BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Beproewings. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Beproewings. Wys alle plasings

Saterdag 01 Desember 2018

BROER BONESCHANS WEIER OM TE BUIG VOOR BYGELOOF!


Dink jou in. Twee jonger boeties met die naam van Jan Hendrik is reeds vroeg dood. ‘n Derde seuntjie word word vir die gesin gebore. Gaan ons dit waag om hom ook Jan Hendrik te noem? Wat ‘n moeilike besluit vir ‘n pa om te neem... 



Luister bietjie fyn rondom jou na party Christene se gesprekke… Bangmaakstories oor geheime organisasies, bloedlynvloeke, bose magte… Vol vreesagtige bygeloof! Dit klink soms of ons terug is in die Middeleeue. Ek sou kon dink ek bevind myself tussen ‘n onbereikte heidenstam wat vasgevang is in vrees elke keer as iemand hoes of hoofpyn kry. “Watter mag is dit nou weer, wie het my getoor of vervloek…? Pasop die duiwel wil jou kind doodmaak of steel! Die noodlot is teen ons! ” 


Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die bestaan van bose magte is ‘n werklikheid. Oor die gevare van betrokkenheid by enige vorm van okkulte (soos SPIRITISME) het ek myself al duidelik uitgespreek... 

Maar iewers is ‘n vermaning tot nugterheid nodig! Die vreesagtige beheptheid van sommige met geeste en generasievloeke is ‘n verloëning van die oorwinning van Jesus! Die populêre raad wat uit sekere Christenkringe kom is ‘n verdraaiing van die verlossingsboodskap! Trouens dit het meer met heidense gnostiek as Christusevangelie te make. Huise wat gesalf word, die bloed wat oor ‘n kar gepleit word. Botteltjies spesiaal geseënde olyfolie wat aan liggelowiges verkwansel word. Geestelike oorlogsvoeringstegnieke! Mense wat tot satwordens toe aan bevrydingsessies onderwerp word… 

Die feit is Jesus se kruisdood was baie meer as net ‘n betaling van ons sondeskuld. Sy dood was ‘n triomfantelike oorwinning oor alle bose magte! (Kliek TRIOMF) 

Christene het nodig om die kruisboodskap te verstaan en te glo. En daarmee saam die waarheid van God se soewereine bestuur en almag. Dis dié boodskap wat ons bevry van vrees en bygeloof! 


[Hilze en De Wet Strauss - NGK Academia]

Ek het onlangs ‘n pragtige getuienis gehoor by Hilze Strauss oor haar oupagrootjie, ds. JH Boneschans. Dit was vir my ‘n aangrypende voorbeeld van hoe eenvoudige gelowiges geweier het om toe te gee aan die vrees vir bygeloof! Positief, ‘n geloofskeuse is gemaak om te glo in die soewereine God, die enigste beskikker oor lewe en dood! Ek deel dus graag iets van ds. Boneschans se verhaal met jou. 

RUS DAAR DALK ‘N VLOEK OP ‘N NAAM? 

Kom ons laat Ds. Boneschans dit vertel in sy eie woorde : 

“Op 29 Mei 1889 het ek uit die hand van die Here die eerste lewenslig ontvang. Die plek van my geboorte lê in die provinsie Groningen (Nederland) op die Duitse grens. Dit is Oostwold, ‘n gesellige woondorpie aan die Dollard. Ek is die vyfde kind uit ‘n getal van agt, waarvan 4 dogters is en 4 seuns. Van die seuns is ek die derde Jan Hendrik aangesien dit God behaag het om die twee wat voor my was, elkeen met dieselfde naam, deur die dood weg te neem. Voor die geboorte van die tweede seun (Jan Hendrik) was die eerste reeds oorlede en toe dit my ouers behaag het om ook die tweede Jan Hendrik te noem, het ‘n tante van my vader daarteen gewaarsku. Sy was bevrees dat die Here ook die tweede om dié rede kon wegneem. My vader het dit egter beskou as ‘n vorm van bygeloof. Nietemin was dit tog die Here se wil om dié seuntjie ook weg te neem. By my geboorte was dit nou die vraag: ‘Sal ons hom ook weer Jan Hendrik noem? Dit wil mos voorkom dat tante gelyk gehad het.’ [Ek hoor al die Charismate se verklaring van ‘n bloedlynvloek wat aan hierdie naam gekoppel sou wees… - JdK] Tog word besluit om die derde seuntjie ook weer Jan Hendrik te noem - so nie, sou my ouers dan tog uiteindelik aan die tante gelyk gegee het en die opmerking van ‘n vorm van bygeloof op hulself van toepassing gemaak het. My lewensgeskiedenis sou bewys lewer dat my ouers to reg was.” 

