BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Beloning. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Beloning. Wys alle plasings

Donderdag 27 September 2012

ONS BEGRAWE PA

- afskeid van ‘n evangelie voetsoldaat.

[Dit was my voorreg om die boodskap te bring by my Pa, Johan de Koning se begrafnis op 26 September te Walvisbaai. My broer Jacobus het die bedankings gedoen en ds. Peet Poggenpoel van NG Meersig het die teraardebestelling waargeneem.

Pa was ‘n voetsoldaat vir sy Verlosser en Koning, Jesus Christus. Soos een van die broers van Narraville dit gestel het : “hy was ‘n leraar van die veld.” Hy was nie ‘n teoloog wat boeke geskryf het of ‘n kerkamptenaar wat verklarings uitgereik het nie. Hy het die destydse Suidwes-Afrika van hoek tot kant deurkruis en aan almal wat op sy pad gekom het die evangelie gebring. Van Noordoewer in die suide  tot Owamboland in die noorde, van Kaokoland in die verre noord-weste tot die Caprivi in die verre noord-ooste.  Hy het alle nasies bedien : van die Topnaars in die Namib tot die Herero’s en Boesmans in die Kalahari. Ja, Owambo's, Kavango's, Basters, Tswanas, Himbas, Namas, Damaras, noem maar op... en natuurlik ook mede Afrikaners het die blye boodskap uit sy mond gehoor. In die beginjare was sy vervoermiddel die bekende vuilgroen Landrover en later van tyd die groen Peugot en ook ander voertuie.  In kerke, skole, tente, onder bome... in tradisionele krale en weermagkampe...het hy die weg van saligheid verduidelik. Nou het sy stem stil geword hier in Namibië, maar ons weet dat hy tot in ewigheid die lof besing van die Lam. Ja, hy wat vir sovele mense op sovele plekke die liedjie, “Wie wil saamgaan?” geleer het, is nou vir ewig, juigend  in die teenwoordigheid van sy Verlosser!]


Diens onder 'n boom.

Ek het die Woord gebring* uit 2 Timoteus 4:6-8.

“Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voltooi; ek het die geloof behou.”

Paulus skryf hierdie brief kort voor sy dood aan Timoteus. Hy is in die skemeraand van sy lewe. Sy laaste skof op aarde het aangebreek. Sy lang en belewenisvolle loopbaan het nou die einde genader.  Hy praat met nugterheid, kalmte en sekerheid oor sy naderende heengaan en die implikasies daarvan.  Hy skram nie weg van die dood of leef in ontkenning nie. Daar’s geen bitterheid of opstand nie. Dis veral merkwaardig as ons besef, hy skryf  uit die tronk tydens sy tweede gevangeneskap in Rome. Waarskynlik kort hierna het hy die martelaarsdood deur onthoofding gesterf. Moontlik in die tyd van die wrede keiser Nero wat ‘n  onregverdige Keiser en onregverdige Regter was!

Reg hier in vers 6 se begin gee Paulus ‘n besondere perspektief op sy lewe. Hy verklaar dat hy reeds as ‘n drankoffer uitgegiet word. Dis ‘n veelseggende manier om van sy lyding vir Christus in diens van die evangelie te praat. ‘n Drankoffer het behels dat water, olie of wyn voor die Here uitgegiet is. ‘n Oënskynlike verkwisting, maar juis ‘n kosbare simbool van toewyding aan God. Dit word “gemors, verbruik” tot eer van God. Die Griekse woord wat gebruik word vir hierdie handeling is “spendomai”. ‘n Mens hoor onwillekeurig die Engelse woord “spend” hierin. Paulus se lewe is inderdaad verbruik of bestee ter wille van Christus en sy Koninkryk! Maar onthou, wie sy lewe vir Jesus "verloor", sal dit juis vir die ewige lewe "behou." (Johannes 12:25)

As ons nou verder kyk na vers 7 en 8, vra ek julle aandag vir twee hoofgedagtes : Paulus sê iets oor sy lewe en loopbaan wat verby is en iets oor wat hy na die dood verwag.

