BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Keuse vir Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Keuse vir Jesus. Wys alle plasings

Donderdag 19 September 2013

WAAR TREK GOD DIE STREEP?

- Vir die mens is daar twee opsies : Lewe of Dood!

Daarom is dit seker baie belangrik om te weet aan watter kant jy staan en waar jy die ewigheid gaan deurbring...

Sondag 09 Junie 2013

GOD SE VERBONDSTROU

- staan onwrikbaar vas, maar vra van jou ‘n keuse!

Hoe kan ek seker wees die Here het my vergewe? Hoe kan ek daagliks sonder vrees leef en weet dat God vir my sal sorg?  Hoe kan ek moed hou te midde van swaarkry en vervolging? Hoe kan ek in die aangesig van die dood, op die drumpel van die ewigheid, vrede beleef en weet dat God my as sy kind aangeneem het?

Ek kan net vrede en sekerheid beleef as ek ten volle oortuig is dat God getrou is aan sy beloftes! Maar hoe weet ek dat God altyd sy beloftes hou? Die antwoord kry ons in die verbond.  (God se kontrak) Die vraag is dan : Was God deur die eeue getrou aan sy verbondsbeloftes? Wat sê die feite? Dis tog maar feite wat tel. In die alledaagse lewe het ons dit mos al baie teëgekom- mense maak pragtige beloftes, maar niks gebeur nie.  

Wat van God, doen Hy sy beloftes gestand?

Kom ons kyk na die getuienis van die geskiedenis. Vir ongeveer vier honderd jaar is die nageslag van Abram nou al in Egipte.  Baie ellende en miskien baie vrae. Wat het geword van God se beloftes? Van ‘n eie land?  Het God vergeet, is Hy dalk magteloos? Dis net swaarkry en ellende. Dit gaan al erger. God se volk roep tot Hom. Dan lees ons:

“Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan.
God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

Hoor mooi : “God het...aan sy verbond gedink” Dit beteken nie dat God vir ‘n tyd van sy verbond vergeet het nie – God kan nie vergeet nie – dis maar menslike taal om te sê, God het besluit om te reageer op sy verbondsbeloftes. God het besluit dis nou die tyd om op te tree soos Hy beloof het aan Abram.

In die volgende hoofstuk sien ons wat God se aksie behels. (eintlik het God lankal al begin met die voorbereiding, met Moses in die mandjie...die opvoeding in die Egiptiese paleis...) Maar nou word dinge tot ‘n spits gedryf, God openbaar Homself aan Moses in die brandende bos en roep hom om die volk uit Egipte te lei. (Eks 3:1-10) Let veral op vers 6. “Verder sê Hy: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Dit kom daarop neer, Ek is die God wat met hulle ‘n verbond gesluit het, en Ek gaan nou die volk red omdat Ek getrou is aan my verbond! (nie omdat die Israeliete so oulik was nie!)

Ons ken die geskiedenis verder. God het getrou gebly aan sy verbond en die volk uit Egipte verlos deur Moses. Oppad na die land Kanaän het God sy verbond met Israel by die berg Sinaï vernuwe en die wet vir hulle gegee. Maar ons ken ongelukkig ook die hartseer geskiedenis van wat met Israel gebeur het in die beloofde land. Hulle het oor jare en jare ontrou geword aan God se verbond, totdat God gesê het : “Genoeg is genoeg!” Hulle is verdryf uit hulle land in ballingskap in Babilonië. Maar was dit die einde van als? Gelukkig nie. Die volk was ontrou, maar God kan nooit ontrou wees nie. God se liefde maak dat Hy nie moed opgee nie. Deur die profete het God ‘n nuwe verbond belowe. ‘n Beter verbond. In die plek van die ongehoorsame mens sou Hyself ‘n betroubare mens as verbondsvenoot stuur, Jesus Christus.

Die getrouheid van God aan sy verbondsbeloftes bereik ‘n hoogtepunt met die koms van Jesus, as Hy gebore word uit die maagd Maria. Kom ons luister na haar loflied nadat sy deur die Heilige Gees swanger geword het. (Lukas 1:46-55)  Hoor wat sê sy in 1:54,55 – “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." Weereens, dit gaan oor die getrouheid van God aan sy verbond...eeue en eeue nadat Hy die verbondsbeloftes aan Abram gemaak het.

