BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Onbekeerde mans (hantering). Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Onbekeerde mans (hantering). Wys alle plasings

Vrydag 10 Mei 2013

AS PRAAT EN PLEIT NIE MEER HELP NIE

- is die Gees nog steeds daar! 


Kinders van God beleef soms baie soorte teleurstellings en moedeloosheid en selfs partykeer ‘n wanhopige gevoel van bekommernis. Die redes is veelvuldig : dinge werk nie uit soos ek dit wil hê nie, probleme so groot soos die berge, moeilike omstandighede wat eindeloos voortsloer... van die ontstellendste krisisse is egter die angswekkende feit van eggenotes, kinders, familie en vriende (selfs gemeentelede) wat onbekeerd voortleef terwyl die einde naderkom... Hulle is vasgevang in Satan se greep, verblind deur die wêreld, verlam in ‘n verlore staat... Jou gepraat val skynbaar op dowe ore, jou gedreig en gepleit het geen effek. Dit maak jou moedeloos en selfs paniekerig. Dan is daar nog die betreurenswaardige toestand van die kerk...dwalinge, morele verval, wêreldsgesindheid en laksheid wat floreer. Dit dreig om baie Christene heeltemal moedeloos of sinies te maak. 

Die profeet Sagaria het vir elkeen wat so voel ‘n besondere boodskap. Sagaria self het opgetree in ‘n konteks van moedeloosheid en teleurstelling. Hy bring sy boodskap in die tydperk nadat die Jode uit ballingskap teruggekeer het na Jerusalem. Hulle het mooi verwagtinge gehad, maar als het nie uitgewerk soos hulle gedink het nie. Daar was armoede, vyande, geskille en geestelike verval. Die groot taak in hierdie tyd was om die verwoeste tempel weer te herbou, maar dit het maar broekskeur gegaan en op ‘n stadium moes die werk gestaak word. Die goewerneur Serubabel moes in hierdie moeilike omstandighede toesien dat die bouwerk vorder. Die doel van visioen van die olie en die lampe in Sagaria hoofstuk 4 was om hom te bemoedig. Hierdie bemoediging gaan egter verder as Serubabel en sy tyd, dis ‘n profetiese boodskap wat ook ons direk raak... 

Die kernboodskap van die beeld van die olie en die lampe vind ons in vers 6. “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige."

Dis wat die moedelose Serubabel moes hoor : die sukses van sy onderneming het nie afgehang van menslike vermoëns en planne nie, maar van God se Gees wat krag gee. Deur die krag van God se Gees sal die grootste berg, die ongemaklikste struikelblok, ‘n gelykte word! (7) Hoe nodig het ons nie om hierdie boodskap te hoor nie. Ons het mos die neiging om alles met brute krag en geweld te wil regforseer. Ek wil my familie regskree. Ek wil my man regpreek. Ek wil my werksmense sommer met ‘n dropper regmoker tot bekering! God herinner ons... “Nee, my kind, nie deur krag en geweld nie, maar deur my Gees...” 

Kom ons vat dit maar vir ‘n feit: ons kan niemand deur menslike geweld en oorredingskrag verander nie. Ons kan nie self lewe blaas in iemand wat geestelik dood is nie. Ons kan niemand se gewete bring tot berou nie. Ons kan niemand beweeg tot bekering nie...maar die Heilige Gees kan! 

Hierdie visioen van Sagaria beklemtoon ons totale afhanklikheid van God se Gees. Die lampe van die kandelaar word voortdurend voorsien vaan olie. Sonder die olie kan die lampe nie brand nie. Die lampe simboliseer die aanbiddingsgemeenskap, in ons taal, die gemeente. Sonder die bekragtiging en energie van die Heilige gees kan ons nie kerkwees nie, kan ons nie effek hê op mense rondom ons nie, kan ons nie slaag met ons Godgegewe take nie. Ek en jy kan nie in hierdie donker wêreld skyn en ‘n verskil maak sonder die olie van die Heilige Gees nie. 

Die heerlike boodskap van Pinkster is juis dat die Heilige Gees tot beskikking is van elke kind van God! 

As ons dan nou besef dat ons afhanklik is van die Heilige Gees, wat dan nou? 

Bid vir die bekragtiging van die Gees. Gebed is die duidelikste bewys dat ek nie meer op eie vermoëns staatmaak nie, maar op die Heilige Gees. God skenk sy Gees in antwoord op gebed. (Lukas 11:13) 

Waak dat ek nie die Gees bedroef en uitblus nie. (Efesiërs 4:30) Hoe keer ek dat ek die Gees bedroef? (Ef 4:31,32) Stel my verhouding met my medemens reg! 