Ten opsigte van sy lewe wat verby sy lewe wat verby is, maak Paulus hierdie drie kort, kragtige, betekenisvolle frases - “EK HET....” x3

~ “die goeie stryd gestry” Die praktiese Christelike lewe van Paulus, maar ook van elke kind van God is 'n stryd. Christenskap is nie maklik nie. In Efesiërs 6 praat Paulus van 'n worstelstryd. Daar is ‘n stryd teen versoekings en sonde, die leuens, aanvalle en aanvegtinge van die Satan. Paulus het volhard in hierdie stryd. Ook jy as jy die Here Jesus getrou volg, sal stryd ervaar, omdat jy nie meer saam met die wêreld en sy norme gaan nie, maar “stroomop swem”.  Volhard jy hierin, of maak jy kompromieë?

~ “die wedloop voleindig” Die lewe van 'n kind van God word treffend uitgebeeld as 'n wedloop. Net soos in ‘n wedloop is daar  'n begin.  (Paulus se begin was daar oppad na Damaskus, toe God se reddende genade in sy lewe ingegryp het. Die gevolg was ‘n egte Godgewerkte bekering!) Ons moet ook iewers wegspring as ons die doelwit wil bereik. Dis my aanvanklike bekering, as ek Jesus in geloof as my persoonlike Here aanvaar. Maar dit gaan voort. Christenskap behels  nie net ‘n eenmalige besluit nie, maar 'n dag vir dag volhardende keuse. Om aan te hou om op Hom te vertrou en Hom te gehoorsaam. Die wegspring is belangrik, maar aanhou is net so belangrik. Maar gelukkig is daar is ook ‘n wenpaal! Daar wag rus en beloning.

~ “die geloof behou” Dit kan bloot  beteken,  Paulus het enduit bly glo in Jesus. Waarskynlik wil dit in hierdie konteks sê : Paulus het nie afgedwaal van die waarheid van die evangelie nie. Hy het getrou die evangelie bewaar wat God aan hom toevertrou het. (Stott) Paulus het soos byvoorbeeld die Galasiërs brief aantoon, ‘n passie gehad vir die suiwer evangelie. Hy wou niks weet van “Christus plus” nie! Hy het alle valse leringe in stryd met die eenvoudige evangelie verwerp. Dis so belangrik, ook in ons dag om vas te hou aan die suiwer waarheid. Daar is soveel dwalinge : Sommige teoloë ontken die historiese liggaamlike opstanding van Jesus. Verwarde mense hardloop agter die Hebrew Roots Movement aan wat die genoegsaamheid van Christus ontken en ons aanmoedig om weer die Sabbat en voedselwette van die Ou Verbond te onderhou! Pasop! Hou vas aan die waarheid wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is! Dis wat Paulus so getrou gedoen het.

Een groot saak is baie duidelik.  Paulus het nie omgedraai op die pad van Jesus nie. Hy  het begin, maar ook aangehou en volgehou...enduit!

Dan sê Paulus ook iets oor dit wat vir hom wag na die dood. Die implikasie is duidelik. Die dood is nie die einde van alles nie.  Die Bybel stel dit onomwonde : vir God se kinders wag daar 'n beloning na die dood! Oor die detail is dit nie juis sinvol om te spekuleer nie, maar die feit van die beloning staan vas. (vir die wat Jesus se genade geweier het,  wag daar natuurlik ewige straf!) Paulus sê daar wag vir hom 'n kroon. Miskien sê u ja, maar hy was 'n apostel, hy was darem spesiaal.... Paulus ruim gelukkig alle misverstand uit die weg, as hy verklaar,  dis nie net hy wat ̕n kroon gaan kry nie, maar almal wat uitsien na Jesus se koms. Is jy lief vir Jesus, het jy Hom aangeneem as Here en  Koning, sien jy uit na sy koms? Weet dan verseker daar wag ̕n kroon. Filippense 1:21 is eintlik ‘n pragtige verduideliking van Paulus se gedagtes in ander woorde. “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” As die lewe vir jou om Jesus draai, as jy Hom waarlik ken, dan is die sterwe absoluut voordelig en die beste, skoon wins.

Wat is hierdie kroon? Paulus noem die kroon, die “kroon van geregtigheid” (OAV) Geregtigheid is 'n juridiese term. Hy gebruik dit waarskynlik in kontras  met die onregverdige uitspraak wat die aardse regters of keiser oor hom uitgespreek het om hom ter dood te veroordeel. Die onregverdige aardse regters vind hom skuldig, maar die Regverdige Regter Jesus Christus sal hom vryspreek! Jesus spreek almal vry wat op Hom vertrou.  Nie op grond van enige prestasie of goedheid in ons nie, maar weens die genoegsame betaling aan die kruis.

 As jy Jesus aanvaar het,  hoef jy nie die dood te vrees nie. 