Watter diep insig het hierdie gelowiges gehad! Om toe te gee aan ‘n vrees oor ‘n naam sou bygeloof wees. En bygeloof is niks anders as ongeloof nie! Dis ‘n verloëning van God se soewereine almag en beskikking, ‘n onderskatting van die kruisoorwinning van Jesus! Dis immers Jesus self wat die laaste sê oor die dood het. 

"Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” (Openbaring 1:17,18) 

Die derde Jan Hendrik het oorleef, maar daar was wel ander droefheid waardeur die gesin moes gaan. Laat ons dit tog maar weer besef, geloof bewaar ons nie van beproewings nie! 

“Ook herinner ek my nog baie goed die dood en begrafnis van ons jongste sussie toe ek amper vyf jaar oud was – Des 1893. Dit was in die bittere koue van die Europese winter en pas na haar geboorte is die sussie oorlede. Sag het my pappie ons in die kamer gebring waar sy reeds in haar kissie gelê het, om vir die eerste maal na ons nuwe sussie te kyk. Kort daarna het my vader en ‘n vriend van hom wat die kissie gemaak het, die deksel van die kissie opgeskroef en haar alleen in die kerkhof gaan begrawe.” 

IN DIE YSWATER 

En wat het toe verder met Jan Hendrik gebeur? Die soewereine God se bewarende hand was oor hierdie seuntjie, maar als was nie altyd so eenvoudig nie! 

“‘n Ander insident wat vermeld moet word, is die reddende en genadige hand van die Here gedurende my sesde lewensjaar. Regoor ons huis het die weelderige pastorie van die Nederlands Hervormde Kerk gestaan. Tussen in was daar egter eers ‘n groot stuk veld, dan ‘n grag waaroor ‘n lieflike brug na die pastorie was, en dan net vlakvoor die gronde van die pastorie was daar die kerkrylaan wat met klippe uitgelê was en tot by die kerk gelei het. 

Dit was gedurende die winter en die grag wat in die “koediep” - ‘n groot stuk water waarop groot voertuie vaar - gelei het, was (net soos die ander gragte) vol dik stukke aaneengeslote ys. Oud en jonk het nou vrolik op die ys in die grag geskaats. Daar moes egter opgepas word om nie te na aan die wal teenaan die brug te beweeg nie want daar was die ys baie dun en het die gevaar bestaan dat mens deur die ys kon sak en verdrink. 

My oudste sustertjie wat toe elf jaar was, het besluit om ook te gaan skaats. Aangesien sy baie goed kon skaats wou ek en my ander sussie gaan kyk. Ons is toegelaat mits my oudste sussie na ons sou kyk. Ek en my jonger sussie is toe ook met ons klompies op die ys om maar daar rond te gly en val. Wat ‘n heerlikheid! 

Sonder om te weet hoe gevaarlik dit langs die brug by die walle van die grag is, beweeg ek stadig na die brug toe. Versigtig trap ek op die ys om nie te gly nie – maar o wee! – die ys breek en ek sak deur die yskoue water! Dinge het te vinnig gebeur om nog om hulp te skreeu en hulpeloos het ek net my handjies na bo gegooi voor ek onder die water verdwyn het. Raak ek onder die yskors – en dit sonder dat iemand my sien – het ek geweet sou dit klaarpraat wees met ook die derde Jan Hendrik! Gelukkig het ‘n man my gesien en my koue verkluimde liggaampie weer uit die water gehaal. Ek kan alleen die Here dank dat iemand my op dié kritieke moment, tog raakgesien het!” 

NA SUID-AFRIKA! 

Jan Hendrik se pa is deur president Paul Kruger as onderwyser gewerf en die gesin het na die Boere republiek, die ZAR verhuis. Hulle het verneem dat die land ‘n warm plek was en het dus nie genoeg warm klere saamgeneem nie. Jan Hendrik het ernstig siek geword! Was hier nou tog maar weer ‘n tragedie in wording? 

“Kort na ons aankoms het ek ernstig siek geword met dubbele longontsteking. My vader het die dokter, dr Lingpeeck, ingeroep. Hy was van mening dat ek geen kans op oorlewing het nie maar as ek twee tot drie dae tog kon oorleef, sou daar hoop wees. 

