BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Paasboodskappe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Paasboodskappe. Wys alle plasings

Maandag 26 Maart 2018

OP PAD NA PAASFEES

met groot respek, maar vol vreugde soos huppelende kalwers! 


Die meeste mense word verveel deur die boodskap van God se genade. “Ja, ons hoor God het ons lief, ons hoor God vergewe sonde, ons hoor God bewys genade, maar so what? – ons het dit nie juis nodig nie.” Daarom is Paasfees... wel ‘n lekker en welkome vakansietyd, maar of ons dit nou vier is ook nie regtig so belangrik nie. Die rede vir hierdie traak-my-nie-agtige houding is dat ons (veral die gemaksugtige kerk van die Weste) ‘n paar basiese waarhede oor God vergeet het. Ons het vergeet God is ‘n verterende vuur! Vuur en lig is dwarsdeur die Skrif ‘n tema wat vir ons iets probeer verduidelik van God se heiligheid. Ons het reeds gekyk na die tema in die begin van die Ou Testament (Kliek - Heilige Vuur). Die brandende doringbos en die verskyning van God in vuur by die berg Sinai met die sluiting van die Verbond...Vandag gaan ons kyk hoe die tema ook in die heel laaste boek van die Ou Testament, Maleagi aangespreek word. Blaai na Maleagi 3:1-5,4:1-3. 

Maleagi praat van die Verbondsengel (en dit kan niemand anders wees as Jesus nie) en assosieer Hom met vuur en suiwering en loutering. Hoor bietjie : "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige. 
Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers." (3:2,3)

Sy koms is ‘n saak van vreugde! "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige." (1) 

En tog, dit wek ook bekommernis en onrus! “Wie kan standhou as Hy verskyn?” (2) Dis die wesentlike vraag van elke sondaar wat iets begin besef van God se heiligheid. Op hierdie vraag moet elke sondaar ‘n antwoord kry. Die antwoord is natuurlik vanuit die Nuwe Testament net die wat gereinig is deur die bloed van Jesus! Die wat buig voor Hom en sy koningskap aanvaar. 

Jesus se koms na die wêreld het nie net vreugde en vrede gebring nie! Sy heilige vuur is ‘n vuur wat suiwer en skeiding bring. Lukas 12:49 – “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” 

HERSTEL VAN WARE AANBIDDING 

Die doel van sy koms is om weer ware aanbidding van God te herstel. 'n Lewe van gehoorsaamheid aan God! En dit terloops verskil hemelsbreed van die talle mensgesentreerde verwagtings rondom Jesus wat vandag so welig tier... 

"Dan sal die offer van Juda en Jerusalem weer aanneemlik wees vir die Here soos in die ou tyd, soos in jare lank verby." (4) 

 Die heilige vuur van die Engel van die Verbond bring Hom in botsing met sonde en veral teen almal wat nie waarlik eerbied het vir God nie. Sonde word hier konkreet by die Naam genoem... “Dan sal Ek na julle toe kom as regter: Ek sal sonder versuim regspreek teen dié wat hulle met toordery ophou, teen die egbrekers en dié wat vals ede aflê, teen dié wat die dagloner te kort doen, die weduwee en die weeskind veronreg en die vreemdeling verdring, teen dié wat nie vir My eerbied het nie, sê die Here die Almagtige.” (5) En let wel dis nie net opvallend verkeerde dinge soos egbreek en toordery nie, maar ook om ‘n dagloner uit te buit! Wie oor Jesus praat, moet ook oor sonde praat! Die aaklige klimaks van sonde is om nie eerbied vir Sy Naam te hê nie! 

SOOS ‘N OOND! 

Die verwerping van Jesus, die Gesalfde van God is die finale sonde, die sonde wat God se oordele vir ewig op mense sal laat neerkom. Die oordele van God word vergelyk met die werking van ‘n brandende oond. “Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie.” (4:1) 

GENESING EN VREUGDE! 

Die heilige teenwoordigheid van God deur Jesus, beteken nie net straf en uitdelging nie, dit bring ook seën en genesing. God se teenwoordigheid onder sy volk destyds met die Uittog, die vuurkolom en wolkolom het beteken dat Hy hulle versorg, bewaar en voor hulle uitgetrek het. En daarom God se vuur wat vir die goddeloses en vermeteles ’n oond wat verteer is, beteken vir die wat sy Naam vrees juis die son van geregtigheid. “Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.” (4:2) 

Sy teenwoordigheid bring suiwering, genesing, vreugde en jubelende blydskap. 

