BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gebroke huwelike. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gebroke huwelike. Wys alle plasings

Woensdag 12 Januarie 2022

HET JY DIE MERK?

Ek gaan nie oor nuwejaarsvoornemens praat nie... ek wil net vir jou vra:


“Het jy die merk?” Gaan jy met die regte merk in die nuwe jaar in? Die kruisie op die voorkop wat tel? Die profeet Esegiël sien hoofstuk 9 ’n visioen van God se oordele oor Jerusalem. Dis ’n oordeel wat almal gaan tref...oud en jonk, man en vrou. Dis ook opvallend dat God se oordele by sy tempel, sy heiligdom begin het. Ja, dis dikwels so - in die aanbiddingsplekke, onder God se mense word die grootste gruwels aangetref! Die goddeloosheid het binne die tempel plaasgevind. Die konteks en agtergrond van die oordeelsaankondigings in Esegiël 9 God se oordeel weens die afskuwelikhede wat in Jerusalem aangaan wat breedvoering in hoofstuk 8 beskryf word.




Almal gaan geoordeel word behalwe diegene wat gemerk is! (6) 








DIE VRAAG

Die interessante en baie belangrike vraag is : Wie is die gemerktes wat die oordele van God sal vryspring? Wie gaan gered word? Waaroor gaan die merk van God?

DIE ANTWOORD

Ons vind die antwoord in vers vier.


 Dis almal wat sug en kla oor die ongeregtigheid. Dis met ander woorde die mense wat ontsteld, verontwaardig en hartseer is oor die sonde wat rondom hulle aangaan. Dis diegene wat nie met die sonde saamstem en kompromie maak nie. Dis diegene wat stroomop swem – en nie saam met die stroom afdryf nie!



God se ware kinders kan uitgeken word aan die feit dat sonde en die gevolge van sonde hulle ontstel, bekommerd maak, hartseer maak, met weersin en afgryse vervul. Sonde is ’n pyniging vir ’n regverdige! Die sonde in die samelewing kan nie ongesiens by God se kinders verbygaan nie. Dit raak ons elkeen wat Jesus liefhet.

Dis ‘n waarheid wat dwarsdeur die Skrif na vore kom. Kyk na 'n paar voorbeelde :

Psalm 119:53 “Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat U wet verlaat.”

Lot se siel word gepynig deur die goddeloosheid wat hy moet aanskou in Sodom. 
2 Petrus 2:7 “Terwyl hy (Lot) tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed.”

Ware kinders van God is ontsteld oor sonde, want....

Ons besef sonde tas God se eer aan. Dis opstand teen God, dis ’n vertrapping van sy goeie en heilige wette. Sonde beteken eintlik dat klein mensies hulle vuis wys vir die Almagtige God en Hom uittart. Skrikwekkend!

Ons weet dat dit Jesus se bittere smart en kosbare bloed gekos het om ons sondes te vergewe. Sonde is dus ’n belediging van Jesus se liefde en genade. Dis ’n gruwelike ondankbaarheid teenoor Jesus wat sy lewe vir ons gegee het. Dis vreeslik en afgryslik ondankbaar as mense onbeskaamd net aangaan met sonde!

Ons beleef en sien sonde is ’n verwoestende en verslawende mag. Dit veroorsaak soveel ellende en hartseer in huwelike, huisgesinne, gemeenskappe. Dit maak mense seer en nog erger dit skend God se beeld in die mens en maak dat ons erger as diere optree. Dis ‘n parasiet wat als besmet...als wat deur God goed en mooi gemaak is ly onder hierdie parasiet – huwelike, gesinne, menseverhoudings, besittings, geluk, vrede.... als word aangetas deur hierdie parasiet. Dis een aaklige toneel van verwoesting en ellende!

Ons weet sonde is gevaarlik want dit bring God se wraak oor mense en lei tot ’n ewige hel. Mense wat aanhou sondig en die plesier van sonde geniet is soos motte wat al nader aan ’n kersvlam vlieg. Die mense wat nou in sonde volhard en sonde geniet is op ’n glyplank wat sonder dat hulle besef eindig in ’n bodemlose afgrond van ewige duisternis en pyn. Onkundig en niksvermoedend is hulle op pad na ’n grusame bestemming!

Sonde keer dat ons ons skeppingsdoel bereik naamlik om Hom te eer en te loof en te prys. Sonde keer dat ons ‘n ware loflied met ons lippe en ons lewe tot God kan sing.

