BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 03 Maart 2016

El Nino se Moses - DOOD EN DROOGTE OMGEKEER

deur die stygende stroom van lewende water! 

Die profeet Esegiël het ‘n verbysterend heerlike visioen gesien wat my en jou persoonlik raak... juis vir jou wat 'n "El Nino" droogte beleef. Ons lees dit in Esegiël 47:1-12.*



Voor ons kyk na die visioen van Esegiël moet ons net eers twee dinge weet :


Eerstens. Esegiël kry hierdie boodskap in ‘n donker tyd, ‘n tyd van wanhoop en mismoedigheid toe hy saam met die bannelinge in Babilonië was, ver weg van hulle land. ‘n Tyd van onsekerheid, verval en gebrek aan leierskap. Eintlik maar ‘n uitsiglose onvrugbare doodsbestaan.

Tweedens. Om die hierdie beeld te verstaan en te waardeer moet mens darem net so ‘n basiese kennis van die geografie van die land Israel hê. Jerusalem is die tempelstad. Aan die onderkant van die Jordaanrivier vind ons die lewelose Dooie See wat omring word deur ‘n dorre woestyn. Die Dooie See se water is so sout dat dit geen lewe kan onderhou nie.




"...Waar die stroom kom, sal alles lewe."  Esegiël 47:9

WATER! WATER! WATER!

Oor een ding stem almal in hierdie land van ons saam : Water is lewe! (Nou met die verskriklike gevolge van die El Nino verskynsel besef ons dit des te meer) Water is onmisbaar belangrik! Water maak ’n verskil aan die mees dorre stuk woestynaarde. Esegiël se visioen gaan oor ‘n waterstroom wat uit die tempel ontspring en al hoe sterker vloei en lewe bring. Hierdie stroom het dus 'n Goddelike oorsprong en maak die lewelose Dooie See vars sodat daar visse kan leef en orals langs die stroom kom daar ook oorvloedige lewe tot stand, vrugtebome wat standhoudend vrugte dra. Die moerasse en kuile wat nie aan die stroom verbind is nie sal sout en leweloos bly. 

Een prentjie is meer werd as ‘n duisend woorde... Hierdie beeld is ‘n kragtige beskrywing van God se verlossingswerk en genade wat lewe bring in dooie dor hopelose omstandighede. 

Moenie dit miskyk nie - Die lewegewende waterstroom van wondergenade het 'n Goddelike oorsprong, dis 'n Goddelike inisiatief, dis 'n Goddelike aksie... iets baie groter en heerliker as 'n mensgemaakte ontsoutingsaanleg of besproeiingsprojek!


Ons kry hier motiewe uit die paradysverhaal, maar ook herinner dit sterk aan Openbaring se beeld van die bome en vrugte en blare wat genesing bring vir die nasies. (Openbaring 22:2)

Esegiël se visioen is maar een van die baie gedeeltes in die Ou Testament wat water gebruik as simbool van die heerlike lewegewende Goddelike verlossing en nuwe lewe. Dink aan die water uit die rots, dink aan Jesaja 12:3 “En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” God se genadige verlossing is soos lewegewende water wat vernuwing en vrug in ‘n dorre soutwoestyn bring!

EN ONS?

Hoe kry ons hierdie lewe? Hoe word ons onvrugbare woestyn lewe van sonde en stukkendheid verander na oorvloed lewe vrugdra en vreugde?

Jesus gee vir ons die antwoord in Johannes 7:37-39**. Jesus het die Loofhuttefees bygewoon. Tydens hierdie fees was daar seremonies waar water en wyn uitgegiet is. In die Joodse denke is dit gekoppel aan God se voorsiening van water destyds met die trek deur die woestyn, maar ook toekomstig van toepassing op die messiaanse tyd. En daarom is dit so gepas dat Jesus, die ware Messias tydens die fees uitroep : “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!” Luister! Hoor dit, passievol, dringend! Kyk! Sien sy gesig met liefdevolle erns! Sien Hom opstaan. Hy praat nou ook met jou...Hierdie uitnodiging kom weer opnuut na my en jou! Jesus is die vervulling van alle oorvloed en seën waarvan die Loofhuttefees*** ‘n voorskou was. Jesus is die een wat die lewende water gee. Johannes het dit al reeds duidelik gemaak in Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou. Jesus gee oorvloed van lewende water. Hierdie oorvloedige stroom is die nuwe lewe wat die Heilige Gees binne die gelowige wek. Dis nie net ‘n beperkte bietjie water nie, dit is ‘n stroom wat nooit ophou nie, maar net groter word. Dit bring heerlike verandering. Dis inderdaad soos Esegiël dit uitgebeeld het.

Die sondaarlewe is ‘n woestynlewe! Dit bring net onvrugbaarheid, hartseer, verdriet en dood. 

Dis ‘n lewe van rusie en jaloesie, selfsug en stryd! Onmin en onvergenoegdheid. Dis vol skade en skande! Dis steriel. Dit lewer geen vrug om God te verheerlik of my medemens te seën nie. Dis ‘n doodsbestaan wat net een uiteinde het, naamlik die ewige dood in die hel. 

Hierdie onvrugbare doodsbestaan kan net omgekeer word deur die lewende water wat Jesus gee.

Hoe kry ek die Lewende water? Aanvaar die uitnodiging! Kom na Hom, stel jou vertroue in Hom, stort jou hart uit voor Hom, glo in Hom! Dis duidelik Jesus skryf nie enige ritueel of ervaring voor as voorwaarde vir hierdie vars lewe van die Gees nie, behalwe maar net geloof in Hom!



Hy nooi almal wat dors het. Dis almal wat hulle nood besef, dis almal wat raadop en moedeloos is met hierdie onvrugbare woestynbestaan. Dis almal wat so vol sondesout is dat jy onsmaaklik geword het! Dis almal wat al agtergekom het dat alkohol en jol nooit jou dors kan les nie... Hy nooi jou!

Is jy al aangeraak deur die Goddelike stroom van lewende water? Dra jou lewe vrug of is dit als net dorre woestyn? Die uitnodiging van Jesus is baie duidelik... Moenie wag nie!


* Esegiël 47:1-12  Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby.
Die man vat my toe by die noordpoort uit en om na die buitenste oospoort toe. Daar syfer die water toe regs langs die poort uit.
Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep.
Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit was kniediep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit het tot by my heupe gekom.
Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water ‘n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat ‘n mens sou moes swem; dit was ‘n stroom waar ‘n mens nie deur kon loop nie.
Die man sê toe vir my: "Sien jy dit, mens?" Hy laat my toe al langs die stroom terugstap.
Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal.
Die man het vir my gesê: "Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word.
Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe.
Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal ‘n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie.
Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly.
Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring."


**Johannes 7:37-39

En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! 

Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. 

En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

***Terloops, dis hoekom Christene nie meer die  Joodse Loofhuttefees hoef te vier nie. Die fees is volledig deur Jesus vervul!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.