BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Geloof. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Geloof. Wys alle plasings

Vrydag 11 Januarie 2019

DEUR MOEILIKHEID

MET BLYDSKAP OP PAD NA 

VOLMAAKTHEID



Ons is nog nie klaar met die temas van voorspoed en seën nie. Ons het reeds twee belangrike dinge geleer oor geseëndheid : Elkeen IN Christus is ‘n geseënde. Die seën wat ons in Hom ontvang het is geestelike seëninge. (vergifnis, kindskap, die grootste seëning is dat die Heilige Gees in ons woon en ons ewige erfenis waarborg) Luister net weer na Efesiërs 1:3. * 

PROBLEEMVRYE LEWE?

Maar tog bly daar nou baie vrae in jou hart oor. "Ja, ek weet ek is ‘n geseënde in Christus, ek weet ek is vergewe, ek weet ek kan uitsien na die ewige heerlikheid. Maar wat van nou? Hoe raak my geseëndheid my alledaagse praktiese lewe?" (“Ag, Here ek dien U mos, U moet darem net sorg dat ek nie moeilikheid kry nie.”) Wat kan ons verwag van die lewe as geseëndes? 

Die brief van Jakobus kan ons baie help, dis 'n praktiese boek. Mens kan amper sê, Jakobus is die Spreuke van die Nuwe Testament. Kom ons kyk na Jakobus 1:2-8. Sommer met die intrapslag verstom hy ons…. Dit kom daarop neer : “Ag julleself gelukkig as julle baie moeilikheid kry!” (2) Het ons reg gehoor? Ja, ons het gehoor die seëninge is geestelike seëninge maar ons hoop tog maar op ‘n probleemvrye lewe wat rustig is en waar al ons planne sal uitwerk en alles sal goed gaan. Nou kom Jakobus en sê julle moet bly wees oor moeilikheid! Geseënde van God, jy kan moeilikheid verwag en meer nog, jy moet dit nie net verduur nie, jy moet daaroor bly wees! Regtig? JA! 

STANDVASTIGHEID EN VOLMAAKTHEID

Jakobus maak nie sommer net ‘n stelling in die wind nie, hy gee ‘n duidelike rede hiervoor. “want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming” (3,4) 

Moeilikheid is die pad na geestelike rypheid. Na volmaaktheid.** 

Maak Jakobus nie dalk ‘n fout nie? Kom ons kyk wat sê een van die ander NT skrywers, Paulus. Romeine 5:3-5. 

“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” Selfde storie! Moeilikheid en swaarkry kweek volharding en standvastigheid. Deur moeilikheid kom ons by ons einddoel uit. 

Wat is die volmaaktheid waartoe die volharding deur beproewing en toetse ons bring? Die NAB praat van geestelike rypheid, geestelike volwassenheid. Pasop om volmaaktheid te tegnies te verstaan en dan sommer maklik die verskoning te gebruik dat niemand in elk geval volmaak kan wees nie. 

Wat is dit? Dis ‘n lewe van wysheid. Goddelike wysheid. Wat is wysheid? Jakobus sê vir ons. Jakobus 3:13-18. 

“Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 

Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 

Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 

want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 

Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” 

God gebruik moeilikheid om jou ‘n volwasse lewe van wysheid te bring. Hy gáán dit doen. Hy doen dit met elkeen van sy kinders. 

WYSHEID EN GEBED

Hoe gebeur dit prakties? Hoe lei moeilikheid ons na volwassenheid en wysheid? Te midde van die moeilikheid moet ons BID! Moeilikheid, versoekings en beproewings en aanvegtinge dwing ons op ons knieë. “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid.” (5:13a) Bid vir wysheid. Hier kry ons ‘n heerlike belofte. God gee wysheid aan diegene wat Hom vra. Onthou net weer wat is wysheid – Dis ‘n radikale nuwe lewenshouding. “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.” (3:17) 

