BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Zimbabwe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Zimbabwe. Wys alle plasings

Woensdag 15 November 2017

MUGABE

- martelaarskap, engele en die oordeelstroon!



Die diktator en massamoordenaar Robert Mugabe se dae blyk getel te wees soos die dramatiese verwikkelinge in Zimbabwe ontvou... [Mugabe sterf uiteindelik op 6 September 2019]  Los nou maar eers al die ellendes wat hy die afgelope jare vir sy land en mense veroorsaak het... Ons onthou so bietjie verder terug... Mense vergeet so gou van sy rol in ‘n bloedige wrede stryd wat ‘n baie dieper dimensie gehad het as bloot ‘n onafhanklikheidsoorlog. Robert Mugabe en Joshua Nkhomo was leiers van brutale kommunisties gesteunde terroriste groepe wat ‘n spoor van bloedvergieting en verwoesting agtergelaat het...



Ja, die gebeure in Zimbabwe laat mens se gedagtes ver teruggaan na jou kinderjare en die skrikwekkende feite en verhale oor die Rhodesiese bosoorlog. As jong seun in Windhoek het ek na die nuus oor die radio geluister en gereeld was daar berigte oor die stryd in Rhodesië. “Volgens ‘n communiqué uitgereik in Salisbury is soveel of soveel terroriste deur die Rhodesiese veiligheidsmagte in skermutselings doodgeskiet.” Verskeie wreedhede was voorbladnuus en het wêreldwye berugtheid verwerf : die grusame massaslagting van sendelinge en kinders by die Elim sendingstasie in die Vumbaberge, die moord op die Afrikaanse sendingegpaar van Morgenster, Andre en Benecke Brand wie se kinders almal wees gelaat is, die afskiet van twee burgerlike Viscount vliegtuie en die moord op die oorlewendes...* Die wreedheid het ook nie na onafhanklikheid opgehou nie. Dink maar aan die Gukurahundi** veldtog van Mugabe en sy Noord Koreaans opgeleide Vyfde Brigade wat volgens sommige tot soveel as 30 000 lewens gekos het. Dit was ‘n veldtog gekenmerk deur uiterste barbaarse wreedheid soos die lewendige verbranding van Ndebele burgerlikes.

GEESTELIKE DIMENSIE 

Minder bekend is dat die terroriste nie net teen Ian Smith se blanke bewind baklei het nie, maar ook aktief teen Christus en sy kerk. Hulle was gekant teen die aanbidding van die ware God en pro voorvadergeesverering. Die haat van die kommunistiese aangevuurde guerrillavegters was dus nie net gemik teen blankes, boere of die veiligheidsmagte nie. Almal, swart mense inkluis, maar veral ook Christene moes deurloop onder wrede vervolging wat dikwels tot martelaarskap gelei het.

Wie dink dat die stryd in die destydse Rhodesië maar net om onafhanklikheid gegaan het, maak ‘n groot fout. Daar was ‘n duidelike geestelike faktor. Dit was ‘n konflik tussen lig en duisternis. ‘n Terroriste leier het vir sendelinge gesê: “If the Jews had not killed Christ, I would have done it myself.”

Destyds tydens die Bosoorlog is daar ‘n boekie deur die Dorothea sending uitgegee, met die naam, “CHRISTUS AANGEKLA IN ZIMBABWE-RHODESIË.” Dit bevat veral getuienisse wat deur Tom Barlow (een van my Pa se vriende) ingesamel is. Ek het sommer weer ‘n paar brokkies opgediep uit hierdie bron.

MARTELAARSKAP

Die sogenaamde vryheidsbewegings het kwansuis vir swart vryheid geveg, maar swart mense het die meeste gely in die proses.

‘n Dienskneg van die Here vertel : “Ons swart broers en susters in die stam-trust gebiede kry inderdaad baie swaar. In een gebied het die terroriste ‘n Nagmaalsdiens onderbreek en die kerkgangers byna doodgeslaan. Hulle Bybels en gesangboeke is verbrand. Daarna is hulle met die waarskuwing weggejaag: “Hou op met hierdie godsdienstige onsin, of...”