Getuig onder beheer van die Heilige Gees. Hy gee die krag daarvoor. (Handelinge 1:8) Die Heilige Gees maak ons nie passiewe dromers met wollerige idees nie, maar gehoorsame arbeiders in God se wingerd! Vertel maar net in opregtheid wie Jesus is en wat Hy vir jou gedoen het. Moenie geestelike geweld en druk op mense toepas nie. Laat die Gees jou lewe spontaan oorheers, sodat jou woorde deur jou lewensstyl ondersteun word. 

Wie op die Heilige Gees vertrou het rede om positief blymoedig te wees. Die pessimiste sou destyds sê : kyk hoe stadig vorder die tempel, dit sal nooit klaarkom nie. 'n Belangrike deel van die boodskap wat Sagaria moes oordra is: Moenie ‘n klein begin verag nie! (10) Ja, die ware Christene is min, die wat vashou aan die waarheid van die Woord is yl gesaai, ons woorde voel so swak, ons pogings lyk so nietig... Moenie dit geringskat nie. Onthou vir die Gees is niks onmoontlik nie. (Hy kon Paulus die klipharde Fariseër verander...) Jesus self het ons daarop gewys die koninkryk van God begin maar klein, soos ‘n mostertsaadjie, maar dit groei onstuitbaar... 

God self sorg dat sy tempel gebou word!

Hiervoor het Hy destyds mense gebruik wat afhanklik was van die Gees. Die fisiese tempel is wel herbou in die tyd van Sagaria, maar God is vandag nog met iets baie groters besig. Hy bou sy ewige tempel, sy kerk, die liggaam van Jesus. God gebruik weereens mense hiervoor wat afhanklik is van die Heilige Gees. Jesus is ons Gesalfde, Hy was vol van die Heilige Gees en Hy gee sy Gees aan ons om die werk te kan doen. Hierdie feit gee ons hoop en vuur ons aan om te werk. Ons kan Hom vertrou om deur sy Gees groot dinge te doen, al lyk ons pogings hoe klein! 


Dinsdag 02 Oktober 2012

DIE MAG VAN 'N MOOI VROU!

- om haar man vir Christus te wen.

Dis ‘n opsigtelike tragedie : Huisgesinne en huwelike is in groot chaos. Die ergste  is dat baie Christene se huise en huwelike nie juis altyd  beter lyk as die van die wêreld daarbuite nie. Dit doen soveel oneindige skade aan die beeld van die evangelie. Dis nie God se bedoeling nie! As God mense red, wil Hy ons totale lewe vernuwe. Dit sluit die huwelik in. Daarom kry ons baie spesifieke opdragte oor die verhouding tussen man en vrou in die Skrif.

Petrus gee onder leiding van die Heilige Gees praktiese opdragte aan mans en vroue in 1 Petrus 3:1-7. Ons kyk vandag wat hy vir die vrou sê:

“NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.
Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,
maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.
Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,
soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie." (OAV)

Kom ons herinner ons net eers aan die wyer konteks  waarbinne hierdie opdragte aan die vrou (en later ook man) kom. Dit hang nie in die lug nie. Twee sake is van belang:  

Dis deel van die groot opdrag in 1 Petrus 2:11,12.  Hier  gaan dit  oor ‘n skoon lewenswandel, ‘n voorbeeldige en aantreklike lewensstyl te midde van ‘n bose en vyandige wêreld. Kinders van God  is in hierdie wêreld, maar ons is geroep om anders te wees. Ook wat betref ons huwelike en gesinne, moet ons opvallend anders wees! Ons moet deur ons voorbeeld die Christelike boodskap “versier” sodat ons die ongelowiges daardeur kan wen vir die waarheid! Mense moet vra : “Hi, hoekom is julle gesin so gelukkig?” Ons huwelike moet modelle wees wat buitestaanders se onregverdige kritiek teen die kerk tot swye sal bring!
Tweedens is hierdie opdragte ook ‘n onderdeel van die deurlopende belangrike beginsel van onderdanigheid in 1 Petrus 2:13 (dit word herhaal in 18,3:1)

Die saak wat Petrus aanspreek is spesifiek die verhouding van die vrou met haar eie man in die huwelik.   