Jy staan nie meer skuldig nie, jy word vrygespreek, jy kry die kroon van geregtigheid. Maar die wat op Jesus vertrou het,  kry meer as net vryspraak. Hulle word ook positief beloon. Hulle sal hoor : “Mooi so! Jy was ‘n goeie en getroue dienskneg. Kom in en deel in my vreugde!” (Matt 25:23) Hierdie gedagte van ewige beloning, vind ons alreeds ook in die Ou Testament in Daniël 12:2,3.  Daar lees ons : 

“Baie van die wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en die wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.”

Ons is natuurlik  hartseer oor ‘n pynlike verlies, maar ons weet ons Pa gaan een van diegene wees wat vir altyd skitter soos die sterre. Hy het nie alleen die genade ontvang om self die regte pad te loop nie, maar hy het baie, baie mense in veral hierdie land (Suidwes/Namibië)** ook na die regte pad gelei. Hiervoor bring ons aan God alleen die dank en eer vandag. 

En ons? Geliefdes is ek en jy kompromisloos besig met die goeie stryd, volhard ons in die Christelike wedloop, handhaaf ons die waarheid van die evangelie onverdund  teenoor dwalinge en vals profete? As ek en jy nou aan die einde van ons lewe moet kom, kan ons met vertroue uitsien  na die kroon van geregtigheid?

Paulus praat natuurlik  nie oor sy loopbaan en verwagtinge om homself op die skouer te klop of  menslike applous in te samel nie. Hy moedig hierdeur vir  Timoteus (en vir jou) aan om ook te volhard in die geloofspad. Mag Paulus se woorde, en ja ook Pa se nederige voorbeeld in ons gedagtes en harte voortleef en ons aanspoor.

*Die preek is effens verwerk. Die oorspronklike is beskikbaar in mp3 formaat.

** Natuurlik het Pa ook die evangelie in ander lande in Suider-Afrika verkondig, en was hy selfs op 'n keer in Indonesië.


Na sy laaste aardse rusplek


Tate Vilho Shihandya, 'n ou kameraad uit sy dae in die Dorothea sending praat by die graf.


Voor die Here.



Saam met ons dierbare moeder, wat altyd getrou aan sy sy gestaan het


Lees meer oor Pa deur hier te kliek op PA WORD TAGTIG

Vrydag 27 April 2012

SPEEL VIR DIE SKARE?


- Leef jy voor die mense of leef jy voor die aangesig van God? 

So maklik kan ons ‘n tipe godsdiens bedryf wat gefokus is op mense. Soos sommige rugbyspelers, wat net speel waar die skare dit kan sien en hulle erkenning kan kry, maar daar onder in die losgemaal waar niemand kan sien nie, beteken hulle niks.

In Matteus 6:5,6 praat Jesus oor die belangrikheid van binnekamergebed. Dis 'n uiting van ‘n intieme lewe voor die aangesig van God :

“Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot joun Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” (6)

Die onmiddellike konteks van vers 5,6 is  die waarskuwing teen ‘n vertoonkas godsdiens. Dis vrugteloos en lei tot geen Goddelike beloning nie. (6:1) Dis ‘n godsdiens wat gedurig vra : Wat sal die mense sê of dink? Terloops, ek kan myself toets of ek hieraan skuldig is. Sal ek anders optree en leef as ek sê nou maar alleen in Parys, Frankryk gaan vakansie hou, as wat ek hier in my tuisdorp sal optree waar almal my sien en beooordeel? Iemand wat bewustelik voor die aangesig van God leef, sal orals dieselfde wees en konsekwent heilig leef.

Ware Christenskap, egte geloofsvertroue bring my in kontak met die Hemelse Vader en laat my rekening hou met Hom! Dit vind prakties neerslag in ‘n egte persoonlike gebedsverhouding.

(Natuurlik is daar mense wat hierdie teks graag misbruik as ‘n verskoning om nie bidure by te woon nie. “Ons wil nie skynheiliges wees nie” sê hulle. Jesus verbied nie bidure saam met gelowiges nie. Jesus verbied ‘n skyngodsdiens., ‘n godsdiens wat net op menslike applous ingestel is.)