Hier is net ‘n belangrike voorwaarde vir gebed. Geloof. Wat bedoel hy met geloof? Is dit hierdie spoggerige selfversekerdheid dat ek als sal kry waarvoor ek vra? Nee. Hy kontrasteer geloof met dubbelhartigheid. Die woord wat die NAB met "altyd aan die twyfel" vertaal is dubbelhartig- diyucoV, (letterlik dubbelsiel) Hoe lyk ‘n dubbelhartige persoon? "Ek sal die Here probeer en maar kyk of dit werk, ek sal godsdiens probeer maar as dit nie vir my die regte resultate lewe nie, dan los ek dit." Dubbelhartigheid is om al my opsies oop te hou. Ware geloof sê : "Here, ek vertrou op U al moet ek ook vergaan!" Die dubbelhartige persoon probeer orals inpas. Op twee stoele sit. Tussen die kerkmense praat ek asof ek die Here ken en ek gebruik die regte woorde… Tussen die wêreldlinge dan gebruik ek weer ‘n ander woordeskat… Dubbelhartigheid is die grootste enkele rede waarom mens nie geestelike vordering maak nie! 

Vir dubbelhartiges het Jakobus net een raad. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (4:8-10) *** 

Voorspoed en seën vir ‘n kind van God beteken nie ‘n probleemlose lewe nie, dis vol toetse en beproewings. Dis God se opvoeding om my geestelik volwasse te maak sodat ek met wysheid kan leef in hierdie wêreld. Hierdie wysheid kry ek as ek biddend God daarvoor vertrou met ‘n onverdeelde hart! 

Gaan lees Jakobus ‘n slag biddend deur. Hierdie eerste paragraaf is die inleiding en hy werk die temas wat hy hier aanraak verder in detail uit. Temas soos beproewings, wysheid, geloof, gebed en volharding. 

Kom ons sê dit weer :

Moeilikheid is deel van ‘n kind van God se lewe. Moeilikheid moet ons nie moedeloos maak nie. Dit moet ons bly maak, want dis God se pad vir ons na geestelike rypheid! Dis ‘n pad wat ons gelowig biddend moet stap! 



*Vir die bespreking van Efesiërs 1:3-14, kliek op GESEËNDES 

**Grieks - teleioV

*** “huigelaars” in die NAB is die vertaling van diyucoi ("dubbelhartiges" - OAV)

Hugenote monument, Franschoek.

Donderdag 02 Maart 2017

KYK NA DIE STERRE

en GLO!

Abram, soos ons almal weet, was ‘n man van geloof. Die vader van alle gelowiges. Maar dis baie belangrik om altyd te onthou dat God self die inisiatief geneem het met Abram op die geloofspad. In Genesis 12:1-4 lees ons van hoe God vir Abram ‘n gewone afgodsdienaar geroep het, ‘n opdrag aan hom gegee het en beloftes aan hom gemaak het. 

“Die Here het vir Abram gesê: "Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees."
Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here...”

Dit was die begin van Abram se geloofspad – hy het die beloftes geglo en dus gehoorsaam weggetrek al het hy glad nie geweet presies waarnatoe als sou lei nie. Belangrik om nou reeds te sien : 

Geloof is geloof nie in wat ek wil glo of wens nie, maar geloof in God se duidelike beloftes! 

NIE MAKLIK NIE! 

Hierdie pad van geloof was natuurlik nie maanskyn en rose nie. Dit was ‘n pad vol bedreigings, vertwyfeling, aanvegtinge, herhaalde keuses en volharding. Dit was geen afdraende ontspanningspaadjie nie, maar ‘n opdraande stryd. Abram se geloof was voortdurend onder druk. Hoe so? Ons weet God het hom ‘n groot nageslag beloof, maar nou na jare was Abram steeds kinderloos. Abram word in sy geloofsbestaan bedreig. Dit was die harde feite en dis die agtergrond vir die merkwaardige gebeure in hoofstuk 15. Hier kom die Woord van die Here na Abram en sê vir hom : “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot.” (OAV) God gee ‘n versekering aan Abram. Hy wil Abram versterk en bemoedig. 

