BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vastigheid van die Woord. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vastigheid van die Woord. Wys alle plasings

Vrydag 31 Januarie 2020

WAARHEIDSKOMPAS

- God se WOORD in tye van misleiding en lyding! 


Die lering van die valse profete word gekenmerk deur ‘n liefde vir die self. (Kliek op Selfbeheptheid) Teenoor die leer van die vals leraars het Timoteus die voorbeeld van Paulus, die ware apostel gevolg. Ons lees hiervan in 2 Timoteus 3:10-17. Dis ook in hierdie gedeelte waar Paulus positief vir Timoteus (en ook vir jou en my) aanmoedig! 

‘N LEWE VAN VRUG ÉN VERVOLGING 

Dit is ‘n totaal teenoorgestelde koers en rigting. Die pad van die valse leraars is ‘n pad van selfgesentreerdheid – selfbeheptheid, selfbelang, ‘n liefde vir geld en ‘n liefde vir genot eerder as vir God! Die leefstyl en loopbaan van Paulus staan in skrille kontras met die van die vals leraars. 

Paulus se lewe word bepaal deur ‘n liefde vir God en selfopoffering. Die pad wat Paulus geloop het en wat Timoteus nagevolg het is ‘n lewenswyse gekenmerk deur geloof, geduld, liefde en dit lei noodwendig tot vervolging en ontbering. “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (12) Kategoriese uitspraak! En dis waar van alle Christene, alle tye, in alle omstandighede... As jy dus nog nooit teenstand, bespotting of vervolging gekry het ter wille van jou Christenskap nie, dan is daar iewers fout... Hoor mooi ter wille van Christenskap – met ander woorde as jy ly omdat jy nie jou skuld betaal nie, is dit jou eie fout en nalatigheid. Dis iets heel anders as Christelike lyding! 

Terloops, Paulus het op baie plekke gely, maar hy noem waarskynlik juis hierdie drie stede in Galasië, naamlik Antiochië, Ikónium, en Listra, omdat Timoteus self ‘n inwoner van Listra was en heel moontlik ‘n ooggetuie was toe ‘n skare hom daar buite die stad uitgesleep het en met klippe gegooi het. (Vgl. Hand 16:1)* 

Die punt wat Paulus maak is – “Timoteus, daar sal altyd vervolging en swaarkry wees vir Christene en daar sal altyd die gevaar wees van goddelose bedrieërs wat ander mislei. Jy weet mos wat het met my gebeur!” 

AANMOEDIGING 

Timoteus het die regte pad geloop en nou wil Paulus hom aanmoedig om in die toekoms nog steeds die regte pad te bewandel. Teen die agtergrond van die misleiding van die mensgesentreerde boodskap van die dwaalleraars word Timoteus nou aangemoedig. (14) Die hoofsaak is: “Bly by wat jy geleer het.” Die boodskap wat jy by my as apostel geleer het. Moenie nou agter hierdie nuwe rigting en nuwe idees aanloop nie. Pasop vir die sogenaamde progressiewes! Progressiewe Christenskap is niks anders as regressiewe dwaling nie! Bly by die oorspronklike evangelie boodskap wat ek Paulus die apostel aan jou verkondig het. Terloops – as mense beweer dat hulle nou ‘n nuwe openbaring ontvang het, of dat God nou iets nuuts aan die kerk in die laaste dae bekend gemaak het- dan moet die rooi ligte flikker. Die evangelie is vir eens en altyd oorgelewer. God sal nooit n nuwe boodskap gee in stryd met die Skrif nie. Orals in die NT word ons opgeroep om vas te hou aan die boodskap wat reeds aan die apostels en kerk gegee is. “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (Judas 3) 

Pasop vir nuwe morele waardes. Byvoorbeeld- Dwarsdeur die Bybel was God se bedoeling vir die huwelik ‘n lewenslange verbintenis tussen man en vrou – nou skielik wil mense dit verander, omdat ons in nuwe tye woon! Paulus vermaan Timoteus om te bly by wat hy van hom (Paulus) geleer het. 

