BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Dobbel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dobbel. Wys alle plasings

Sondag 19 Mei 2013

GREEP VAN DIE GELUKSGODIN

- die gevaar van lotery en gelukstrekkings.

Waarom behoort 'n Christen hierdie dinge te vermy?

Die bekende prediker en kragtige evangelis, Dr Willie Marais (wat baie mense in Suid-Afrika en Namibië se geestelike vader is)  antwoord hierdie vraag baie duidelik in sy outobiografie, “ ‘n Man van God gestuur” in ‘n hoofstukkie getiteld, Afgodediens. Dr Willie vertel :

Na ‘n oggenddiens in Randfontein word ek genooi vir ‘n koppie tee by twee mense wat met my oor hulle probleem wou praat. By hulle huis het dit my opgeval dat dit dié mense seker aan geen aardse goed ontbreek nie. Die tee is buite op die stoep bedien wat byna net so deftig was soos binne-in die huis.

Dit was ‘n baie hartseer verhaal wat ek moes aanhoor. Hulle enigste seun was ‘n wegbreker. Daar was byna nie ‘n sonde wat hy nie gepleeg het nie. Om sake te vererger het hy net weggeraak en nie weer iets van hom laat hoor nie en toe sê die moeder : “My man en ek bid al so lank dat ons kind gered moet word, maar ons gebede word nie verhoor nie. Ons huil soms ons kussings nat, maar daar kom geen antwoord nie. U is ‘n man van God. As u bid sal u verhoor word. Sal u nie asseblief vir die Here vra om ons kind te verlos nie.”

Op daardie oomblik bring die huishulp die tee en daar kom ‘n tydjie van stilte terwyl mevrou die tee inskink. Teen die muur het daar ‘n oorspronklike skildery gehang. Voor ek my kom kry, vra ek wat die skildery gekos het. Mevrou antwoord toe: “Niks nie, ons het dit met ‘n lootjie gewen.” Vir ‘n oomblik was ek spyt dat ek die vraag gevra het, want haar antwoord dwing my toe om iets onvriendeliks te sê terwyl ek ‘n gas in hulle woning is. Levitikus 5:1 leer dat as jy bewus is van ‘n kwaad en jy praat nie, dan staan jy ook voor God skuldig. Die volgende oomblik sê die Heilige Gees vir my dat dié skildery die oorsaak van hulle probleem met hulle kind is. Dié skildery het hulle huis onder ‘n banvloek gebring (vgl Deuteronomium 7:25,26). Hulle sonde van lotery (vgl Jesaja 65:11-15) het hulle in hulle kind (vgl Gen 9:24,25) uitgevind. (vgl Numeri 32:23) Dit was van die Here dat ek die vraag gevra het, want sodoende het ek onwetend my vinger op die oorsaak van hulle probleem gelê.

Ek sê vir hulle: “U was waarskynlik nie daarvan bewus dat die oomblik toe u daardie lootjie uitgeneem het, u die tafel vir die geluksgod gedek het nie, want in lotery word die prys wat gewen word nie bepaal deur  eie prestasie nie, maar deur geluk. Die Here spreek ‘n vloek uit op mense wat aan loterye deelneem. Die Woord van God sê : “Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat 'n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot--
Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek gespreek maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het wat My nie behaag nie.
Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.
Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees.  En julle sal jul naam vir my uitverkorenes as 'n woord van verwensing laat agterbly, en die Here HERE sal jou ombring.” (Jesaja 65:11-15) Die naam vir die geluksgod is Gad en vir die godin van die noodlot Meni. Deur ‘n lootjie uit te neem, beledig ons die een ware God wat voorsien. (vgl Genesis 22:14) Nou moet afgode in plaas van God in ons begeerte voorsien. Dit is tot God wat ons moet bid : “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” (Matteus 6:11); nie tot Gad en Meni nie. Die oomblik toe u die prys gewen het en dit  u woning ingedra is, het daar ‘n afgod sy intrek in u woning geneem, want hierdie skildery het deur die lotery ‘n afgod geword. Daar staan geskrywe : “Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie daardeur verstrik raak nie; want dit is vir die HERE jou God 'n gruwel.
En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal 'n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek.”

