BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Huisgesin. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Huisgesin. Wys alle plasings

Donderdag 01 Desember 2022

GOD WORD ‘N BABA!

 - en bring daarom hoop vir alle mense, ook babas!

 [ Lees gerus tog weer die bekende verhaal van die herders van Betlehem in Lukas 2:8-20]

Ons kan so liries raak oor al die byspelers in die Kersdrama dat ons die Persoon in die hoofrol vergeet. Ek bedoel ons raak meegevoer deur die engelekoor, die nederige herders,  wyse manne, Josef en Maria, maar eintlik gaan alles oor die Kindjie in die krip – GOD wat ‘n Baba geword het! Baba! Ja jy het reg gelees. Probber bietjie dink aan die implikasies...

God word mens in Jesus Christus. Regte mens! "Vleis" soos die Johannes evangelie ons leer. (Johannes 1:14) Hierdie God-mens bring hoop en ‘n nuwe toekoms. Die engele beskryf hierdie hoop so in Lukas 2 vers 14 :




Hoe pragtig kom hemel en aarde saam in hierdie oorbekende teks!  Godwees en doodgewone menswees. Die ewige, maar ook die tydelike! Jesus se koms na die aarde bring juis eer aan God in die hemel! Hier is dus nie ‘n botsing tussen hemel en aarde nie, maar ‘n heerlike harmonie! 

Ons menswees op aarde in al sy stadiums en fasette is BELANGRIK!

Die feit van Jesus se babawees onderstreep dit so mooi. Jesus kom nie as ‘n superwese, gees of  simbool na hierdie aarde nie. Maar as mens.  Regte mens. Hy kom soos alle regte mense in die wêreld in, as hulpelose baba!  'n Baba wat aan sy moeder sou moes drink. Maar Jesus is ook regtig God. Hy bring God se boodskap en Hy leef God se waardes uit, Hy wys God se heerlikheid (genade en waarheid), maar Hy doen dit hier op aarde binne in die gewone alledaagse lewe. Hy woon soos ander gewone mense ‘n troue by en dan maak Hy nog wyn ook. In die proses bring Hy die boodskap van ‘n nuwe bedeling die oorvloed van die nuwe verbond. Hy word ook diep geraak as hy voor die graf van sy vriend Lasarus staan en huil. Maar dit bly nie net by huil nie... Hy bring Goddelike hoop in die donker aardse  situasie van dood deur die opwekkingswonder. Na sy eie opstanding uit die dood (geen groter bewys van sy Godheid as dit nie!) doen Hy ook iets heeltemal alledaags, hy braai vis vir sy dissipels, maar dis ook sommer die geleentheid waar Hy openbare vergifnis aan Petrus skenk. (Johannes 21) Vir Jesus is daar nie ‘n spanning tussen hemel en aarde nie. Hy is mens, tussen die mense en as mens leef Hy volgens die wil van Sy Vader. Hy werk in ‘n timmermans werkswinkel, Hy betaal belasting, maar Hy verkondig die geheime van God se koninkryk en bewandel ’n intieme gebedspad met sy Vader. 

Terloops, Heiligheid beteken nie om op te hou mens wees nie, maar om mens te wees volgens God se wil!

Dis die punt - Die geboorte van Jesus, ja die hele evangelie van Jesus raak ons en verander ons terwyl ons hier op aarde as mense leef! Die evangelie maak nie van ons hemelwesens, wolkbewoners of verbandlose indiwidue  nie. Maar nuwe mense in die harde werklikheid van ‘n aardse bestaan. Die evangelie pad is daarom nie ‘n pad wat menslike aardse familiebande ignoreer nie.  Vrede op aarde raak ook gesinne op aarde. Doodgewone huisgesinne! En hierdie gesinne sluit alle ouderdomme ook  die babas van die gesinne in. Jesus se verlossingswerk raak alle ouderdomme... ook babas. 


