BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 15 Julie 2012

SOEWEREINE STEM WAT TOT LEWE ROEP


- lyke moet luister!

Ons kan nie gered word as God nie eerste in ons lewens ingryp nie en tog is dit ons verantwoordelikheid om te reageer!

Ons God is die lewende God wat wonders doen. Hy word reeds in die Ou Testament genoem : “ ‘n Bewerker van wonderdade” (Eksodus 15:11) In die Nuwe Testament het Jesus God se almagtige wonderwerkende krag op dramatiese wyse gedemonstreer.  Kyk nou net weer wat gebeur hier in Johannes hoofstuk 11! Jesus roep ‘n dooie mens wat al vier dae in ‘n graf is! En dan reageer die dooie! ‘n Mens kan eintlik sê dat hier ‘n dubbele wonder gebeur. Eerstens dat ‘n dooie kan hoor en tweedens dat hy kan herleef. 

In die Johannes  evangelie het wonderwerke ‘n baie duidelike doel. Dit word gebruik om sekere heerlike geestelike waarhede te onderstreep. Hy verkies dan ook  om die woord “tekens” te gebruik as hy van Jesus se wonders praat. Jesus se wonders was nie blote vertonings van krag ter wille van vermaak of aandag trek  nie, maar tekens wat gewys het op dieper geestelike waarhede wat net met die oë van geloof gesien kon word.  Dink maar aan die wonder by die vermeerdering van die brood. Dit wil vir ons sê : Jesus self is die Brood van die lewe, met ander woorde  die allernoodsaaklike geestelike voedsel wat ons as mense nodig het. Ons kan nie leef sonder Jesus nie!

Waaroor gaan die opwekking van Lasarus? Hoekom vertel Johannes hierdie gebeurtenis in sulke detail? Natuurlik het ons hier ‘n voorbeeld van Jesus se egte liefde en omgee vir mense. Telkens oorweldig sy emosies Hom by Lasarus se graf. Dis ook ‘n bewys van Jesus se Goddelike gesag en tydsberekening. Sy “laatkom” is presies betyds! Verder is die opwekking van Lasarus  ‘n duidelike voorspel tot ‘n groter wonderwerk , die opwekking van Jesus self kort hierna uit die graf. (Lasarus is begrawe in 'n rotsgraf met 'n klip voor die opening nes Jesus) Dis dan ook ‘n teken dat ons wat aan Jesus behoort liggaamlik sal opstaan.

Maar Lasarus se opwekking vertel ons ook nog iets meer wat vir ons hier en nou baie belangrik is.  Dis ‘n duidelike teken van die wonderwerkende krag van Jesus om sondaars wat dood is in hulle sondes geestelik lewend te maak. Ons kry reeds ‘n verwysing hierna in Johannes  5:25

“Ek verseker julle : Daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van die God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor sal gee, sal lewe.”  

(Mens kan amper sê dat ons hier ‘n leidraad kry om Johannes 11 te verstaan) Hier gaan dit nie bloot oor die fisieke opstanding nie, maar sondaars wat uit die dood na die lewe oorgaan. Sondaars wat nie meer veroordeel word nie, maar die ewige lewe deelagtig word. Rebelle wat kinders van God word. So verstaan is die opwekking van Lasarus ‘n magtige demonstrasie van hoe Jesus met sondaars werk en die lewe aan ons skenk.  Dis hierdie waarheid wat Jesus reeds vooraf aan Marta wil oordra : 

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook...” (Vers 25) 

Kom ons kyk naderby na twee aspekte van Jesus se lewendmakende werk:

~ Lasarus se toestand. Een woord : morsdood! Magteloos morsdood!  Reeds 4 dae dood....hy  kan nie meer lewe nie; hy  wil nie meer lewe nie. Dis so ‘n raak beskrywing van elke sondaar se toestand. Ons in ons natuurlike toestand  kan nie God ken en sy opdragte uitvoer nie. Maar ons wil ook nie. Ons is geestelik dood weens ons misdade. (Efesiërs 2:1)  Romeine 3:9ev stel die mens se diepverdorwe magtelose toestand baie eerlik en treffend. (lees) Niemand wil of kan God ken nie!  Dis die harde feite oor elke sondaar. As God nie ingryp en ons roep nie, sal daar by ons geen beweging tot lewe en verandering kom nie!

