BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Hemel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hemel. Wys alle plasings

Woensdag 20 Desember 2017

HEMEL ÉN AARDE

- hoe pas hemel en aarde by ons lewens in, hier en nou?


“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!" (Lukas 2:14!) 

Hemel én aarde! Ons leef dikwels in ‘n spanning tussen hemel en aarde. Ons sukkel om aan elkeen die regte plek en balans in ons lewens te gee. Ons weet mos - die kind van God is ‘n burger van die hemel*, maar ons leef tog nou op hierdie oomblik op aarde. Dit wek vrae by ons op… Hoe belangrik is die aarde en aardse lewe? Is dit hoegenaamd belangrik en die moeite werd, dis immers relatief bitterlik kort? Mag ‘n kind van God aardse dinge soos lekker eet, wetenskap, huwelik, beroep... geniet? Maak ons aardse lewe sin of is dit maar net ‘n voorbereiding vir die hemel? Wat beteken dit om met ‘n hemelse gerigtheid te leef? Beteken dit om net heeldag te bid, Bybel te lees en aan die hemel te dink? En moet mens nou skuldig voel as jy ook met ander dinge besig is?

Hoe pragtig kom hemel en aarde saam in hierdie oorbekende teks! 

Jesus se koms na die aarde bring juis eer aan God in die hemel! 

Hier is dus nie ‘n botsing tussen hemel en aarde nie, maar ‘n heerlike harmonie!

Die geboorte van Jesus, Sy menswording, onderstreep juis die belangrikheid van menswees. Jesus kom nie as ‘n superwese, gees of simbool na hierdie aarde nie. Maar as mens. Regte mens. Hy kom soos alle regte mense in die wêreld in, as hulpelose baba! Maar Jesus is ook regtig God. Hy bring God se boodskap en Hy leef God se waardes uit, maar Hy doen dit hier op aarde binne in die gewone alledaagse lewe. Hy woon soos ander gewone mense ‘n troue by en dan maak Hy nog boonop wyn ook. In die proses bring Hy die boodskap van ‘n nuwe bedeling. Maar Hy word ook diep geraak as hy voor die graf van sy vriend Lasarus staan en huil. Hy bring Goddelike hoop in ‘n donker situasie. Hy doen ook iets heeltemal alledaags, hy braai vis vir sy dissipels, maar dis ook sommer die geleentheid waar Hy openbare vergifnis aan Petrus skenk. Vir Jesus is daar nie ‘n spanning tussen hemel en aarde nie. Hy is mens-mens, tussen die mense en as mens leef Hy volgens die wil van Sy Vader. Hy sweet in ‘n timmermans werkswinkel, Hy betaal belasting, maar Hy verkondig ook die geheime van God se koninkryk en bewandel ’n intieme gebedspad met sy Vader.

Miskien dink jy, “dis Jesus ja, Hy is immers uniek, maar wat is die benadering van die apostels en veral Paulus?" Het hulle nie dalk ‘n negatiewe siening oor ons aardse lewe nie? Kom ons kyk na Kolossense 3:1-2. 

“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.
Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,...”

So op die klank af kan ons maklik ‘n verkeerde afleiding van hierdie opdrag van Paulus maak. Maar kom ons kyk mooi wat hier staan. Dit begin met “aangesien”. Paulus wil sê aangesien julle reeds vrygespreek is, die ou sondige mens saam met Christus gesterwe het, julle as nuwe mense in Christus opgestaan het met ander woorde, aangesien julle ‘n nuwe identiteit het, leef nou nuut! Bedink die dinge daarbo! Leef volgens julle ware identiteit. Wat behels dit? Los julle werk en verantwoordelikhede? Droom oor goue strate? Sing heeldag koor? Nee, hy beveel ons om heilig te leef. Om te los wat sleg is en te beoefen wat reg is in God se oë. Dit gaan daaroor om hemelse standaarde en beginsels uit te leef in die konkrete harde aardse werklikheid. En dan gee hy presiese opdragte oor hoe ons die aardse verhoudings waarin ons leef moet hanteer…(3:18-4:1) Ons het dus ‘n duidelike sinvolle aardse roeping – om in gemeenskap met Jesus, onder leiding van Sy Gees in alle situasies te leef! Dit bring eer aan Hom!

