- wat vertel die Woord van God ons oor herlewing en hoe het dit in die geskiedenis van die kerk werklikheid geword?
Is daar so iets soos herlewing en wat is egte herlewing (revival) dan? Die Amerikaners se gebruik van die term “revival” lei tot groot misverstand en verwarring. In die populêr algemene gebruik vandag verwys dit na ‘n vooraf beplande reeks spesiale evangelisasie byeenkomste. (Dit beteken natuurlik nie dat dit verkeerd is om ‘n spesiale uitreik te beplan nie, maar dis nie wat histories onder herlewing verstaan is nie.) Gepaardgaande met hierdie spesiale dienste is dikwels ook spesiale maatreëls en truuks om mense emosioneel te manipuleer sodat groter resultate verkry kan word.* Herlewing is ook nie noodwendig sinoniem met buitengewone tekens en wonders nie. Sulke dinge kan wel in sommige herlewings voorkom, maar daar is ook baie sulke verskynsels wat vals is en hoegenaamd nie ‘n bewys van ware herlewing behels nie. Herlewing is ook nie ‘n program om morele waardes te hervorm nie. (byv. Promise Keepers) Sulke aksies kan wel meriete hê, maar herlewing is iets baie meer en omvattend.
WAT IS HERLEWING DAN?
Kom ons begin by die Skrif. Reg aan die begin moet ons sê dat daar nie een netjiese definisie van ware herlewing bestaan nie. Die term herlewing as sodanig (soos ons dit gebruik) kom nie in die Bybel voor nie, maar die saak is baie beslis daar. Die beginsel dat God sy volk korporatief deur Sy teenwoordigheid en magtige werking herstel, laat herleef, verkwik of vernuwe is deurlopend in die Bybel aanwesig. Een so ‘n voorbeeld uit die Ou Testament is die bekende Psalm 85:5-7 : "Herstel ons, o God van ons heil, en maak tot niet u grimmigheid teen ons! Sal U vir ewig teen ons toornig wees, u toorn laat duur van geslag tot geslag? Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?" Die verlange na 'n magtige werk van God en die pleitroep tot God om in te gryp word so treffend in Jesaja 64:1,2 uitgedruk : “Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig --soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel--om u Naam aan u teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe.” Die versugting van die profeet Habakuk is tog seker ook ‘n geldige versugting in ons tyd? “Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn.” (Habakuk 3:2) Ja, dis sekerlik waar dat hierdie verwagtinge vanuit die Ou Testament, vervul is met die koms van Jesus en die uitstorting van die Gees. Maar ons weet dat die heerlike implikasies daarvan nie altyd as volle werklikheid in die kerk van die Here ervaar word nie. Dis waarna ons kan smag en verlang!
Het die Nuwe Testament iets oor herlewing te sê? Die boek Handelinge kom natuurlik dadelik in mens se gedagtes op. Nou moet ons baie eerlik wees, Handelinge beskryf in baie opsigte ‘n unieke eenmalige heilshistoriese situasie. Die Heilige Gees as die gawe van die Nuwe Verbond word uitgestort en die kerk van Jesus kom tot stand. (oor die verband tussen Pinkster en herlewing sal by ‘n volgende keer besin word) Tog kan mens nou reeds sê dat Handelinge as ‘n weergawe van God se radikale en oorvloedig werk, vir ons ‘n duidelike prentjie gee van hoe dit lyk as Hy ingryp. Of anders gesê, hoe dit in ‘n kerk gaan wat vol Heilige Gees gedrewe ywer, liefde en lewe is! Dit is dus nie vreemd as daar verskeie ooreenkomste met gebeure in Handelinge terug te vind is in die verslae rondom herlewings dwarsdeur die geskiedenis nie.
Kom ons probeer positief sê wat ons onder die term herlewing (jy kan dit ook ontwaking noem) verstaan.
