- Dis die merkwaardige storie van die vader van sendingwerk in Namibië! Op die rug van sy ry-os, met ‘n skaapvel karos (wat in die dag as saal moes dien en in die nag as kombers), ‘n Bybel, geweer en ‘n stuk vleis as padkos het hierdie stoere baanbreker die bloedig warm en dorre suide van Suidwes (Namibië) deurkruis met die evangelie.
Wie was hierdie merkwaardige pionier wat deur die ontdekkingsreisiger Anderson beskryf is as : “the most gifted and most enterprising of missionaries that ever set foot on African soil.”
As Namibiërs af ry Kaap toe vir vakansie gaan hulle verby die klein gehuggie Steinkopf in die Richtersveld. Ek vermoed dat die meeste van ons weinig notisie neem van hierdie warm, droë klipperige plekkie kort voor ons Springbok kry. Die naam van hierdie onbenullige dorpie vertel egter ‘n wonderlike verhaal van Goddelike genade, pionierswaagmoed en opoffering!
Johann Heinrich Schmelen het hierdie sendingstasie gestig en dit na sy geestelike vader, ‘n predikant met die van Steinkopf vernoem. Schmelen is gebore op 7 Januarie 1777 in Kassebruch, naby Bremen in Duitsland.
Hy gee sy getuienis soos volg in ‘n brief : “My ouers was nie ryk of arm nie en het vir my broers en susters en myself ‘n opvoeding gegee wat algemeen was vir die middelklas in daardie dae. Soos ek grootgeword het, het ek egter ook gegroei in goddeloosheid en ligsinnigheid. In 1776 het daar oorlog uitgebreek tussen Frankryk en Duitsland en baie van ons jongmense is opgeroep weermag toe. Met die toestemming van my ouers het ek na Engeland toe gegaan. Ek het my vader se huis verlaat as ‘n rebel en ongelowige. Maar die Here wat ‘n beter lewe vir my in gedagte gehad het as die lewe van ‘n verlore seun tussen die varke, het my weë op ‘n wonderlike manier in Londen gelei. Dit het so gekom dat ek in ‘n huis gaan bly het waar daar baie Godvresende Duitsers was wat my na die Savoje Kerk geneem het, waar ‘n prediker Meneer Borgmann die leraar was. Meneer Steinkopf was sy opvolger. Dit was veral onder die prediking van my geestelike vader Meneer Steinkopf dat dit die Here behaag het om my hart te open en vir my die verlore toestand van my siel te wys. In daardie tyd het ek geweet dat as ek my nie bekeer nie en sou aangaan om die waarheid van God te verwerp , ek ewig verdoem sou wees!"
Die besluit van Schmelen om ‘n sendeling te word het nie maklik gekom nie. Na ‘n drie jaar lange worsteling het hy egter met aanmoediging van pastoor Steinkopf vir studie na die Jänicke Sending Instituut in Duitsland gegaan. Uiteindelik het hy in diens van die Londense Sending Genootskap (LMS) na Suid–Afrika gekom. Hy arriveer in 1811 in Kaapstad saam met ander sendelinge.
Schmelen het noordwaarts gereis na die Oranjerivier. Hier help hy met die stigting van die sendingstasie, Pella. Met Pella as basis verkondig hy die evangelie aan die nomadiese Oorlams Namas Hulle was verwesterse Khoi-Khoi wat klere gedra het en Afrikaans (Nederlands) gepraat het. (Dis terloops ook hulle wat Afrikaans oorspronklik na Namibië gebring het.) Dit het egter nie gelyk of daar vrug op sy arbeid was nie en Schmelen was baie ontmoedig.
Op ‘n stadium het daar egter ‘n deurbraak gekom. Schmelen het gehoor hoe iemand agter ‘n bos besig was om te bid. Dit was Amraal Lamberts. (Later jare het hy in by Gobabis met sy mense gaan woon.) Dit het gelyk asof ‘n gees van gebed posgevat het onder die mense. ‘n Aantal mense is in 1814 gedoop. Onder hulle was Zara Hendriks en haar suster Leentjie.