Hierdie opdragte van Petrus ontspring natuurlik uit ‘n spesifieke situasie in die werklike lewe as agtergrond, wat heelwaarskynlik algemeen voorgekom het. Dikwels het net een lid van ‘n egpaar uit die heidendom tot bekering gekom. Dit skep besondere probleme en uitdagings. Hoe leef ‘n vrou in ‘n huwelik saam met ‘n ongelowige man, wat dus ongehoorsaam is aan die Woord? Dis vandag nog steeds ‘n aktuele krisis.  Gewoonlik hanteer die meeste Christen  vroue dit ongelukkig verkeerd. (Julle weet mos wat hulle doen :  hulle kry boekies en blaadjies en DVDs, bel die dominee om te kom praat ens. Die gevolg : pappie word net al kwaaier en bestee al meer tyd weg van die huis om te vlug vir sy vroutjie se gepreek!) Petrus maak dit baie duidelik wat die vrou se werkswyse moet wees. Hy gee ‘n heder antwoord. (al is dit nie die lekker en maklike antwoord wat ons wil hoor nie)

Die Christen vrou moet haar onbekeerde man vir Christus wen, deur wandel sonder woorde! Sy moet ‘n woordlose evangelie bring! Haar lewe moet ‘n getuienis wees met groot oortuigingskrag! Natuurlik, kom ons erken,  dis veel gevra en beslis nie maklik nie. Kom ons wees eerlik : dit vereis opregte toewyding, onselfsugtige Christenskap, eindelose geduld en selfs die bereidheid om te ly! Dit vra bonatuurlike deursettingsvermoë! Gedryf deur ‘n passie vir God se eer en ‘n werklike liefde vir die man.  Ondersoek die motief van jou hart. Is dit nie dalk :  “ek wil tog hê hierdie ou moet ‘n Christen word sodat die lewe vir my makliker kan wees” nie? (LW - dit gaan hier oor mense wat reeds getroud was, toe die vrou tot bekering gekom het. Baie gelowige vroue sit met die pyn van ongelowige mans omdat hulle direk teen God se opdragte met onbekeerde mans getrou het. En dit  terwyl die Bybel dit verbied.)

As die vrou die man so met haar leefstyl  kan wen is al die moeite en opoffering dit werd. Hoe lyk hierdie lewenswandel? Dis ‘n lewe volgens die beginsels van : Onderdanigheid, Reinheid en Godvresendheid.

OPGEMAAK OF NUUTGEMAAK?

Petrus maak hierdie beginsels op ‘n praktiese saak wat vir vroue belangrik is van toepassing. Hoe maak ‘n vrou haarself aantreklik? ‘n Vrou kan op een van twee kante konsentreer : Uiterlike of innerlike. Waar gaan sy al haar energie (en geld) insit?  Klere of karakter? Gesig of gees? Petrus is duidelik, die klem moet nie op die uiterlike val nie! (Natuurlik propageer Petrus nie onversorgdheid nie.) Hy spreek wel ‘n baie teer saak aan in die sensuele en oppervlakkige kultuur waarin ons ons bevind. Maar hierdie probleem is nie iets nuuts nie.  Petrus se vermaning herinner sterk aan die van Jesaja 3:16-24 Luister bietjie!

"Die Here het ook gesê:
Die vroue in Jerusalem is hoogmoedig.
Hulle loop neus in die lug en swaai hulle heupe.
Hulle kyk vir die mans en knip hulle oë,
hulle skud die ringe om hulle enkels.
Maar die Here sal hulle koppe vol sere maak,
en hulle hare sal uitval.
Daardie dag sal Hy hulle mooi goed wegvat:
die ringe om hulle enkels en die juwele
wat lyk soos die son en die maan,
die oor-ringe en die armbande en sluiers,
die kop-ringe en die kettings om hulle enkels,
die mooi gordels om hulle lyf, die reukwater,
die juwele om hulle nekke,
die ringe aan hulle vingers en die neusringe,
die mooi rokke, die doeke om hulle skouers, die handsakkies,
die spieëls, die lang rokke, die kopdoeke en die kort jassies.
Wanneer die Here
al die mooi goed weggevat het,
dan sal die vroue nie meer
lekker ruik nie, hulle sal stink.
Hulle sal nie meer mooi gordels dra nie,
hulle sal toue om hulle lyf dra.
Hulle sal nie hulle hare kan vleg nie,
want hulle sal kaalkop wees,
hulle sal nie meer mooi klere dra nie,
hulle sal rouklere dra.
Hulle sal nie meer mooi wees nie,
daar sal brandmerke op hulle lywe wees,
want hulle sal slawe wees."

Sjoe!!! Klink amper of Jesaja deur die Huisgenoot geblaai of een van ons winkelsentrums besoek het!