My vader het my tussen hom en my moeder in die bed geplaas vir natuurlike warmte. Die nag het my vader, uit jammerte, die puntjies van my ore aangeraak om te voel of dit nog warm was. Hy het teruggedink aan my tante wat voorspel het dat my vader God uittart deur my weer Jan Hendrik te noem. Hy bid toe in geloofsvertroue dat God my moet spaar en, as dit moontlik is, ek dan in die bediening sal staan. My vader het my dit nooit vertel nie maar sy gelofte stil gehou - selfs teenoor my moeder. Van kleins af het egter kerk-kerk gespeel en vir my sussies se poppe gepreek.” 

PREDIKANT 

God het die vader se gebed verhoor. Hy is nie beskaam in sy geloofsvertroue nie. ‘n Beurstoekenning het dit vir Jan Hendrik moontlik gemaak om na die ontwrigting van die Boere-Oorlog verder skool te gaan en daaropvolgend op die besondere jong ouderdom van 16 jaar vir predikant in die Gereformeerde Kerk te studeer! Die genadige almag van God het getriomfeer oor die leuens en vreespraatjies van die Bose! 

[Die jong Jan Hendrik as teologiese student. Tweede ry, heel links.]

Ons hoef nie vloeke en bygeloof te vrees nie, ons moet maar net deur Jesus ons Verlosser op die soewereine God vertrou!



Donderdag 05 Januarie 2017

AANVEGTINGE : AAMBEIE TOT WELLUS

en die nut daarvan om God se Woord regtig te verstaan.


Ons dink hierdie jaar aan die geestelike reus Martin Luther se rol in die Protestantse Reformasie. 

Laat ons een ding sommer van die begin af duidelik weet : Luther se lewe was nie net vol geestelike oorwinnings en heilige suksesse nie. Hy self was baie eerlik oor sy lyding, mislukkings en stryd, maar ook oor die positiewe gevolge daarvan in die lewe van die gelowige.

Luther het daarop gewys dat die skrywer van Psalm 119 nie net oor die Woord gebid en gemediteer het om dit te verstaan nie, maar dat persoonlike lyding ook ‘n groot rol gespeel het. “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.” (vers 67) “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” (vers 71)

Volgens Luther bestaan die regte metode om teologie te studeer drie reëls wat in Psalm 119 voorkom naamlik : oratio, meditatio, tentatio (gebed, bepeinsing, versoeking/beproewing) Die pragtig beskrywende woord wat hy vir sulke beproewings of toetsings gebruik het is aanvegtinge. Aanvegtinge leer jou nie net ken en verstaan nie, maar ook te ervaar hoe reg, hoe waar, hoe soet, hoe lieflik, hoe magtig en hoe vertroostend God se Woord is, die absolute hoogste wysheid.

Hierdie uitsprake van Luther was nie blote studeerkamer teorie nie. Die harde werklikheid van sy lewe was gekenmerk deur allerlei vorme van lyding en swaarkry.

Sy lewe was konstant in gevaar. (Juis daarom het sy weldoener Keurvors Frederik hom vir sy eie veiligheid na die Wartburg kasteel laat ontvoer.) Keiser Karel V het alles in die stryd gewerp teen Luther. Hy het immers verklaar : “Ek het besluit om alles teen Luther te mobiliseer. My koninkryke en domeine, my vriende, my liggaam, my bloed en my siel.” Die aanslag is op ‘n wye fronte teen hom gevoer, veral deur die ergste beswadderinge en swartsmeer van sy naam. Hy is uitgekryt as ‘n duiwelbesetene en sy ma as ‘n hoer. (Terloops, is dit nie ook van die lastering wat teen Jesus self ingespan is nie?)

Luther se aanvegtinge en beproewings het nie net van buite gekom nie. Hy het met allerlei liggaamlike kwale te kampe gehad. Pynlike nierstene, hoofpyne, oorinfeksie en hardlywigheid. Die ergste aanvegtinge was egter op geestelike en emosionele vlak. So skryf hy op 2 Augustus 1527 aan sy bondgenoot en vriend Melanchton : “Vir meer as ‘n week is ek heen en weer gewerp in dood en hel, my hele liggaam voel voos, my ledemate bewe nog steeds. Ek het Christus byna heeltemal verloor, gedrewe op die golwe en storms van wanhoop en laster teen God. Maar as gevolg van die voorbidding van die gelowiges was God my genadig en het Hy my siel uitgeruk uit die dieptes van die hel." 