GESLAGSREGISTER VAN GENADE
Schmelen neem die groot stap en trou met Zara Hendriks. Aangesien daar geen predikant beskikbaar was nie, het hy getuies geroep en met die hulp van ‘n Hollandse formulier homself in die huwelik met hierdie Nama meisie bevestig!
Dit was dus ‘n uitsonderlike manier van trou en tog het God hierdie huwelik en die nageslag wat daaruit voortgekom het ook uitsonderlik geseën en in sy koninkryk gebruik!
Schmelen en sy vrou het vier kinders gehad. Een van die dogters, Johanna het met die Rynse sendeling Heinrich Kleinschmidt getrou in 1842. (Hy het in Rehoboth onder die Swartboois gewerk en is na ‘n vlugtog weens ontbering op Otjimbingwe oorlede.) Hulle het agt kinders gehad en een van hulle dogters Frieda het met die Finse pionier sendeling in Ovamboland, Martin Rautanen in die huwelik getree in 1872. Hulle geskiedenis is ‘n heroïese verhaal op sy eie. Die Rautanens moes geweldige offers bring om die evangelie aan die Ovambo mense bekend te stel. Hulle het nege kinders gehad waarvan net drie volwassenheid bereik het. Die drie oorlewende kinders was weer op hulle beurt almal in die sending betrokke. (My Pa het nog die voorreg gehad om vir een van hierdie kinders die siek Johanna Rautanen in die vroeë sestigs uit die Bybel te lees in Ovamboland.) Die sendingwerk onder die Namas, Hereros en Ovambos is dus met een geslagslyn aan mekaar verbind! 'n Goue koord van genade!
OP SY RY-OS
Maar weer terug na Schmelen en die vroeë jare. Kaptein Vleermuis die hoof van die Velskoendraers het Pella besoek en versoek dat Schmelen ook in Groot Namakwaland (Namibië) 'n sendingstasie moet aanlê. ‘n Ekspedisie onder leiding van Schmelen is uitgestuur en hulle het ook die mond van die Oranjerivier besoek. Daar is probeer om ‘n hawe te vind. Schmelen se dagboek tydens hierdie reise getuig van sy intense begeerte om die evangelie te deel met die Nama groepe wat hulle teëgekom het. Geen geskikte hawe is gevind nie, maar 'n sendingstasie is by Uigantes aangelê waar hy deur die kaptein, Jacobus Frederick Boois verwelkom is. Schmelen het hulle sendeling geword en die plek Bethanien, (later Bethanie) genoem. Dit was sy passie om die kruisevangelie aan hierdie mense te verkondig. Feitlik die hele dorpie en stam is deur sy boodskap aangeraak. Schmelen het homself heeltemal met hierdie mense vereenselwig. 'n Voorbeeld van die sogenaamde inkarnasie model in sending. Vedder verwys na sy "taai uithoudingsvermoë, die trou waarmee hy sy beroep vervul het en sy buitengewone vermoë om vir die Nama 'n Nama te word sonder om op te hou 'n Christen te wees."* Schmelen het dus uitermate eenvoudig gelewe. Hy het voorwaar “lig” gereis met sy ry-os en net die nodigste met hom saamgeneem. So het hy baie omliggende Namastamme bereik.
Hy vertel : “Die Here het my dikwels van die bek van leeus en ander wilde diere verlos en Hy het my swakke pogings geseën so veel so dat ek by tye heeltemal vergeet het van die honger en dors wat ek dikwels op my reise moes verduur. My kos was net ‘n bietjie vleis. Ek het geen brood gehad nie, maar die Here het my daagliks krag gegee sodat ek deur sy genade kon volhard.”
Na ‘n tyd in die wildernis was sy klere heeltemal verslete. Uiteindelik het hy geen hemp of broek, hoed of skoene gehad nie. Hy het klere van vel gedra en skoene soos die Namas. Die tyd het gekom dat hy moes teruggaan Kaapstad toe vir nuwe voorrade en noodsaaklike behoeftes. In Kaapstad het hy ‘n brief ontvang van die LMS waarin hy meegedeel is om nie weer na Bethanie terug te gaan nie, maar ‘n sendingstasie in Namakwaland te stig. Dis hierdie stasie wat hy toe na sy geestelike mentor Steinkopf vernoem het.
