BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Backsliders. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Backsliders. Wys alle plasings

Woensdag 23 Maart 2016

GOLGOTA IS GROTER AS GILBOA

- daarom is daar 'n oplossing vir sonde, skuld en mislukkings!



Gilboa en Golgota. Twee uitstaande berge van groot betekenis in die heilsgeskiedenis.

Elkeen is die toneel van ‘n aaklige dood van ‘n bekende persoon. Beide is konings wat sterf, beide sterf ‘n grusame en skandalige dood. Beide se dood het groot gevolge. Maar daar is ‘n groot en heerlike verskil. So ‘n heerlike verskil dat dit vandag in my en jou lewe ‘n verskil kan maak. Genadiglik hoef ons nie stil te staan by die neerlaag van Gilboa nie, maar kan ons aanbeweeg na die oorwinning van Golgota.

Kom ons kyk bietjie na wat op hierdie twee plekke gebeur het. Koning Saul pleeg in wanhoop en vrees selfmoord op Gilboa. Dit was die afgryslike uiteinde van ‘n lang pad van rebellie en ongehoorsaamheid. Ons ken mos die droewige verhaal...Hy het ‘n punt bereik waar God hom finaal verlaat het, soveel so dat hy in desperaatheid ‘n spiritiste medium moes gaan raadpleeg, die heks van Endor. Maar ook sy kon natuurlik nie help nie. Hy is deur God verwerp en in sy angs en vernedering kies hy die hartseer uitweg van selfmoord. Dit gaan egter oor meer as net Saul. Dis ook ‘n nederlaag, bespotting en vernedering van die volk Israel, want Saul was die gesalfde koning van God se volk. Skrikwekkende skade word aan die eer van God gedoen as Saul se kop afgesny word en in die land van die heidense Filistyne rondgestuur word.

NIE DIE EINDE VAN GOD SE BEMOEIENIS EN GENADE NIE...

God verlaat egter nie sy volk nie en sy planne kan nie omvergegooi word nie. God self gryp weer in om sy eer te herstel. Die nuwe gesalfde koning is Dawid. Dawid sou die Filistyne verslaan. Maar nou weet ons Dawid was ook nie ‘n volmaakte koning nie en hy het ook sy mislukkings gehad. God het egter ‘n verbond met Dawid gesluit en as uitvloeisel is Jesus die Seun van Dawid baie eeue later in Betlehem die stad van Dawid gebore. Hy word in Jerusalem verwelkom met Hosannas... “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matteus 21:9) Maar Hy sterf uiteindelik op Golgota. (Lees gerus Johannes 19:17-22;28-30) Dit lyk soos ‘n nog mislukking, die grootste mislukking ooit, maar ons weet op Golgota het Hy sonde, Satan, dood en hel oorwin. Golgota was nie ‘n ramp nie, Golgota was die plek waar Jesus die werk wat Sy Vader hom gegee het afgehandel het. Anders gestel, op Golgota het God afgereken met sonde, skuld en skande! Daarom kan Jesus te midde van sy doodsworsteling triomfantelik uitroep : “Dis volbring” Hier is die volle sonde boete betaal, ons volle sondeskuld is uitgewis. Daar is dus ‘n reuse verskil tussen Gilboa en Golgota.

'N REUSE EN HEERLIKE VERSKIL

Gilboa spel wanhoop en nederlaag. Golgota bring hoop en oorwinning.

Gilboa is ‘n skande, maar Golgota is ‘n triomf.

Gilboa is die konsekwensie van die heerskappy van sondemag en skuld, Golgota bring ‘n einde aan die heerskappy van sondemag en skuld.

Op Gilboa sterf Saul sonder God, op Golgota sterf Jesus in ons plek sodat ons nooit weer sonder God hoef te wees nie.

Op Gilboa tref God se vloek vir Saul, op Golgota tref God se vloek ook vir Jesus, maar juis sodat ons kan deel kry in God se seëninge!

Op Gilboa sterf Saul as ‘n verworpene deur God weens sy eie aanhoudende sonde en opstand teen God. Op Golgota sterf Jesus ook as verworpene, maar Hy sterf vir óns sonde, Hy vat óns straf. Jesus sterf nie in opstand teen God nie, maar juis as die een wat volmaak gehoorsaam is aan God.

