig reformeer en getrou bly aan ons evangeliese roeping!



Jesus het die genoegsame losprys vir sondaars aan die kruis betaal. Daarna het Hy opgestaan uit die dood. Regtig. Histories. Liggaamlik. “Voel aan My.” Hy eet ‘n gebakte stuk vis voor hulle oë! Maar daarna doen Hy nog iets belangrik. Hy gee aan sy dissipels (aan sy kerk) :
  • ‘n Vaste verwysingspunt (Skrif)
  • ‘n Helder roepingsopdrag (Evangelieverkondiging deur getuienis)
  • ‘n Heerlike belofte (Heilige Gees)
Dis baie belangrik om raak te sien wat Jesus na sy opstanding doen en waarop Hy fokus in die kort tydjie tussen sy opstanding en hemelvaart. Ons lees hiervan in Lukas 24. Hy doen nie nuwe dramatiese wonders nie. Hy verwys sy dissipels (ons!) terug na die Skrifte! “Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is." Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (44,45) En Hy maak die belofte van die Gawe! Die Heilige Gees! “En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.” (49)

WOORD EN GEES

Belangrik! Hier in die laaste hoofstuk van Lukas lees ons hoe lê Jesus die fondasie vir gesonde en doelgerigte kerk wees. Woord en Gees. Gehoorsaam aan die Woord en bekragtig deur die Gees kan ons ons evangeliese roeping vervul. Hierdie kern roeping is baie duidelik. Die verkondiging van bekering en vergifnis in Jesus se Naam. “Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (46,47) Mag ons dit sommer weer duidelik hoor : Die kerk se primêre fokus mag nooit selfoorlewing, geldinsameling, sosiale betrokkenheid of kultuurprojekte wees nie. Ons moet die verlossingsboodskap aan alle mense bring. Bekering en vergifnis van sonde. 

Maar terug by die fondasie van Woord en Gees. Dis hierdie fondasie wat as’t ware weer herontdek is tydens die Protestantse Reformasie. Die gesag van die Woord en die Gees. Die leiding van die Woord en die Gees. Bemagtiging deur Woord en Gees. 

Wat beteken dit prakties? Woord en Gees gaan saam. Die Woord is ons norm. Enigste norm. Sola Scriptura. Die Woord en die alleen sê vir ons wat is reg en verkeerd. Nie die Huisgenoot, Hollywood of die algemene opinie op straat nie. Die Woord is dus onmisbaar belangrik. Maar die Heilige Gees is net so onmisbaar. Die Heilige Gees maak vir ons die betekenis van die Woord oop en bekragtig ons om dit te gehoorsaam. Hy gebruik die Woord om ons te heilige, te verander, te vernuwe... Hy bewerk die gehoorsaamheid om die evangelie van Jesus uit te leef en te verkondig. 

Die resep vir volharding en roepingsvervulling is om tegelykertyd aan beide vas te hou – Woord en Gees.

Die kerke van die reformasie het natuurlik soos dit menslik is, telkens weggedwaal van hierdie beginsel. En dit gee in ons dag steeds aanleiding tot groot verwarring, gruwelike onkunde en dwaling!