Dis die punt - Die evangelie maak nie van ons hemelwesens, wolkbewoners of kloosterlinge nie. Maar nuwe mense in die harde werklikheid van ‘n onvolmaakte aardse bestaan. Nuwe mans, vroue, ouers, kinders, werkgewers en werknemers wat nou hier op aarde anders moet leef (tussen sondige mense) terwyl ons met ons gewone pligte en vreugdes aangaan. (Vgl.1 Kor. 10:31)

Heiligheid beteken nie om op te hou mens wees nie, maar om mens te wees volgens God se wil. En dis eers dan wat ons regtig mens is volgens God se oorspronklike bedoeling! Vat nou maar twee omstrede sake : kos en seks! Gaan lees wat Paulus hieroor in 1 Timoteus 4:1-5 skryf! (Jy kan dalk verbaas wees!)  Die hongerdrang en die geslagsdrang is nie boos omdat dit aards en fisiek van aard is nie. Dis deur God in ons ingeskape, dis deel van menswees. Om dit te ontken is om die leringe van duiwels aan te hang. Dis demonies. Wanneer ons vrywillig daarvan afstand doen (soos wanner 'n mens vas) is dit om ons verlange na God te toon, maar dis nie ‘n wet nie. Nee, die Bybel se boodskap is nie om ons God geskape drange of behoeftes te ontken nie, maar om dit met danksegging en in gehoorsaamheid aan God se voorskrifte te geniet.

HEMEL OF AARDE?

Nee, altwee, beide, gelyktydig. Ons moet hemels leef op hierdie aarde solank ons hier is! Ons kan juis nou reeds op aarde binne die gebrokenheid en onvolmaaktheid voluit leef as hemelse burgers omdat ons self nie eers die dood hoef te vrees nie. En terloops, laat ons nooit vergeet nie, ons eindbestemming is die nuwe AARDE. Heerlik anders nuut, vry van sonde en stryd, maar nog steeds aarde! Want die aarde is ook God se AARDE en met hierdie skepping en ons as Sy skepsele het Hy ‘n heerlike doel! Toe Jesus gekom het Hy die hemel aarde toe bring. Op hierdie aarde hier en nou moet ons volgens hemelse, Goddelike beginsels lewe totdat die koninkryk in volmaaktheid aanbreek by sy wederkoms. Daarom is ons wat Hom navolg, eintlik hemelse aardlinge, maar ook aardse hemelinge!**

Gaan leef nou voluit 'n gehoorsaamheidslewe, ook in die feestyd!

*“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.” (Filippense 3:20,21)

** Johan Celliers in sy boek, “Die Genade van Gehoorsaamheid.”


Vrydag 24 Julie 2015

SO LYK DIT IN DIE HEMEL

Gaan jy saam juig en is jy alreeds besig?

Hoe lyk die hemel? Daar is soveel idees oor die hemel. Allerhande mense beweer deesdae om in die hemel te gewees het. (Kliek op SONEL) Daar word ook roekelose en wilde aannames gemaak van wie hemel toe sou gaan en wat hulle daar sou maak. ‘n Mens verstom jou oor die uitlatings wat op begrafnisse gemaak word oor wie nou almal in die hemel rondjaag op motorfietse of daar vir ‘n span rugby of krieket speel... Dis net so bisar soos die Moslems se idee van ‘n hemel met maagde wat die wellus van jihadi’s moet bevredig...



GOD IS DIE FOKUS!

Hoe lyk die hemel? Op die ou end het ons net een betroubare bron, en dis God se Woord. Kyk gerus na twee Bybelse beskrywings van die hemel (se heerlikheid) in Openbaring 4:1-11 en JESAJA 6:1-7. Die ooreenkoms tussen Openbaring en Jesaja is merkwaardig en opvallend. Dis duidelik, die hemel is die plek waar God in sy volle majesteit volmaak geëer, bewonder en geloof word. God is in die sentrum! Hyself is die fokus! (Terloops, alle teologie en godsdiens waar Hy nie in die middelpunt is nie, is mensgemaak en vals.) 

