BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Verbondsark. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Verbondsark. Wys alle plasings

Vrydag 01 Desember 2023

Maria die Begenadigde

 - Is sy die ark van die Nuwe Verbond?

Ons lees in Lukas 1 hoe die Engel het aan Maria 'n verbysterende buitengewone wonderbaarlike boodskap oordra...  Dit kom daarop neer... "Ja al het jy nie ‘n man nie, sal jy moeder word van die Seun van die Allerhoogste." Dink bietjie... Sy ‘n gewone tienermeisie. Dis asemrowende  genade! Dis ook die ontsagwekkende ALMAG van God in aksie. 

Die engel het ook die feit van Elisabet se swangerskap genoem as  voorbeeld dat niks vir God onmoontlik is nie. (Dis natuurlik nie die eerste keer dat 'n kinderlose vrou, wonderbaarlik moeder word nie. Dink maar aan Hanna die moeder van Samuel. Later blyk dit dat Lukas doelbewus die aandag wil vestig op die Samuelgeskiedenis...) 

BESOEK AAN ELISABET

Maria gaan besoek nou Elisabet en daar gebeur weereens onbeskryflike heerlike dinge.   Die ongebore Johannes, spring op van vreugde in Elisabet se baarmoeder. Elisabet word vervul met die Heilige Gees. Dan maak sy met die krag en insig van die Heilige Gees ‘n merkwaardige uitspraak – Maria is uniek geseënd onder vroue ( absoluut uitsonderlik spesiaal) “Geseend is die vrug van jou moederskoot.” Dit sou nog normaal kon klink, maar dan kom die klimaks in vers 43 – “die moeder van my Here,” maw die moeder van Jesus die Here, onthou - Jesus wat waarlik God is m.a.w. die moeder van God! Dis ontsagwekkend! Opvallend ook is die manier waarop Elisabet se woorde gestel word in vers 43    “Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?” Wie is ek, ek is dit mos nie werd nie?

ARK VAN DIE NUWE VERBOND?

Hier kom ons nou by ‘n baie interessante en  fassinerende saak. Ons is mos nou nie die eerste mense wat hierdie gedeelte in Lukas lees nie. Ons moet dit ook lees saam met die kerk van 2000 jaar. Nou is dit interessant dat van die ou kerkvaders na Maria verwys het as die Ark van die Nuwe Verbond. 


Die verbondsark – dit was mos daardie goue houtkis wat in die Allerheiligste deel van die  tabernakel en later die tempel gestaan het. Ons ken die geskiedenis van hoe die ark deur die Fillistyne weggevoer is, al die drama wat daarmee saam gegaan het en die hele verhaal hoe dit weer teruggebring is na Jerusalem.  (Lees gerus  gou daarvan in 2 Samuel 6.)

As ‘n mens nou bietjie dieper na hierdie paragraaf in Lukas kyk, sien mens merkwaardige ooreenkomstige tussen hierdie gebeure by Elisabet  in Lukas 1 en die terugbring van die verbondsark in 2 Samuel 6. Dit lyk asof Lukas sy verhaal doelbewus skoei op die gebeure in 2 Samuel 6. Onthou net Lukas het waarskynlik reeds sy lesers voorberei vir ‘n tabernakel en ark konteks! Vgl. Lukas 1:35 met Eksodus 40:34,35 waar die heerlikheid van die Here neerdaal op die tabernakel waarbinne die verbondsark van God was!  In die Septuagint vertaling van die Ou Testament word hier presies dieselfde woord gebruik. * Daar is reeds dus die insuniasie van  'n lyn van die ark na Maria!

Kom ons kyk nou na 'n fassinerende vergelyking tussen die arkverhaal in 2 Samuel 6 en die besoek van Maria aan Elisabet:

Vergelyking** :

Ark van die Ou Verbond

Maria – “Ark” van die Nuwe Verbond

Die ark gaan na die bergland van Judea. (2 Sam. 6:1-11).

Maria reis na die huis van Elisabet en Sagaria in die berglandskap van Judea. (Lukas 1:39).

Dawid dans gekleed in ‘n priesterlike kleed voor die ark.  (2 Sam. 6:14).

Johannes die Doper, van priesterlike afkoms, spring op in sy ma se moederskoot as Maria naderkom - (Lukas 1:41).