  • Soms word die Woord oorbeklemtoon ten koste van die Gees. Dit gebeur wanner die Bybel op ‘n suiwer intellektuele tegniese manier benader word. Kraakdroë ortodoksie. Ons doen deeglike, maar koue eksegese. Ons formuleer als so mooi reg, daar is geen teologiese leerstellige haar uit sy plek nie… Die regte kolletjies op die “i” en die presiese strepies deur die “t”. Maar daar is geen gebrokenheid en berou oor sonde nie, geen ware bekering nie, geen gehoorsaamheid om Jesus se opdragte uit te voer nie. Daar is min opgewondenheid, min opoffering, min liefde. Byvoorbeeld ons formuleer so mooi dat Jesus die enigste Middelaar is, maar ons kom nie prakties by gebed uit nie, ons is nie regtig lief en toegewyd aan hierdie Middelaar nie, ons het geen passie en doen geen moeite om hierdie Middelaar aan ander te verkondig nie. Ek wil vir jou vra wat die Woord en die belydenisskrifte (wat opsommings is van die Woord) so goed ken: Hoor jy nog hoe die Gees deur die Woord met jou praat, oortuig Hy jou deur die Woord van sonde en dryf dit jou opnuut na uit na Jesus om Hom te omhels? Maak die evangelie ‘n verskil in jou liefdeslewe, besigheidslewe, ontspanningslewe? Lei die Heilige Gees jou in ‘n heilige lewe?
  • Soms word die Gees losgemaak van die Woord. Die Woord word effens opsy geskuif. Dit het ook by verskeie kere in die verlede gebeur en gebeur vandag nog baie. Dis wanneer mense redeneer : “Die Gees sal my lei en dis nie nodig om erns maak met die Woord nie. Dis ook nie nodig dat ek na ernstige prediking, na Woorduitleg luister nie.” Natuurlik sal diesulkes nooit openlik die Woord weggooi nie. Hulle sal nog steeds sê : “Ons glo die Bybel.” Maar wat gebeur? Hulle gebruik die Woord op die klank af, ruk tekste uit verband uit (“Spreek Lewe” teologie), maak nie erns met die konteks nie, jaag allerhande nuwighede na wat hoegenaamd nie in die Skrif voorkom nie – “salf huise met olie”. Daar word sommer links en reg beweer : “Die Here het vir my gesê…” Ja, daar is moontlik baie opgewondenheid, baie sentimentaliteit, baie lawaai, baie nuwe idees, maar ook ongelukkig baie verwarring! Maar ongelukkig min standvastigheid, min volharding, min integriteit en heiligheid en min waarheid! Ek wil vir jou wat die Woord afskeep vra: ”Waar anders as in die Woord gaan jy die suiwer wil van God hoor, hoe anders as deur omvattende Woordkennis gaan jy koershou in ‘n chaotiese wêreld, hoe anders gaan jy weerstand bied teen die daagliks propaganda van die Satan?”

VOORTDURENDE REFORMASIE

Altyddeur moet die kerk opnuut luister en opnuut gehoorsaam word aan die Woord en die Gees. Die kerk as geheel, maar ook ek en jy persoonlik. Ons het reformasie weer net so nodig soos vyf honderd jaar gelede. Is jy daarvoor bereid? Is jy bereid om die Woord en Gees te gehoorsaam en standpunt in te neem die oorweldigende materialisme, die Hollywood welluskultuur, die afgodiese sportwaansin en prestasiebeheptheid wat op ons eie voorstoep is…? Martin Luther het teen die hele wêreld opgestaan, omdat die Woord en Gees sy siel oorweldig het. Deur die Woord en Gees het hy vrede gevind vir sy geteisterde siel. Maar dit het vir hom ook baie moeilikheid besorg… Dit het hom in botsing gebring met ‘n afgedwaalde kerk en goddelose wêreld. Hy het die brandstapel net-net vrygespring...  (Kliek op LUTHER)

Is ek en jy bereid om opnuut die Woord en Gees te gehoorsaam en die spot en haat van mense te verduur? Dis die vraag wat elkeen vandag voor God moet antwoord! Dis die voorvereiste vir voortdurende reformasie. Dis so bitter nodig in ons dag...


Ons het op Sondag 29 Oktober 2017 die Reformasie feestelik gevier in 'n vol kerk. By die geleentheid het 'n nuwe lidmaat, Helena Boshoff ook belydenis van geloof afgelê. (en dit was boonop ook nog haar verjaarsdag!) Die Sondagskoolkinders het in 'n kort seremonie die 5 solas van die Reformasie aan 'n houtdeur vasgespyker.

Woensdag 28 Junie 2017

“PA, BEGRAWE MY OP DIE RUGBYVELD”

- die onverantwoordelikheid van Namibiese skolesport!

