[ Die sprankelende en egte blydskap van hierdie KOPTIESE CHRISTENE in Egipte het my diep getref. Waarom is ons wat sê dat ons God se kinders is, so dikwels sonder blydskap? Wat mis ons?]
Kom ons kry net eers duidelikheid vir onsself : Dit is God se bedoeling dat sy kinders bly moet wees. Vol vreugde! Regtig? Is dit God se wil en plan vir ons reeds hier op aarde dat ons altyd bly moet wees? Is dit realisties moontlik? Hoe lyk hierdie blydskap? Wat bevorder hierdie blydskap? Wat bedreig dit?
Blydskap en Christenskap, vreugde en verlossing gaan saam.
Kom ons kyk na ‘n paar redes waarom ons so kan sê:
Die Vader van die verlostes wil hê dat sy verloste kinders bly moet wees. Dis tog net logies dat ‘n pa wil hê dat sy kinders bly moet wees! Gelukkige kinders! Sou daar enige rede wees waarom God ongelukkige kinders sou wou hê? Hy wat dan ‘n volmaakte Vader is? So weet maar dat wat jy ook al beleef, God in beginsel wil hê dat sy kinders ware vreugde sal beleef.
Die aard van ons verlossing behoort blydskap by ons te wek. As jy die verlossing deur Jesus ontvang het is jy mos verlos van sonde, Satan, dood en hel. Jy was verlore, maar is gevind, jy was skuldig, maar is nou vry verklaar, jy was ‘n slaaf, maar is nou ‘n kind, jy was in die duisternis, maar nou sien jy die lig.... Dink tog net, as iemand uit ‘n dodesel vrygelaat word, as gyselaars bevry word... wat is die eerste mees spontane en natuurlike reaksie? Blydskap. Wat anders? In Handelinge 8:39 lees ons hoe die pas bekeerde Etiopiese amptenaar sy weg met blydskap voortgesit het.
Die einddoel van ons verlossing moet ons bly maak. Die verlostes kan uitsien na ‘n vaste ewige erfenis. Ons het nou ‘n verwagting en ‘n vaste hoop wat ander mense nie het nie. Dis tog ‘n spontane natuurlike reaksie... as jy hoor jy het ‘n prys gewen, as jy ‘n brief kry wat jou inlig dat jy onverwags ‘n plaas geërf het word jy bly! Petrus verwys na hierdie beginsel in 1 Petrus 1:8,9. “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”
Die opdrag aan die verlostes is duidelik. “Wees altyddeur bly.” (1 Tessalonisense 5:16) Nie net hier nie, maar veral ook in die Filippense brief word dit herhaaldelik gestel : Fil. 3:1, 4:4 “Verbly julle in die Here...” God sal nie aan ons ‘n opdrag gee as dit nie realisties is of as Hy dit nie bedoel nie.
Die Gees wat die verlostes ontvang is die Heilige Gees en Hy gee blydskap. Anders gestel, blydskap is een van die vrugte van die Gees. Die Heilige Gees bewerk blydskap in diegene in wie Hy woon! “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” Romeine 14:17,18 Paulus sê dit in die konteks van mense wat wou stry oor watter kos Christene mag en eet en watter dae hulle as spesiaal moet beskou. Nou sê hy, moenie verstrengel raak in randsake nie, fokus op die basiese beginsels van die Koninkryk, naamlik geregtigheid, vrede en blydskap. Blydskap is ‘n fundamentele saak!
Ons Christenwees van begin tot einde, in totaliteit word gekenmerk en omring deur blydskap en dit veroorsaak blydskap. So is daar groot blydskap by die engele as ‘n sondaar hom bekeer. “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor ‘n sondaar wat hom bekeer.” (Lukas 15:10) Die laaste woord wat ons sal hoor voor ons ingaan na ons nuwe tuiste sal “vreugde” wees! “Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’” (Mat 25:21)
God ons Vader is bly oor ons* en wil dat ons bly moet wees tot in alle ewigheid. Blywende blydskap is ‘n onmisbare bestanddeel van basiese Christenskap.
Sekere misverstande moet ons uit die weg ruim. BLYWENDE BYBELSE BLYDSKAP...
- beteken nie dat ons nooit huil en treur nie. Kinders van God word immers opgeroep om te treur oor ons sonde. (Jakobus 4) Maar juis dit bewerk groter besef van vergifnis en daarom groter blydskap!
- beteken nie dat ons nie beproewings en hartseer en moeilike tye beleef nie. Juis daarom is ons blydskap iets anders as gewone blydskap dis ‘n blydskap ten spyte van en te midde van slegte omstandighede
- beteken nie dat ons 24 uur 7 dae ‘n week ‘n tandepaste glimlag vertoon nie, ons blydskap gaan dieper as dit, dis ‘n blydskap ook as ons treur en swaarkry. Ook onder trane is ons bly. Eers eendag by die wederkoms sal die trane finaal van ons oë afgevee word.
- beteken nie dieselfde as ‘n oppervlakkige drankgedrewe wêreldse karnaval vrolikheid nie. Ons blydskap is fundamenteel anders en ons bly weg van hierdie soort valse blydskap wat die wêreldling na smag. So bid die psalmis : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4)
Is jy ‘n gelukkige kind van God vol blydskap? Hoekom is dit nie altyd so nie? Het jy hierdie blydskap gehad, maar dit verloor? Wat verhinder of steel ons blydskap? Dis tog duidelik dat God wil hê dat ons moet bly wees. Ons verlossing is nie iets om te verduur nie, maar om te vier! Ons gaan in die res van die reeks kyk na faktore wat die blydskap van God se kinders belemmer en hoe dit reggestel kan word.
*Sefanja 3:17
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.