In ‘n seker sin kan ‘n individuele Christen ook ‘n vars werk van God se Gees beleef wat lei tot groter krag en toewyding. Dit sou dan persoonlike herlewing genoem kon word. Herlewing word in hierdie reeks hoofsaaklik in ‘n korporatiewe betekenis gebruik. Hiervan is daar baie voorbeelde in die kerkgeskiedenis.** Dan kan dit beskryf word as ‘n magtige soewereine ingrype of besoeke van God deur sy Gees in ‘n groot groep mense op dieselfde tyd, met die gevolg dat geestelike sake en Bybelse waarhede vir hulle ’n allesoorheersende passie, erns en werklikheid word. Christene word vernuwe (dis gewoonlik waar dit begin), maar dit lei ook tot die bekering van groot getalle ongelowiges. Daar is geweldige en buitengewone reaksie op die verkondiging van die Woord. John Armstrong gee die volgende definisie van herlewing : A sovereign intervention of the Holy Spirit of God, the spirit of Pentecost, powerfully sweeping across the visible church in blessing the normal ministry of the Word of God and the sacraments, and prayer, in the lives of the believers and new converts. Herlewing is nie iets los of anders as Bybelse Christenskap nie, maar ‘n vars besoeking van God waartydens bestaande genademiddele soos die Woordverkondiging, sakramente en gebed nuut en seënvol ervaar word, met die gevolg dat God se eer op besondere manier gedien word! Michael Horton sê : “genuine revival, that is a surprising blessing of God on his ordinary ministry in our day”
WAG OP HERLEWING,WERK AAN VERNUWING
God roep sy kerk voortdurend op tot nuwe oorgawe, vernuwing en reformasie. Dink maar aan 2 Korintiërs 7:1 wat sê: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” Erns met die opdrag tot vernuwing lei telkens weer tot bekering, berou en toenemende heiligmaking. Dis permanent die taak van die kerk en elke gelowige om hieraan gehoor te gee. Wat is die verskil tussen hierdie voortdurende vernuwing en herlewing? Prof Kolie Kotzé (voormalige professor van die NG Kerk aan die Universiteit van Stellenbosch) verwoord dit so in sy boek “PINKSTER REWOLUSIE” : “Herlewing is die vrymagtige periodieke inwerking van die Heilige Gees in ‘n versonke kerk om dit weer tot normale lewe in die Heilige Gees terug te bring. Dit kom gewoonlik tot openbaring deur ‘n rustelose biddende en getuiende opstand van gelowiges teen heersende toestande van sonde en verval in die wêreld. Dikwels verwek die Here ‘n gesant of profeet in wie se rou, geestelike honger, droefheid oor sonde en kloeke getuienis daarteen, gelowiges hulle eie gemoedstoestand meer intensief ontdek. As so iemand bid en getuig, vind dit alles aansteeklik weerklank by toenemende getalle. So ontstaan diepe sondebesef, wat mense uitdrywe tot God, wat behoefte skep aan verlossing, wat vir vele weer ‘n heerlike werklikheid word. Gevolglik ontbrand nuwe honger na die Woord van God, nuwe onderlinge liefde en nuwe ywer vir siele en die koms van die koninkryk van God. Die kerk van Christus ontwaak uit ’n doodslaap op ‘n wyse wat aan geen menslike faktore toegeskrywe kan word nie. Dis herlewing!”
Vernuwing moet altyd ons erns wees, maar ons moet ook smag na ‘n groter dieper werking van die Heilige Gees wetende dat net Hy bonatuurlik kan ingryp! Prof. Kotzé stel dit so : “Wag op herlewing, werk aan vernuwing!”
(Ek beplan dat ons na verskeie elemente van herlewing en vrae rakende die verskynsel gaan aandag gee)
* Sien Ian Murray, Revival and Revivalism : The Making and Marring of American Evangelicalism, 1750-1858. Een van hierdie metodes om bekering aan te help was die instelling van die sogenaamde “altar call”. Reaksie op ‘n “altar call” is verwar met ware bekering en dit het gelei tot baie vals bekerings. So baie mense wat “uitgekniel” het soos sommige dit noem se lewens toon geen tekens van die vrug van ware bekering nie en leef in valse sekerheid.
** Dink aan ‘n paar bekende herlewings soos (die lys is nie naastenby volledig nie) : Die 18de eeuse herlewing in Britse Eilande met leiers soos George Whitefield, John en Charles Wesley, maar ook minder bekendes soos Howel Harris en Daniel Rowland (wat in die Welsh Calvinistic Methodist Revival ‘n belangrike funksie vervul het.) Nou verwant hieraan was The First Awakening in die Amerikaanse Kolonies waar figure soos Whitefield en Jonathan Edwards ‘n groot rol gespeel het in die 1730’s en 1740’s. Die 1857-62 herlewing wat wêreldwyd in verskeie lande plaasgevind het. Hierdie herlewing wat in New York in 1857 begin het, het versprei na Wallis, Skotland,Ierland, Brittanje, Duitsland (waar 'n tydperk van 30 jaar van herlewing gevolg het), Indië, Suid-Afrika (binne die NG Kerk), Indonesië, Wes-Indië, Skandinawië en Nederland. Swede het byvoorbeeld berig dat a.g.v. die herlewing daar sowat 200 000 mense uit die totale bevolking van 3 miljoen tot bekering gekom het. (Mostert) Die Walliese herlewing van 1904-5 met Evan Roberts as een van die leiers. Die Koreaanse herlewing van 1907. Die Oos-Afrika herlewing in die 1920’s en 1930’s. Die Lewis Revival van 1949 op die Hebrides eilande by Skotland onder leiding van Duncan Campbell. Herlewing in die Belgiese Kongo in 1950. Herlewing is natuurlik nie net ‘n verskynsel op nasionale vlak nie, maar kan ook verwys na ‘n kragtige werk van God binne ‘n plaaslike gemeente of gemeentes.
Jonathan Edwards
II Kron 7 v 14 ........en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.
AntwoordVee uitGoeie naand Johannes hier uit n' koue Kapan, Armenia. Deur jou blog te lees laat my darem voel of ek nader aan die huis is. Omstandighede hier is maar swak en die mense lewe in moeilike omstandighede. Dorpies en platteland omgewings is in baie armoede gedompel. Laat my maar net besef hoe bevooreg ons in Namibia is. Op my reis na Kapan van Yerevan af het ek die geleentheid gahad om berg Ararat van uit die motor te sien, was toe gesneeu en bietjie deinserig maar nogsteeds n' mooi gesig. Groete, Sakkie.
AntwoordVee uitDankie Sakkie, dis so lekker om van jou te hoor daar uit die verre Armenie. Mag jy die teenwoordigheid van die Here ervaar en ook daar vir Hom 'n getuie wees!
AntwoordVee uitgroete
Johannes