HY MAAK SY HART OOP 

Dit lyk of God se bemoedigende woorde van versekering Abram se hart raak, want hy maak sy hart oop en praat eerlik oor die wanhoop en frustrasie wat in sy hart is. (Genesis15:2,3) In effek kom dit daarop neer: “Ek is op pad om kinderloos te sterwe Here, so wat help al die beloftes van ‘n land en beskerming? Wat help die wonderlike belofte van ‘n land as daar geen nageslag is nie?” Geloof beteken nie ons kan nie eerlik met God wees nie. Geloof is immers ook ‘n leerproses en in die proses mag ons maar vrae vra. Abram suggereer dat hy maar ‘n plan B gemaak het en sy getroue dienskneg Eliëser aangeneem het as sy erfgenaam. Dis so ‘n tipies menslike aanpassing en mensgemaakte oplossing. Dis egter nie God se wil nie. God weier om deur ‘n surrogaat ‘n kwasievervulling van sy belofte te gee.* Die belofte was immers dat Abram se nageslag ‘n groot nasie sou word en die land erf. (Terloops, dit was ook nie Abram se laaste keer dat hy na ‘n menslike plan gegryp het nie... In Gen 16 luister hy na Sara en neem Hagar as vrou; dit lei tot Ismael se geboorte en eeue van geweld en ellende) Abram se plan is nie God se plan nie, want God vervul nie sy beloftes halfpad nie. Hy maak ook nie halwe beloftes nie – ook nie aan ons nie, Hy belowe nie halwe vergifnis, halwe redding en ‘n halwe hemel nie. Bo alles Hy het nie ‘n halwe Verlosser beloof nie, maar sy eniggebore Seun! 

BELOFTE HERNU 

God self kom Abram te hulp met ‘n hernuwing van sy oorspronklike belofte. Die Almagtige God hoef nooit terug te val op ‘n plan B nie. God maak seker dat daar geen misverstand kan wees nie – nie ‘n aangenome kind nie, maar een uit jou liggaam, Abraham! Jy het reg gehoor - JOU liggaam! Maar dit was juis ook die probleem. Abram se liggaam was oud! Verstorwe noem Paulus dit! “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.” (Romeine 4:18,19 OAV) 

“Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!” 

Opvallend, die Here verwyt nie die weifelende en wanhopige Abram nie, Hy kom hom helpend en bemoedigend tegemoet. Hy vat Abram na buite. Sien...Abram uitstap in die donker woestynnag, sy oë oplig na die helder sterrehemel... Hy hoor die opdrag : “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan!” Kyk na die almag van God! In gewyde stilte kyk hy, kyk hy... Dink vir ‘n oomblik hoe Abram in stilte na die sterrehemel staar en die oorweldigende almag en majesteit van God indrink... KYK NA DIE STERRE! ‘n Woordlose boodskap van God : “Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!” Dalk is dit vir ons in ons swakheid nodig om letterlik weer na die sterre te gaan kyk... Ons kan die boodskap van die sterre dalk nog beter as Abram verstaan...ons weet mos daar is der miljoene galaksies met elk der miljoene sterre...oneindig, ontelbaar! Duiselingwekkend! So oneindig almagtig is God. Ja, wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik. Dis wat Maria moes hoor... “Niks is vir God onmoontlik nie." (Lukas 1:37) Dis wat die ontnugterde dissipels uit Jesus se mond hoor na die hartseer gebeurtenis met die ryk jongman... “Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (Lukas 18:27) 



KYK NA DIE STERRE! AANSKOU GOD SE ALMAG! 

Die almag van God is die antwoord op ons wankelende geloof! KYK NA DIE STERRE! 

Twyfel jy? Wonder jy? Kan die Here my regtig vergewe? – KYK NA DIE STERRE! Kan die Here my veilig bewaar om in sy koninkryk in te gaan? KYK NA DIE STERRE! Kan God sy kerk in stand hou teen die vloedgolf van boosheid en goddeloosheid? KYK NA DIE STERRE! 

Daar onder die sterrehemel, waar God sy beloftes sigbaar onderstreep met sy almagswerke** daar glo Abram weer opnuut. “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (6) Geloof is die antwoord van die mens op God se beloftes. Sonder God se beloftes, sonder God se Woord is daar geen geloof nie. Weereens -Geloof is daarom nie gebou op wat ek graag wil hê of doen nie, maar op dit wat God belowe in sy Woord om te doen. 

