BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 09 Junie 2014

“EK IS MET JOU/JULLE”

- die heerlike versekering van Jesus aan sy boodskappers in die opmars van die Koninkryk!

Oorgangstye is krisistye. As ‘n gevestigde of geliefde leier weggaan kan daar so maklik chaos of agteruitgang kom. Mense kan koers en entoesiasme verloor. Dinge kan dan so maklik skeefloop. Ons moenie vergeet nie, in Handelinge kry ons die geskiedenis van ‘n dramatiese maar ook kritiese oorgangsfase - Jesus het na drie intieme jare saam met sy dissipels opgevaar na die hemel. Voor hulle oë het Hy verdwyn in ‘n wolk... weg. Wat gaan nou gebeur? Hy laat ‘n klein groepie onbelangrike volgelinge agter. (Hulle was juis nie die dapperste en geleerdste ouens wat jy kon kry nie...) Dit was ‘n krisis tyd, ‘n beslissende tyd in die bestaan van die kerk en die uitbreiding van die koninkryk. 

Daar was al vantevore in die heilsgeskiedenis so ‘n kritieke oorgangstyd. Neem u gedagtes terug na die groot Eksodus gebeure, die Uittog uit Egipte. God gryp in deur Sy kneg Moses en Hy bewerk ‘n magtige verlossing. Maar uiteindelik kom ook Moses te sterwe - wat gaan nou gebeur? Moses het so na aan God gewandel, maar nou is daar ‘n nuwe leier, Josua. “Sal ek die mas kan opkom?” wonder Josua seker. Dan kry hy hierdie heerlike versekering uit God se mond : “Ek sal met jou wees.”

“En ná die dood van Moses, die kneg van die HERE, het die HERE met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê: My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee. Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het. Van die woestyn en hierdie Líbanon af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier, die hele land van die Hetiete, en tot by die Groot See in die weste sal julle grondgebied wees. Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie." (Josua 1:1-5)

MET JOU!

“Ek is met julle.” Dis ook ‘n versekering wat aan die kerk van Jesus gegee word. (sien Matteus 28:10) Hy is met ons, Hy, Jesus is steeds na sy hemelvaart aktief teenwoordig in Sy kerk. Ons het gesien hoe dit Lukas se bedoeling was om Jesus se voortgaande bediening te skets. (Kliek HANDELINGE VAN JESUS) Steeds na sy hemelvaart bly Hy die koning wat sy amptenare, die plaasvervanger apostel, Mattias kies. Jesus is na sy hemelvaart nog steeds die aktiewe Verlosser. Hy bring verlossing na mense deur sy woorde en dade. Jesus is dus die een wat leer en die een wat doen. Hoe gebeur dit?

~Die uitstorting van die Gees deur Jesus. Een van die gebeurtenisse in Handelinge wat die meeste aandag trek en die grootste diskussie en meningsverskil uitlok is die talewonder op Pinksterdag. (Dis nie nou tyd om volledig daaroor te besin nie) Wat wel duidelik is, die fokus van die bonatuurlike gebeure op Pinksterdag is nie op die bonatuurlike verskynsels as sodanig nie, maar op die verkondiging van die groot dade van God. Die gebeure gee aanleiding tot Petrus se prediking oor die groot dade van God in Jesus Christus. Mense uit alle uithoeke en van alle tale hoor die verlossingsboodskap. (Die vloek oor Babel word omgekeer en alle nasies kan nou die woord in hulle eie taal hoor.) Dis die Heilige Gees se teenwoordigheid wat hierdie verkondiging moontlik maak. Nou is dit baie belangrik om raak te sien, die Heilige Gees kom nie sommer vanself of toevallig nie. Dis Jesus wat die Heilige Gees uitstort. Dis die duidelike boodskap van Handelinge 2:32,33 waar ons lees : “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” Dis ‘n vervulling van die profesie van Johannes die Doper dat Jesus “met Heilige Gees doop” (Lukas 3:16, Handelinge 11:16) Omdat Jesus die groot Doper met die Gees is, stort Hy Heilige Gees uit. 

Ons moet alle verwysings na die Heilige Gees in Handelinge sien as verwysings na die aktiwiteit van Jesus. 

Dis ‘n uiters belangrike vertrekpunt vir die verstaan van Handelinge. Jesus is teenwoordig en werksaam deur die Heilige Gees. Nou verstaan ons waarom Hyself verklaar het dat dit voordelig sou wees as Hy weggaan. Deur sy Gees is Hy nou orals op aarde in sy kerk aanwesig en besig.