In sommige plekke is daar ondergrondse kerke. Christene ontmoet in klein groepies. Hulle bid dan saam en herhaal die Bybelverse wat hulle kan onthou. Hulle durf nie sing nie. In die distrik van N voel ‘n afgetrede leraar wat omtrent 80 jaar oud is deur God geroepe om die Christene in hulle huise te besoek en Nagmaal te bedien. Hy versteek klein stukkies brood en ‘n botteltjie wyn in die voering van sy jas.

Die Christene in die stam-trust gebiede het ons gebede baie nodig. Hulle word beveel om die voorvadergeeste te aanbid, maar hulle weier. Sommige durf slegs snags onder hulle komberse bid.

Dikwels moes Christene die hoogste prys betaal vir hulle geloof in die midde van die konflik. ‘n Evangelis vertel die volgende van ‘n leraarsvriend:

“Hierdie leraar het my meermale genooi om in sy kerk en in die skool te preek. Op ‘n sekere dag het party van die mense hom by die terroriste aangekla. Die aanklag was dat hy teen die voorvadergeeste gepraat het.

Die terroriste het hom uitgedaag om sy geloof te laat vaar en ‘n voorvadergees aan te neem as ‘n medium na God. Hy het geweier en stoutmoedig verklaar dat hy liewer sou sterf as om sy Here te verloën. Hy is toe koelbloedig doodgeskiet.

Sy martelaarskap het ‘n diep indruk gemaak op baie van die Shangaan mense onder wie hy gewoon het. Toe hulle sien dat ‘n leraar gewillig was om vir sy geloof te sterf, het baie van hulle hul lewens aan die Here Jesus oorgegee.”

‘n Sendeling vertel die verhaal van ‘n skoolhoof:

“Die skool van hierdie man was omtrent ‘n half myl van die Mosambiekse grens geleë. Een nag het hy ‘n droom gehad dat hy op pad was om na ‘n ver land te vertrek. Hy was ontsteld oor die droom, al het hy nie verstaan wat dit beteken nie. Hierdie skoolhoof was ‘n gelowige, maar het nie streng volgens Christelike beginsels gelewe nie. As gevolg van die droom het hy oor sy geestelike welstand bekommerd geraak en die saak met die Here reggemaak. Die Sondag daarna het hy in die kerk van sy droom vertel en in die openbaar getuig dat hy na die Here teruggekom het.

‘n Paar dae later het gewapende terroriste by sy skool opgedaag. Hulle het gedreig om sommige van die leerlinge oor die grens vir opleiding te ontvoer. Die skoolhoof het hierdie anti-God mense weerstaan. Toe het hulle al die onderwysers beveel om na buite te gaan, die hoof gegryp en hom doodgeskiet.”

Selfs ook kinders moes met hulle lewens vir hul geloof betaal.

‘n Groep terroriste het by ‘n skool opgedaag en die kinders beveel om nie meer die Bybel te lees en te bid nie. Die vraag is aan hulle gevra of hulle hierdie bevel sal gehoorsaam. ‘n Dogtertjie van omtrent 13 jaar het te kenne gegee dat sy nie daarmee kon saamstem nie. Toe het die terroriste die kind na buite gesleep en haar doodgeskiet. Sy het aan die Bybel vasgeklou toe die doodskoot gevuur is.

God is binne hierdie wrede terroristestryd verheerlik, nie net deur die dapper martelaarskap van baie nie, maar ook deur wonderwerke...

GOD STUUR SY ENGELE

‘n Christen vrou by Chipinge was besig om haar wasgoed op te hang, toe sy meteens ‘n eienaardige gevoel kry. Sy het na binne gegaan en die polisie geskakel. Die volgende dag is ‘n aantal terroriste in die omgewing gevang. In antwoord op ondervraging het hulle vertel dat hulle die vorige dag hierdie vrou se huis genader het met die doel om haar te vermoor. Vrees het hulle oorval en hul het weggehardloop toe hulle merk dat twee groot blink geklede soldate by haar waghou. Die vrou was alleen tuis.

Nog ‘n dramatiese getuienis oor engele...

“Ek wil u van ‘n wonderlike iets vertel wat in die plaasgebied naby Fort Victoria gebeur het. Een van die lede van my seun se personeel het onlangs van sy 3-weekse diensplig in daardie omgewing teruggekom. Hulle het opdrag gekry om ‘n aantal terroriste wat die boere daar bedreig, op te spoor. Hulle het een gevang en hom ondervra.