Waartoe wil hierdie gedeelte ons oproep? Om opnuut ons geloof in die beloftes van God te stel. Spesifiek in die belofte aangaande sy Seun. Die afgehandelde genoegsaamheid van sy kruisoffer en sy opstanding. Paulus praat so heerlik hieroor... 

“Daarom is dit hom (Abraham) ook tot geregtigheid gereken. 
Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking." (Rom 4:22-25) 

Ja, die sigbare feite maak ons moedeloos en laat ons wanhoop. Die sigbare (en ongemaklike) feite oor ons sondigheid, gebrokenheid en vele geloofsmislukkings..., maar daar is iets groter - God se Almag. Sy ALMAG skyn feitelik, sigbaar duidelik in die naghemel bokant ons... Nog heerliker... God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Abram se geloof was in God en sy beloftes. Ons geloof is in God wat Jesus oorgelewer het vir ons sondes – ons sondeskuld is betaal, en Hom opgewek het en so ons vryspraak/regverdigmaking verseker het! 

Gaan kyk na die sterre, glo in God wat sy Seun Jesus vir jou oorgelewer en opgewek het! Dank Hom met jou lewe! 




*A van Selms p222, De prediking van het Oude Testament, Genesis deel 1

** God se algemene openbaring naamlik sy openbaring deur die skepping versterk ons geloof in sy besondere openbaring, sy openbaring deur die Woord. Hierdie waarheid is die eerste keer onder my aandag gebring deur Nico van der Walt.

Maandag 09 September 2013

ROL DIE KLIP WEG

- As jy glo sal jy die openbaring van God se mag sien !*



Rol die klip weg. Hierdie opdrag van Jesus moes onwerklik en onrealisties geklink het!


Lasarus, Marta en Maria se broer is al vier dae gelede dood en sy lyk het al begin ontbind.  (Lees gerus weer die gebeure in Johannes 11)

Jesus was laat vir die begrafnis van een van sy beste vriende...

Vrydag 11 Januarie 2013

JESUS BIED STEEDS HOOP


 – al misluk alles en almal.

(Lees eers die aangrypende gebeure in MARKUS 9:14-29) 

Gewoonlik praat mense aan die begin van die jaar oor nuwejaarsvoornemens, ek dink ons moet liewers eers kyk na ‘n paar nuwerjaarsfeite! (miskien sal dit dan wel daartoe lei dat ons voor die aangesig van God wel sekere besluite neem oor ons lewens) Dis feite wat na vore kom uit hierdie gebeure van 2000 jaar gelede, maar dis presies net so geldig vandag nog. In hierdie gedeelte word ons gekonfronteer met skokkende feite, maar ook inspirerende feite. Feite wat ons hartseer maak, maar ook feite wat ons opnuut bemoedig en hoop gee! Ons kan die feite groepeer rondom die drie hoofrolspelers in hierdie gebeure : die kragtelose dissipels, die gelowige pa en die Almagtige Jesus! 

1. Die kragtelose dissipels : dis die groot skok en teleurstelling hier. Jesus keer terug van die berg van Verheerliking waar sy majesteit en Goddelike opdrag deur die stem uit die hemel bevestig is. Wat Hy nou by sy terugkeer aantref is ‘n groot skande... en antiklimaks. Hy kom af op ‘n Stryery! Die oorsaak was die dissipels se magteloosheid om ‘n bose gees uit ’n kind uit te dryf. Jesus hoor toe by die pa wat aangaan en reageer baie skerp teenoor sy dissipels : “Ongelowige geslag..." (19) Dis die tragiese stand van sake - die dissipels wat volgelinge van Jesus is, is maar net so ongelowig soos al die skeptiese mense rondom hulle. Hulle is niks anders as die res van die volk nie. Hulle wat hoop moes bring is tot niks instaat nie. 

Dis ‘n ramp wanneer mense wat veronderstel is om in die krag van Jesus te leef, kragteloos is. 