Dawid vra  “Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” (2 Sam. 6:9).

Elisabet vra : ““Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?”  (Lukas 1:43).

Dawid en die hele volk van Israel begroet die ark met uitroepe van vreugde. (2 Sam. 6:15).

Elisabet het  “hardop uitgeroep” (Lukas 1:42). Die Griekse woord ἀνεφώνησεν word in die Septuagint gebruik in konteks van die ark. (Hier in Lukas is dit die enigste plek in die  NT waar dit gebruik word!)

Die ark het drie maande in die huis van Obed-Edom gebly.  (2 Sam. 6:11).

Maria bly drie maande by Elisabet. Lukas meld dit spesifiek.  (Lukas 1:56).

“Die Here het Obed-Edom en sy hele huishouding geseën.” (2 Sam. 6:11).

Die woord geseënd/gelukkig word drie keer gebruik. (Lukas 1:39-45).

Die ark kom terug na Jerusalem en  uiteindelik teruggebring na die tempel waar die heerlikheid van die Here geopenbaar word. (2 Sam. 6:12; 1 Kon. 8:9-11).

Maria keer terug huis toe en eindig uiteindelik ook in die tempel in Jerusalem met die vleesgeworde Woord van God, die baba Jesus in die tempel. (Lukas 1:56; 2:21-22).



 

Is dit nou alles toevallig? Ek dink nie so nie...

DIE FOKUS OP DIE HEERLIKHEID VAN JESUS

Wat nou? Wat moet ons nou hiervan maak? Een saak is duidelik - God is op ‘n unieke manier in beheer van die geskiedenis. Die geboorte van Jesus word vooruitgesien in die detail van die Ou Testament selfs in die geskiedenis van die verbondsark. Maria is ‘n “tipe” van verbondsark, daar is ‘n lyn, ‘n ooreenkoms. Die ooreenkomste is te opvallend om maar net "toevallig" te kan weees...  Maar nou moet ons fyn trap - gaan dit oor die uniekheid van Maria of oor die uniekheid van Jesus?

Hierdie merkwaardige gebeurtenis onderstreep net bo alles die uniekheid van Jesus – belangrik – in die res van Lukas val die klem nie op Maria nie, maar op Jesus die Seun van Maria, die Seun van God.

Die verbondsark tipologie help ons juis om die heerlikheid van Jesus nog meer te besef!  Kyk eers na Hebr 9:3,4 waar die tabernakel beskryf word : 


"En agter die tweede tempelgordyn was 'n tent, wat die Allerheiligste genoem is; dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond;"

Dink nou weer :

Die verbondsark het die Woord van God, die Tien gebooie op kliptafels bevat, Maria dra die Lewende vleesgeworde Woord van God, Jesus Christus. Die verbondsark het die staf van Aaron die hoëpriester wat gebot het bevat -  Maria dra die ewige finale Hoëpriester, Jesus in haar skoot;  Die verbondsark het ‘n goue kruik met Manna bevat wat die volk moes herinner aan God se versorging in die woestyn, Maria se baarmoeder bevat Jesus, die ware Manna, die Brood van die lewe wat van die hemel gekom het soos Jesus self dit verduidelik in Johannes 6:41.  

Maria se uniekheid as anti-tipe van verbondsark plaas die fokus op Jesus se uniekheid en genoegsaamheid. Hy vervul al die Ou Testamentiese gebeurtenisse, instellings, seremonies en voorwerpe. Aanbid Hom! Fokus op Hom. 

Dis die groot vraag bly dus- nie wat dink jy van Maria nie, maar - Ken jy die unieke Jesus die Seun van God? 

Tog bly Maria vir ons ‘n voorbeeld van opregte oorgawe aan die wil van God. Sy is ‘n modeldissipel. Ons dink aan haar met dankbaarheid. Ons respekteer haar as  die begenadigde maagd, die Moeder van Jesus saam met die kerk van alle eeue.