DIE HEILIGE SKRIF HOU ONS OP KOERS! 

Maar nou - baie belangrik! Paulus se prediking het nie sommer uit die lug geval nie. Paulus se prediking was vanuit die Skrifte, gebou op die Skrifte! Luister na wat Paulus aan koning Agrippa tydens sy verhoor vertel in Handelinge 26:22. “Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het” (Vgl. Romeine 1:2) 

In ’n vyandige omgewing van misleiding en swaarkry, is daar net een manier hoe jy gaan oorleef - ken die Skrif! 

In die stormsee van teenstand en dwalings is daar net een manier hoe jy veilig gaan seil - as jy die kompas van die Woord het. Hoe gaan jy volhard as jy nie die beloftes van God ken wat mens krag gee om vas te byt nie? Hoe op aarde gaan jy onderskei wat is misleiding en wat is waarheid as jy nie spesifieke Bybelse kriteria en voorskrifte ken nie? Geestelike dwaling kom waar mense nie die Skrif ken nie... “Maar Jesus antwoord hulle: "Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22:29) Die groot vyand is Satan en sy bose magte - hoe oorwin ons en bly staande? Ons het 'n kragtige wapen nodig. Wat is dit? Die swaard van die Gees. En wat is dit? Die Woord van God! (Efesiërs 6:10ev)  Selfs Jesus het hierdie wapen gebruik tydens sy versoeking in die woestyn. "Daar staan geskrywe..." (Matteus 4.) 

Voordat die Woord vir jou tot nut kan wees, moet jy dit lees en ken. Toe onder die stof op jou bedkassie is die Bybel wat jou ouma jou geskenk het van weinig waarde! Ken die Woord soos jy die alfabet of maaltafels ken. Iewers het jy dit geleer - anders sou jy dit nie geken het nie. Iewers moet jy die Woord leer ken. En neem tog kennis, Timoteus het dit van kleins af geken. “en jy ken van kleins af die heilige Skrif.” (15) Die belangrikste kennis wat jy jou kind kan leer, is kennis van die Skrif. In Timoteus se geval was dit waarskynlik sy ma en ouma wat dit vir hom geleer het. 

DIE WAARDE VAN DIE WOORD 

Watter praktiese verskil maak Skrifkennis aan ’n mens? Anders gesê, waarom moet ek die Bybel ken? 

1) Dit vertel jou hoe jy verlos kan word. Dit lei jou na die Persoon, Jesus! “...Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.” (15) Ken jy dit? Weet jy wat ’n mens moet doen om gered te word? Sal jy dit met beloftes uit die Skrif kan verduidelik? As jy dit nie vir ander kan verduidelik nie, ken jy dit self waarskynlik ook nie. Dis tog op grond van die Skrifbeloftes wat mens glo, dat jy gered word. 

2) Dit rus jou as reeds verloste toe vir goeie werke. Dit vertel jou hoe om as kind van God op die regte manier uit dankbaarheid te leef. Paulus noem ’n paar praktiese dinge in vers 16. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,” Dis ‘n mondvol. Dink bietjie daaroor. 

Voel jy geestelik onseker, moedeloos en verward? Word jy gebombardeer deur versoekings en beskuldigings van Satan? Begin erns maak met die Woord. Dit verg ’n doelbewuste poging. 

Vat daai Bybel en begin dit lees en leer! Gaan na 'n kerk waar die Woord suiwer binne konteks uitgelê word!

GOD PRAAT MET JOU! 

Die kruks van die saak kry ons in 16. “die hele Skrif is deur God geïnspireer...” Glo jy werklik dat God deur hierdie boek praat? Die lewende God, die Skeppergod wat alles gemaak het, die genadige Verlossergod, ook die God wat ons eendag gaan oordeel... Hier in hierdie boek praat Hy duidelik en persoonlik met jou en my... Stel jy belang om te hoor wat Hy sê? 

Wat jy met hierdie Woord maak, gaan ’n radikale verskil in jou lewe maak NOU en EWIG! 