Hy vertel toe dat hulle na ‘n plaas gegaan het, granate na die huis gegooi en deur die vensters geskiet het. Onverwags het daar “baie mense” uit die huis gehardloop gereed om die aanval af te weer. Daar was so baie dat die terroriste bang geword en gevlug het.

Dit het vir die polisiereserviste snaaks geklink en hulle is na die plaas toe om te probeer uitvind. By hulle aankoms het ‘n ou man en sy vrou hulle ontvang. Toe hulle vra wat gedurende die terroriste aanval gebeur het, het die ou mense geantwoord dat hulle net gekniel en tot God om hulp en beskerming geroep het. Tot hulle verbasing het die terroriste skielik weggehardloop.”

En nog ‘n voorbeeld:

“ ‘n Boer was alleen op sy plaas naby die Mosambiekse grens. Sy vrou en kinders het om veiligheidsredes alreeds die plaas verlaat.

Die aand het die boereradio alarm gewaarsku dat daar terroriste in die omgewing was. In sy eensaamheid was die boer angsbevange. Weens die aandklokreël kon hy nie eens na sy buurman gaan nie. In daardie oomblikke van uiterste benoudheid het hy aan sy kinderjare begin gedink. Hy het ook besonderhede onthou wat hy omtrent God in die Sondagskoolklasse geleer het. Toe het hy neergekniel en omtrent een en ‘n half uur lank gebid. Daarna het ‘n diepe vrede in sy siel gekom. Dwarsdeur die nag het hy rustig geslaap.

Die volgende oggend is hy deur die aankoms van ‘n polisievoertuig gewek. ‘n Konstabel en ‘n terroris het uitgeklim. Hy hoor toe dat die terroriste die vorige nag die eienaar van ‘n buurplaas vermoor het. Die konstabel het bygevoeg: “Ons het vier terroriste geskiet en hierdie een gevang. On het hom saamgebring om te wys waar hulle verlede nag was.”

Die boer het verbaas na die terroris gekyk en gesê : “Maar julle was nie gedurende die nag hier nie!” “O, ja , ons was!”, en hy wys na hulle voetspore naby die huis..

“Waarom het julle nie aangeval nie?”, vra die boer. Die terroris het verduidelik : “Ons was bang vir die soldate in wit uniforms wat hier wag gehou het!”

DIE KERK VAN JESUS BLY ONOORWONNE! REG EN GEREGTIGHEID SAL GESKIED!

Na die afsluiting van hierdie hartseer hoofstuk in die geskiedenis van die stryd tussen lig en duisternis bly die vraag : Wie het gewen? Dalk die duisternis? Mugabe was soveel jare aan bewind en het ‘n eens pragtige en produktiewe land tot in die afgrond van hongersnood en bankrotskap verniel. Soveel mense en spesifiek ook God se kinders moes onregverdig ly.

Daar is net een antwoord. Mugabe en sy wrede magte het nie gewen nie en kan nooit wen nie. Die kerk in Zimbabwe bly voortbestaan! Die poorte van die doderyk sal die kerk nie oorweldig nie. Jesus Christus het die finale sê en ook Mugabe sal eendag voor sy troon moet verskyn. Die martelare wat onder hom moes ly en deur hom gedood is, is deel van die groep wat uitroep : “Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” Hulle kry dan die antwoord dat hulle nog ‘n klein tydjie moet wag totdat die getal van die broers wat nog vir hulle geloof moet sterwe voltallig is! God slaap nie en sal die dood van sy geliefdes wreek! (Openbaring 6:10,11)

Lees oor moorde op sendelinge. Kliek op SENDELINGE

Lees meer oor spesifiek die massamoord by Elim sendingstasie. Kliek op ELIM





*Natuurlik is wreedhede ook deur die anderkant in die stryd gepleeg. Hierdie skrywe gaan nie oor ‘n evaluering van die oorlog en al die deelnemers as geheel nie. 

** Gukurahundi is ‘n Shona woord wat verwys na die “vroeë reën wat die kaf wegwas” en is ‘n benaming vir die onderdrukking van die ondersteuners van Joshua Nkomo in die Ndebele streke in die 1980’s.