VOETNOTAS

*Die Griekse woord ἐπισκιάζω wat gebruik word in Lukas 1:35 ("oorskadu" word ’n paar keer in die LXX gebruik om na die wolk van heerlikheid te verwys wat die verbondsark in die tabernakel oorskadu het. Ons vind dit byvoorbeeld in Eksodus 40:35 (καὶ οὐκ ἠδυνάσθη Μωυσῆς εἰσελθεῖν εἰς τὴν σκηνὴν τοῦ μαρτυρίου, ὅτι ἐπεσκίαζεν ἐπʼ αὐτὴν ἡ νεφέλη καὶ δόξης κυρίου ἐπλήσθη ἡ σκηνή.

** Met erkenning aan die volgende tabel. Kliek op tabel.

Vir 'n volledige akademiese artikel oor hierdie onderwerp, kliek op MARIA - tipologie


Dinsdag 04 September 2018

SKOKKEND : Ussa sterf

omdat hy sy hand na die verbondsark uitsteek. Hy wou keer dat dit nie afval van die wa nie en God tref hom onmiddelik met die dood! Dis ‘n verhaal (2 Samuel 6) wat vir ons ongemaklik laat voel, onverstaanbaar en onregverdig klink. Ussa keer dat die ark nie op die grond val nie. Tog sekerlik ‘n goeie daad? Ons verwag dat hy dalk ‘n stem uit die hemel sou hoor wat sê : “Dankie Ussa!” In plaas daarvan word Ussa deur God gedood. Summiere teregstelling op die plek! 



“Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 

Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis*, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.” (2 Samuel 6:6,7) 

Wat het hier gebeur? Was God onregverdig of dalk erger, in ‘n slegte bui of wispelturig? Ons moet onthou die verbondsark (‘n Goue kis met die tien gebooie daarin, met ‘n goue deksel waarop twee gerubs was.) was ‘n besonder heilige voorwerp. Sy normale plek was in die allerheiligste, die heel heiligste deel van die tabernakel waar die hoëpriester net een maal per jaar mag ingegaan het. God het duidelike voorskrifte gee t.o.v. die vervoer van die verbondsark. 

"Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom. Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. Hulle moet ‘n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met ‘n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek...Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word. (Numeri 4:5,6,15!) 

Om te raak aan die ark of een van die heilige voorwerpe was strafbaar met die dood! Dit was ‘n duidelike Goddelike bevel! Die ontwerp van die ark self het dit al inherent duidelik gemaak. Daarom was daar ringe aan die ark met draaghoute sodat by die vervoer van die ark niemand daaraan sou hoef te raak nie! Die ark moes dus gedra word! (Hulle het dit baie goed besef - sien vers 13) Daar is geen voorsiening gemaak vir vinnige vervoer op ‘n wa nie. Die ark was meer as maar net nog ‘n houtkis, dit was die setel van God se heilige teenwoordigheid. "...Dit is die ark waaroor die Naam: "die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon", uitgeroep is." (2) Dis op die deksel van die ark waar die hoëpriester die bloed van die jaarlikse versoenoffer moes sprinkel! 

DIS GEVAARLIK OM TE VERGEET DAT GOD HEILIG IS! 

A Ussa sterf, sterf hy dus nie onskuldig nie. Hy het ‘n duidelike voorskrif en wet van God oortree. Hy sterf as iemand wat God se waarskuwings geïgnoreer het. Die doodstraf wat Ussa kry is nie onregverdig of onredelik nie. Dit was nie ‘n gril of bevlieging van God nie. Dit was niks buitengewoon nie. Wat wel skokkend voorkom is die skielikheid en finaliteit van hierdie straf. 

Die eintlike rede waarom ons geskok en dronkgeslaan word deur die verhaal van Ussa is omdat ons nie die Bybelse begrippe van heiligheid, geregtigheid, sonde en genade reg verstaan nie. Anders gestel ons as mense is kansvatters wat God se genade misbruik en dink dat genade iets is wat ons verdien. Ons raak mak vir God. “Ag, dis mos vanselfsprekend, God sal en moet my mos genadig wees,” is die gedagte diep in ons agterkoppe! 