Irenaeus die bekende kerkvader en biskop van Lyons het dit so treffend gestel : "For he (Christ) came to save all through means of himself; all I say, who through him are born again to God; infants and children, boys, youths, old men. He therefore passed through every age becoming an infant for infants, thus sanctifying infants; a child for children, thus sanctifying those who are of this age, being at the same time made to them an example of piety, righteousness, and submission; a youth for youths becoming an example to youths, and thus sanctifying them for the Lord. So likewise, He was an old man for old men, that he might be a perfect master for all, not merely as respects the setting forth of the truth, but also as regards that age, sanctifying at the same time the aged also and becoming likewise an example to them. Then, at the last, He came unto death itself, that he might be the firstborn of the dead, that in all things he might have the preeminence, “the Prince of Life,” existing before all and going before all."

Die vraag is nou presies hoe word ons as gesinne geraak?  Hier is ‘n fyn balans. 'n Positiewe boodskap. Maar ook ‘n spanningslyn. 

Die gesinsband word nie geignoreer nie, maar wel gerelativeer deur die Kersboodskap.

Kom ons kyk eers na die eerste fasset. Jesus bring vrede na hele gesinne. Dink maar aan Saggeus se bekering in Lukas 10. Aangrypend en veelseggend is Jesus se uitspraak na dat Saggeus tot bekering gekom het : 



"Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom..."  Die bekende  Handelinge 16:31 (die tronkbewaarder van Filippi se bekering) onderstreep ook die belangrikheid van 'n huisgesin in die konteks van verlossing. 



Waar die gesinshoof tot bekering kom, word die hele huis positief geraak. Dis duidelike verbondstaal wat hier gebruik word. Die gesin word nou ingesluit in God se verbondsgenade, net soos in die Ou Testament die geval was.

VERDEELDHEID EN KONFLIK

Maar daar is ook ‘n anderkant. Gesinne en families word juis ook verdeel deur Jesus. Hartseer, maar ons mag dit ook nie verswyg nie!  Gaan lees maar die skerp uitsprake van Jesus in Matteus 10:32-36. Jesus veroorsaak konflik binne in huise!



Op die ou end is dit belangriker om aan die huisgesin van God (sy verloste kerk) te behoort as aan ‘n aardse gesin. Jesus het dit self op dramatiese wyse gestel. Matteus 12:46-50 laat geen onduidelikheid nie.



HY IS KONING!

Hoekom hierdie teenstrydigheid? Hoekom hierdie skerp verdelingslyn?  Hoekom is vrede dan so skaars in die wêreld? Nie net in oorlogsones nie, maar juis ook in baie huwelike en gesinne?  Ons moet verstaan wie hierdie Baba is. Die baba in die krip, Jesus Christus die Godmens is ‘n omstrede kontroversiële figuur. Hy bring vrede sowel as verdeelheid. Juis omdat nie almal Hom wil aanvaar en voor Hom wil buig nie. Soos die apostel Paulus dit sou stel vir sommige is die evangelie van Jesus ‘n lieflike geur, vir ander is dieselfde evangelie ‘n doodsreuk. Hoekom? Die Baba in die krip is die Verlosser koning. Hy is die finale koning van die Dawidsdinastie. Juis daarom word beklemtoon dat die baba in Betlehem die stad van Dawid gebore is. Teenoor ‘n Koning kan jy nie neutraal wees nie. Jy onderwerp jou aan sy koningskap of jy verwerp sy koningskap. Kersfees is ‘n fees van blydskap, maar dis juis ook ‘n konfronterende fees. Ons word gekonfronteer met die Babakoning in die krip. Geen draadsittery is moontlik nie. Wat jy oor Hom besluit raak jou lewe nou op aarde en natuurlik het dit implikasies tot in alle ewigheid.  As jy niks besluit nie, is jy teen Hom. 

Gaan jy eenkant staan of gaan jy soos die herders jou haas om Hom, die Baba van Betlehem te ontmoet?

Sondag 01 Maart 2020

SOWAAR DEUR DIE OOG VAN DIE NAALD!

- DIE HEERLIKE GEVOLG VAN JESUS SE REDDINGSGENADE 

Ons ken almal die verhaal van Saggeus in LUKAS 19:1-10. Die verhaal van Saggeus, gaan in hoofsaak natuurlik nie oor Saggeus nie, maar oor Jesus. Jesus se reddingsgenade is verrassend en kragtig! Dis juis ook ’n doelgerigte soekende genade, gefokus op sondaars! Die ergste sondaars! Ja, daar is hoop vir ons...  Die hoofboodskap van hierdie gebeurtenis kry ons natuurlik in vers 10 as klimaksteks! “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is." 