Die kragteloosheid van Jesus se volgelinge, die hulpeloosheid van die kerk (juis ook in ons dag) is ‘n verontrustende en tragiese feit. Het die kerk (ek en jy is mos die kerk) ‘n kragtige getuienis en effek op die mense rondom ons? Het ons getuienis die afgelope jaar tot ander mense se bekering gelei, kon ons ander mense uit die Woord help sodat huwelike en gesinne herstel kon word? Het ons die Woordkennis en geloof om mense in geestelike nood te help? Kon ons troos en rigting gee? Was ons ‘n voorbeeld vir die mense rondom ons? Was ons vir die wêreld ‘n navolgingswaardige model van huwelikstrou of was ons maar net so ontrou? Is ons vreugdevolle positiewe mense of is ons net so vol klagtes en ondankbaarheid soos almal rondom ons? Lei ons ons kinders op ‘n pad van goeie waardes en goeie maniere of lyk hulle maar net soos al die ander? Is ons werklik sout en lig? Maak ons ‘n verskil?... 

Wat was die redes vir die dissipels se kragteloosheid? Jesus beskuldig hulle van ongeloof! Dis ‘n vreeslike beskuldiging! Het hulle dan nie geglo nie, hulle was dan openlike volgelinge van Jesus? In die nabetragtingsgedeelte kry ons die antwoord. (vers 28,29) Hulle geloof het nie oorgegaan in gebed nie! Biddeloosheid is ‘n kenmerk van ‘n onegte geloof, ‘n speel-speel geloof! Die kragtelose Christenskap van die dissipels het ook op ander maniere na vore gekom (behalwe in hulle onvermoë om die kind te help) Hulle was nog in onkunde oor Jesus se ware doel, en het het nog bloot ‘n gebrekkige aardse begrip gehad van wie Jesus is en wat Hy kom doen het. Geen begrip vir die “kruis” nie. (30-32) Hulle was vasgevang in hoogmoed en jaloesie. Hulle stry oor wie die belangrikste is. (33,34) ‘n Mens sou verwag dat hulle darem bietjie meer beskeie sou wees na hulle afgelope mislukking, maar nee, hulle sondige gesindheid was nog net so sterk! Hulle het ook ‘n kleinlike selfgesentreerdheid geopenbaar! As iemand nie saam met ons groepie is nie, is hy uit! (38) Klink bekend nê? 

Hierdie is alles vandag nog kenmerke van ‘n sukkelende kerk : min gebed, min ware kennis oor Jesus, maar baie stryery, jaloesie, kleinlike kompetisie... 


2. Die gelowige pa : ‘n aangrypende en bemoedigende voorbeeld van iemand in nood, maar met ‘n eenvoudige en opregte geloof. Die pa se eenvoudige geloof word deur Jesus beloon. Sy geloofsvertroue is ‘n helder lig teen die donker agtergrond van die dissipels se onbekwaamheid en ongeloof. Hierdie is vir my persoonlik ‘n baie bemoedigende gedeelte. Kom ek verduidelik : Die hartseer pa, kom met sy krisis na Jesus toe. Dit was ‘n jarelange hardnekkige probleem. (21-22) Mens kan jou indink dat hy al baie kere hulp gesoek het en elke keer maar weer teleurgesteld was – soos nou deur die dissipels, maar nou kom hy na Jesus self. Hierdie pa glo, maar hy is nie een of ander geloofsreus nie. Hy is baie bewus van die swakheid van sy geloof en baie eerlik daaroor. Vers 24 : “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof!” Dit voel nie eens vir homself of hy glo nie, en tog glo hy eg! Daar is net ‘n sprankie geloof, maar Jesus is gretig om daarop te reageer en genees die seun. Hier sien ons iets van die essensie van ware geloof : dis om eerlik met my probleem na Jesus te kom in die vertroue dat God deur sy Seun Jesus die mens in nood kan aanraak!* Geloof is nie ‘n selfvoldane gevoel dat my geestelike spiere sterk is nie. 

Geloof self is maar swak, maar wat tel is nie die krag van my geloof nie, maar die krag van die Een in wie ek my vertroue stel! 

Geliefde, baie Christene en baie kerke het jou dalk al teleurgestel – maar het jy al eerlik na Jesus gekom met jou sondeskuld en smart? Wie in Hom glo word nie teleurgestel nie! (Romeine 10:11) En dit bring ons by die laaste Rolspeler... 