Die Skrif beveel ons om die praktyke van die sondige natuur (vgl Galasiërs 5:19-21) dood te maak deur die Gees wat in ons woon sodat ons kan lewe (Romeine 8:13). In die Nuwe Testament het die mense wat byvoorbeeld met toorkunste omgegaan het hulle boeke gebring en voor almal verbrand (Handelinge 19:19). Ek glo dat hierdie afgod wat in julle huis gekom het iets te doen het met dit wat met julle kind gebeur het.” Nadat ek vir hulle ‘n ernstige gebed gedoen het, het ek vertrek. Ek kan nie onthou of ek tee gedrink het nie. Ek dink die oomblik was te ernstig om gesellig te verkeer.

Vier maande later het ek weer die voorreg gehad om in Randfontein te preek. Na die diens het dieselfde mense my weer genooi om by hulle te kom tee drink. Ons het weer op dieselfde plek op die stoep gaan sit. Die muur waar die skildery gehang het, was leeg. Ek vra : “En wat het van die skildery geword?”

Mevrou antwoord : “Dit is die rede waarom ons u genooi het om weer by ons te kom tee drink. Ons het goeie nuus om u te vertel. Verlede keer het u met ons oor die skildery gepraat en ons daarop gewys dat lotery deur God vervloek is. U motor was skaars om die hoek, toe het my man die skildery afgehaal, die vleisbyltjie geneem en dit stukkend gekap, tamatiekas-plankies daaroor gebreek, ‘n bietjie parafien daaroor gegooi en die skildery aan die brand gesteek. Die rook van die skildery het nog opgetrek in ons agterplaas toe ons telefoon lui. Dit was ons seun. Hy het op daardie selfde oomblik toe die skildery gebrand het, kragdadig tot bekering gekom.”

Dit spreek seker vanself?

Vir verdere inligting, kliek op LOTERY

Is jy lus om na ‘n preek van Dr. Willie Marais te luister? Kliek op ELKEEN WAT DIE NAAM VAN DIE HERE AANROEP


Saterdag 28 Januarie 2012

LOTTO ADVIES

NUUS24 berig :
Kaapstad – Die lotto-boerpot is die naweek R25 miljoen rand met meer as 380 mense wat sedert 2007 miljoenêrs deur die lotery geword het.
Die operateur Gidani sê Januarie is tradisioneel die maand van groot skuld ná die somervakansie en daarom is dit die ideale manier waarop lotto-spelers hul nuwe jaar kan begin.
Die kompetisie het ook ses miljard rand aan welsynsprojekte uitbetaal.
Die aankondiging van die R25 miljoen rand prysgeld, kom te midde van betogers wat 'n optog na die Nasionale Lotery-raad in Arcadia in Pretoria gehou het.
Hulle het betoog teen die manier waarop die lotery-raad geld aan begunstigdes verdeel en sê daar is geen deursigtigheid nie.


Hierdie nuusberig met die belaglike en oneerlike redenasie van Gidani, dwing my as Christen om te reageer :


DIE GOGGA HET GEBYT

Dobbelary het vir baie mense ‘n aanvaarbare saak geword. Dis nie net LOTTO speel wat ‘n gewoonte geword het nie, maar die dobbelgod word selfs in sommige kerke aangewend om geld in te samel in die vorm van gelukstrekkings en “raffles".

As jy ‘n Christen is, vertrou ek dat jy geensins by dobbelary betrokke is nie, maar ek wil jou tog vra om verder te lees, want ons moet ons kan verantwoord teenoor die gees van die tyd.