Anders gestel, die hemel is die plek waar daar ‘n ewige volmaakte permanente erediens gehou word!


Natuurlik, ken ons nie al die detail van die hemelse bestel nie, maar die essensie daarvan word saamgevat in die konsep van 'n erediens!

Die vraag vandag is : Is ek en jy gereed vir hierdie ewige erediens? Baie mense is ooglopend nie gereed nie, want hulle stel nie eers nou belang in die erediens nie, dis nie vir hulle lekker nie en hulle sal beslis nie eendag daar inpas nie! So baie sien God bloot as ‘n helper (Hy moet spring as ons in die moeilikheid is of hartseer beleef), maar daar is min ywer om Hom te bewonder, te aanbid en sy wil te gehoorsaam.

Uit Jesaja 6 blyk dit drie dinge is nodig om voluit, nou en vir ewig saam deel te neem aan die hemelse erediensvieringe! Besef wie God is, besef hoe groot my sonde is, ontvang vergifnis!

BESEF WIE GOD IS. God het Homself aan Jesaja gewys en toe besef hy eers wie God regtig is. Net terloops – daar word melding gemaak van die “sterfjaar van Ussia” - dis ’n krisis tyd, die Here gebruik dikwels een of ander krisis om mens se oë te open. Jesaja sien die grootheid en heerlikheid van God raak! Liewers, God openbaar Homself aan die profeet. Wat ’n ontsagwekkende gesig! God op ’n baie hoë troon! Heerser van die heelal. Ten volle in beheer, absoluut soewerein! (dis ‘n feit wat deurgaans ook in die boek Openbaring beklemtoon word) Kyk, luister... Sien en hoor saam met Jesaja.. “Heilig, heilig, heilig…” Voel die kosyne rammel; ruik die rook. Angswekkend, verstommend heerlik en groots! Een saak is duidelik : Jesaja moes eers besef wie God is. Nie maar van hoorsê nie, nie bloot wat tradisie hom geleer het nie, maar werklik van aangesig tot aangesig. Dis moontlik om vir jare vaagweg te besef daar is ‘n God, maar op ‘n dag openbaar Hy Homself deur sy Woord en Gees aan jou! Dis wat ons die nodigste het.... ons moet besef wie God is, ons moet besef Hy is groot, ons moet besef HY IS GOD, HY IS HEILIG!

BESEF SONDE. Toe Jesaja besef wie God is, toe gebeur daar nog iets. Sy geestelike oë gaan oop, hy sien sy eie sonde raak. In die lig van God se heiligheid sien hy sy eie onreinheid. Dis asof die helder lig van God se heiligheid en heerlikheid deur sy siel skyn en elke stukkie onreinheid ontbloot. Hy roep uit: “Dis klaar met my, ek is verlore!” Wat gaan ons nie alles sien as hierdie lig deur ons skyn nie.... ? Sulke donker swart kolle van selfsug, haat, onreinheid...valsheid. Die vuil vlekke van hardvogtigheid, liefdeloosheid , jaloesie... Dit bring ’n wanhopigheid in Jesaja. “Dis klaar met my! Hierdie gesig bring hom tot ’n erkentenis van sy toestand van totale verdorwenheid. “Elke woord....” Nie net ’n paar klein foutjies nie! Lippe word beklemtoon... Sy bedoeling is moontlik ook hier dat hy vanweë sy onrein lippe nie kan deelneem aan die lofsange van die serafs om God te besing nie! Sonde verhinder ons om God te eer. Sy onrein lippe is ’n hindernis om te doen wat hy eintlik moet doen. 

Ons sonde keer ons om God te eer en te geniet! En dis dan juis waarvoor God ons gemaak het. Sonde verhoed ons om deel te neem aan die ewige erediens! Dis wat ons uit die hemel hou!

As die Heilige Gees met mens werk dan slaan dit jou plat en laat jou sprakeloos. Alle slimmigheid en verskonings verdwyn en al wat oorbly is om ‘n belydenis van sonde uit te stotter. Jy kan nie draaie loop met God nie. Nog iets. Jesaja sien die sonde rondom hom raak! As die Heilige Gees in ’n mens werk, kan jy nie meer dink alles in die gemeenskap is maar reg nie; jou oë gaan oop vir die afskuwelikheid van sonde. Nie net jou eie sonde nie, maar die sonde rondom jou word ’n pyn. 