Weer die geheimenis van die brandende bos! (Kliek - Heilige Vuur) God verteer nie sy volk nie, maar bring seën. Maar nie vir almal nie, vir die wat sy eerbied het vir Sy Naam. Wie is die wat God se Naam vrees? Dis elkeen wat volkome vertrou op die Naam van Jesus Christus, die enigste Naam waardeur ons gered word. (Handelinge 4:12) Elkeen wat op hom vertrou sal nooit teleurgesteld word nie, maar vir ewig die genesende son van geregtigheid voel skyn. Dis heilige heerlike lig van God self, wat die lig en glans sal verskaf in die nuwe Jerusalem! Openbaring 21:23 vertel ons : “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” 

En wat sê dit alles vir ons? 

  • God woon onder sy volk. Hy staan nie daar ver eenkant nie, Hy woon tussen sy verbondsmense en beoefen gemeenskap met hulle. As dit waar was van die Ou Bedeling hoeveel te meer nou in die Nuwe Verbond. Hy het in Jesus Christus onder ons kom woon (Immanuel), Hy woon nou onder ons deur die Heilige Gees. Terloops een van die tekens van die Heilige Gees tydens Pinkster was juis tonge van VUUR! Ons, sy kinders is sy tempel, sy woonplek nou reeds, maar ook woon Hy volmaak tussen ons vir alle ewigheid! 

  • God se genade is groot. Verbysterend groot! Dis alleenlik God se genade wat maak dat sy heiligheid ons nie verteer en vernietig nie. Hierdie genade het ’n hoogtepunt bereik in Jesus. God se heilige toorn het Hom getref in ons plek. In Hom en op grond van sy verdienste kan ons as gebroke onvolmaakte mense die heilige God nader. Hy is ons Middelaar! In Jesus is ons veilig teen God se toorn. Dis die heerlike boodskap van Paasfees!

  • God se heiligheid is nog steeds ’n faktor om mee rekening te hou. God se genade beteken nie dat ons sy heiligheid mag ignoreer en verontagsaam nie. Annanias en Safira se tragiese geskiedenis wys vir ons wat is die skrikwekkende gevolge van so ’n houding. Die Hebreërs skrywer waarsku ook mense van die Nuwe Verbond teen afvalligheid en maan ons om God te dien met eerbied en vrees, want sê hy : “Ons God is ’n verterende vuur” (Hebr. 12:29) Met respek en ontsag moet ons bewus bly dat ons God ’n heilige vuur is en daarom des te meer die genade vasgryp en waardeer, deur alle sonde in ons lewens uit te roei, daarvan weg te vlug en stywer vas te gryp aan Jesus ons Hoëpriester. Geloof in Jesus gee ons nie die reg om op vermetele manier God uit te tart en om met sonde te speel nie, geloof in Jesus laat ons juis besef ons is kinders van die heilige God wat sê : “Wees heilig want ek is heilig.” 

VREES EN BLYDSKAP 

Ons vind hier groot rede om ons verlossing met vrees en bewing uit te werk soos Paulus skryf in Filippense. 

Maar ons vind ook groot rede om absoluut bly te wees! Bly oor genesing en redding! So vervul ons hierdie profesie wat sê : “Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers!” Onthou – “happiness and holiness” gaan saam! Heiligheid bring vreugde! Ons kan ook bly wees dat reg en geregtigheid sal geskied!” (3)* 

Wat moet ons houding teenoor God, en spesifiek die Paasgebeure wees? 

Beslis nie onbetrokkenheid en apatie nie, maar... Eerbiedige blydskap! Respekvolle vreugde! Dis die gesindheid waarmee ons ook die komende Paasfees moet vier! AMEN!

*Dis 'n belangrike punt vanuit die voorafgaande konteks waar die vraag juis gestel word, hoekom dit lyk of God geen onderskeid tussen die regverdige en die goddeloses maak nie. Die verskil gaan duidelik word as God sy oordele voltrek oor sy vyande en die finale verlossing bring vir diegene wat respek vir Sy Naam het!

Woensdag 23 Maart 2016

GOLGOTA IS GROTER AS GILBOA

- daarom is daar 'n oplossing vir sonde, skuld en mislukkings!



Gilboa en Golgota. Twee uitstaande berge van groot betekenis in die heilsgeskiedenis.