Aan die anderkant moet ons besef dat onsself ook in hierdie opsig versoek kan word en moet ons weet hoe om die waarheid van die Woord as wapen teen hierdie aanslag te gebruik. Hoe maklik kan mens in jou gedagtes begin rondspeel met die wens om vinnig ‘n miljoen of twee te maak en so ‘n slagoffer word van Satan se misleiding en jouself met baie smart deurboor!

WAAROM SO STIL?

Die kerk oor die algemeen is baie stil oor die euwel van dobbel (insluitend die LOTTO), en praat maar huiwerig daaroor.

Een rede hiervoor is moontlik dat daar nie ‘n spesifieke teks is wat sê : "Jy mag nie dobbel nie", maar onthou, daar is ook nie spesifieke tekste teen dagga rook, gom snuif of duisende ander euwels nie. God behandel ons as volwasse denkende kinders en gee in Sy Woord duidelike beginsels waarvolgens ons alle sake in hierdie lewe kan beoordeel, ook iets soos die LOTTO. Die Bybel is tog nie ‘n ensiklopedie waarin alle variasies van sondes gelys word nie.

‘n Ander rede vir die kerk se swye is die omvang van betrokkenheid van lidmate by die euwel van dobbel. Ongelukkig het die kerk in baie gevalle bang geword om profeties teen die sondes van die tyd op te tree uit vrees vir ongewildheid...

WAT IS DOBBEL?

As ons hierdie vraag beantwoord, moet ons waak teen hare kloof, maar John MacArthur se definisie kan as riglyn dien : Dobbel is een of ander speletjie of aktiwiteit waarin ‘n persoon geld of iets waardevols waag op die kragte van toeval of kans buite sy beheer of enige rasionele verwagting, in die hoop om iets van groter waarde te wen.

REGTIG VERKEERD?

Kom ons kyk net na twee argumente wat gebruik word om die LOTTO of ander dobbelvorme goed te praat:

Mense voer aan: "Dit gaan vir ‘n goeie saak, ‘n gedeelte van die geld gaan mos na welsynsorganisasies (of na die kerk)." Nou, dis ‘n baie oneerlike en onlogiese argument. Oneerlik, want as dit die hoofdoel was waarom jy deelneem, waarom nie direk geld gee vir behoeftiges, verdienstelike organisasies of jou gemeente nie? Onlogies, want as jy dit via die LOTTO te doen, kom daar maar ‘n baie klein deeltjie van jou kaartjiegeld by die kamstige goeie doel uit. Vir elke Christen behoort dit baie duidelik te wees dat dit ‘n onbybelse manier van gee is. Die Bybelse manier is juis om te gee sonder om iets terug te verwag.

Sommige wil dobbel Bybels regverdig vanuit die gebruik om die lot te werp wat ons in die Skrif teëkom. Die Bybelse manier van die lot werp was ‘n manier waarop God Sy wil bekend gemaak het. Dit is in gewigtige gevalle aangewend en was ‘n erkenning van God se beslissingsmag. Die laaste keer in die Skrif waar ons van die praktyk lees, was in die aanwysing van Mattias in die plek van Judas as apostel (Hand 1:26). Daar is dit ‘n aanduiding van Jesus se direkte betrokkenheid as Here van die kerk by hierdie uiters belangrike saak. Na die koms van die Heilige Gees lees ons nie weer van die lot werp nie, want dis nou ook nie meer nodig nie : die Heilige Gees lei nou die kerk deur die Woord (byvoorbeeld in die geval van die verkiesing van die sewe diakens in Hand 6). Om die werp van die lot wat ‘n soeke na die heilige wil van God (in 'n vorige bedeling) was, as ekskuus of regverdiging vir dobbel te gebruik waar dit oor die gierigheid van die mens gaan, maak tog duidelik nie sin nie. Dis ‘n tipiese voorbeeld van hoe die sondige mens selfs God se Woord wil verdraai om by sy eie sondige begeertes te pas.

WAT SÊ DIE BYBEL?