RC Sproul in sy boekie “The Holiness of God”** gebruik ‘n uitstekende voorbeeld om hierdie arrogante houding te illustreer: Hy het 250 studente in sy OT klas gehad. Sy studente moes drie take voltooi. Hy het vooraf die inhandigdatums deurgegee en dit duidelik gestel dat as die taak nie op die regte tyd ingehandig word nie, jy ‘n druipsimbool (F) daarvoor sou kry. Die eerste taak moes op die laaste dag van September in wees. 225 van die 250 studente s’n was betyds. Die ander 25 het bewend en beangs vir uitstel gepleit. RC het toegegee aan hulle pleidooie en uitstel gegee. Die studente was baie dankbaar en vol mooi woorde en beloftes! Toe kom die einde Oktober. Net 200 van die 250 was betyds. Die ander was senuagtig, maar glad nie paniekerig nie. Weer vol verskonings, verduidelikings en mooi beloftes. Weer was RC hulle genadig. “Maar onthou”, het hy gesê, “geen uitstel die volgende keer nie. Dan druip julle die taak as julle laat is!” Die studente was baie bly : “Prof Sproul, ons is lief vir jou, jy is wonderlik!” RC was nou hulle held! ‘n Regte Mr. Popularity!

Raai wat het gebeur aan die einde van November met die inhandiging van die derde taak? Net 150 van die 250 se take was betyds in! “Waar is julle take?”, het hy gevra? Een het geantwoord : “Moenie worry nie prof. ons werk daaraan…” Toe het RC sy punteregister gevat en die name begin aflees. Die wat nie ‘n taak ingegee het nie, het ‘n F gekry. Die studente was verontwaardig en het hardop geprotesteer. “Dis nie billik nie!” RC het met ‘n spesifieke student gepraat. “Jy sê dis nie billik nie?” “ Nee!”, antwoord die student. “Wel, wil jy regverdigheid hê? “Ja” “Goed, as jy daarop aandring,sal jy dit kry. Verlede keer was jou taak ook laat. Ek gaan jou nie net hierdie keer ‘n F gee nie, maar ook vir die vorige taak. Ek sal jou vorige punt verander na ‘n F, want dis wat jy regverdiglik verdien.” Die student was stomgeslaan. Geen argumente nie. Hy het om verskoning gevra en was te dankbaar om net een F te kry in plaas van twee. 

Die studente (en ons) vat genade as vanselfsprekend op! Ons dink ons verdien genade, ons moet genade kry. Nee, genade word nie verdien nie. God skuld ons ook nie genade nie. Ons verdien straf en oordeel. Ons verdien die straf van Ussa! God se toorn is oor ons en dis ‘n regverdige toorn, want ons is skuldig aan die oortreding van sy wette. 

GOD SKULD ONS NIE GENADE NIE; HY SKENK DIT WEL! 

Nou hoor (sien) ons hier aan die nagmaalstafel hoe God se toorn vir Jesus aan die kruis getref het! Ons hoor hoe die Goddelike wraak vir Jesus getref het in ons plek en dat ons vry kan wees van skuld en straf! Maak dit ons dankbaar? Of dink ons dat ons kanse kan vat met God se heiligheid ? God skuld nie vir ons genade nie, Hy skenk vir ons genade deur Jesus. Hy hoef ons nie te spaar nie, dis sy goedheid en guns. Hoor wat sê God vir Moses. “...want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” (Eksodus 33:19) 

Genade is regtig genade! Vrye onverdiende guns alleen! Maar pasop, Hy is nog dieselfde heilige God! Ons moet Hom nie tart nie. Ons moenie kanse vat nie. Ons moenie dink ons verdien genade of is geregtig daarop nie. Oor genade kan ons net oneindig dankbaar wees! 

Die Nagmaal vertel ons van genade. Jesus het in my plek die toorn en straf gedra. Sy liggaam is vir my gebreek, sy bloed het vir my gevloei! Maar die Nagmaal is juis ook die heilige Nagmaal. Ons moet dit nie ontheilig deur dit ongeërg of onnadenkend te gebruik nie. Ons moet dit nie ontheilig deur onberouvol te volhard met sonde en ongeloof nie! Onthou wat het met Ussa gebeur! God is nog dieselfde heilige God wat bedoel wat Hy sê! 

*Heiligskennis is die skending of ontering van iets wat heilig is. (Eng = sacrilege) 

**p124ev 


Vrydag 03 Februarie 2017

JY KAN GOD NIE MANIPULEER NIE,

want God is anders as die afgode!