Die geskiedenis gee dus ‘n duidelike uitspraak : 

God doen wat Hy beloof in sy Verbond. 

God se Verbondstrou staan onwrikbaar vas. Dis die vaste fondasie van ons hoop en sekerheid. Nie ons  wispelturige gevoelens of wisselende emosies nie, maar God se vaste verbondsbeloftes!

Glo jy God se beloftes? Dis baie maklik om vas te stel. Het jy jou al tot Jesus Christus bekeer en tot geloof in Hom gekom? Het jy al jou rug gedraai op die sonde en die genade aangegryp? Jesus, die Gekruisigde Verlosser is die hoogtepunt en vervulling van God se verbondsbeloftes, in Hom is al die genadebewyse van God gekonsentreer. Hyself is God se volledige Verbondspakket!  Jy kan Hom persoonlik vertrou, want God kan nie lieg nie. Romeine 10:11 sê : “Niemand wat in Hom glo sal teleurgestel word nie” en 13 “elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word”

God se verbondsbeloftes dwing mens tot ‘n keuse.  Dit deel alle mense in twee kampe.

As ek dit glo en my tot Jesus bekeer is dit die fondasie van sekerheid en blydskap, want ek weet God doen wat Hy beloof.

As ek my nie bekeer nie, is God se getrouheid aan sy woord juis die bevestiging van ‘n ewige verdoemenis. In Hebreërs 2:3 vra die skrywer : “hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het?” Ja, as ek Jesus verwerp (selfs deur Hom net te ignoreer) bly daar geen ander verwagting oor as ewige smart nie.

As God mos die waarheid praat wanneer Hy redding beloof, beteken dit ook dat Hy die waarheid praat as Hy ewige straf beloof. 

God se onkreukbare integriteit sny immers na twee kante toe! Verlossing maar ook oordeel.


Mag ons almal betyds positief reageer op God se getrouheid, op sy heerlike waar beloftes... Omhels Jesus Christus in sy volle genadeheerlikheid!


Greg en Anja Williams met klein Lincoln. 

Donderdag 13 September 2012

Die "K-woord"

- wat van die kansel verdwyn het.

[Het die Predikant/Pastoor/Gospelsanger/Christen radiostasie al vir jou vertel dat jy ‘n kruis moet dra as jy Koning Jesus wil volg?] 

Kruisdra. Die ononderhandelbare vereiste vir dissipelskap.  Wat het Jesus self oor hierdie saak te sê in Lukas 9:23-26?  Kom ons luister na die waarheid uit sy eie mond. Mag ons die moed hê om sy woorde onverdund te sluk en te absorbeer.  Laat ons ons daarvan weerhou om die skerpkant van sy uitsprake stomp te vyl met ons rasionele redenasies en verskonings.

Oor die sentrale belangrikheid van hierdie tema kan daar geen twyfel wees nie.  Dis nie maar net ’n terloopse of randuitspraak van ons Heer nie.  Dit word telkemale in die evangelies herhaal ‒ Lukas 14:27, Matteus 10:38&39, 16:24&25, Markus 8:34 en ook Johannes 12:25 (al word die woord “kruis” nie direk hier gebruik nie.)  Jesus se oproep vind ook neerslag in die res van die Nuwe Testament.  Dink maar aan Paulus se uitspraak, “aan Hom gelyk te word in sy dood” (Filippense 3:10) om maar net een voorbeeld te noem.  Oor die wye implikasies en toepassing van die oproep tot kruisdra hoef ons ook nie te wonder nie.  Hy sê dit vir “almal”  (v. 23).  Dit is dus van uiterste belang dat ons sal weet wat hierdie kernbegrip beteken en prakties vir ons inhou.

VOLGELINGSKAP EN KRUISDRA

Dis die twee sleutelbegrippe in hierdie gedeelte.  Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind.  Kruisdra kan net verstaan word binne die konteks van volgelingskap. 