Elkeen is die toneel van ‘n aaklige dood van ‘n bekende persoon. Beide is konings wat sterf, beide sterf ‘n grusame en skandalige dood. Beide se dood het groot gevolge. Maar daar is ‘n groot en heerlike verskil. So ‘n heerlike verskil dat dit vandag in my en jou lewe ‘n verskil kan maak. Genadiglik hoef ons nie stil te staan by die neerlaag van Gilboa nie, maar kan ons aanbeweeg na die oorwinning van Golgota.

Kom ons kyk bietjie na wat op hierdie twee plekke gebeur het. Koning Saul pleeg in wanhoop en vrees selfmoord op Gilboa. Dit was die afgryslike uiteinde van ‘n lang pad van rebellie en ongehoorsaamheid. Ons ken mos die droewige verhaal...Hy het ‘n punt bereik waar God hom finaal verlaat het, soveel so dat hy in desperaatheid ‘n spiritiste medium moes gaan raadpleeg, die heks van Endor. Maar ook sy kon natuurlik nie help nie. Hy is deur God verwerp en in sy angs en vernedering kies hy die hartseer uitweg van selfmoord. Dit gaan egter oor meer as net Saul. Dis ook ‘n nederlaag, bespotting en vernedering van die volk Israel, want Saul was die gesalfde koning van God se volk. Skrikwekkende skade word aan die eer van God gedoen as Saul se kop afgesny word en in die land van die heidense Filistyne rondgestuur word.

NIE DIE EINDE VAN GOD SE BEMOEIENIS EN GENADE NIE...

God verlaat egter nie sy volk nie en sy planne kan nie omvergegooi word nie. God self gryp weer in om sy eer te herstel. Die nuwe gesalfde koning is Dawid. Dawid sou die Filistyne verslaan. Maar nou weet ons Dawid was ook nie ‘n volmaakte koning nie en hy het ook sy mislukkings gehad. God het egter ‘n verbond met Dawid gesluit en as uitvloeisel is Jesus die Seun van Dawid baie eeue later in Betlehem die stad van Dawid gebore. Hy word in Jerusalem verwelkom met Hosannas... “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matteus 21:9) Maar Hy sterf uiteindelik op Golgota. (Lees gerus Johannes 19:17-22;28-30) Dit lyk soos ‘n nog mislukking, die grootste mislukking ooit, maar ons weet op Golgota het Hy sonde, Satan, dood en hel oorwin. Golgota was nie ‘n ramp nie, Golgota was die plek waar Jesus die werk wat Sy Vader hom gegee het afgehandel het. Anders gestel, op Golgota het God afgereken met sonde, skuld en skande! Daarom kan Jesus te midde van sy doodsworsteling triomfantelik uitroep : “Dis volbring” Hier is die volle sonde boete betaal, ons volle sondeskuld is uitgewis. Daar is dus ‘n reuse verskil tussen Gilboa en Golgota.

'N REUSE EN HEERLIKE VERSKIL

Gilboa spel wanhoop en nederlaag. Golgota bring hoop en oorwinning.

Gilboa is ‘n skande, maar Golgota is ‘n triomf.

Gilboa is die konsekwensie van die heerskappy van sondemag en skuld, Golgota bring ‘n einde aan die heerskappy van sondemag en skuld.

Op Gilboa sterf Saul sonder God, op Golgota sterf Jesus in ons plek sodat ons nooit weer sonder God hoef te wees nie.

Op Gilboa tref God se vloek vir Saul, op Golgota tref God se vloek ook vir Jesus, maar juis sodat ons kan deel kry in God se seëninge!

Op Gilboa sterf Saul as ‘n verworpene deur God weens sy eie aanhoudende sonde en opstand teen God. Op Golgota sterf Jesus ook as verworpene, maar Hy sterf vir óns sonde, Hy vat óns straf. Jesus sterf nie in opstand teen God nie, maar juis as die een wat volmaak gehoorsaam is aan God.

Op Gilboa sien ons die dodelike mag en gevolge van sonde. Op Golgota aanskou ons die uitwissing van ons sondeskuld en straf.

Gilboa was tydelik goeie nuus vir die Filistyne (1 Sam 31:9), maar dit wat op Golgota gebeur het is blywende ewige Goeie Nuus, GOEIE VRYDAGNUUS vir elke sondaar wat in Jesus glo!

Ons kan juig : Golgota is groter as Gilboa!

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die grootste rebelse sondaar! Jesus sal jou nie wegwys as jy na Hom kom vir verlossing nie.