Op Gilboa sien ons die dodelike mag en gevolge van sonde. Op Golgota aanskou ons die uitwissing van ons sondeskuld en straf.

Gilboa was tydelik goeie nuus vir die Filistyne (1 Sam 31:9), maar dit wat op Golgota gebeur het is blywende ewige Goeie Nuus, GOEIE VRYDAGNUUS vir elke sondaar wat in Jesus glo!

Ons kan juig : Golgota is groter as Gilboa!

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die grootste rebelse sondaar! Jesus sal jou nie wegwys as jy na Hom kom vir verlossing nie.

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die teruggevalle kind van God. (vir backsliders!) Kom in berou na Jesus en Hy sal jou terugvat en weer gebruik soos Petrus! (Kliek op PETRUS)

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir jou wat voel dat jy misluk het in jou Christenskap, misluk het in jou huwelik of huisgesin. Jesus vergewe en herstel.

VASGEKEER IN 'N DOODLOOPSTRAAT?

Vriend, jou mislukkings, jou sondes, is dalk baie groot. Jy voel of jy by ‘n Gilboa van absolute wanhoop gekom het. Jy voel dalk soos Saul homselwers, vasgekeer in ‘n doodloopstraat van sondeskuld en skande. Dalk is daar ‘n baie spesifieke sonde of skande wat meedoënloos aan jou vreet, wat jou gewete verrinneweer... daardie een ding...wat jou so pla en teister dat jy dalk moontlik letterlik soos Saul op die rantjie van selfmoord rondsteier... 

Ja dis erg, baie erg, verskriklik erg, maar ek wil jou uitdaag en uitnooi: Kyk na Golgota, kyk wat daar gebeur het, kyk na die Seun van Dawid wat daar hang en hoor as hy uitroep : Dis volbring! Glo in Hom, hoop op Hom en vind volkome rus, vergifnis, vrede!  "Aanskou die Heiland, sien die kruis..."

MOENIE 'N ONGELOWIGE GEVANGENE BLY VAN DIE GEMORS VAN GILBOA NIE; BEWEEG VANDAG NOG GELOWIG AAN NA DIE GENADETRIOMF VAN GOLGOTA!

(Die essensie van hierdie preek het ek jare gelede by ds. Danie Steyn gehoor)

Donderdag 22 Januarie 2015

BEKERING VAN ‘N BACKSLIDER

- berou tot blydskap in Psalm 51.

Jy kom kerk toe, jy glo (of dink jy glo) in die Here, jy probeer ordentlik lewe en tog is jy nie seker van die ewige lewe nie, tog vorder jy nie geestelik nie, tog kort daar egte Christelike blydskap... Die waarskynlikste rede: daar het nog nie ware bekering plaasgevind nie. Bekering (saam met geloof) is ‘n duidelike vereiste om ‘n Christen te word, om deel te kry aan die koninkryk van God. Regtig? Blaai saam deur die Nuwe Testament...  


Johannes die Doper se boodskap was die boodskap van bekering. “In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom." (Matteus 3:1,2) 

Jesus het aangedring op bekering. "Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 3:14,15) 

Die eis tot bekering was deel van die apostels se kernboodskap. “By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: "Wat moet ons doen, broers?" Toe antwoord Petrus hulle: "Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang." (Handelinge 2:37,38) 

GELOOF EN BEKERING

Word ons dan nie deur die geloof gered nie? Ja, natuurlik. Geloof en bekering gaan egter altyd hand aan hand. Die twee vlerke van ‘n vliegtuig. Bekering sonder die element van geloof is blote moralisme. Geloof sonder bekering (dis algemeen in ons dag) is bloot sentimentele selfmisleiding. Anders gesê : Ware geloof in Jesus sal insluit dat ek berou en afsku oor my sonde sal hê, ware bekering sal insluit dat ek my vertroue persoonlik op Jesus sal stel en hoop op die genoegsaamheid van sy kruisoffer!

