- BELOOF, BEVESTIG EN BEWERK ONS VERLOSSING!
Ons het gesien hoe God met Abram besig is op sy geloofspad in Genesis 15. Hy het sy beloftes aan die wankelende Abram herbevestig. Boonop het Hy toe vir Abram op ‘n nagtelike uitstappie gevat – “Kyk na die sterre! Kan jy hulle tel? Abram, dit wat jy nie kan doen nie, kan ek doen. Dit wat vir jou onmoontlik is , is vir my moontlik.” (Kliek op STERRE) En Abram glo. Maar daar is nog steeds huiwering by hom. “En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” (8) Hy soek nog meer vastigheid en versterking. Hierdie versoek is nie ‘n teken van ongeloof, maar ‘n bewys van geloof wat van sy eie swakheid bewus is. God verag nie ‘n geringe en swakke geloof nie. (Die aangrypendste voorbeeld in die Nuwe Testament is die pa wat na Jesus toe kom in Markus 9 – “Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!”)
VERBOND
Om Abram se geloof te versterk sluit God ‘n verbond (kontrak) met hom. God bevestig sy beloftes op ‘n formele kontraktuele manier. Hy hoef dit nie te doen nie, sy beloftes moet mos genoeg wees, maar Hy kies om dit so te doen.
“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit...” (17,18)
GOD TREE EENSYDIG OP!
Oor die presiese betekenis van al die besonderhede van hierdie verbondsluitingseremonie is daar nie eenstemmigheid nie.* Dis net interessant om te onthou dat mens in Hebreeus ‘n “verbond sny” Die verdeling van die diere – as ‘n oordeelsteken maak dus baie sin. Wat wel opvallend waar en vol betekenis is, is dat God eensydig** optree. Hy gaan alleen tussen die verdeelde diere deur in ‘n Goddelike verskyning. (Normaalweg sou mens verwag dat beide partye in die verbond dit sou doen) Die rokende oond en fakkel herinner sterk aan die wolk en vuurkolom tydens die Uittog uit Egipte en mag dalk ‘n profetiese boodskap van beskerming inhou ten opsigte van die latere geskiedenis van Israel. Nietemin, die klem val op God se inisiatief, God se ingrype, God se belofte en God se versekering terwyl Abram in ‘n passiewe toestand van vrees en angs is. (12) “En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.” (Dis miskien iets soos daai drome waarin jy voel of jy van als bewus is, jy word bang, jy wil iets doen, maar jy is magteloos… )
Abram is buite aksie, dis God wat die aksie uitvoer.
En dis ‘n genade aksie! ‘n Heerlike troos! God staan nie simpatiekloos en kyk eenkant toe hoe ons in die geloofslewe spartel en verdrink nie. Hy gryp in… Hy neem als op Hom. So wek HY geloof en ondersteun HY ons geloof. Hier in vers 18 word die verbond met Abram die eerste keer by name genoem. (die teken van die verbond, die besnydenis word eers in hfst. 17 gegee) En terloops, die hele res van die Bybel gaan oor die magtige verhaal van hoe God getrou bly aan sy verbond. Tot in Openbaring kom dit weer ter sprake!
Aangrypend heerlike drama. Die almagtige Skeppergod daal neer na die nietige mens en maak beloftes aan hom, maar dis nie al nie Hy sluit ‘n verbond met hom om die beloftes te bevestig. God kom na ons in Woord en sakrament. God verbind Homself deur sigbare tekens. Ook aan ons. Doop en nagmaal. Dis die groot saak om raak te hoor in die prediking en raak te sien in die sakrament. God speel die hoofrol. God tree op. God belowe. God bevestig sy beloftes. Ons troos lê in dit wat HY doen en wat HY belowe. In die doop wat die uiterlike teken is van die verbond gaan dit dus nie in die eerste plek wat ons belowe nie. Dit gaan oor God se beloftes, spesifiek God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Dink tog maar mooi, watter troos bied ons beloftetjies tog… verbreek ons hulle nie dikwels maar vinniger as wat ons hulle gemaak het nie?