Twee belangrike opmerkings rondom binnekamergebed:

BINNEKAMERGEBED IS ‘N BAROMETER VIR ONS WERKLIKE VERHOUDING MET GOD

Wat bedoel Jesus as Hy van gebed in die binnekamer praat? Bedoel Hy ons mag net in ons kamers bid en net as die deur gesluit is? Nee natuurlik nie! ‘n Binnekamer kan ‘n verskeidenheid van plekke wees. Jesus se binnekamer was dikwels bo op ‘n berg. In Handelinge 10 lees ons hoe Petrus op die dak gebid het. Binnekamergebed, is daar waar ek alleen en (veral) opreg met God besig is. Dis waar ek met my Hemelse Vader in kontak kom en Hom van harte aanbid en my nood eerlik voor Hom uitstort. Dit gaan nie oor ‘n ritueel of oor ‘n rympie nie, maar oor ‘n egte ontmoeting  met die Lewende God. Die doel van ware godsdiens, die doel van ons redding is om God te ken! Onthou die doel van ons verlossing is nie maar net om te keer dat ons hel toe gaan nie. Nee, dit gaan oor baie meer! God red ons om ons na Homself te bring. Hy wil in ons midde woon. Hy wil werklik ons God en Vader wees! (Vergelyk Eksodus 19:4-6 waar God die doel uitspel waarom Hy Israel uit Egipte verlos het.) Gebed tot God is die vernaamste deel van ons dankbaarheid as verlostes volgens die Heidelbergse Kategismus.*  Dis die belangrikste manier hoe ons God dank vir die verlossing wat ons ontvang het en daarom ook ‘n daadwerklike  bewys dat ons waarlik ontvangers van sy genade is. (Dis ook die weg waarlangs Hy ons gedurig met sy genade voed en die volheid van sy Heilige Gees aan ons skenk.)

Nou kan ons verstaan hoekom opregte persoonlike gebed die barometer van die werklike stand van ons verhouding is met God. As daar iets skort met ons verhouding met die Here wys dit heel eerste in ons persoonlike gebedslewe. As ons wegdwaal van ons Vader word ons gebedslewe eerste aangetas : Dit word ‘n dor ritueel of ‘n vervelige plig. Dit word afgeskeep en  vinnig afgerammel om my gewete te sus. Gaandeweg verdwyn dit heeltemal uit ons lewens.

Afgedwaaldes met koue harte kan vir lank nog die skyn van godsdiens instand hou. Ons kan nog kerk toe kom, Sondagskool gee, besig wees met baie aksies, maar ons kan nie meer kontak maak met die Vader in ons binnekamers nie.

Hoe lyk my gebedslewe op hierdie oomblik?

Wat keer mense om in ‘n binnekamerverhouding met God te staan? Die mees algemene rede : Hulle het nog nooit Jesus ontmoet en as Verlosser aanvaar nie! Ons kan nie werklik kontak maak met God as ons nie Jesus as Middelaar persoonlik ken nie. Ons eie verdienste en prestasies kan nie vir ons onheilige sondaars die pad na die heilige God oopmaak nie. Jesus se kruisdood het die pad oopgemaak (die voorhangsel is geskeur). Ek kan net op grond van Sy verdienste, sy genoegsame offer met God praat en Hom, “Vader” noem. 

Maar ook kinders van God wat Jesus ken se binnekamerlewe kan begin kwyn. Redes : Ons raak te besig, ons raak koud en koel teenoor die Here, ons verwyt God vir iets sleg wat met ons gebeur het, daar is ander dinge wat geleidelik die Here se plek in ons lewens inneem, ons begin een of ander sonde vertroetel... Of ons is vasgevang in kwaaivriendskap en onvergewensgesindheid en dan begin ons teen “die dak vasbid”. As ons in sulke sonde volhard, bedroef ons die Heilige Gees. (Efesiërs 4:30) en ons is juis mos afhanklik van die hulp van die Heilige Gees  as ons bid. (Romeine 8:26,27) Dis 'n hartseer toestand, maar God wil graag hierdie kontakverhouding herstel. Hy wag ons in soos die Vader vir die Verlore Seun uitgekyk het!

