[Sekere teoloë en predikante in die NG Kerk verwys baie graag na die seisoen van menswaardigheid wat in die kerk afgekondig is. Dis onder andere ‘n seisoen van luister na die mens… Ek het ‘n ernstige vraag oor die eensydige beklemtoning en toepassing van hierdie beginsel, veral in die gay debat en goedpraat van dinge wat uitdruklik vir die Here 'n gruwel is. Vir ‘n gebalanseerde perspektief sal dit dalk baie gepas wees om te gaan kers opsteek by die roepingsgeskiedenis van die profeet Esegiël.]
GEROEP AS WAG
Esegiël ontvang ‘n roeping van God self. (Kyk gerus na Esegiël hoofstuk 2 en 3) Esegiël is deur God aangestel as ‘n wag vir die volk.
Hierdie roeping is ‘n baie ernstige saak. Die taak van ‘n militêre wag was destyds om op die stadsmuur te staan en uit te kyk of ‘n vyand aankom. As daar dan gevaar op pad was moes hy op die basuin blaas om die mense te waarsku. (vgl. Eseg 33:1-6) Dit was uiteraard ‘n uiters verantwoordelike werk, dit kon die verskil tussen lewe en dood maak vir die mense in die stad! Nalatigheid aan die wag se kant kon natuurlik ook skrikwekkende gevolge vir homself inhou – teregstelling!
Die taak wat Esegiël van God ontvang is eweneens om mense te waarsku.
Dit het ‘n dubbele fokus gehad:
Goddeloses moes gewaarsku word dat hulle onder God se oordele sou sterf as hulle hul nie bekeer nie. “As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe--en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered." (3:18-19 OAV)
Dis egter nie al nie! Regverdiges moet ook gewaarsku word om nie die regte weg te verlaat nie. "En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis." (3:20-21OAV)
Net soos in die geval van ‘n militêre wag het die opdrag van God ook vir Esegiël persoonlik ernstige implikasies gehad. As Esegiël sy opdrag versuim, sal die skuldiges sterwe, maar God sal van hóm rekenskap eis! (18,20 OAV) “maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.” of “maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.” (NAV)
Esegiël moes besef, hier word geen ruimte gelaat vir skouers optrek nie, vir luiheid en laksheid nie, vir mensevrees nie... dis ‘n Goddelike bevel en as hy ongehoorsaam is gaan dit bitter ernstige gevolge vir ander sowel as homself inhou.
AL SIT JY OP SKERPIOENE!
Aan die ander kant as Esegiël gehoorsaam is, sal hy sy eie lewe red, of die mense nou na hom wil luister of nie! Trouens, die Here het Esegiël duidelik voorberei vir die moontlikheid dat mense nie na sy boodskap van waarskuwing sal wil luister nie. "Dit is moedswillige en hardkoppige mense na wie toe Ek jou stuur. Jy moet vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie, want hulle is ‘n weerbarstige volk, maar hulle sal agterkom dat daar ‘n profeet tussen hulle is. En jy, mens, moenie vir hulle bang wees nie, ook nie vir wat hulle sê nie, al stuit jy op weerstand, op dorings, al sit jy op skerpioene. Moenie bang wees vir wat hulle sê nie, moenie vir hulle skrik nie. Hulle is ‘n weerbarstige volk." (2:4-6)
(En is daar nie baie skerpioene in ons dag nie! ‘n Hele verskeidenheid van liberale teoloë, gay aktiviste en die bewakers van sogenaamde menseregte se angels is baie skerp...)
EET DIE BOEK!
Wat ‘n geweldige taak, wat ‘n ontsaglike verantwoordelikheid! Gelukkig het God eers opleiding gegee. God self het die profeet voorberei. (2:9-3:4) Hy moes GOD se Woord sy eie maak! Dit word deur ‘n treffende metafoor uitgebeeld. “Die stem het vir my gesê: "Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel. Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet.” (3:1,2)
Hy moes na GOD LUISTER! (Hy moes nie eers by die mense hoor wat hulle graag sou wou hoor nie!) God bepaal die profeet se boodskap, nie die mens se begeertes, behoeftes, voorkeure of “oriëntasie” nie! Oor die inhoud van Esegiël se boodskap kon daar geen onduidelikheid wees nie! “Toe sê Hy vir my: "Mens, gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê.” (3:4)
Esegiël het ‘n intense seisoen van luister deurgemaak! Hy moes in die eerste plek na God luister!