GEEN RESEPPIE

Daar bestaan baie misverstande – bekering is nie ‘n spesifieke voorgeskrewe reseppie of ‘n uitgewerkte rympie wat ek moet prewel nie. Daar is geen standaard bekeringsgebed in die Bybel nie. Daar is nie iets soos ‘n stap een tot vier bekeringsvoorskrif nie. Die Bybel voorsien ons ook nie van ‘n netjies uitgewerkte definisie van bekering nie. Dis ‘n saak van die hart. Die detail verskil van persoon tot persoon, maar daar’s sekere duidelike ooreenstemmende elemente. (Jy hoef dus nie jou bekering te bevraagteken as dit nie presies so plaasgevind het soos wat jy dalk in iemand anders se getuienis gehoor of in ‘n Christen biografie gelees het nie) Ons gaan na die wesenseienskappe van bekering kyk aan die hand van die bekende Psalm 51. (Dis so belangrik om die aard van bekering te verstaan, want daar is soveel vals bekerings in ons dag...)

Hier in Psalm 51 vind ons ‘n klassieke voorbeeld van bekering. Dis eintlik die bekering van ‘n “backslider” (Ons ken mos die agtergrond... Dawid en Batseba. Kliek op SMS – SWANGER!) Bekering het sekere basiese elemente en dit maak nie saak of dit iemand is wat nog nooit die Here geken het en of dit nou iemand is wat teruggeval het en nou weer terugkom na die Here soos die geval met Dawid nie. Die kernmerke van egte bekering is basies dieselfde of mens nou praat van ‘n aanvanklike eerste bekering of die daaglikse lewe van bekering. *

Kom ons gaan saam deur Psalm 51:

Met egte bekering is daar ‘n bewustheid dat my sonde en my oortredings die groot probleem is en daarom verlang ek  na vergifnis. My grootste probleem is nie my gebrek aan gesondheid, geluk of geld nie. Dis nie wat ek nou van die Here vra nie – ek vra genade en vergifnis! “Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit!" (3,4,9) (So baie “bekerings” is vals, want daar word vir mense belowe dat as jy jou hart vir Jesus gee sal Hy al jou ideale waarmaak en vir jou die lewe lekker maak. So baie mense neem dan ‘n besluit vir Jesus sonder enige besef van hulle sondenood.) Dis egter juis die mees basiese element van bekering – ek sien raak dat ek ‘n sondaar is wat skuldig voor God staan en daarom vergifnis nodig het.

Met egte bekering begin ek besef (dalk gaandeweg) dat my sonde eintlik sonde teen God self was. “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.” (6)Dis merkwaardig dat Dawid hier besef – sy sonde was nie net teen Batseba en haar man Uria nie, maar ten diepste teen God. Baie mense sien sonde maar net as ‘n klompie foute wat nou vir hulle probleme veroorsaak, maar besef nie dat alle sonde eintlik rebellie en opstand teen God is nie.

Met egte bekering en berou maak ek nie meer verskonings vir my sonde nie. Al daardie verskonings van : “Ek is maar net ‘n mens, ek kom uit ‘n moeilike huis, ag niemand is mos volmaak nie, ons is mos almal maar net mense...” Dis als dinge met ‘n element van waarheid, maar met bekering soek ek nie meer verskonings nie, ek soek verlossing! Met egte bekering begin ek besef dat my sonde dieper gaan as maar net ‘n klompie nare en verkeerde goed wat ek gedoen het. Ek is van geboorte af ‘n sondaar. My wese is sondig, daarom kies ek vir die sonde... “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.” (7)

Met egte bekering is daar nie net ‘n verafskuwing van dit wat verkeerd is nie, maar ook ‘n opregte begeerte om nou volgens God se wil te lewe. “Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. “ (8) 

Ek wil nie net vry wees van sonde nie, maar ook vry van die begeerte tot sonde!

Die egte berouvolle bekeerling besef dat hy homself nie kan verander en verbeter nie, maar heeltemal op God se genade aangewese is. Ek het God nodig! Ek het ‘n herskeppingswonderwerk nodig. Ek het behoefte aan iets meer as maar net ‘n nuwe blaadjie omslaan. Ek het ‘n nuwe hart met nuwe begeertes nodig! “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig." (12) Dis die waarheid van die wedergeboorte wat hier reeds in Ou Testamentiese taal gestel word.