~ Jesus se krag en werkswyse as Verlosser.  Kyk na Jesus se soewereine genadige  krag (Lasarus is dood en kan niks verdien en geen bydra lewer  nie. Hy kan nie eens vra : “Help my” nie.)   Kyk na Jesus se gesagvolle krag. ‘n Dooie moet luister. Jesus wek ‘n lyk tot  lewe!
Hoe gaan Jesus te werk? Hy doen oënskynlik ‘n dwase ding, Hy volg  ‘n onlogiese werkswyse.  Hy roep ‘n dooie. Hoe nou? Hy gebruik woorde, Hy gee ‘n opdrag! Dit lyk vir ons vreemd. Dit klink amper snaaks.  Lyke kan mos nie luister nie! Dooies kan tog nie hoor en reageer nie!  Tog is dit God se manier. Dis wat die profeet  Esegiël gesien het toe hy die opdrag gekry het om te profeteer oor die doodsbeendere in die vallei. (Esegiël 37) Hierdie wonder gebeur vandag nog, waar God se Woord in waarheid verkondig word. God  roep mense deur die evangelie   en wanneer hulle die boodskap van Jesus hoor gebeur daar in harte ‘n dubbele wonder om te kan hoor en om lewend te word. Ons sien in Jesus se werk die gebalanseerde werskswyse van God. Alles begin by God. Hy doen die wonder. Hy ruk ‘n sondaar soos ‘n brandende hout uit die vuur. Maar ons sien ook die mens se verantwoordelikheid. Ons moet reageer. God se wonders maak ons nooit passief nie. God betrek ons verstand, wil en emosie. Die Dordtse Leerreëls (een van ons belydenisskrifte) stel dit baie duidelik : 
“Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie, en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit terselfdertyd lieflik en kragtig.” (DL3&4.16) 
In eenvoudige Afrikaans beteken dit : jy moet ‘n wilsbesluit neem. Ja, dis God wat hierdie dooie wil van jou lewend maak, maar dis jou verantwoordelikheid om ‘n  keuse te  maak as Jesus jou roep. Dis God wat ‘n wonder doen, maar jy moet gehoorsaam! Hy doen juis ‘n wonder wat jou instaatstel om te gehoorsaam.
Jesus praat met Lasarus.  Dit was nie nodig nie, maar dis hoe Hy werk. Hy gebruik die Woord as middel tot die wonder. God doen wonders deur middele, ons noem dit genademiddele. Die belangrikste genademiddel is God se Woord. Daar waar die Woord in waarheid en in die krag van die Heilige Gees  verkondig word doen God wonders in mense. Die DL beklemtoon ook hierdie feit: 
 “Die almagtige werking van God ... sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom uitoefen ‘n nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word.” (DL3&4.17) 
Dit wil vir ons sê : Kom luister na die Woord. Dis ‘n opdrag.  Dis hoe God ‘n wonder in ons doen. Dis ‘n genademiddel tot verlossing. (Bestudeer Romeine 10:13-17) Deur die Woord en die werk van die Heilige Gees word reddende geloof in ons harte gewek.

Die redding van ‘n sondaar is gelykstaande aan die opwekking van ‘n dooie! 

Dis net so ‘n verbysterend heerlike wonderwerk! Is jy al lewend gemaak?  Ja?  Dank God! Dis alles onverdiende genade. Nee? Wel, jy hoor die Woord nou! Reageer. Kom na Jesus, Hy nooi jou. Waarom wag?

DL = Dordtse Leerreëls

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.