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die teruggevalle kind van God. (vir backsliders!) Kom in berou na Jesus en Hy sal jou terugvat en weer gebruik soos Petrus! (Kliek op PETRUS)

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir jou wat voel dat jy misluk het in jou Christenskap, misluk het in jou huwelik of huisgesin. Jesus vergewe en herstel.

VASGEKEER IN 'N DOODLOOPSTRAAT?

Vriend, jou mislukkings, jou sondes, is dalk baie groot. Jy voel of jy by ‘n Gilboa van absolute wanhoop gekom het. Jy voel dalk soos Saul homselwers, vasgekeer in ‘n doodloopstraat van sondeskuld en skande. Dalk is daar ‘n baie spesifieke sonde of skande wat meedoënloos aan jou vreet, wat jou gewete verrinneweer... daardie een ding...wat jou so pla en teister dat jy dalk moontlik letterlik soos Saul op die rantjie van selfmoord rondsteier... 

Ja dis erg, baie erg, verskriklik erg, maar ek wil jou uitdaag en uitnooi: Kyk na Golgota, kyk wat daar gebeur het, kyk na die Seun van Dawid wat daar hang en hoor as hy uitroep : Dis volbring! Glo in Hom, hoop op Hom en vind volkome rus, vergifnis, vrede!  "Aanskou die Heiland, sien die kruis..."

MOENIE 'N ONGELOWIGE GEVANGENE BLY VAN DIE GEMORS VAN GILBOA NIE; BEWEEG VANDAG NOG GELOWIG AAN NA DIE GENADETRIOMF VAN GOLGOTA!

(Die essensie van hierdie preek het ek jare gelede by ds. Danie Steyn gehoor)

Saterdag 19 April 2014

EK GLO IN DIE OPSTANDING...

- en dit het heerlike implikasies wat ‘n groot verskil maak.

Die feit van God se verbysterende groot krag is oorweldigend duidelik. Dis duidelik uit die skepping... dink maar net aan die geweldige krag van vuur, water en wind of iets soos elektrisiteit en kernkrag... Dink aan ons son en die ontsagwekkende hoeveelheid energie wat elke sekonde daar opgewek word...dink aan die ontelbare miljarde brandende sterre in die heelal... Vanoggend herdenk ons egter die belangrikste en mees verreikende demonstrasie van God se krag – die historiese liggaamlike opwekking van Jesus uit die dood! Dis iets op ‘n heel ander vlak, onbegryplik heerlik! Ja, ons as mense kan iets verstaan van die krag van vuur, water, wind en elektrisiteit. Ons kan dit beheer en gebruik. Selfs kernkrag kan ons tot ons voordeel inspan. Vir byna alles het ons as mense ‘n plan en ‘n oplossing. Maar teenoor ‘n lyk staan ons magteloos en radeloos. God se krag ken egter nie perke nie. Die leë graf van Jesus getuig op besondere wyse daarvan. Dink aan die geweldige krag van God wat Jesus se dooie mishandelde liggaam weer opgewek het tot lewe en tot ewige heerlikheid aan die regterhand van God. Nog wonderliker, dit raak ons ook prakties op baie maniere!

Maandag 01 April 2013

DIE BESPOTTE KONING

- se sterwe bevry ons tot ‘n nuwe toekoms. 

Terwyl Jesus besig is om sy lewe vir sondaars te gee klink daar ‘n koor van spot op. Matteus wys ons in hoofstuk 27 doelbewus daarop hoe alle lae van die samelewing lustig hieraan deelneem. Die Seun van God is as’t ware ‘n openbare spektakel en voorwerp van spot vir alle mense: 

Soldate. "Daarop neem die soldate van die goewerneur Jesus met hulle saam in die goewerneur se paleis en bring die hele leërafdeling teen Hom bymekaar. 
Toe trek hulle sy klere uit en werp 'n rooi mantel om Hom; 
en hulle vleg 'n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en 'n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode! 
En hulle spuug op Hom en neem die riet en slaan Hom op sy hoof. 
En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word." (29-31) 

Verbygangers of algemene publiek. "En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!" (39,40) 

Godsdienstige en sekulêre leiers. "En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: 
Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo."  (41,42) 

Selfs Sy mede gekruisigdes, alhoewel ons uit Lukas aflei het dat een tot ander insig gekom het. "En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig." (44) 

Hierdie bespotting van die Gekruisigde Jesus gaan vandag nog onverpoosd voort! (ook in die Afrikaanse pers) 

Na die beskrywing van hierdie bespottings en beledigings, noem Matteus ‘n paar opeenvolgende dramatiese gebeure. Die drie ure duisternis, die kruiswoord van Jesus en daarna is dit asof die spottery tot stilstand gedwing word toe Jesus sterf, die voorhangsel skeur, die heiliges uit die dood opgewek word en daar oor die heidense hoofman en sy groep soldate se lippe die belydenis kom : “Waarlik Hy was die Seun van God!” 