[Hierdie paar gedagtes het lankal reeds begin groei in my hart en op die rekenaar, maar ek het tot nou toe gehuiwer om dit te plaas, tot vanoggend toe ’n bekommerde pa sy hart met my gedeel het...]

Slaan my, skop my, skiet my, nes jy wil, maar die waarheid moet gesê word. As ‘n onderwyser-afrigter laat deurskemer dat hy eintlik nie heeltemal so bly is as ‘n span van hom na ‘n eindronde deurdring nie. As jy hoor hoe ‘n skolespan op een dag op Okahandja én Outjo moet speel. As getroue katkisante weens sportverpligtinge dit net nie kan maak om op ‘n Sondag betyds en vars in die klas te wees nie. As ‘n enkelouer by jou kla oor die geweldige klomp geld wat dit kos om die kinders te laat deelneem... As daar naweek vir naweek ‘n dolle gejaag oor die Namibiese vlaktes en op gevaarlike taxi roetes plaasvind om kinders van noord en suid, oos en wes vir wedstryde aan te karwei... As die uiteenlopende sportbedrywighede oor naweke selfs verwydering binne in ‘n huisgesin bring, want een kind speel op hierdie dorp en ‘n ander een op ‘n ander plek... As daar weinig plek is vir geestelike en kulturele bedrywighede in die week, want sportoefeninge word nou al vir drie middae in die week gereël, dan begin jy vermoed dat dinge op sportgebied hand uit geruk het. Daar is byna nie meer iets soos ‘n rustige naweek wanneer ‘n gesin iets op hulle eie kan doen nie! Om ‘n kerkbasaar of gemeentefunksie te reël, waar ons kosbare kinders ook saam kan wees het haas onmoontlik geword. Dit word geskuif ter wille van skolesport na ‘n ander naweek om maar net weer uit te vind dat die ander naweek ook geokkupeer is.

Iewers is iets nie pluis nie, of is dit normaal en reg dat kinders met beserings gedruk word om maar deel te neem? Is dit reg dat die geestelike opvoeding van ons kinders altyd tweede viool moet speel? Is dit gewens dat ons kinders (en ouers) te moeg is om op Sondae in die erediens te wees?

Ek hoor iemand teenkap : “Sport was nog altyd vir ons Suidwesters baie belangrik, ook in die ou dae.” Ja, ek stem saam, maar dit word vandag baie meer oordryf. (en natuurlik was als wat in die “ou dae” gebeur het ook nie noodwendig altyd reg nie) Een rede vir die sportontploffing is natuurlik al die ekstra byeenkomste, want ons privaatskole moet ekstra fondse insamel. En mens het begrip daarvoor. En die onderwysers (wie se gesinslewe ook ontwrig word) se harde werk moet waardeer word. Maar is die prys in lewenskwaliteit en gesinstyd en Godstyd wat ingeboet word om by die sportkalender by te hou nie dalk net te hoog nie?

Is ek nou teen sport en veral skolesport? Baie beslis nie. Sport is baie belangrik vir ’n gesonde liggaam, en ons weet almal mos ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Laat ek dit kategories stel : ‘n Gebalanseerde sportprogram gerugsteun deur goeie morele beginsels is van groot waarde vir die vorming van kinders na liggaam en gees. Niemand betwyfel dit nie. Maar alles wat TE is (behalwe te voet, te perd en tevrede), is gevaarlik! En ons is nou reeds heeltemal TE ver binne die gevaarsone van oordrywing en verafgoding van sport...