Met egte bekering is daar ‘n element van desperaatheid en erns! Dis nooit 'n ligtelike saak, koue formaliteit of haastige ritueel om 'n rympie agter iemand aan te prewel nie. Dawid pleit hartstogtelik: "Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!" (13)

Met egte bekering is daar ‘n element van nederigheid, gebrokenheid en verootmoediging. Here, ek verdien niks nie, ek is niks nie, ek het niks om op trots te wees nie, maar wees my tog genadig! “‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God." (18,19) 

Bekering is nie ‘n menslike prestasie wat God se guns verdien nie, nee dis om vanuit my diep nood my hand uit te steek en God se genade deur Jesus in geloof te ontvang! Here, ek het U nodig!

Egte bekering lei tot blydskap of weer die herstel van blydskap van ‘n backslider. “Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.” “Red my van ondergang, o God, my Redder, dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.” “Here, gee my die woorde om u lof te verkondig.” (14, 16, 17) Wanneer God die swaar skuldlas van jou wegneem, kan dit mos nie anders as dat daar blydskap sal wees nie!

Egte bekering kan nie en wil nie weggesteek word nie, maar moet en wil met ander gedeel word. “Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag; dat die sondaars hulle tot U sal bekeer."(15)

Bekering behels dat ek in nederigheid en eerlikheid en berou my hart voor God uitstort en om genade sal roep. Bekering laat my omdraai (ook van my vertroue op my eie geregtigheid, morele prestasies en godsdienstigheid) en my hoop op Jesus stel! Ja, beslis is dit nie die "kwaliteit" van my bekering wat my red nie, maar Jesus en die genoegsaamheid van sy eenmalige offer. Bekering ('n berouvolle omdraai en 'n diep "change of mind") lei tot geloof in Jesus, maar is terselfdertyd ook 'n gevolg van ware geloof in Jesus! Weereens, bekering en geloof gaan saam en moet nie as afsonderlike stappe gesien word nie, maar is ineengestrengel. Die Christen se hele lewe is immers 'n lewe van geloof en bekering!



*Die verskil kan aan die hand van ‘n eenvoudige beeld verduidelik word. (ek het dit by Nico van der Walt gehoor) Wanneer ‘n skip besig is om reg suid vanaf Kaapstad na Antarktika te vaar en dan skielik die opdrag kry om terug te keer na Kaapstad, maak hy ‘n radikale omdraai van 180 grade. ‘n Mens sou dit kon vergelyk met ‘n aanvanklike bekering. Eers het hy suid gevaar, maar nou reg noord. Maar op die terugpad is daar gedurig winde, strome en golwe wat dreig om hom van koers af te dwing en daarom moet die stuurman voortdurend die roer gebruik om die skip weer terug te bring op koers sodat die kompas weer reg noord kan wys. Dit kan vergelyk word met daaglikse of voortdurende bekering.

Dis baie duidelik dat die boodskap van bekering in die Nuwe Testament nie net aan buitestaanders en ongelowiges buite gemeentes gerig word nie. Lees gerus Openbaring 2-3 en sien hoe hierdie oproep tot bekering herhaaldelik in die briewe aan die sewe gemeentes voorkom.























God wil jou weer in sy heerlikheid en vreugde laat deel!

Vrydag 12 April 2013

TWEEDE KANS

- kan God ‘n diepgevalle kind van Hom heeltemal vergewe en weer vrugbaar gebruik? 

Toe jy die eerste keer as sondaar na Jesus gekom het, was God se vrye genade en volkome vergifnis iets wonderlik. Op grond van sy Woord het jy geglo dat Hy jou alle sonde, ja ook die ergstes heeltemal vergewe het. Hy het jou vrygespreek, as kind aanvaar en jou aangestel om vir Hom te getuig. Alles het goed gegaan…maar toe val jy baie diep in een of ander groot openbare sonde wat groot skande oor jou gebring het. Huweliksontrou, egskeiding, bedrog, dronkenskap of dwelmverslawing… Jy het 'n "backslider" geword. Nou worstel jy met die vraag : “Kan God my weer vergewe?” Miskien besef jy : “Ja, Hy kan my vergewe, maar ek sal nooit weer bruikbaar wees in sy koninkryk nie, ek sal nooit weer die volle vreugde beleef om vir Hom nuttig te wees nie. Miskien is ek nou verdoem tot ‘n tweedeklas Christenskap…” Die duiwel bly ook nie stil in sulke situasies nie. Hy probeer jou oortuig : “Kyk toe jy tot bekering gekom het, het God jou al jou sonde vergewe, want jy was onkundig en in duisternis. Maar nou het jy mos van beter geweet, jy is mos vooraf gewaarsku, maar jy was steeds ongehoorsaam…nou is daar vir jou geen hoop meer nie…” 

As jy al ooit deur hierdie gedagtes geteister is (of mense ken wat daardeur geteister word), kyk gerus saam met my na die aangrypende gesprek tussen Jesus en Petrus langs die meer, kort na Jesus se opstanding in Johannes 21:15-19. 