‘n Paar Bybelse beginsels wat lig werp op die kwessie van dobbel :

Dobbelary ontken die soewereiniteit van God deurdat dit ‘n bevestiging is van die sondige mens se geloof in kans, geluk, toeval, noodlot. Geluk of toeval in die sin van ‘luck’ is ‘n anti-Goddelike idee. Daar bestaan nie so iets nie. Begrippe soos ‘luck’ en toeval is versinsels van die sondige mens wat God se almagtige en soewereine bestuur en onderhouding van Sy skepping ontken. Daar is ‘n interessante vers in Jesaja 65:11,12 wat vir ons insig gee oor die kwessie van kans, toeval en geluk : ‘Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ‘n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot…’ Die NAV vertaal dit as eiename omdat dit waarskynlik letterlik Kanaänietiese gode was (Gad, god van ‘geluk’ en Meni, god van ‘lotsbeslissing’). Die assosiasie van hierdie begrippe (geluk, kans, noodlot) met die afgode is duidelik. Om jou toekoms, jou bestaan, jou vreugde en sekuritiet, voorspoed in kans, toeval, enigiets anders as die lewende God te soek, is afgodery. As ek glo in God wat God is, kan en mag ek nie my hoop op toeval of kans plaas nie. Dis presies wat die dobbelaar doen. Dit beteken die ontkenning van God, dit kom neer op afgodery.

Dobbelary word gebou op die sonde van materialisme, gierigheid en onvergenoegdheid. Dié wat sê die lotto gaan maar net oor 'n speletjie, lieg.
Dit gaan oor geldgierigheid.
Dit tokkel op die mens se materialistiese snaar.
Die appél van dobbel lê juis daarin dat jy gou en maklik ryk kan word. Die dobbelgier is niks anders as ‘n liefde vir geld nie – en dit is die wortel van alle kwaad (1Tim 6:10) Onthou Jesus self het mense gewaarsku teen gierigheid. (Lukas 12:15). Dobbel is dikwels ook ‘n simptoom van die mens se onvergenoegdheid; ek is ontevrede met dit wat God my gee. Dobbelary kom neer op die oortreding van die tiende gebod. Dis ‘n vorm van wêreldliefde, ‘die gesteldheid op besit’ (1Johannes 2:15-17).

Dobbelary is ‘n kwessie van swak rentmeesterskap. Dit kom neer op ‘n onverantwoordelike omgang met die besittings waaroor God ons aangestel het om tot Sy eer te bestuur. Die Christen mag nooit sê: "Dis my geld, ek kan mos maak daarmee wat ek wil nie." Alles wat ons het, het ons van God ontvang. Die R10,00 wat jy mors op LOTTO kaatjies, is God se R10,00 en jy sal verantwoording moet doen vir jou gebruik daarvan!

Dobbelary is gebou op die uitbuiting van andere wat niks anders is as diefstal nie. Dit kom neer (as jy dalk ‘n wenner is) op die verkryging van eiendom ten koste van ander mense. Dis veral die ongedissiplineerdes, armes en liggelowiges wat uitgebuit word. ‘n Deel van jou prysgeld bestaan dalk uit die laaste broodgeld van iemand wat te dom was om verstandig te werk met sy inkomste. Deur die LOTTO te wen, steel jy van die verloorders.

Die propagering van dobbelary is gebou op misleiding. (Kyk nou maar weer net na Gidani se onsinnige redenasie hierbo) Die advertensies gee valse hoop aan mense. Al die fokus is op die enkele wenners; daar word geswyg oor die miljoene verloorders wat hulleself week na week verder verarm. Die hele bedryf word gedryf deur die subtiele propagering van ‘n leuen. Dis ‘n wêreld van illusies en lugspieëlings. Dis alles fantasie. Dis ‘die najaag van nietighede’ (Spreuke 12:11). Om die LOTTO te speel is ‘n stuk dwaasheid! STUPID!