Uiterlik het Luther vir baie mense sekerlik na die onaantasbare geestelike reus en gelowige held gelyk. Maar mense soos Melanchton wat naby aan hom geleef het, het ook sy swakheid, worsteling en versoekings geken. Op 13 Julie 1521 skryf hy soos volg weer aan Melanchton : 

“Ek sit hier in gemak, verhard en sonder gevoel – ag tog! Bid min, treur min vir die kerk van God, brandend eerder in die erge vure van my ongetemde vlees. Dit kom hierop neer : ek behoort aan die brand te wees in die gees, maar in werklikheid is ek aan die brand in die vlees, met wellus, luiheid, ledigheid, slaaploosheid. Miskien is dit omdat julle ophou bid het vir my, dat God weggedraai het van my...Vir die laaste agt dae het ek niks geskryf nie, nie gebid of gestudeer nie, deels weens my eie soeke van genot, deels weens nog ‘n tergende hindernis [hardlywigheid en aambeie]... Ek kan dit regtig nie meer langer uithou nie... Bid vir my, ek smeek jou, want in my afsondering hier word ek oorweldig deur my sonde.”

Onthou net hierdie brief kom uit die tyd toe Luther besig was met die reuse werk om die Nuwe Testament in Duits te vertaal. Mens kan nie anders as om getref te word deur Luther se pynlike eerlikheid oor sy innerlike stryd nie! (Natuurlik is daar kwaadwillige vyande van Luther wat vandag nog hierdie bekentenisse probeer gebruik om hom in diskrediet te bring.)

Wat leer ons as gelowiges hieruit? Versoekings, beproewinge, aanvegtinge, stryd en worsteling is deel van die proses wat God in ons lewens gebruik om Sy Woord beter te verstaan en beter toe te pas. Dis nie bloot net lastige hindernisse op ons pad nie, maar instrumente in God se vormingsproses met ons. Opsigself is hierdie dinge natuurlik nie lekker nie, maar dit het ‘n heerlike uiteinde en doelwit. “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God." (Hebr 12:11)

Vir 'n meer volledige skets oor Luther se merkwaardige en avontuurlike loopbaan, kliek op LUTHER 500.

(Erkenning aan die uitstekende biografiese skets van John Piper oor Luther. Kliek op LESSONS)

Donderdag 07 Maart 2013

KOU JY GRUISKLIP?

- maak kopskoon saam met Klaagliedere en kry weer hoop. 



[Maak gerus jou Bybel self oop by Klaagliedere 3] 


Daar kom tye ook in die lewe van ’n gelowige dat dit werklik ellendig gaan…Alles loop skeef, alle hoop vervaag... die ergste is dat ek beleef dat die Here se hand teen my is. Hierdie skrywer was in so ’n posisie:  “Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan”. (Klaagliedere 3:1) Hy het lyding in die uiterste vorm ervaar. Hierdie swaarkry was so erg dat dit geblyk het dat bid nie eers meer help nie! “Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor.” (3:8) Daar was net geen uitkomkans nie. Het jy al só vasgekeer gevoel in ellende met geen uitsig op verlossing nie? “Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie.” (3:9) Dit voel vir jou of jy klippe kou en jou tande besig is om een vir een te breek. Kyk net hoe treffend beskryf die digter dit : “Hy het my gruisklip laat kou” (3:16) Vriend, ek weet nie watter ellende of teistering jy tans beleef nie, maar hier het ons iemand met wie dit rowwer as rof gegaan het, so ons kan gerus luister wat hy te sê het. 

Een ding kan jy ten minste sommer hier reg aan die begin weet, jy is nie die eerste of enigste wat deur bitter beproewing benou word nie. 

Nou as mens in ellende verkeer, as mens benoud is, dan kom daar allerhande gedagtes of herinneringe by jou op. Die terugdink aan foute, sonde, verlore kanse, dinge wat nooit weer reggemaak of gewens kan word nie.... Slegte herinneringe is soos ’n ruwe houtknuppel vol splinters wat jou gewonde gewete verder stukkend slaan en laat bloei. Grimmige gedagtes oor my gruwels van gister is soos swaar gewigte wat my aftrek in die donker diepsee van uiterste wanhoop. Hoe meer ek dink, hoe meer ondraaglik raak my situasie. “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.”(Vers 18-20) Klink dit bekend? 