Eers in 1817 kon Schmelen weer na Bethanie terugkeer. By sy terugkeer was die eerste ding wat hy gedoen het om ‘n kliphuis te bou. Dis vandag ‘n nasionale monument. Geestelik gesproke was dit moeilike tye. Die Namastamme het verval in ‘n lewe van oorlog en roof. Schmelen het hierdie gebruike openlik teengestaan en dit het hom natuurlik ongewild gemaak. Tog was daar altyd ‘n groepie wat getrou gebly het aan hulle Here en sy dienskneg. By alles was daar ook die probleem van ‘n langdurige droogte. Schmelen is selfs daarvoor blameer. Daar was agterdog dat die droogte deur die sendeling afgebid is as straf vir die berowing van die Herero's. Weer moes hy Bethanie verlaat. Hy het saam met ‘n groepie volgelinge langs die Oranje gaan bly. ‘n Jaar later is hy versoek om terug te kom. Die vrede het egter nie langer as ‘n jaar geduur nie en hy moes weer die plek verlaat. Sy huis is ook geplunder!
Hy gaan na Kaapstad, maar besluit om weer in 1824 terug te keer. Hy bereik Bethanie weer in 1825. Dit was steeds sy begeerte om ‘n geskikte hawe te vind aan die Namibiese kus sodat skepe die toekomstige sendingstasies makliker van lewensmiddele kon voorsien. Hy het die Kuisebrivier gevolg en die hawe van wat vandag bekend is as Walvisbaai bereik. Hier het hy ook die Topnaarstam ontmoet. Later is hier ‘n sendingstasie genaamd Scheppmannsdorf (1845) aangelê.
Na al die moeilike jare is hy in 1830 terug geroep na Kommagas in Namakwaland. Hier het hy in die bediening volhard tot met sy dood op 26 Julie 1848. Sy skoonseun, Kleinschmidt skryf : “Sy einde was gevul met die vrede van God en sy laaste woorde is uitgespreek in blye verwagting : ‘Die Here is naby, die Here is naby!’”
En wat het van Zara geword? Sy het Schmelen wonderlik bygestaan in sy vertaalwerk in die moeilike Namataal met sy ingewikkelde klapklanke. Net na die druk van die Evangelies is sy waarskynlik oorlede aan tering. Sy het blykbaar nadat sy die laaste bladsy geproeflees het, haar pen neergesit en gesê : “Nou is my werk op aarde klaar gedoen. Ek kan huis toe gaan!” Sy het op pad na Kommagas in die ossewa gesterf. Volgens Vedder is sy op die plaas van Lodewyk Bothma by Tulbagh oorlede.
As jy weer by Steinkopf verbyjaag, los vir net ‘n oomblik die vakansiegedagtes en dink met dankbaarheid aan Heinrich en Zara Schmelen. Bid dan tot God dat ons ook getrou in die werk wat Hy vir ons gegee het sal volhard.
Mag die Heilige Gees, Schmelen se voorbeeld gebruik om jou tot volle toewyding aan ons Verlosser en volharding in jou roeping in 2019 aan te spoor!
*Dr. H Vedder, Die Voorgeskiedenis van Suidwes-Afrika, p223-226
Prys die Here dat Hy ook aan ons mense in Afrika gedink het, en vir Sy genade .
AntwoordVee uitWat 'n pragtige, hoopvolle en inspirerende manier om 2019 te begin! Baie dankie dominee Johannes. Geseënde vrugtevolle 2019 ook vir u en u familie.n
AntwoordVee uitBaie dankie vir die mooi wense! Dieselfde daardie kant.
Vee uitBaie dankie vir hierdie interessante verhaal. Ek was glad nie daarvan bewus nie. Ons dank die Here dat Hy sy diensknegte so bemoedig en betroubaat geraak het.
AntwoordVee uitWat 'n inspirerende verhaal vir ons volgelinge van Jesus Christus wat ons self so maklik in die gemaksugtige verleidelikhede van ons dag kan toewikkel.
AntwoordVee uitLaat my dink aan die skare geloofsgetuies van Hebr 12 wat ons aanspoor.
AntwoordVee uit