Jesus se boodskap aan mense was, “Die koninkryk van God het naby gekom.  Bekeer julle en glo die evangelie.”  Die  prakties toegespitste appèl van hierdie prediking tref ons soos ’n refrein in die evangelies, “Volg my”, “Kom agter my aan.”  Jesus roep mense na Homself.  Dink maar aan Simon en Andreas daar langs die meer, ook Jakobus en Johannes, Fillipus, Matteus die tollenaar, die ryk jongman en vele naamlose voorbeelde.  “Volg” soos Jesus dit gebruik is duidelik ’n gelaaide begrip.  Dit behels baie meer as net ’n bietjie saamstap ‒ dit impliseer geloof, vertroue, oorgawe, diens, gehoorsaamheid (“my skape luister na my stem en volg my”).  Jy skaar jou openlik by die een vir wie jy volg.

Jesus roep sy volgelinge op tot ’n beslissende radikale keuse van afstand doen van die prioriteit van vorige verhoudings, lojaliteite, besittings en lewensstyl tot volle vertroue in Hom, ’n konkrete vereenselwiging met Hom, ’n nederige onderwerping aan Hom, ’n bewuste nabootsing van Hom as Meester in leer en lewenswandel.  Om die radikaliteit van volgelingskap, die selfverloëning wat dit vereis en die verreikende implikasies daarvan by sy hoorders tuis te bring, gebruik Jesus die begrip of beeld van kruisdra.

Kruisdra is ’n skerp, veelseggende begrip, wat almal van destyds sou verstaan en aanspreek.  Al Jesus se toehoorders het waarskynlik al gesien hoe ’n ter dood veroordeelde met sy kruis oppad is na die plek van teregstelling.  Veroordeeldes is gedwing om hulle kruise of ten minste die patibulum (dwarsbalk) self te dra.  As jy so iemand sou sien,  weet jy een ding, daardie man is ’n uitgeworpene, oppad na sy dood, sy aardse bestaan het nou ’n einde bereik.  Volgens sommige is dit ook moontlik dat die beeld van kruisdra ’n algemeen bekende metafoor van destyds was wat radikale sosiale isolasie en vernedering aangedui het.

Dis moeilik vir moderne mense om die stigma en skande wat aan die kruis gekoppel is, te verstaan.  Vir die meeste het dit bloot ’n sentimentele simbool geword.  Die kruis as teregstellingsinstrument vir die ergste tipe misdadigers, val in dieselfde kategorie van weersinwekkendheid as die vuurpeloton, galg of elektriese stoel van vandag. 

Belangrik om van kennis te neem: 

Jesus roep sy aspirant aanhangers nie op om bloot ’n kaartjie in te vul, hand op te steek of rympie te prewel nie, maar om hulle kruis op te neem!


TWEE GROOT MISVERSTANDE

Voor ons meer in detail na die betekenis van kruisdra vir ons kyk, moet daar eers twee algemene wanopvattings uit die weg geruim word.  Kruisdra is nie:
• een of ander persoonlike of familiebeproewing nie.  God gebruik inderdaad beproewings in die lewe van  Sy kinders met die oog op hulle heiligmaking en toetsing van hulle geloof.  Beproewings stuur Hy egter soos en wanneer Hy wil.  Dis nooit iets waartoe hy ons oproep nie, Hy bring dit op ons pad soos Hy dit nodig ag.
• algemene ellende of swaarkry nie.  Dis soos baie mense dit verstaan en dit het ook so in ons taalgebruik ingesluip in die uitdrukking, “Elke huis het sy kruis.”  Daar is inderdaad baie ellende , rampe en siekte in die wêreld en God se kinders is nie daarvan gevrywaar nie.  Hierdie ellendes het niks met kruisdra te doen nie, dit tref ons almal, dis nie iets wat ons vrywilig kies nie.

