BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket DEGNOS. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket DEGNOS. Wys alle plasings

Dinsdag 03 Mei 2022

Ons besoek Jesus se mense in Boesmanland...

'n Groep van ons uit die NGK Tsumeb het die opwindende geleentheid gehad om saam met Andries en Tracey Gous vir ’n kort uitreik verlede naweek na Boesmanland te gaan. Vir sommige was dit die eerste kennisname met hierdie pragtige deel van ons land. Die opvallendste was egter nie net die besondere natuurskoon nie, maar veral die pragtige kinders van God. Ja, dis mense van ’n totaal ander kultuur as ons, maar omdat dieselfde Heilige Gees wat in ons woon ook in hulle woon is daar ’n wonderlike band van eenheid.

In die weste van Boesmanland het ons Kanovlei en Omatako besoek. Dis in 'n pragtige vallei met reuse kameeldorings waar die Vasekele !Kung (voorheen van Angola) woon. Die Woord is aan klein en groot gebring. Trudie van Niekerk en haar medewerker Elvin van CEF het voorgevat met die kinders. Hierna is daar ’n vinnige draai by M’Kata gemaak waar soos Andries ons ingelig het die Mpunguvlei !Kung woon. (Hulle is dus oorspronklik afkomstig uit die Kavango.) Hier is ’n baie groter mate van ontwikkeling en blykbaar is hier ’n beleid dat as iemand nie wil werk nie, hy ook nie mag eet nie!


Uiteindelik was ons op Mangetti Duin. Dit was vir my ’n groot voorreg om ’n jong man, Amon Petrus op Sondag 1 Mei hier as leraar te bevestig. Kom ons bid vir hom en sy vrou Nyama se bediening. Jaõ, ’n ou kennis uit my weermagdae het as tolk opgetree. 


Linguïsties is hierdie gemeente (die amptelike naam is Luhebu Noord) 'n mini Babel... Die mense praat natuurlik hulle variant van !Kung wat uit Angola kom... Maar daar het die mans uiteraard Portugees gepraat as soldate in die koloniale tyd. Hulle kerktaal was Luchazi. Hulle sing vandag nog Luchazi liedere in die kerk. Met hulle deel word van die destydse SAW en hulle vestiging in die ou Suidwes het Afrikaans bygekom. En deesdae in die onafhanklike Namibië is die voertaal in die skole natuurlik Engels. Die jong geslag verstaan natuurlik nie meer Luchazi nie... aanpassings moet gemaak word.

Terug by die bevestiging. Dit was opmerklik dat mense uit ander gemeentes ook die bevestiging bygewoon het. Ons moet nooit vergeet dat Andries se bediening onder die vaandel van DEGNOS baie wyer strek as net NG lidmate nie.

Later die dag het ons via Aasvoëlnes na Nhoma gegaan. Dis ’n pragtige omgewing. Dis in die ooste van Boesmanland en is die woongebied van die Juǀʼhoansi. Hier kon ons ook kennismaak met twee van die oorlewende Boesmans wat deel was van ’n groep wat met hulle lewens ’n paar jaar gelede ’n Australiese toeris in ’n veldbrand beskerm het. Drie manne het letterlik hulle lewens verloor om haar lewe te red! Hier het Herman Fuls en Andries die Woord gebring en daar is ook weer ’n geleentheid vir die kinders aangebied.







Herman Fuls en Andries Gous. Ons hou kerk onder pragtige  Rhodesian teak bome.





Gert en Bertus op Nhoma. Gert dra nog die littetekens van die vreeslike brandwonde.








Ongelukkig sien mens nie net mooi dinge nie. Dis was skokkend om te sien hoe gierige mense die bastermopanie woud (rooshout/osiwi) in hierdie afgeleë gebied uitgeroei het. ’n Reuse stapel houtblokke oorgelewer aan wind en weer was die hartseer getuienis. Nêrens is die skepping meer veilig teen die mens se verwoestingswerk nie.



Maar, kom ek keer weer terug na die positiewe. Ons moet die Here dank vir sy kerk in Boesmanland. Jesus Christus self hou sy kerk in stand. Daar is natuurlik verskeie uitdagings... die reuse afstande, tekort aan fondse en arbeiders, uitbuiting van die Boesmans deur gewetenlose handelaars, die binnedring van ander meer gegoede volke en die bedreiging van valse leringe soos die van die Sewendedaagse Adventiste wat daarop uit is om mense van die kerk af te rokkel. (hulle doen dit met fondse van oorsee.) Te midde van alles doen Andries en Tracey reuse-werk. Min van ons het ’n besef wat dit als behels. Om net ’n kerkraadsvergadering te hou moet daar honderde kilometers gereis word! Dan het ons nog nie eers gepraat oor die ondersteuning van die skooltjies, die aanbied van opleiding en die onderhoudswerk aan eiendom nie.

Kom ons raak betrokke deur gebed en ondersteuning. Bid vir al die leraars, kerkraadslede en onderwysers, maar spesifiek vir Andries en Tracey (hulle is nog lidmate in Tsumeb) wat ’n byna bomenslike verantwoordelikheid moet dra. En miskien moet jy dalk volgende keer saamgaan...