BINNEKAMERGEBED BRING ‘N VADERBELONING

Jesus koppel ‘n heerlike belofte aan binnekamergebed. “Jou Vader sal jou beloon.” (6) Wat behels hierdie beloning? Wat wil God vir ons gee? Die beloning word nie hier presies omskryf nie. Ons kan dit dus ook nie beperk nie. Wat wel duidelik is, dit is ‘n Vaderbeloning! God word spesifiek “Vader” genoem in hierdie konteks. Dit het heerlike implikasies. Die term Vader beklemtoon God se  liefde en sorg vir ons. (Psalm 103:13) ‘n Vader weet wat sy kinders nodig het en wil net die beste vir hulle. (Matteus 6:8,31,32) Ons kan dus gerus wees, want ons Vader weet nie net wat ons nodig het nie, maar ook wanneer. Dit raak al ons geestelike en tydelike behoeftes. Die Onse Vader gebed wat Jesus net hierna leer vir sy dissipels wys dat ons mag bid vir als wat ons nodig het terwyl ons oppad is na die Koninkryk en ons beywer vir die Koninkryk : daaglikse versorging, vergifnis en beskerming teen die bose. Ons raak so dikwels onnodig paniekerig, ons skarrel rond om allerhande planne te maak, ons hardloop eerste na mense, ons wend ons tot krag en geweld om dinge te probeer verander...alles omdat ons hierdie heerlike belofte vergeet! 

Hou vas aan hierdie belofte van Jesus en bid gelowig met ‘n verwagting tot jou Vader! (Hebreërs 11:6) 

Kom ons leef biddend voor ons Vader se aangesig. Hy wil ons graag beloon!

* Heidelbergse Kategismus Sondag 45 116
Vraag : Waarom is gebed vir Christene nodig?
Antwoord : Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis. En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

Sondag 25 Maart 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (7)

- briewe wat berispe en bemoedig sodat ons kan oorwin.

Wat is die funksie van die sewe briewe? (Kyk na Openbaring hoofstuk 1-3) Ons is geneig om dit los van die res van Openbaring te lees. Dis egter ’n integrale deel van Openbaring en die boodskap hier is nie iets anders as in die res van die boek nie! Anders gesê, die res van die boek se boodskap sluit aan en vloei voort uit die boodskap aan die 7 gemeentes. As ons dus verstaan wat die Here vir die sewe gemeentes wil sê, verstaan ons ook wat die fokus en kerninhoud van die res van die boek is.

Terloops : hierdie briewe is aan werklike gemeentes gerig! (waar Turkye vandag is) Maar dis ook simbolies bedoel vir die hele kerk. Wat hierdie gemeentes moes hoor moet ons ook hoor. Wat hulle bedreig, bedreig ons ook. Die waarskuwings en aanmoedigings wat tot hulle gerig is, word ook tot ons gerig!

Die inleiding is belangrik vir die verstaan van die sewe briewe self! Let op Openb 1:4 -6 (Lees)

Kyk die klem op die basiese evangelie feite : Vers 5 - “uit die dood opgestaan; verlos deur sy Bloed!” Dis ‘n bevestiging dat die sentrale tema en basis waarop alles in Openbaring berus, die evangelie waarhede van die sterwe en opstanding van Christus is. Die evangelie feite (kruis en opstanding) is die bewys dat ALLE MAG aan Jesus behoort! Dis die boodskap wat telkens na die verdrukte lesers kom en dis wat hulle moes moed gee! (en vir ons wat ly en worstel en wonder...)

Lees nou Openb 1:9-20. Johannes sien ’n visioen van die Verheerlikte Almagtige Christus (onthou die LEEU) en hoor dan die gerustellende woorde : “Moenie bang wees nie” Weereens die praktiese tema van troos! (Vers 17) Dis ’n eggo van die versekering wat ons alreeds in Jesaja 43:1 kry! (Lees)

Sien en oordink die prentjie van Jesus en wees getroos!

In jou moeilike omstandighede, my boer en suster - draai om en kyk na Christus! Besef wie Hy is en.... moenie VREES nie!

Die veiligheid en die waarborg van verlossing lê in dit wat God deur Jesus gedoen het. Die versekerings en aanmanings en alles wat in die briewe staan kom hieruit voort.. Die basis van die briewe is die visioen van die verheerlikte Christus. Dit kan gesien word in die feit dat elkeen van die sewe briewe begin met ’n verwysing na een van die kenmerke van die verheerlikte Christus byv 2:1 en 1:13,16; 2:12 en 1:16 ens. (Gaan bietjie vinnig deur die 7 briewe en kyk of jy dit kan raaksien)

Daar is ’n duidelike eenvormigheid in die basiese boodskap en struktuur van die briewe aan die gemeentes. (Met hier en daar ’n uitsondering)

1. Spreek die leraar aan.

2. Beskrywing van die Verheerlikte Christus.

3. Verwysing na hulle werke wat gevolg word deur aanprysing of kritiek (Dis interessant wat word genoem en nie genoem nie - nêrens word ’n gemeente berispe oor klein getalle of te min geld nie!)