Hierdie eensydige klem op sport laat my weer dink aan die hartseer verhaal van die seun wat in die beeskraal begrawe wou word... (so op my manier vertel) Dit het blykbaar iewers op ‘n plaas in Suid-Afrika gebeur. Pa was ‘n uitstekende Afrikanerbeesteler. Sy hele bestaan en lewensdoel het gedraai rondom die teel en versorging van sy spog rooi Afrikanerbeeste. Pa het vir sy seun als van beeste geleer, maar nagelaat om die evangelie aan hom oor te dra. Toe word seun siek en lê sterwend en sonder hoop vir die ewigheid in die opstal. Sy pa het hom nooit voorberei op hierdie laaste groot reis nie. Daar was vir niks anders tyd as Afrikanerbeeste nie... Nie tyd vir aandag, vir luister, vir liefde en vir die Woord nie. Die seun se laaste woorde het die tragedie van sy lewe en sterwe pynlik akkuraat opgesom: “Pa, begrawe my maar in die beeskraal!”

PASOP!

Pasop vir eensydigheid in ons kinders se opvoeding. Hulle weet als van rugby en netbal en hokkie, maar baie is totaal onkundig oor die Woord van God.

Pasop vir die onmenslike groot druk op kinders, diegene wat in sport presteer sowel as die ongelukkiges wat nie die span haal nie. 

Pasop vir ouers wat hulle eie (sport)ideale wil uitleef in hulle kinders, dikwels ten koste van hulle kinders.

Pasop as skole sport as ‘n advertensiemedium, werwingsaksie, geldinsamelingsprojek en beeldbou-poging gebruik op so ‘n manier dat dit lei tot benadeling van ander fasette van ons kinders se vorming.

Pasop as kinders se persoonlike gesondheid in gevaar gestel word, omdat hulle moet speel ten spyte van beserings of omdat te jong kinders in spanne ingedruk word en dus met groter en sterker kinders moet kompeteer.

Pasop dat oorvol sportprogramme in die week en naweek ons nie van kosbare gesinstyd en kerktyd beroof nie. Tyd wat nooit weer ingehaal kan word nie...

Pasop dat die manier van sportbeoefening en motivering nie lei tot ‘n onbybelse (kliek) SPOG EN GROOTPRAAT kultuur nie!

Pasop dat ons soveel energie en tyd aan sport bestee sodat ons die belangrikste in die lewe verwaarloos en ons kinders uiteindelik ‘n uitsiglose ewigheid moet binnegaan... Dat ons dalk eendag, by wyse van spreke moet hoor : “Begrawe my op die rugbyveld” of “Begrawe my onder die netbalbaan...”

Pasop dat sport nie die eintlike “god” in ons lewens word nie! Wie of wat aanbid ons regtig? Nie mooi woorde (spangebedjies) en vroom leuses nie, maar sigbare lojaliteit aan Jesus en Sy kerk sal uitsluitsel gee oor hierdie vraag...

Dis seker onrealisties om te verwag dat alle ouers die gevaar van eensydige Christuslose (of gebrekkige)  opvoeding moet kan insien, maar verbondsouers mag beslis nie in die lig van hulle doopbelofte toesien dat hulle kinders op die Molog altaar van oordrewe skolesport geoffer word nie!

Dit sal seker onmoontlik wees vir ouers en onderwysers wat self nooit hulle voete in enige kerk sit nie om ons angs oor verlore gemeentetyd te verstaan, maar vir die wat honger en dors na die Woord en die gemeenskap van die gelowiges het die sportoordrywing pynlike gevolge. Kinders van God alleenlik sal instemmend kan begryp wat Paulus aan Timoteus skryf : "Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms." (1 Timoteus 4:8)

Ons kan baie mooi verskonings en verduidelikings aanvoer om God, sy gemeente en ons huisgesinne af te skeep ter wille van sport, maar in die lig van Jesus se radikale liefdesoffer klink dit hol en leeg... Mag ons genade vind om volgens ons gewetens te handel in dankbaarheid oor hierdie groot liefde!



Lees ook : FOUT MET RUGBY?

Donderdag 21 Mei 2015

MET ‘N TOEGEWASEMDE “WINDSCREEN”

- kan jy nie volle vreugde ervaar nie! 