God is anders as die afgode! “Wel”, sal iemand miskien sê, “dis seker nie nodig om dit vir ons te vertel nie, ek bedoel wie weet dit nou nie?” Die waarheid is dat baie van ons dit nie weet nie, miskien teoreties, maar ons praktiese houding teenoor God wys dat ons oor Hom dink asof hy maar net nog 'n afgod is. Dat Israel dikwels hierdie verkeerde denke oor God gehuldig het is baie duidelik, ook uit 1 Samuel 4 :1-11. Die ongehoorsame Israeliete wat gedink het hulle kon God dwing om hulle teen die Filistyne te help as hulle die verbondsark saamneem na die slagveld toe... As ons 'n bietjie oor die saak nadink kom 'n mens tot die skokkende besef dat 'n baie groot persentasie van mense wat hulleself as Christene beskryf dieselfde foute begaan. 



Mense (ook binne in die kerk) dink oor God en hanteer Hom asof Hy maar net nog een van die afgode is. 



Die grootste dowwe kol in die kerk se denke is 'n verkeerde en gebrekkige Godsbegrip. Ons besef nie wie is die God met wie ons te make het nie. God word verwar met die afgode al word Hy by die regte naam genoem. Dit kom eintlik daarop neer dat ons vir onsself ‘n “god” gemaak het wat by ons behoeftes pas.

Om die verskil tussen die lewende God en die afgode duidelik te onderstreep is dit nodig om te vra : Hoe lyk die afgode? In watter opsigte is God anders as die afgode?

WIE EN WAT IS DIE AFGODE?

Afgode is menslike skeppings wat voortkom uit menslike gedagtes. In sommige gevalle word hulle fisies deur mense voorgestel of gemaak.

Omdat die afgode menslike skeppings is, is hulle vreeslik mens en sonde vriendelik. Die afgode het baie ruimte vir sonde... Dis lekker gode soos byv. die Kanaäniete se vrugbaarheidsgodsdiens wat gepaard gaan met allerhande losbandigheid en uitspattigheid wat goed aangepas is by die mens se sondige begeertes. Dink maar net ook aan die Griekse gode en godinne se losbandige eskapades!

Afgodery is eintlik maar duiwelsdiens en Satan se doel hiermee is om die mens te vernietig. Die afgode vra 'n ontsaglike prys en is baie wreed. Afgodsdiens behels dikwels selfkastyding of selfpyniging (dink aan hoe die Baälpriesters hulleself stukkend gekerf het op Karmelberg) en eis selfs kinderoffers en natuurlik lei dit tot die ewige verdoemenis. (maar dit besef die misleides natuurlik nie) Hierdie vernietigende aspekte is natuurlik net so waar van die moderne afgode dink maar byv. aan die gevolge van hebsug/gierigheid. (dit word pertinent afgodery genoem in Efesiërs 5:5)

Baie belangrik – die afgode is manipuleerbaar sodat hulle tot voordeel van die mens optree. Hierdie manipulasie vind plaas deur die regte rituele en formules. Die afgode is nie so gesteld op die hartsgesindheid nie, solank die regte offers, woorde, rites en voorskrifte gevolg word doen die afgode wat ons wil hê : gee reën en oeste, help met liefdesprobleme en vrugbaarheid, sukses en rykdom...

Die afgode staan dus eintlik in diens van die mens wat hulle gemaak het. Daarom is afgode hoofsaaklik etnies gebonde. Dagon is ons Filistyne se god, hy tree in ons belang op. Baäl is weer die van die Kanaäniete ens. (En mens wonder sommer, het baie van ons Afrikaners nie al probeer om God te reduseer tot 'n "god" wat altyd aan die Afrikaner se kant is nie??)

Omdat afgode eintlik maar net 'n menslike skepping is, is hulle beperk en in ‘n sekere sin van mense afhanklik. Mense bring kos vir hulle en verskaf woonplek. (tempels) 

Israel se optrede in hierdie krisis tyd wys baie duidelik dat hulle oor die lewende God dink in terme van hierdie afgodsdenke. Wat gebeur hier? 

