- Jy word dalk voorberei om ander te troos!
Troos en bemoediging is dit wat ons elkeen nodig het. Om die eenvoudige rede dat ons stukkende mense is wat in ‘n stukkende wêreld leef. Ons aardse bestaan word gekenmerk en aangetas deur sonde, swaarkry, siekte en ons is ook almal onderworpe aan sterflikheid. Ons het reeds uit Jesaja gesien, die enigste ware troos is dit wat God ons gee deur Jesus Christus. (Kliek op TROOSBOEK) Nou gaan ons ‘n stappie verder : Hoe kan ons ander met hierdie evangeliese troos bemoedig en vertroos?
Paulus praat aangrypend en ook baie prakties hieroor in 2 Korintiërs 1:3-11. Terloops Jesaja se gedeelte oor die Goddelike troos is heel waarskynlik in sy agterkop as hy hier skryf.
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,...” (2 Korintiërs 1:3,4 NAB)
“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.” (2 Korintiërs 1:3,4 OAV)
Die konteks waarin Paulus van hierdie troos praat is baie interessant . Die 2 Korintiërs brief is eintlik ‘n taamlik kwaai brief vol baie ernstige waarskuwings. Tog is dit Paulus se diepste begeerte dat die troos van God wat hyself self van God ontvang het die gemeentelede sal bemoedig in hulle stryd en omstandighede. Hierdie gedeelte is vir elkeen wat Jesus ken ‘n kragtige aansporing en uitdaging om betrokke te raak by die vertroosting van medegelowiges!
Hoe lyk vertroosters of bemoedigers wat Goddelike troos aan ander moet bring?
Ware vertroosters het self troos gevind by God. (3,4) Goddelike troos is vir Paulus nie maar net ‘n stuk mooi teorie nie. Hy het dit persoonlik, proefondervindelik beleef en nou kan hy ander troos. Voor jy ander wil troos, toets eers jou eie fondasies! Is jy al getroos deur die evangelie? Anders gestel -Is Jesus self jou fondasie en hoop? Ondervind jy vertroosting vanuit die feite van sy kruis en opstanding, sy naderende wederkoms en sy daaglikse teenwoordigheid deur die Heilige Gees?
Ware vertroosters wag en hoop geduldig op God se tyd saam met diegene vir wie hulle bemoedig. “Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.” (10) Ook Jesaja het dit duidelik gemaak dat God self iets nuuts gaan doen, Hy gaan uitkoms bring. Hy doen dit op sy tyd wat die beste tyd is.
Ons durf nie goedkoop troos of onrealistiese raad te gee nie.
Ons sê nie vir mense, “ag, dis nie so erg nie” (want dit is erg), “die tyd sal als genees nie” (want dit gebeur nie altyd nie). Ons smokkel nie met mense se koppe dat “alles beter gaan word nie” (want dit gebeur nie altyd nie) Maar wat sê ons dan wel? Dat God ‘n nuwe begin gemaak het deur Jesus Christus. Dat Hy in Jesus ons skuld weggevat het deur sy kruisdood en opstanding en dat ons weet daar gaan ‘n nuwe hemel en aarde kom waar daar nie meer onreg, sonde en dood sal wees nie! In die tussentyd moet ons geduldig wag totdat Hy self ‘n antwoord sal gee op die dringende en dikwels onuitgesproke vrae in ons harte van : “Hoe lank nog Here?, Wanneer gaan daar 'n einde kom aan my smart?, Wanneer gaan reg en geregtigheid geskied?” (soos die martelare in Openbaring) Ja, ons weet dat dit God dikwels behaag om nou reeds hier op aarde wonderlike uitkomste en uitredding te gee, soos Hy wil en goed dink. Ons wag saam met ons lydende broers en susters geduldig daarop. Maar ons weet dat die groot finale troos eers by die wederkoms sal aanbreek en ons herinner mekaar daaraan om geduldig te volhard tot op daardie tyd. Ons wat troos en bemoediging bring word self beproef net soos die mense vir wie ons bemoedig. Ons moet dus langs ons broers en susters gaan sit en geduldig saam die lyding wat oor ons kom verduur terwyl ons mekaar herinner aan God se beloftes. Dis die beloftes van God vir wie niks onmoontlik is nie. Dit gaan oor vertroue op God wat selfs die dooies opwek! “Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.”(9) Dit bring mens by die volgende kenmerk van ‘n trooster.
