BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 20 Junie 2016

DIS NOU DIE LEWE!

Die kind van God is in ‘n wen-wen situasie.

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.”

Hierdie is ‘n radikale uitspraak in Filippense 1:21 wat die kern en hart van egte Christenskap vir ons ontsluit en verduidelik. Dis ook seker die duidelikste toets van waar elkeen van ons regtig staan met betrekking tot die Verlosser Jesus Christus. (Dit wys my sommer wat gaan regtig in my hart aan?) Natuurlik val hierdie uitspraak van Paulus nie uit die lug nie. Paulus sit in die tronk en hy is nie seker dat hy lewend gaan uitkom nie. Juis daarom is dit so merkwaardig dat hierdie hele brief aan die Filippense oorheersend die tema van blydskap onderstreep. Paulus sê in effek dit maak nie regtig saak wat met hom gebeur nie, as hy bly lewe is dit goed, want dan kan hy nog vrugbare arbeid verrig, maar as hy sterwe is dit eintlik vir hom die beste, want dan is hy by Jesus. Hy bevind homself eintlik in ‘n wen-wen situasie, maak nie saak wat gebeur nie, lewe of dood, hy wen, want alles draai vir hom om Jesus Christus. 

Hoe raak dit my en jou as Paulus sê : “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Beslis, gaan dit nie net oor Paulus nie, dit gaan oor elkeen van ons. “Ja, maar ek is nie Paulus nie hoor, Paulus was darem ‘n apostel.”, hoor ek. Vriend, ons glo nie in die Roomse onderskeiding van geestelikes en leke nie, ons glo nie in super Christene en gewones nie. Daar is net twee soorte mense : Christene en nie-Christene. (Daar is wel in die liggaam van Christus ‘n verskeidenheid gawes en ampte.) Paulus se woorde behoort dus die eerlike belydenisverklaring van elke kind van God te wees.

In die woorde van Paulus vind ons juis die duidelikste onderskeiding tussen die Christen en die wêreldling – net die wedergeborene kan sê dat die lewe vir hom/haar Christus is! Ander (minder of meer godsdienstige) mense kan wel sê dat hulle soms tot Jesus bid, dat hulle van Jesus hou of van die kerk hou of graag soos Jesus wil lewe, maar hulle kan nie eerlik verklaar vir my IS die lewe Christus nie!

VERSKEIE SIENINGS OOR DIE LEWE

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Waarom draai die lewe vir jou? Wat IS lewe vir jou? Nou baie mense dink natuurlik nooit oor hierdie saak nie, hulle bestaan maar net van dag tot dag soos ‘n hond bestaan, eet sy kos, blaf as hy moet, kry kleintjies... en op ‘n dag is hy nie meer daar nie. 

Maar jy wat dink jy oor die lewe, waaroor gaan dit vir jou? 

Daar is natuurlik verskeie sienings : 

Hedonisme. Dit beteken prakties, ek melk die lewe vir elke krieseltjie plesier. Net een ding tel - hoeveel lekker dinge kan ek doen of ervaar. My maatstaf vir als is of dit my pret en plesier kan verskaf.

Vasbyter, sterkman siening. (stoïsyns) Ek moet die lewe maar vat soos hy kom, die lewe is iets om te verduur. Dis die “Cowboys don’t cry, ek sal nie huil nie korporaal” houding. Als draai om my eie oorlewing en belang. Ek het niks of niemand nodig nie.

Humanistiese beskouing. Ek moet net soveel as moontlik probeer goed doen aan ander mense. Wees net ‘n goeie mens, doen maar net altyd die regte ding. Daar is nie ‘n hemel of hel nie, dis als hier op aarde. Doen maar goed solank jy kan, want eendag is jy nie meer daar nie. 

Mistisisme. ‘n Passiewe houding van dood wees vir die wêreld se pyne en vreugdes, ‘n ontsnapping in ‘n mistieke sfeer. Vir sommige beteken dit ‘n kontak maak met jou dieper self.

Die gemiddelde, algemene materialistiese siening. Ag, ek dink nie veel oor die lewe nie, maar ek lewe maar vir my vrou en kinders, vir my werk en al die aktiwiteite waarmee ek besig is. Vir baie is dit hulle aftreeplanne! Toets jouself : Die dinge wat maar gedurig in my agterkop draai, dis maar die dinge waaruit my lewe bestaan en waarvoor ek regtig leef... My lewe bestaan uit en vir mense en dinge wat ek kan sien en tel. As hierdie dinge van my weggevat word is daar niks om voor te lewe en niks om na uit te sien nie. 