DIE DRAAIPUNT

Gelukkig het die digter nie op hierdie punt ophou dink nie. Hy het verder gedink en dit het ’n wending, ’n verandering gebring. VERS 21! Hier kom ‘n heerlike draaipunt! “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:” (vergelyk ASV “This I recall to my mind; therefore have I hope.”) Nadenke en herinnering kan ’n stok wees waarmee die reus Wanhoop mens stukkend slaan, maar die bepeinsing van Bybelse beloftes en waarhede is juis ’n vuurhoutjie waarmee ek weer die lamp van hoop aan die brand kan steek. ’n Lig wat al die duisternis van wanhoop en moedeloosheid kan verdryf. 

Watter gedagtes, eerder watter selfherinnering aan Goddelike waarhede het die vlam van hoop weer vir hierdie man in sy ellende aangesteek? (Waaraan moet ons onsself herinner om weer hoop te kry?) Kom kyk saam in Klaagliedere: 

1. Sien raak dat jy deur God se genade nog nie vergaan het nie. “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;” (22) Hoe erg jou situasie nie, jy is nie op hierdie oomblik in die hel nie. Dis net mense in die hel wat geen hoop ooit kan hê nie! Kom ons gestel jy is in ’n diep onderaardse kerker opgesluit en die sleutel is weggegooi... Dis klam, donker eensaam, groen mos groei al op jou lyf. Dis inderdaad erg, maar dis ‘n toestand nog oneindig beter as iemand wat hom vandag in die ewige verdoemenis bevind… Vir jou wat hier lees is daar hoop. Vir jou staan die deur nog oop, want God se Woord kom na jou en jy kan dit hoor, glo en lewe… 

2. Maak oop jou oë vir God se getrouheid in jou lewe ten spyte van jou baie moeilike omstandighede, wankelende geloof of ergere depressie*. “Tel jou seëninge” bly na al die jare steeds goeie raad vir elkeen van ons. (as jy sukkel, vat ‘n stuk papier en skryf dit neer, jy kan dalk verbaas wees hoe lank die lys raak) God het nie verander nie, Sy getrouheid is ‘n gegewe. “God bly getrou, by Hom is daar onbeperkte ontferming daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” (22/23) Miskien het jy baie geld verloor....maar jy het darem nog geëet vanoggend - dank God vir daardie ontferming. Dalk verkeer jy in ’n ernstige gesondheidskrisis... jy kan darem hier lees of jy kan nog God se Woord hoor - dank God vir hierdie ontferming. Miskien beleef jy ‘n familiekrisis...jy het darem nog ’n familie - dank God vir hulle, (ook die wat jou kwaadmaak, ja!) Moontlik bevind jy jouself in ‘n put van verworpenheid of vasgevang in ‘n net van skuldgevoelens. Sien raak, dat Hy Sy genadewoord nou na jou toe stuur en dank hom reeds daarvoor! Onthou ons verdien niks goeds nie, trouens ons almal verdien die hel en tog is God so goed. 

3. Besef : God is nog steeds my God! “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom." (24) Miskien het jy wel alles op aarde verloor...dalk sonder enige familie, sonder enige besittings, sonder enige vooruitsigte vir beterskap of beter omstandighede, maar kind van God jy het nie jou Here verloor nie. Hy is mos meer as alles en almal. My familie kan almal teen my draai, maar as die almagtige God my persoonlike Vader is, bied dit nie vir my troos nie? Ek kan al my besittings verloor, maar as ek weet daar wag ’n erfenis in die hemel vir my wag, sal dit nie die verlies baie versag nie? Het jy al besef dat God alles is? Die skrywer van Psalm 73 is ook diep getref deur ellende, hy was ook onsteld dat dit so goed gaan met die goddelose en met hom wat regverdige is gaan dit sleg. Maar dan maak hy ’n heerlike ontdekking in vers 25 : “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (OAV) “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie.” (NAV) Het jy al dit besef? Ja, jy het dalk in verterende twyfel geval, daar is baie vrae wat jou siel vaswoel, maar diep onder al die as van selfverwyte of skeptisisme, leef daar nog ‘n kooltjie van verlange na God. Anders sou jy nie nou hier gelees het nie. Diep binnekant weet jy God is jou enigste hoop! 