Ware vertroosters vertroos mense uit die Woord van God. Onthou wat ons in Jesaja gehoor het - “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” (Jesaja 40:8) In ‘n stukkende en vals en gedurig veranderende wêreld is die enigste vastigheid, God se onfeilbare Woord, sy onbreekbare beloftes! Hier is net ‘n woord van waarskuwing nodig.
Pasop om te vinnig na ‘n regklinkende teks te gryp en vir ‘n stukkende mens te vertel: “Hier is jou antwoord!”
‘n Te vinnige pleistertjie. Dit gaan nie hieroor dat ons net ‘n lys van tekste ken vir elke situasie wat mag opduik nie. Dit gaan eerder daaroor dat ons denke en begrip oor ‘n lang tyd gevorm is deur voortdurende omgang met die Woord sodat ons met nederige insig en sagmoedige wysheid goeie raad kan gee. Vertroosting vanuit die hele Bybelse geskiedenis en God se plan met ‘n gebroke wêreld.
Ware vertroosters vertroos andere as mense wat self weerloos en gewond is. Paulus is baie eerlik hier oor sy eie lyding en hoe dit hom tot wanhoop gedryf het. “Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is.” (8,9) Die bekende Anglikaanse teoloog NT Wright* sê dit wat Paulus hier beskryf is in ons taal “a nervous breakdown” ‘n Senu-ineenstorting! Paulus erken dat die swaarkry vir hom heeltemal te veel geword het. Hy ontbloot homself eintlik hier voor die lesers. Die een wat troos is self een wat swak is. Hy sluit hier op ‘n dieper manier aan by die boodskap van Jesaja 40-55. Die kern van daardie profesie is die Lydende Kneg van God, Jesus wat namens ons gely het. Hy het swak en broos geword ter wille van ons. Jesus het heeltemal een geword met die stukkende en skuldige mens. Dit het daarop neergekom dat Jesus Homself ten volle in ons as sondaars se plek geplaas het, Hy het Homself met ons geïdentifiseer. Dink net : Hy gaan staan in die ry van sondaars om deur Johannes gedoop te word... Hy het ons sonde en daarom ook ons pyn en ons lyding op Homself geneem. As ons ware troos aan ander wil bring sal ons iets van hierdie gesindheid van Jesus moet betoon. Ons moet nie net raad gee vanaf ‘n veilige afstand nie, maar langs die gewonde persoon as mede gewonde gaan sit en saam huil as stukkende mense! En, baie mooi te luister! En onthou dis nie net ons wat ander help nie, ander help ons ook. “Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid.” (10,11) Gebed speel ‘n sleutelrol!
Om saam te vat : Troos en bemoediging gebeur saam daar waar mense wat self Goddelike troos ondervind het, eerlik met mekaar is oor ons gebrokenheid, waar ons op grond van die beloftes van God se Woord mekaar aanmoedig om volhardend te op Hom vertrou en waar ons vir mekaar bid!
Ontvang God se troos en gaan deel dit uit! Skep moed uit die feit dat Hy die swaarkry en lyding wat jy tans ondervind gebruik as voorbereiding vir jou taak as trooster!
*Ek gee graag erkenning aan die teoloog NT Wright vir die gedagtes en insigte in hierdie stuk. Kliek HIER vir sy volledige preek.
*Ek gee graag erkenning aan die teoloog NT Wright vir die gedagtes en insigte in hierdie stuk. Kliek HIER vir sy volledige preek.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.