BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 01 Junie 2014

MEER AS ALGEMENE GENADE IS NODIG

- reën, gesondheid en geluk is genadegawes van God, maar dit beteken nie noodwendig dat ek God se kind is nie!


Jesus doen ’n heerlike wonderwerk vir 10 melaatse manne, tog het net een tot geloof gekom en net een is gered! (Ons lees hiervan in Lukas 17:11-17) Net een van hierdie manne hoor die wonderlike uitspraak uit Jesus se mond... “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered." (19) Hierdie verhaal is nie bloot ’n mooi morele lessie om te wys ons moet altyd dankbaar wees nie. Dit gaan oor bekering, dit gaan oor egte geloof, dit gaan oor redding!

'n Opvallende kontras word sigbaar : Tien manne ontvang tydelike fisiese tydelike genesing, maar net een glo in Jesus en verkry ewige verlossing. Tien manne het nuwe liggame gekry, maar net een het ‘n hart ontvang – ‘n hart wat oorgeloop het van ware dankbaarheid tot God! Tien manne het ‘n aardse seën gekry, net een ‘n hemelse wat tot ewigheid sal voortduur

Ons kan dit ook so stel :

Tien manne beleef God se algemene genade (common grace), net een verkry reddende genade (saving grace)!

Daar is ‘n reuse verskil tussen dié twee manifesterings van God se genade:

Algemene genade is seëninge wat God aan alle mense gee soos Hy wil, beide gelowiges en ongelowiges. Dis seëninge wat nie te doen het met ewige verlossing nie. Dis God se goedheid wat ons beleef in die reën, gesondheid en ‘n lang lewe, voedsel, krag, kennis, ‘n algemene sin vir orde en ordentlikheid wat Hy aan mense skenk. Hierdie algemene genade van God sien ons die feit dat mense wat nie Christene is nie, dikwels ook gelukkige lewens kan lei, hulle kan ook goeie huwelike hê, hulle ontvang krag om ook sinvolle en goeie dinge op aarde te doen. [Dis juis op hierdie punt dat die Prosperity Gospel en die Word of Faith Movement onder andere dwaal. Gesondheid en geld is vir hulle tekens van God se besondere guns wat ek kan verseker deur sekere geestelike wette na te kom. God gee egter sulke dinge aan almal soos wat Hy wil uitdeel. Ons kan Hom nie daartoe dwing deur geloofstruuks nie!]

Reddende genade is die genade wat ons tot bekering en geloof bring, wat ons kinders van God maak, wat ons verlos van die hel en deel laat kry aan die ewige erfenis.

NET EEN MELAATSE KRY REDDENDE GENADE!

Hoe weet ons dat net een van die melaatses ‘n ontvanger van reddende genade geword? Wel, net een van die 10 manne wat fisiese genesing beleef het, het waarlik in Jesus as Verlosser geglo! Hoe weet ons dat hy geglo het? Die ander nege gaan gewoonweg aan met hulle lewens. ‘n Mens kan jou voorstel dat hulle seker baie belangrike dinge gehad het om te doen nadat hulle so ’n radikale genesing beleef het. Hulle sou weer familie opsoek, hulle lewe weer aan die gang kry, besighede weer opbou of werk soek. Net een man, en dit nogal ’n uitgeworpene, ’n Samaritaan los egter eers al sy eie planne, draai om en kom sê dankie. Dit lyk asof Markus die begrip “omdraai” nogal beklemtoon. (15,18)

Sy besluit om om te draai, wat niks anders is as bekering nie, wys dat hy waarlik nou geglo het in Jesus. Dis ‘n bewys dat die reddende genade van God in hom werksaam was. As ek God se reddende genade beleef, maak dit dat ek glo in Jesus en gevolglik omdraai van my ou pad en ‘n nuwe lewe van dankbaarheid tot God leef. Hierdie dankbaarheid sal prakties sigbaar word – ek sal volgens God se wil begin leef, ek sal ’n begeerte hê om die Here te aanbid in die erediens, ek sal God begin loof en prys!

Ongelukkig is baie van ons mense soos die nege melaatses tevrede met die algemene genade van God. Hulle dink die algemene genade van God is maar genoeg. Dis ‘n groot fout. Hulle kom nooit tot geloof en bekering nie, hulle lewens word nooit in dankbaarheid aan God toegewy nie.

Pasop vir verkeerde afleidings omdat jy die algemene genade van God beleef:

Moenie dink omdat jy ‘n lang en vol lewe gehad het, dat jy noodwendig ‘n kind van God is nie – Mugabe het ook ‘n lang lewe...

Moenie dink omdat jy geseënd is met baie rykdom dat dit noodwendig ‘n teken is van jou redding nie. Daar is baie oliesjeiks wat skatryk is en hulle is nie een ‘n Christen nie. Daar is ook baie Christene wat brandarm is...

Moenie dink omdat God jou wonderbaarlik genees het, beteken dit dat jy noodwendig ‘n verloste mens is nie.

Moenie dink omdat die Here jou lewe destyds op die grens gespaar het jy, dis noodwendig 'n teken dat jy sy kind is nie. Hy het immers baie van die vyande se lewens ook gespaar!

Moenie dink omdat God jou in antwoord op gebed uit ‘n krisis gehelp het, dat jy outomaties nou sy kind is nie. Koning Saul het ook gebedsverhoring gesmaak, maar het as verworpene ver van God gesterf...

Moenie omdat jy ‘n verbondsmens is die reddende genade as vanselfsprekend aanvaar nie. Dis so opvallend - hier het nege verbondsmense die ewige lewe misgeloop en ‘n Samaritaan het dit gekry!

Om ‘n algemene wonderwerk te beleef maak my nie noodwendig ‘n kind van God nie, ek het die wonderwerk van die wedergeboorte nodig. So ‘n wonderwerk word sigbaar in ware bekering, geloof en 'n lewe van vrug.

God se algemene genade is ‘n feit. Hoe raak dit ons? Wat sê dit vandag vir my?

Sien die algemene goedheid en genade van God in jou lewe raak. Besef dis God se goedheid wat maak dat jy vandag krag en gesondheid het. Dat jy kan werk en eet...


[ Goeie reëns en 'n rivier wat afkom is voorbeelde van God se algemene genade. Alle mense trek voordeel daaruit. Die Molopo loop...]

Alle goeie gawes kom van Hom. Dank Hom, ja, dank Hom met ware geloof en bekering!

Moenie tevrede wees net met God se algemene genade nie. Sy algemene genade moet jou juis laat besef dat Hy jou liefhet en vir jou die reddende genade deur Jesus wil skenk. Kom ontvang soos hierdie Samaritaan die reddende genade, deur om te draai van jou ou paaie en waarlik in Jesus as Verlosser te glo. AMEN

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.