VYF BASIESE ELEMENTE VAN KRUISDRA

In v.23 sê Jesus (omskryf in ons taal van vandag), “As iemand van julle graag onder my aanhangers getel wil word, moet hy vir eens en vir altyd vaarwel sê vir sy eie self en moet hy bewustelik kies vir pyn, skande, ongerief en vervolging ter wille van my en die bevordering van my saak ‒ sonder ophou dag in en dag uit, en so moet hy my dan lojaal volg.”  Vers 23 bring ten minste vyf basiese elemente van kruisdra onder ons aandag:

❏ Kruisdra is vrywillig.  Dis ’n keuse waarvoor Jesus elke belangstellende en voornemende volgeling stel.  “Oorweeg jy dit om my te volg?, wel jy is welkom, neem jou kruis op en kom ...”  Jesus wil jou nie om die bos lei nie, Hy sê eerlik en reguit wat dit gaan kos, wat die gevolge gaan wees van jou verbintenis met Hom.  Bereken eers die koste.  Besluit of Ek dit vir jou werd is om al hierdie veragting, swaarkry en probleme ter wille van My te verduur.  Kruisdra is ’n doelbewuste, vrywillige en berekende keuse. Ek gaan oop oë in hierdie saak in.

❏ Kruisdra is ’n voortdurende aksie.  Vers 23 sê “elke dag.”  Dit behels nie net ’n eenmalige krisis tydens my bekering en dan is dit verby nie.  Dis ’n besluit wat lewenslange konsekwensies het en oor en oor bevestig moet word.

❏ Kruisdra is nie lekker of maklik nie.  Juis omdat dit gaan oor selfverloëning.  Dis  pynlik, want dis ’n doelbewuste keuse teen myself.  ’n Keuse vir Jesus is by implikasie in baie opsigte ’n keuse teen myself.  My ou self se belange sal noodwendig bots met die van my nuwe Meester s’n, aangesien eersgenoemde verdorwe is en lg. volmaak heilig is.  Selfverloëning is ten diepste ’n bekering van die afgodsdiens van selfgesentreerdheid en selfgerigtheid.  Dis makliker gesê as gedaan en daarom is dit ’n halwe waarheid as ons vir mense sê, “O, dis altyd so lekker om ’n Christen te wees.”  Terloops, Jesus het nooit vir iemand gesê , “Volg my, want dit gaan so lekker wees” nie. Inteendeel. (Die wat Jesus inderdaad volg met die gesindheid van selfverloëning, doen dit nie ter wille van byvoordele nie, maar omdat ons oortuig is dat Hy die Seun van God is, ons enigste Middelaar en Hoop).
❏ Kruisdra is ’n ononderhandelbare voorwaarde vir en onontbeerlike bestanddeel van dissipelskap.  Dis nie ’n bykomstigheid nie, maar ’n minimumvereiste.  Hieroor spreek Jesus Homself baie duidelik uit in Lukas 14 :27 “...kan my dissipel nie wees nie.”  Dit kom dus daarop neer dat Jesus geen ware dissipels het wat nie kruisdraers is nie.  Jesus het tydens sy aardse bediening die beginsel van kruisdra onlosmaaklik aan dissipelskap gekoppel, en daar is nog geen omsendbrief van die hemel af gestuur om te sê dat dit nie meer geld nie.  Die vereiste van kruisdra vir alle dissipels beteken noodwendig dat daar nie iets bestaan soos twee “klasse” van Christene nie ‒ A klas dissipels met kruise (sg. Geestelikes) en B klas dissipels sonder kruise (sg. Vleeslikes, wat vir hulleself lewe maar tog mos darem hemel toe sal gaan) nie.  ’n “Dissipel” sonder ’n kruis (sonder selfverloëning) is volgens die Bybel hoegenaamd nie ’n dissipel nie, al noem hy homself een.