Donderdag 01 November 2012

EIENDOM IN ANATOT


- bobaas belegging in ‘n ramp scenario.


Lonmin. Marikana. Malema. Moody’s. Zuma. Zimbabwe scenario... Praatjies oor bloed en grond. Dalende Rand... dit plus die “normale”  korrupsie, stakings en nimmereindigende renosterstropery (waarin wildbewaarders ook hulle deel het om dit tot dusver ‘n rekordjaar te maak)... en natuurlik die daaglikse moorde... plaasmoorde, stadsmoorde, gesinsmoorde, kapingsmoorde met die onlangse moord op die matriekmeisie, Minke Aucamp as nog ‘n hartseer voorbeeld wat mens aan die hart ruk.  Die wêreldbekende blad “The Economist” in ‘n artikel, “Sad South-Africa : Cry, the beloved country”* sê dit wat ons almal lankal reeds weet: “South-Africa is sliding downhill...” Genoeg vertrouevreters om die mees patriotiese Suid-Afrikaanse optimis te laat steier en te laat wonder : “Waar belê ek in sulke omstandighede?” of   “Watter ekomomiese besluite neem ek nou as denkende Christen?” Hoe nou en waarheen?

Die Bybelse argief van eiendomstransaksies gee ons ‘n insiggewende vars perspektief op ‘n tyd soos hierdie. Ons lees hiervan in Jeremia 32.  Kaart en transport : Grond in Anatot. Koopsom : Sewentien sikkels silwer. Geregistreer in die naam van die profeet Jeremia. Gekoop van sy neef Ganamel volgens die lossingsreg. Datum: tiende regeringsjaar van Sedekia...

In Jeremia 32:10 vertel die profeet verder :

“Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ‘n skaal.”

Wat die transaksie verbysterend merkwaardig en onbegryplik maak is die datum en die gepaardgaande omstandighede waartydens dit plaasvind. Sedekia se bewind en die  koninkryk van Juda is besig om te wankel. Jeremia self is onder huisarres, want hy word van dislojaliteit verdink, juis weens sy negatiewe boodskappe rakende die toekoms van sy land. Geen slim Clem Sunter van sy dag met jakkalswysheid en al, sou Jeremia kon oortuig van ‘n moontlike positiewe scenario vir Koning Sedekia en sy land Juda nie!  Nebukadneser se weermag het reeds rondom Jerusalem stelling ingeneem. (2) Belangriker : God het immers self met die profeet gepraat en die oordele wat oor Juda wag aan hom geopenbaar. Daar was geen moontlikheid dat Sedekia die bedreiging van die Galdeërs sou vryspring nie. Allerhande planne van die optimiste om op Egipte te probeer steun, ten spyt. Want ons moet onthou, hierdie donker scenario  was nie maar ‘n toeval van die geskiedenis  nie, maar God se aangekondigde straf oor sy afgedwaalde volk. (3,4) 

Die oordeel oor Juda was  ‘n uitgemaakte saak. Nou waarom maak Jeremia dan ‘n belegging in vaste eiendom in ‘n gedoemde land? Is hy dalk mal? Finansieël onverantwoordelik? Koop ‘n denkende mens tans wildsplase in Zimbabwe???

Nee. God het Jeremia  dit beveel en hy gehoorsaam maar net. Trouens, die verloop van die geskiedenis maak dit baie duidelik dat die arme Jeremia geen persoonlike voordeel ooit uit die transaksie sou trek nie. Hy sou nie ‘n enkele koringkorrel op sy grond plant of oes nie!

God verskaf self die rede vir hierdie uitsonderlike, oënskynlik dwase transaksie. In Jeremia 32:15 lees ons: “want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel : Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.” Jeremia koop die grond in Anatot (naby Jerusalem) as ‘n sigbare getuienis teenoor koning Sedekia en sy landgenote. Dit dien as ‘n bewys dat Jeremia nie maar net bloot ‘n swartgallige pessimis was, soos Sedekia dalk gedink het nie. Hy was maar net die eerlike aankondiger van God se oordeelsboodskap. Maar, hy wat Jeremia is het ook eerlik geglo in God se goeie beloftes van vergifnis en herstel.

Jeremia 32:42 : “So sê die Here: Soos Ek hierdie  groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring.” 

ENIGSTE SEKURITEIT : GOD SE BELOFTES!