* “Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was ‘n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ‘n gelowige, was ‘n Joodse vrou en sy pa ‘n Griek.”

Vrydag 25 Januarie 2019

WAAROM KRY EK NOU SO SWAAR?

- Jy word dalk voorberei om ander te troos! 


Troos en bemoediging is dit wat ons elkeen nodig het. Om die eenvoudige rede dat ons stukkende mense is wat in ‘n stukkende wêreld leef. Ons aardse bestaan word gekenmerk en aangetas deur sonde, swaarkry, siekte en ons is ook almal onderworpe aan sterflikheid. Ons het reeds uit Jesaja gesien, die enigste ware troos is dit wat God ons gee deur Jesus Christus. (Kliek op TROOSBOEK) Nou gaan ons ‘n stappie verder : Hoe kan ons ander met hierdie evangeliese troos bemoedig en vertroos? 

Paulus praat aangrypend en ook baie prakties hieroor in 2 Korintiërs 1:3-11. Terloops Jesaja se gedeelte oor die Goddelike troos is heel waarskynlik in sy agterkop as hy hier skryf. 

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,...” (2 Korintiërs 1:3,4 NAB) 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.” (2 Korintiërs 1:3,4 OAV) 

Die konteks waarin Paulus van hierdie troos praat is baie interessant . Die 2 Korintiërs brief is eintlik ‘n taamlik kwaai brief vol baie ernstige waarskuwings. Tog is dit Paulus se diepste begeerte dat die troos van God wat hyself self van God ontvang het die gemeentelede sal bemoedig in hulle stryd en omstandighede. Hierdie gedeelte is vir elkeen wat Jesus ken ‘n kragtige aansporing en uitdaging om betrokke te raak by die vertroosting van medegelowiges! 

Hoe lyk vertroosters of bemoedigers wat Goddelike troos aan ander moet bring? 

Ware vertroosters het self troos gevind by God. (3,4) Goddelike troos is vir Paulus nie maar net ‘n stuk mooi teorie nie. Hy het dit persoonlik, proefondervindelik beleef en nou kan hy ander troos. Voor jy ander wil troos, toets eers jou eie fondasies! Is jy al getroos deur die evangelie? Anders gestel -Is Jesus self jou fondasie en hoop? Ondervind jy vertroosting vanuit die feite van sy kruis en opstanding, sy naderende wederkoms en sy daaglikse teenwoordigheid deur die Heilige Gees? 

Ware vertroosters wag en hoop geduldig op God se tyd saam met diegene vir wie hulle bemoedig. “Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.” (10) Ook Jesaja het dit duidelik gemaak dat God self iets nuuts gaan doen, Hy gaan uitkoms bring. Hy doen dit op sy tyd wat die beste tyd is. 

Ons durf nie goedkoop troos of onrealistiese raad te gee nie. 

Ons sê nie vir mense, “ag, dis nie so erg nie” (want dit is erg), “die tyd sal als genees nie” (want dit gebeur nie altyd nie). Ons smokkel nie met mense se koppe dat “alles beter gaan word nie” (want dit gebeur nie altyd nie) Maar wat sê ons dan wel? Dat God ‘n nuwe begin gemaak het deur Jesus Christus. Dat Hy in Jesus ons skuld weggevat het deur sy kruisdood en opstanding en dat ons weet daar gaan ‘n nuwe hemel en aarde kom waar daar nie meer onreg, sonde en dood sal wees nie! In die tussentyd moet ons geduldig wag totdat Hy self ‘n antwoord sal gee op die dringende en dikwels onuitgesproke vrae in ons harte van : “Hoe lank nog Here?, Wanneer gaan daar 'n einde kom aan my smart?, Wanneer gaan reg en geregtigheid geskied?” (soos die martelare in Openbaring) Ja, ons weet dat dit God dikwels behaag om nou reeds hier op aarde wonderlike uitkomste en uitredding te gee, soos Hy wil en goed dink. Ons wag saam met ons lydende broers en susters geduldig daarop. Maar ons weet dat die groot finale troos eers by die wederkoms sal aanbreek en ons herinner mekaar daaraan om geduldig te volhard tot op daardie tyd. Ons wat troos en bemoediging bring word self beproef net soos die mense vir wie ons bemoedig. Ons moet dus langs ons broers en susters gaan sit en geduldig saam die lyding wat oor ons kom verduur terwyl ons mekaar herinner aan God se beloftes. Dis die beloftes van God vir wie niks onmoontlik is nie. Dit gaan oor vertroue op God wat selfs die dooies opwek! “Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.”(9) Dit bring mens by die volgende kenmerk van ‘n trooster. 