VERRASSENDE GENADEKRAG! 

Jesus se genade is verrassend. Jesus verras vir Saggeus, maar hy verras ook die omstanders. 

Saggeus kruip weg in die wildevyeboom. Hy dink hy kan vanuit ‘n veilige afstand alles dophou. Hy dink hy kan anoniem bly. Maar dan verras Jesus hom. “Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." (5) Hy roep hom by sy naam! (Luister mooi, Hy roep jou ook...) Die Seun van God doen persoonlik bemoeienis met ‘n onverdienstelike sondaar! Dink net hoe verbaas en verras Saggeus moes wees… Ja, Jesus konfronteer Saggeus. Maar dis ‘n liefdevolle konfrontasie. Dis ‘n genadige konfrontasie. Ds ‘n reddende konfrontasie. 

Wat in Saggeus se lewe gebeur is niks minder as ‘n wonderwerk nie! ‘n Gierige ryke wat vrywillig van die helfte van sy besittings afstand doen en belowe om sy verkeerde optrede teenoor ander mense reg te maak is nie sommer net ‘n klein veranderinkie nie. Dis gelykstaande aan ‘n drankverslaafde wat sy vol bottels in die toilet afspoel. Dis soortgelyk aan ‘n jongmens wat ‘n sondige seksuele verhouding verbreek al maak dit jou hart stukkend. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van sy verknogtheid aan geld. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van die heerskappy van sy beursie. Wie Jesus in sy huis (en hart) toelaat en ontvang sal noodwendig ‘n transformasie ondergaan. Die kettings waarmee die duiwel hom gebind het word verbreek.  Dis mos waarvoor Jesus gekom het - “En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.” (1 Johannes 3:8b) 

SAGGEUS EN DIE RYK JONGMAN 

Hierdie wonderwerk in Saggeus se lewe word nog meer vol betekenis as mens dit vergelyk met die geskiedenis van die Ryk Jongman in die vorige hoofstuk. (18:18ev) Daar is opvallende ooreenkomste en verskille. Beide is ryk. Beide het ‘n soeke in hulle lewens ervaar. Beide het ‘n sterk begeerte na Jesus op een of ander manier. (Die Ryk Jongman kom val voor Jesus neer, Saggeus maak ‘n plan om Jesus te kan sien.) 

Ook tragiese verskille: Die Ryk Jongman het op die ou end teleurgesteld weggegaan. Saggeus word opgeneem in die familie van gelowiges. Die Ryk Jongman se besittings tel vir hom meer as die koninkryk van God. Saggeus se hart raak los van oorheersing deur besittings en so lewer hy bewys dat hy nou ‘n kind van Abraham geword het. In beginsel doen Saggeus dit waarvoor die Ryk Jongman nie kans gesien het nie. Die merkwaardigste is dat hierdie geskiedenis van Saggeus inderdaad bewys dat God die “onmoontlike” kan doen en ‘n ryk man kan red. 

Die Ryk Jongman moes teleurgesteld omdraai omdat hy nie gehoor wou gegee aan Jesus se opdrag van bekering van sy materialisme nie. Die gesprek gaan toe verder tussen Jesus en sy dissipels - “Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom." Dié wat dit gehoor het, sê toe: "Maar wie kan dan gered word? Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (18:24-27 ) 

Ontsagwekkend en asemrowend heerlik! Geen sondaar is buite bereik van God se genade nie! Daar is hoop vir daardie goddelose eggenoot, kind, kollega wat deur mense afgeskryf word... 



Inderdaad het die kameel toe deur die oog van die naald geglip! Die heerlike kragtige genade van God vir wie niks onmoontlik is nie, was in aksie...


BESWAAR TEEN GENADE 

In die proses verras Jesus ook al die omstanders. Hoe so? Wel, hulle het Saggeus almal baie goed geken. Hy was die berugte en gehate tollenaar wat hulle afgepers en besteel het. Die ongewilde en korrupte "ontvanger van inkomste!" Daarom maak hulle ten sterkste beswaar teen Jesus se toenadering! “Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: "Hy gaan by ‘n sondige man tuis!" (7) Jesus se radikale genade vir die slegste sondaars laat baie mense deur al die eeue en vandag nog ongemaklik en kwaad voel. Dink aan hoe kwaad en teleurgesteld Jona was toe die mense van Nineve hulle op grond van sy boodskap bekeer het en God hulle genadig was! (Jona wou nie genade sien vir hierdie vyande van sy volk nie - gelukkig is God se genade groter as die genade van sy boodskappers s'n!) Gaan jy opgewonde wees as Jesus vir Zuma of die Fishrot bende vergewe! Sal ons hulle in die kerk verwelkom? Gaan jy ook daardie plaaswerker of besigheidsman wat jou soveel skade aangedoen het as broer verwelkom as hy in Jesus glo? 