Jeremia gehoorsaam God se beleggingsopdrag omdat hy geglo het in die sekuriteit wat God bied, die God wat die toekoms bepaal. Ons wat ook glo in God se beloftes, se toekoms lê nie in ‘n bepaalde geografiese gebied of ‘n  spesifieke politieke bestel op aarde nie, maar in die waarborge wat die onfeilbare God bied.  Ja, die lewe by God self. Hoe so?

Die essensie van God se beloftes aan Jeremia is die Nuwe Verbond. Ja, daar was ‘n tydelike voorlopige vervulling met die terugkeer van die ballinge uit Babel en die heropbou van die verwoeste Jerusalem. (Iewers sou ‘n verlangse familielid van Jeremia dalk dus voordeel uit sy geloofsdaad getrek het) Maar, die Nuwe Verbond vind egter eers volledige  vervulling in Jesus Christus wat ‘n ewige koninkryk kom vestig, eers in ons harte, maar ‘n koninkryk wat uiteindelik sigbaar gestalte sal vind in die nuwe hemel en nuwe aarde. Jeremia 31:33 stel dit so : “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here : Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”  Ons word so mooi in Openbaring 21:3 vertel hoe die Nuwe Verbond tot finale vervulling kom as daar oor die voleinding gepraat word in  verbondstaal : “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” Dis in wese die vervulling van die ewige genadeverbond wat God reeds met Abraham gesluit het! (vergelyk Genesis 17:7)

Alleenlik God se beloftes verskaf ewige beleggingssekuriteit! Dit wat geen aardse regering kan waarborg nie. Maar juis ook dit wat geen Malema, Mugabe of Zuma kan beskadig nie!  Ons vertroue is gebou op die Middelaar van die Nuwe Verbond, ons Here Jesus Christus! In sy koninkryk moet ons belê en ons vertroue in Hom demonstreer deur “grond  in Anatot” te koop! Die Nuwe Testamentiese ekwivalent hiervan is nie luukse  beleggings aan die Weskus of in die Tuinroete se Gholflandgoedere nie. (Bied daardie plekke  hoegenaamd meer sekuriteit as  geweldadige Gauteng?) Ook nie soos sommige dink ‘n plaas in Kanada, ‘n loopbaan in Brittanje of ‘n nuwe toekoms in Australië nie, maar die duidelike opdrag : “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.”

Is jy ‘n ewigheidsbelegger deur geloof in Jesus, gehoorsaamheid, goeie werke en dankbaarheidsdiens? Weerspieël hierdie beleggings jou vertroue op God se beloftes en ‘n Goddelike toekoms?

Wie weet dat sy vaste eiendom in die koninkryk onaantasbaar veilig is, sal ook met groter gerustheid hier en nou kan leef... ten spyte van die Malemas en Zumas... en dalk selfs iewers ‘n grondjie aanskaf (welwetende  ons is net pelgrims hier op aarde en nie permanente inwoners nie)... ja, moontlik ook  in  onstuimige Suid-Afrika, as die Here jou daartoe lei en instaatstel.

Die punt is maar net : Wie skatte in die hemel het, kan met groot vreugde en vertroue ook op aarde voluit leef, in alle omstandighede! As my skat in die hemel is kan ek met vreugde my aardse roeping uitleef, waar ookal  God my in sy voorsienigheid plaas,  hier in Afrika of iewers oorsee! Maak net seker waar jou skat is...

* In die uitgawe van 20 Oktober 2012

Vrydag 27 Januarie 2012

GODDELIKE OORWINNING OP MUGABE SE BERG

“Waarom maak jou God jou siek?” Kaptein Mugabe (dis nou nie die Robert van vandag nie) het hierdie vraag aan die ernstige siek sendeling, ds. A.A. Louw gevra. Wat ’n ongemaklike vraag, veral as ’n heiden van jou hierop ’n antwoord verwag! Kom ons gaan haal die storie by sy begin.