Soms kom die Here in sy groot genade en vat van hierdie “kosbare dinge” weg sodat ons die leegheid van ons lewe kan besef en Hom as sin en vreugde van die lewe kan soek!

Godsdienstige siening. (Dit lyk baie soos Christenskap, maar dit is nie.) Ek lewe vir my Christelike aktiwiteite en projekte wat ek aanpak. Die dinge wat ek DOEN vir die kerk gee sin aan my bestaan. Dit laat my nuttig voel. Ek geniet dit om besig te wees met “die dinge van die Here” Dis nie wat Paulus hier bedoel nie. As hy sy sin gevind het in sy avontuurlike sendingreise sou hy op hierdie stadium in depressie verval het, want hy kon nie nou reis nie, hy is gevange tussen die mure van die tronk. Vir Paulus het die lewe oor iets (Iemand) meer gegaan as sendingwerk, dit het gegaan oor Jesus self!

Wat bedoel Paulus met lewe en dat die lewe vir hom Christus is? Lewe is dit wat die belangrikste is vir my, dit wat sin en doel gee aan my bestaan as mens. Dis wat my laat “tiek”! Anders gestel dit is dit waarsonder die lewe geen betekenis sou hê nie. Dis dit wat my lewe oorheers, dit waarom my lewe draai. My GROOT LIEFDE! Sien Paulus daar sit in die tronk en dink... “Terwyl ek hier sit, vasgekeer, waaroor gaan my lewe, waarin kan ek vreugde vind, wat maak als sinvol? Ja, Jesus Christus maak die verskil, solank ek Hom kan liefhê, kan ek bly wees, ook terwyl ek agter tralies is. Die tronkkos en harde slaapplek kan niks aan sy liefde vir my verander nie. En as ek hier uitkom, het ek ook geen ander begeerte as om Christus beter te leer ken nie. Die kwaliteit van my lewe hang nie af van my omstandighede of my geleenthede om iets te doen nie, Jesus self gee kwaliteit aan my lewe en Hy verander nie. My blydskap is nie gebou op omstandighede nie, my blydskap is gebou op Jesus wat my so liefgehad het en sy lewe vir my gegee het. (Vgl. Gal 2:20ev) Die waarde van my lewe is nie afhanklik van wat ek besit of wat ek bereik nie, maar van Jesus en wie Hy is en wat Hy vir my reeds gedoen het.” Paulus se lewensideaal is Christus Jesus self. Hy vat dit pragtig saam in 3:10 as sy groot wens : “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,”

Hoe het dit gebeur dat Jesus self Paulus se kosbaarste bate en die sin van sy bestaan geword het? Paulus het eers op ander bates staatgemaak en ander ideale gehad. Hy het op ander dinge en prestasies geleun om God te probeer beïndruk... Dit was inherent goeie dinge soos sy Joodse afkoms, sy suiwer ywerige godsdiens, sy hoë morele waardes.... Maar toe word hy op pad na Damaskus gegryp deur Jesus en hy besef al hierdie dinge is waardeloos om hom van sy sonde vry te spreek. Hy beskryf dit treffend in Fil. 3:3-9 soos volg : 

“As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo."

JESUS SE WAARDE IS ALLESOORTREFFEND!

Paulus moes tot die besef kom dat geen menslike bates hom kan red en voor God regverdig stel nie, net Jesus. So het Paulus die allesoortreffende waarde van Jesus besef en daarom het hy tot ‘n heel nuwe waardasie van die sin van die lewe gekom.

Jesus is my lewe sê Paulus. In Hom is daar vryspraak, vreugde, vrede. Hyself is genoegsaam vir al my behoeftes. Hy skenk my ‘n diepe tevredenheid in alle omstandighede.* As dit goed gaan en ek het oorvloed, as dit sleg gaan en ek gebrek ly. As vry is en kan rondbeweeg en ook as ek in die tronk sit agter tralies. Hy gee my krag om goed en sleg te hanteer. (Fil 4:13) Jesus is my doelwit, my skat, my onuitputlike bron, my alles! En ja, selfs as ek moet sterwe, ook dan kan ek nie skade ly of verloor nie, dan wen ek ook, dan is dit wins, want dan is ek by HOM! 

*Doen jouself ‘n guns en lees weer ten minste die hele Filippense hoofstuk 4.


Christuskirche - Windhoek

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.