3. Die Almagtige Jesus : Daar bestaan nie iets soos ‘n hopelose geval by Jesus nie! Die bevryding van hierdie seun en baie ander is die duidelike bewys! Ja, die duiwel maak jou wys...jou sonde is te groot, jou probleme is te veel, jy het al te veel kere probeer en misluk...Jesus kan tog nie ‘n verskil maak nie! Dis die grootste leuen op aarde! Jesus is nie net die Verlosser nie, Hy is die Almagtige Verlosser. (Johannes 17:3) Kom na Hom! Nog iets...Nie net die almag van Jesus nie, maar ook sy bo-menslike geduld met sy dissipels word sigbaar. Hy het hulle wel berispe, maar hoegenaamd nie afgeskryf nie, maar voortgegaan om hulle te leer. (al was daar nog baie mislukkings en misverstande op die pad vorentoe) Na Pinkster het hierdie einste dissipels, wel mense van vas en gebed geword en met krag die evangelie verkondig! Toe kon hulle mense in nood van hulp wees, soos die boek Handelinge so mooi beskryf! 

Wat doen ons met hierdie feite? 

Ons word aangespoor tot selfondersoek – is ek nie dalk maar ‘n kragtelose Christen met meer lawaai as binnegoed nie? 
Ons word opgeroep tot gebed as ‘n oplossing vir ons kragteloosheid. 
Maar bo-alles word ons elkeen opnuut weer uitgedaag en uitgenooi om kinderlik ons diepste nood na die Lewende Jesus te neem! 

Jesus bied ‘n oplossing waar alle ander mense en pogings misluk het. Amen

*Kommentaar van Ralph P. Martin oor Markus, "WHERE THE ACTION IS" Ook gebruik gemaak van THE GOSPEL OF MARK van William L. Lane

Vrydag 15 Junie 2012

SOOS SEMENT EN WATER

- beloftes beteken niks sonder geloof nie!

Rus!  God se kinders is oppad na ‘n ewige rus... Wat behels die rus van ons eindbestemming? Is dit nou iets soos vakansie hou of laatslaap? Wat sê die Woord? Kom ons maak oop by Hebreërs 4:1-10.  Rus is ‘n heerlike deurlopende tema in die Bybel:  
  • Ons hoor die eerste keer van hierdie rus by die skepping as ons lees dat God op die sewende dag gerus het. Dit beteken nie dat God passief niks gedoen het nie. God kan tog nie moeg word nie. Nee, dit beteken dat God sy heerlike skeppingsdoel bereik het. Met rus bedoel die Bybel volle vervulling, volmaakte heerlikheid. 
  • Baie jare later het God sy volk uit Egipte gelei en aan hulle die rus in die land,  Kanaän beloof. (Psalm 95:11)
  • Ons kry weer die saak van rus in die Sabbatsgebod. Die Sabbatsgebod het oor meer gegaan as maar net fisiese rus. Die rus van die Sabbat het teruggewys na God se skeppingsdoel, maar ook vooruitgewys na  Jesus wat ware rus sou bring. (Kolossense 2:15,16) 
  • Jesus nooi ons na homself om ware rus te kry. (Matteus 11:28) Dis die rus van vergifnis en vrede met God. 
  • Maar daar wag nog ‘n finale sabbatsrus vir God se kinders. (8)* Dis die volmaakte ewige heerlikheid in die teenwoordigheid van God. Daar sal geen sonde, swaarkry, siekte en dood meer wees nie. Ons sal dan volmaak voldoen aan God se doel met ons tot sy eer.


Waarom word die tema van rus hier opgehaal? Die Hebreërbriefskrywer rig ‘n dringende  waarskuwing. Hy skryf vir mense wat begin moeg word het in die geloof, daarom vermaan hy hulle baie ernstig : Pasop dat julle nie die rus wat God julle beloof het, misloop nie. 