Ware vertroosters vertroos mense uit die Woord van God. Onthou wat ons in Jesaja gehoor het - “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” (Jesaja 40:8) In ‘n stukkende en vals en gedurig veranderende wêreld is die enigste vastigheid, God se onfeilbare Woord, sy onbreekbare beloftes! Hier is net ‘n woord van waarskuwing nodig. 

Pasop om te vinnig na ‘n regklinkende teks te gryp en vir ‘n stukkende mens te vertel: “Hier is jou antwoord!” 

 ‘n Te vinnige pleistertjie. Dit gaan nie hieroor dat ons net ‘n lys van tekste ken vir elke situasie wat mag opduik nie. Dit gaan eerder daaroor dat ons denke en begrip oor ‘n lang tyd gevorm is deur voortdurende omgang met die Woord sodat ons met nederige insig en sagmoedige wysheid goeie raad kan gee. Vertroosting vanuit die hele Bybelse geskiedenis en God se plan met ‘n gebroke wêreld. 

Ware vertroosters vertroos andere as mense wat self weerloos en gewond is. Paulus is baie eerlik hier oor sy eie lyding en hoe dit hom tot wanhoop gedryf het. “Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is.” (8,9) Die bekende Anglikaanse teoloog NT Wright* sê dit wat Paulus hier beskryf is in ons taal “a nervous breakdown” ‘n Senu-ineenstorting! Paulus erken dat die swaarkry vir hom heeltemal te veel geword het. Hy ontbloot homself eintlik hier voor die lesers. Die een wat troos is self een wat swak is. Hy sluit hier op ‘n dieper manier aan by die boodskap van Jesaja 40-55. Die kern van daardie profesie is die Lydende Kneg van God, Jesus wat namens ons gely het. Hy het swak en broos geword ter wille van ons. Jesus het heeltemal een geword met die stukkende en skuldige mens. Dit het daarop neergekom dat Jesus Homself ten volle in ons as sondaars se plek geplaas het, Hy het Homself met ons geïdentifiseer. Dink net : Hy gaan staan in die ry van sondaars om deur Johannes gedoop te word... Hy het ons sonde en daarom ook ons pyn en ons lyding op Homself geneem. As ons ware troos aan ander wil bring sal ons iets van hierdie gesindheid van Jesus moet betoon. Ons moet nie net raad gee vanaf ‘n veilige afstand nie, maar langs die gewonde persoon as mede gewonde gaan sit en saam huil as stukkende mense!  En, baie mooi te luister! En onthou dis nie net ons wat ander help nie, ander help ons ook. “Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid.” (10,11) Gebed speel ‘n sleutelrol! 

Om saam te vat : Troos en bemoediging gebeur saam daar waar mense wat self Goddelike troos ondervind het, eerlik met mekaar is oor ons gebrokenheid, waar ons op grond van die beloftes van God se Woord mekaar aanmoedig om volhardend te op Hom vertrou en waar ons vir mekaar bid! 

Ontvang God se troos en gaan deel dit uit! Skep moed uit die feit dat Hy die swaarkry en lyding wat jy tans ondervind gebruik as voorbereiding vir jou taak as trooster!


*Ek gee graag erkenning aan die teoloog NT Wright vir die gedagtes en insigte in hierdie stuk.  Kliek HIER vir sy volledige preek.