Petrus die rots. 

Ons ken die geskiedenis van hierdie “rots” - hy het Jesus drie maal openlik opsetlik verloën. Hy vloek sommer! Matteus 26:74 berig : Toe begin hy vloek, en hy sweer: "Ek ken die man nie!" Die rots het verkrummel, die pilaar het geval, die staatmaker het gevou. Petrus was een van daardie ongelukkige mense wat openlik gesondig en in die skande beland het. Sy sonde kon nie verberg word nie, almal het daarvan geweet. ‘n Mens kan jou indink die vernedering, hartseer, selfverwyt en beskuldigende kyke wat hy moes deurgaan. “Ja, jou grootbek, kyk wat het gebeur…” 

Genadeverhaal

Op hierdie stadium het Petrus waarskynlik reeds persoonlik vergifnis ontvang, want hy het bitterlik gehuil na die haan se derde kraai... Maar iets het nog ontbreek. Nou hier na ete, kom Jesus met hierdie vraag in die openbaar na Petrus: “Het jy my waarlik lief, meer as hulle hier? “meer as hulle” - verwys na die ander dissipels wat teenwoordig was. Hoekom so voor almal? Dit maak baie sin, want juis Petrus was ten opsigte van die ander die een wat die sterkste homself uitgespreek het. Terwyl die ander stil was het hy gespog : “ek sal my lewe aflê!” (Johannes 13:37,38) Petrus was die voorbarige, die sterke, dis juis hy wat tot aksie oorgegaan het en Malchus se oor afgekap het. Maar daarna het dinge tragies skeefgeloop. Petrus se selfvertroue en sy vleeslike dapperheid het hom in daardie krisisnag in die steek gelaat. Menslik gesproke het hy sy potensiaal as toekomstige leier onder die apostels onherroeplike skade aangedoen. Wie sou ooit weer na hom as leier kon opsien of hom vertrou? Daar was net een hoop vir hom – volledige openbare vergifnis uit Jesus se mond. Mooi verduidelikings en verskonings sou niks vir hierdie gevalle dissipel kon doen nie. Gesien die omstandighede dat Petrus as leierfiguur sy aansien onder die ander dissipels verloor het weens sy lafhartigheid, was iets meer as net private vergifnis nodig. Jesus moes hom in die openbaar herstel. 

Hier voor almal vra Jesus ‘n diepte ondersoekende vraag, wat Petrus waarskynlik tot in die diepte van sy siel sou geruk het. Probeer jou indink - hier voor almal word hy by die naam uitgesonder, en dit terwyl almal van sy pynlike mislukking bewus was. “Jy, Simon, seun van Jona, het jy my lief, meer....” Petrus se antwoord is veelseggend. Vroeër was hy nie skaam om homself ‘n trappie hoër as sy mede dissipels te stel nie. Maar nou is dit opvallend - hy probeer glad nie eers die vraag antwoord deur ‘n vergelyking met die ander te maak nie. Hy werp hom maar net op Jesus se kennis van sy hart. Sy gebroke, berouvolle hart. Petrus sê in effek : “Here ten spyte van my bittere mislukking, weet U dat ek U liefhet.” Jesus aanvaar sy antwoord. Die bewys daarvan kry ons in die opdrag “ laat my lammers wei.” Petrus se liefde vir die Here en die bewys dat hy herstel en vergifnis gevind het word duidelik uit sy versorging van die Here se mense. Dit eindig egter nie hier nie - Jesus herhaal die selfde vraag drie keer. Drie keer moes Petrus ten aanhore van almal hierdie pynigende vraag hoor. “Het my lief?” Die derde keer lees ons (17) het Petrus bedroef geword. Miskien het hy openlik gehuil, ons weet nie. Sy hart was gebreek. Net soos hy Jesus drie keer verloën het, verlang Jesus nou drie keer hierdie opregte belydenis van hom. Die derde keer antwoord die bedroefde Petrus : “U weet alles....” Ek kan dit so voor my oë sien hoe ‘n betraande Petrus dit uitroep : “ Here U weet alles, U weet dat ek U liefhet” Gebroke, geen spoor van selfgeregtigheid nie! Petrus het niks meer oor om mee te spog nie. Ook herhaal Jesus sy opdrag : “laat my skape wei.” Petrus se bediening word herstel. Let op die bediening word nie in ‘n titel gegee nie maar in praktiese opdragte : “laat wei, pas op.” 