GEVOLGE VIR DIE HELE HUIS 

Die verrassende en kragtige genade van Jesus het heerlike gevolge. Saggeus word nou deel van God se volk. ‘n Ware kind van Abram. “Daarop sê Jesus: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.” (9) Etnies was hy dit alreeds, maar nou word hy ook geestelik ‘n kind van Abram, want hy glo nou ook waarlik in Jesus. (Vgl. Gal 3:7 “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.”) 

Maar ons moet ook mooi kyk na wat Jesus hier sê. (9) “redding vir hierdie huis” Die reddende genade wat Saggeus ontvang het raak sy hele gesin, sy huishouding! Dit klink dalk vir ons as westerse individualiste vreemd, maar dis ‘n tema wat ons deurgaan in die Skrif kry. Noag (en sy hele familie word gered), Abram (God se beloftes vir hom en sy nageslag), Josua ("ek en my huis sal die Here dien"), Ragab (saam het haar hele familie opgeneem in die verbondsvolk)… En ons vind dit ook in die Nuwe Testament. Lidia, die tronkbewaarder van Filippi… Natuurlik gaan dit nie hier oor outomatiese redding van ‘n kind as een van die ouers gered word nie. Dit gaan daaroor dat die hele huisgesin ‘n werksveld van God se verbondsgenade word. Christen ouers se kinders word groot in die dampkring en onder die invloed van die Woord en die Woord is die instrument van die Heilige Gees. Vir God is huisgesinne belangrik. Hier sien ons dit duidelik. Saggeus se redding is groter as net ‘n persoonlike saak! 

As jy op Jesus se uitnodiging reageer, as jy jou huis en hart vir Hom oopmaak, as jy jou bekeer van jou afgode gaan dit heerlike gevolge vir jouself en jou nageslag hê! 
Kameel in die Swakoprivier.

*Hierdie en ander gedagtes met erkenning aan Nico van der Walt

Vrydag 20 Januarie 2017

GOD SE HUISGESIN

- is onmisbaar belangrik vir jou en my.



In 1 Timoteus 3:14,15 beskryf Paulus die gemeente as die huisgesin van God!



Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom.



Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. (reeds in vroeër vers 5 kry ons al ‘n verwysing na huisgesin in gemeentelike konteks)* 

Hoe heerlik en wonderlik is ‘n huisgesin! Om aan ‘n huisgesin te behoort is ‘n reuse voorreg en vreugde! Dis so onmisbaar belangrik vir ‘n kind se ontwikkeling en vorming. (terloops dis waarom Satan so naarstigtelik huisgesinne en huwelike probeer vernietig) Dis mos die plek waar ons kos kry, grootword, vertroos word, geleer word, veilig voel... en ook broodnodige opvoeding en selfs straf kry! Hoe meer nog is dit onmisbaar belangrik vir God se kinders om deel van God se huisgesin te wees. As iemand hom bekeer en deur die geloof in Jesus ‘n kind van God word, word hy/sy onmiddelik in God se huisgesin opgeneem (vgl. Hand 2:47). Deur die wedergeboorte word ons in God se gesin gebore en God word ons Vader en God se ander kinders word ons broers en susters. (en ook mede erfgename van Jesus die oudste broer!) En hierdie band is belangriker en inniger as die bande van aardse gesinne. Regtig? Wel, dis die implikasie van Jesus se woorde in Lukas 8:19-21.**

Soos ‘n kind nie gelukkig, gebalanseerd groot kan word en optimaal kan ontwikkel sonder ‘n liefdevolle huisgesin nie, het elke kind van God die huisgesin van God, die gemeente nodig!

