BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 19 Desember 2014

KERSFEES SAAM MET SAGGEUS

- nie bo in jou vyeboom nie, maar met ‘n nuwe hart.



Hoe moet ’n mens Kersfees vier? Mag ons dit hoegenaamd vier? (Ons weet mos van al die probleme rondom hierdie dag…. Kliek op KERSKOUS) Wel, ons het ’n pragtige voorbeeld van iemand wat “Kersfees” gevier het. Saggeus het "Kersfees" gevier op die regte manier. Ek bedoel hy het die werklike betekenis van die koms van Jesus verstaan en prakties beleef en dis tog juis waaroor Kersfees veronderstel is om te gaan. Anders gestel, Saggeus het die volle impak van die Kersboodskap ondervind!

In Saggeus se lewe het die boodskap van die engele sigbaar in vervulling gegaan. (Ons lees van Saggeus in Lukas 19:1-10) Die Goeie Nuus soos aangekondig deur die engele in Lukas 2, die Kersfees evangelie het grondgevat en ’n verskil gemaak in hierdie skelm man se lewe. Hy het dus werklik Kersfees gevier. 

Drie belangrike elemente van die engelboodskap aan die herders tydens Jesus se geboorte het proefondervindelik deel van sy lewe geword! Koms ons verfris weer ons geheue: “Toe sê die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (Lukas 2:10,11) 

Die volgende elemente word treffend waar deur Saggeus ervaar:

~“groot blydskap” - Ons lees van Saggeus se reaksie nadat Jesus hom geroep het – “Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.” (Lukas19:6) Saggeus die sondaar, het Jesus met blydskap ontvang. ’n Ware ontmoeting met Jesus bring blydskap. Hoekom? Jesus skenk vergifnis en vryspraak wat die vrede tussen God en die sondaar herstel. Kan daar iets meer vreugdevols wees? (vergelyk Romeine 5:1-5) 

~ “hele volk,” Ja, die boodskap van Jesus se koms was bedoel vir die hele volk. Ook die heel slegtes soos Saggeus! Sy gierigheid en korrupsie was ‘n openlike geheim. “En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by 'n sondige man tuisgegaan.” (Lukas 19:7) Saggeus was ’n sondige man in die volle sin van die woord. Dis nou juis so merkwaardig en baie insiggewend - Jesus gaan tuis nie by een van die godsdienstige leiers nie, maar by die slegste man in die dorp! (Stel jou voor in vandag se tyd...Jesus besoek jou dorp of stad en slaan al die belangrikes en vernames oor en verkies om te gaan oorbly by die persoon met die slegste naam en reputasie vir korrupsie...) Die evangelie is genoegsaam en kragtig genoeg vir die heel slegste mens op aarde. Dis bedoel vir die hele volk. Niemand sal dus die Ewige Lewe misloop a.g.v. te groot of te veel sonde nie! Nee, mense gaan die hemel mis omdat hulle nie na Jesus wou kom nie. (Nie uit hulle “boom” wil klim nie)

~ “Verlosser” Die ontmoeting met Saggeus illustreer baie duidelik dat Jesus ’n Verlosser en Bevryder van sondaars is. Jesus het een groot doel – om verlore sondaars te red van sonde, Satan en hel!

(so dit wat deur Lukas in die begin van die evangelie beskryf word nou hier ’n praktiese werklikheid)

JESUS, DIE VERLOSSER!

Jesus self maak die verskil in Saggeus se lewe! Jesus self gryp in. Saggeus kan “Kersfees” vier, want hy het Jesus ontmoet. Ek het dit net weer baie sterk besef - Christenskap is nie vashou aan ’n sisteem nie, nie nakoming van rituele nie, maar ’n lewende en blywende ontmoeting met ’n Persoon, Jesus Christus!

Hoe het dit gebeur dat Saggeus Jesus ontmoet het en ’n ware Kersfees beleef het?

~ Jesus neem die inisiatief en roep hom. Saggeus sit anoniem in ’n boom, bekyk alles vanaf ’n afstand, maar Jesus gaan staan en roep hom by die naam. Hy roep vandag nog mense deur die verkondiging van die evangelie. Dis eintlik die hooffokus en tema van die hierdie verhaal. “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” (10!) Jesus self is die een wat soek en red. Hy soek verlorenes. Jesus self maak die verskil - ons redding lê nie in ’n klomp dinge wat ons weet of doen nie, maar in ’n Persoon!

~ Saggeus neem ’n definitiewe besluit en ontvang vir Jesus. (6) Ons kan nie wegkom van hierdie waarheid nie - die evangelie eis ’n besliste keuse. Ons moet Jesus bewustelik aanneem. (Johannes 1:12) Het jy al met jou hart en mond die keuse gemaak? Dis innerlik en uiterlik. “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Romeine 10:9,10)

~ Saggeus se ontmoeting bring hom tot ’n nuwe insig oor sonde en ’n nuwe lewensuitkyk. “Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” (8) Die najaging van goed was sy groot passie en hy was bereid om op ander mense te trap om dit te bereik. Nou het hy ’n hele nuwe houding teenoor geld. Hy gaan ‘n klomp weg gee.  As mens Jesus ontdek kry jy ook ’n ander siening oor sonde. Jy is bereid om reg te maak waar jy verkeerd gedoen het. Het jy al Jesus ontmoet? Toets jouself - jy sal nie meer in gemak met sonde kan voortleef nie!

~ Saggeus hoor die versekering dat hy nou ook gered is. “Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook 'n seun van Abraham is.” (9) Hy is nou eers werklik ’n kind van Abram – hy was fisies uit Abram se nageslag - hy was in die verbond, maar nou eers word sy redding ’n persoonlike werklikheid...

Weereens - Hoe moet mens Kersfees vier? (Die detail sal verskil van kultuur en gewoontes en omstandighede.) Dis eintlik nie so ‘n belangrike vraag nie, belangriker is WIE kan? As jy Jesus se roepstem gehoor het, as jy daarop “Ja” gesê het, as Hy jou verander en gered het, dan verstaan jy waaroor Kersfees gaan. Dan gee die feit dat Jesus gekom het om verlorenes te soek en te red vir jou rede om elke dag fees te vier. Kersfees, as fees vir ‘n Lewende Verlosser is eintlik ‘n lewenslange fees van dankbaarheid en blydskap vir sondaars wat vergifnis ontvang het soos Saggeus. (of 25 Desember vir jou spesiaal is al dan nie)


Jesus se koms het hoop gebring vir die mees hopelose sondewrak...

[Hiermee roep ek wat Woord-Skatte betref nou eers halt vir 2014. Mag die Here jou in hierdie feestyd verkwik... As dit Sy wil is praat ons weer volgende jaar.]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.