4. Waarskuwing oor die gevolge van ontrouheid. Afvalligheid en laksheid is ’n ernstige saak en het  bitter gevolge!

5. Vermaning om te volhard/Oproep tot bekering (ook binne ’n gemeente moet daar oor bekering gepreek word)

6. Belofte aan die wat oorwin. (Dis die klimaks in elke brief. Dit word geïllustreer deur ’n beeld wat by elke gemeente se omstandighede pas, maar die boodskap is dieselfde : Daar wag ’n heerlike beloning vir elkeen wat vasbyt!)

Wat leer ons samevattend en oorsigtelik uit die sewe briewe?

1. Die klem val op Christus se soewereiniteit en almag. (In elke brief kom dit eerste) Hy hou die gemeentes in Sy hand! Hy het die pryse verwerf wat uitgedeel word. Hierdie almagtige Christus is ’n liefdevolle Christus wat sy lewe afgelê het vir die gemeente. Met sy bloed die verlossing bewerk het. Die groot beklemtoning is dat niemand God se doelwitte kan dwarsboom nie. Dis die groot boodskap aan die verdrukte Christen vir wie dit gelyk het dat heidense heersers wegkom met onreg! (In ons dag net so aktueel)

God is nie bloot ’n argitek met ’n goeie idee, maar magteloos sonder die mens om dit uit te voer nie. HY is die argitek, bouer en voleinder van sy verlossingsplanne! LOOF HOM!

Christus is die regeerder, soewerein, sien dit raak. Die prediking moet mense se oë na Christus toe trek in die eerste plek! (Nie goedvoel boodskappies of net morele opdragte in isolasie nie)

2. Die sewe gemeentes bestaan uit mense wat verantwoordelik gehou word vir hulle dade. Hulle is aanspreeklik!

Hierdie briewe laat ons duidelik sien dat Goddelike soewereiniteit nie onversoenbaar is met menslike inspanning, gehoorsaamheid en goeie werke nie. (Ons moet beide vashou!) Die een sluit nie die ander uit nie. Goeie werke en BELONING vir goeie werke is deel van die Nuwe Testament se lering en staan nie teenoor die vryspraak deur geloof alleen nie! Dit gaan saam soos ons sien in Filippense 2:12-13. (Lees)

3. Volharding in geloof en goeie werke lei tot oorwinning... Uitverkiesing sluit nie die noodsaak tot volharding uit nie! Volharding wat lei tot oorwinning vorm elke brief se klimaks. Om te oorwin beteken dat ons moet volhard in die geloof. Volharding in die geloof beteken prakties dat ons goeie werke in heiligheid en gehoorsaamheid doen. Dit alles is ons reaksie op die liefde van God wat in die evangelie gebeure aan ons getoon is.

Wat sê dit vir ons oor die daaglikse bestaan van die kind van God?

Kyk na die duidelike parallel byv. 3:21. (Lees) Lyding en oorwinning is deel van ons alledaagse Christenskap net soos lyding en oorwinning deel was van Jesus se loopbaan op aarde. Die stryd se uitkoms is nie onseker in die lig van die beslissende slag van die kruis en opstanding nie, maar dis ’n werklike en ’n fel stryd wat sal voortduur tot die finale oorwinning by Christus se wederkoms. Ons word in hierdie wêreld opgeroep om deel te hê aan Christus se lyding sodat ons ook deel kan hê aan sy oorwinning! So baie Christene kyk dit mis en wil net ’n oorwinningspakket hê - dis wat die Amerkaanse TV evangeliste mos aanbied! Maar dis nie Bybels nie!

Wat is die funksie van die briewe en hoe pas dit in by die res van Openbaring? Dit toon aan hoe die Christen se bestaan in hierdie oorvleulingstyd (Die Laaste Dae/Dag van die Here) in spanning staan tussen die soewereiniteit van God aan die eenkant en die verantwoordelikheid van die mens aan die anderkant. Beide waarhee moet ernstig opgeneem word! Dis Christus self wat ons veilig in sy hand hou en tog word goeie werke en volharding van ons geëis! In hierdie oorgang/oorvleuelingstyd het ons ’n stryd om te stry - dis die stryd van heiligmaking! Dis ’n stryd teen teen sonde en teen Satan! Dis ’n fel stryd, maar die uitslag is seker! VOLHARD net! Daar wag ’n heerlike BELONING!