ELKE LIDMAAT, MAAR OOK OUDERLINGE EN DIAKENS IS DEEL VAN GOD SE PLAN

In ‘n gesonde huisgesin is daar struktuur, orde en reëls. Elkeen het sy plek en funksie. Indien een lid van 'n gesin nie gesag erken of nie sy pligte uitvoer nie, is daar wanfunksionering en ly die hele gesin skade. In God se gesin is dit ook so. Paulus verwys hier terug na die spesifieke opdragte van hoe mense hulle in God se gemeente moet gedra. Spesifiek na die rol en pligte van mans, vrouens, ouderlinge en diakens. Ja, party mense dink aan ouderlinge en diakens as menslike tradisies of outyds en verkramp – Nee, dis deel van God se plan vir sy huisgesin! Net terloops, waar hierdie reëls nie toegepas word nie, kom daar groot hartseer in God se huisgesin. (byv. ouderlinge wat nie moes gekies gewees het nie, kerkraadslede wat nie hulle werk doen nie, gesagstrukture wat nie erken word nie ens.)

DIE GEMEENTE BESKERM DIE WAARHEID

Dis egter nie al wat hier van die gemeente gesê word nie...Die gemeente word verder ook hier genoem die draer en beskermer van die waarheid. (OAV - 'n pilaar en grondslag van die waarheid. ) Die (stulos) pilare het die dak gehou , maar meer nog dit as’t ware hoog opgelig sodat almal dit van ver kan sien. Die (hedraioma) fondasie het beskerming verleen.

Vir die wat skerp luister klink dit dalk vreemd – die kerk is mos gebou op die waarheid (evangelie), hier klink dit nou of die kerk die waarheid beskerm. Inderdaad staan kerk en waarheid in noue verband. Die kerk is afhanklik van die waarheid vir haar bestaan, maar die waarheid is ook weer afhanklik van die kerk vir haar verdediging en verkondiging. Die kerk, die gemeente beskerm die evangelie sodat dit nie vervals kan word nie. Die gemeente moet dus sorg dat die evangelie nie verdraai en verwring word nie. Dis in ons dag so nodig. Julle weet van al die dwalinge wat in sirkulasie is en mense verwar : mense wat beweer dat Jesus nie opgestaan het nie, mense wat nie die kruisboodskap verkondig nie, maar moralisme. Valse rigtings soos die Hebrew Roots Movement, goedkoop genade, die prosperity Gospel, mensgerigte "evangelies" waar God die mens se drome moet bewaarheid.... ("Gemeentelose Christene" en selfgesentreerde belangegroepies word veral maklik die prooi van allerhande dwalinge.)

Die waarheid wat in die gemeente beskerm en voortgedra moet word en as’t ware hoog opgelig moet word is die waarheid oor Jesus Christus wat uitgespel word in vers 16.*** Die kerninhoud van die waarheid wat ons as kerk moet bewaar is die waarheid oor Jesus Christus. (die kerk is nie bloot net nog ‘n NGO wat moet goed doen aan mense nie, ons het ‘n boodskap van redding en bevryding vir sondaars!) Dis waarskynlik ‘n ou Christelike lied wat Paulus  hier aanhaal. Dit bestaan uit drie koeplette : Die openbaring van Christus – Hy het mens geword en die Heilige Gees het deur die opstanding bevestig dat Hy waarlik die Seun van God is. Die getuienis van Christus – deur engele gesien, verkondig onder die nasies. Die ontvangs van Christus – Hy is geglo en Hy is in die hemel opgeneem. Hier is ‘n sterk verlossingsboodskap en ‘n sendinggerigtheid te bespeur. Die waarheid wat die kerk moet bewaar is die boodskap van Jesus as Verlosser van alle nasies! As ‘n gemeente nie meer Jesus verkondig as die redder van sondaars nie, het die gemeente gefaal en die waarheid verloor!

WIE EN WAAR?

Wie en waar is hierdie Gemeente? Dis die heilige algemene Christelike kerk wat ons bely om in te glo. Dis die kerk oor die wêreld heen versprei, die kerk van alle eeue! Dis natuurlik ook die plaaslike sigbare gestalte daarvan, ja inderdaad dis ook die gemeente van Jesus op Tsumeb. Dis die gemeente waar God jou tans geplaas het...