Hy gee gewig aan sy waarskuwing deur die voorbeeld van die ongehoorsame Israeliete in die woestyn tydens die Uittog onder ons aandag te bring. Ons weet God het daardie geslag Israeliete met groot krag en genade uit die verdrukking van Egipte uitgelei. Hy het hulle uitgelei met die belofte om die beloofde land, Kanaän, die land van rus, van melk en heuning aan hulle te gee. Hulle was dus ontvangers van God se beloftes! Besonder bevoorreg! Verbondsmense aan wie die beloftes behoort.  Maar helaas, ons weet wat het gebeur.  Hulle was opstandig, ongehoorsaam en ongelowig en daarom het God gesweer dat hulle nie in Sy rus sal ingaan nie. (3) Die gevolg van hulle ongeloof, was dat hulle nooit die land Kanaän ingegaan het nie, maar dat hulle lyke in die woestyn agtergebly het. Nou gebruik die skrywer hierdie voorbeeld om sy lesers te waarsku. (4:2) Al God se beloftes het die Isaeliete hoegenaamd niks gehelp nie. Die boodskap is dus : Julle moet volhard in die geloof, anders sal julle ook die ewige rus wat God julle beloof het misloop! 

Wat ’n skrikwekkende saak - dit kan wees dat mense die heerlike evangelie hoor en selfs die sakramente ontvang, maar op die ou end nooit die ewige lewe bereik nie.  

Hoe so? Dit gebeur as mense die woord hoor,  maar nie in geloof daarop reageer nie. Ek hoor wat Jesus gedoen het, ek weet van die kruis en die opstanding, ek weet van die beloftes,  maar ek kom nooit tot ’n daadwerklike besluit om Hom persoonlik te vertrou en as my Here te aanvaar nie. 

In die prediking hoor ons God se beloftes, in die sakramente (doop en nagmaal) word God se beloftes sigbaar onderstreep en bevestig. Maar hierdie beloftes moet aanvaar word in geloof. Ek moet doelbewus reageer deur my vertroue in Jesus te stel. Soos die verlore seun moet ek ‘n besluit neem om op te staan en na my Vader terug te gaan...God se beloftes sonder gehoorsame aanvaarding daarvan beteken niks!  God se beloftes red ons nie outomaties nie.  Die feit dat ek al baie jare in die kerkbanke sit of dat daar ‘n pragtige doopfoto van my op oupa en ouma se kamermuur pryk, maak my nog nie ‘n kind van God nie. Miljoene kerkgangers, gedooptes en nagmaalgebuikers gaan die ewige lewe misloop. Die prediking van die beloftes moet geglo word!  

Belofte en geloof gaan saam soos sement en water! 

Jy kan hoë kwaliteit sement koop en gebruik, maar daar moet water bygevoeg word om dit in werking te stel of te aktiveer, anders bly dit ‘n nuttelose poeier!

Het jy al gereageer op God se beloftes deur ‘n persoonlike geloof? Geloof het ons  gesien (in BOU OP GOD SE BELOFTES) in die geskiedenis van Abram is ‘n doelbewuste keuse om God te vertrou. Volhard jy in hierdie geloof of het jy in ongehoorsaamheid geval? Vandag is die dag om die saak reg te stel!  Jou ewige rus is op die spel! Hoor die dringende vermaning wat die skrywer twee keer herhaal... Hebr 3:15; 4:7

"Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie..."

God se beloftes is waar. Hy kan nie lieg nie, want Hy is nie ‘n mens nie. (Numeri 23:19)  Hy gee aan elkeen wat Jesus aanvaar die belofte van ewige rus! Wat maak jy met hierdie belofte?

*In vers 8 word vir ons verdere lig gewerp op die “rus”. Die skrywer wil sê : dis mos duidelik dat die rus waarna  Psalm 95:11 verwys tog nie die letterlike aardse Kanaan wat onder bevel van Josua ingeneem is, kan wees nie. Hoekom kan hy so sê? Wel, die mense wat in Psalm 95 aangespreek word is mos reeds in die land Kanaän. So die rus waartoe hulle dringend vermaan word,  moet  iets anders wees as blote verblyf in Kanaän. Dis iets anders as die rus wat Josua hulle gegee het van hulle vyande. Die skrywer wil dus hê ons moet die onderskeid raaksien tussen die tydelike rus wat Josua in Kanaän vir die volk bewerk het en die ware ewige  rus wat nog gereserveer word vir God se mense.