Ek as kind van God weet (en dis baie persoonlik) - hoe maklik ekself vir die leuens van die duiwel val en self kan struikel en sondig. En ek weet watter hartseer dit veroorsaak... Daar is NIKS goeds in sonde nie!

Dis waarom die profeet Jesaja so diep bedroef was oor sy eie sonde en sy volk se sonde. Nadat hy die heerlikheid van God gesien het roep hy uit : “Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is;” Jesaja 6:5

ONTSTELD?

Ontstel sonde jou nog? Maak dit jou hartseer en kwaad? As dit nie die geval is nie, moet jy ernstig selfondersoek doen of jy self al die genade van God aanvaar het. Of jy self al vergifnis en bevryding van sonde beleef het. Daar is niks mooi of positief in sonde nie! Ons durf dit nie ignoreer nie, ons durf nie daaroor grappe maak nie! Ons moet dit tog net nooit gewoond raak nie...

MERK VAN DIE DIER


Baie mense is bang vir die merk van die dier. Die eintlike vraag moet wees : "Het ek God se merk? God se merk is presies die teenoorgestelde as die merk van die dier. Die merk van die dier is kompromie- die 666 op die voorkop en op die hand - dink soos die wêreld, doen soos die wêreld. God se kinders wat sy merk dra is die wat NIE kompromie met sonde maak nie, maar daaroor treur, sug, ontsteld en verontwaardig is!

Ontstel sonde ons nog? Maak dit ons nog seer as God se wette vertrap word en sy liefde geminag word? Net ’n praktiese vraag... As sonde jou met afgryse vervul hoe kan jy dit geniet om daarna in die sepies te kyk? Hoe kan jy dit geniet op plekke soos die dansbaan en drinkpartytjies waar sonde uitgestal en gevier word? As ons nie ontsteld is oor sonde nie, is daar net een gebed wat ons moet bid : “O, God skep vir my ’n rein hart!” Psalm 51 Kom ons maak dit ons gebed vir die nuwe jaar! Mag ons die erns van sonde besef en daarvan bekeer. 

Kom ons vlug met ons sonde in berou na Jesus. Sodat Hy ons kan merk met die Heilige Gees... dan alleen is ons veilig teen die oordele van God!

Maandag 20 Desember 2021

REGTIG REDE VIR VREUGDE?

- JA, al beleef jy nou ernstige hartseer.

Die boodskap van die engele aan die herders (maak gerus oop by Lukas 2:8-20) is ‘n boodskap van blydskap. Die fees wat ons vier ter herinnering aan hierdie boodskap is ’n fees van blydskap. Maar dis waar ons nou dalk met ’n ongemaklike vraag in ons hart sit – Kan ons in opregtheid vandag nog ’n fees van blydskap vier? 

Anders gestel het ons vandag nog ’n eerlike rede om bly te wees? Is dit tog nie so dat daar baie redes vir treurigheid en hartseer is nie? Kom ons wees eerlik- Dit was ’n skrikwekkende jaar van verlies en dood - daar is baie plekke aan ons Kersfeestafels wat leeg gaan wees, die plekke van geliefdes wat hierdie jaar van ons weggeneem is. En verder...Daar is soveel bekommernisse... finansies, gesondheid. Nog erger daar is soveel sondeverskeurdheid - gebroke huwelike en gesinne, bitter familietwiste...

Kan ons in die lig van al hierdie rou en ruwe hartseer nog met blydskap Kersfees vier? JA! Al hierdie hartsere onderstreep net dat ons die boodskap van Kersfees nog meer as ooit tevore nodig het en dat ons nog meer as ooit tevore daarna moet luister en dat ons meer as ooit tevore moet ag gee daarop.

Wat sê die kersboodskap soos die engele dit oorgedra het vandag vir ons?

(ek lig net 'n paar kerngedagtes uit)

Moenie bang wees nie. (vers 10) Vanaf die tyd toe Adam en Eva teen God gekies het, leef die mens in vrees en bekommernis. Hoekom? Voor die sondeval het God absolute sekuriteit aan die mens gebied – in alle opsigte – het Hy geestelik en liggaamlik vir die mens gesorg. Toe rebelleer die mens en van toe af hunker en soek die mens gedurig na sekuriteit. Dis soos ‘n jong kind wat wegloop van die huis. Dis eers as hy weggeloop het en die eerste nag koud en honger op straat moet slaap, wat hy besef- “ek is nou regtig bang, ek mis die sekuriteit van my ouerhuis. Die heerlike kos, die warm bed...” Maar nou -As God deur Jesus die verhouding met die weggeloopte sondaar herstel, moet ons weer en weer duidelik hoor : Moenie bang wees nie! Dis nie meer nodig om in vrees te leef nie! Die rede: die KIND in die krip! Ook genoem Immanuel... God by ons!