Waaroor gaan dit? Die profeet Jesaja veroordeel die ryk hooghartige dames van Jerusalem wat hulle slegs oor hulle uiterlike voorkoms bekommer, terwyl die samelewing innerlik verrot is. Dis gewoonlik die tendens, hoe groter die geestelike armoede, hoe meer word daar op uiterlike vertoon en uitspattigheid gefokus om te probeer kompenseer! 

Ook Paulus maak soortgelyke opmerkings as Petrus in 1 Timoteus 2:9-10 (lees) Die Bybelse siening staan  in skerp  kontras met die algemene opvattings van die wêreld. Ons hoor dit mos : van kleins af word kinders aangemoedig om “sexy” te wees! Pasop: Ouers voer hulle kinders verkeerde waardes op subtiele maniere, sonder dat hulle dalk self daarvan bewus is!

Petrus se punt is nie ‘n  legalistiese verbod op alle mooi klere of grimering nie. (waar sou mens in elk geval die streep trek?)  Nou wat wil hy dan  tuisbring? Die punt wat hy wel maak  is tweeledig : 
1) Die oorweldigende waarde van innerlike skoonheid bo uiterlike versiering. 
2) Die groot gevaar van uitspattige sensuele versiering.

Weereens durf ons geen kleinlike wettiese reëls hieroor maak nie.  Elke Christen vrou moet onder leiding van die Heilige Gees, volgens die beginsels van die Woord en binne die konteks van bepaalde kultuuromstandighede, eerlik voor die Here keuses maak. Dit gaan eerstens natuurlik oor jou eie diepste motiewe, maar vir die Christen vrou wat ander se geestelike welsyn op die hart dra, ook  oor die vraag of my kleredrag en grimering ander in versoeking kan lei.

Positief : 

Die geheim van die Christen vrou se standhoudende skoonheid lê nie in  hoe sy haarself opmaak nie, maar hoe die Heilige Gees van God haar nuutmaak! 

MAGTIGE MOOI VROUE

Die innerlike mooi Christen vrou het ‘n magtiger wapen om haar man mee te beïndruk as bloot uiterlike aantreklikheid.  Konsentreer daarop!  Die uiterlike  het slegs ‘n kortstondige duur : die hare moet telkens teen groot koste weer oorgedoen  word, die duur klere is volgende seisoen weer uit die mode... Daarteenoor word  ‘n sagmoedige, bedagsame karakter net al mooier. Dis die gees wat daagliks deur die Gees vernuwe word!  Dis wat God sien en hoog ag!

SARA OF ISEBEL?

Petrus verwys na die verlede en merk op dat dit altyd so was dat heilige vroue hulle versiering in die innerlike gevind het.
Hulle geheim? Hulle het op God gehoop! Sara was so ‘n voorbeeld. Sy het nie ‘n maklike lewe gehad nie... op die trekpad, vol onsekerheid, baie noue ontkominge... Tog het sy getrou aan Abram gebly en hom gerespekteer. Petrus haal aan uit Gen 18:12 . Dit gaan oor respek. Hoop op God sal lei tot respek vir die man. Pasop hoe jy oor jou man praat of na hom verwys as jy saam met vriendinne is!  Respek te alle tye!  Volg Sara se  voorbeeld na.  

So baie vroue is eerder dogters en nabootsers van Isebel....Die listige koningin met agterbakse planne wat haar  swakkeling man  Agab totaal oorheers het. Hierdie bose koningin kon nie God se oordele vryspring nie, haar oogverf en mooigemaakte hare ten spyt! (2 Konings 9:30)

 ‘n Innerlike mooi vrou is ook ‘n dapper vrou. Hulle "vrees geen verskrikking nie" Dit gaan nie hier oor ‘n aanmoediging om die Comrades te hardloop of Kilimandjaro te klim nie. Maar om dapper, standvastig, vol geloof in moeilike omstandighede, veral huislike omstandighede te wees! Om onder ‘n onbekeerde man ‘n stille blymoedige Christelike getuienis te handhaaf verg veel meer as om Kilimandjaro te bestyg!

Ek hoop jy sien raak dat hierdie gedeelte nie bloot ‘n polemiek is oor grimering en kleredrag nie. Hoor die positiewe noot in hierdie vermanings : die innerlike skoonheid van ‘n vrou is ‘n magtige instrument om ‘n verskil te maak in haar man se lewe en in haar huis, maar bo alles is hierdie innerlike skoonheid kosbaar voor God! 

My liewe vriendin, moenie die klem laat val op opmaak nie, maar laat toe dat die Heilige Gees jou nuutmaak! Dan is jy mooi... en magtig! Magtig in God se diens!