4. Daar bestaan nog steeds iets soos gebed en God se Woord. "Die Here is goed vir die vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra: dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here" (25,26) Hierdie man in ellende herinner homself aan ’n vaste uitkoms. Gebed en vertroue op God. Ja, ten spyte van sy negatiewe belewenis oor gebed (vers 8) dring die besef maar weer tot hom deur: Daar is nog steeds iets so gebed, daar is nog steeds God se beloftes! Wanneer alle mense en middele my teleurgestel het, kan ek in my angs en nood nog steeds na my Vader roep. Herinner Hom aan sy beloftes! Ja, daar kom tye dat dit voel of ons gebede nie help nie, asof God sy ore sluit. Dan moet ons weer sy beloftes oor gebed opnuut glo.” Roep my aan in die dag van benoudheid....., bid en vir julle sal gegee word…” Die troon van God is ’n genade troon en deur gebed in Jesus se naam kry ons toegang tot daardie troon. Miskien voel dit vir jou asof jy vasgekeer is deur omstandighede, asof daar ’n blokkade rondom jou opgerig is wat alle hulp verhoed. Weet : As Jesus jou hoëpriester is kan jy bid, met vrymoedigheid... Hebreërs 4:12-16  En wag geduldig vir die regte tyd waarop Hy jou gaan help!

5. Dink daaroor en besef dat God ‘n plan met jou lewe het. Ook hierdie ellende wat ek nou beleef is nie maar net ‘n wrede toevalligheid nie. Dis God wat dit oor my pad laat kom het…Daar is sin en rede in alles, al is dit vir my menslike logika ontoeganklik. “dit is goed vir ‘n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig—miskien is daar hoop— laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.”(27-30) Laat ons ons onderwerp aan God se tugtiging. Hy het ‘n heerlike doel daarmee. Hebreërs 12:10,11 sê dat God se doel daarmee is om ons in sy heiligheid te laat deel. Hierdie swaarkry (en dis uiters pynlik en voel beslis soos iets om oor te huil) is dus deel van God se goedheid oor jou! Regtig? Ja! Psalm 119:71 maak hierdie onbegryplik heerlike stelling : “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek U voorskrifte geleer. En kyk wat sê vers 75 “Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is ‘n teken van u trou.” Spurgeon* sê dit so mooi :”Baie van God se beloftes is in onsigbare ink geskryf, wat jy nie kan lees voordat die vuur van beproewing nie die letters sigbaar maak nie. (Soos daardie geheime briefies wat mens met uiesap skryf) 

6. Hierdie swaarkry, hoe erg ook al is net tydelik. Kind van God, jou siekte, hartseer, depressie…gaan nie vir ewig duur nie. As jy in die diepste ellende verkeer, onthou hierdie tyd van ellende gaan nie vir altyd aanhou nie, daar is uitkoms! “Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.”(31-33) 

As God ellende oor ons lewe toelaat is dit eintlik teësinnig. Soos ‘n pa wat sy kinders met ‘n seer hart pak gee en self elke hou voel. God is nie ‘n sadis nie. Sy werklike begeerte vir ons is vreugde. Nou reeds in hierdie stukkende wêreld, maar in die volmaakte sin eendag. Hierdie volmaakte vreugde gaan finaal aanbreek by die wederkoms en vir altyd aanhou. Ons ellende hoe erg ook al, is kort. In vergelyking met die ewigheid sommer baie kort en onbenullig. Ja, selfs iemand wat ’n sieke moet oppas, wat swaarkry onder ‘n wrede man, wat spot moet verduur van goddelose kinders, wat dag vir dag met pyn moet leef… kan dit weet... dis kort, laat ek moed skep, dis kort! 

Die swaarkry wat jy nou ervaar beteken nie dat God se liefde vir jou opgehou het nie. 

Die  bittere swaar waardeur Jesus aan die kruis moes gaan, het nie die einde van sy Vader se liefde vir Hom beteken nie. Die lyding, ellende en verwerping waaronder God se kinders gebuk gaan, mag ons nooit die afleiding laat maak dat Hy nie meer vir ons lief is nie. Glo dit, die Woord sê so, ja die duiwel sê anders, maar luister eerder na die Woord as na die Satan! 

UITERSTE ELLENDE; STEEDS HOOP!

Miskien is jou ellende so groot, jy sê : “Ek weet nie of hierdie mooi beloftes op my van toepassing is nie, want ek weet nie meer of ek hoegenaamd ’n kind van God is nie. Ek weet en glo hierdie beloftes geld vir God se kinders, maar ek weet nie meer of ek onder sy kinders tel nie.” 

