BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 27 Januarie 2012

GODDELIKE OORWINNING OP MUGABE SE BERG

“Waarom maak jou God jou siek?” Kaptein Mugabe (dis nou nie die Robert van vandag nie) het hierdie vraag aan die ernstige siek sendeling, ds. A.A. Louw gevra. Wat ’n ongemaklike vraag, veral as ’n heiden van jou hierop ’n antwoord verwag! Kom ons gaan haal die storie by sy begin.

Andries Adriaan (Andrew) Louw was ’n afstammeling uit die bekende Murray familie en gaan in 1883 na Stellenbosch om vir predikant te studeer. In sy derde jaar moes hy egter die verpletterende nuus verneem dat sy linkerlong aangetas is en dat hy nie nog ’n winter in die nat Boland sou kon deurbring nie. Hy moes maar sy boeke bêre en het op die plaas “Eenzaamheid” in die distrik Colesberg in die Karoo gaan werk. Later koop hy ’n buurplaas, “Achtertang” en begin met skape boer. Sy begeerte om in die sendingveld vir die Here te gaan werk, het egter nie verdwyn nie. Later sou hyself verklaar : “Achtertang het vir my ’n kweekskool vir die sendingveld geword.” Op ’n keer hoor hy ’n preek van ds. Helm wat die sendingsaak in Banjailand (tans deel van Zimbabwe) bepleit. Die teks van sy prediking was Jesaja 59:16 : “En Hy het gesien dat daar niemand was nie, en Hom verbaas dat niemand tussenbeide tree nie.” Vir Andrew word dit onder die preek duidelik dat hy homself moet beskikbaar stel vir die Here se werk in die noorde.

Sy vader, soos mens kan verstaan, was nie baie positief oor hierdie voorneme nie. “Ek kan nie glo dat die Here sal wil dat jy op koste van die kerk na die geweste moet gaan om daar na ’n kort verblyf te sterf en begrawe te word nie”, was sy kommentaar. Andrew gaan toe vir ’n doktersondersoek na Stellenbosch. Die uitslag? Hy was gesond! Dit in ’n tyd toe tering as ongeneeslik beskou is. Hy slaag die eksamen vir godsdiensonderwyser en word dus aanvanklik in hierdie hoedanigheid uitgestuur.

Na ’n baie lang reis van vier maande het Andrew Louw op 9 September 1891 sy tent opgeslaan op die berg van Mugabe, naby die Zimbabwe ruïnes, waar die sendingstasie Morgenster sou verrys. Maar nou bevind Andrew hom weereens in ’n gesondheidskrisis as die malaria hom beetpak. Die vraag kom by hom op : “Het die Here my so ver laat kom om hier te sterwe?” Terwyl hy so hulpeloos in sy tentjie lê, ontvang hy besoek van kaptein Mugabe wat hom vra : “Waarom maak jou God jou siek? Laat ons die toordokter raadpleeg om uit te vind waarmee ons Hom tevrede kan stel. As Hy beeste eis, sal ek help betaal.” Wat ’n stryd moes hierdie woorde nie in die jong sendeling se gemoed ontketen het nie! God se eer was op die spel. Hy kon maar net bid en die Here het Hom inderdaad verhoor sodat hy kon getuig : “nie lank daarna nie het Mugabe my gesond aangetref. Die Here het my sonder ’n offer van beeste opgerig.”

Dis ’n wonderlike voorbeeld van Goddelike genesing tot God se eer!


Ook in ’n ander opsig sou Andrew, God se sorg beleef. Hy was reeds 29 jaar oud en sonder vooruitsig vir ’n lewensmaat daar in die verre eensaamheid. Dit is ook ’n saak wat hy voor die Here bring en God voorsien op ’n wonderlike wyse in die persoon van Cinie Malan van Riebeeck-Wes. (Suster van die latere Eerste Minister, dr. D.F. Malan) Sy pas wonderlik in by die bediening en lewer ’n groot bydra onder andere op taalkundige gebied.

Ds. A.A. Louw het uiteindelik die baanbreker sendeling in hierdie gebied geword. Op 16 September 1896, vyf jaar na die aanvang van die werk, kon die eerste bekeerlinge gedoop word. Andrew wy sy hele lewe lank aan die taak van die verkondiging van die evangelie. Dis merkwaardig dat hierdie sieklike sendeling so deur God begenadig word dat hy op die baie ryp ouderdom van 94 jaar op Morgenstersendingstasie sterf! Hy het diep spore getrap. Baie Engelssprekendes in die land het van hom as “Saint Andrew” gepraat en een van die Vakaranga se byname vir hom was “Mudavanhu” (die een wat mense liefhet)

Andrew Louw se lewe is ’n getuienis hoe dat God sy kinders soms deur diep teleurstellings en vertragings lei om Sy heerlike doelwitte te bereik! Mag dit elkeen van God se kinders wat nou deur ’n tydperk van teleurstelling en swaarkry gaan, bemoedig!

(Bron : J.M. Cronje, AAN GOD DIE DANK)




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.