God het nie van die stukkende wêreld vergeet nie. Dis waaroor die engele juig en sing. God het stukkende mense lief, en dis juis hoekom ons nie meer hoef te vrees nie. Vir hierdie liefde moet ons eer en dank aan God bring. (vers 14)

Die Verlosser het gekom! (vers 11) Die liefde van God het ’n konkrete gestalte. Dis nie net mooi woorde of ’n vae teorie nie. God het die Verlosser gestuur. Dis die kern rede waarom ons vandag ’n vreugdefees mag vier ten spyte van al die sonde, swaarkry, siektes en sterftes in hierdie wêreld. Jesus kom verlos mense van sonde. Dis ons grootste probleem. Dis wat skeiding tussen ons en God veroorsaak. Dis wat hierdie gebrek aan sekuriteit en vrese tot gevolg het. Maar Jesus se verlossingswerk eindig nie net by die vergifnis en bevryding van sonde nie. Ons liggame gaan ook verlos word. Bevry word van verganklikheid. Dis waarna ons uitsien met hoop en verlange terwyl ons nou nog sug en swaarkry. “En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Romeine 8:23)

Hierdie Verlosser het as mens gekom. (vers 12) Dis die aangrypendste. God self kom as mens na die wêreld. Die onsigbare God maak Homself sigbaar. Jesus kom as gewone mens. Die Skepper van sterrestelsels, die son en yster word 'n hulpelose baba. Dis onbegryplik heerlik. Soos Johannes dit stel. “En die Woord het vlees (vleis) geword en onder ons kom woon...” (Johannes 1:14) Ons het nie ’n onbetrokke veraf God en Verlosser nie. Hy het een met ons geword, Hy ken ons, voel saam met ons, Hy het in ons skoene kom staan en in ons smart en ellende kom deel. Hy ken armoede, hongerte, moegheid, verwerping, bespotting, teleurstellings... en ja ook die angs, skeiding en donkerte van die dood! Hy is daarom die volmaakte Middelaar, Advokaat, Trooster en Hoëpriester vir elkeen wat op Hom vertrou! Oor so ’n Verlosser kan en moet ons vandag bly wees ongeag ons eie omstandighede.

HET JY AL REAGEER?

As ons regtig blydskap wil ervaar is daar nog iets. Ons moet reageer op hierdie boodskap. Ons moet hierdie boodskap regtig glo. En as ons dit glo sal dit ons in beweging bring. Dis baie duidelik uit die skaapwagters se reaksie dat hulle hierdie vreemde boodskap geglo het. (vers 15b) Hulle kon nie stilstaan nie. Hulle het self gaan kyk. Hulle het God verheerlik en geprys. Hulle het mense gaan vertel.

Glo jy regtig die Kersboodskap? Dis eintlik maklik om vas te stel. Watter veranderings het daar in jou lewe gekom weens die boodskap oor Jesus as Verlosser? Het die boodskap van Jesus ’n verskil gemaak in jou gedrag die afgelope jaar? Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy teen sonde gekies het? (Het jy daardie buite egtelike verhouding verbreek? hey jy daardie lastige vyand vergewe?) Nog verder... Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy Hom graag saam met medegelowiges aanbid het in die erediens? Hy jy in jou vriendekring en leef of werksomgewing gepraat oor Jesus?

EGTE REDE TOT VREUGDE

As ek en jy waarlik die boodskap van die engele glo, dan het ons REGTIG REDE om vandag baie bly te wees, maak nie saak van al die hartsere in en rondom ons nie! Die boodskap van die Verlosser se koms bring vir ons hoop – nou en eendag. Nou reeds kan ons vrede en vergifnis ervaar op grond van Jesus se menswording en kruisdood, maar ons kan ook gelowig uitsien na die herstel van die ganse gebroke skepping, ja ook die bevryding van ons liggame, die opstanding van die vlees! As jy nog nie hierdie boodskap glo nie, word jy vandag uitgenooi om te glo saam met die skaapwagters en miljoene na hulle... En dan sal jy beleef – die Kersboodskap is steeds ‘n bron van egte vreugde! (vers 10)


Wil jy iets verder hoor oor die radikale verskil wat die boodskap van Kersfees aan ons ellende maak? Kliek op IKABOD