DOOP
Net terloops. ‘n Streng subjektiwistiese siening van die doop, waar alle klem op my belydenis en my besluit val bied maar min troos in tye van storms en vertwyfel. Die feit dat ons (onder andere) vanuit die Abramsverbond aflei dat kindertjies ook hierdie teken mag ontvang (sommer om nou in ‘n polemiek betrokke te raak) bevestig net hierdie sterk klem op die eensydige kant van God se beloftes wat hier in Genesis 15 so dramaties geïllustreer word. Natuurlik kan klein kindertjies nog nie glo nie, natuurlik kan hulle nog nie tot bekering kom nie. Maar sou dit God verhoed om reeds sy beloftes aan hulle te bevestig? Onthou weer, Abram het geslaap toe God opgetree het... Abram ontvang wel die teken van die verbond nadat hy geglo het in Genesis 17, maar toe sy seun Isak gebore word ontvang hy die teken al op agt dae. Isak sou wel iewers later tot geloof gekom het, want volgens Hebreërs 11 was Isak ook ‘n gelowige.
EVANGELIE
Die groot saak is - Ons hoor reeds die evangelie hier in Genesis 15! God tree eensydig op, Hy gaan alleen tussen die stukke deur, Hy neem die inisiatief by die verbondsluiting. Dis mos presies wat by die kruis van Jesus gebeur het. God het mens geword in Jesus. Hyself vat die volle straf vir ons sonde. By die kruis het God alleen opgetree. Die mens het nie gehelp nie. Deur Jesus se offer het God gekom en ons met Homself versoen. Hy het dit volledig gedoen. Die mens het nie op Golgota enige bydra gelewer nie, die verlossing is genoegsaam en volkome deur God self bewerk in Jesus Christus.
REAKSIE : DANKBAARHEID!
Ons kan niks anders wees as dankbaar nie. Daar bly vir ons niks anders oor om te doen as dankbaarheid nie. Ons bewys ons dankbaarheid deur geloof en bekering. Geloof en bekering is die sigbare bewys van dankbaarheid. Wie nie glo nie en nie bekeer nie, is gruwelik ondankbaar en verwerp God se genade en vertrap die verbond… Juis ook en veral op gedoopte verbondskinders rus die verpligting om te reageer met geloof en bekering.
Net ‘n laaste vraag. In die lig van wat God gedoen het, sy eensydige verbond, sy genade, sy werk deur Jesus aan die kruis… Hoe kan ons onaangeraak bly, hoe kan ons ongelowig bly, hoe kan ons onbekeerd in sonde voortgaan, hoe durf ons die Woord minag…? Dis waansinnig dwaas om God se liefdevolle toenadering te verwerp en inderdaad sal so ‘n verwerping lei tot ‘n ewige waansin van selfverwyt in die hel…
*Sommige verklaarders maak baie van die ooreenkomstige gebeure in Jeremia 34:18-20 waar die straf weens die verbreking van die verbond voorop staan, terwyl ander meen daar is nie ‘n direkte ooreenkoms nie.
**Dumbrell, Covenant and creation,p49 en ook Woord teen die Lig II/3 p160,162
Middag Johannes
AntwoordVee uitJy sê:
GOD SELF
- BELOOF, BEVESTIG EN BEWERK ONS VERLOSSING!
Kan jy hierdie stelling met Skrifte bevestig?
Seën
Boeta
Dankie vir jou vraag Boeta. Die antwoord is natuurlik te vind in Genesis 15 self. Maar kom ek help verder...
Vee uitDie groot verlossingsdaad in die Ou Testament is natuurlik die bevryding uit Egipte ('n vooruitskouing van Jesus se verlssingswerk aan die kruis)
God het dit beloof (reeds aan Abraham in Gen 15), Hy het dit bevestig met die verbond (Gen 15 ens.) en natuurlik het Hy dit volvoer - met die daad van die Uittog self.
Die hele Nuwe Testament is ook vol bewyse hiervan...
God beloof die verlossing en bevestig dit met 'n eed. (Heb 6:17) Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met 'n eed gewaarborg;
Hy bewerk die verlossing (wedergeboorte) eur die pstanding van Jesus. (1 Petr 1:3)
Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, (1 Petrus 1:3)
Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie,
Rom 4:24 maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, "
En dis ook duidelik uit
(Rom 4:25) (Jesus)...wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking." Dis tog iets wat God gedoen het of hoe?
Op dit als kan ons maar net uit dankbaarheid reageer deur geloof en bekering soos reeds duidelik gestel in die stuk hierbo.
Alle eer kom Hom toe, want HY en HY alleen is waarlik die Verlosser... en ook myne!
Vriendelike groete
Johannes