Woensdag 01 Maart 2017

DIE NG KERK IS BANKROT

- Waarom het die kerk nie meer geld nie?


‘n Kollega in die bediening stel dit nou die dag baie kru oor die telefoon : “Die NGK is bankrot!” Inderdaad blyk dit (altans in Namibië) nogal taamlik na aan die waarheid te wees. Met skok verneem mens : “Die Sinode van die NG Kerk Namibië het sy jaarlikse bydrae vir die 2016/2017 boekjaar van N$ 263 000 tot die Kunene vir Christus begroting vir die 2017/2018 boekjaar verminder tot N$ 12 310.” Kunene vir Christus werk onder andere onder die Oavahimba in die noordweste van ons land. Die sinodale hulp aan DEGNOS (wat betrokke is by die sending onder die Boesmans) is op soortgelyke radikale wyse gesny. Maerua Kinderhuis het nog erger deurgeloop. Die enigste afleiding wat mens kan maak as daar aan sulke belangrike werk besnoei word – die kerk se geld is op!

Die gewone redes wat aangevoer word vir hierdie benarde posisie is wel bekend : Dis moeilike ekonomiese tye wat druk, dit was ‘n groot droogte, daar is ‘n dramatiese ontvolking van die platteland, die NGK het ‘n duur bedieningsstruktuur, demografiese tendense soos veroudering en ‘n lae geboortesyfer...

Dis natuurlik nie heeltemal onwaar nie. Al hierdie faktore speel inderdaad ‘n rol. Dis egter nie die volledige prentjie nie. Miskien is dit nodig om eerlik na nog ‘n paar (ongemaklike) feite te kyk:

1.Die NGK het derduisende lidmate verloor. Punt. Die lidmate op die boeke en in die statistieke is net nie meer daar om kollektebordjies vol te maak nie. Miskien word daar gewerk met getalle wat nie bestaan nie? Die Jaarboeksyfers het meer met fiksie as feite in gemeen. Die redes is eenvoudig : in min gemeentes word daar nog deeglike huisbesoek en opnames deur kerkraadslede gedoen en dis al metode om betroubare statistiek in te samel. Neem ook in ag dat mense wat die kerk deesdae verlaat selde nog amptelik bedank. Hulle verdwyn maar net, terwyl die name op die registers bly staan… ‘n Mens wonder het ons dalk ‘n arfgiefkerk geword? Die verlies aan lidmate het veral op drie fronte geskied:

~Die NGK het die afgelope dekades die room van sy getroue lidmate verloor aan ander behoudende kerke. Die groot rede hiervoor is die teologiese koers van liberalisme wat deur die kerk ingeslaan is en die duidelikste op die teologiese fakulteite uitkristalliseer. So het die stief behandeling van Ferdie Mulder toe hy beswaar gemaak het teen die ontkenning van Jesus se liggaamlike opstanding deur dosente van Tukkies nie baie vriende vir die NG Kerk gewen nie… Die skade wat 2015 se AS besluite oor selfdegeslagverhoudings geneem het, het skokgolwe deur die geledere van Bybelgetroue gelowiges gestuur. Dat die besluite toe wel in 2016 (op ‘n manier) omgekeer is het min aan die persepsies oor die NGK verander, want die besluite was nog steeds nie ondubbelsinnig duidelik nie. (Dan praat ons nie eers van iets soos DIE KERKBODE gedrewe heksejag teen ds. Dirkie van der Spuy nie.) Toegewyde gelowige lidmate het hulle vertroue in die kerkleiding verloor en gay aktiviste met T-hempies by sinodes gaan nie juis iets doen om dié vertroue te herstel nie en nog minder om begrotings te laat klop. ‘n Kerk wat nie duidelike standpunte het nie en nog vis nog vlees is verloor op die ou end die ondersteuning van beide die vis en die vlees … ‘n Tipies resente voorbeeld van die kerk se verval in morele relativisme (en HUISGENOOT moraliteit) is die NG Gemeente Rasslouw se konferensie oor die huwelik waar ‘n sekere ds. Lizl-Louise Schoeman verklaar : “Die kerk moenie vir jongmense sê dat hulle nie seks voor die huwelik mag hê nie, maar ook nie dat hulle maar moet laat waai nie.” Nou toe nou... almal kan maar in die wildtuin gaan jag, moet net nie te veel jag nie... 

~‘n Groot klomp lidmate het ook koersgevat na charismatiese kerke en die reuse verskeidenheid van los groeperings beskikbaar in elke smaak en geur. Huiskerke en boskerke. Ook hier is dit nodig om hand in eie boesem te steek. Gebrekkige lering oor jare het mense vatbaar gemaak vir elke nuwe wind van lering en elke nuwe skyn van opwinding.