As jy so sê wil ek jou verseker daar is nog steeds hoop. Daar is ’n vaste waarheid in God se Woord wat ook vir jou kan hoop bring. 1 Timoteus 1:15 lees : “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” As jy nie op hierdie oomblik na die Here Jesus kan kom as ’n kind van God nie, kom as ’n sondaar. Hy bring hoop vir sondaars, hoor dit : “sondaars”! Regte werklike, aaklige sondaars is welkom by Jesus! 

 “if you cannot come as a saint come as a sinner”

Spurgeon** vertel die volgende verhaal : ‘n Koning het ‘n maaltyd aangebied vir al bedelaars van ‘n stad. Daar was egter in die stad ook ‘n edelman wat sy geliefde koning graag wou sien, maar weens die koning se program was ‘n afspraak nie moontlik nie. Die edelman maak toe ‘n blink plan. Hy kry ou klere in die hande en gaan in sy vodde saam met die bedelaars na die maaltyd, solank hy maar net die koning kon sien! Kom na Jesus, werp jou in sy arms kom op die manier waarop duisende sondaars, moordenaars, prostitute, twyfelaars, moedverloorders… al gekom het... Hy wys niemand weg nie… 

*Lees verder oor depressie by PROFEET ONDER DIE BOS
**Ek gee graag erkenning aan CH Spurgeon vir sy preek in “Finding Place in Life’s Storms”, getitel “The Gift of Memory” 


Vrydag 20 April 2012

UITGEKIES VIR SUKSES


- die heerlike waarborg van Romeine 8:28-30.

Is ek  suksesvol?  Dis tog mos maar almal se begeerte om ‘n sukses van die lewe te maak! Daar is baie druk (ook op ons kinders) om sukses te behaal! Daar is baie resepte en kursusse wat sukses belowe, maar wat is sukses? Hieroor is daar verskillende opinies, maar eintlik is die saak baie eenvoudig. Die sukses van enigiets word tog gemeet aan die doel van daardie ding. Dit kan dus radikaal verskil van een ding tot ‘n ander ding. Kom ek verduidelik : ‘n Suksesvolle resiesperd is ‘n perd wat vinnig kan hardloop. Maar ‘n suksesvolle slagos is tog nie ‘n vinnige slagos nie, maar eerder ‘n vet slagos! 

Om te weet wat ‘n suksesvolle mens is (en dit te kan meet), moet ons dus eers probeer verstaan wat die doel van die mens is! Hieroor is die Skrif baie duidelik as ons  reeds in Genesis 1:27  lees : “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep....” Ons bestaan ter wille van God, om Hom te eer en aan die wêreld te wys hoe groot en heerlik Hy is! Ons bestaan maak net sin as ons in ‘n verhouding met Hom  staan waar ons Hom kan aanbid en bewonder. Een belydenisskrif stel dit so : “Man’s chief end is to glorify God and enjoy Him forever!” *

‘n Suksesvolle mens is iemand wat God verheerlik en sy teenwoordigheid geniet.

Hoe lyk so ‘n mens in praktyk? Hoe lyk ‘n mens  wat volmaak suksesvol is, met ander woorde wat aan die Goddelike doel beantwoord? Daar het net een so ‘n perfek suksesvolle  mens op aarde geleef, naamlik Jesus Christus! Hy het sy Vader volmaak gehoorsaam en geëer! Hy het suiwer net die wil van God gedoen. Net van Hom kon God sê : “ Dis my Geliefde Seun in wie ek ‘n welbehae het.”  Net Jesus  kon aan die einde van sy lewe uitroep: “Dis volbring!” Net Jesus, die Tweede Adam het anders as die eerste Adam volmaak in die doel van menswees geslaag!

Maar weet jy wat, God wil hê dat jy ook ‘n sukses moet wees! Ja, jy het reg gehoor! Maar suksesvol soos die Bybel dit definieer : om God te eer en sy teenwoordigheid te geniet! Anders gesê, God het een groot doelwit vir elkeen van sy kinders en dit is om ons te verander dat ons soos Jesus kan word! Om gelykvormig te word aan die beeld van sy Seun! (Rom 8:29) Om soos Jesus te begin leef in ons besondere omstandighede met die gawes en talente soos Hy besluit het elkeen van ons sou ontvang. (As jy Koos is, wil God jou dus 'n Jesusgelykvormige Koos maak en nie 'n Jesusgelykvormige Sarel of Johan nie!)

Indien jy Sy kind is, begeer God sukses vir jou. Hy het jou in genade uitgekies om suksesvol te wees! Maar pasop nou, dis nie noodwendig rykdom, gesondheid of gerief nie - dis wel baie beslis dat jy soos Jesus  sal begin leef!