God het besluit om Sy volk te straf. Hy gebruik die Filistyne as instrument in sy hand. Die volk word daarom verslaan deur die Filistyne, soos Hy dit bekend gemaak het aan Samuel. Hulle besef dit, maar nou maak hulle wat hulle dink ‘n slim plan is.... “Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: "Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande." (1 Sam 4:3) Hulle redenasie is duidelik die van afgodsdienaars...”wag 'n bietjie ons gaan hierdie Filistyne 'n ding wys, God gaan vir ons veg en ons gaan seker maak dat Hy aan ons kant is. Gaan haal die ark, waar die ark is sal Hy mos wees en dan sal Hy aan ons laat wen!”

Israel dink hulle kan God dwing en manipuleer om in hulle belang te veg!

GOD IS (HEERLIK) ANDERS!

In skrille maar ook heerlike kontras staan die Lewende God teenoor die afgode. Hy is waarlik God, van ewigheid af. Kom ons stip net 'n paar aspekte aan wat hoofsaaklik uit hierdie stuk geskiedenis in 1 Samuel na vore kom :

God is nie deur mense gemaak nie, trouens Hy self en Hy alleen is die Skepper van die mens en alles wat bestaan. Hy openbaar Homself aan wie Hy wil. Hy slaan die priester Eli oor en maak Homself aan die jong seun Samuel bekend. Hy het geen beperkings nie. Hy is die Almagtige. Daarom het God het Israel nie nodig nie en is Hy van geen mens en geen priester afhanklik nie. Terloops, Hy benodig ook nie offers as ‘n lewensmiddel nie, want buitendien al die vee behoort aan Hom. Hy is ook nie verleë oor die tempel as 'n woonplek nie. Salomo* het dit duidelik geweet. Hy handhaaf Homself. Dit wat in Dagon se tempel gebeur het (lees 1 Samuel 5:1-5), bewys dat Hy nie verslaan is nie, maar dat Hy selfs heerskappy voer in die tempel en land van Sy vyande. Hy tree nie op ter wille van mense as sodanig nie, Hy tree op ter wille van Sy Naam en sy eer.

Die ware God dien nie die mens nie, mense is veronderstel om Hom te dien volgens Sy voorskrifte. Hy kan nie gemanipuleer word nie en Hy laat Hom nie misbruik nie. Israel se poging misluk jammerlik en dit lei tot 'n ramp... Daar was 'n groot slagting, hulle moes vlug en die ark is deur die vyand buit gemaak. God se arm kan nie gedraai word nie. Ons afkoms of bepaalde gebruike en rituele veroorsaak nie dat Hy outomaties aan ons kant is nie.** 

Die Heilige God, moet aanbid word volgens Sy voorskrifte, en met eerbied. Hy self bepaal die voorwaardes en manier van aanbidding. Dit moes die mense van Bet Semes op 'n harde manier uitvind toe hulle die ark met sy terugkoms in Israel onwettig bekyk het. (1 Samuel 6:19).*** 

Hoe tree mense vandag teen God op? By nadere ondersoek blyk dit baie dink aan God en oor God asof Hy eintlik maar net nog 'n afgod in ons diens is. Ons ontwerp 'n “god” in ons gedagtes wat by ons behoeftes pas. Ons laat Hom in ons lewens toe in soverre ons dink Hy vir ons nuttig kan wees.

Ons betrek God by ons planne i.p.v. in te val by Sy wil en planne. Dikwels is hierdie planne direk teen Sy geopenbaarde wil. Dink aan skelm besigheidstransaksies, huwelike met ongelowiges en projekte wat net op ons eie eer ingestel is en dan het ons die arrogante vermetelheid om Hom te vra dat hy dit sal seën. 

Ons maak God ook klein in ons denke. Al meer mense twyfel oor Sy almag en soewereiniteit. Mense praat en dink asof God nie volmaak in beheer is nie. Party mense betwyfel God se almag deur in vrees vir die duiwel te leef... 

Daar is al hoe meer 'n terugkeer na ritualisme. Die dwase mens dink God kan tevrede gestel word deur die regte rituele en formules! Vir sommiges is die doop of belydenisaflegging so ‘n formule wat saligheid en sukses verseker. 

Ons verlaag God tot afgodsstatus deur sy seën en hulp net by sekere geleenthede in te roep sekere geleenthede... By begrafnisse en troues word God se naam gehoor en gaan ons kerk toe, maar die res van ons lewens leef ons soos ons wil! 