Dobbelary ondermyn die Godgegewe opdrag dat die mens moet werk. Arbeid word positief in die Skrif beoordeel. Kyk na Efesiërs 4:28 en 2 Tessalonisense 3:10. God het aan ons die opdrag gegee om die aarde te bewoon en dit te bewerk. Hy het ons so gemaak dat ons ons rede en vermoëns daarvoor moet aanwend. Dis die hoof manier (dis natuurlik ook heeltemal in orde om iets te erf, as geskenk te ontvang, ens) wat Hy bepaal het waardeur Hy in ons behoeftes voorsien en ons die goedheid van die lewe wil laat geniet.


Dobbelary is verslawend en daarom ongewens vir die Christen. Nou sal iemand sê : "Is ek nie as Christen vry om maar met my geld te maak wat ek wil nie?" Hierdie slagspreuk van ‘ek kan maak wat ek wil, alles is geoorloof’ was waarskynlik ook in die gemeente van Korinte aan die orde van die dag. Paulus eggo dit in sy brief (1 Korintiërs  6:12) en sluit daarby aan en gaan dan voort : ‘… nie alles is nuttig nie’ (Vriend, daar is geen positiewe nut in die LOTTO vir ‘n Christen nie, waarom wil jy betrokke wees by so iets?), ‘… maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie’.

Die verslawende mag van dobbel is alom bekend. Dis enige tyd net so sterk as alkohol en nikotien!

 Dit opsigself moet al die rooi ligte laat flikker. Dink jy jy is daarbo verhewe? Die wat staan, moet pasop dat hulle nie val nie.

PLAASVERVANGERS

In Jeremia 2:13 lees ons : ‘Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen : My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.’

Natuurlik gaan dit nie hier oor dobbel as sodanig nie. Maar dieselfde beginsels is ter sprake. Omdat mense God verlaat het, soek hulle na plaasvervangers wat sekuriteit en vreugde moet verskaf. Een van hierdie plaasvervangers in ons dag is dobbelary. ‘n Plaasvervanger wat uiteindelik sal teleurstel!

Dobbelary is meer as 'n oppervlakkige sonde, dis heel dikwels 'n simptoom van die dieper probleem, naamlik 'n gebroke verhouding met God.

Dobbelary is ‘n kenmerk van ‘n wêreld wat oorheers word deur postmoderne pessimisme wat redeneer : ‘Daar is geen orde, rede en sin nie, jy moet maar net blindelings hoop vir die beste.’ Dobbelary word geassosieer met die hopeloosheid van ‘n bestaan sonder God, die gevolg van ateïsme wat sê : ‘Daar is geen God nie, geen hoop nie, geen toekoms nie - alles is maar kans en noodlot, kyk maar wat kan die lewe jou bied.’ Dobbelary is maar net nog ‘n aksie van die materialistiese mens, wat net vir himself en net vir die hier en die nou leef.

Geen vorm van dobbel pas dus by die burgers van God se koninkryk nie. Vir mense wat hulle vreugde vind in die soewereine bestuur en versorging van hulle Vader, is dit iets dwaas. Meer nog, dis ‘n sonde wat vermy moet word! Ook wat die dobbelgier betref, moet ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie, maar soek wat God se volmaakte wil vir ons is (Romeine 12:1-2).

Ons grootste wapen teen die dobbel-versoeking is om ons positief te verlustig in ons geestelike en hemelse rykdom. As ons oë oopgaan vir die skatte waarmee God ons in Jesus geseën het, soos vergifnis, kindskap, Goddelike Vaderversorging, ‘n ewige erfenis sal die LOTTO se (skyn)miljoene maar vaal lyk en sleg afsteek. Anders gesê, die rede waarom jy dalk nog dobbel is miskien omdat jy nog nooit die rykdom in Jesus raakgesien het en daaraan deel gekry het nie.

 
(hoofsaaklik gebaseer op ʼn preek van John MacArthur)