Matteus beklemtoon oor die algemeen in sy evangelie dat Jesus die beloofde koning uit die nageslag van Dawid is. Hy verdien dus die hoogste eerbied en erkenning, maar nou in hulle dwaasheid word Hy deur mense misken en gespot. Deur sy beskrywing van hierdie gebeure wil Matteus juis onderstreep hoe misplaas, uit plek die en dwaaslik verkeerd hierdie spottery van die mense is. 

As deel van die gebeure wat die majesteit van Jesus demonstreer meld Matteus die opstanding van die heiliges. 

"en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. 
En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn."  (Matteus 27:52,53) Ons gaan bietjie nadink oor die ietwat raaiselagtige (en dalk moeilik verstaanbare) gebeurtenis. Matteus is al een van die evangeliste wat hierdie merkwaardige gebeurtenis vermeld. Daar is ‘n hele paar vrae wat hierdie sonderlinge gebeurtenis by mens oproep: 

Die frase “na Sy opstanding” laat vrae ontstaan. Waar was hulle intussentyd voor hulle verskyning in Jerusalem? 

As hulle tydens die kruisiging opgewek is, bring dit nie die feit in gedrang dat Christus die eersteling uit die dode is nie (1 Korintiërs 15:20) of het hulle eers na Sy opstanding opgestaan? Wat is Matteus se rede vir die plaas van hierdie gegewens? 

Wie was Wie was hierdie heiliges? Het hulle weer gesterf of wat het van hulle geword? Hoekom hoor mens nie weer van hulle nie? 

Volgens die teks lyk dit baie duidelik. Die heiliges het reeds op die Goeie Vrydag opgestaan. Juis omdat hulle verskyning nie op dieselfde dag plaasgevind het nie moet Matteus ‘n nuwe tydsaanduiding gee - “na Sy opstanding” Die volle omvang van wat op Jesus se sterfdag gebeur het word dus eers na Sy opstanding bekend as hierdie heiliges aan baie "verskyn". Die woord "verskyn" skep sterk die indruk dat hulle onsigbaar was en slegs aan bepaalde hulleself vertoon het. Hier begin nou iets van die aard van hulle opstanding deurskemer. Dit herinner sterk aan Jesus se opstandingsliggaam. Na Sy opstanding het Hy homself ook sommer skielik, plotseling aan bepaalde mense vertoon en dan sommer weer verdwyn. Dink aan Sy verskyning aan Sy dissipels agter geslote deure en die Emmausgangers. Jesus het ‘n liggaam gehad, waaraan mense kon vat. Hy het brood en vis voor die oë van sy dissipels geëet, maar dit was ‘n verheerlikte liggaam sonder beperkings. 

Dit wil dus voorkom dat hierdie opgestane heiliges se liggame in dieselfde kategorie as Jesus se verheerlikte liggaam was. 

Hulle liggame was sonder die normale menslike beperkinge, verheerlikte opstandingsliggame soos ons almal eendag sal ontvang. (vergelyk Filippense 3:21) Die opwekking van hierdie heiliges is dus nie in dieselfde klas as die opwekking van Lasarus of Jaïrus se dogtertjie nie. 

As ons dink in die rigting van verheerlikte liggame word baie van die ander vrae makliker beantwoordbaar. Waar hierdie liggame dan voor die opstanding van Jesus was is dan saaklik dieselfde kwessie waar hulle na hulle verskyning hulle hulle bevind. Verheerlikte mense in ‘n ander sfeer. Hulle het dus ook nie weer gesterf en is nie weer begrawe nie. 

Wie was die heiliges? Ons weet nie. Sommige dink dit is Ou Testamentiese heiliges, ander dink dis eerder tydgenote van Jesus wat in Hom geglo het en wat op hierdie stadium al dood was. Gestorwenes uit die tyd van Jesus sou makliker herkenbaar wees vir die mense aan wie hulle verskyn het. Dit lyk dus waarskynlik dat dit tydgenote van Jesus was. 