Ons gee ons eie inhoud aan Bybelse terme : Die term geloof is baie gewild selfs onder die goddeloses! Hulle dink : Geloof in God sal die lewe beter laat uitwerk vir jou! Dis egter ‘n selfsugtige afgodsgeloof en dis nie wat die Woord met geloof bedoel nie! 

Gebed word misbruik as ‘n towerstaf dat God MY drome moet waarmaak. In die Bybel gaan gebed oor onderwerping aan God se wil. 

Genade is 'n denkmantel vir 'n losbandige lewe volgens ons eie begeertes en behoeftes. Die Woord waarsku baie duidelik teen hier die misbruik van genade.

Die godsdienstige praktyke van baie wat as Christene bekend staan kom neer op 'n oortreding van die tweede gebod. Hulle maak 'n god in hulle gedagtes, volgens hulle behoeftes en grille en koppel die naam van God van Jesus aan Hom.

Hierdie geskiedenis maak dit baie duidelik dat God Hom nie laat manipuleer nie. Israel se kastige slim plan om God te betrek het in hulle gesigte ontplof met skrikwekkende gevolge...

KOM ONS BESEF WIE GOD IS...

Ons moet opnuut weer besef God het ons nie nodig nie. God kan uit klippe kinders van Abram maak.

Ons moet opnuut weer besef God kan nie geflous word nie. 'n Bybel voor my bed beteken nie dat Hy aan my kant is nie! Ons moet opnuut weer besef God handhaaf homself, Hy is nie verleë oor ons pogings of (suinige) bydraes nie!

Ons moet opnuut weer besef ons kan God nie met die regte tegnieke dwing of oorreed om by ons betrokke te wees en ons te seën volgens ons verwagtings nie. Dis nie regte gebedstegnieke nie, maar die gebed van die regverdige m.a.w. die een wat in die regte verhouding met Hom staan wat groot krag het!

Ons moet opnuut weer besef dis nie moderne kommunikasie en preek metodes (of toegang tot die internet) nie, maar geheiligde en gehoorsame instrumente wat deur Hom gebruik word. 

Ons moet opnuut weer besef dis nie obskure geestelike oorlogvoeringstegnieke en spreek-lewe resepte wat ons die oorwinning oor die bose sal laat behaal nie, maar gehoorsaamheid aan die waarheid van die Woord.

DIE WEG TOT GOD

Wel, hoe moet ons die Lewende God benader? Slegs binne 'n persoonlike verhouding of anders gestel ‘n weg van gehoorsaamheid en heiligheid. Ja, ons self kan nie aan sy standaarde voldoen nie, maar deur Jesus het Hy ons in ons sondenood te hulp gekom. Jesus Christus is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Ons kan God nie beveel, manipuleer, misbruik en om die bos lei nie, maar (en dis onbeskryflik heerlik) ons kan wel Sy genadetroon nader in heilige eerbied in die naam van ons ewige hoëpriester Jesus Christus. Ons nader God nie met valse motiewe volgens uiterlike rituele en voorgeskrewe formules nie, maar deur die verdienste van Jesus met opregte harte.  Ja, deur Jesus word Hy ons Vader en mag ons  met vrymoedigheid ons harte voor Hom uitstort en Hy sal hoor...AMEN

*Salomo se gebed by die inwyding van die tempel wys duidelik dat hy besef dat God nie in ‘n gebou wat deur mense opgerig is woon nie. "Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!” (1 Konings 8:27) 

** Dink ook aan die waarskuwing van die profeet Jeremia (lees Jer 7:4)...... "die Here se tempel, die Here se tempel..." (Kliek op TEMPEL)

*** Israel was traag om hierdie les te leer. Baie jare hierna moes Ussa ten spyte van sy goeie bedoelings ook die verskriklike gevolge dra omdat hy nie die voorskrifte van God ernstig opgeneem het nie en aan die ark geraak het. “Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. ( 2 Samuel 6:6,7)

VERDER. HOE LYK HIERDIE "AFGODSDIENS" EN MANIPULASIE IN DIE PRAKTYK ONDER ONS AFRIKANERS? Kliek op AFRIKANER BYGELOOF