Andries Adriaan (Andrew) Louw was ’n afstammeling uit die bekende Murray familie en gaan in 1883 na Stellenbosch om vir predikant te studeer. In sy derde jaar moes hy egter die verpletterende nuus verneem dat sy linkerlong aangetas is en dat hy nie nog ’n winter in die nat Boland sou kon deurbring nie. Hy moes maar sy boeke bêre en het op die plaas “Eenzaamheid” in die distrik Colesberg in die Karoo gaan werk. Later koop hy ’n buurplaas, “Achtertang” en begin met skape boer. Sy begeerte om in die sendingveld vir die Here te gaan werk, het egter nie verdwyn nie. Later sou hyself verklaar : “Achtertang het vir my ’n kweekskool vir die sendingveld geword.” Op ’n keer hoor hy ’n preek van ds. Helm wat die sendingsaak in Banjailand (tans deel van Zimbabwe) bepleit. Die teks van sy prediking was Jesaja 59:16 : “En Hy het gesien dat daar niemand was nie, en Hom verbaas dat niemand tussenbeide tree nie.” Vir Andrew word dit onder die preek duidelik dat hy homself moet beskikbaar stel vir die Here se werk in die noorde.

Sy vader, soos mens kan verstaan, was nie baie positief oor hierdie voorneme nie. “Ek kan nie glo dat die Here sal wil dat jy op koste van die kerk na die geweste moet gaan om daar na ’n kort verblyf te sterf en begrawe te word nie”, was sy kommentaar. Andrew gaan toe vir ’n doktersondersoek na Stellenbosch. Die uitslag? Hy was gesond! Dit in ’n tyd toe tering as ongeneeslik beskou is. Hy slaag die eksamen vir godsdiensonderwyser en word dus aanvanklik in hierdie hoedanigheid uitgestuur.

Na ’n baie lang reis van vier maande het Andrew Louw op 9 September 1891 sy tent opgeslaan op die berg van Mugabe, naby die Zimbabwe ruïnes, waar die sendingstasie Morgenster sou verrys. Maar nou bevind Andrew hom weereens in ’n gesondheidskrisis as die malaria hom beetpak. Die vraag kom by hom op : “Het die Here my so ver laat kom om hier te sterwe?” Terwyl hy so hulpeloos in sy tentjie lê, ontvang hy besoek van kaptein Mugabe wat hom vra : “Waarom maak jou God jou siek? Laat ons die toordokter raadpleeg om uit te vind waarmee ons Hom tevrede kan stel. As Hy beeste eis, sal ek help betaal.” Wat ’n stryd moes hierdie woorde nie in die jong sendeling se gemoed ontketen het nie! God se eer was op die spel. Hy kon maar net bid en die Here het Hom inderdaad verhoor sodat hy kon getuig : “nie lank daarna nie het Mugabe my gesond aangetref. Die Here het my sonder ’n offer van beeste opgerig.”

Dis ’n wonderlike voorbeeld van Goddelike genesing tot God se eer!


Ook in ’n ander opsig sou Andrew, God se sorg beleef. Hy was reeds 29 jaar oud en sonder vooruitsig vir ’n lewensmaat daar in die verre eensaamheid. Dit is ook ’n saak wat hy voor die Here bring en God voorsien op ’n wonderlike wyse in die persoon van Cinie Malan van Riebeeck-Wes. (Suster van die latere Eerste Minister, dr. D.F. Malan) Sy pas wonderlik in by die bediening en lewer ’n groot bydra onder andere op taalkundige gebied.

Ds. A.A. Louw het uiteindelik die baanbreker sendeling in hierdie gebied geword. Op 16 September 1896, vyf jaar na die aanvang van die werk, kon die eerste bekeerlinge gedoop word. Andrew wy sy hele lewe lank aan die taak van die verkondiging van die evangelie. Dis merkwaardig dat hierdie sieklike sendeling so deur God begenadig word dat hy op die baie ryp ouderdom van 94 jaar op Morgenstersendingstasie sterf! Hy het diep spore getrap. Baie Engelssprekendes in die land het van hom as “Saint Andrew” gepraat en een van die Vakaranga se byname vir hom was “Mudavanhu” (die een wat mense liefhet)

Andrew Louw se lewe is ’n getuienis hoe dat God sy kinders soms deur diep teleurstellings en vertragings lei om Sy heerlike doelwitte te bereik! Mag dit elkeen van God se kinders wat nou deur ’n tydperk van teleurstelling en swaarkry gaan, bemoedig!

(Bron : J.M. Cronje, AAN GOD DIE DANK)