Inderdaad het hy hierdie bediening getrou uitgevoer soos mens kan aflei uit sy opdragte aan ander herders. ( 1 Petrus 5:1-4) Net terloops - die skape wat Petrus moes oppas was nie sy skape nie, maar Jesus s’n “....my skape...” Die kerk is nie een van ons s’n nie, maar Jesus se eiendom wat Hy met sy bloed gekoop het! Onthou dit maar as ons van mekaar sleg praat of so maklik oor die “kerk” kla… 

PRAKTIES 

1.Hierdie gedeelte bring hoop vir gevalle kinders van God wat berou het. Hier is hoop vir daardie dissipels wat deur sonde in die bittere skande voor God en mense gebring is. Wat is die hoop? Die volledig herstellende genade en vergifnis van Jesus Christus. Totale kwytskelding! Juis vir sy kinders wat Hom in die steek gelaat het. Die ontroue Petrus kry sy “job” terug! Petrus se skandelike sonde is radikaal deur Jesus self vergewe en die bewys daarvan vind ons in sy vrugbare arbeid en sy getrouheid tot die dood. ‘n Ontroue dissipel word vergewe en bly uiteindelik getrou. Watter ongelooflike troos! Wie van ons kan nie met Petrus identifiseer nie? Wie van ons is nie diep bewus van die talle kere wat ons ons Here in die steek gelaat het nie? Watter heerlike verligting dat God nie net deur die 100 per senters werk nie. Watter troos om te weet dat ware dissipelskap nie altyd ‘n super suksesverhaal is nie. Dis ‘n genadeverhaal! 

Geliefde, jy wat vergifnis ontvang het, mag jouself nie as ‘n tweedeklas dissipel beskou en langer wegkruip nie! God het vir jou ‘n taak! 

2.“Het jy my lief?” Hierdie vraag bly steeds die primêre vraag wat Jesus aan sy volgelinge stel. Hy vra dit nou vir jou! Vir jou wat dalk nog net begin wankel het, vir jou wat geval het, vir jou wat begin moedeloos raak het…, maar ook vir jou wat dalk baie selfversekerd voel omdat jy al die regte dinge glo en nie gestruikel het soos iemand anders nie… Getrouheid en lojaliteit aan Jesus word nie in die eerste plek gemeet aan ‘n intellektuele onderskrywing van ‘n stel geloofsartikels nie. Petrus het deurgaans die regte feite oor Jesus geglo, maar wat Jesus wou dat hy in die openbaar moes bely is sy liefde. Sy persoonlike toewyding. Die inhoud sowel as die motivering van ware toewyding is liefde vir Jesus self. (Juis omdat Hy ons vergifnis bewerk het) Waar dit ontbreek is daar geen ware verhouding met die Verlosser nie, slegs miskien uiterlike godsdiens. 

Kom ons hoor elkeen hierdie vraag - “Het jy my lief?” uit Jesus se mond en ons antwoord met ons lewens daarop. 

Sondag 12 Augustus 2012

VERLORE SEUNS (1)

- die jongste word feestelik vergewe.

Ons ken almal hierdie baie bekende en pragtige vertelling van Jesus in Lukas 15 as die gelykenis van die Verlore Seun. Dis natuurlik ‘n opskrif wat die vertalers voorsien het. ‘n Beter titel sou dalk kon wees : DIE VERLORE SEUNS. (Waarom, sal ons in volgende week se preek sien) Voorlopig kan ek net sê, die skerpkant en verrassingselement in die boodskap van  hierdie gelykenis kom eintlik eers na vore in die tweede gedeelte wat handel oor die oudste tuisblyer seun. Tog het hierdie eerste gedeelte (Lukas 15:11-24) opsigself ook ‘n baie sterk boodskap. 