~Baie voormalige lidmate het bloot net weggeraak en in totale kerkloosheid verval. Toenemende sekularisme eis ‘n al groter tol. Ons kan die tydsgees hiervoor blameer en beslis is dit ‘n algemene verskynsel in die westerse wêreld, maar die kerk self is nie sonder meer vry te spreek nie. Ons het ons geloofwaardigheid verloor. Watter respek moet die wêreld vir ons hê as die kerk nie eers meer weet wat die definisie van ‘n huwelik is nie? Wie gaan nog na ons luister as ons self nie meer weet wat reg en verkeerd is nie? Hoekom moet die wêreld daarbuite ons ernstig opneem as ons nie ons eie belydenisskrifte ernstig opneem nie? Die kerk is klaarblyklik nou nie meer seker oor die opstanding van Jesus nie en ons weet nie of daar ‘n duiwel is of nie. Is ons nog hoegenaamd anders as die wêreld?

2.Wat die lidmate wat nog oor is betref moet ons ook eerlik wees dat die gehalte van betrokkenheid oor die algemeen sorteer onder dit wat Jesus in die Laodicea gemeente tipeer as louheid. (kliek op NAAR) Dis skokkend sigbaar in gebrekkige erediensbywoning, maar ook morele laksheid. Lidmate volhard lustig in openbare sondes sonder dat ‘n wenkbrou gelig word. Kerklike tug is net iets waarvan daar soms in (baie) ou kerkraadsnotules gelees word, want sien die kerk wil nie die risiko loop om nog van die paar oorblywende lidmate ook te verloor nie. Die materialisme van die groot gros onbekeerde nominale lidmate bevorder natuurlik ook nie offervaardigheid nie. En dis nie dat ons mense so min geld het nie - vir die waansinnige gejaag na skolesport, naweek vir naweek is daar oorgenoeg geld beskikbaar! Ons lidmate ry nog steeds met luukse voertuie, hou nog steeds TV skottels aan en speel nog steeds gholf...

DIE SKAT VAN DIE KERK

Die hartseerste van als – die kerk het nie net baie lidmate en geld verloor nie, maar dit lyk ook al hoe meer of ‘n groot deel van ons kerk die ware skat van die kerk naamlik die evangelie (volgens Luther)*, verloor het. Hoe so? Mens hoor van min bekerings en mens sien min entoesiasme om die evangelie aan verlorenes te verkondig (waar is die manne soos die destydse Dr. Willie Marais en ds. Dana Minnaar?) Natuurlik is daar heerlike uitsonderings, maar dis juis dit - uitsonderings. Ons teologiese fakulteite lei nie meer vurige evangeliedienaars op nie maar skeptici wat Jesus se plaasvervangende kruisdood, die liggaamlike opstanding, die werklikheid van hemel en hel en wie weet wat nog bevraagteken. Dit het vernietigende gevolge onder lidmate se moraal en toewyding en dit wys uiteindelik ook in syfers! Baie jong predikante wie se gemoed en denke deur Marcus Borg en Rob Bell vergiftig is, is dikwels gawe ouens wat die kerk as ‘n NGO beskou (sonder enige beleid), maar van ‘n kruisevangelie wat hoop bring aan verlore sondaars het hulle geen ervaring nie. As hulle iets verkondig is dit die versiersuiker afgod van die sogenaamde Progressive Christianity. Die evangelie, “die krag van God tot redding vir elkeen wat glo…,” het skaars geword op ons kansels. Immers as niks meer verkeerd is nie en niks is meer sonde nie, waarvan het die mens dan nodig om gered te word?

As ons sake wil regstel is dit hier waar ons moet begin. By die reddings boodskap, die kruisboodskap. Vergeet eers bietjie van die biltongfeeste, gholfdae, glansganse, gaskunstenaars en al die vindingryke basaarfoefies… Los eers die mens gefokusde luisterseisoene, labarintuitstappies of spanbousessies en luister weer na die Woord! Ontdek weer die evangelie! Verkondig die evangelie, leef dit! En weet beslis dat mense wie se harte aangeraak word deur die bevrydende boodskap van God se genade se harte en hande ook bevry word om te gee, want hulle juig nou oor die skat in die hemel!

Is ek sinies of hiperkrities? Ek is immers deel van die opset en staan self skuldig in vele opsigte. En ek wonder, verkondig ek die kruisevangelie duidelik genoeg deur die krag van die Heilige Gees? Klink ek wanhopig, fatalisties? Nee, die ergste afvallige gemeentes aan wie die briewe in Openbaring gerig word, word nie afgeskryf nie, maar opgeroep tot bekering. Mag ons dierbare NG Kerk op hierdie bekeringsuitnodiging reageer van Hom wat tussen die sewe kandelare beweeg. Dan sal ons ware rykdom bekom, maar ook genoeg aardse middele hê om die werk te voltooi wat ons Koning vir ons gee om te doen.

*Een van Luther se 95 stellings, stelling 62 lui soos volg : “Die ware skat van die kerk is die mees heilige evangelie van die heerlikheid en die genade van God.”


Die droogte hier by ons is gebreek, maar daar heers wyd en syd nog steeds 'n knellende geestelike droogte...