~Jesus is die een wat sy boodskappers bekragtig om te kan verkondig. Hy bekragtig hulle deur die Heilige Gees. (Handelinge 1:8) Dis so belangrik – daar is die nouste moontlike band tussen Jesus en Heilige Gees. Die Heilige Gees het nie nou ‘n afsonderlike bediening nie. Jesus en die Heilige Gees het nie twee botsende of alternatiewe agendas nie. Die Gees waarmee die verkondigers bekragtig word is die Gees van Jesus. Die Heilige Gees is die Gees van Jesus! “Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie.” (Handelinge 16:7 NAB*). Dis hoe Jesus met sy mense is in die veroweringstog van die kerk... Die ooreenkoms/parallel met die Eksodus/Josua gebeure is merkwaardig. In die oorgang van Moses wat die groot bewerker, middelaar van verlossing uit die Egiptiese slawerny was na Josua wat die verowering van die heidense gebied moes bewerkstellig, kry Josua die versekering “Ek is met jou.” Jesus was die groot Middelaar wat verlossing uit sondeslawerny bewerk het, maar nou is daar ‘n nuwe oorgangsfase - die heiden wêreld moet nou verower word deur sy boodskappers. Sy boodskappers kry nou dieselfde versekering as Josua. “Ek is met julle.” Dis presies die versekering wat Paulus van Jesus kry te midde van die teenstand wat hy in die stad Korinte moes verduur. “En die Here het deur 'n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” (Handelinge 18:9,10)

~Jesus verlig en verander die harte van die wat die verkondiging hoor. Jesus se saam wees met sy mense behels meer as dat Hy hulle krag en vrymoedigheid gee. Hy is selfs nog meer aktief en persoonlik betrokke by die veroweringstog van die Koninkryk van God in hierdie wêreld . Hy werk nie net in die verkondigers nie, maar ook in die wat luister. Dis ‘n onontbeerlike noodsaaklikheid waarsonder geen sukses moontlik sou wees nie. Die boodskap van die evangelie is inderdaad goeie nuus, maar die gevalle mens se hart het geen waardering daarvoor nie. (Selfs mense wat dikwels in die kerk is en kinders in wat Christen huise grootword trek hulle neus op vir die boodskap van vergifnis en bevryding...) Hulle kan nie insien dat dit die enigste hoop op lewe is nie. Mense benodig ‘n bonatuurlike ingrype van die Here Jesus self, anders sal daar nooit bekering plaasvind nie. Dis die geval met die leiers en die inwoners van Jerusalem. Hulle het hulle verhard teen die Here en sy gesalfde. Petrus preek vir hulle dat hulle moet bekeer (2:38;3:19) Hoe kan sulke ongevoelige en vereelte harte tot bekering kom? Slegs as die bekering deur Jesus geskenk word. “Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. (Handelinge 5:30,31) Jesus skenk hartsverandering aan Sy vyande wat uitloop op vergifnis. Jesus speel ‘n direkte rol in bekering van Paulus, maar ook in die van Lidia. “En 'n vrou met die naam van Lídia, 'n purperverkoopster van die stad Thiatíre, 'n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is." (Handelinge 16:14).

Verlossing is slegs ‘n genade geskenk – dit het niks met menslike prestasie of verdienste te doen nie!


EN NOU? Jesus is reddend teenwoordig hier in die kerk, hier waar jy nou lees... Luister na wat Hy oor Homself gesê het : “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is.” Volgens die boodskap van Handelinge het Hy nie na Sy Hemelvaart hierdie taak laat vaar nie, Hy is steeds daarmee besig. Heerlik! Jy wat nog buite staan, ronddwaal .... Hy is by magte om jou te red... Kom na Hom!

En jy wat reeds gered is? Kind van God jy is ‘n boodskapper wat die oorwinning wat Jesus aan die kruis behaal het, verder moet vat. Nuwe gebiede moet deur die evangelie verkondiging verower word. “Kanaän” by wyse van spreke, moet ingeneem word! Hoe? Deur verkondiging, proklamering van Jesus, getuie wees op alle maniere en terreine. Hierin word jy versterk, bemoedig en aangevuur deur die wonderlike versekering : "EK IS BY JOU!"

* Volgens goeie tekskritiese gegewens moet die vertaling "Gees van Jesus" soos dit in die NAB voorkom, voorkeur kry.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.