Eers as mens hierdie doelwit van God verstaan, maak die bekende vers 28 sin. "En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is."  Die “ten goede” verwys na die doelwit van God om ons te verander om soos Jesus te wees. (om dus in die ware sin, suksesvol te wees) God gebruik dus  alles wat in sy kinders se lewe gebeur om hierdie doelwit te bereik! Ook die hartseer en slegte dinge! 

Julle ken die storietjie van die man wat met bewondering na ‘n beeldhouer gestap het wat besig was om ‘n perd uit ‘n stuk marmer te skep. “Hoe kry jy dit reg om uit hierdie soliede blok marmer ‘n grasieuse perd te vorm?”, vra hy. “Dis maklik”, antwoord die beeldhouer, “ek kap net alles af wat nie perd is nie!”  Dis soos God met ons ook werk. Hy gebruik natuurlik eerstens sy Woord, maar ook allerlei omstandighede soos mislukkings, hartsere, teleurstellings en beproewings om alles van ons af te kap wat nie Jesus is nie! En weet maar...dis ‘n lewenslange kapproses!

Kind van God, jy wat Jesus as Verlosser ken, weet beslis, God gaan ‘n sukses van jou maak! En onthou dit behels : Hy gaan jou Jesusgelykvormig maak! Hy is besig daarmee en Hy sal die proses voltooi. Die waarborg hiervan kry ons duidelik uitgespel in vers 30. (lees dit beslis) Dis een van die heerlikste en omvattendste stellings in die ganse Skrif! Dit beskryf die heerlike verlossingswerk van God in ons lewens. Dit beklemtoon dat als wat ons het en is, te danke is aan God se soewereine genade wat Hy uitdeel soos Hy wil!

Die klem val hier op wat God doen. Ons verlossing het begin by by God se ewige besluit en verkiesing, daarna roep Hy ons deur sy Woord en Gees, dit behels ook ons vryspraak (as God my van my sondeskuld vryspreek as ek my vertroue op Jesus stel) maar dis ook God wat my verlossing  finaal sal voltooi! Die finale stap is verheerliking. Dit vind eers volledig plaas by die wederkoms van Jesus, maar dis so ‘n seker saak, dat Paulus dit hier in die verlede tyd skryf! “het Hy ook verheerlik.” Ons kan dus eers volmaak suksesvol wees die dag van ons finale verlossing by die wederkoms, want eers dan sal ons volmaak soos Jesus wees!

Maar wat van nou? Is ek suksesvol? Ons kan dit meet in die mate waarin ons reeds al begin verander het om soos Jesus te word. Tree ek op soos Jesus? Maak ek soos Hy sou gemaak het? In ons private sowel as ons openbare lewens?  Hoe meer ek soos Jesus word, hoe meer suksesvol is ek in God se oë! (Ongeag wat mense mag dink) 

As ons verstaan wat God met sukses bedoel dan kyk ons heel anders na die lewe, na onsself en na ander mense. 

‘n Kwadrupleeg vasgekluister aan ‘n rystoel is dalk ‘n reuse sukses (as hy optree soos Jesus en God dank binne in sy moeilike omstandighede), terwyl ‘n blakend gesonde sportman wat by die Olimpiese spele uitblink, ‘n liederlike mislukking sou kon wees as hy nie God  eer nie! So het arm of ryk ook  niks met Godgegewe sukses te maak nie. ‘n Arm man is ‘n sukses as hy in sy omstandighede soos Jesus optree,  maar net so, ‘n baie ryk man kan ook ‘n sukses wees, as hy met alles wat God aan hom gegee het, optree soos Jesus en God eer en geniet!

Voel jy die druk om “suksesvol” in die oë van ander mense te wees? Verstaan wat die Woord ons oor sukses leer. Dis so bevrydend om Bybels oor  sukses te dink. Dit bevry ons van die druk om soos ander mense te probeer wees. Dit bevry ons van ‘n minderwaardigheidsgevoel as ons nie als  het wat andere het nie. Ek hoef nie noodwendig in SO ‘n huis  te bly of in SO ‘n kar te ry om suksesvol te wees nie. Nee, ek kan maar net daagliks my aan God se behandeling onderwerp om my al meer te verander na die beeld van Jesus.  God is getrou, Hy sal dit doen! Jou ware sukses lê Hom na aan die hart!

* Shorter Catechism van die Westminster Confession