ONTVANG VERGIFNIS. Nou gebeur daar iets dramaties met die gebroke sondebewuste Jesaja. God bewerk die versoening. (Op die altaar, dis waar die offers gebring is) Met ‘n gloeiende kool van die altaar word sy lippe aangeraak. Hy kry die versekering dat sy sondes versoen is, die versekering dat hy vergewe is. As jy vandag besef wie God is, en bewus word van jou eie sonde en onwaardigheid - dan is daar ook Goeie nuus vir jou : Op ’n altaar 2000 jaar gelede, is daar ’n volmaakte Offer gebring. ‘n Genoegsame offer, eens en vir altyd. (Hebr 10:14) Daar het ’n Lam gesterf - die Lam van God... op die altaar van die kruis. Die versoening is bewerk! Die oomblik as ek in erkentenis en berou my tot Jesus wend, dan ontvang ek die versoening persoonlik! ’n Bewende Jesaja sien die skrikwekkende heiligheid van God, hy besef sy sonde - en die wonder gebeur, hy word nie vernietig of weggestoot nie... hy ontvang vergifnis.

God vernietig nie ’n gebroke berouvolle sondaar nie. God red hom! Dawid sê : “U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God!” (Psalm 51:19) Terloops, daar is eintlik net een ding wat tussen ’n mens en verlossing kan staan, dis hoogmoed! ’n Trots wat nie wil buig nie! Niks kan keer dat God jou vergewe nie, nie ’n donker verlede nie, nie die aakligheid van al ons sondes nie, nie die getal oortredings nie, maar as ek hoogmoedig is en my sonde nie wil erken nie, dan gaan ek die genade misloop. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5) Jesaja verneder homself voor God en hy hoor die wonderlikste woorde wat enige sondaar op aarde kan hoor : “Jou oortredinge is vergewe, jou sonde is versoen.” (Vers 7) Dis die woorde wat Jesus op aarde ook telkens vir gebroke sondaars wat na Hom gekom gesê het... die verlamde man, die sondares wat Sy voete gewas het...

Het jy vergifnis ontvang op grond van Jesus se genoegsame offer? Dan kan jy deelneem aan die ewige erediens waar God geloof word. Dit begin nou reeds. Kom neem gerus elke Sondag deel...


[Felsenkirche]

Vrydag 13 Desember 2013

WATTER HEMEL?

- Spaar my asseblief 'n hemel met ANC takke (of die van enige ander politieke party!)

RSG berig op 13/12/2013 :

Madiba se oudste dogter, Makaziwe sê haar pa sal tot in ewigheid 'n getroue ANC-lid wees. Sy het met die SAUK in Qunu gepraat. Sy sê hy het altyd gesê dat die eerste ding wat hy in die hemel sal doen, sal wees om 'n ANC-tak op te spoor. Makaziwe het egter bygevoeg dat die ANC moet aanvaar dat hy ook aan die wêreld behoort en dat die waardes wat hy bevorder het, groter as die party is. Die volledige onderhoud sal vanaand op SABC2 om nege-uur uitgesaai word.


Die "hemel" met takke van politieke partye is beslis 'n versinsel van Bybelonkundige mense... of dalk eerder 'n geval van "wishful  thinking"? Wel, hoe weet ek dit? Eenvoudig, die hemel gaan nie 'n demokrasie wees nie, maar 'n absolute monargie met 'n VOLMAAKTE KONING! Ons kry belangrike inligting hieroor in 1 Korintiërs 15. Dit gaan oor die heerskappy van die OPGESTANE Jesus en wat daarop volg...

"Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 
Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 
Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 
Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 
En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees."  (1 Korintiërs 15:24-28)

Ek glo eerder God se Woord as vir Makaziwe.... Ek sien uit na die vernietiging van alle bose opstand teen God en die volledige aanbreek van GOD SE KONINKRYK!! Die nuwe hemel en nuwe aarde waar geregtigheid sal geskied.