Ons kan nie sonder die gemeente nie – dis ‘n veilige huisgesin waar ons leer en groei, dis ‘n veilige kasteel waar die waarheid suiwer beskerm word. Maar dan moet ons erns maak om hierdie gemeente in te rig en te versorg volgens God se wil en opdragte!

Om ernstig te wees oor Jesus, behels ook dat ek ernstig sal wees oor die gemeente waar die Here my geplaas het! Hoe ernstig is jy oor Jesus, hoe ernstig is jy oor God se huisgesin? Is jy betrokke, bid jy, werk jy...?

*Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem? (1 Timoteus 3:5)

**En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie. 

Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien. 

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen. (Lukas 8:19-21)

***En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is: As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is, aan die engele het Hy verskyn; aan die heidennasies is Hy verkondig, in die hele wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem. (1 Timoteus 3:16)

Vrydag 13 Maart 2015

HEEL WORD IN GOD SE HUISGESIN

- waar die genade van God ons verander en herstel.

Ons bly in ‘n stukkende wêreld met stukkende mense. Die plek waar hierdie gebrokenheid die duidelikste gesien word is binne huwelike en huisgesinne. Tussen man en vrou, ouers en kinders.... Reg van die begin af kon die verwoestingswerk van sonde die duidelikste in mensverhoudinge binne gesins en familieverband gesien word. Die heel eerste gesin beleef ‘n broedermoord! Kain slaan sy broer Abel dood. Noag gaan hom te buite aan drank en sy eie seun Gam spot met hom en bring ‘n vloek oor sy nageslag. In Abram se gesin ontstaan ‘n konflik tussen die twee seuns Ismael en Isak wat nou nog voortduur. Onder Isak se seuns gaan dit nog erger. Jakob bedrieg sy tweelingbroer Esau. Byna is daar nog ‘n moord. Die stukkendheid word voortgesit onder Jakob se eie seuns. Josef word voorgetrek en sy broers haat hom so dat hulle hom wou doodmaak, maar uiteindelik as slaaf verkoop. Van die een geslag na die volgende is daar ‘n patroon van leuens, voortrekkery, en broederkonflik voortgedra. Verder aan in die geskiedenis is Dawid se gesin en nageslag ‘n goeie voorbeeld van stukkende verhoudings. Dit begin met sy owerspel met Batseba en die moord om dit te probeer toesmeer. Die gevolge is onder andere bloedskande, broedermoord, opstand en baie ander ellendes... 


Hierdie stukkendheid raak ons almal, maar word oor die algemeen baie goed weggesteek. Dis grootliks onsigbaar. Soos ‘n ysberg. Ons sien op die oppervlakte net almal se mooi en goeie kant. Vriendelike gesigte, kerkklere, mooi maniere en korrekte antwoorde... Maar binne in huise en huwelike is daar groot smart en ellende. Agter geslote deure bloei ons... Die grootste skok is dat hierdie dinge gebeur in die huise van mense wat Christene is. Nie net naamchristene nie, maar mense wat werklik kan getuig, dat hulle die Here as Verlosser leer ken het, maar ‘n klomp van hierdie dinge het oorgebly in ons lewens...

JOU OUERHUIS BLY BY JOU

Die grootste invloed op ‘n mens kom uit die gesin waarin jy grootgeword het. Dit het ‘n effek op mens ook al het jy ‘n Christen geword. (dit beteken nooit ek mag my ouers dieskuld gee vir my sonde nie, maar dat hulle foute en gebreke 'n invloed op my hat is onontkenbaar)

Sommer net ‘n paar voorbeelde of ‘n paar vrae om oor te dink: Was daar voortrekkery en onregverdigheid in die huis waarin ek grootgeword het? Was daar traumatiese gebeure of skandes soos ‘n egskeiding, bankrotskap, aborsie, alkoholisme, molestering, buite egtelike verhoudings, gesinsgeweld? Hoe is dit hanteer? Is dit maar net altyd weggesteek? Dit het ‘n effek op wie jy vandag is, al is jy miskien nie eers bewus daarvan nie. Hoe is sukses en prestasie gedefinieer in jou ouerhuis? Was dit in terme van geld? (Kyk hoe gelukkig is daardie mense want hulle bly in so 'n huis of ry so 'n kar...") Sport? Akademiese prestasie? (Jy is net belangrik in so verre jy presteer) Hoe was die kommunikasie in jou ouerhuis? Is probleme maar net toegesmeer of is dit uitgepraat? Die antwoorde op hierdie vrae raak jou... ook nou miskien na baie jare.