Ons het hier ’n radikale verhaal. ’n Verhaal van uiterstes! Uiterste opstand, uiterste ellende, maar ook uiterste vergifnis en genade!  Maar daar is ‘n probleem, ons ken die verhaal so goed - dit  raak ons eintlik nie regtig meer nie. Ons hoor nie meer die soet  musiek van opwindende genade hierin nie. Ons voel nie meer die “onbeskryflik groot” nie.* Ons harte word nie meer so geraak dat ons in aanbidding voor ons Vader wil neerbuig nie.

So kom ons luister bietjie op ‘n ander manier na die “Verlore Seun”.

Die Amerikaanse joernalis-skrywer Phillip Yancy** vertel die gelykenisse van Jesus op ’n eietydse manier oor, gegrond op  hedendaagse gebeurtenisse. Johan Celliers vertel sy weergawe van die “Verlore Seun” so oor in Afrikaans:

’n Tienerdogter het op ’n dag van haar ouerhuis in die platteland af weggeloop na die stad en in verkeerde geselskap beland. Sy raak verslaaf aan dwelms en verval in prostitusie. Gou beland sy op straat en moet sy saans in gevaarlike stegies slaap. Een nag terwyl sy lê en luister na voetstappe, lyk die wêreld om haar skielik anders. Sy voel nie meer soos ’n vrou van die wêreld nie. Sy voel soos ’n klein dogtertjie, verlore in ’n koue en vreesaanjaende stad. Sy het onttrekkingsimptome. Haar sakke is leeg en sy is honger. Sy trek haar bene in en rol haar op in die fetusposisie waar sy bewend van die koue onder ’n paar koerante lê. Skielik vul ’n enkele prentjie haar kop : haar ouerhuis, waar die kersiebome vol bloeisels is, haar hond wat blaffend tussen die bome en die bloeisels op die grond agter ’n tennisbal aan hardloop.
“God, waarom het ek weggegaan,” sê sy vir haarself, en die pyn sny deur haar hart “My hond by die huis eet beter as wat ek nou eet.” Snikkend besef sy dat sy meer as enigiets anders in die wêreld wil huis toe gaan.
Op die een of ander manier slaag sy daarin om haar ouers te skakel, maar hulle is nie daar nie en al wat sy kan doen is om ’n boodskap op die antwoordmasjien te laat kom om te sê dat sy die volgende dag om twaalfuuur met die bus huis toe kom. “En Pa,” voeg sy by : “ek sal verstaan as julle my nie wil kom ontmoet nie. Dan bly ek maar op die bus tot my geld opraak.”
Die sewe uur wat sy op die bus moet deurbring, word vir haar ’n nagmerrierit. In haar gedagtes probeer sy ’n verskoning aan haar ouers formuleer, maar haar keel trek toe. Sy het in geen jare enige mens vir enigiets om verskoning gevra nie.
Uiteindelik na wat soos ’n ewigheid gevoel het, bereik sy haar bestemming. In totale onsekerheid sluip sy die busterminus binne. Nie een van die tientalle tonele wat sy in haar gedagtes sien afspeel het as moontlikhede vir wat sy daar sou aantref, het haar egter voorberei op dit wat sy voor haar oë sien nie. Want, toe sy om die hoek die saal binnekom, bars daar ’n blye pandemonium los. Daar staan ’n skare van haar broers en susters en ooms en tantes en neefs en niggies en ’n ouma- en oupagrootjie ook nog. Hulle het almal sulke skewe potsierlike partytjiehoedjies op en blaas op raserige partytjietrompette, en dwarsoor die hele terminusmuur is ’n banier gedrapeer wat uitroep: “Welkom tuis! Welkom tuis!”
Iemand tree uit die groep na vore. Dis haar pa! Sy staar na hom deur haar trane heen, en begin haar gememoriseerde toesprakie stotter : “Pa , ek is jammer, pa. Ek weet ek is nie werd...”
Hy onderbreek haar. “Stil, my kind. Ons het nie tyd vir verskonings nie. Jy gaan laat wees vir jou partytjie. Daar wag ’n reuse -feestelikheid op jou by die huis...”  

Daar was drie radikale momente in die verhaal van die jongste se terugkeer wat treffend die reddingsgeskiedenis van die sondaar beskryf. Miskien herken jy jouself.