BELANGRIKER is om te verstaan waarom Matteus hierdie gebeure hier vermeld. Op die presiese oomblik wanneer Jesus Sy lewe oorgee kom die kosmos in beweging. ’n Aardbewing. Dit raak selfs die dooies. Die betekenis van Jesus se sterwe word hierin duidelik. Dit het wydkringende kosmiese betekenis, dit lei selfs tot oorwinning oor die dood. Die mense sou reeds op Goeie Vrydag die oopgebreekte grafte opmerk en ontdek het dat dit leeg was. Eers na Jesus se opstanding sou die opstanding van die heiliges bevestig word deur hulle verskyning aan mense in Jerusalem. Hulle gee hierdeur die voorrang aan Jesus self. Hy is die Bevryder, Hy is die eersteling uit die dode. Sy sterwe bring vir hulle (en vir ons) ewige bevryding. Die opstanding op derde dag, is net bevestiging daarvan! Daarom word hierdie stukkie geskiedenis reeds saam met die gebeure van Goeie Vrydag gemeld en nie by die van die Opstandingsdag nie. 

Hulle gaan die heilige stad in. Waarom “heilige stad”? Die rede hoekom Jerusalem (wat alles behalwe heilig was) so genoem word is om daarop te wys dat dooies as onreines normaalweg uitgesluit is uit die stad (stad is heilig - hulle onrein). Die dooies is nou volledig gereinig deur hulle opwekking, die dood kan hulle nie meer buite hou nie. Hulle vorm so die voorhoede van die groot skare wat eendag die werklike heilige stad, die nuwe Jerusalem sal binnegaan. Mens sou kon sê hierdie gebeure is ‘n profetiese vooruitskouing. 

Hierdie gelowiges se opstanding reeds op Goeie Vrydag doen niks afbreuk aan die feit dat Jesus die Eersteling uit die dood is nie. In 1 Korintiërs 15 gaan dit oor Christus en ons opstanding - ons gaan Hom volg. Verder geld dit ook van hierdie heiliges dat hulle dood was deur een mens Adam en lewend geword het deur die tweede Adam. Teologies bly Jesus die Eersteling uit die dode - deur Sy dood en opstanding verseker Hy ons opstanding. 

Waarom hoor ons nie verder van hierdie heiliges se opstanding nie? Eerstens : Hulle verskyning was net tydelik, dan verdwyn hulle van die toneel. Tweedens : Hulle verskyning speel geen belangrike rol in die apostoliese prediking nie. Alle klem val op die gekruisigde Jesus en Sy verskynings. Matteus onderstreep deur hierdie stukkie geskiedenis die werklikheid van God se Seun wat sterf. Die aardbewing en die oopgebarste grafte getuig daarvan. 

Die bespotte Koning se sterwe bevry ons van sondeskuld en gevolglik van verganklikheid en dood! Die merkwaardige opstanding van die heiliges op Goeie Vrydag is ‘n voorsmaak van die volle effek van Jesus se genoegsame offer aan die kruis, sy liggaamlike historiese opstanding die Sondagoggend is die finale bevestiging daarvan. Die belangrikste vir my en vir jou is om te weet dat sy sterwe en opstanding ‘n nuwe toekoms open. Ja, vir jou en my wat glo beteken dit ‘n nuwe lewe reeds hier en nou. ‘n Lewe as vrygespreektes ten spyte van ons aaklige verlede vol sonde en mislukkings. (Ja, ook vir jou met jou mislukte huwelik, vir jou met daardie verskriklike misstap wat jy nooit kan vergeet of regmaak nie...) Ten spyte van ons voortgaande swakheid en gebrokenheid. Maar dis ook ‘n toekoms wat vooruitstrek na ‘n volmaakte ewigheid sonder enige sonde en swakheid. Ons is nou reeds in beginsel deel van hierdie groepie opgewekte heiliges met hulle verheerlikte liggaame ! Ons juig nou reeds saam met hulle oor die kruis en die leë graf van ons Verlosser. 

Dis juis die kruis en die leë graf wat bevestig dat ons Jesus nie maar net nog ‘n Joodse rabbi was soos wat arme Lina Spies en haar Gnostiese spotters beweer nie ! 

Erkenning : Vir die eksegetiese insigte oor hierdie gedeelte in Matteus, is ek dank verskuldig aan die uitstekende kommentaar van Jakob van Bruggen.