Esegiël het sy boodskap so by God gekry! Natuurlik het dit nie beteken dat Esegiël vervreemd en verwyderd was van sy gehoor nie. Hy het immers sewe dae tussen hulle gaan sit! (3:15) Sy boodskap het hy egter nie by die geleerdes en aktiviste van sy dag gekry nie, maar by GOD!
DIE PROFETIESE TAAK VAN DIE NUWE TESTAMENTIESE KERK
Wat is die implikasies van Esegiël se opdrag vir ons? Natuurlik het Esegiël in unieke tye en omstandighede opgetree, maar hier is duidelik ook tydlose beginsels wat na ons as Nuwe Testamentiese kerk deurgetrek kan word:
Jesus self is God se finale profeet wat ons kom waarsku en opgeroep het tot bekering. Die amp van profeet is deur Jesus vervul en vervolmaak. So klink sy boodskap reeds helder aan die begin van sy bediening : “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15) Juis omdat Jesus sy profetiese taak met waarheid uitgevoer het en geen doekies omgedraai het nie, is Hy gehaat en verwerp! Hy verklaar : "Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is." (Johannes 7:7)
Ons wat aan Jesus behoort moet nou Jesus se profetiese amp voortsit na sy hemelvaart. “"Vrede vir julle!" sê Hy weer vir hulle. "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook." (Johannes 20:21) As gemeente gesamentlik maar ook as individue het ons die onontkombare profetiese roeping. Niemand, geen gemeente, geen gelowige durf hierdie Goddelike bevel ignoreer nie! Natuurlik gebruik Hy elkeen volgens sy eie gawes en persoonlikheid.
Soos Esegiël moet ons nie ons eie boodskap of die samelewing se grille of giere verkondig nie, maar slegs God se Woord. By wyse van spreke; ons elkeen moet die boekrol eet! Ken jy die Woord? Die kerninhoud van die Woord is natuurlik Jesus Christus self. Ons hoofboodskap is dus : Bekeer jou tot die gekruisigde en opgestane Jesus en jy sal lewe, so nie sal jy sterwe! Jesus is hier om te red, maar pasop, moenie die duisternis so liefhê dat jy weier om na die Lig te kom nie! (Vgl. Johannes 3:17-21)* Ons profetiese roeping word gedefinieer deur die evangelie. Dis die Goeie Nuus van God se verlossingswerk deur Jesus, maar ons moet dit ook duidelik stel dat diegene wat die evangelie verwerp onder die toorn en wraak van God sal deurloop.
Soos in die geval van Esegiël rus daar ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid op ons. Ons profetiese roeping het te make met die ewige bestemming en lot van die mense na wie die Here ons stuur! God stuur jou met ‘n duidelike doel na mense en wat hulle met daardie boodskap gaan maak, gaan hulle ewige toekoms bepaal.
Soos Esegiël sal ons verantwoording moet doen oor die uitvoering van ons profetiese opdrag! Dit klink asof die apostel Paulus baie bewus was van die erns van sy opdrag en dat hy hierdie opdrag aan Esegiël in sy gedagte gehad het te hy afskeid geneem het van die ouderlinge van Efese… “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.” (Handelinge 20:26,27 OAV)
Ons elkeen wat waarlik aan Jesus behoort het ‘n profetiese roeping om die evangelie na ander uit te dra en mense uit te nooi om voor Jesus te buig. Die keersy van die evangelie, God se toorn moet ook verkondig word! Ook binne die kerk rus die verpligting op ons om te vermaan tot getrouheid en heiligmaking. Wat ons met hierdie roeping maak het ingrypende gevolge, vir die mense na wie toe ons gaan, maar ook vir ons self!
* God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg.
Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.
Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.