Ons weet dat Jesus baie mense genees het. Hy het ook baie blindes weer siende gemaak. Maar in hierdie genesingswonder in Markus 8:22-26 is daar iets snaaks, iets anders, iets opvallend. Gewoonlik as Jesus iemand genees het, was die betrokke persoon onmiddellik volkome herstel. Hierdie keer geskied dit in twee fases. Na die eerste aanraking kon die blinde man nie heeltemal sien nie (mense lyk vir hom soos bome); eers nadat Jesus die tweede keer sy hande op hom gelê het kon hy volkome sien. Hy moes verdere behandeling ondergaan! Dit bring mens by ‘n interessante vraag : hoe sou mens hierdie man na die eerste handoplegging beskryf? Was hy ’n blinde of ’n siende? Iets tussenin? Dis moeilik om te sê! Jy kan hom seker tog nie meer ‘n blinde noem nie, maar sy “sien” was ook nie veel werd nie! Hoekom sou Jesus hierdie man in twee fases genees? Al die ander genesings van Jesus was onmiddellik en volkome? Hoekom nie hier nie? Jesus se krag is mos nie skielik minder nie!



Die waarskynlikste rede is dat Jesus hier ’n geestelike boodskap aan sy dissipels (en ons) wou oordra. Hy sinspeel op die geestelike toestand van sy dissipels op hierdie stadium. (hierdie gebeurtenis vind plaas net na die vermeerdering van die brood) Vgl. 18 “Julle wat oë het, sien julle dan nie?” Die dissipels was geestelik in so ’n tussentoestand ; hulle het gesien , maar tog nie gesien nie. Hulle het wel iets van Jesus geweet, maar was nog so onkundig en verward. Nóg vis, nóg vlees! Hulle het nog nie duidelik verstaan wie Jesus is en wat Hy kom doen het nie. Hulle was wel positief oor Jesus, maar geestelike waarhede was vir hulle nog vaag en onduidelik!

Baie mense verkeer geestelik in ’n soortgelyke toestand van verwarring en vaagheid. Geestelik gesproke is dit asof hulle Jesus deur ’n toegewasemde “windscreen” sien. 

En dis nie lekker nie en beslis nie bevorderlik vir blydskap nie!  Dis moeilik om sulke mense se geestelike toestand te beskrywe. Dis moeilik om hulle te plaas. Soms tree hulle op en praat asof hulle Jesus ken, maar ander kere weer soos ongeredde mense. Soms is daar insig, soms klink hulle totaal onkundig oor verlossing Ook hulleself weet nie aldag mooi waar hulle inpas nie. Hier het ons ‘n groot rede waarom baie nie ware Christen blydskap (soos ons Vader dit bedoel het) beleef nie. Dis ‘n innerlik verskeurde toestand! Hulle het al te veel van die Here se werking beleef en kan nie meer gemaklik voel in die sonde en tussen wêreldlinge nie. Aan die anderkant voel hulle ook nie tuis tussen mense wat God voluit dien nie. Hulle kan dus nie meer die sonde voluit geniet nie, maar kan ook nie Christus voluit geniet en dien nie.

Moontlik het jy al een of ander wonderbaarlike aanraking van God in jou lewe ervaar... Jy is dalk genees van 'n ernstige siekte, die Here het jou bewaar in 'n ongeluk of uit een of ander nood gered. Moontlik het jy al by 'n kamp of reeks dienste onder 'n diepe indruk van jou sonde gekom... maar jy het nog nooit die saak vasgemaak met die Here nie. Jy stel nog uit oor die finale besluit om Hom alleen te vertrou en te dien...

Hoe lyk hierdie mense? Wat is hulle eienskappe? Hulle :

~ besef iets is fout (al weet hulle nie altyd wat nie). As jy eerlik met jouself is weet jy dinge is nie reg nie en dit frustreer jou.