[Die ooglopende fanatieke ywer van sommige ouers dat hulle kinders op sport of akademiese gebied moet presteer en gevolglik tot in die rooi gedruk word, kan dikwels aan hierdie invloede in hulle eie ouerhuise toegeskryf word.]

Dis duidelik, ons ouers en huisgesinne waarin ons grootgeword het, het ‘n blywende invloed op elkeen van ons. Hulle het baie goeie dinge gedoen, maar almal het ook baie foute gemaak wat tot vandag toe nog ‘n invloed op ons het. Stukkende gevolge. As ons nie heel word nie, word dieselfde sondige patrone en ellendes net weer so aan die volgende geslag oorgedra en dit word al erger...

Nou wat nou, is daar hoop, kan ons heel word? 

NUWE GESIN

Ja, vir God se kinders is daar hoop, want ons word in ‘n nuwe huisgesin opgeneem. Dis die dramatiese en gewigtige implikasie van Jesus se woorde in MARKUS 3:30-35. Hoor wat sê Hy : “Hy het die mense aangekyk wat in ‘n kring om Hom sit en gesê: "Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder." (34,35) As ek wedergebore word, kind van God word, dan word ek deel van ‘n nuwe gesin, ‘n nuwe familie. Ja, 'n nuwe begin...  Hierdie familie is ‘n nuwe skepping van God. Hierdie nuwe familie is baie belangrik, dit het prioriteit selfs bo my aardse familie. Dis duidelik wat Jesus impliseer. Die gemeente van Jesus is die huisgesin van God, dis ons nuwe naaste familie! ( Vergelyk 1 Timoteus 3:15)

En dis binne hierdie familie waar die Here ons wil heelmaak. Ons het almal letsels vanuit ons ouerhuise en opvoeding, maar binne in die gemeente as familie van God word ons nou as’t ware heropgevoed. Scazzero praat van “reparenting”.* Dit maak nie saak wat my agtergrond is nie, die kind van God kan heropgevoed word. Hoe gebeur dit? As ons eerlik na onsself kyk in die Woord en saam met ander gelowiges die Woord begin gehoorsaam - dan verander ons en word heel. (eerlikheid is ‘n kernvereiste!!) As ons erns maak met die Bybel (kliek op BLY BY DIE BYBEL ), dan word ons geleer om ou sondige patrone af te lê en te oorwin en nuwe lewenspatrone aan te leer. (Gaan lees gerus Kolossense 3 om te sien wat ons moet los en wat ons moet aanlaar...) So word ons geleidelik verander, so word ons gehoorsaam aan God, so word ons heropgevoed, so word ons heel! Sonde letsels word heel, sondige denkpatrone word verander, sondige gewoontes word oorwin, stukkende verhoudings word herstel... Die Bybel se benaming vir hierdie proses is heiligmaking. Hierdie proses is natuurlik persoonlik, maar dit vind ook juis plaas binne die konteks van my nuwe geestelike familie! Hulle bedien my met die Woord, hulle is geduldig met my, hulle help my op, hulle wys my foute uit met die gesindheid van Jesus, want almal wat deel is van Jesus se familie is maar te bewus van hulle eie geestelike gebrokenheid! Dit kan mos nie anders nie...

Daar is duidelike fasette van Christenskap wat ons moet onderskei:

Vryspraak – volle vergifnis van al my sonde. Niks van my hele verlede word meer teen my gehou nie. Ek staan sonder skuld voor God.

Heiligmaking – die daaglikse proses van verandering volgens God se wil, van heel word in al ons verhoudings.

Moenie moed verloor oor die stukkendheid in jou eie lewe nie!  Laat ons ook geduldig wees met mekaar, want ons almal is deur die sonde geskend! Jesus het juis gekom om heel te maak, wat Satan gebreek het. Hy doen dit deur vryspraak en heiligmaking. Hy doen dit deur Sy Woord en Sy Gees! Hy doen dit binne die huisgesin van God, die gemeente. Hy doen dit sodat ons ‘n lewe kan leef wat God sal eer!

*Scazzero, The Emotionally Healthy Church