Radikale rebellie en ellende. Die jongste seun het sy Vader se liefde op ‘n gruwelike wyse verwerp. Met minagting het hy losbandigheid bo Vaderversorging gekies. Maar uiteindelik moes hy agterkom dat ‘n lewe weg van die Vader bitter en eensaam is. Sonde bring net tydelike genot en gewildheid. Dit bring ‘n skynvreugde met skynvriendskappe. Maar op die ou einde trek die sonde jou af in ‘n smerige varkhokbestaan. As die laaste dop uitgewerk is, as die losbandige verhouding begin vaal raak, as die geld vir plesier op is - dan is die sondaarhart leeg en eensaam. Dan word die geestelike bankrotskap pynlik en voelbaar.

Radikale besef en besluit.  Iewers het die waarheid tot hierdie seun deurgedring en het hy eerlik met homself geraak. Dis ‘n baie belangrike draaipunt in die sondaar se bekering. Die eerlike  erkenning : “Dis hoe ek lyk voor God!” So het Dawid (nadat Natan die vinger na hom gewys het) ook besef dat hy skuldig staan voor God. (Psalm 51)  As God uit genade deur sy Gees in die afgedwaalde werk, begin dit by ‘n sondebesef, ‘n bewustheid van my boosheid en leegheid. Deur die genade kom ek dan tot ‘n besluit : “Tot hier toe en nie verder nie. Ek staan nou op en gaan terug, kom wat wil.” 

En jy... het jy al opgestaan?

Radikale Vaderlike vergifnis.   Dis waar die klem val in die eerste gedeelte! Ja, die opstand en ellende van die seun word redelik breedvoerig beskryf, maar die Vader se optrede steel die kalklig! Die terugkerende seun kry ‘n ontvangs wat alle verwagtinge oortref.  ‘n Rebelse seun loop homself vas in ‘n fees! Mens sou nie raai dis hy wat sy Pa beledig en bitter verdriet aangedoen het nie. (Dit lyk eerder of hierdie seun ‘n olimpiese medaljewenner was!)  Pa gooi alle waardigheid oorboord en hardloop na die seun. Hy het nooit sy seun vergeet nie...hy het nog al die tyd vir hom gewag.  Hy was wel vir ‘n tyd uit sy seun se gedagtes, maar sy seun was nooit uit sy gedagtes nie. Sy hart is gebreek oor hierdie wegloperseun. As die seun by hom aankom is daar  geen verwyt nie.   Nie eers,  “ja, ek vergewe jou, maar van nou af moet jy darem in jou spoor trap” of “is jy seker jy is jammer?” of “ek hoop jy het nou jou les geleer” nie.  Onvoorwaardelike liefde. Ja, die seun het berou, hy bely en erken sy sonde (dis onmisbare elemente in ons redding!)... maar vanuit die Vader se oogpunt is dit amper ‘n bysaak. “Ja, ja, ja ek hoor jou, maar kom ons vier fees!” (Kyk hoe word die element van feesvier beklemtoon in vers 23,24)

Terugkerende sondaars kry ‘n  omhelsing van God. Volkome vergifnis! Volkome aanvaarding! Volkome vreugde!

Waarom wag jy? Waarom is jy bang of skaam? Wat hou jou terug? Om nog net een uur in die varkhok van sonde te sit is ‘n vermorsing van vreugdetyd wat jy kon beleef het. Staan op, gaan na jou Vader, Hy wag reeds vir jou... Hy het reeds sy liefde aan die kruis bewys deur Jesus Christus.  Hy nooi jou uit : “Kom nou laat ons die saak met mekaar uitmaak...”  (Jesaja 1:18)
“Ja, maar ek het eens op n tyd sy liefde en beleef by my bekering, maar het weer afgedwaal. Ek is 'n ware ‘backslider’, ek het my genadekanse weggegooi”, maak iemand beswaar. Vriend, hierdie boodskap is juis vir jou. “Kom terug kinders wat afgedwaal het...” (Jeremia 3:14)

Staan op, kom na die Vader, vind vergifnis en vier fees in heiligheid en reinheid!

*Johan Celliers
** Die feit dat ek Yancey aanhaal impliseer nie dat ek noodwendig met al sy sienings in sy werk saamstem nie.