~ sien die nietigheid en leegheid van die lewe sonder God raak, maar verlang tog ook na die sondige lewe. Besef die lewe gaan oor meer as geldmaak en plesier, maar het nog nie ware lewe in Jesus gevind nie. Hulle wil is ook verdeel, hunker op twee gedagtes. Kan nie koerskry in die lewe nie, weet nooit waar hulle inpas nie.

~ besef miskien dat Jesus die Verlosser is en dat net Hy kan red, maar is onduidelik in hulle verstaan van kernsake soos wedergeboorte of vryspraak.. Vaag oor Jesus, vaag oor hulleself.


Wat is die oorsake vir ’n toestand soos hierdie ?

~ Jy is dalk tevrede met vaaghede en algemeenhede. (Dalk lui om kennis te versamel) Jy doen nie moeite om vas te stel wat die Bybel met ’n begrip soos regverdiging (vryspraak) bedoel nie. Jy verstaan nie hoe werk Bybelse verlossing nie. Dalk weens gebrekkige lering in ‘n kerk waar Skrifuitleg maar skraps is. Miskien is jy net te besig... in die week is dit net werk en oor naweke jaag jy van een skolesportbyeenkoms tot die ander. Nooit is daar tyd om die saak met die Here uit te maak nie, en so gaan die lewe verby....

~ Daar is ‘n verkeerde volgorde in hulle geestelike lewe. Jy probeer om heilig te leef maar het nog nooit by Jesus self uitgekom nie. Jy probeer leef soos ’n Christen terwyl jy nog nie regtig een is nie. (Dis ’n hopelose stryd)

~ Daar is een of ander afgod en terrein in hulle lewe wat hulle nie onder Jesus wil stel nie. Hulle haak nou al vir jare vas by een ding.... iets soos ‘n buite egtelike verhouding wat jy nie wil verbreek nie!

~ Jy het nog nooit werklik ’n doelbewuste keuse gemaak om Jesus te volg nie. Jy het wel in ‘n Christelike huis grootgeword en Sondagskool toe gegaan, jy leef redelik ordentlik, lees Bybel en Solly Osrovech se dagboeke......maar nog nooit self Jesus as jou Here aanvaar nie.


Wat is die oplossing? (Voordat ons daarby kom) Waak teen twee gevare:

~ om voor te gee asof alles reg is. (As die halfblinde man sou sê ek sien goed, sou hy maar so moes aansukkel, halfblind) Hoogmoed keer dat ons by Jesus uitkom.

~ moedeloosheid, “Ag ek sal nooit sien nie!” (wees dankbaar vir die genadewerk wat God reeds in jou tot dusver gedoen het.) Weet dat Hy dit wil klaarmaak!

Oplossing:

1. Wees eerlik oor jou toestand. (Soos hierdie halfblinde moet jy erken : “Ek sien mense, iets soos bome.”)

2. Onderwerp jou aan verdere behandeling. Besluit : “Ek wil die waarheid ken!” Bestudeer die Woord. Woon eredienste by. Gryp God se beloftes vas. Rig jou hele hart daarop om Jesus te ken, soek Hom met alles wat jy het. (Jeremia 29:13) Stel jouself bloot aan die evangelie boodskap. Maak erns met Bybelse waarhede soos byv. Vryspraak deur geloof alleen.

3. Die belangrikste en finale oplossing : buig voor Jesus, vertrou kinderlik en volkome op Hom, rig jou oog op Hom, bewonder Hom en wat Hy aan die kruis gedoen het. Kom na Hom vir die behandeling! Vertrou Hom, vertrou sy volkome offer en moenie meer op godsdiens staatmaak nie. Jesus nooi jou! (Matteus 11:28, Johannes 6:37) Dis nou die regte tyd! (2 Korintiërs 6:2)  KOM NA HOM! 1 Petrus 2:4 Hy gee nie bloot die antwoord nie, HY IS DIE ANTWOORD EN OPLOSSING! HY HET DIE SKULD AAN DIE KRUIS UITGEDELG! VOLKOME!

[erkenning aan Dr. Martyn Lloyd-Jones, Spiritual Depression]