❏ Kruisdra is iets wat ek doen ter wille van Christus en verduur as gevolg van Hom.  Prakties beteken dit ek doen doelbewus afstand van my voorkeure, wense, gerief, ambisies en belange in soverre dit in my pad staan om Jesus voluit en onvoorwaardelik te gehoorsaam en te dien. Dit beteken ook dat ek my bereid verklaar en inlaat om die gevolge wat voortvloei vanuit getroue navolging van Jesus te dra en verduur.  Troue navolging van Jesus behels o.a. dat ek my openlik voor mense aan Sy kant sal skaar (v. 26), Hom ten alle tye sal gehoorsaam en Sy wil en belange eerste sal stel.  Watter negatiewe gevolge sal dit vir my inhou?  Veragting van mense, valse aantygings ("hy hou hom heilig, hy dink hy is beter as ons"), sosiale uitsluiting, materiële verliese weens die handhawing van Bybelse beginsels in my besigheid ens.  
Soos die geval met ander Bybelse begrippe word die inhoud van kruisdra verdraai en verwring om by die mens se sondige motiewe te pas.  Let op die volgende verdraaiings wat dikwels voorkom:
• Sommige sien kruisdra as ’n stuk selfkastyding waarmee ek vir my sonde kan betaal en so geregtigheid voor God kan kry.
• Party dink dis ’n manier hoe ons God se arm kan draai om sekere dinge vir ons te doen of
• ’n Manier om my heiligheid aan ander te bewys, aandag te trek of  simpatie te ontlok.
• Dis ook ’n mode om swaarkry ter wille van politieke oortuigings of omstrede standpunte as kruisdra te klassifiseer.  (Volgens die Skrif val net dit wat ek ter wille van Christus en Sy saak verduur onder die opskrif van kruisdra; om 20 jaar of meer vir my politieke beginsels in die tronk te sit kan dalk prysenswaardig wees, maar dis nie kruisdra in die Bybelse sin van die woord nie.)

Onthou : Kruisdra red ons nie, dis wel ons enigste sinvolle reaksie op die radikale verlossing wat ons Verlosser aan die kruis vir ons bewerk het!

PERSOONLIKE TOEPASSING

Is jy nog onseker wat kruisdra in jou persoonlike omstandighede behels? Vra jouself ‒ is daar vriende, verhoudings, belange (sport?) en of enige ander lojaliteit wat my verhinder om te alle tye Jesus se wense soos uitgespel in die Skrif te gehoorsaam?  Spurgeon se waarskuwing is hier van pas, “O, do not for the sake of a man’s frown or a woman’s smile forego eternal life.”  Vra jouself ‒ watter konsekwensies laat my op dié stadium nog terugdeins en wegskram om openlik aan Jesus (en Sy kerk) se kant te gaan staan?  Dit behoort jou ’n goeie aanduiding te gee van die betekenis en implikasies van kruisdra binne jou persoonlike konteks.

DIE VERGETE BEGINSEL

Jesus se eie woorde kan by ons geen twyfel laat dat die opneem van die kruis ’n onmisbare deel van Nuwe Testamentiese Christenskap is nie.  Kruisdra is ’n onontbeerlike bestanddeel van Christenskap. Net soos dit onmoontlik is om mieliepap sonder mieliemeel te maak.  Hoeveel  bykosse en souse jy ook saam met die mieliepap kan maak, sonder die basiese bestanddeel van mieliemeel hou dit op om egte mieliepap te wees.  

Dis ’n tragiese feit dat die beginsel van kruisdra  grootliks uit die breë kerklike praktyk van tans verdwyn het en  nog eintlik net in die argiewe gevind word. Kruisdra het ‘n verbode “K-woord” geword, wat nie meer dikwels in Christelike geselskap gehoor word nie! Die oproep tot daaglikse kruisdra het verborge geraak onder ’n dik stoflaag van menslike tradisies, gemaksug en wêreldgelykvormigheid.  Die vraag is net: is dit wat oor die algemeen as Christenskap deurgaan, hoegenaamd nog die ware Jakob? Gaan baie nie dalk eendag te laat uitvind dat hulle nooit volgelinge van Jesus was nie? Mag die Gees van God weer ons oë open om die sentrale beginsel van kruisdra te herontdek en implementeer.

DIE MOEITE WERD

Ten minste een belangrike aspek moet nog vermeld word.  Die heerlike belofte wat saam met die oproep gaan.  Vers 24b.  Kruisdra is verseker nie lekker en maklik nie, maar dis  beslis ook nie ’n doodloopstraat wat op niks uitloop nie.  Kruisdra ter wille van Jesus beteken wins in absolute terme, ’n ewige batige saldo.  Dis oor en oor die moeite werd.  Trouens dis die enigste pad vir die mens wat tot ware wins lei.  Miljoene getroue dissipels wat reeds die wedloop afgelê het en op hierdie oomblik by Christus is, sal net kan saamstem.

Neem jou kruis op en volg Hom, Hy sal jou ook die genade gee daarvoor!



(Ou skyfie van Pa van Owamboland)